Afrikaner-Volkseenheid/Aanhangsel

Geloofsdrang Afrikaner-Volkseenheid
Aanhangsel
deur D. F. Malan



VERSLAG
VAN DIE KOMMISSIE VAN ONDERSOEK
INSAKE DIE MOEILIKHEDE OP DIE KONGRES VAN DIE
VRYSTAATSE HERENIGDE NASIONALE PARTY OF
VOLKSPARTY op 5 EN 6 NOVEMBER 1940
IN BLOEMFONTEIN

Molenstraat 24,
Potchefstroom,
30 Mei 1941.

Die WelEd. Heer
Dr. D. F. Malan,
Worcesterweg 11,
Seepunt,
Kaapstad.

WelEd. Heer,
Hiermee het die Kommissie van Ondersoek insake die moeilikhede wat plaasgevind het op die Stigtingskongres van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty op 5 en 6 November 1940 in Bloemfontein en wat as gevolg gehad het die uittrede van Genl. Hertzog en mnr. Havenga uit die Party, die eer om die bygaande verslag aan U en u Komitee aan te bied.
In die vertroue dat die Kommissie daarmee voldoen het aan sy opdrag,

Noem ek my,
Hoogagtend,
dienswillig die uwe,
Voorsitter


1. Opdrag
Die opdrag wat die Kommissie van Ondersoek van die Koukus- of Krisiskomitee van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty ontvang het, lui as volg:
,,Die Kommissie sal 'n grondige ondersoek instel na al die omstandighede waaronder die breuk tussen Genl. Hertzog en die kongres van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty van die Vrystaat ontstaan het, sowel as na die oorsake daarvan en sal so spoedig moontlik daaromtrent rapport uitbring aan die Koukuskomitee wat dan verwag word om verder daarmee te handel, na bevind van sake en ooreenkomstig sy eie algemene opdrag.”

2. Aanbiedinge om getuienis af te lê
Volgens die oproep wat deur dr. D. F. Malan as Voorsitter van die Koukuskomitee in die begin van Desember 1940 in die Pers gepubliseer is, moes persone wat gewillig was om getuienis voor die Kommissie af te lê, hulle met die Voorsitter in verbinding stel nie later as 31 Desember 1940 nie.
Tot op laasgenoemde datum het die volgende persone aangebied om getuienis af te lê:
1. Dr. D. F. Malan, Kaapstad.
2. Mnr. J. G. van der Merwe, Heilbron.
3. Mnr. F. D. du Toit, Sekretaris van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty, O.V.S., wat kennis gegee het dat hyself, Adv. C. R. Swart, sowel as ander lede van sy Hoofbestuur gewillig is om getuienis af te lê.
4. Mnr. P. A. Wilken, Johannesburg.
5. Mnr. P. M. Prinsloo, Bloemfontein.
Na 31 Desember het nog die volgende persone hulleself aangemeld:
1. Mnr. N. L. van der Walt, destyds Mede-sekretaris van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty van Transvaal, wat die Persverklaring wat hy vroeër gepubliseer het i.v.m. die boodskap insake die Vrymesselaarsbriewe wat deur Ds. C. R. Kotze op versoek van Adv. Swart aan hom in Pretoria oorgebring is, gestuur het.
2. Mnr. M. D. C. de Wet Nel, Mede-Sekretaris van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty in Transvaal.

3. Prosedure Ten einde die werk te vergemaklik en te bespoed het die Voorsitter van die Kommissie aan alle persone wat hulleself aangemeld het om getuienis af te lê, 'n versoek gerig om, indien enigsins moontlik, hulle getuienis op skrif te stel voordat hulle die Kommissie ontmoet.
Die Kommissie het sy eerste vergadering gehou op 24 Januarie 1941 te Bloemfontein. Op hierdie vergadering het die Kommissie die reëlings tot dusver deur die Voorsitter getref, goedgekeur. Verder het die Kommissie t.o.v. die prosedure wat gevolg sou word, die volgende besluite geneem:
a) Aan elke persoon wat getuienis aflê en antwoord op vrae wat na aanleiding van sy getuienis aan hom gestel word, sal later 'n kopie gestuur word van sy getuienis, asook van die vrae aan hom gestel met sy antwoorde daarop. Sodanige persoon sal dan versoek word om, nadat hy die juistheid van sy getuienis en sy antwoorde gekontroleer het, die inhoud van die dokument te beëdig en die dokument dan aan die Voorsitter van die Kommissie terug te stuur.
b) Aan alle persone wat by die ondersoek betrokke raak deurdat in getuienis wat afgelê word, melding gemaak word van hulle optrede i.v.m., of hulle aandeel in, die gebeurtenisse wat gelei het tot die betrokke moeilikhede, sal kopieë gestuur word van die verklarings of die gedeeltes van die verklarings waarby hulle belang het; tewens sal hulle versoek word om dan daarteenoor hulle eie verklarings skriftelik op te stel en dit aan die Kommissie te stuur, of om, as hulle dit verkies, persoonlik voor die Kommissie hulle verklarings af te lê.
c) Getuienis sal ook aangehoor word van persone wat hulle na 31 Desember 1940 aangemeld het.
d) Die bevinding van die Kommissie sal gebaseer word alleen op getuienis wat afgelê word.

4. Verloop aan ondersoek
Soos reeds gemeld, het die Kommissie van Ondersoek sy eerste vergadering gehou te Bloemfontein op 24Januarie 1941. Op hierdie vergadering was al die lede van die Kommissie aanwesig. By hierdie geleentheid is getuienis aangehoor van mnre. P. A. Wilken, F. D. du Toit en M. D. C. de Wet Nel.
Die tweede vergadering van die Kommissie was bepaal vir 29 Januarie 1941 en sou in Kaapstad plaasvind. Toe die Kommissie op die bepaalde tyd byeen kom, handig Adv. O. Pirow en mnr. J. C. de Wet hulle bedanking skriftelik in as lede van die Kommissie. Na enige beraadslaging het die orige drie lede van die Kommissie besluit om rapport insake die nuwe verwikkeling te doen aan Dr. D. F. Malan as Voorsitter van die Koukuskomitee, en verdere instruksies van hom af te wag. Die volgende dag het die Voorsitter van Dr. Malan berig ontvang dat hy en die ander twee lede met die ondersoek moes voortgaan.
Op 30 Januarie het die Kommissie toe weer vergader en getuienis aangehoor van Dr. D. F. Malan en Adv. C. R. Swart. Van Mnr. J. G. van der Merwe was berig ontvang dat hy die vergadering van die Kommissie nóg te Bloemfontein nóg te Kaapstad kon bywoon. Sy verklaring het hy skriftelik en beëdigd gestuur.
Van mnre. P. M. Prinsloo en N. L. van der Walt is geen verdere berig ontvang nie. As gevolg van die feit dat hulle optrede i.v.m. die gebeurtenisse wat gelei het tot die moeilikhede waaroor die ondersoek gaan, geraak word in die getuienisse wat afgelê is, is besluit geword om die volgende persone te nader met die versoek om van hulle kant ook verklaringe te maak: Genl. Hertzog, Adv. Strydom, Dr. Verwoerd, Mnr. N. L. van der Walt en mnr. Gert Yssel. Adv. Strydom en Dr. Verwoerd was gewillig en het hulle verklarings skriftelik en beëdigd aan die Kommissie laat toekom. Genl. Hertzog het geweier. Die korrespondensie wat gevoer is tussen die Voorsitter van die Kommissie en die Sekretaris van Genl. Hertzog, Dr. Jan Steyn, is reeds in die Pers gepubliseer. Mnr. N. L. van der Walt het berig dat hy nie van voorneme is om 'n verdere verklaring te maak nie. Mnr. G. Yssel het een keer per telefoon en daarna persoonlik aan die Voorsitter meegedeel dat hy sy verklaring sou stuur. Die verklaring is egter nie ontvang nie.
Dit is besonder jammer en dit moet in hoë mate betreur word dat Genl. Hertzog, wat die sentrale figuur was in die drama van moeilikhede wat afgespeel is, nie sy weg oopgesien het om van sy kant 'n verklaring te maak nie. 'n Verklaring van sy kant sou veel daartoe bygedra het om die ontwikkelinge en verwikkelinge wat plaasgevind het, in die regte lig en perspektief te laat sien. Nóg van Genl. Hertzog nóg van een van sy volgelinge is getuienis ontvang wat die kern van die Vrystaatse moeilikhede raak. Van die kant van sy volgelinge is, behalwe die persverklaring van mnr. N. L. van der Walt en 'n mededeling van mnr. P. M. Prinsloo, alleen getuienis afgelê deur mnr. P. A. Wilken. Ongelukkig gaan die getuienis van mnr. Wilken alleen oor die houding van ,,Die Transvaler” teenoor Genl. Hertzog as hoofleier van die Party. Hierdie getuienis kan dus moeilik beskou word as rakende die onmiddellike kernoorsake wat gelei het tot die uittrede van Genl. Hertzog uit die H.N.P. of V.P. by geleentheid van die kongres in Bloemfontein.
Uit 'n brief (gedateerd 29 April 1941), wat die Voorsitter van Dr. Malan as Voorsitter van die Koukuskomitee ontvang het, blyk dit dat die Koukuskomitee poginge aangewend het om die vakatures wat op die Kommissie van Ondersoek as gevolg van die bedanking van die here Pirow en de Wet ontstaan het, opgevul te kry deur twee ander lede te benoem uit die oud-volgelinge van Genl. Hertzog. Die Koukuskomitee het egter nie in sy poginge geslaag nie. Die feit dat hierdie poginge gemaak is, was o.m. oorsaak daarvan dat die vasstelling van sy bevinding deur die Kommissie van ondersoek aansienlik vertraag is.

a) VERLOOP VAN GEBEURTENISSE

edit

Die vasstelling van 'n bevinding aangaande die eintlike omstandighede en oorsake wat gelei het tot die moeilikhede waaroor die ondersoek gaan, sal vergemaklik word as die belangrikste punte i.v.m. die ingewikkelde verloop van die gebeurtenisse wat hulle hoogtepunt bereik het op die Bloemfonteinse Kongres van 5 en 6 November 1940, hier in ’n oorsigtelike vorm aangestip word. Enkele punte sal tegelykertyd met dokumentêre gegewens toegelig word.
1. Op 4 September 1939 het, as gevolg van die besluit van die Volksraad om oorlog te verklaar aan Duitsland, die krisis plaasgevind in die geledere van die Verenigde S.A. Nasionale Party wat daartoe gelei het dat Genl. Hertzog met 'n groot aantal volgelinge genoemde Party verlaat het.
2. In die skeuring van die Verenigde party het die Afrikanervolk gesien die deur God beskikte oomblik vir hereniging van die twee groepe Afrikaners wat deur samesmelting in 1933 van mekaar verwyderd geraak het en wat mekaar gedurende 6½ jaar heftig bestry het. Die geesdrif vir hereniging het sy hoogtepunt bereik by die spontane, maar magtige samekoms van Afrikaners by Monumentkoppie op 9 September 1939.
3. Op 23 en 24 November 1939 het leiers van die Nasionale Party en van die Hertzog-groep in Pretoria vergader om 'n ooreenkoms vir hereniging te tref. Die onderhandelings het misluk, en wel op grond van die vraag insake die Republikeinse doelstelling wat deur die verteenwoordigers van die Nasionale Party as die ,,sine qua non" vir hereniging voorop gestel is en wat deur Genl. Hertzog en sy volgelinge nie in die gestelde vorm onderskryf kon word nie. Hierna het die Hertzog-volgelinge in Transvaal oorgegaan tot die stigting van die Volksparty.
4. In Januarie 1940 met die opening van die Volksraad is die noodsaaklikheid besef vir 'n gesamentlike Parlementêre optrede. Die leiers van die twee groepe, Genl. Hertzog en Dr. Malan, het in onderhandeling met mekaar getree, maar nie as leiers van die offisiële Party-organisasies soos by geleentheid van die samekoms in Pretoria nie, maar wel as Parlementêre leiers. Die onderhandelinge is deur die twee leiers gevoer met die kennis, medewerking en goedkeuring van hulle respektiewe Party-koukusse. Uit hierdie onderhandelings is gebore die bekende Parlementêre Ooreenkoms, wat berus het slegs op die allernoodsaaklikste hoofpunte vir parlementêre samewerking vereis.
5. Toe t.o.v. die Parlementêre Ooreenkoms eenstemmigheid bereik was, was dit voor die hand liggend dat hierdie Ooreenkoms geskiktelik kon dien as grondslag vir verdere stappe in die rigting van hereniging.
Genl. Hertzog en Dr. Malan het toe opnuut onderhandelings met mekaar aangeknoop. Nou doen hulle dit egter nie in hulle hoedanigheid as parlementêre leiers nie; hulle doen dit nou as leiers van die twee afsonderlike party-groepe. Die onderhandelings tussen die twee leiers het daarop uitgeloop dat daar op grondslag van die punte van ooreenstemming tussen die Programmas van Beginsels en van Aksie van die Nasionale Party aan die een kant en die Programmas van Beginsels en van Aksie van die Volksparty aan die ander kant 'n nuwe ,,Ooreenkoms” getref is. Teneinde hierdie Ooreenkoms aanskoulik voor die Kongresse wat in die laaste instansie sal moet beslis insake die bewerkstelliging van hereniging, te kan lê, is deur Dr. Malan opgestel 'n ,,samevatting van die Punte van Ooreenkoms”. Ook is deur hom uitgewerk 'n ,,Prosedure” wat as leidraad vir die Kongresse kon dien i.v.m. die bewerkstelliging van hereniging. Beide die ,,Samevatting” en die ,,Prosedure” is aan Genl. Hertzog voorgelê en deur hom goedgekeur.
Omdat hierdie Ooreenkoms van groot betekenis is met die oog op latere ontwikkelinge, laat ons dit hier volg (met weglating van die uiteensetting van die Punte van Ooreenkoms waarna in die hiervolgende onder b) verwys word).

DIE OOREENKOMS
,,Voorgestel word:
a) dat die Kaapstadse Pailementêre Ooreenkoms ook breë grondslag sal wees van die voorgestelde Party-eenheid en as sodanig by die Kongresse aanbeveel sal word;
b) dat gepaard hiermee aan die Kongresse voorgelê sal word 'n van beide kante goedgekeurde samevatting van alle punte van belang waaromtrent daar tussen die respektiewe programme van Beginsels en van Aksie 'n substansiële ooreenkoms bestaan en waaraan die respektiewe Partygroepe daarom geag kan word alreeds gebonde te wees;
c) dat die organisasie van die Herenigde Party op 'n Federale basis sal plaasvind en dat, soos nou die geval is by die Nasionale Party, die Konstitusie van elke Provinsiale Afdeling, by die Kongres van daardie afdeling sal berus;
d) dat die Kongresse in elke Provinsie hul respektiewe Hoofbesture magtig om as 'n gesamentlike Hoofbestuur vir daardie Provinsie op te tree tot by die eerste vergadering van die desbetreffende Kongresse van die eengeworde Party;
e) dat die Kongresse volgens 'n ooreengekome plan 'n Raad sal samestel om as 'n Federale Raad te ageer totdat die Federale Raad van die Herenigde Party kan fungeer en met opdrag om 'n Konsepprogram van Beginsels en 'n Konsepprogram van Aksie op te trek met inagneming van wat onder a) en b) hierbo voorgestel word, om voorgelê te word as 'n aanbeveling aan die respektiewe Provinsiale Kongresse van die Herenigde Party".

6. Op 19 Maart 1940 is die Kongres van die Kaaplandse Nasionale Party met die oog op hereniging gehou. Hierdie kongres het hom vereenselwig met die ,,Samevatting van die Punte van Ooreenkoms” en hom neergelê by die ,,Prosedure” soos onder punt 5 bo aangedui. Verder is o.m. reëlings getref vir die totstandbringing van hereniging in Kaapland so gou moontlik, wat o.m. inhou dat voorsiening gemaak moet word vir verteenwoordiging van Kaapland op 'n tussentydse Federale Raad.
7. Gedurende Maart is ook die Kongresse gehou van die Vrystaatse Hertzog-groep en van die Vrystaatse Nasionale Party.
Op die Kongres van die Nasionale Party is besluit om die aanbevelings van die tussentydse Federale Raad in ooreenstemming met Art. 7 (e) van die hierbo aangehaalde ,,Ooreenkoms" insake hereniging te aanvaar. Tewens is by besluit vasgelê sekere reëlings wat moes dien om eenwording te bewerkstellig. Duidelik word uitgegaan van die standpunt dat die Programmas van Beginsels en van Aksie wat voor die Herenigingskongres gelê sou word, deur die Tussentydse Federale Raad opgetrek moes word.
Die Kongres van die Hertzog-groep het hereniging ook in beginsel aanvaar. Van belang is dit dat deur hierdie Kongres die bo aangehaalde Ooreenkoms ook in beginsel onderskryf is. En, ofskoon die Kongres wel voorsiening gemaak het vir die daarstelling van 'n Federale Raad, het hy dit nie spesifiek as een van sy pligte genoem om 'n Program van Beginsels en 'n Program van Aksie ter voorlegging aan die Kongresse op te stel nie. Tewens is egter ook besluit dat by die verdere opstelling van 'n hersiene Program van Beginsels en ’n program van Aksie die Volksparty se Program van Beginsels en Nasionale Party se Program van Aksie aangeneem sou word as grondslag van bespreking en verbetering.
In hierdie verband kan gemeld word dat ook die Transvaalse Kongresse besluit het om die reeds gemelde ,,Ooreenkoms,, ongewysigd aan te neem.
8. In hierdie verband moet ook een en ander aangestip word i.v.m. die onderhandelings tussen Genl. Hertzog en Dr. Malan insake die behoud van die Beyers-legaat. Soos bekend, kon die voordele van die legaat volgens die testament van Wyle Regter F. W. Beyers die Nasionale party ten goede kom alleen solank hierdie Party substansieel sy identiteit behou. Aangesien alle onderhandelinge gevoer met die doel om hereniging te bewerkstellig, berus het op die veronderstelling van gelykheid tussen die twee groepe, sou die voordele van die legaat verlore gegaan het as die Nasionale party van Kaapland tot ontbinding oorgegaan het. Algehele ontbinding van hierdie Party met die doel om die lede individueel by die nuwe Party te laat aansluit, moes dus voorkom word.
Volgens verklaring van Dr. Malan het hy Genl. Hertzog op versoek van laasgenoemde by geleentheid van ’n besoek aan Genl. Hertzog op sy plaas nog voor die mislukte onderhandelings op Pretoria, ingelig omtrent die bepalings van die Beyerstestament en omtrent die wenslikheid van poginge om die fondse vir die Party te behou. Genl. Hertzog was toe van mening dat dit wel moontlik sou wees om ’n reëling tot behoud van die fondse te kan tref. Later in Kaapstad, toe die onderhandelings sóver gevorder het dat hereniging 'n werklikheid kon word, het Dr. Malan van sy kant die saak in 'n gesprek met Genl. Hertzog weer te berde gebring. Om in belang van die Party die reëlings te vergemaklik het Dr. Malan voor hierdie samespreking met Genl. Hertzog afstand gedoen van die voordele wat die Beyers-legaat ook vir hom persoonlik ingehou het. By geleentheid van hierdie samespreking het Genl. Hertzog die versekering gegee dat hy van sy kant sou meewerk om die fondse, indien moontlik, vir die Party te behou. Hierdie versekering is kort na die onderhoud met Genl. Hertzog deur Dr. Malan aan sy koukus bekend gestel.
Na inwinning van regskundige advies is hereniging in Kaapland op so 'n wyse tot stand gebring dat, hoewel die Party die nuwe naam, die Programmas van Beginsels en van Aksie aanvaar het, hy sy substansiële identiteit behou het en daarmee ook die legaat.
9. Op 15 April het daar weer 'n samespreking plaasgevind tussen Genl. Hertzog en Dr. Malan. Dr. Malan het vooraf 'n brief aan Genl. Hertzog geskryf om die onderhoud voor te berei. Omtrent hierdie onderhoud verklaar Dr. Malan die volgende:
,,Die onderhoud het te doen gehad met hereniging in Kaapland alleen. Daar was geen ander bedoeling as om hom, nl. Genl. Hertzog, in te lig omtrent die resultaat van die besprekings tussen die Nasionale Party- en die Hertzoggroep-verteenwoordigers omtrent die verdere stappe, wat in die proses van hereniging in hierdie Provinsie gedoen moes word nie. Dit kom duidelik uit in die brief wat ek aan Genl. Hertzog geskryf het om die onderhoud voor te berei. By hierdie brief het ek vir Genl. Hertzog se kennisname ingesluit die herenigingsresolusie van die pasgehoue Kaaplandse Kongres sowel as die voorgestelde prosedure wat gevolg sou word in Kaapland met die toestemming van albei kante teneinde hereniging in die verskillende distrikte en wyke van die Provinsie prakties deur te voer.”
In hierdie verband is ook die volgende deel van Dr. Malan se verklaring van belang:
,,As verder bewys dat die onderhoud op 15 April alleen te doen gehad het met Kaaplandse sake, moet daarop gewys word dat daaraan deelgeneem het van die kant van Kaapland, Sen. Fourie en Adv. Fagan, verteenwoordigende die vroeëre lede van die Verenigde Party en Adv. Erasmus en ekself, verteenwoordigende die Nasionale Party. Verder was daar alleen Genl. Hertzog en saam met hom mnr. Havenga, vermoedelik op Genl. Hertzog se versoek. Transvaal was nie verteenwoordig nie. By die bespreking het Genl. Hertzog toe sy instemming te kenne gegee met ons voorgestelde verdere stappe soos uiteengesit was in die twee stukke wat ek per brief tevore aan hom gestuur het. Die vraag is toe ook deur hom geopper, hoe, indien die Kaaplandse Nasionale Party sy identiteit behou teneinde die Beyers-legaat te verseker, die federasie van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty daardeur geaffekteer sou word.
Die antwoord daarop was, soos ek ook in my latere brief aan hom dit uiteengesit het, dat die federasie waarin die Kaaplandse Nasionale Party vroeër was, nl. die Nasionale Party Federasie, ,,ipso facto” verval sodra in die ander provinsies die Nasionale Party opgehou het om te bestaan en plek gemaak het vir nuwe Partye met die naam van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty, en dat dit daarom nou in ieder geval nodig sou word om die Federasie van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty, wat ook nou die naam van die Party in Kaapland geword het, opnuut op te bou. Ek het ook verduidelik dat, waar dit so geskied, dit aan die aard van die federasie, soos van die begin af aan gekontempleer, geen die minste verskil sou maak nie. Die naamsverandering op sigself het volgens regsgeleerde advies, die identiteit van die Kaaplandse Nasionale Party nie verbreek nie, en waar hy dus onder dieselfde nuwe naam kon federeer met die Herenigde Nasionale Party of Volksparty in die ander provinsies en daarby ook nog al die ander voorwaardes van hereniging aanvaar het, daar was federasie met behoud van sy identiteit presies dieselfde as federasie sou gewees het sonder die behoud daarvan. Dit is wat by die onderhoud op 15 April o.a. bespreek is, en so is die saak deur my verduidelik. En sover as ek my kan herinner, het daar verder niks plaasgevind nie, en in ieder geval is daar niks in die aard van 'n nuwe Ooreenkoms of aan enige Ooreenkoms hoegenaamd aangegaan nie. Die gevolg was dat Genl. Hertzog die volgende dag aan Dr. van der Merwe te kenne gegee het dat sake nou alles in orde is en dat hy instruksies gegee het aan sy volgelinge in die Vrystaat nl. die Hertzoggroep, om voort te gaan met die samesmelting in die verskillende takke met die Nasionaliste.”
Met opset het ons in verband met die doel van die samespreking van 15 April, asook i.v.m. wat daar plaasgevind het, breedvoerig aangehaal uit die Verklaring van Dr. Malan. Immers, straks sal blyk uit aanhalinge wat ons sal gee uit kopieë van briewe van Genl. Hertzog, dat hy, wat sy opvatting van die doel van, en die eintlike gebeure op, hierdie samespreking betref, radikaal verskil van Dr. Malan.
10. Tussen 26 April en 9 Mei 1940 het daar 'n briefwisseling plaasgevind tussen (a) Wyle Dr. N. J. van der Merwe en Genl. Hertzog, en (b) Dr. Malan en Genl. Hertzog, wat met die oog op die latere verwikkelinge en veral met die oog op die houding van Genl. Hertzog, van die allergrootste belang is.
Dr. van der Merwe het aan Genl. Hertzog 'n brief geskryf gedateerd 26 April, waarin hy gehandel het oor 'n finale formulering van die Program van Beginsels wat voor die a.s. Provinsiale Kongres van die Vrystaat gelê moes word. Dr. Malan weer het aan Genl. Hertzog op 6 Mei 1940 'n brief gerig waarby ingesluit was twee verklarings wat aan die Pers uitgereik was, een namens die Nasionale Party en die ander namens die Hertzoggroep van Kaapland. Uit hierdie verklarings blyk dat alle nodige stappe gedoen was vir die voltooiing van die eenwordingsproses sowel in die algemeen as in Kaapland.
Dr. Malan gee in sy brief dan o.m. wenke aan die hand insake die wyse en die tyd waarop die tussentydse Federale Raad byeengeroep moes word. In Kaapland was reeds vyf verteenwoordigers deur elke groep gekies met die oog op die samekoms van die Federale Raad; in die ander provinsies was dit ook reeds gedoen of sou dit binnekort gedoen word.
In sy antwoorde op bogenoemde briewe (die antwoord aan Dr. van der Merwe was gedateerd 29 April 1940, en die aan Dr. Malan 8 Mei 1940) wys Genl. Hertzog daarop en beklemtoon hy dit baie sterk dat daar volgens sy opvatting by geleentheid van die samespreking van 15 April 'n essensiële wysiging en verandering aangebring is wat betref die karakter van die Herenigde Party in vergelyking met wat dit voor genoemde datum sou gewees het, en verder dat uit hierdie verandering insake die karakter van die Party ook voortvloei 'n gewysigde prosedure t.o.v. die totstandbringing van die Party. Genl. Hertzog se uiteensetting van sy standpunt (in albei briewe is dit wat hierdie saak betref ongeveer van gelyke strekking) kom in kort op die volgende neer:
a) Voor 15 April het die Ooreenkoms insake die hereniging van die twee party-groepe ingehou dat die nuwe Party sou wees 'n Uniale of Eenheidsparty, d.w.s., geen Federale Party bestaande uit afsonderlike provinsiale partye, elk onder sy eie Hoofbestuur nie, maar slegs een Party vir die hele Unie onder een en dieselfde Hoofbestuur.
b) Volgens die nuwe Ooreenkoms wat getref is op 15 April sou daar nou tot stand gebring word 'n suiwere Federale Party, waardeur elke afsonderlike Provinsie sy eie outonome en selfstandige Party sou verkry, die Kongres waarvan vir die Party binne daardie Provinsie die opperste gesag sou wees.
c) As noodwendige gevolg van (b) moet die ,,Federale Raad” soos oorspronklik deur Genl. Hertzog en Dr. Malan gekontempleer, wat o.m. belas sou word met die opstelling van 'n Program van Beginsels geldig vir die gekontempleerde Eenheidsparty, as verval beskou word.
d) Wel sou 'n Federale Raad nodig wees vir die Federale Party, selfs meer nog as in die geval van 'n Eenheidsparty.
Onder die federale sisteem egter sou oor die noodsaaklikheid of wenslikheid daarvan besluit moet word deur elk van die vier Kongresse afsonderlik; ook sou daar op dieselfde wyse te werk gegaan moet word omtrent die samestelling en funksies daarvan.
Genl. Hertzog het dan ook, toe hy op 8 Mei aan Dr. Malan geskryf het, reeds 'n Ontwerpprogram van Beginsels vir die H.N.P. of V.P. van die O.V.S. gereed gehad. 'n Kopie daarvan was vir Dr. Malan ingesluit. Voorsiening was gemaak in hierdie Program nie alleen vir 'n Federale Raad nie, maar ook vir die toetreding tot 'n Federale Unie.
In hierdie verband is die volgende gedeelte uit die brief van Genl. Hertzog van 29 April 1940 aan Dr. van der Merwe van belang:
,,U sal my verskoon as ek u nog eens herinner daaraan, dat tot op Maandag 15 April dit ooreengekom was en vasgestaan het, dat die nuwe party wat staan om opgerig te word onder die naam van die Herenigde N. Party of Volksparty, sou wees 'n eenheidsparty, ter verkryging waarvan al die partye in die vier Provinsies - die Nasionale Partye sowel as die Hertzog-groep Partye en die Volksparty - sou ontbind, opdat in die plaas daarvan een nuwe party opgerig sou word. Ten einde, ewewel, tegemoet te kom aan die begeerte van die Leier en ander voormanne van die Nasionale Party om te belet dat deur 'n ontbinding van die Nasionale Party die Beyers-legaat aan die Nasionale Party van die Kaapprovinsie sou verlore gaan, is op 15 April j.l. tussen my en Dr. Malan, in bysyn van ander voormanne uit Transvaal, Vrystaat en Kaap, ooreengekom dat, wat betref die Kaapprovinsie, daar sal afgesien word van 'n ontbinding van die Nasionale Party, dog dat, wat betref die ander drie Provinsies, daar met die ontbinding en samesmelting van partye in ieder daarvan sal voortgegaan word soos oorspronklik ooreengekom.
By hierdie geleentheid, op 15 April, is ek nog verder uit my weg gegaan om aan Dr. Malan en die ander voormanne dit duidelik te maak dat, ingevolge van daardie konsessie aan die Kaapprovinsie, daar nie langer kon gedink word aan 'n Eenheidsparty nie, maar dat die nuwe party noodwendig sal moet wees '’n federale party, waardeur ieder van die vier Provinsies in besit sal geraak van 'n eie onafhanklike Provinsiale Party, staande onder geen ander gesag dan sy eie Provinsiale Kongres nie.
Dit alleen is deur Dr. Malan en almal wat teenwoordig was by daardie geleentheid goedgekeur, en daarop is toe die volgende dag, na raadpleging met u deur middel van my Sekretaris aan die Hoofbestuur van die Hertzoggroep van die Vrystaat kennis gegee om dadelik in oorleg met u verteenwoordigers aldaar, oor te gaan tot bewerkstelliging van die samesmelting aan die twee partye, soos tussen Dr. Malan en my enige tyd tevore ooreengekom was. Hieraan is ook reeds gevolg gegee.
Ons staan dus vandag, as gevolg van die ooreenkoms van 15 April, waarby die federale basis in plaas van die Uniale basis wat vroeër gekontempleer was, aangeneem is vir die nuwe Herenigde Nasionale Party of Volksparty, op 'n grondslag gevestig wat geen inmenging van buite gedoog nie, en waar enige inmenging van buite ook totaal futiel moet wees, omrede dat die Kongres van die Provinsie oppermagtig is en enige inmenging kan verydel.”
Teenoor bostaande opvatting en standpunt van Genl. Hertzog het Dr. Malan en Dr. van der Merwe in briewe gedateerd 9 Mei 1940 en 1 Mei 1940 respektiewelik beweringe geplaas wat as volg saamgevat kan word en wat volgens hulle opvatting die bewys lewer dat van die aanvang af 'n Federale en nie 'n Uniale Party gekontempleer was:
a) Die onderhoud van 15 April was nie bedoel om te onderhandel oor 'n nuwe vorm wat die Herenigde Party moes aanneem nie, maar ,,alleen om 'n posisie te verduidelik waaromtrent daar by gebrek aan inligting en vriendskaplike gedagtewisseling anders maklik misverstand kon ontstaan,” en waarby die advies van Genl. Hertzog sou verwelkom word. Dit het nl. betref die verdere stappe tot eenwording in Kaapland volgende op die besluite van die De Aar-Kongres.
b) Hoewel die kwessie of die H.N.P. of V.P. in die algemeen op Uniale of op Federale grondslag georganiseer sou word, by geleentheid van die Onderhoud bespreek is, het die kwessie stellig nie uit die onderhoud ontstaan nie. Veel minder is daar by dié geleentheid erken dat vroeër die Uniale basis aanvaar was, of is daar aangeneem dat as gevolg van die onderhoud daar toe 'n verandering van enige aard in die bestaande posisie aangebring was.
c) By die onderhoud van 15 April is daar deurgaans uitgegaan van die standpunt dat, watter metode van inwendige eenwording in Kaapland ook al gevolg mag word, die verhouding van die Party in Kaapland tot die Party-organisasies in die ander Provinsies in ieder geval federaal sou wees. Die feit dat die Kaaplandse Nasionale Party sy identiteit behou het, sou in hierdie opsig geen verskil hoegenaamd maak nie.
d) Geeneen van die Kongresse het 'n besluit geneem wat inhou dat die uniale basis aangeneem moes word nie. Inteendeel in die ,,Ooreenkoms”, wat saam met die ,,samevatting van Punte van Ooreenkoms” (soos deur Dr. Malan opgestel en deur Genl. Hertzog goedgekeur) voor die kongresse gelê is en deur almal aangeneem is, word bepaal dat die organisasie van die H.N.F. of V.P. op 'n federale basis sou plaas vind.
Tewens is deur al die Kongresse, selfs deur die van die Vrystaatse Hertzoggroep, voorsiening gemaak vir die benoeming van verteenwoordigers op die tussentydse Federale Raad.
e) Die Parlementêre Ooreenkoms, wat deur Genl. Hertzog en Dr. Malan in samewerking met hulle respektiewe Koukusse tot stand gebring is, berus op die veronderstelling dat hereniging op federale en nie op uniale basis nie sal plaas vind. Immers in die ooreenkoms word gespreek van die respektiewe konstitusies van die Party in die vier Provinsies. ,,Die Parlementêre Ooreenkoms erken dus self dat in die vier provinsies die Party só sal bestaan dat daar aparte afdelings aan die Party sal wees, elkeen met sy eie Konstitusie onder sy eie Provinsiale beheer”.
f ) In die nuwe Ooreenkoms, wat berus op die Parlementêre Ooreenkoms en wat saam met die ,,Samevatting van Punte van Ooreenkoms” en die ,,Prosedure” in die vorm van 'n boekie uitgegee is, kom die volgende bepaling as punt c) voor:
,,Dat die Herenigde Nasionale Party of Volksparty op federale basis georganiseer sal word soos dit die geval is by die Nasionale Party, en dat die Konstitusie van elke provinsiale afdeling by die Kongres van daardie afdeling sal berus.” (Vgl. punt 5 van ,,Verloop van Gebeurtenisse”).
g) In die Herenigingsbesluit van die Hertzoggroep in die Vrystaat kom die volgende woorde voor: ,,In die respektiewe konstitusies van die Party in die vier provinsies sal onder die kwalifikasies van lidmaatskap die volgende bepaling opgeneem word:”
Hier word die woord ,,konstitusies” dus gebruik presies soos dit in die gedrukte vorm voor die ander Kongresse gelê is.
h) Die Kongres van die Hertzoggroep van die Vrystaat het tewens voorsiening gemaak vir die benoeming van verteenwoordigers op 'n tussentydse Federale Raad. Ook het hierdie Kongres besluit dat by die verdere opstelling van 'n hersiene Program van Beginsels en van Program van Aksie die Volksparty se Program van Beginsels en die Nasionale Party se Program van Aksie aangeneem sou word as grondslag van bespreking en verbetering. Uit bostaande blyk dus: a) hoe sterk die opvatting van Genl. Hertzog insake die doel van, en die presiese gebeure op, die vergadering van 15 April verskil van die van Dr. Malan, en b) watter argumente Dr. Malan (en ook Dr. van der Merwe) aanvoer teen die beweringe van Genl. Hertzog as sou daar op 15 April besluit is tot 'n radikale wysiging t.o.v. die karakter van die nuwe Party.
Vanselfsprekend dat daar later op hierdie meningsverskil teruggekom sal moet word.

11. Op 30 Mei 1940 rig mnr. N. L. van der Walt, Mede-Sekretaris van die H.N.P. of V.P. van Transvaal, 'n brief aan Dr. Malan in opdrag van die Dagbestuur van sy Party, waarin versoek word dat die Hoofbesture van die H.N.P. of V.P. in Kaapland, O.V.S., en Natal saam met die van Transvaal onmiddellik opdrag sal gee aan die Federale Raad om sonder versuim te vergader en 'n Ontwerp-program van Beginsels en 'n Ontwerp-program van Aksie op te stel met inagneming van die Kaapstadse Ooreenkoms om aan die respektiewe kongresse van die H.N.P. of V.P. voor te lê. 'n Soortgelyke brief is deur mnr. F. D. du Toit, Sekretaris van die Nasionale Party van die O.V.S., ontvang.
12. Na aanleiding van bogenoemde brief aan Mnr. du Toit ('n brief met dieselfde inhoud was ook gestuur aan Mnr. Kok, Sekretaris van die Hertzoggroep in die O.V.S.) is 'n gesamentlike vergadering byeengeroep van die Hoofbesture van die Nasionale Party en van die Hertzoggroep in die O.V.S. Hierdie vergadering het plaas gevind op 25 Junie 1940 in die namiddag nadat die twee Hoofbesture eers in die voormiddag afsonderlik vergader het.
Op hierdie vergadering kon geen vergelyk getref word nie. Volgens 'n besluit van die Hoofbestuur van die Nasionale Party wou hierdie Hoofbestuur voldoen aan die versoek van die Dagbestuur van die Transvaalse H.N.P. of V.P. en die vergadering van die Federale Raad laat plaas vind en daaraan deel neem.
Die Hoofbestuur het hom gebonde geag aan die besluit van sy Kongres. Genl. Hertzog egter het vanuit sy standpunt geweier om saam te werk, en wel op grond van die feit dat volgens sy mening die hele toedrag van sake sedert 15 April verander het. Die Generaal sou self 'n Program van Beginsels vir die Vrystaat opstel. 'n Program van Aksie kon voorlopig agterweë bly.
Toe die Gesamentlike Vergadering op 'n dooie punt gekom het, is met die hoop om nog 'n uitweg te vind besluit om 'n Komitee te benoem bestaande uit vyf lede uit elke groep. Hierdie Komitee van Tien sou dan as volg te werk gaan: Die vyf lede van die Nasionale Party sou na die Federale Raadsvergadering gaan en aan die opstel van Programmas van Beginsels en van Aksie deel neem. Die vyf lede van Genl. Hertzog se kant sou weens 'n beswaar van die Generaal nie gaan nie, maar in oorleg met hom 'n Program opstel. Hierdie tien lede sou dan gesamentlik vergader en trag om te koördineer met die oog op die voorlegging van 'n gesamentlike Program of Programmas aan die Kongres. Die besluit waarin hierdie reëling vervat is, lui as volg:
,,Hoewel die Hertzog-groep in die O.V.S. ontken dat daar 'n federale Raad vir die nuwe party bestaan, word geen beswaar deur die vergadering geopper teen Dr. van der Merwe se voorbehoud om vrygelaat te word om die Federale Raad van die Nasionale Party - soos aangevul deur die ander provinsies wat lede daarop benoem het - te raadpleeg in verband met die opstel van 'n program van Beginsels en 'n program van Aksie en om enige advies also aan bogemelde Komitee voor te lê, met die verstande dat dit ook vanweë die Nasionale Party aan die kongres voorgelê kan word in geval geen ooreenkoms deur die komitee bereik word nie.”
13. Gedurende die Volksraadsitting van 1940 is deur die Koukus van die H.N.P. of V.P. in Kaapstad 'n Komitee benoem. Hierdie Komitee is bekend as die Koukus- of Krisiskomitee. Kort na die sluiting van die Volksraad het hierdie Komitee in Pretoria vergader. Die verskillende provinsies was as volg verteenwoordig:
Kaapland: Dr. D. F. Malan, Mnr. A. J. Werth, L.V., Sen. Fourie en Mnr. P. J. du Plessis, L.V.
Transvaal: Adv. O. Pirow, L.V., Gen. Kemp, L.V., Adv. J. G. Strydom, L.V., en Sen. P. de R. van Niekerk.
Natal: Sen. Spies en mnr. A. Nel.
Vrystaat: Mnr. J. H. Viljoen, L.V., Mnr. J. J. Haywood, L.V., en Mnr. J. J. Serfontein, L.V. (Generaal Conroy, L.V., is ook lid van hierdie komitee maar kon nie teenwoordig wees nie).
Op hierdie vergadering het die Komitee 'n voorlopige Program van Beginsels en 'n Program van Aksie opgestel vir die H.N.P. of V.P.
Op 15 en 16 Oktober het die tussentydse Federale Raad, bestaande uit verteenwoordigers van albei kante (eweveel in getal) uit al die Provinsies, met uitsondering van die verteenwoordigers van die Hertzoggroep van die O.V.S., in Pretoria vergader. Op hierdie vergadering was o.m. aanwesig: Senator Fourie, Genl. Kemp, Adv. Pirow en Oud-Minister Grobler.
Die Federale Raad het by hierdie geleentheid die voorlopige Programmas van Beginsels en van Aksie, wat reeds deur die Koukuskomitee opgestel was, met enkele onbelangrike wysigings aangeneem en aanbeveel ter voorlegging aan die verskillende Kongresse.
14. Op 23 Oktober het die Komitee van Tien, benoem op die vergadering van die twee Vrystaatse Hoofbesture op 25 Junie, 'n vergadering gehou. Al die lede was aanwesig, nl. Senatore Brebner en Vermeulen, Genl. Conroy L.V., Mnre. J. J. Serfontein, L.V., J. H. Viljoen L.V., J. C. Buys, L.U.K., Adv. C. R. Swart, J. Reitz, L.U.K., en mevr. E. S. de Villiers en M. H. van Rhyn.
Op hierdie vergadering is die volgende voorstel van Mnr. J. C. Buys eenparig aangeneem: ,,Hierdie vergadering besluit, dat verteenwoordigers van die Hertzoggroep afgevaardig word namens hierdie vergadering na Genl. Hertzog, ten einde aan hom die posisie te verduidelik en van hom te verneem, of dit nie moontlik vir hom is om in te stem dat die Federale Raad se program van Beginsels en van Aksie met eenparige ondersteuning voor die kongres gelê kan word”.
Ook is besluit dat die Komitee van Tien weer sal vergader op 5 November om 2.15 nm. In hierdie verband dien vermeld te word dat kopieë van die Program van Beginsels deur Genl. Hertzog opgestel, vanaf ongeveer 'n week voor die vergadering van die Komitee van Tien reeds toegestuur is aan persone wat as afgevaardigdes die Stigtingskongres van die H.N.P. of V.P. sou bywoon.
15. Op 5 November word deur die Nasionale Party kantoor 'n amptelike berig ontvang van die Hertzoggroepkantoor dat die vergadering van die Komitee van Tien nie meer gehou sal word nie, soos ooreengekom op 23 Oktober. Van die kant van die Hoofbestuur van die Nasionale Party, wat op dieselfde dag vergader het, is nog 'n poging gemaak om tot 'n skikking te kom. Na enige onderhandelings oor en weer gevoer is, is van die kant van die Hertzoggroep 'n amptelike berig ontvang dat laasgenoemde groep se Hoofbestuur besluit het om die Generaal se Program van Beginsels te aanvaar - dit is die enigste Program waarvan die Hoofbestuur kennis dra. Ook het geblyk dat die lede van die Hertzoggroep nie na Genl. Hertzog was nie. (Die vraag in hierdie verband is wat die rede was, waarom die vergadering van die Komitee van Tien gekanselleer is, en wat o.a. die rede was waarom lede van die Hertzoggroep se Hoofbestuur wat vroeër saam met die Koukuskomitee meegewerk het aan die opstel van voorlopige Programmas van Beginsels en van Aksie en wat selfs op 23 Oktober nog bereid was om Genl. Hertzog te versoek om die Programmas van die Federale Raad te aanvaar, nou saam met hulle Hoofbestuur kon verklaar dat hulle van laasgenoemde Programmas geen amptelike kennis dra nie.)
16. Die voorgaande dui aan die stadium van ontwikkeling wat sake bereik het, toe die Vrystaatse Herenigingskongres op 5 en 6 November 1940 byeen gekom het. Wat in die lig van bostaande te voorsien was, het gebeur: Die Kongres het te staan gekom voor 'n onvermydelike keuse tussen twee Programmas: aan die een kant die Ontwerp Program van Beginsels deur Genl. Hertzog opgestel, aan die ander kant die Konsep-program van Beginsels soos opgestel deur die tussentydse Federale Raad. Soos te begrype was, het die Kongres nie geneë gevoel om met meerderheid van stemme te beslis oor die vraag watter van die twee Programmas as basis vir bespreking sou dien nie. Die een poging na die ander is gemaak om tot 'n versoening te kom, maar sonder sukses. Genl. Hertzog het hom op sy reeds bekende standpunt gestel en dit gehandhaaf, terwyl die Hoofbestuur van die Nasionale Party hom gebonde geag het om hom volgens opdrag van sy Kongres te hou aan die Program van Beginsels van die Federale Raad. In die langgerekte bespreking wat plaasgevind het, het Genl. Hertzog in antwoord op 'n vraag verklaar dat hy verwerping van sy Program as basis van bespreking sou beskou as 'n mosie van wantroue.
Met die doel om 'n uitweg te vind uit die moeilikheid is o.m. die volgende twee voorstelle gemaak: a) Albei Programmas word geneem as grondslag van bespreking, en b) die Kongres word vir 'n tydjie verdaag met die oog op onderhandeling. Die Generaal het hom egter nie geneë gevoel om met een van die voorstelle genoeë te neem nie. Toe die Kongres uiteindelik noodgedwonge daartoe moes oorgaan om d.m.v. 'n stemming die saak te beslis, is die Ontwerp-program van Beginsels van Genl. Hertzog as basis van bespreking verwerp. Hierna is daartoe oorgegaan om die Program van Beginsels van die Federale Raad puntsgewyse te behandel. Na aanleiding van Art. 2 van hierdie Program wou Genl. Hertzog weet in hoeverre voorsiening gemaak word vir gelyke behandeling van Engelssprekende en Afrikaanssprekendes. Die Generaal was blykbaar onder die indruk dat volgens die Program van Beginsels van die tussentydse Federale Raad daar tekort gedoen word aan die regte van die Engelssprekendes. Adv. Swart het ter verduideliking toe voorgelees die verskillende formuleringe, wat as volg lui:

a) Die van die Parlementêre Ooreenkoms ook goedgekeur deur Genl. Hertzog:
,,Met die getroue inagneming van die gelyke taal- en kultuurregte van die twee seksies van die blanke bevolking”.
b) Die van die Federale Raad in sy Program van Beginsels Art. 3:
,,Die erkenning van die gelyke taal- en kulturele regte van albei die seksies van die blanke bevolking”.
c) Die van Genl. Hertzog se Program van Beginsels:
,,Gegrondves op die gelyke regte van die Afrikaanssprekende en Engelssprekende deel van die bevolking gepaard met die erkenning en waardering van elkander se kulturele erfreg.”
Genl. Hertzog het dit as sy mening uitgespreek dat die Program van die Federale Raad nie voldoende waarborg bied vir die regte van die Engelssprekendes nie.
Toe Adv. Swart verdere verduideliking wou gee, het die Generaal opgestaan en die vergadering verlaat, gevolg deur Mnr. Havenga en 'n aantal volgelinge. En hiermee was die breuk tussen Genl. Hertzog en die H.N.P. of V.P. 'n voldonge feit.

B) BEVINDING

1. Uit bostaande samevatting van die verloop van gebeurtenisse wat die krisis op die Bloemfonteinse Stigtingskongres van die H.N.P. of V.P. veroorsaak het, blyk dit duidelik dat die onmiddellike en primêre oorsake wat die breuk tussen Genl. Hertzog en die Vrystaatse Party laat ontstaan het, gevind moet word in die feit dat daar voor die Kongres twee afsonderlike Programme van Beginsels gelê is, een waarvan gekies moes word om te dien as grondslag van bespreking. Watter lang en ingewikkelde verloop van omstandighede voorafgegaan het aan die voorlegging van die twee aparte Programmas, blyk ook uit die samevatting. Duidelik is dit egter dat die eintlike oorsprong van die moeilikhede wat gelei het tot die voorlegging van die twee betrokke Programmas gesoek moet word in die twee uiteenlopende interpretasies wat gegee word i.v.m. die bedoeling en veral die resultate van die samespreking wat in Kaapstad plaasgevind het op 15 April 1940.
2. Die interpretasie wat Genl. Hertzog gee insake hierdie samespreking, blyk uit die samevatting wat hierbo gegee is onder punt 10 van die ,,Verloop van Gebeurtenisse”, veral uit die gedeelte aangehaal uit Genl. Hertzog se brief van 29 April aan Dr. N. J. van der Merwe. Dat Genl. Hertzog inderdaad oortuig is van die feit dat sy opvatting die juiste is, blyk o.m. uit die volgende aanhaling uit 'n brief wat hy aan Dr. van der Merwe geskryf het op 6 Mei 1940 in antwoord op laasgenoemde se brief van 1 Mei 1940:
,,Ek het u brief goed gelees, en my bes gedoen om die argumente te volg deur u gevoer ten einde u standpunt te regverdig. Ek kan ewewel tot geen ander besluit kom dan dat, lettende op die aard aan die 15 argumente deur u aangevoer sowel as op die willekeurigheid waarmee daarby met feite gehandel word, dit tot niks goeds kan lei om nog verder oor hierdie saak te disputeer nie. Ek bepaal my dus tot die groot saak, wat bo alle twyfel verhewe staan nl., dat op 15 April j.l. ooreengekom is o.m., dat die nuwe Vrystaatse Party soos ook elk ander van die Provinsiale partye van geen ander Party of Party-orgaan afhanklik sal wees nie, en dat ek dus nie gereed is om haar noual so ondergeskik te maak nie. En wanneer deur u of wie ook al voorgegee word dat ek my toestemming sou verleen het tot afstand van daardie onafhanklikheid met betrekking tot die opstelling van die program van beginsels of van aksie, dan is dit nie waar nie.”"

In die interpretasie deur Genl. Hertzog gegee, lê dus die volgende opgesluit:
"a") Tot op 15 April het die Ooreenkoms insake Hereniging ingehou dat dit sou geskied op "uniale" grondslag en nie op "federale" grondslag nie.
"b") Ten einde hereniging tot stand te bring op uniale grondslag was dit nodig om 'n tussentydse Federale Raad in die lewe te roep.
"c") Die doel van hierdie Federale Raad moes wees om o.m. 'n Ontwerp-program van Beginsels en 'n Ontwerp-program van Aksie op te stel, wat voor die Herenigings-kongresse van die verskillende provinsies gelê kon word.
"d") Na 15 April is die Ooreenkoms insake Hereniging só gewysig dat hereniging nie op "uniale" maar wel op "federale" grondslag sal geskied.
"e") Wat hereniging in die Vrystaat altans betref, sal dit geskied nie op grondslag van 'n Konsep-program van Beginsels wat deur die tussentydse Federale Raad opgetrek is nie, maar wel op grondslag van 'n Konsep-program van Beginsels wat deur Genl. Hertzog self opgetrek sal word. ('n Konsep-program van Aksie word eers agterweë gelaat).
"f") As hereniging in die Vrystaat tot stand gebring sou moet word op grondslag van 'n Konsep-Program van Beginsels wat deur die tussentydse Federale Raad opgestel moes word, dan sou die Herenigde Nasionale Party of Volksparty van hierdie Provinsie sy outonomie en selfstandigheid daarmee inboet en dan sou hy onderhewig word aan inmenging van die kant van die ander provinsies. ,,Hy sou die speelbal word in die hande van die ander Provinsies."
"g") Selfs die totstandbringing van 'n tussentydse Federale Raad is as gevolg van die Ooreenkoms van 15 April oorbodig. Wel sal dit nodig wees om later, nadat die aparte, selfstandige herenigde partye in die verskillende provinsies eenmaal gestig is, 'n Federale Raad in die lewe te roep. Oor die wenslikheid hiervan egter sal die provinsiale partye eers na hulle stigting self moet beslis, net soos hulle dan ook eers sal moet beslis oor die aard en funksies van 'n Federale Raad.
3. Die interpretasie wat Dr. Malan i.v.m. die samespreking van 15 April gee, blyk ook uit die samevatting wat onder punt 10 van die ,,Verloop van Gebeurtenisse” gegee is. Dit is nie nodig om hier in verband daarmee verdere verduideliking te gee nie. Kort saamgevat hou die interpretasie van Dr. Malan die volgende in:
"a") Van die aanvang af was alle onderhandelings insake hereniging gebaseer op die veronderstelling dat die Herenigde Party sou georganiseer word op "federale" en nie op "uniale" grondslag nie.
"b") Die tussentydse Federale Raad moes dan ook in die lewe geroep word om o.m. 'n Konsep-Program van Beginsels en 'n Konsep-Program van Aksie op te stel wat as 'n leidraad kon dien vir die verskillende provinsiale Stigtingskongresse van die H.N.P. of V.P. teneinde 'n "federale" en nie 'n "uniale" Party nie tot stand te bring.
"c") Dit is gevolglik onmoontlik dat by geleentheid van die samespreking van 15 April 'n nuwe Ooreenkoms kon getref gewees het waardeur 'n oorspronklik bedoelde uniale Party sou omgevorm geword het tot 'n federale Party.
4. Waar die opvattinge nou van Genl. Hertzog en Dr. Malan t.o.v. wat op die samespreking van 15 April gebeur het, so uiteenlopend, selfs teenstrydig is, is dit vir die Kommissie uiters moeilik om 'n oordeel te vel. Die moeilikheid word verhoog deur die feit dat die Kommissie geen verklaring van Genl. Hertzog tot sy beskikking het nie. Die Kommissie is gevolglik nie bekend met motiveringe of bewyse wat die Generaal vir sy standpunt sou kan aanvoer nie.
Die enigste dokumente wat die Kommissie van die kant van Genl. Hertzog in sy besit het, is kopieë van die briewe wat Genl. Hertzog aan Dr. Malan en Dr. van der Merwe gerig het. In hierdie briewe spreek die Generaal sy vaste oortuiging uit dat op 15 April 'n nuwe ooreenkoms getref is. En, onnodig om te sê, die Kommissie trek die goeie trou van die Generaal in geen enkele opsig in twyfel nie. Maar hoe sterk Genl. Hertzog ook al sy oortuiging stel, hy voer geen bewyse aan vir sy beweringe nie.
Die vraag is nou of daar gronde en bewyse aangevoer kan word vir die standpunt van Dr. Malan, vir die standpunt nl., dat van die eerste begin af 'n "federale" herenigde Party gekontempleer was en nie 'n "Uniale" nie. Die gronde wat deur Dr. Malan, en ook deur Dr. van der Merwe gestel is teenoor die standpunt en opvatting van Genl. Hertzog in hulle korrespondensie met die Genl., is reeds opgesom onder punt 10 van die ,,Verloop van Gebeurtenisse”. Hierdie gronde kan met enkele ander argumente wat in die verklaringe genoem is, aangevul word.
Ten einde die hele posisie duidelik te stel voordat 'n finale bevinding vasgestel word, kan dit sy nut hê om hier kortliks weer die argumente van Dr. Malan en Dr. van der Merwe slegs te noem, asook om aan te dui die feite en argumente wat aangevoer is ter aanvulling van die argumente van Dr. Malan en Dr. van der Merwe. Tegelykertyd kan dan gewys word op sekere implikasies wat in sommige van die argumente opgesluit lê.
"a") Ten opsigte van die onderhoud van 15 April beweer Dr. Malan pertinent dat die onderhoud nie, soos Genl. Hertzog beweer, bedoel was om te onderhandel oor 'n nuwe vorm wat die Herenigde Party sou aanneem nie, maar alleen om Genl. Hertzog op hoogte te bring met die vordering wat reeds gemaak was, asook om verdere planne te beraam insake die verdere prosedure.
"b") By geleentheid van genoemde onderhoud het dit geensins 'n vraagstuk geword of die nuwe Party uniaal of federaal sou wees nie. Die onderhoud het dan ook hoegenaamd geen verandering in die hele posisie as resultaat laat ontstaan nie.
"c") Die feit dat die Kaaplandse Nasionale Party sy identiteit behou het, het beslis nie enige verandering laat intree nie t.o.v. die federale verhouding tussen die verskillende provinsiale partye nie.
"d") Geeneen van die Partykongresse in die verskillende provinsies, selfs nie die van die Hertzoggroep in die O.V.S., het hulle ten gunste van 'n uniale Party uitgespreek nie. Inteendeel, alle besprekinge en besluite het 'n federale grondslag vir die Party onderstel. Vandaar dat die Kongresse almal meegewerk het i.v.m. die totstandbringing van 'n tussentydse Federale Raad, selfs die van die Vrystaatse Hertzoggroep.
"e") In die Parlementêre Ooreenkoms, Art. 4, blyk uit die formulering, en veral uit die gebruik van die woord ,,konstitusies”, dat elke provinsie sy eie konstitusie sou hê en dat daar nie een gemeenskaplike konstitusie sou wees vir 'n Party wat uniaal georganiseer sou word nie.
Die genoemde formuleringe en die gebruik van die woord ,,konstitusies” is oorgeneem deur die verskillende Kongresse, selfs deur die van die Hertzoggroep in die Vrystaat.
In hierdie verband sou dit nie oorbodig wees om nog weer te verwys na die onder punt 5 van die ,,Verloop van Gebeurtenisse” aangehaalde ,,Ooreenkoms”, Art. 1 "c") en "e") wat respektiewelik as volg lui:

"c") dat die organisasie van die Herenigde Party op 'n "Federale basis" sal plaasvind en dat, soos nou die geval is by die Nasionale Party, die Konstitusie van elke Provinsiale Afdeling, by die Kongres van daardie afdeling sal berus;
"e") dat die Kongresse volgens 'n ooreengekome plan 'n Raad sal samestel om as 'n "Federale Raad" te ageer totdat die Federale Raad van die Herenigde Party kan fungeer en met opdrag om 'n "Konsepprogram van Beginsels en 'n Konsepprogram van Aksie" op te trek met inagneming van wat onder ("a") en ("b") hierbo voorgestel word, om voorgelê te word as 'n aanbeveling aan die respektiewe Provinsiale Kongresse van die Herenigde Party.

f) Vooraanstaande lede van die Hertzoggroepe in die verskillende provinsies het "na 15 April 1940" sitting geneem op die Koukuskomitee en saamgewerk om 'n Konsep-Program van Beginsels en 'n Konsep-Program van Aksie op te stel vir voorlegging aan die verskillende provinsiale Kongresse. So ook het vooraanstaande lede van die Hertzoggroepe in al die provinsies, uitgesonderd die O.V.S., die vergadering van die Federale Raad bygewoon en 'n aandeel gehad in die daarstelling van die betrokke Programmas.

(Die feit dat vooraanstaande volgelinge van Genl. Hertzog selfs uit die Vrystaat as lede van die Koukuskomitee meegewerk het aan die opstel van Programmas van Beginsels en van Aksie is in hierdie verband van belang. So ook die feit dat persone soos Oud-Minister Grobler, Senator Fourie, Adv. Pirow en Genl. Kemp as lede van die voorlopige Federale Bestuur meegewerk het aan die Programmas wat aan die provinsiale Kongresse voorgelê moes word. Hieruit kan net een gevolgtrekking gemaak word, nl. dat hulle nie die standpunt en opvatting van Genl. Hertzog gedeel het nie betreffende die wysiging wat sou plaasgevind het by geleentheid van die samespreking op 15 April in Kaapstad.)
g) Op 'n vergadering van die Komitee van Tien, ook gehou na 15 April, het die Vrystaatse lede van die Hertzoggroep, saam met die Nasionale lede besluit om 'n deputasie na Genl. Hertzog te stuur teneinde hom te beweeg om die Programmas opgestel deur die tussentydse Federale Raad, te aanvaar as basis van bespreking vir die Vrystaatse stigtingskongres.
(Die feit dat die voorstel om die deputasie te stuur eenparig aangeneem is, is ook van belangrike betekenis. Immers, hieruit blyk dat selfs op hierdie stadium die Vrystaatse lede van die Hertzoggroep bereid was om saam te werk ooreenkomstig die standpunt wat oorspronklik ingeneem was met die ,,Ooreenkoms”, waaronder ingesluit was ,,Samevatting van Punte van Ooreenkoms” en die ,,Prosedure”.)
5. Die situasie wat nou in die lig van bostaande beoordeel moet word, kom hierop neer:
Genl. Hertzog spreek met die hoogste mate van versekerdheid die oortuiging uit dat by geleentheid van die samespreking op 15 April besluit is om 'n radikale verandering aan te bring ten opsigte aan die karakter van die nuwe Party. By onstentenis van 'n verklaring van sy kant, kan die Kommissie geen uitspraak gee oor die gronde waarop sy oortuiging berus nie. Dr. Malan spreek met dieselfde mate van versekerdheid sy oortuiging uit dat daar by geleentheid van die onderhandelings van 15 April geen besluit geneem is om enige verandering aan te bring ten opsigte van die karakter van die nuwe Party nie. Vir hierdie mening voer hy self 'n aantal gronde aan. Die gronde, deur hom aangevoer, word bevestig deur die menings van Dr. van der Merwe en ander persone, deur die ,,Parlementêre Ooreenkoms” en deur die Ooreenkoms insake die ,,Voorgestelde Prosedure”, wat deur beide Genl. Hertzog en Dr. Malan, asook deur die respektiewe Kongresse goedgekeur is.
Voordat 'n oordeel gevel kan word oor die ware toedrag van sake, moet daarop gewys word dat alle argumente wat deur Dr. Malan en andere aangevoer word op grond van feite en gebeurtenisse wat aan 15 April vooraf gegaan het, vir Genl. Hertzog geen afdoende geldende krag besit nie. Immers, hy sou vanuit sy standpunt byna al hierdie argumente kan gebruik om te bewys dat die bedoeling van die aanvang af was om 'n Uniale Party te stig en nie 'n Federale Party nie. Begryplikerwys besit al sodanige argumente aan die ander kant vir Dr. Malan en almal wat op sy standpunt staan, wel afdoende bewyskrag.
'n Heel eienaardige situasie is dit wat ons aantref. Tot en met 15 April 1940 werk Genl. Hertzog en Dr. Malan saam om 'n nuwe Party tot stand te bring. Gesamentlik ontwerp hulle die nodige masjinerie om die nuwe Party in die lewe te roep.
Genl. Hertzog beoog tot op bogenoemde datum, met sy samewerking en met gebruikmaking van die masjinerie deur hom en Dr. Malan ontwerp, die skepping van 'n uniale Party. Dr. Malan weer beoog met sy samewerking en met gebruikmaking van presies dieselfde masjinerie die totstandbringing van 'n Federale Party. Op 15 April kom Genl. Hertzog tot ontdekking dat hy en Dr. Malan radikaal verskil ten opsigte van die karakter wat die nuwe Party sou aanneem. Na hierdie ontdekking besluit Genl. Hertzog nou ook om 'n Federale Party tot stand te bring. Vir die totstandbringing egter, van 'n Federale Party, skep hy nou 'n nuwe masjinerie.
Dr. Malan aan die ander kant gaan vanuit sy standpunt voort om, soos van die begin af deur hom gekontempleer 'n Federale Party te stig, en wel deur middel van die masjinerie deur hom en Genl. Hertzog gesamentlik ontwerp.
6. As nou die betrokke argumente, wat aangevoer word om te bewys dat op 15 April geen besluit geneem is ten effekte van verandering van die karakter van die Party nie, op 'n objektiewe en saaklike wyse oorweeg word, en veral as daarby in aanmerking geneem word die verloop van sake ná 15 April, onder meer die houding van die lede van die Hertzog-groep op die vergadering van die Koukuskomitee, asook die houding van die lede van hierdie groep (al was die lede van die Vrystaat afwesig) op die vergadering van die tussentydse Federale Raad, dan kan die Kommissie tot geen ander gevolgtrekking kom as dat al die leiers van die Nasionale Party sowel as die leiers van die Hertzog-groepe in die verskillende provinsies, uitgesonderd Genl. Hertzog self en miskien enkele ander persone, aan die aanvang af deurgaans onder die stellige en (volgens die mening van die Kommissie) korrekte indruk verkeer het dat die Herenigde Nasionale Party of Volksparty georganiseer moes word op 'n federale en nie op 'n uniale basis nie.
Die Kommissie kan nie anders as om op grond van die sameloop van omstandighede, soos gestaaf deur die voorgelegde getuienis, waarvan die grootste gedeelte dokumentêr is, tot die gevolgtrekking te kom dat dit van die begin af die bedoeling was om die nuwe Party op 'n federale basis saam te stel, en dat die besprekings van 15 April 1940 geensins die bestaande posisie kon verander het nie. Gestel dat daar op genoemde datum wel sou besluit geword het tot 'n verandering in die bestaande posisie, dan sou beide Genl. Hertzog en Dr. Malan, saam met die ander persone wat aan die samesprekings deelgeneem het, hulle skuldig gemaak het aan verontagsaming van die Kongresbesluite wat toe reeds geval het en waaraan hulle almal op 15 April reeds gebonde was. Hierdie Kongresbesluite tog het ingehou 'n bekragtiging van die Parlementêre Ooreenkoms en die Ooreenkoms insake die ,,Punte van Ooreenkoms” en die ,,Prosedure”. So ook was volgens bevinding van die Kommissie die Hoofbestuur van die Nasionale Party van die O.V.S. tot en met 5 en 6 November 1940 by geleentheid van die Vrystaatse Stigtingskongres gebonde aan die bepalinge van dieselfde Ooreenkomste asmede aan die besluite van sy eie Kongres.
In hierdie verband dien op die volgende gewys te word.
Hoewel Genl. Hertzog die volste reg gehad het om, net soos enige iemand anders, 'n eie Program van Beginsels voor die Kongres te lê as basis van bespreking, en die Kongres die reg sou gehad het om, indien hy sulks verkies, dit aan te neem, was hierdie prosedure desnieteenstaande in stryd met die gees van die besluite insake die ,,Prosedure” tot hereniging.
Die Kommissie bevind dus dat die primêre oorsake van die breuk tussen Genl. Hertzog en die Kongres die volgende was:
a) Die misverstand wat by Genl. Hertzog bestaan het insake die vorm wat die nuwe Party moes aanneem en
b) 'n Gevoel wat by hom ontstaan het dat die aanvaarding deur die Kongres van die Program van Beginsels van die Federale Raad en die daarmee gepaard gaande verwerping van sy die Program as basis van bespreking, kan geïnterpreteer word as gebrek aan vertroue in sy persoon.

C

Afgesien van wat onder bostaande vasgestel is as die onmiddellike en primêre oorsake van die breuk tussen Genl. Hertzog en die Herenigde Nasionale Party of Volksparty in die O.V.S., is daar sekere faktore en omstandighede wat op indirekte wyse daartoe bygedra het om die atmosfeer waarin hereniging moes bewerkstellig word, te vertroebel, en wat gevolglik die poginge om hereniging tot stand te bring bemoeilik het.
Ons noem en behandel hier kortliks, in die lig van die beskikbare getuienis, enkele van hierdie omstandighede.

1. Gebrek aan algehele eenstemmigheid ten opsigte aan sekere prinsipiële vraagstukke
Hoe sterk die begeerte aan albei kante was, sowel onder leiers as onder volgelinge, om hereniging tussen die Nasionale Party en die Hertzog-volgelinge te verkry, hoe sterk die gesamentlike front tussen beide groepe teen die oorlogsbeleid van Genl. Smuts was, tog het dit spoedig geblyk (reeds by die eerste onderhandelings op 23 November 1939) dat daar sekere prinsipiële vraagstukke was ten opsigte waarvan daar tussen die leiers van die twee groepe nie algehele eenstemmigheid bestaan het nie.
Die vraagstuk ten opsigte waarvan die gebrek aan eenstemmigheid onmiddellik op akute wyse op die voorgrond getree het, was die Republikeinse vraagstuk. Die stryd van die Nasionale Party is in die laaste jare meer en meer toegespits geraak op hierdie vraagstuk. Die gevolg was dat die verwesenliking van die Republikeinse ideaal meer en meer op onomwonde wyse op die voorgrond gestel is as die primêre doelwit wat sonder enige versuim bereik moes word. Dat Genl. Hertzog nie gekant was teen die Republikeinse ideaal as sodanig nie, blyk uit die feit dat as gevolg van die onderhandelinge tussen Genl. Hertzog en Dr. Malan tydens die Volksraadsitting van 1940, die Republikeinse beginsel vasgelê is (hoewel dit met 'n sekere mate van moeite gepaard gegaan het) in 'n formule wat aanneemlik was vir albei groepe. Die verskil egter tussen die Hertzog-standpunt en die van die Nasionale leiers blyk uit die volgende:
a) In die Parlementêre Ooreenkoms kom in die Artikel oor die Republikeinse Beginsel hierdie sin voor: ,,Die Party sal hom dus beywer om alle ongerymdhede wat die bereiking van daardie volksvryheid belemmer, uit die weg te ruim.” Genl. Hertzog het voorkeur gegee aan die woorde ,,volste uitlewing” in plaas van ,,bereiking”.
Die woorde ,,volste uitlewing” in plaas van ,,bereiking” het dan ook in sy Program van Beginsels voorgekom.
b) By geleentheid van 'n toespraak wat Genl. Hertzog ná die Volksraadsitting van 1940 op Smithfield gehou het, het hy die volgende woorde, of woorde tot die effekte gebruik:
,,Ek wil voorasnog nie beskou word as behorende tot diegene wat onmiddellik die bande met die Britse Ryk wil verbreek nie.” Dit blyk dus dat, waar die Nasionale Party van mening was dat 'n Republiek so spoedig moontlik tot stand gebring moes word, Genl. Hertzog ’n prosedure wou volg wat langsamer en meer geleidelik sou voer tot die verkryging van 'n Republiek. Genl. Hertzog het volgens getuienis sterk krities en selfs veroordelend gestaan teenoor 'n beleid wat syns insiens op oorhaastige wyse die totstandbringing van 'n Republiek wou bewerkstellig.
Afgesien van die Republikeinse vraagstuk was daar ook nog ander vraagstukke van prinsipiële aard waaromtrent geen eenstemmigheid bestaan het nie. Onder meer kan genoem word die vraagstuk insake die aankoop van gronde vir Naturelle en die Vraagstuk insake Stemreg vir Kleurlinge.
Hierdie vraagstukke was egter ten tyde van die onderhandelings met die oog op hereniging nie van onmiddellik akute belang nie. Daar is dan ook oor hulle in daardie tyd nie geredekawel nie. Hulle kan dus as onderwerpe van meningsverskil hier buite rekening gelaat word.
Waarop egter in hierdie verband gewys moet word, is die feit dat daar telkens ten opsigte van die Republikeinse en ander vraagstukke voortdurend uitlatinge gemaak is wat beslis nie daarop bereken was om toenadering tussen die Nasionaliste en die Hertzog-volgelinge te bevorder nie. So is daar herhaaldelik deur vooraanstaande lede van die Hertzog-groep die mening uitgespreek dat die oorlogsbeleid van Genl. Smuts die enigste punt is ten opsigte waarvan hulle verskil van die Verenigde Party. Sodra die oorlog beëindig word, sou die weg vir toenadering en aaneensluiting met die Verenigde Party weer oop wees.
Teenoor hierdie houding en beleid het leidende figure aan die kant van die Nasionale Party dan weer sterk nadruk gelê juis op die punte ten opsigte waarvan daar meningsverskil bestaan.
Dit spreek vanself dat, insover daar inderdaad belangrike meningsverskille bestaan het, dit slegs noodlottig sou gewees het om in belang van volkseenheid die oë daarvoor te sluit of om sodanige meningsverskille te probeer bedek. In soverre daar ten opsigte van die punte waaroor verskil bestaan, op 'n bona fide en openhartige wyse mening teenoor mening geplaas is, kon daar teen sodanige handelwyse geen die minste beswaar wees nie. Inteendeel, openhartige en broederlike bespreking kon in sulke gevalle alleen gedien het om die atmosfeer te suiwer.
Ongelukkig egter is daar na aanleiding van die feit dat daar meningsverskille bestaan het, deur sekere persone aan albei kante nie altyd verstandig opgetree nie. Die gevolg was dat hulle optrede, bedoeld of onbedoeld, eerder gedien het om 'n gees van agterdog en selfs wantroue te laat ontstaan in plaas van 'n wedersydse vertrouensgesindheid aan te wakker.

2. Gebrek aan 'n Wedersydse Vertrouensgesindheid
Waaragtige hereniging of volkseenheid kon alleen tot stand gebring word (dit spreek vanself), as daar aan weerskante 'n vertrouensgesindheid in die ware sin van die woord aanwesig gewees het. Nou kan dit nie ontken word nie dat Genl. Hertzog en Dr. Malan, asook die oorgrote meerderheid van hulle volgelinge aan beide kante, alleen te bereid was om oor-en-weer aan mekaar hulle volle vertroue te skenk. Ongelukkig was daar aan beide kante (en dit moet in die hoogste mate betreur word) individue wat hereniging met agterdog en selfs met wantroue tegemoet gegaan het.
So is daar bv. kopieë van enkele sirkulêrebriewe van 'n Provinsiale Raadslid van die Vrystaatse Nasionale Party in besit van die Kommissie. Hierdie briewe was ,,persoonlik en vertroulik”. In een van hierdie briewe beweer die skrywer dat hy van die begin af heeltemal skepties gestaan het teenoor hereniging, omdat hy nie kon glo dat die Hertzogiete in een dag bekeerd geraak het nie, net so min as wat die Sappe in 1933 in een nag bekeerd geraak het. Verder kom die volgende sinne in dieselfde brief voor: ,,Hoe kan ons ooit daaraan dink om in een Party saam te werk met mense wat absoluut weier om die Britse bande te verbreek en die reg wil bly hou om enig een wat Republikeinisme verkondig te bestry en te beveg! Sal dit nie 'n klugspel wees nie en speel met die heiligste strewe en ideale van die Boerenasie nie?” en ,,As hulle werklik samewerking eerlik bedoel het, dan moet hulle tenminste erken het dat hulle almal daar sit op die stemme van Jode, Sappe en andere en dat nie EEN enkele Hertzogiet in die hele Vrystaat of in die Parlement of in die Provinsiale Raad op Hertzogiete se stemme kan kom nie”. Uit die ander briewe straal 'n soortgelyke gees.
Aan die ander kant besit die Kommissie'n kopie van 'n brief, wat 'n sekere persoon wat nogal baie bedrywig was in verband met politieke aangeleenthede, aan Genl. Hertzog geskryf het met die doel om hom te waarsku teen 'n beweging wat onder die Nasionaliste aan die gang gesit is om Genl. Hertzog, Mnr. Havenga, en ander leiers te ondermyn en wat ondermynende en noodlottige gevolge vir die Party kon hê. Sy informasie het die skrywer van die brief gekry van twee persone, wat ,,Nasionaliste en verantwoordelike manne” was en wat in dieselfde week saam met 48 ander persone 'n ,,geheimsinnige” vergadering in Bloemfontein bygewoon het. In die brief aan Genl. Hertzog kom dan o.m. die volgende voor: ,,Hierdie skrywe is nou aan u gerig om u so goed ek kan op hoogte te stel van die ontwikkeling van 'n beweging wat ondermynend en noodlottige gevolge vir ons Party kan hê. Ek doen dit ten volle beseffende die verantwoordelikheid om u hierdie feite mee te deel. Ek wil u besondere aandag vra vir hierdie oorweging: As hierdie twee manne se opvattings dieselfde moet wees as die meerderheid aan daardie ander agt-en-veertig en as die meerderheid ooreenkom met hulle, dan sit agter die beweging 'n persoon of persone wat nie die Herenigde Party op sy hart dra nie.
,,ln elk geval moet ek u waarsku dat daar 'n uiters groot gevaar bestaan dat uit die gehoor ten minste dinge gesê of gedoen kan word wat ons Party kan verwoes. Daar is 'n daadwerklike gevaar dat hierdie vergadering deur sekere mense misbruik kan word vir komplotte of onverantwoordelike optrede wat ons Party geweldig kan beskadig . . . miskien verwoes.”
In die lig van beëdigde verklaringe in besit van die Kommissie moet daarop gewys word dat die inhoud van die brief waaruit die laaste aanhaling geneem is 'n baie eensydige en verwronge voorstelling gee van die sake waarna verwys word.
Wat egter ook al die geval mag gewees het, die Kommissie wens dit te beklemtoon dat die gees wat uit die bo-vermelde briewe spreek, 'n gees is wat aan beide kante 'n gebrek aan wedersydse vertroue openbaar en dat dit voor die hand lê dat hierdie gebrek aan die nodige vertrouensgesindheid ongetwyfeld sterk belemmerend ingewerk het op die ernstig-bedoelde poginge om hereniging tot stand te bring.

3. Uitblywing van verwagte Leiding
Na afloop van die Volksraadsitting van 1940 het die Afrikanerpubliek, onbewus wellig van die nuwe verwikkelinge wat ontstaan het as gevolg van die onderhandelinge op 15 April in Kaapstad, verwag dat onmiddellike stappe deur die leiers geneem sou word om hereniging finaal te beklink. Dit het nie gebeur nie. Toestande van kritieke aard het ontstaan, soos b.v. die beroering en selfs verwarring in verband met die Proklamasie van die Regering insake inhandiging van geweers. Die Afrikanervolk het leiding van die kant van verantwoordelike leiers verwag. Hierdie leiding het uitgebly. Verder: die moontlikheid het bestaan dat as gevolg van die snelwisselende oorlogsomstandighede in Europa 'n situasie hom in Suid-Afrika abrupt kon voordoen waarin vir die Afrikanervolk lewensbelangrike beslissings geneem sou moet word. Die Afrikanerdom vra homself met spanning af of die leiers wel besig is om hulleself en die volk vir so 'n krisistoestand voor te berei. Aanduidinge dat dit inderdaad gebeur, word nie gemerk nie.
Ten regte of ten onregte, die feit dat die Afrikanerdom na aanleiding van die genoemde aangeleenthede nie 'n ondubbelsinnige en duidelike geluid van die kant van die verantwoordelike leiers gehoor het nie, het as aanleiding gedien dat daar by die volk 'n toestand van onsekerheid en onrus ingetree het. Ten regte often onregte, daar het by die volk 'n indruk en vermoede begin ontstaan dat, om een of ander rede daar by die leiers 'n toestand van lamheid en miskien selfs magteloosheid ingetree het. Op die duur kon die volk nie in hierdie toestand berus nie. Die volk wou tot aksie en beweging, tot sekerheid en koersvastheid kom.
Wellig, omdat die onderleiers vir die volk meer genaakbaar was as die hoofleiers, het die volk op die onderleiers begin terug val. So het dit b.v. gebeur dat, na kort kennisgewing, op 'n goeie dag ongeveer 'n 50 persone hulle verskyning by Adv. C. R. Swart in Bloemfontein gemaak het en 'n dringende beroep op hom gedoen het om Dr. Van der Merwe as hoofleier van die Vrystaatse Nasionale Party te versoek om 'n soort van Volksvergadering byeen te roep sodat die volk 'n geleentheid kon kry om homself uit te spreek. Adv. Swart het onder omstandighede dit die beste beskou om 'n deputasie van hierdie groep te vergesel na Dr. Van der Merwe.
Die gevolg van die onderhandelings met Dr. Van der Merwe was dat daar besluit was om 'n groot Republikeinse Volksvergadering op Bloemfontein te hou. Die hoofleiers sou egter nie verbygegaan word nie. ,,Die doel was” so lui die beëdigde verklaring van Adv. Swart, ,,om sodanige volksbesluite dan aan die leiers voor te dra. Die besluit is toe op die vergadering geneem en ons het onmiddellik eers met Genl. Hertzog in verbinding getree en hom gevra om hom te kom sien om die besluit aan hom oor te dra. Hy het egter geweier om ons te ontvang en daarna het ons na Kaapstad gekom om Dr. Malan te sien en ook dit aan hom oor te dra. Hy het ons ontvang en daarna 'n verklaring in die Pers gedoen dat hy met ons besluit akkoord gaan.”
In die lig van die gegewens wat die Kommissie tot sy beskikking het, moet hy in hierdie verband konstateer dat:
a) die vergadering van die 50 persone in Bloemfontein nie 'n ,,geheimsinnige” vergadering was nie, soos aangedui in een van die briewe waaroor onder die vorige punt gehandel is;
b) die s.g. Volksvergadering nie bedoel was om die posisie van die leiers te ondermyn of te ondergrawe nie;
c) hierdie Vergadering wel gehou was om te dien as 'n Republikeinse demonstrasie ;
d) die aanleiding tot beide bogenoemde Vergaderings gevind moet word in die toedrag van sake soos aangedui in die begin van hierdie paragraaf;
e) die weiering van Genl. Hertzog om die deputasie in verband met die Republikeinse Vergadering te ontvang, die Nasionaliste diep geskok het, net soos vroeër die brief van Genl. Hertzog aan Genl. Smuts ,,die eenheid van die Volk soos 'n towerslag beïnvloed het” en die Generaal ,,weer die liefling van die Nasionaliste” gemaak het.

4. Houding van die Pers, veral van ,,Die Vaderland” en ,,Die Transvaler” "
Solank en in soverre die Dagbladpers, en ons spreek hier veral met die oog op ,,Die Vaderland” en ,,Die Transvaler”, meningsverskille wat tussen die twee groepe bestaan het, op 'n onpartydige en saaklike wyse bespreek en toegelig het, kon dit die saak van hereniging alleen ten goede gekom het.
Die houding van die Pers moet egter besien word ook in die lig van die omstandighede wat bo aangedui is. Toe die atmosfeer van hereniging eenmaal vertroebel geraak het, het die Pers aan weerskante dikwels, hoewel dit hoogswaarskynlik onbedoeld was, daartoe meegewerk om die reeds bestaande vertroebeling nog te vererger. Die vertroebeling het dit dikwels vir die Pers aan weerskante onmoontlik gemaak om die standpunt van die ander kant in 'n onpartydige lig te besien. Die gees en strekking van artikels wat opreg bedoel was om vraagstukke te verduidelik en sodoende tot helderheid te kom in verband met punte ten opsigte waarvan daar bone fide misverstand bestaan het, is dikwels wedersyds geïnterpreteer as poginge om agterdog en wantroue te saai wat moes uitloop op ondermyning of selfs belastering van leiers en groepe.
Die Kommissie het verklarings in sy besit waaruit voorbeeld na voorbeeld geneem kan word om bostaande bewerings te staaf. Die Kommissie meen egter dat dit geen nut kan hê om verder hieroor uit te wei nie. Wat egter vas staan is dat die houding van die Pers in hierdie bepaalde opsig, dit wil sê, in soverre oor-en-weer aan mekaar verkeerde motiewe toegedig is, nie daartoe gestrek het om die weg tot hereniging te vergemaklik nie.

5. Die Vrymesselaarsbiewe-Storie en die Persoonlike Verhouding tussen Genl. Hertzog en Adv. Swart
Ons kry hier te doen met 'n besonder delikate en pynlike aangeleentheid. En tog is dit nodig dat ook hierdie saak in die lig van die beskikbare dokumentêre gegewens en van die afgelegde getuienis ondersoek word. Omdat die Vrymesselaarsbriewe-storie groot opspraak verwek het en omdat dit selfs in die publiek uitgespreek is dat hierdie storie beskou moes word as die primêre oorsaak van die breuk tussen Genl. Hertzog en die Vrystaatse H.N.P. of V.P., is dit nodig dat hierop grondig ingegaan word.
a) Die Vrymesselaarsbriewe-storie kom op die volgende neer: Gedurende Julie 1940, kort voor die Republikeinse Vergadering, het 'n sekere persoon in Bloemfontein vertel dat hy heel toevallig met 'n Vrymesselaarskissie te doen gehad het en dat hy opgemerk het dat in die kissie twee briewe was, een van Genl. Hertzog en een van Oud-Minister Havenga. Die inhoud van hierdie briewe was dat, as Genl. Smuts merk dat dit met Engeland verkeerd gaan, wat die oorlog betref, hyself 'n Republiek in Suid-Afrika sou uitroep en dat hy dan die ondersteuning sou geniet van Genl. Hertzog en mnr. Havenga.
Hierdie storie het in die loop van tyd in wye kring bekend geword.
b) Genl. Hertzog het dit as vasstaande beskou dat die Vrymesselaarsbriewe-storie deur Adv. Swart, asook op sy gesag, deur die land versprei is. Dat Genl. Hertzog hierdie oortuiging gehad het, blyk uit die volgende:
i. In 'n Koukusvergadering, by geleentheid van die spesiale Parlementsitting van Sept. 1940, het Genl. Hertzog dit Adv. Swart asook wyle Dr. N. J. Van der Merwe ten laste gelê dat hulle verantwoordelik was vir die verspreiding van die gerug insake die Vrymesselaarsbriewe.
ii. In 'n brief van Dr. Jan Steyn namens Genl. Hertzog in antwoord op 'n brief van Adv. Swart, waarin laasgenoemde die Generaal versoek het om hom 'n onderhoud in verband met die persoonlike moeilikheide toe te staan, word gemeld dat die Generaal ,,nie ongereed sou wees om, terwille van die volk en die party, dit wel te doen nie, maar dit dan alleen kon geskied onder voorwaarde dat hy die versekering kry dat die laakbare en ondermynende handelwyse, waarvan u deelname in verband met die verspreiding van bedoelde gerug getuig, 'n eind sal vind; en dat, voordat sodanige medewerking kan herstel word, dit dus nodig sal wees dat die valse gerug deur u op 'n behoorlike wyse sal ontken en gerepudieer word, en dat sodanige ontkenning en repudiasie op 'n behoorlike wyse deur middel van die pers sal geskied in die verskillende provinsies.”
iii. Genl. Hertzog en Adv. Swart het mekaar in die namiddag van 5 November 1940 net voor die Kongres in aanwesigheid van ander persone in Bloemfontein ontmoet. By hierdie geleentheid het Genl. Hertzog, volgens die verklaring van een van die aanwesige persone, Adv. Swart ongeveer as volg aangespreek: ,,Ek beskou dat jy jou skuldig gemaak het aan 'n laakbare optrede deurdat op jou gesag en jy as medepligtige, gehelp het tot die verspreiding van daardie Vrymesselaarsbriewe-storie wat ek kan sê geheel en al onwaar is. Ek eis van jou dat jy vanaand voor die publiek vir my om verskoning sal vra en dat dit gestuur sal word aan die koerante van die vier provinsies sodat die verskoning van jou ook daarin gepubliseer kan word”.
c) Die grond waarop Genl. Hertzog sy oortuiging gebaseer het dat die gerug insake die Vrymesselaarsbriewe op gesag van Adv. Swart en deur hom as medepligtige versprei is, is die feit dat Adv. Swart by geleentheid van 'n besoek van Ds. C. R. Kotzé aan Pretoria hom versoek het om die verhaal insake die ontdekking van die betrokke briewe vertrouelik mee te deel aan mnr. M. D. C. de Wet Nel, Mede-Sekretaris van die H.N.P. of V.P. in Transvaal, en dat Ds. Kotzé, by afwesigheid van mnr. Nel, dit aan mnr. N. L. van der Walt, die ander Mede-Sekretaris, meegedeel het.
d) Die belangrike vraag is nou of Genl. Hertzog daartoe geregtig was om op bogenoemde grond die verspreiding van die gerug uitsluitlik of hoofsaaklik op die verantwoordelikheid van Adv. Swart te plaas.
Die Kommissie sal trag om, in die lig van die beëdigde verklarings, hierdie vraag so objektief moontlik te beantwoord.
Teneinde dit te doen is dit nodig om allereers vas te stel in hoeverre Adv. Swart van die aanvang af betrokke was by die Vrymesselaarsbriewe-storie.
Daar moet dan dadelik met nadruk daarop gewys word dat die oorsprong van die verspreiding van die gerug nie uitsluitlik gesoek mag word in die beweerde ontdekking van die briewe in die Vrymesselaarskissie nie. Wat vasstaan is:
i. dat Dr. Van der Merwe deur 'n persoon uit Rhodesië, nog voordat hy verneem het van die Vrymesselaarsbriewe-storie, meegedeel is ,,dat in Rhodesië die algemene opinie is dat, as sake verkeerd loop, Genl. Smuts 'n Republiek gaan uitroep waarby Rhodesië sal ingelyf word en dat Genl. Smuts daarin die ondersteuning van Genl. Hertzog en Mnr. Havenga sal hê;
ii. dat by dieselfde geleentheid, toe Dr. Van der Merwe deur Mnr. F. D. du Toit en Adv. Swart vertrouelik meegedeel is van die betrokke storie, 'n brief deur mnr. Du Toit aan Dr. Van der Merwe oorhandig is wat informasie bevat het wat op presies dieselfde neergekom het as die mededeling uit Rhodesië. (Hierdie brief was 'n tydjie vantevore, nog voordat mnr. Du Toit verneem het van die Vrymesselaarsbriewe, aan hom gegee met die versoek om dit aan Dr. Van der Merwe te oorhandig sodra hy van vakansie terugkom.)
Uit bostaande blyk dus ,,dat daar verskillende bronne was vir die soort van gerugte (wat in omloop was) en dat die Vrymesselaarsbriewe werklik die laaste te voorskyn gekom het.”
Maar in hoeverre was Adv. Swart dan werklik betrokke by die verspreiding van die Vrymesselaarsbriewe-storie ?
Volgens die afgelegde verklaringe is die verhaal van die ontdekking van die briewe deur die ontdekker daarvan aan mnr. F. D. du Toit oorgebring. Mnr. Du Toit was van mening dat hy dit moes bekend maak aan Dr. Van der Merwe as leier van die Vrystaatse Nasionale Party. Dr. Van der Merwe was egter op vakansie. Vandaar dat hy dit meegedeel het aan Adv. Swart as onderleier.
Mnr. Du Toit en Adv. Swart was van mening dat hulle Dr. Van der Merwe moes verwittig van die saak. Na die terugkoms van Dr. Van der Merwe op ,,Onze Rust" het hulle op die aand van 19 Julie mededeling gedoen aan Dr. Van der Merwe. By hierdie geleentheid was dit mnr. Du Toit wat die mededeling gedoen het en nie Adv. Swart nie. Die gesprek het die aand verder gegaan ,,oor die moontlikheid dat Genl. Smuts 'n Republiek mag uitroep, afgesien van die rol wat Genl. Hertzog of mnr. Havenga daarin mag speel.” Ook is daar besluit dat daar die volgende dag op die Republikeinse Vergadering gewaarsku moes word teen die moontlikheid dat Genl. Smuts ,,'n Rooi Republiek” kon uitroep - iets wat die volgende dag deur Dr. Van der Merwe gedoen is.
Die vraag is dan verder: In hoeverre het Adv. Swart met ander persone gespreek oor die Vrymesselaarsbriewe ?
Ons haal sy eie woorde aan uit sy beëdigde verklaring: ,,Ek het dit slegs met enkele vertroude persone vertroulik bespreek en dit met die duidelike verstandhouding dat dit nie verder moet gaan nie. Dit sluit in enkeles wat my daaroor kom vra het wat dit blykbaar al reeds gehoor het.
,,Ek weet dat 'n hele aantal persone van die bewerings geweet het voordat dit ooit by my uitgekom het. Ek het persoonlik insage gehad in 'n brief wat aan Dr. Van der Merwe gerig was waarin ongeveer dieselfde bewerings gemaak word. Dit het later tot my kennis gekom uit verklarings wat gemaak is voor ons Hoofbestuur dat Dr. Van der Merwe ook uit Rhodesië so iets verneem het.
,,Ek wil hier ook nog sê dat gedurende daardie tyd was ek Voorsitter van die Republikeinse Komitee van Aksie wat verantwoordelik was vir die reëlings in verband met die Republikeinse demonstrasie op 20 Julie en gedien het as afvaardiging wat Dr. Malan kom sien het in Kaapstad voor die Vergadering.
,,Nooit het ek hierdie saak eers met die Komitee bespreek nie. Dit is nooit in ons besprekings gemeld nie. Die enkele persone met wie ek dit bespreek het was verantwoordelike partymanne soos elkeen wat so iets verneem met sy intieme kollegas sal bespreek. Niemand het die reg gehad om hierdie gerug op my gesag te versprei nie en ek weet ook van niemand wat dit op my gesag versprei het nie. Daar was hoegenaamd geen poging aan my kant om enige verspreiding te veroorsaak nie. Waar 'n aantal ander mense dit ook geweet het sonder my toedoen kan ek nie verantwoordelik gehou word vir sodanige verspreiding nie. Dit spreek vanself dat indien ek dit wou versprei die eerste middel sou gewees het deur ons Republikeinse Komitee van Aksie en daar is dit nooit gemeld nie.”
Hiermee het ons tot die eintlike punt gekom. Dit kom neer op hierdie vraag: In watter lig moet die deursending van die boodskap insake die Vrymesselaarsbriewe-storie deur Adv. Swart aan mnr. Nel beskou word? En: Het die deursending van hierdie boodskap aan Genl. Hertzog voldoende grond gebied om te beweer dat Adv. Swart werklik die verspreider was van die storie, of dat hy medepligtig was aan die verspreiding daarvan ? Ons haal weer aan uit die Verklaring van Adv. Swart:
,,In verband met die mededeling in Pretoria wens ek te sê dat, soos deur Ds. C. R. Kotzé reeds aan die Pers verklaar is, het ek in 'n gesprek met hom verneem dat hy toevallig vir familiesake na Pretoria gaan. Hy het reeds ook al vantevore verneem van die verhaal van die Vrymesselaarskissie, maar nie van my nie. Ek het hom gevra om in strenge vertroue mnr. M. C. de Wet Nel, die organiserende Sekretaris van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty, in Pretoria van hierdie bewering te verwittig, maar met geen ander persoon eers daaroor te praat nie. Hy moes dan van mnr. Nel verneem of daar iets oor hierdie saak daar ook bekend is, aangesien ons wou vasstel wat gaande was. Daar was geen bedoeling dat dit verder versprei moes word nie. Die berig het mnr. Nel nooit bereik nie aangesien hy nie in Pretoria was nie. Ds. Kotze het dit aan mnr. N. L. van der Walt, Mede-sekretaris, meegedeel met versoek om dit aan mnr. Nel oor te dra. Mnr. Van der Walt verklaar dat hy dit aan niemand anders oorvertel het nie, en dus kan daar deur hierdie voorval geen verspreiding plaasgevind het nie.”
Op die vraag waarom Adv. Swart Genl. Hertzog nie omtrent die Vrymesselaarsbriewe-storie meegedeel het nie, antwoord hy as volg: ,,ln die eerste plek omdat 'n mens nie sodanige onaangename bewerings maklik onder die persoon se aandag self bring nie, en hom daardeur seermaak nie. Ek het ook geen toegang tot Genl. Hertzog nie.
,,Hy het voorheen in die politieke stryd van 'n openbare verhoog verklaar dat hy my nie groet nie en dat dit beter is dat hy my nie ken nie.”
In die laaste twee sinne van bostaande word verwys na 'n saak wat pynlik is, maar waaroor dit van belang is om in hierdie verband iets te sê. Dit is 'n bekende feit dat Genl. Hertzog en Adv. Swart mekaar sedert Samesmelting heftig bestry het. Die stryd tussen hulle was dikwels so heftig dat dit nie ontbloot was van persoonlike gevoelighede nie. Hierdie stryd van 6½ jaar moes noodwendig 'n verhouding van spanning tussen hulle laat ontstaan het. Hierdie toestand van spanning het ongetwyfeld aan beide kante ingehou 'n vatbaarheid om maklik teenoor mekaar geprikkeld te raak en miskien selfs om mekaar te verdruk.
Dit is nou tussen hierdie twee persone, die hoofleier van die H.N.P. of V.P., en die hoofleier van die Nasionale Party van die O.V.S. respektiewelik, dat 'n gees van samewerking tot stand gebring moes word voordat die atmosfeer in die Vrystaat gunstig sou wees vir hereniging en vir die stigting van 'n gekonsolideerde nuwe Party.
En wat gebeur nou ? Die Vrymesselaarsbriewe-storie kom te voorskyn. Sielkundig beskou, kon dit nie anders - die gerug moes op Adv. Swart 'n eienaardige en 'n andersoortige indruk gemaak het as wat dit sou gemaak het, het hy in 'n ander verhouding tot Genl. Hertzog gestaan.
Wat Genl. Hertzog, en ook Mnr. Havenga, betref, dit kon ook nie anders - die verspreiding van 'n sodanige gerug moes vir hulle intens griewend en krenkend gewees het; dat hulle verontwaardiging hoog moes gestyg het, lê voor die hand.
Terwyl Genl. Hertzog nou diep onder die indruk verkeer het van die belediging en veronregting wat homself en mnr. Havenga aangedoen word, verneem hy van die feit dat Adv. Swart die betrokke boodskap na Pretoria gestuur het. Hoe kon dit nou sielkundig anders ? Dit is vanselfsprekend - hy bring die verspreiding van die Vrymesselaarsbriewe-storie tuis op die persoon van Adv. Swart. Maar - om nou tot die eintlike vraag terug te kom : Het Genl. Hertzog voldoende grond gehad om Adv. Swart te beskou as die eintlike verspreider van, of 'n medepligtige aan, die verspreiding van die storie ?
Op hierdie vraag kan die Kommissie nie anders nie as om beslis ontkennend te antwoord. Hoe begryplik dit ook al, sielkundig beskou, mag gewees het dat Genl. Hertzog tot 'n sodanige oortuiging gekom het, tog meen die Kommissie, na ernstige ondersoek en oorweging, dat daar nie voldoende objektiewe gronde bestaan het vir Genl. Hertzog om die eintlike verantwoordelikheid vir die verspreiding uitsluitlik of hoofsaaklik op Adv. Swart te lê nie.
Die Kommissie grond sy bevinding op die volgende:
i. Die feit, reeds in die begin van hierdie punt genoem, dat voordat die Vrymesselaarsbriewe-storie in omloop gekom het, Dr. Van der Merwe vanuit Rhodesië informasie ontvang het insake die stigting van 'n ,,rooi Republiek" deur Genl. Smuts en die sogenaamde medewerking van Genl. Hertzog en mnr. Havenga; asook dat soortgelyke informasie in 'n brief aan Dr. Van der Merwe, geskryf nog voordat die storie ontstaan het, vervat was.
ii. Die feit dat Adv. Swart onder eed verklaar het dat hy die hele ,,briewe-kwessie” as 'n saak van vertroue behandel het, en dat hy dit met nie meer persone bespreek het nie as wat hy in sy bo-aangehaalde verklaring meegedeel het. As die Kommissie die beëdigde verklaring van Adv. Swart in twyfel sou trek, dan sou dit inhou dat die Kommissie by implikasie Adv. Swart veroordeel tot 'n oneerbare persoon by wie alle bona fide ontbreek. Die Kommissie besit geen rede om sodanige gevolgtrekkinge te maak nie.
iii. Die feit dat, behalwe die deursending van die boodskap aan mnr. Nel, ander objektiewe bewyse vir die bewering dat Adv. Swart verantwoordelik gehou moet word vir die verspreiding van die betrokke gerug, ontbreek. En wat die deursending van die boodskap betref, verklaar mnr. Van der Walt self dat hy nie verder daaroor gepraat het nie.
e) Maar - wat is nou die eintlike waarheid in verband met die ontdekking van die sogenaamde Vrymesselaarsbriewe ? Is daar sodanige briewe ontdek ? En, as hulle ontdek is, is hulle inhoud korrek weergegee ?
Die enigste persoon wat 'n ontwyfelbare antwoord op hierdie vrae kon gee, is die persoon wat teenoor mnr. F. D. du Toit beweer het dat hy die briewe gesien en gelees het. Hierdie persoon se naam is teenoor die Kommissie genoem. Hy is versoek om 'n verklaring te maak, dog het geweier.
Hoewel die Kommissie egter op hierdie punt geen spesifieke getuienis het nie, tog bestaan daar by die Kommissie nie die minste twyfel omtrent die saak nie. In een van die verklarings in besit van die Kommissie kom daar 'n opmerking voor wat vir die Kommissie die afdoende antwoord bied. By geleentheid van die ontmoeting tussen Genl. Hertzog en Adv. Swart saam met ander persone op die namiddag van 5 November 1940 het Genl. Hertzog volgens die aanhaling onder punt (b) (iii) bo gegee onder meer aan Adv. Swart gesê dat die Vrymesselaarsbriewe-storie ,,geheel en al onwaar is”.
Die verklaring van Genl. Hertzog in hierdie opmerking vervat, is vir die Kommissie afdoende; hy neem dit onvoorwaardelik aan. Net so min as wat die Kommissie die goeie trou van Adv. Swart in twyfel trek (soos bo gemeld), net so min wil die Kommissie die goeie trou van Genl. Hertzog ook maar enigsins in twyfel trek. Die Kommissie beskou die Vrymesselaarsbriewe-storie as 'n onwaarheid.
f) Watter poginge is daar gemaak om 'n versoening tussen Genl. Hertzog en Adv. Swart te bewerkstellig ? 'n Antwoord ook op hierdie vraag is nie van betekenis ontbloot nie.
i. Soos reeds gemeld, het Genl. Hertzog op 'n Koukusvergadering by geleentheid van die spesiale Volksraadsitting van 1940 beskuldigings uitgespreek teenoor Adv. Swart in verband met die Briewe-storie. Adv. Swart was daardie tyd nie lid van die Parlement nie, en was dus nie op die vergadering aanwesig nie. Hy het dan ook nie geweet dat Genl. Hertzog sodanige beskuldigings teen hom het nie. Hy is egter deur L.V.-vriende van hom daarvan verwittig. Tewens is deur vriende pogings gemaak om 'n ontmoeting te bewerkstellig tussen Genl. Hertzog en Adv. Swart teneinde die persoonlike moeilikhede uit die weg geruim te kry. As gevolg van die bemoeiinge van vriende het Adv. Swart op 21 Oktober 'n brief aan Genl. Hertzog geskryf waarin hy die Generaal gevra het om hom voor die Kongres van 5 en 6 November 'n onderhoud toe te staan. Die antwoord van Genl. Hertzog blyk uit die gedeelte van die brief van Dr. Jan Steyn, wat reeds aangehaal is, onder punt b) ii. Daaruit blyk dat die Generaal wel gewillig was om Adv. Swart te ontmoet, maar dat dit alleen kon geskied onder die voorwaardes in daardie brief genoem.
ii. Op die namiddag van 5 November het Genl. Hertzog en Adv. Swart deur bemiddeling van vriende mekaar wel ontmoet (hierna is reeds verwys onder punt b) iii bo). Uit die aanhaling reeds gegee van die woorde wat Genl. Hertzog by hierdie geleentheid op die adres van Adv. Swart uitgespreek het, blyk dit dat Genl. Hertzog opnuut aan eersgenoemde dieselfde voorwaardes gestel het as die wat in die brief van Dr. Steyn genoem is in antwoord op Adv. Swart se brief van 21 Oktober 1941.
Uit bostaande blyk dus dat Genl. Hertzog onverbiddelik was ten opsigte van die voorwaardes wat hy aan Adv. Swart gestel het met die oog op die uit-die-weg-ruiming van die moeilikheid. Die houding van Adv. Swart hierteenoor blyk uit die volgende opmerking wat hy (volgens 'n getuie) gemaak het teenoor die Generaal, toe laasgenoemde aan hom opnuut sy voorwaardes gestel het by geleentheid van die ontmoeting op 5 November:
,,Generaal, volgens u brief en wat u nou gesê het, beskuldig u my in die eerste plek. In die tweede plek vind u my skuldig en in die derde plek spreek u 'n straf oor my uit sonder dat u my nog ooit gesien het, of met my daaroor gepraat het.”
Twee poginge was dus gemaak om 'n versoening te bewerkstellig tussen Genl. Hertzog en Adv. Swart. Albei hierdie poginge het misluk. Dit het misluk omdat Genl. Hertzog, in sy vaste oortuiging dat Adv. Swart die skuldige was in verband met die briewe-storie, voorwaardes aan Adv. Swart gestel het wat onverbiddelik was. Adv. Swart weer, in sy vaste oortuiging dat hy onskuldig was, het nie sy weg oop gesien om, sonder 'n verduideliking van sy kant, onvoorwaardelik aan die eise deur die Generaal gestel te voldoen nie.
g) In hierdie verband sal dit nie oorbodig wees nie om ook aandag te gee aan die vraag of daar onmiddellik na die gerug ontstaan het, geen poginge gemaak is van die kant van die leiers van die Vrystaatse Nasionale Party om Genl. Hertzog op hoogte te bring van die gerug insake die Vrymesselaarsbriewe.
i. Mnr. F. D. du Toit verklaar hieromtrent dat hy dit nodig geag het om, toe hy van die gerug gehoor het, dit aan die leiers mee te deel. Vandaar dat hy in afwesigheid van Dr. Van der Merwe, dit eers aan Adv. Swart meegedeel het, en later, in aanwesigheid van Adv. Swart, dit aan Dr. Van der Merwe vertel het. Hiermee, het hy beskou, was sy plig afgedaan.
ii. Wat Adv. Swart betref, het hy (soos reeds aangehaal) nie sy weg oop gesien om Genl. Hertzog te verwittig nie, omdat ,,'n mens nie sodanige onaangename bewerings maklik onder die persoon se aandag self bring nie en hom daardeur seermaak nie”, en omdat hy ,,ook geen toegang tot Genl. Hertzog het nie.”
iii. Sover dit die houding van wyle Dr. van der Merwe betref, moet die saak, volgens getuienis van persone met wie hy hierdie aangeleenthede voor sy dood bespreek het, as volg gestel word: Toe mnr. F. D. du Toit en Adv. Swart hom op die aand van 19 Januarie 1941 op ,,Onze Rust” besoek het, is daar soos reeds vermeld, besluit dat hy die volgende dag op die Republikeinse Vergadering moes waarsku teen die moontlikheid dat Genl. Smuts moontlik 'n ,,rooi” Republiek kon uitroep. Dr. Van der Merwe het op die Vergadering 'n waarskuwing in dier voege uitgespreek. Hy het daaraan toegevoeg dat daar 'n gerug in omloop was dat, in geval 'n sodanige Republiek deur Gen. Smuts uitgeroep word, Genl. Hertzog en mnr. Havenga, hom daarin sou ondersteun. Wat sy eie mening egter betref, het Dr. Van der Merwe voortgegaan, heg hy geen geloof aan die gerug nie, en, bowendien, hy reken daarop dat Genl. Hertzog en mnr. Havenga wat die gerug betref, ten opsigte daarvan sou handel soos wat daar met 'n sodanige gerug behoort gehandel te word.
Toe die verslag van Dr. Van der Merwe se toespraak die volgende dag in die koerante verskyn, blyk dit dat dit genoem is dat hy melding gemaak het van die betrokke gerug, maar dat die laaste gedeelte van sy opmerkinge, nl. dat hyself daaraan geen geloof heg nie en dat hy daarop reken dat genl. Hertzog en mnr. Havenga met die gerug sou handel soos wat daarmee behoort gehandel te word, weggelaat is. Oor hierdie weglating was Dr. Van der Merwe baie ontevrede. Hy het dan ook onmiddellik aan die Pers 'n korreksie in verband met die betrokke punt oorhandig. Hierdie korreksie het in die Nasionale blaaie verskyn, maar, sover vasgestel kon word, het ,,Die Vaderland” dit nie gepubliseer nie.
Aangesien Dr. Van der Merwe van mening was dat die publikasie van sy korreksie alleen in die Nasionale blaaie hoogswaarskynlik nie onder die aandag van Genl. Hertzog sou kom nie, het hy plan gemaak om Genl. Hertzog 'n besoek te bring, om die hele toedrag van sake vir hom te verduidelik en ook die Vrymesselaarsbriewe-kwessie met hom te bespreek.
Ongeveer op hierdie tydstip egter het Dr. Van der Merwe siek geword - dit was die siekte waaraan hy oorlede is.
In verband met bostaande moet opgemerk word dat dit uiters jammer is dat Adv. Swart, mnr. Du Toit en ander leidende figure van die Nasionale Party nie onmiddellik na die dood van Dr. Van der Merwe nog 'n poging gemaak het om die Vrymesselaarsbriewe-storie onder die aandag van Genl. Hertzog te bring nie. Dat dit nie in die eerste plek die plig was van mnr. Du Toit as Sekretaris van die Party om op te tree nie, lê voor die hand. Dat die moeilikhede, deur Adv. Swart genoem bestaan het, kan, veral sielkundig beskou, nie ontken word nie.
'n Feit is dit egter dat, as dergelike pogings sou gemaak gewees het, en veral as die boodskap nie na Pretoria sou gestuur gewees het nie, dan sou die hele kompleks van pynlike moeilikhede wat hulleself rondom hierdie gebeurtenis saamgetrek het, nooit voorgekom het nie.
h) 'n Laaste maar belangrike vraag in verband met die Vrymesselaarsbriewe-storie is: In hoeverre het hierdie storie, met alles wat daarmee gepaard gegaan het, direk of indirek daartoe meegewerk om die breuk tussen Genl. Hertzog en die Vrystaatse H.N.P. of V.P. te laat ontstaan ? Op die volgende punte moet in hierdie verband gelet word:
i. Op die Gesamentlike Vergadering van die Hoofbesture van die twee Vrystaatse Party-groepe op 25 Junie 1940, dit wil sê ongeveer 'n maand voordat die gerug insake die Vrymesselaarsbriewe in omloop gekom het, kon daar (soos reeds vantevore geblyk het) geen eenstemmigheid bereik word ten opsigte van die vraag of die tussentydse Federale Raad reg van bestaan gehad het al dan nie, asook ten opsigte van die vraag deur wie die Konsep-Programmas van Beginsels en van Aksie opgestel moes word vir voorlegging aan die Stigtingskongres van die Nuwe Party. Soos geblyk het uit die ,,Verloop van Gebeurtenisse” het die meningsverskil wat op hierdie vergadering openbaar geword het, bly voortbestaan tot op die dag van die Stigtingskongres; tewens het dit geblyk dat dit as gevolg van 'n konsekwente ontwikkeling van hierdie meningsverskil was dat daar uiteindelik twee afsonderlike Programmas van Beginsels voor die Kongres gelê is.
ii. Op die Stigtingskongres self is die kwessie van die Vrymesselaarsbriewe nie 'n enkele keer genoem nie. Nog minder is met 'n enkele woord daarna verwys as oorsaak van die moeilikhede op die Kongres.
iii. In die Persverklaring uitgereik deur Senator W. J. C. Brebner na die Stigtingsvergadering van die H.N.P. of V.P. in die Vrystaat, word geen melding gemaak van die Vrymesselaarsbriewe-kwessie as oorsaak van die breuk nie. Hy skryf die breuk toe uitsluitlik aan die feit dat verwerping van die Konsep-Program van Beginsels van Genl. Hertzog noodwendig beskou moes word as 'n mosie van wantroue.
Die enigste gevolgtrekking wat op bogenoemde oorweginge gebaseer kan word, is dat die Vrymesselaarsbriewe-storie nie, soos in toesprake en in koerant-artikels reeds herhaaldelik beweer is, beskou mag word as die primêre oorsaak van die breuk op die H.N.P. of V.P.-Kongres in die Vrystaat nie. As 'n sodanige bewering wel gemaak word, dan is dit 'n eensydige en verwronge voorstelling van die saak.
Aan die ander kant mag dit ook nie beweer word dat die briewe-storie geen invloed uitgeoefen het op die ontwikkeling van sake nie. Immers, wat was die geval? Hereniging moes in die Vrystaat tussen die twee party-groepe bewerkstellig word. Tussen Genl. Hertzog, die hoofleier van die Herenigde Party in die Unie en tegelyk die leier van die Vrystaatse Hertzoggroep, aan die een kant, en Adv. Swart, leier van die Nasionale Party in die O.V.S., aan die ander kant, bestaan daar 'n gespanne verhouding. Plotseling doen die Vrymesselaarsbriewe- storie hom voor. Die gevolg is dat die verhouding tussen die twee leidende figure, en nie alleen tussen hulle twee nie maar ook tussen hulle volgelinge, meer gespanne word. In plaas van toenadering ontstaan verdere vervreemding; in plaas van 'n wedersydse betuiging van goeie trou ontstaan agterdog en verdenking. Hierdie vervreemding, hierdie agterdog en verdenking het beslis nie die weg tot hereniging vergemaklik nie; inteendeel dit het die weg bemoeilik en verswaar.
Maar, kan gevra word, as die briewe-storie dan wel vervreemding en verdenking in die hand gewerk het, is dit dan nie hierdie vervreemding en verdenking wat in die vorm van 'n mosie van wantroue tot openbaring gekom het in die verwerping van die Program van Beginsels van Genl. Hertzog op die Stigtingskongres as basis van bespreking nie ? Op hierdie vraag moet die Kommissie ontkennend antwoord. Immers, in die ,,Verloop van Gebeurtenisse” is dit, meen ons, duidelik aangetoon dat dit 'n heeltemal ander reeks en sameloop van omstandighede was wat finaal uitgeloop het op die voorlegging van twee afsonderlike Programmas van Beginsels.
Hierby kom nog dit: Nieteenstaande die feit dat die verhouding tussen die twee Vrystaatse leiers gespanne was, nieteenstaande die feit dat die poginge om 'n versoening tussen hulle te bewerkstellig misluk het - desnietemin het die Hoofbestuur van die Vrystaatse Nasionale Party, met vrywillige medewerking van Adv. Swart, besluit dat nòg hy nòg iemand anders teenoor Genl. Hertzog op die Stigtingskongres as kandidaat vir die hoofleierskap gestel sou word. As Genl. Hertzog nie (dit staan vas) onder die indruk dat verwerping van sy Program van Beginsels 'n mosie van wantroue beteken, die Kongres verlaat het nie, dan sou hy eenpariglik en met akklamasie verkies gewees het as hoofleier van die Vrystaatse Herenigde Nasionale Party of Volksparty.
Die Vrymesselaarsbriewe-storie - dit is die gevolgtrekking waartoe die Kommissie kom - kan nie beskou word as die onmiddellike en primêre oorsaak van die breuk tussen Genl. Hertzog en die Vrystaatse Herenigde Party nie. Wat dit wel gedoen het? Dit het 'n groot mate van misverstand en verwarring, in sekere gevalle agterdog en verdenking, laat ontstaan. Dit het gevolglik 'n atmosfeer geskep wat die wedersydse vertrouensgesindheid, wat onmisbaar was vir die totstandbringing van gesonder hereniging, ernstig belemmer het. Dit het die poginge tot hereniging indirek op 'n skadelike wyse beïnvloed.

D

Uit Afdeling B het geblyk wat volgens die bevinding van die Kommissie die primêre of onmiddellike oorsake was van die breuk tussen Genl. Hertzog en die Vrystaatse Herenigde Party.
Uit die uiteensetting onder Afdeling C gegee blyk watter omstandighede en gebeurtenisse beskou moet word as sekondêre of bykomende oorsake. Saamvattend kom dit op die volgende neer:
1. Gebrek aan algehele eenstemmigheid ten opsigte van sekere prinsipiële vraagstukke.
2. Gebrek aan 'n algehele wedersydse vertrouensgesindheid.
3. Uitblywing, volgens die mening van 'n deel van die Afrikanerpubliek, van verwagte leiding van die kant van die verantwoordelike leiers in verband met krisisvraagstukke en -toestande.
4. Gebrek aan 'n algehele vertrouensgesindheid tussen sekere Dagblaaie, veral ,,Die Vaderland” en ,,Die Transvaler”, en 'n sielkundige gesteldheid om mekaar se artikels wedersyds in 'n verkeerde lig te besien.
5. Die Vrymesselaarsbriewe-storie en die persoonlike verhouding tussen Genl. Hertzog en Adv. Swart.
Dit dien geen doel, en dit is tewens onmoontlik, om vas te stel in watter opsigte presies en tot watter mate elk van bogenoemde faktore daartoe meegewerk het om die totstandbringing van hereniging te bemoeilik. Feit is dit egter dat almal in meerdere of mindere mate daartoe bygedra het om die atmosfeer vir hereniging te vertroebel, om misverstand en verwarring in die hand te werk, en om die noodlottige gebeurtenis op die Stigtingskongres van die Vrystaatse Herenigde Party te laat plaasvind.