Afrikaner-Volkseenheid/Die Nuwe Partybasis

Hereniging of Vereniging Afrikaner-Volkseenheid
Die Nuwe Partybasis
deur D. F. Malan
Die N.P. Bly Voortbestaan


Nuwe partyreëlings maak die opstel van 'n nuwe partybasis noodsaaklik. Daar die Nasionale Party as organisasie egter uiterlik nog een was, ten spyte van die verskil oor samesmelting, moes hierdie belangrike taak vanselfsprekend op die aangewese wyse plaasvind, dit wil sê in die eerste instansie deur die Federale Raad, verteenwoordigende die vier provinsiale kongresse, en uiteindelik deur daardie kongresse self. Op 20 Junie 1934 het die Federale Raad dan ook in Pretoria vergader met daardie doel, alleen om te vind dat genl. Hertzog in oorleg met genl. Smuts alreeds 'n basis opgetrek en gepubliseer het, sonder inagneming van die feit dat die Kaaplandse Hoofbestuur, met die Generaal se voorkennis, nog besig was om punte vir die Federale Raad se oorweging te formuleer. Hierdie eiemagtige optrede is toe nog vererger deur genl. Hertzog se verklaring dat hy in sy briefwisseling met die Kaaplandse Nasionale Party sy versekerings gegee het enkel namens homself, en nie as bindend vir die nuwe party nie. Eweneens het hy ook geweier om my voorstel te aanvaar om 'n tweërlei interpretasie van Suid-Afrika se soewereine onafhanklikheid in die basis onmoontlik te maak. Met 12 stemme teen 8 is dit dan ook afgestem. Hierop het die Kaaplandse Nasionale Kongres, op 25 Julie te Somerset-Wes gehou, met 164 stemme teen 18 besluit dat die Nasionale Party van Kaapland moet bly voortbestaan. Die sterk anti-koalisie-minderhede in die ander drie provinsies het hulle toe as selfstandige groepe hierby aangesluit. En so is op 'n gesamentlike kongres in Bloemfontein op 5 Desember 1934 die Nasionale Party ook in die ander drie provinsies as 't ware herstig, en wel op 'n vaste beginselgrondslag. Sy teenstanders het hom genoem die ,,Gesuiwerde Nasionale Party”, en sonder om dit offisieel te doen, het hy dit aanvaar, dit wil sê wel nie die naam nie, maar tog die karakterbeskrywing.
Die laaste stadium van die basis-optrek-verrigtings aan die koalisie-kant was tekenend genoeg om dit hier te vermeld. Die Konsep-basis vir die saamgesmelte party is opgetrek deur generaals Smuts en Hertzog gesamentlik. Deur hulle is dit voorgelê aan die Federale Raad, wat daaromtrent die provinsiale kongresse moes adviseer. Dit was 'n liggaam van 20. Die Nasionale Party-lede daarvan, wat hulle gestel het op die grondslag van genl. Hertzog se plegtige versekerings aan die Kaaplandse Hoofbestuur, het oral waar die konsep daarvan afgewyk het of daaraan geen genoegsame uitdrukking gegee het nie, amendemente voorgestel. Die Smeltermeerderheid was egter onverbiddelik. Op elke punt was generaals Smuts en Hertzog se formulering vir hulle onveranderlik. Ten slotte is dit dan ook aangeneem met 13 teen 7 stemme. Hiermee was die samesmelting 'n voldonge feit en die Nasionale Party daarteenoor weer vir goed gevestig. Die sewe wat in die minderheid gestem het, was die volgende: dr. N. J. van der Merwe, sen. W. A. Hofmeyr, mew. Jansen, Du Toit en Sauer, adv. Erasmus en ek self. Sover as dit iets werd kon wees, het ons ons daaraan getroos dat 13 die ongelukkige en 7 die gelukkige getal was. Dit was in ieder geval profeties.