Afrikaner-Volkseenheid/Bondgenootskap en Eenwording
←Die Via Dolorosa | Afrikaner-Volkseenheid Bondgenootskap en Eenwording deur D. F. Malan |
Afskeid en Vaarwel→ |
Die Afrikanerdom het genoeg beginselvastheid om selfs ten koste van verdeeldheid en skeuring sy verlore pad te soek en weer terug te vind. Aan die ander kant egter het hy ook genoeg vaderlandsliefde om verdeeldheid nie 'n dag langer te laat voortbestaan as wat volstrek nodig is nie. As dit anders was, sou ons volk nòg gesonde groeikrag besit nòg iets anders kon wees as die prooi van 'n gedurige verbrokkelingsproses. Vir die herstel van sy verlore eenheid moet 'n volk daarom ywer net soseer as hy moet waak teen die verlies daarvan. Met hierdie gesindheid besiel, het Havenga en ek daarom mekaar in April 1947 in dr. Dönges se huis in Seepunt ontmoet, openhartig die posisie met mekaar bespreek, en tot die gevolgtrekking gekom dat daar werklik geen beginselverskille bestaan wat ons twee partye kon regverdig om ons volk in daardie mate nog altyd
verdeeld te hou nie.
Die vraagstukke van die verlede was van die baan. Die gevolg was dat op voorsigtige en geduldige wyse ons partye mekaar nou moes nader, vereers in 'n vriendskaplike bondgenootskap met mekaar moes saamwerk, en so langsamerhand die weg tot volkome eenwording met mekaar moes voorberei.
Maar dit het nie beteken dat daar nou in alle kringe, insluitende selfs die mees vooraanstaande, 'n hartelike samewerking in daardie rigting sou wees nie. Inteendeel, heftige teenstand het hom nou eers begin te openbaar. Meer bepaald het dit plaasgevind by één herenigingskongres t.w. die Transvaalse, en in mindere mate ook by die Vrystaatse. Ongelukkig was in beide gevalle die provinsiale leiers, te wete adv. Strydom en adv. Swart respektiewelik, onder die teenstanders hoewel in beide gevalle gelukkig nie tot die bitter einde toe nie. Die laasgenoemde van die twee het die herenigingskongres van sy provinsie, te wete die Vrystaatse, nie bygewoon nie, maar het sy teenstand bepaal by 'n verklaring in die pers. Eersgenoemde egter het sy Kongres (Transvaalse) bygewoon waarby ook ek as die Uniale leier teenwoordig was, en het sy standpunt daar openlik verklaar. Sy samevatting aan die end van sy toespraak was in hierdie woorde: ,,Ek sien dat julle ten gunste daarvan (hereniging) is. My advies aan julle is daarom: ,Stem daarvoor!' Maar ek sê aan julle: ,Ek is daarteen!’ ” Die Kongres-besluit was eenparig daarvoor.
Ongelukkig het adv. Strydom die saak nie daarby gelaat nie. Hy het daarna 'n brief aan my gerig, waarin hy aan my kennis gegee het dat hy met die Kongres se verenigingsbesluit hom geensins kon vereenselwig nie, dat hy hom vir die teenwoordige
wel daarby sou neerlê, maar dat hy aan die komende algemene verkiesing aan die kant van die twee partye in vennootskap met mekaar (te wete die Nasionale en die Afrikaner) geen aktiewe deel sou neem nie, en dat hy daarna uit die Nasionale Party sou bedank, en verder uit die politiek sou tree. Sy plan om uit te tree het gelukkig agterweë gebly en hereniging in al sy vier provinsiale afdelings van die Nasionale Party het tot sy gelukkige voltooiing gevorder. Die vrug daarvan kon ook heel spoedig gepluk word.
'n Eleksie-ooreenkoms het tussen die Herenigde Nasionale en die Afrikaner-Partye in 1947 tot stand gekom, en in 1948 het die twee gesamentlik die algemene verkiesing gewen en die landsregering aanvaar, die verantwoordelikheid waarvoor hy
vandag nog dra.
Aan die herenigingsbeweging se teenstanders was dit Suid-Afrika se antwoord. En dit was verpletterend.
Dis alleen reg dat ek hier sal byvoeg, dat Strydom dit beklemtoon het dat ook hy ten gunste van eenwording was, maar dat dit alleen moes geskied deur aansluiting van die
Afrikaner-Party by die Herenigde Nasionale Party, met ander woorde na bittere stryd vermoedelik, en nie deur vriendskaplike onderhandeling nie. En tog, soos dit later geblyk het, was daar tussen die twee partye geen enkele prinsipiële verskil nie. Tensy vir persoonlike doeleindes, was inwendige stryd dus onnodig, en as sodanig ook af te keur.
,,Sonder vryheid vergaan 'n volk, maar vryheid sonder eenheid lei onvermydelik tog ook weer tot magteloosheid en vernedering, en kan as sulks dan ook vir 'n volk 'n vloek word.
Waar egter vryheid en eenheid saam bestaan, daar kan dit tot 'n seën en tot 'n krag wees”. Só het ek in September 1951 by die Rustenburgse eeufeesviering verklaar. En op Maandag 22 Oktober 1951 het daar op nasionaal-politieke gebied in ons geskiedenis 'n groot gebeurtenis plaasgevind. Op daardie dag het die eenwording van ons twee nasionaalgesinde politieke partye sy voltooiing bereik, en is die naam ,,Nasionale Party”
aanvaar as die één-geworde Party se amptelike naam. Nasionalisme het nou 'n onweerstaanbare mag geword.
Hierdie gebeurtenis het gevolg op 'n verklaring van minister Havenga en myself as leiers van ons onderskeie partye, en daarna het die vier provinsiale kongresse hul stempel van
goedkeuring daarop geplaas.
Die weg hiertoe was geleidelik. Dit was immers bouwerk wat verrig moes word. Die eerste steen is gelê in 1939, toe aan die einde van die koalisie-periode en die uitbreek van die oorlog, genl. Hertzog en die Nasionaliste mekaar weer gevind het. Die tweede is gelê in 1947 toe die Herenigde Nasionale Party en die Afrikaner-(Havenga) Party 'n verkiesingsooreenkoms met mekaar aangegaan het. En die derde deur die gesamentlike oorwinning en bewindsaanvaarding van die twee bondgenote in 1948. Dit was ,,Hereniging” se kroningsdag!
Vanselfsprekend is die nuwe kabinet toe saamgestel uit die hoofverteenwoordigers van die beide partye met myself as Eerste Minister en Havenga as my Adjunk en Minister van
Finansies –'n pos wat hy volgens algemene oortuiging met buitengewone bekwaamheid gevul het.