Afrikaner-Volkseenheid/Negentienhonderd Ses-en-twintig
←Nuwe Partyverhoudings Met Groot Gevolge | Afrikaner-Volkseenheid Negentienhonderd Ses-en-twintig deur D. F. Malan |
Ernstige Begripsverwarrings→ |
geskiedenis en selfs in die geskiedenis van die hele gemeenskap
van nasies wat nou bekend staan as die Statebond, maar vroeër
bekend was as Groot-Brittanje met sy selfregerende kolonies.
Dis tegelyk ook die glanspunt in genl. Hertzog se politieke
loopbaan. In daardie jaar het op sy inisiatief en voorstel die
toe sogenoemde Imperiale Konferensie in Londen by implikasie
sy stempel van goedkeuring geplaas op die Lloyd George-
verklaring van 1919 omtrent ons selfbeskikkingsreg. Die Britse
Ryk, bestaande uit 'n aantal selfregerende kolonies met
beperkte regte, maar met sy magsmiddelpunt in Londen, is toe
omgeskep in 'n vrye assosiasie van vrye nasies, in status volkome
gelyk met mekaar en met volle heerskappy beide oor hul
inwendige en oor hul uitwendige sake. Die band tussen hulle
het toe geen dwang meer ingehou nie, maar het 'n bloot
vrywillige en vriendskaplike geword. Elkeen het op politieke en
staatkundige gebied ten volle beskikker geword van sy eie lot,
of om Lloyd George se eie woorde in verband met Suid-Afrika
te gebruik: ,,The South African people control their own
national destiny in the fullest sense.’’ Kragtens die inter-
nasionale erkenning hiervan, wat ook later gevolg het, het
Suid-Afrika daarom onbetwis, en selfs ook onbetwisbaar,
geword: ,,'n soewerein onafhanklike volk". Genl. Smuts wou
dit nie erken nie, selfs nie toe hy die Samesmelting-ooreenkoms
in 1933 met genl. Hertzog aangegaan het nie. Van sy ,,verhoog-
de status’’-idee van vroeër kon hy hom nooit losmaak nie,
hoewel dit vir lange tyd as gevolg van die historiese Boonzaier-
spotprent ('n bobbejaan op 'n paal met 'n tou om die nek) met
heelwat hilariteit bejeën is. Nog altyd het hy vasgekleef aan die
idee van 'n ondeelbare rykseenheid, wat in werklikheid 'n
superstaat sou wees. En ongelukkig was daar ook 'n kring van
goeie Nasionaliste wat om hul eie redes volgehou het om daardie
Smuts-opvatting as 'n feit te aanvaar.
Net soos die Lloyd George-verklaring die basis geword het
van die Imperiale Konferensiebesluite van 1926, net so het
hierdie besluite op hul beurt ook weer die basis geword van die
verdere en uiters belangrike konstitusionele ontwikkelings wat
daarop gevolg het, en wat later deur wetgewing bekragtig is.
Hierdie laaste was nodig omdat die Imperiale Konferensie
geen statutêre liggaam is nie, en sy resolusies derhalwe slegs
aanbevelend van aard kon wees. Krag van wet kon dit en het dit
in hierdie geval dan ook verkry deur die aanname van die
desbetreffende bepalings deur die Parlement van die Verenigde
Koninkryk aan die een en van Suid-Afrika aan die ander kant.
Sonder enige moeite of vertraging het dit ook geskied. Die
Britse parlement het die Colonial Laws Validity Act herroep en
die Statuut van Westminster gepasseer. Daarmee het hy van
alle staatkundige seggenskap oor Suid-Afrika en sy ander self-
regerende gebiede finaal afstand gedoen, en hulle in status as
sy gelyke erken, terwyl Suid-Afrika aan sy kant weer deur sy
Statuswet sy nuwe posisie as 'n soewerein onafhanklike land
staatkundig aanvaar het. Daarmee is die sluitsteen gesit op die
trotse gebou van Suid-Afrika se eie, vrye en onafhanklike
nasieskap as één van die vrye volke van die wêreld. En vandag,
en vir altyd hierna, en ten spyte van alles wat daarna mag
gebeur het, staan dit daar as die indrukwekkendste monument
van genl. Hertzog, wat deur niks anders ooit geëwenaar of
oortref kan word nie.