Afrikaner-Volkseenheid/Ondergrondse Aktiwiteite

Die Krisis-kongres Afrikaner-Volkseenheid
Ondergrondse Aktiwiteite
deur D. F. Malan
Spioene en Lokvinke


Dat in hierdie oorlogstydperk daar op vry grote skaal ondergrondse aktiwiteite plaasgevind het, is seker, en dat die kringe waarin dit plaasgevind het, aan die O.B. verbonde was, is ook gewis. Dat dit my op 'n baie intieme wyse moes aangaan, was vanselfsprekend in sover as dat ek 'n plegtige ooreenkoms met hierdie organisasie gehad het, wat altyd nog geldig was, naamlik die sogenaamde Cradock-ooreenkoms, dat ,,geen ondergrondse aktiwiteite of geweldpleging in hul geledere geduld sou word nie”. Die skuldiges te verdedig kon en wou ek dus nie. Die enigste wat ek kon doen, was om te probeer verseker dat die groot getal geïnterneerdes nie van hul vryheid beroof sou word sonder 'n behoorlike en regverdige verhoor nie. Teen hierdie tyd was daar aan regeringskant 'n werklike ,,interneringswoede” aan die gang, en in die kampe was daar alreeds nie minder nie as 723 opgesluit. Hiervan is 116 weer losgelaat, maat sonder dat hul saak ondersoek geword is, is die res aan die genade van vyandiggesindes oorgelaat.
Behalwe om 'n oproep te doen ten behoewe van die geïnterneerdes se liggaamlike versorging, het ek hul reg probeer beskerm deur op 2 Februarie 1942 die volgende mosie in die Volksraad in te dien en langs daardie weg so hul saak voor die aandag van die Regering en die volk te bring:
,,Die Raad weier om die tweede lesing van die gedeeltelike begroting goed te keur, tensy die Regering onderneem om, eerstens geen Unieburger deur internering of andersins van sy vryheid te beroof sonder dat al die geriewe van openbare regspraak aan hom toegestaan was nie, ens.”
Op die beskuldiging van vyandelike kant, dat ek geweldpleging aanmoedig, het ek net kort en bondig geantwoord, dat, net soos ek in die tyd van die Helpmekaar gedoen het toe genl. Smuts en sy regering die rebelle van 1915 finansieel te gronde wou rig deur hul indiwidueel en gesamentlik vir elke pennie aangerigte skade verantwoordelik te hou, só sal ek nou ook weer doen. Skuldig of nie, as leier sal ek my van my landgenote in daardie toestand nie losskeur nie !
Sommige wat om een of ander rede nie geïnterneer was nie, het openlik skuld beken, en nogal met heelwat vertoon van bravado. J. A. Smith, onder-kommandant-general van die O.B. het onder andere openlik verklaar dat hy hoogverraad gepleeg het, en dat hy ook geen berou daaroor het nie. Toe by geleentheid van die Krisis-kongres, waarvan hy 'n lid was, aan hom konfidensieel meegedeel geword is deur ’n ander afgevaardigde, dat 'n hoogstaande O.B.-amptenaar (een van die hoogste) besprekings in die nag ergens in die Noordelike Vrystaat voer met 'n persoon wat weer in verbinding sou wees met Lourenco Marques, was hy erg onthuts, maar dan alleen ook oor die moontlikheid dat die persoon ’n spioen van genl. Smuts kon wees. Blykbaar was daar seker kommunikasies aan die gang. Intussen het drie van die Kabinetsministers verklaar dat hul al die weë en geheime planne van die O.B. ken en selfs ook die naam van elke spioen en dat hul die O.B. ,,in die holte van hul hand het.” Volgens Colin Steyn, Minister van Justisie, sou hul die informasie kry uit die binneste kringe van die O.B. self en selfs uit hul Groot Raad. Vermoedelik was dit spioene van die regering self. Die wyse waarop dr. Van Rensburg die situasie gehanteer het, was ook allermins gerusstellend. In Bloemfontein het hy op 20 Oktober l941 o.a. verklaar: ,,Daar word gerugte versprei dat ek in verbinding kom met die Duitse konsul in Lourenco Marques. Al wat ek hierop kan sê, is dat ek nog nooit in Lourenco Marques was nie.”
Kol. Baston van die Polisie was egter meer definitief deur mee te deel dat hy ,,dokumente” gevind het en ,,lyste”, waarop die inhegtenisnemings deels berus.