Afrikaner-Volkseenheid/Daardie Vyftiende Dag van April

Die Hertzog-tragedie Afrikaner-Volkseenheid
Daardie Vyftiende Dag van April
deur D. F. Malan
Die Hertzog-ondersoekkommissie 1940


Die datum 15 April 1940 het 'n beslissende rol gespeel in die lotgevalle van die Nasionale Party en van genl. Hertzog self. Die aanleiding daartoe was dood-onskuldig. Op daardie aand het ek genl. Hertzog besoek met 'n opdrag van die Kaaplandse Nasionale Party in verband met die sogenaamde ,,Beyers-legaat”. Dit was 'n bemaking deur wyle adv. Beyers van een veertiende van die jaarlikse inkomste van sy nagelate boedel aan die Kaaplandse Party op voorwaarde dat, en vir solank as, die Party sy identiteit sou behou. Daarby was daar ook 'n dergelike toekenning aan my persoonlik vir solank as ek die leier van daardie Party sou bly. Die Kaaplandse Nasionale Party wou nou volle sekerheid hê dat daardie nalatenskap behoue sou bly ten spyte van die verandering van sy naam tot ,,Herenigde Nasionale Party”, en met die oog op die feit dat in die verhouding van die provinsiale afdelings van die Party tot mekaar daar owerigens tog niks verander was nie. Genl. Hertzog het geen beswaar gemaak nie, selfs nie nadat ek die posisie ook skriftelik aan hom verduidelik het. Daarmee was die saak vir die teenwoordige altans, en vir sover as dit ons betref, afgedaan.
Met die ontstaan van die Vrystaatse inwendige moeilikhede het genl. Hertzog egter aan hierdie onderhoud 'n betekenis gaan heg wat dit stellig nie kan dra nie. Vir eers het dit nie, en kon dit ook nie, soos hy beweer het, die karakter gehad het van 'n plegtige nuwe ooreenkoms rakende die partykonstitusie in sy hele wese nie. Die mag daartoe het immers ook nie by ons as leiers berus nie, maar uitsluitend by die partykongresse, en van die uitoefening daarvan was daar geen aanduiding hoegenaamd nie. Soos die Generaal dit voorgestel het, het die volgende egter gebeur: Eers sou dit dan die bedoeling gewees het dat die nuwe herenigde party 'n uniale sou wees. Om in verband met die Beyers-legaat Kaapland tegemoet te kom, sou ons dan daarvan afgestap het. In die plek daarvan sou ons dan besluit het om vir die Party 'n federale basis te aanvaar. Gevolgelik sou elke provinsiale afdeling van die Party dan nou die reg besit om onafhanklik van mekaar sy eie program van beginsels op te stel, wat onder leiding van genl. Hertzog self dan ook in die Vrystaat werklik gebeur het. Daarmee het hy dan ook gemeen om die Federale Raad met sy opdrag van die kongresse self te kan en te moet uitskakel. Toe die Vrystaatse kongres hom daarin egter nie wou volg nie, het die noodlottige breuk gekom, wat onherroeplik geblyk het te wees.
Dat die moontlikheid van 'n uniale grondslag vir die Herenigde Nasionale Party wel geopper is, is korrek. Deur genl. Hertzog self is dit gedoen. Maar as dit werklik deur hom as 'n poging bedoel was, was dit in ieder geval maar 'n floue, en is daar nie verder op ingegaan nie. Inteendeel het die korte bespreking daaroor geëindig met die aanmerking van die Generaal self, dat oor hierdie saak ,,die Party maar self moet besluit”. Geen besluit is egter daarna deur enige partyliggaam ten gunste daarvan geneem nie, en geen stemme het ook ergens elders ten gunste daarvan opgegaan nie; en sonder dit kon dit vanselfsprekend ook geen wettelike krag besit nie. Waar die uniale basis as besprekingspunt hiermee vanself uitgeskakel was, daar het gevolgelik as enige alternatief oorgebly slegs die definitiewe voorstel van die Agerende Federale Raad, wat self weer gebaseer was op die advies van die Parlementêre Kommissie wat met die oprigting van die herenigde party die inisiatief geneem het, en wat baie duidelik en beslis aanbeveel het dat die nuwe party 'n federale moet wees, ,,soos dit die geval was by die ou Nasionale Party". Die Parlementêre Kommissie het bestaan uit die verteenwoordigers van beide die Hertzog- en die N.P.-aanhangers. Die bewering van genl. Hertzog dat op 15 April 1940 hy en ek die federale grondslag vir die Herenigde Party in die lewe geroep het, en wel om vir Kaapland die Beyers-legaat te behou, kan daarom in geen enkel opsig deur die feite gestaaf word nie.
Volledigheidshalwe moet ek hier 'n verdere verduideliking omtrent die Beyers-legaat byvoeg. Adv. Beyers was 'n bekwame regsgeleerde en 'n groot bate vir die Nasionale Party. Daarby was hy een van die vernaamste ministers in die eerste Hertzog-kabinet, te wete dié van Justisie, en met Charlie Malan, wat voor koalisie oorlede is, en myself een van die drie Kaaplandse Ministers. Hy was welaf. Sy samewerking met my, ook in moeilike dae, soos byvoorbeeld tydens die Vlagstryd, was getrou en hartelik. Saam met die Kaaplandse afdeling van die Nasionale Party was ons albei teenstanders van die samesmelting tussen die partye van genls. Smuts en Hertzog. Met die vorming van die nuwe Verenigde Party-kabinet is ons derhalwe albei vanselfsprekend daarbuite gelaat. As Ministers het ons albei dus ons setels verloor, en die parlementêre toelae vir gewone lede was destyds maar skraal. Sonder dat daarvan aan my vooraf kennis gegee was, het ek toe gevind dat my gewese kollega elke maand uit sy eie sak 'n som op my naam in die bank gaan deponeer het. Al wat ek nou daaromtrent kan sê, is dat dit op daardie tyd goed te pas gekom het. Maar ongetwyfeld was dit ook die aanleiding tot die latere Beyers-legaat, sover as dit my persoonlik betref.
Of daar werklik enige besorgdheid oor die legaat, sover as dit die Kaaplandse party betref, behoef te gewees het, betwyfel ek seer, tensy blote naamsverandering ook noodwendig verandering van identiteit moes beteken. Die Kaaplandse Nasionale Party was immers altyd lid van 'n federasie, die lede waarvan dieselfde gebly het as voorheen, en soos die naam ,,Herenigde Nasionale Party" aangedui het, was dit in effek die heling van 'n skeuring tussen dele, wat tevore één was, wat dan ook werklik die geval was. En daarby kom nog dat die Kaaplandse Nasionale Party nooit gesmelt het nie, en in daardie opsig daarom gebly het wat hy altyd was, met ander woorde sy identiteit behou het. Maar ek is geen regsgeleerde nie, en om aan 'n vir my onaangename gehaspel 'n einde te maak, en om hereniging te vergemaklik, het ek toe my geldelike belange in die legaat aan die Federale Raad gesedeer, en die betrokke dokument aan die Raad gestuur. Hy wou dit egter nie aanvaar nie, en het dit met dank aan my teruggestuur.
Genl. Hertzog het dit voorgestel asof met ons onderhoud op daardie aand van die 15de die Herenigde Nasionale Party tot 'n federale party omgeskep geword is. Sonder die nodige kongresbesluite sou dit egter op sigself 'n eiemagtige en onwettige daad gewees het. Maar bowedien sou dit ook onnodig gewees het. Wat genl. Hertzog blykbaar uit die oog verloor het, was dat daar nooit enige ander gedagte was as dat die Herenigde Party 'n federale konstitusie sou hê nie, en dat dit in beginsel deur die kongresse alreeds aanvaar was toe hulle aan die ,,Parlementêre Ooreenkoms” hul goedkeuring geheg het, inhoudende die bepalings in verband met die herskepping van die nodige partymasjinerie, onder andere van die kongresse en van 'n federale raad met opdrag om 'n Program van Beginsels op te stel.
Soos tevore gemeld, het genl. Hertzog vir homself toe die reg voorbehou om ook sy eie konsep-program teenoor dié van die Federale Raad aan die Vrystaatse kongres voor te lê. Op hierdie punt was hy onverbiddelik. In 'n korrespondensie met dr. N. J. van der Merwe, die Vrystaatse provinsiale onderleier, het hy daarop gestaan dat dit sal geskied, ,,omdat anders”, so het sy brief gelui, ,,die Vrystaatse Party die uiterste gevaar sou loop om spoedig alle selfstandigheid te verloor en die speelbal te word van die een of ander provinsie.” Aangesien geen enkele provinsie oor 'n eie meerderheid, of enigiets naby dit, beskik het nie, was die voorgewende gevaar moeilik te begryp. Van so iets is daar ook nooit tevore deur enige leier of verantwoordelike N.P.-lid gerep nie. Toe dr. Van der Merwe 'n onderhoud met hom aanvra om beter die saak met hom te kan bespreek, het die Generaal egter geweier om hom te ontmoet. Tussen die vier provinsiale afdelings van die party was daar tevore nog altyd die vriendskaplikste verhouding en goeie samewerking gewees, en die vrees en wantroue deur genl. Hertzog hier geopenbaar, was daarom uiters vreemd. Die rede het hy nie te kenne gegee nie, behalwe die bowegenoemde. Dat hy hierin die Vrystaatse gevoel stellig nie verteenwoordig het nie, het egter spoedig hieruit geblyk, dat toe hy op die volgende Vrystaatse kongres self op 'n toets aangedring het, die Vrystaat teen hom besluit het. Die Afrikanerdom se eenheidsgevoel het toe geblyk só sterk te wees, dat dit selfs die separatistiese afwyking van sy grootste leier met welslae kon weerstaan, en dit wel ten spyte van die ernstigste gevolge.