Die prosa van die twede Afrikaanse beweging/Hoofstuk VII

Hoofstuk VI Die prosa van die twede Afrikaanse beweging
Hoofstuk VII
deur Pieter Cornelis Schoonees
Hoofstuk VIII



HOOFSTUK VII.

Didaktiese Prosa.

§ 1. Adv. C.J. Langenhoven.

Ons Weg deur die Wêreld I, IV, VI, IX.[1]

Die eerste afdeling: Naarheid en Waarheid bevat aforismes. Bestaande spreekwoorde word aangevul, verbeter of ontken. "Dis wáar, klere maak nie die man nie. Maar slordigheid nog minder." "Een swaaltjie maak geen somer nie. Hy maak nie eers 'n nes nie." "Daar mag halwe eiers wees wat beter is as leë doppe, maar die halwe eiers wat naar my koers toe gekom het was nog altyd vrot." 'n Groot aantal spreuke is woordspelings: "Om te weet is net so maklik as om nie te weet nie. Wat swaar is, is om te weet wát jy weet deur te weet wat jy nie weet nie." In andere klink daar 'n sarkastiese toon: "In 'n vrye land behoort elke koerantskrywer die reg te hê om dwaasheid te verkondig." Die sonde-met-die-bure-motief is hier ook aanwesig: "Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se famielie." Oom Stoffel sal seker instem met die volgende: "As die son nou met die beskawing wil saamgaan, moet hy in die nag skyn wanneer die mense wil wakker wees en in die oggend ondergaan wanneer hulle wil slaap." "Vroutjie" se redeneerkuns word so getiepeer: "Oortuig 'n vrou dat sy nie reg is nie, sy klap jou om met simpel almiskié."

Die spreuke is 'n pittige samevatting van die skrywer se lewenswysheid. Daar is raak opmerkings, wat getuig van 'n helder, logiese gedagtegang en 'n uitgebreide ervaring; nuwe waarhede, op pakkende wyse uitgedruk; ou waarhede, in 'n nuwe, oorspronklike vorm. As voorbeelde van sy kernagtige styl kan die volgende dien: "Waar die vader op 'n donkie gery het en die seun op 'n galop, kry jy die kleinkinders te voet." "Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid."

In die Ligte Leekprekies (IV) is daar 'n preek vir kinders oor wedywer. "As julle nie weet wat kompetiesie is nie, soek 'n handvol koring en gooi die vir 'n klompie hoenders. Dan sal julle kompetiesie sien." (p. 71, Derde druk.) Die verskille tussen "hoender- en mens-kompetiesie" word dan uitgewerk na aanleiding van wedywer op sportgebied. Die deurmekaar Engels en Hollands pratery "is my skoolmeester se skuld" verklaar Langenhoven. Mooi is dit seker nie!

In 'n Preek vir Nooiens word die deugde van die voorouers teenoor die hedendaagse nuwighede geplaas, en die vergelyking val nie ten gunste van die laaste uit nie, soos blyk uit die volgende lang-asem sin met sy komieklike nadraaitjie: "En onse jonge dogters begint in te teken vir ryk ge-illustreerde mode-joernale en 'n aangeleerde smaak te ontwikkel vir bloedsomloop-versperrende nou-ryg borste-rokke, voet-martelende en senuwee-renewérende spyker-polfytjies; vir die gesig-belemmerende wa-wiel-hoed en die bene-belemmerende hobbelskirt; vir die lae-nek blous en die ope-werk kous." (p. 80.) Teen die wedywer in huweliksgeskenke word ook protes aangeteken: "Maar onder die teenswoordige opjaagvendusie wat van menige bruilof gemaak word, weet jy nie watter geskenk 'n konvensionele pligvervulling verteenwoordig en watter werklik van harte gemeen is nie...." (p. 83).

In Beweging word die ontwikkeling van ons vervoermiddels geskets en die voorgeslag verheerlik: "Baie van ons voorouers had stoomharte by die remskoenwaens; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens." (p. 88.) Al die menslike voertuie is egter onvolmaak, wanneer dit vergelyk word met een "deur die liewe God gemaak." "So stil, so absoluut eengalig, loop die ou aarde wat vir ons oor en deur die peillose afgronde van die hemelruim veilig meevoer, dat die oorgrootste meerderheid van die mensdom vandag nog oortuig is dat sy dood-stil bly staan in een plek, beweegloos, roerloos." (p. 89.) Die aarde is "ons ou moeder-wa" waarop die lewensreis afgeleg word. Dan ontstaan die vraag: "Waarheen? Waartoe? Waarom?"

In die kinderprekie oor Ideale word die volgende spreuk nader uitgewerkt "Die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die wêreld is maar die oeste van ongesiene gedagtesaadjies."

In die sesde afdeling word Die Betekenis van Opvoeding op aanskoulike en helder wyse uiteengeset en nagegaan wat Die Kenmerke van 'n goeie Toespraak is.

In die negende afdeling, waaraan die boek sy naam ontleen, tree Langenhoven op as 'n gids op Ons weg deur die Wêreld. In 'n honderdtal kort prekies, elkeen voorsien van 'n pittige teks word onderwerpe van 'n groot verskeidenheid behandel. Daar is preke oor die mode, dronkenskap, skindery, politiek, sedelike kwessies, ons eksamenstelsel, opvoeding, skuldmaak, fariseïsme, liefdadigheid, eerlikheid, borgstaan, godsdiens, die dood. Ook maatskaplike vraagstukke, soos die verhouding tussen kapitaal en arbeid word bespreek. Hy probeer om homself en sy bure grondig te leer ken. Hoe moeilik die ken jouself is, weet hy maar al te goed: "Die enigste mens in die wêreld wat in die posiesie is om jou te beoordeel is jyself, maar jy is die onbevoegdste, want jy is tegelyk regter en beskuldigde. Jy alleen kan in jou hart inkyk: maar ongelukkig dis jy wat inkyk—die baas en dienaar van die hart." (72.)

Op sy weg deur die wêreld vind hy baie dinge wat verkeerd is, maar tog bly hy optimisties: "Laat ons moed hou, maat, die ou wêreld is darem nie so sleg nie!" (92.) "Die grote waarhede van godsdiens en wetenskap en idealisme en vaderlandsliefde: immers dié regeer die wêreld." (id.) Tog moet hy af en toe peins oor die volmaakte wêreld, wat sou ontstaan as die menslike natuur anders was: "Veronderstel die hele mensdom sou volkome waarheid-sprekend word, wat sou almal nie win daarby nie!" (50.) "Die wêreld kon 'n soort van lushof gewees het waar ons al singende en huppelende 'n lower-beskadude en bloem-bestrooide weg vervolg het van ons wieg tot aan ons graf." Maar ons moet "met skaamte bely: ... Alles is hier skoon en edel en groots behalwe die inwoners." (53.)

Enkele volkstiepes word raak gekarakteriseer; in nommer 10 die man wat by alles voor-op-die-wa wil wees, in 64 die lastige kuiergas, wat "nie gesels nie, maar gesels-maak". In 78 kom een van die weinige anekdotes voor, want die direkte preektoon word maar uiters selde deur 'n verhaal onderbreek.

In die honderdtal preke vind ons veel wat fris en oorspronklik is, en selfs die ou waarhede word op 'n besonder persoonlike wyse uitgedruk, sodat dit prikkel tot nadink. "As jy op trou staan sal jy geen goeie raad aanneem nie, en as jy op sterwe lê sal jy dit nie kry nie." (14.) "My liewe man, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou dood sal jy verby kom: hy sal nie te swaar wees nie; want as hy te swaar sou wees, sou hy onmooglik wees; en as hy onmooglik sou wees, sou jy onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie—daardie laaste skuld sal jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning" (55). Dit is deur so 'n ongewone manier van sê, deur sulke verrassende wendings, dat Langenhoven meestal daarin slaag om ons aandag vas te hou, want sy preke is pure pit-kos, wat nie in oomblikke van verstrooiing moet gelees word nie. Die oorvloedige gebruik van abstrakte begrippe, die epigrammatiese styl met sy vernufspelings, paradokse en parallele sinsbou vorder die grootste opmerksaamheid van die leser. "'n Bekwame booswig sou minder van 'n booswig gewees het als hy 'n onbekwame booswig was. Dáár, o mens, is jou kostelikste besitting: jou karakter wat jou bekwaamheid bekwaam kan maak ten goede" (68). "Die meeste wyse mense wat ek nog raak geloop het is dom mense, en die meeste slim mense dwaas" ens. (9). "Al ons geluk is verbeelding en alle verbeelde geluk is geluk" (Aan Stille Waters). "Leugenliewende waarheidgierigheid (92), die ontsag vir sy gesag (93), die onreg dat 'n ander die reg ... het" (77)—vir sulke knal-effekte is Langenhoven besonder lief. Dat hy met sy puntige gesegdes soms 'n mooi indruk maak is seker; maar die vuurwerk van sy vernuf verteer ook soms die gedagte wat hy wil uit. Op die manier gaan die eenvoudigheid wat hy bo-alles na streef verlore. "Die eenvoudigste sprekers, die eenvoudigste skrywers, is die wat die diepste, diepste denkers is.... 'n Suiwere gedagte, 'n suiwere waarheid, is van self soveel wêrd dat hy die beste indruk maak as hy op sy eie verdienste, op sy eie waarde, ten toon gestel word in plaas van deur 'n misdamp onduidelik bespeurbaar te wees." ('n Goeie Toespraak.)

Op enkele minder gelukkige taalvorme kan hier nog gewys word: "Die man wiens raad (21 et passim); toe hulle van alle invloede van Kerk en Skool en Wet ontstoke was (27); die taktieke voordeel (37); meineders (85); verrottenheid (86); om te wanregeer (91); ons beweeg die graaf in die grond in" (p. 85, Derde Dr.). Die woordskikking is soms foutief o.a.: "Anders maklik kan jou eie redenasies jouself naderhand ... verlei" (p. 218). Troebel is die volgende beeldspraak: "die lente van nuwe lewe en bottende, bloemende, bloedgalop." (p. 90, Derde Druk.)

Afgesien van die storende gebruik van Engelse woorde soos: dres, mistyk, blackmailer, safe, snobbery, jollie, shabby, independent, ens. is die aantal anglisismes taamlik groot. Die volgende voorbeelde is aan afdeling IX ontleen: "'n Klassiek van die literatuur (12); in growwe opsigte (20); naar 'n gevolgtrekking te spring (21); op die lange baan verydel die luiaard sy eie doel (25); sy professie van reine bedoelings (37); nou en dan trek ons 'n blank; om deliberaat meineed te pleeg (48); raar (Eng. rare) (52); die eerste plig is die makliker plig (61); die wilde-hawer-saaiers in hulle jeug ...; sy iedere woord (71); die ou vriende van jare lange stand" (83). In 'n Goeie Toespraak hoor ons van welsprekendheid, wat platval (p. 216). Ook in die sinsbou stuit mens op Engelse wendings.

Uit die reeks artiekels Aan Stille Waters kan ons Langenhoven se letterkundige opvattings leer ken. "Die hedendaagse Europese dekadensie van die kubiste en futuriste en impressioniste (volgens wie 'n ding moet lelik wees om mooi te wees)" moet nie "aan ons Afrikaanse waarheidssin en eenvoudsgevoel ... af(ge)smeer" word nie. (Die Burger, 14/8/22.) In dieselfde artiekel spreek hy hom teen 'n beroepstoneel uit: "Ek (sou) liewer ons kultuur op die gebied van die drama onontwikkeld sien bly as dat ons beroepsbeoefenaars sou hê.... Ek hoef nie meer te sê nie as dat volgens my insigte 'n klas van beroeps-vermaak-skaffers nie tot genoeg nut vir die samelewing is om op te weeg teen die besware wat daar in te bring is nie." As 'n beroepstoneel niks anders dan "vermaak-skaffers" oplewer nie, sal baie die bewering seker onderskryf; maar van 'n goeie toneelspeler verwag ons tog veel meer dan bloot vermaak! Ook "vir die gewone mens" moet die kuns méér wees as "ontspanning ... tussen die harde en dikwels onlieflike pligte van die lewe." (28/8/22). Maar hoe hoog Langenhoven sy roeping as kunstenaar opvat, blyk uit die volgende: Vir die kunstenaar sal die kuns "nie 'n afwisselende tydverdryf wees nie; dit sal sy hele lewe wees." (id.)

Die Bybel, die psalms en gesange is vir hom die toppunt van alle bereikbare skoonheid. "Hy (d.i. Langenhoven) haal uit die Bybel aan, omdat hy van geen letterkunde in die wêreld weet wat, as 'n saak van blote verhewenheid en skoonheid, in die verte daarby kom nie; en uit ons Psalms en Gesange, omdat hy van niks in die Nederlandse lettere weet wat daarby kom nie" (31/7/22).[2] By so 'n uitspraak het die gewyde inhoud van die aangehaalde werke met hul geheiligde herinneringe seker swaar geweeg. Veral die gekursiveerde stelling wek verwondering, want wanneer die Bybel, weens sy unieke posiesie as die geïnspireerde Woord buiten beskouing bly, dan is daar tog seker genoeg geestelike liedere wat 'n vergelyking met die offisiële gesange glansryk kan deurstaan.

Langenhoven se ideaal is om 'n boek te skryf "wat genot verskaf by die veewagterskraal en nie benede die aandag van die hoogsgeleerde uniwersiteits-professor (is) nie." (12/6/22). "Skryf ek vir die geleerde mense, met die veronderstelling van kennis en ontwikkeling wat hulle reeds klaar besit, dan word ek vir die grote meerderheid van die volk onleesbaar—dan kan hulle geen vattigheid by my kry nie. Skryf ek met die oog op die onbevoorregtes, waar my hart van jammerte en medelye is, dan loop ek die gevaar dat teen die hoof van my nasie die vernederende vreemde verwyt kan geslinger word: Julle is onbeskaaf; julle kultuur is benede die hedendaagse ontwikkelde peil" (id). Die "versoening tussen hierdie twee teenstrydige uiterstes" vind hy in die Bybel en by Homerus. "Daarin is die verhewenste bereik waartoe die kuns van die lettere in staat is, en bereik langes die weg van die allernederigste eenvoud."[3]

Duidelik word sy didaktiese standpunt uiteengeset in Hoe skryf 'n mens? (17/14/22). "Wat ons roeping en plig is, ons wat skryf, is om naar ons broers om te kyk wat die opvoeding van node het wat aan hulle in hulle jonge dae weerhou is en wat hulle nergens anders kan kry nie as by ons.... Met ons boeke, met ons tydskrifte, met ons koerante, behoort ons veral diegene te help wat hulle nie self kan help nie." Langenhoven streef na gemeenskapskuns. Sterk ontwikkel is by hom die liefde vir die massa, vir "die onbevoorregtes, waar (s)y hart van jammerte en medelye is." Op hom is die woorde van Frans Bastiaanse toepaslik: "Als een kunstenaar zoo veel houdt van die massa-idee als een ander bijv. van zijn geliefde of zijn moeder kan houden, dan kan die massa-idee in hem dien ontroeringsstaat wekken, die tot het kunstenaarsschap aanleiding geeft."[4] Langenhoven begaan egter die fout om aan àl ons skrywers 'n didaktiese dwang op te lê en in sy ywer en liefde vir die "arme sukkelaars op die nederigste onderste sportjie" vergeet hy, dat die waaragtige kunstenaar geen skoolmeester is nie. Die waaragtige kunstenaar is iemand wat deur skoonheid ontroer is en wat die wondere gawe besit om sy ontroering in taal of klank of kleur of marmer so te uit, dat die oorspronklike verrukking wat hy by sy skeppingswerk ondervind het, vir ander navoelbaar is. Dat daar van alle goeie kuns 'n veredelende werking uitgaan, is vir die kunstenaar iets bykomstigs; doel mag dit nooit wees nie. "Het primaire van een kunstwerk is de ontroering die er in schuilt, en of die ontroering bij den kunstenaar nu gewekt wordt doordat hij haar krijgt uit het massa-sentiment, of door het natuurleven, of wat dan ook, dat blijft ten slotte hetzelfde, mits de diepere ontvankelijkheid en het kunstenaars-temperament er zijn."[5] 'n Kristen-kunstenaar b.v. sal in sy werk, ja moet as dit eg is, sy godsdienstige gevoelens openbaar, omdat hy in 'n kunswerk vorm gee aan die innerlikste roersels van sy wese. Maar as die self-openbaring van die Kristen-kunstenaar ontstaan, nie uit 'n suiwer-estetiese drang nie, dog met die bedoeling om ander te bekeer, dan word dit 'n preek, wat met kuns niks te maak het nie. As die Kristen alleen uiting gee aan sy godsdienstige ontroering en alleen daardeur gedryf word tot skepping van sy werk, dan kan dit kuns wees. Op dieselfde wyse kan iemand wat diep ontroer is deur die nood en behoefte van ons arm blanke, soos Langenhoven b.v., kuns skep wat hul harte sal raak. Maar gaat al ons skrywers nou voor hul skryftafels sit met die bewuste, vooropgestelde doel: Ons moet "die duisende onbevoorregtes van ons volk", wat nou vir die eerste maal boeke in hul eie taal kan lees, help, tot 'n hoër trap van beskawing ophef, dan kan daar wel goeie didaktiese verhandelinge, ens. ontstaan, skoolboekies vir grootmense, maar nooit ofte nimmer kunswerke nie. Eenvoudig omdat kuns nie gefabriseer of gekommandeer kan word nie, omdat kuns sy ontstaan dank aan 'n spontane ontroering van 'n begenadigde eenling. "An essential in creative art is the artist's temperamental absorption in his own work. Art in that respect is essentially aristocratic, however democratic its appeal may be. That is what Meredith meant when he said, 'Do not democratize literature'. Beer or blankets or biscuits or braces may be manufactured to please the taste of the average man, but art cannot be so dealt with under penalty of losing its quality as art."[6]

Langenhoven beweer: "Die meesterstukke van die wêreld, die klassieke wat die toets van die tyd deurgestaan het, is nie dié wat te hoog vir die volk was nie, maar juis die wat elementaal (verstaan: elementêr) was en hulle beroep gemaak het op die ewige gevoelens en behoeftes en ervarings van die ongekunstelde volkshart." (17/4/22). Om dié snaakse bewering te bewys, neem hy die Bybel as voorbeeld. Maar afgesien van sy letterkundige waarde, wat ongetwyfeld groot is, het die Heilige Skrif deur sy godsdienstige inhoud só 'n bevoorregte posiesie, dat daarop geen argument kan gebou word nie. Shakespeare, Dante, Vondel—aan sulke kunstenaars moet ons die bewering toets. Hulle was en is nog altyd "te hoog vir die volk", soos in hoofstuk II al aangetoon is. Dit is pure onsin om van 'n kunstenaar te verwag dat hy hom na die publiek moet rig. Hy moet eenvoudig getrou wees aan die innerlike stem, aan die heilige ontroering, wat die skepping van kunswerk vir hom tot plig maak.

"Wer den Dichter will verstehen

Muss in Dichters Lande gehen"

sê Goethe. "Dat is een wet van alle tijden voor de poëzie.... Een dichter moet in niets anders leven dan in de aandoening, in de idee die hij aan het dichten is. Hij moet niet met zijn verstand een geleidertje bij zijn werk zetten, dat toekijkt of hij wel zoo schrijft dat vele menschen het zullen kunnen lezen. Dan is de toestand niet zuiver meer en is de poëzie vertroebeld."[7]

Met dit alles word volstrek nie beweer, dat die kuns buiten die maatskappy, buiten die volk hoef te staan nie. "Goede en groote kunst heeft steeds in de maatschappij gestaan; al werkt ze niet rechtstreeks op de massa, zij is en blijft een macht in de gemeenschap. Het voortbrengen van goede, groote kunst is iets zeer persoonlijks en individueels. Als toevallig dat persoonlijke en individueele dwingt tot het scheppen van gemeenschapskunst, prachtig! Maar zoo iets opzettelijk aan te kweeken of bij politieke leuze voor te schrijven is een dwaasheid. De hoogste en teerste en tevens machtigste kunst oefent haar levenden invloed rechtstreeks meestal slechts in beperkten kring, zal wel zeer zelden spreken tot het gevoel en begrip van de grove massa...."[8]

Laat dié kunstenaar wat deur sy innerlike geaardheid en natuurlike aanleg tot gemeenskapskuns geroep word, dit voortbring; maar laat ons dit nie as enge dogma aan almal voorskryf nie, want iedere waaragtige kunstenaar dien die mensheid op sy eie manier. Kloos sê: "Een gedicht is de individueelste expressie van de individueelste gevoelens", en Adama van Scheltema se formulering is presies die teenoorgestelde: "Een gedicht moet zijn een muziekstuk van woorden en gedachten, dat door zooveel mogelijk onzer medemenschen kan worden gevoeld en begrepen."[9]. Tog het albei skoonheid geskep. Maar die indiwidualis, wat in stryd met sy roeping die hele gemeenskap wil dien met sy kuns gaat ten gronde. Ons hoef alleen aan Gorter te dink. En didaktiese kuns wat nie is "ontvangen en geboren uit de onweerstaanbare schoonheidspassie, gesteund door kennis en arbeid" kan wees "leerzame propagandistiese lectuur ..., maar dat gaat voorbij, daaruit vloeit niet de koesterende warmte van het stralend vuur, the joy for ever."[10] "Even in novels of a superior order, which may be marked by some psychological insight, atmospheric truth, and a highly consciencious exposition of character and motive, we find that the didactic touch often robs the story of the qualities of flexible grace and naturalness which are essential to fine craftmanship."[11]. Dit is 'n waarskuwing wat ons kunstenaars gerus kan oorweeg.

Gelukkig hoef ons in Suid-Afrika voorlopig nie te vrees vir indiwidualistiese verwildering nie. Ons kunstenaars sluit hul nie op in ivoren torens, gaat nie op in egoïstiese aanbidding nie, maar staan in die middel van die volk. En as daar nog baie onbevoorregtes is, wat selfs ons nasionale kuns nie kan waardeer nie, dan is dit omdat die weg tot ware kunsbegrip lank is. Deur aan die volk hul moedertaal op die skool te gee het Langenhoven die enigste weg ingeslaan waarlangs hul gelei kan word tot 'n waardering van egte kuns.[12]

§ 2. Dr. C. Louis Leipoldt.[13]

Praatjies met die Oumense, (1918).

Die grootste gedeelte van die bundel bestaan uit 'n populêr-wetenskaplike behandeling van mediese onderwerpe, soos kanker, geslagsiektes en die drankkwessie. 'n Vyftal opstelle behoort egter tot die didaktiese literatuur. Die Praatjies is geskrywe "om oumense, veral die wat ouers is, aan te spoor om vir hulleself te dink".[14] Groot nadruk word gelê op die noodsaaklikheid om logies te redeneer en die skrywer toon dan ook dat hy dié kuns goed verstaan. Sy rustige betoogtrant munt uit deur klare eenvoudigheid. "Soos dit nou gaan, is die meeste gepraat selfs oor belangrike sake net maar babbelpraat, omdat diegene wat in die bespreking deel neem nie die moeite gedoen het om vooraf die feite, wat op die onderwerp van toepassing is, te leer ken nie." (p. 17.)

Die kuns om te lees, verbeelding, opvoeding, vryheid en verdraagsaamheid—dit is die didaktiese onderwerpe wat behandel word. Sy pleidooi vir 'n suiwer Afrikaanse beeldspraak verdien die aandag: "Ons hoef vir geen nasie agter te staan nie, wat vergelykenisse, geput uit ons natuur, ons geskiedenis, ons alledaagse lewe, betref, maar waar sien of hoor jy dat ons publieke sprekers van sulke nasionale beelde 'n algemene gebruik maak?" (pag. 43.)

Telkens word Multatuli met groot ingenomenheid aangehaal en die lesing van sy werk aanbeveel[15]. 'n Paar van Leipoldt se denkbeelde is taamlik rewolusionêr en sal, deur ons land ten minste, seker 'n klein Multatuliaanse "rilling" laat gaan. Hy is 'n teenstander van godsdiens-onderwys op skole. "Is dit nie veel beter nie om uit die Bybel te put stories en stukkies wat 'n rein opvoedkundige waarde het, en dit voor te dra in die skool as deel van die algemene geskiedenis soos dan ook die Herbartse volgelinge dit doen?" (p. 84.) Sendingwerk beskou hy as 'n uiting van onverdraagsaamheid. Die sendelinge is "uitstekende, mensliewende persone.... En tog, dieselfde beminnelike mense gaan naar ander mense, wat nie juis bely wat hulle bely nie, en kwets die mense in hulle diepste en heiligste gevoelens op 'n manier wat hulle van jou en my nooit sal verdra nie." (p. 150.) Op p. 34 is sprake van "die middeleeuse hipotese van erfsonde" en "die predestinasie of verdoemingsleer van die Kristelike kerk." Predikante en prokureurs kry 'n opslagskoot op p. 16: "Die meeste van ons is geneig om die deskundige te wantrou. Daar is net twee van die soort mense aan wie onder ons mense 'n algemene roem toegeken word, naamlik die predikante en die prokureurs, en op die keper beskou is hulle deskundigheid tog maar van die minste waarde"!

Leipoldt se helder prosa bevat ongetwyfeld 'n belofte. "Ek weet dat wat ek aanvoer van belang is vir ons volk, en dat dit algar dinge is, waaroor 'n verstandige mens behoort na te dink" verklaar hy in sy voorwoord. Die waarde van sy Praatjies lê daarin, dat dit 'n aansporing tot selfstandig dink bevat. Op enkele minder gelukkige taalvorme kan nog gewys word: "Ons herinner, hoe sy ewe manmoedig ... pal gestaan het (p. 12); as ek dus iets verbeel (p. 29); hy is een van die mense wat ... die naam van mistiek mag dra" (p. 32). "Die strikte onderwyser" (p. 87) en "vandag is ons begrip nog geverwe deur gewoonte" (p. 145) is anglisismes.

§ 3. G. Jordaan.

G. Jordaan vertel in Die Muurkassie (1919) hoe Oom Andries "deur oppassendheid en sorg ryk geword het". Hy hou vas aan die voorvaderlike gewoontes en gereeld kom die Bybel uit die muurkassie. As klein Andries, uit wie se jeug allerlei awontuurtjies meegedeel word, egter groot is, trou hy met Florence McWire. Hy word een van die "society-mense" en dit duur nie lank nie of die muurkassie word die bewaarplek vir kaarte en brandewyn. Armoede volg en na 'n beskouing oor die arm-blanke-kwessie roep die skrywer sy lesers, "wat ook grond geërf het van hulle ouers" toe: "Daar kom 'n stroom van immigrante uit Europa. Vele oë is op die erwe van die voorgeslagte (die plase van die boere). Laat ons met rotsvaste beslistheid Naboth nasê: Dit zij verre van mij dat ik u geven (of verkopen) zal de erve mijner vaderen!"

Jordaan "skryf as gewone boer aan (s)y landgenote"[16] 'n eenvoudige lekeprekie oor 'n aktuele kwessie. Ter afwisseling vertel hy 'n paar grappies: Oom Willie val in die stampkarring, Oom Andries in 'n bad water, ens. Maar sy waarskuwing is ernstig, en ofskoon van geen letterkundige, seker van kulturele belang. Hy is ook die skrywer van: Hoe zij stierven.

VOETNOTAS

  1. Twede Dr. 1919. In afd. IX word by sitate die nommers van die stukke aangegee. Waar nie vermeld nie, word volgens die twede druk gesiteer.
  2. Ek kursiveer.
  3. Ek kursiveer.
  4. E. D'Oliveira: De Jongere Generatie p. 93.
  5. t.a.p., p. 94.
  6. Edward Garnett: Friday Nights, p. 257.
  7. D'Oliveira, t.a.p., p. 233. P.N. van Eijck.
  8. Prof. Dr. J. Prinsen: Handboek2 ens., p. 554. Ek kursiveer.
  9. D'Oliveira, t.a.p., p. 211.
  10. Prinsen, t.a.p., p. 671.
  11. Garnett, t.a.p., p. 265.
  12. Vgl. my artiekel oor die kwessie in Die Huisgenoot, Aug. 1922. In sy repliek (Die Burger, 4/9/22) slaag Langenhoven daar nie in om die persoonlike element buiten die kwessie te hou nie. Dit word 'n kriewelrige filippika teen "akademiese Fariseërs" en "skrifgeleerde ape", onder wie Kloos, Van Deyssel, Van Eeden en Robbers gereken word!! Hoe weinig begrip Langenhoven van die letterkundige kritiek het, blyk o.a. uit die volgende: "Die grootste vyande van alle kuns is die katedrale (sic!) kuns-eksperte." Die feite wat ek aangevoer het bly onaangetas staan, soos in een van die volgende nommers van Die Huisgenoot aangetoon word.
  13. Vir 'n lewensskets kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2 ens, p. 300 vlg.
  14. Voorwoord.
  15. O.a. p. 88.
  16. Voorwoord.