Afrikaner-Volkseenheid/My Manifes

Samesmelting Afrikaner-Volkseenheid
My Manifes
deur D. F. Malan
Die Kongresse se Besluit


Die Smuts-Hertzog-koalisie wat spoedig tot 'n samesmelting oorgegaan het, het 'n nuwe en uiters belangrike hoofstuk in ons politieke geskiedenis geopen. Dis daarom van genoegsame geskiedkundige belang dat ek hier sal weergee die verklaring wat ek, ook namens my ondersteuners, uitgereik het:

VERKLARING

ONMIDDELLIK NA KOALISIE AANGEGAAN IS

Dis waarskynlik dat vandag of môre die Nasionale Party-regering van die toneel sal verdwyn het en dat in die plaas daarvan daar 'n Nat-Sap-koalisie die land sal regeer.
Die gebeurtenis, wat in sy skielikheid byna op 'n staatsgreep gelyk het, het die Nasionale Party so oorrompel en verbyster, dat dit nog 'n tyd sal neem voordat hul reg sal kan besef wat plaasgevind het.
In hierdie verklaring, wat ek namens myself en 'n aansienlike getal ander Nasionale Party-parlementslede maak, bedoel ek nie om volledige inligtings te verskaf nie. Mettertyd sal al die informasie wel tot die volk deursyfer. Dis egter nodig om op hierdie stadium aan Nasionaliste orals duidelik te maak dat geen enkele Nasionale Party-bestuursliggaam vir hierdie verbasingwekkende stap verantwoordelik is nie, en wel omdat geen enkele enige seggenskap in verband daarmee vergun geword is nie, en selfs geen enkele daaromtrent geraadpleeg geword is nie. Die Nasionale Party-koukus, wat nog op 24 Januarie 1.1. enige beweging wat as doel het die tot-stand-bring van 'n Koalisie-regering onomwonde afgekeur en propaganda daarvoor deur sy lede belet het, het geen opdrag daartoe gegee nie selfs ook nie toe hul spesifiek daarom gevra geword is. Die stap is gedoen enkel en alleen op die verantwoordelikheid van die Eerste Minister. Dis verder ook nodig om te sê dat die stap binne ons eie geledere en sover as daar geleentheid toe gegee was, hand en tand deur ons bestry geword is totdat dit, soos dit vandag die geval is, as 'n voldonge feit daar staan.
Dis begryplik dat onder omstandighede die Nasionaal-voelende volk, in sy verwarring en verbystering met ’n angstige hart die vraag sal doen: wat gaan nou gebeur ? Gaan ons 'n herhaling kry van die droewige gebeurtenis van 1912 met sy lange nasleep van skeuring en stryd en pyn ? Hierdie vraag moet ons vierkant in die aangesig kyk. En namens myself en die wat saam met my staan, wil ek daar dadelik antwoord op gee.
Van ons kant sal daar beslis geen skeuring wees nie, tensy deur die verdere handelinge aan die kant van andere skeuring op ons geforseer mag word.
Die betekenis hiervan is dat ons vir die teenwoordige ons by die koalisie sal neerlê, nie omdat ons dit goedkeur of ooit kan goedkeur nie, maar enkel en alleen omdat dit as ’’n voldonge feit op ons party geforseer geword is. Ons lê ons daarom neer onder protes. En ten einde verder te verhoed dat die koalisie iets anders sal word as 'n bloot tydelike reëling soos aan albei kante voorgegee word dat dit is, behou ons ons die reg voor om in beginsel teen hierdie koalisie met die Opposisie te bly protesteer, aangesien daar geen gelykheid van strewe tussen die N.P. en die S.A.P. bestaan nie, soos oorvloediglik uit die verlede blyk.
Onderhewig aan hierdie voorbehoud sal ons die nuwe regering ondersteun. Ons kan egter onderneem om dit te bly doen alleen vir sover as hul geen Nasionale Party-beginsels verkrag of veronagsaam nie en alleen solank dit blyk dat die Nasionale Party oor die algemeen nog bereid is om die koalisie-regering te verdra.
Die versekering dat sover dit ons betref, daar geen skeuring sal wees nie, moet nie verstaan word asof ons enige aanval of inbreuk op die suiwer demokratiese karakter van die Nasionale party sal toelaat nie. Wat daar gebeur het, is klaarblyklik in lynregte stryd met ons tradisionele opvatting dat die Nasionale Party daar is om die volkswil aan die leiers te vertolk en daarom nie geïgnoreer mag word of misbruik mag word om die wil van enkele leiers op die volk te forseer nie. Dit staan selfs in skerpe kontras met die prosedure binnekant die S.A.P. gevolg waar die Opposisie-leier, voor hy onderhandelinge begin het, minstens 'n resolusie ten gunste van koalisie en 'n opdrag van sy koukus verkry het. Dit sal nodig vir ons wees om teen verdere soortgelyke skok-metodes te waak, as die fundamenteel demokratiese karakter van ons party nie vernietig sal word nie, en om elke poging tot belemmering van die vrye konstitusionele werking van ons party-masjinerie met beslistheid af te slaan.
Solank die Koalisie-regering voortduur, sal dit 'n tydperk wees van die allergrootste gevaar vir ons party. Beide binnekant en buitekant die Kabinet sal daar gedurig en sterk pressie uitgeoefen word om langs administratiewe weg, so nie ook op punte van beleid, van ons beginsels af te wyk. As gevolg van persoonlike relasies met S.A.P.-leiers mag die neiging selfs by ons eie verteenwoordigers binnekant die Kabinet ontstaan om die koalisie permanent te maak of te laat oorgaan in 'n reoriëntasie, wat groot seksies van ons teenswoordige ondersteuners van ons sal afstoot ter wille van sekere ander groepe, soos bv. die kapitalistiese, wat ons nou opponeer. As daar aan ons kant, en veral buitekant die Kabinet, geen genoegsame waarborge teen dit alles is nie dan mag binne 'n betreklik korte tyd ons saak onherroepelik verlore wees. 'n Papier-basis alleen, selfs as 'n noukeurige omskrywing van punte moontlik sou wees, het nog altyd waardeloos geblyk. Dit geld nie alleen die afsonderlike punte van beleid nie, maar ook die orde, waarin hul in die program van aksie kom te staan. So kan byvoorbeeld, soos die terme van die ooreenkoms reeds genoegsaam aandui, die oplossing van die naturellevraagstuk wat as 'n lokaas vir ons voorgehou geword is, moontlik nog onaangeroer daar bly staan as die Koalisie sal verval het en die Opposisie daaruit sal gehaal het alles wat hul vir hul eie doeleindes oorspronklik beoog het.
Wat die ware betekenis van hierdie onverwagte en ongehoorde stap is, waarteen al ons Nasionale sprekers nog onlangs in die Volksraad die sterkste gronde aangevoer het, sal die tyd ons moet leer. Die twee pleitgronde, wat meesal op die voorgrond geplaas word, naamlik die beëindiging van rasse-verdeeldheid en die hereniging van alle Afrikaanssprekendes as die Koalisie weer uitmekaar spat, rym skaars met mekaar. Die eerste is nog altyd gebruik geword deur vyande van die N.P. wat iets anders beoog het as wat hul bereid was om te openbaar. En dit sou interessant wees om veral die S.A.P. oor die tweede te hoor.
Maar die pleitgrond wat hoofsaaklik gebruik word deur koalisie-voorstanders aan ons kant namelik dat ons koalisie moet aanvaar omdat ons anders die volgende algemene eleksie gaan verloor, vervul ons nog die meeste met onrus en argwaan. Het ons dan geen geloof meer in die krag van ons eie beginsels nie ? Is oorwinning by 'n eleksie dan die enige grond en doelwit van ons bestaan geword? Wat meer sê, as ons sonder koalisie die volgende eleksie gaan verloor dan volg tog dat sonder koalisie Gen. Smuts seker die volgende eleksie gaan wen. Watter voordeel sou hy dan in 'n koalisie sien om daarvoor so geredelik, ja so vurig begeriglik op te offer sy partybeginsels, sy sekere oorwinning, sy meerderheid in die parlement, sy Eerste Ministerskap ten einde onder sy politieke teenstanders te gaan dien ?
Wat die ware oorsaak en betekenis van die koalisie is, sal die tyd ons wel leer, en veral wanneer sekere belangrike seksies, waarvan veral die Nasionale Party sy bestaan en sy krag te danke gehad het, langsamerhand sal begin besef dat die nuwe regering minder simpatiek teenoor hul staan as die vorige.
Gedurende die tydperk van gevaar beskou ons dit as ons dure en heilige plig om vir ons party en ons volksbelange te waak. Binnekant die Kabinet kan dit nie genoegsaam gedoen word nie soos die geskiedenis van alle koalisies bewys, en noodwendig ook moet bewys, omdat Ministers met die mees uiteenlopende politieke beskouings mekaar daar na die oë moet kyk. Hul moet rekening hou met die pressie wat van hul eie kant op hul uitgeoefen mag word deur sterk voelende en miskien sterk georganiseerde groepe van hul ondersteuners. Die plig om individueel en gesamentlik te waak berus veral op die partylede en die parlementslede buitekant die Kabinet. Dit sou noodlottig wees as in hierdie tyd van gevaar hul hulself hande en voete gebonde gaan oorgee aan die Koalisie-regering, hoeseer hul ook al hul eie verteenwoordigers in die Kabinet vertrou. Dit sou die grofste dislojaliteit en ontrou wees as hul nou vergeet dat hul as Nasionaliste nie soldate is in 'n persoonlike lyfwag nie, maar wel soldate in 'n leër, wie se hoogste plig dit is om die volk te beskerm.
Koalisie was nog altyd 'n saak waaromtrent daar binnekant ons party geen ernstige meningsverskil bestaan het nie. Wat sonder opdrag of raadpleging 'n voldonge feit gemaak is, is nie sover ons weet, gevra geword deur enige bestuursliggaam van die party nie, van die hoogste af tot die laagste toe. En daar was dan ook onder ons geen meningsverskil nie totdat die twisappel van koalisie onder ons gegooi geword is. Mag ons daarom met alle erns 'n beroep doen op alle mede-Nasionaliste om in die tyd wat voorlê op so 'n wyse van mekaar te verskil dat ons fundamentele eenheid nooit uit die oog verloor word nie, en dat die deur nie gesluit sal word nie vir volkome herstel, wanneer die twisappel weer sal verwyder wees. Veral mag ons, en sal ons sover dit ons betref, nie toelaat dat die meningsverskil sal ontaard in 'n persoonlike stryd tussen leiers en veral nie teenoor Gen. Hertzog aan wie ons volk en ons party soveel te danke het.