Afrikaner-Volkseenheid/Herenigingskongresse
←Die Selfbeskikkingsreg en Daarna | Afrikaner-Volkseenheid Herenigingskongresse deur D. F. Malan |
Nuwe Partyverhoudings Met Groot Gevolge→ |
daaropvolgende vrede, soos neergelê in die bekende Veertien
Punte van president Wilson, het die ,,eie nasieskap”-idee orals
baie sterk op die voorgrond gebring. In Suid-Afrika het dit
weerklank gevind in die Onafhanklikheidsdeputasie en die aan-
vaarding van die republikeinse doelwit deur 'n sterk Nasionale
Party. Dat daar gepaard daarmee 'n opvlamming sou wees
van die begeerte om die breuk te heel deur die Botha-Hertzog-
stryd veroorsaak, is begryplik, en die feit dat dit spontaan plaas-
gevind het aan beide kante van die politieke verdelingslyn, was
belowend. Só sterk was die gevoel dat daar op sentrale aksie nie
gewag is nie. Herenigingsbewegings van 'n min of meer lokale
aard het ontstaan. Kongresse is gehou, meer besonderlik in
Kaapland, en herenigingsbasisse is opgestel en aangeneem. In
één besondere geval het die geesdrif 'n gevaarlike rigting inge-
slaan. Dit was op Somerset-Oos, waar die twee leiers aan
weerskante, Moolman van die Nasionale Party en Van Aardt
van die Suid-Afrikaanse Party, met mekaar ooreengekom het
om as oplossing 'n derde party te stig wat die bestaande twee
se plek moes inneem. Dat dit die beoogde doel stellig nie sou
bereik nie, maar inteendeel die posisie alleen verder sou
bemoeilik, was só duidelik dat met 'n haastige besoek daarheen
dit vir my maklik was om op 'n vergadering die plaaslike
publiek ook daarvan te oortuig. Die beweging daar het toe in
duie gestort.
Twee afsonderlike herenigingskongresse is daarna gehou,
eers een te Somerset-Oos, en daarna een te Robertson. Elkeen
het 'n basis gehad wat weinig van mekaar verskil het, en wat
uit die Nasionale Party se oogpunt bevredigend genoeg was om
dit by verdere onderhandelings tussen die partye as basis van
bespreking te kan aanbeveel. Van die kant van die S.A. (Smuts)
Party is dit egter geweier. Daardie verdere onderhandelings het
plaasgevind by twee agtereenvolgende herenigingskongresse
van meer omvangryke aard en van groter belang as die voor-
gaande. Van beide kante het die politieke partye offisieel
daaraan deelgeneem. Die een was in die Paarl in Oktober 1919,
waar die twee Kaaplandse kongresse gelyktydig gesit en deur
middel van hul verteenwoordigers met mekaar onderhandel
het. Deur vrae en antwoorde aan Nasionale kant, op bekwame
wyse gelei deur adv. Jannie de Waal en mnr. W. A. Hofmeyr,
is gepoog om vas te stel in hoever die twee partye met mekaar
ooreengekom, en in hoever hulle verskil het. Die ander was in
Bloemfontein onder voorsitterskap van prof. P. J. G. de Vos,
teologiese professor en bekende volksman wat jare lank voor-
aanstaande was in die stryd om die Afrikaanssprekende Afri-
kaners se gelyke taalregte. Die uitslag in beide gevalle was
merkwaardig en die lig op die fundamentele beginselverskil
onthullend. In die eerste geval was die S.A.P.-verteenwoor-
digers bereid om toe te gee op die volgende punte: 1. 'n eie
Suid-Afrikaanse vlag in plaas van die Union Jack; 2. die
benoeming van die Goewerneur-generaal op advies enkel van
die Suid-Afrikaanse ministers; 3. die aanstelling deur onsself
van ons eie buitelandse gesante; 4. die erkenning van ons
neutraliteitsreg; 5. die herroeping deur Engeland van die
Colonial Laws Validity Act; en 6. die afskaffing van die
Koning se vetoreg.
Dit sal dadelik in die oog val hoeveel van hierdie ses punte
later ook werklik onder die Nasionale Party-bewind bewerk-
stellig is. Op één ander punt het die onderhandelings egter
misluk, en daarmee ook, vir die oomblik altans, die herenigings-
poging. Die Nasionaliste wou op die grondslag van die Lloyd
George-verklaring omtrent ons selfbeskikkingsreg die vryheid
hê om vir 'n republiek propaganda te maak, en die Smuts-
volgelinge het dit beslis geweier. Tydens die onderhandelings
het hulle 'n dringende telegram ontvang van genl. Smuts self
om hulle te waarsku.
Die Bloemfonteinse Herenigingskongres het plaasgevind in
September 1920 en was in sommige opsigte belangriker as die
vorige en in geskiedkundige opsig beslissender van aard. Vir
eers was die verteenwoordiging baie omvangryker. Nie Kaap-
land, die bakermat van die herenigingstrewe, alleen nie, maar
ook al die ander provinsies het hul afgesante van beide kante
daar gehad. Die leiers was ook daar, insluitende onder andere
selfs kol. Stallard, die leier van die Unionistiese Party. In die
byeenroeping en samestelling van hierdie kongres het, soos al
dadelik vermoed kon word, ook genl. Smuts sy seggenskap
gehad, en om begryplike redes. Sy eie party (die S.A.P.) was
een van vier, te wete die S.A.P. met 41 lede, die Nasionale
Party met 44, die Arbeidersparty met 21 en die Unioniste-
Party met 25. Die onafhanklikes was 3 in getal. Van hierdie
vier was daar geeneen wat, op eie bene staande, aan die bewind
kon kom nie. Al geruime tyd het genl. Smuts dus uitgesien na
'n moontlike bondgenoot, en het selfs 'n koalisie-ooreenkoms
aangebied aan al die ander partye gesamentlik, insluitende die
Nasionale Party, maar sonder sukses. Sy enigste hoop was nou
die 25 Unioniste, en omdat hulle in hul politieke standpunt die
verste af gestaan het van sy vernaamste teenstanders, naamlik
die Nasionaliste, het hy in 'n koalisie of samesmelting met die
Unioniste die beste kans gesien om 'n verdelingslyn getrek te
kry wat sonder inagneming van die Arbeiders sou deurloop
tussen die Nasionale Party aan die een kant en die S.A.P. en
die Unioniste-Party aan die ander kant. Dit sou dan 'n S.A.P.-
Unionistiese kombinasie moontlik maak wat hom die gewenste
meerderheid kon besorg, en wat hom in staat sou stel om die
land te regeer. Daarop het hy gehoop, en dit verklaar meteen
ook die aanwesigheid van kol. Stallard op die herenigings-
kongres.
Die verrigtings het niks besonders opgelewer nie, behalwe
dat dit geëindig het presies daar waar genl. Smuts dit wou hê.
Toe die kwessie van die selfbeskikkingsreg geopper word,
gepaard met die vryheid van propaganda vir 'n republiek, en
die voorsitter aan die hand doen dat dit behandel word eers
nadat dit sou blyk in hoever daar op ander punte ooreengekom
kon word, het min. F. S. Malan, genl. Smuts se luitenant,
beswaar gemaak, en die dadelike behandeling daarvan is geëis.
Dis toegestaan en die uitslag was weer dieselfde. Genl. Smuts en
sy ondersteuners, nou met inbegrip van die Unioniste, het
beslis geweier om daarmee in te stem. Dit was nou weer die
republikeinse ideaal teenoor die behoud van die Britse konnek-
sie. Die kloof het weer geblyk onoorbrugbaar te wees. Daarmee
was die herenigingspogings langs die weg van vriendskaplike
besprekings tussen die partye dan ook op 'n end. Die funda-
mentele verskil tussen die twee kante was egter nou duideliker
as ooit tevore. Dit was nou voortaan beginsel teen beginsel.
Die Nasionale Party het daarna die erkenning en aanvaarding
van ons volle selfbeskikkingsreg, met ander woorde van ons
soewereine onafhanklikheid, tesame met die republikeinse
doelstelling, in sy Program van Beginsels opgeneem. Die S.A.
Party, uiterlik nou versterk deur die inswelging van die
Unioniste, het aan die ander kant die behoud van die Britse
konneksie as eerste doelstelling in sy beginselprogram vasgelê.
En só staan dit nog.