Uit liefde vir die waarheid en uit 'n verlange om dit te verhelder, moet die volgende stellings te Wittenberg krities gedebatteer word onder die voorsitterskap van eerwaarde vader Martin Luther, magister in vrye kunste en heilige teologie, en aldaar ook volle professor in teologie. Derhalwe versoek hy diegene wat nie vir 'n mondelinge debat teenwoordig kan wees nie, om dit wel skriftelik te doen. In die Naam van onse Heer Jesus Christus. Amen.[1]

Uittreksels uit die stellings

edit

1. Wanneer ons heer en meester Jesus Christus sê: "Bekeer julle, dewyle die koninkryk naby gekom het," bedoel Hy dat die ganse lewe van die getroue mens een van boetedoening moet wees.

2. Hierdie stelling kan nie gestand gedoen word deur die sakrament van boetedoening – dit wil sê – deur bieg en genoegdoening, soos dit deur die priesteramp bedien word nie.

27. Hulle preek verdigsel wat voorhou dat 'n siel uit die vagevuur spring sodra geld in die koffer klingel.

28. Sekerlik word gierigheid en bedrieglikheid aangewakker wanneer geld in die koffer klingel; maar wanneer die kerk tussenbeide tree, is die uitkoms in Gods hande alleen.

32. Diegene wat veronderstel dat hulle by wyse van hul aflaatbriewe van saligheid verseker is, sal saam met hulle leraars verdoem wees.

36. Elke Christen wat daadwerklik tot inkeer kom, ontvang vryskelding van straf en volkome vergifnis van die skuld waarmee hy belaai is, selfs sonder aflaatbriewe.

37. Elke ware Christen, lewend of dood, is deelagtig aan al die gawes van Christus en die Kerk, want dit word deur God toegestaan, selfs sonder aflaatbriewe.

45. Christene behoort geleer te word dat wie ook al 'n behoeftige persoon sien, en instede om hom te help, sy geld aan 'n aflaatbrief spandeer, nie 'n aflaat van die pous verkry nie, maar die smaad van God.

51. Christene behoort geleer te word dat die pous uit sy eie vermoë aan die armes behoort te skenk, dieselde vermoë waaruit sekere predikers van aflate hul onderhoud delg, selfs al sou die pous die Sint Pieterskerk moes verkoop om dit reg te kry.

52. Dis tevergeefs en nutteloos om verlossing deur aflate te verdien, selfs as die kommissaris, of inderdaad die pous self, sy eie siel as pand daarvoor sou gee.

71. Laat hom verban en vervloek wees wat die apostoliese karakter van die aflate ontken.

73. Die pous bulder terreg teen diegene wat op iedere wyse strewe om die verkoop van aflate te ondermyn.

81. Hierdie skaamtelose prediking van aflate, maak dit selfs vir geleerdes moeilik om die pous se eer te verdedig teen naamskending of om die skerpsinnige vrae van leke te beantwoord.

82. Byvoorbeeld: "Hoekom staan die pous nie vrylating uit die vagevuur ter wille van die heilige liefde toe nie? Laat hy nie immers tallose siele vry ter wille van die bedorwe geld wat tot die bou van 'n katedraal bygedra word nie? …"

90. Om hierdie baie regverdige argumente van die leek met geweld te onderdruk, eerder as om hulle van voldoende antwoorde te verskaf, sou neerkom op die blootstelling van die kerk en die pous aan bespotting deur hul vyande, en sal Christene bedroef.

94. Ons moet Christene vermaan om Christus, hulle Hoof, te volg deur bestrawwing, dood en hel.

95. Laat die mense dan vertrou om die hemel in te gaan deur baie verdrukkinge, eerder as enige valse sekuriteit en vrede.


VOETNOTAS:

  1. van Wyk, Prof. Natie (13 Januarie 2017). "Die 95 stellings oor die aflaat". Reformasie 500. Tydskrif vir Hervormde Teologie. Verkry op 29 Mei 2017.