Die Afrikaanse gedagte/Na die Toekoms

Kwasstrepe Die Afrikaanse gedagte
Na die Toekoms
deur C. M. van den Heever


Na die Toekoms.

Die lewe van die indiwidu, sowel as van 'n volk toon 'n groeiproses en Oswald Spengler dui in sy bekende werk Untergang des Abendlandes daarop dat in die lewe van elke kultuur daar drie stadia is: begin, hoogtepunt, verval. Dit is die onverbiddellike weg wat 'n geheime noodlotswerking gaan. By sommige volke wat die hoogtepunt van hulle kultuur bereik het, nee wat selfs te ver gegaan het en as gevolg van oorverfyning dekadent geword het, bestaan 'n romantiese gedagte dat die primitiewe staat, waaruit hulle hulle met moeite ontwikkel het, eintlik die idealistiese is, dat met die uitgroeiing van die mense uit sy onbewuste, byna dierlike staat hy baie skoonheid en geluk verloor het. So het die gedagtes van die letterkundige pedagoog Rousseau geloop. Wie van die boom van kennis van Goed en Kwaad geëet het, se geluk is vernietig. Hy moet voortaan delf in die myn van sy eie sielelewe, hy moet onbekende domeine intrek, steeds nuwe waardes ontdek en soos 'n rustelose pelgrim ewig dors na waarheid. Vir diegene wat so dink, is dit veel beter om soos die rustig-tevrede inboorling by jou aandvuur te sit, nie gekwel deur ewige bestaansprobleme nie, maar weggeduik in jou onbewuste, benede-kultuurlike toestand te bly. Vir baie mense beteken die woord „kultuur” dan ook die ongeoorloofde uitgroeiing van die lewe buite sy natuurlike grense en vorme, 'n onheilige uittog uit die paradys van goue vreugde; ja, iets soos die proefneming van Ikaros, wat weer met verbrande vlerke op die aarde teruggeval het.

Ons het in die eerste opstel gesê dat waar die beskawing meer steun soek in die uiterlike, daar lê die weg van die kultuur na die innerlike, al is die wisselwerking tussen die twee baie nou ineengewewe en is die verhouding ongeveer soos tussen inhoud en vorm. Kultuur is die wêreld wat sy grense ontvang, wat in die lewe geroep is deur die skeppende gees. Dit is verinnerlikte (115) lewe. Georg Simmel omskrywe dit as die voleindigingsweg van die siel in homself. D.w.s. die siel gaan uit op die weg van kulturele ervaring, hy oriënteer hom aan die objektiewe kultuurmanifestasies soos wetenskap, godsdiens, kuns, filosofie, staats- en maatskaplike lewensvorme en keer uiteindelik verryk en verdiep na homself terug. Die mens wie se lewe nog nie deur die kultuur versuiwer is nie, ken nog nie die ware eenheid nie. Die spieël van sy gees lê in duisende stukkies versplinter. Kultuur veronderstel eenheid. Hier is die veelheid verenig tot 'n verpuurde sielebeeld. Die mens wie se lewe deur kultuur verryk en verinnig is, word meegewieg deur 'n dieper lewensritme. Hy het die stem van die blywende verneem en is deelagtig aan die skatte van 'n Koninkryk van durende lewenseenheid. Nietsche het dan ook kultuur genoem: styleenheid in alle uitdrukkingsvorme. Dr. Bierens de Haan druk dit baie mooi uit in sy werk Wereldorde en Geestesleven wanneer hy kultuur die gemeenskapsvorm van die geesteslewe noem. Dit is die gemeenskapsvorm, nie deurdat die geesteslewe van die indiwidu hom daarin uit op 'n manier wat aanneemlik is vir die gemeenskap nie, sodat die indiwiduele geesteslewe naas sy indiwidueel-persoonlike inhoud 'n sosiaal-algemene uiting sou hê, wat ons kultuur noem nie; maar dit is die vorm waarin die geestelike gemeenskapslewe self optree, waar die subjek nie die persoonlike maar die kollektiewe siel is. Die kultuur is dus die vormgewing van 'n geestelike gemeenskapsinhoud wat aanwesig is in die kollektiewe siel, waaruit die indiwiduele persoonskap gebore is. Wat ons egter moet op let, is dat die kollektiewe siel sy lewensinhoud nie kan orden nie. 'n Volk doen langs die weg van geestelike ervaring allerlei eienskappe op wat aan hom 'n eie kenmerkende stempel gee. So groei elke kultuur uit 'n bepaalde volksiel, 'n bepaalde houding teenoor die lewe. Spengler het met nadruk die bestaan van 'n algemene mensheidskultuur ontken, ook so iets soos 'n kultuurontwikkeling van die mensdom as geheel. Ons kry verskillende kulture wat opbloei en vergaan, terwyl kleiner kulture dan weer tot wasdom gedy. Dit lyk of elke afsonderlike kultuur dan 'n besondere siel as veroorsakende beginsel moet hê. Van hierdie siel is die kultuur nie los te maak nie. Word dit gedaan, dan verbleek dit onmiddellik en hou op om te bestaan. Deur middel van die moeilik omskryfbare volksiel, wat die houding van die volk op belangrike oomblikke in die geskiedenis bepaal, wat hom 'n eie waardewêreld laat vorm, wat skyn deur die vensters van die eenvoudige volkswysheid, wat lewe in die spreekwoordeskat, wat aan die taal self 'n kenmerkende kleur (116) gegee het, wat in die godsdiensgevoel woon en deur die volksgewete geskif word as goed of sleg - deur hierdie volksiel word die kultuurlyne langsaam aangedui, die toekomsvorme geboetseer. Die volk word bewus van eie krag. „Het dié oomblik aangebreek,” sê prof. Nölting, „dan slaan 'n beginnende kultuur eers droomswaar sy oë oop, oë wat van donker vrae oorskadu is.” [1]) Daarom kry ons by 'n beginnende kultuur, soos ook by die Afrikaanse, soveel dinge wat ons verbyster, gaan dit so swaar om skerp en helder die grondlyne van so 'n kultuur te trek.

Maar soos ons gesê het: die kollektiewe siel kan sy lewensinhoud nie orden nie. Hier moet die indiwiduele krag op die voorgrond tree want die vormkrag lê in die indiwidualiteit. Alleen deur die genie, - volksman, filosoof of digter - kan die volksiel uitgespreek word, in hom vind dikwels die saamtrekking van sluimerende volkskragte plaas, om dan in sy deurdagte woord en werk uitgekristalliseer te word. Dr. Bierens de Haan lig die verhouding tussen die skeppende indiwidu en gemeenskap baie mooi as volg toe: „Er valt dus te bedenken, dat niet de individu kultuurschepper is krachtens zichzelf, en dat niet hij is kultuurdrager, kultuursubjekt, maar aan de gemeenschap komt deze eer toe; doch de gemeenschap heeft kultuur door middel van de scheppende persoonlikheid, en zonder deze zou zij in haar beneden-kultuurlijken levensinhoud blijven weggedoken.”

Ons kan die hele kultuurproses as 'n groeiende organisme sien. Spengler stel die tydperk van volgroeiing vir elke kultuur op 'n duisend jaar - en die essensie daarvan bloei uit in die werk van die skeppende genieë. Omdat kultuur dus in sy groei organies-lewend is, opwellend uit die geheimsinnige bronne van die volksiel, kan dit nie uitgroei en ontwikkel tensy die penwortels in die lewe van die volk self lê nie, en eers goed geanker moes wees voordat dit aan die sware invloede van buite blootgestel word.

Die dryfkrag van so 'n kultuur is die ontembare drang van die lewe se skeppingskrag self, maar daardie lewe kan gestuit word as die groeiende organisme te veel ontberinge van buite moet ly. Dit mag van ander kulture selfs leen, maar wat geleen is, moet versmelt in die eie, net dien tot innerlike verryking. Wat geleen word, mag nie van buite aangelap word en wesens- vreemd bly nie. 'n Kultuur wat dan ook so uit eie bodem gegroei het, kan onbevrees die waardevolle in ander kulture (117) waardeer. Nölting sê selfs dat „alle dieper en waaragtige kultuur daarin bestaan dat die volke geleer het om oor eie grense heen te kyk.” Geen kultuur kan soos 'n eiland van ander afgeskei word nie. Dit moet eerder in lewende kontak bly met die bure. Tog moet dit sy identiteit bewaar. Vir kleiner kulture bly die gevaar daar dat as hulle nog nie sterk genoeg is nie, as daar nog geen wortelvastheid is nie, dat 'n sterker kultuur dit heeltemal kan dooddruk. Daarom sien ons die voortdurende beskerming van die kleiner kultuur in al die lande waar 'n sterker en kleiner kultuur naas mekaar te staan kom: Afrikaanse teenoor Engels, Vlaams teenoor Frans. Wat soms vir mense wat deel het aan 'n groot kultuur, onnodig en dikwels selfs belaglik lyk, moet hier gedaan word. In tale soos Engels, Frans en Duits is die oordeelkundige insluiting van vreemde woorde nie altyd 'n gevaar nie. Vir kleiner tale soos Afrikaans en Vlaams is dit soms wel 'n bron van groot moeilikheid, want die weerstandsvermoë van hierdie tale is nie groot genoeg om die swaar aandrang van buite te weerstaan nie, en word die invloed te sterk, dan ontstaan dikwels net 'n verbastering en ontaarding, waarvoor elke mens wat respek het vir die rasegte, afsku voel. In 'n artikel oor die behoud van die kleiner kulture, oor hul betekenis binne die groot stroom van die groeiende mensheid sê die historikus prof. P. Geyl dat dit absoluut verkeerd is om die kleiner volke tot die rol van toeskouers te verneder, om hulle gedurig te laat toejuig en oorneem wat groter volke presteer. Dan kan ons net sowel 'n „letterkunde” skep deur soveel as moontlik te vertaal. Dit beteken ten slotte die dood van alle oorspronklikheid en dit vernietig die volks- eienaardige in die kiem, daardie geheimsinnige bron van letterkundige skeppingskrag. Ja, wat vandag die vernaamste tale is, soos Engels, Frans en Duits het dit gedurende die Renaissance gewaag om 'n eie rigting te volg, weg van Latyn, wat die taal van die Middeleeue was. As almal destyds die klagte gehad het dat dit tog tenslotte nie betaal om in 'n kleiner taal te skrywe nie, wat sou b.v. van die Engelse kultuur geword het in die beginstadium van sy ontwikkeling? Sê nou maar Spenser het deurgegaan met sy plan om sy Faerie Queen in Latyn te skrywe, of die chauviniste het oorwin wat hulle eie taal, Engels, so verag het. „Net twee of drie eeue gelede,” sê die taalgeleerde Jespersen, „is Engels deur so weinig mense gepraat dat niemand kon droom dat dit ooit 'n wêreldtaal sou word nie.” In 1582 het Richard Mulcaster geskrywe: „Die Engelse taal het maar 'n klein gebied; dit strek nie verder as ons eiland nie, nee, selfs nie eers oor die hele eiland nie.” In (118) een van Florio se Engels-Italiaanse dialoë word aan 'n Italianer in Engeland gevra wat sy mening oor Engels is, en sy antwoord was dat dit waardeloos is verder as Dover. Ancillon het dit betreur dat Engelse skrywers dit verkies het om in Engels te skrywe, aangesien niemand in die buiteland dit kan lees nie. Tot in 1718 nog het Le Clerq dit betreur dat daar so baie geleerdes op die vasteland is wat nie kan Engels lees nie. In 1714 nog het Veneroni 'n „Imperiale Woordeboek,” uitgegee van die vier vernaamste Europese tale, nl. Italiaans, Frans, Duits en Latyn. Engels was nie daarby nie.

Hoeveel Engelssprekendes dink vandag nog aan die verrassende vordering wat hulle taal in 'n kort tyd gemaak het? En wie gee ons die reg om te veronderstel dat dit nooit met Afrikaans kan gebeur nie? Nee, dit hang tenslotte net af van die groeikrag wat daar in 'n kleiner kultuur se kiem lê, dit hang af van die taaltrots van die groep wat aan daardie kultuur behoort, dit hang af van hulle ondernemingsgees.

Afgesien miskien van praktiese voordele kom dit tog nie veel daarop aan of ons taal oor die wêreld gepraat word nie, dit hang tenslotte af van die liefde waarmee ons besiel is vir die taal van ons hart, vir die taal waarin ons volk se innerlikste self gekristalliseer is, vir die taal wat so innig verbonde is met ons kultuur. Al is 'n kind nog jonk, tog het hy dieselfde reg in die huis van sy vader as sy ouer broer, en die taak van die ouer broer is nie om die kleintjie se groeiende persoonlikheid uit eersug te vernietig nie, maar eerder om hom aan te help en die eie wat daarin hom is, te laat uitgroei. Die wêreld kan nie net bestaan uit reuse en oorheersers nie.

Ek wil hier net een kant van die kultuur-uitdrukking belig en dit is hoe kultuur geopenbaar word deur die taal.

Die vraag is al so dikwels gestel aan skrywers wat hulle bedien van minder bekende tale: waarom skrywe jy nie in een van die groter tale Engels, Frans of Duits nie? Daardeur bereik jou woord soveel meer siele, daardeur bestaan die moontlikheid om 'n groter afset vir jou boeke te kry. Ja, waarom verkies sommige dwase die eensaamheid bo die gedawer van die stede? Wetenskaplike werk, arbeid van die louter verstand, kan ons miskien meedeel in 'n taal wat 'n groter lesersgebied het as ons s'n. Maar vir die kunstenaar? Hy wat tog by uitnemendheid die orgaan is deur wie die volksiel en volksgedagte moet uiting vind? Hoe sal daardie volksgewete anders kan spreek as deur die taal wat 'n tweelingbroer is van die kultuur? August Vermeylen, die bekende wysgerige leier van die Vlaamse Beweging, het dit so mooi uitgedruk toe hy verneem (119) het dat sy letterkundige vriend Buysse van plan is om nie meer in Vlaams te skrywe nie maar in Frans, omdat hy tot die ontdekking gekom het dat sy „taaltjie” tenslotte te armmoedig en te klein is om ooit die aandag van die buitewêreld te trek. Vermeylen sê: „Waarom schrijven wij Vlaamsch, wij die toch allen een oppervlakkig artikel even gemakkelijk in 't Frans zouden opstellen? Omdat wij onze taal als een innerlijke noodzakelijkheid van onze kunst voelen. Men zou ons even goed kunnen vragen: waarom schrijft gij? De Vlaamsche taal, o 't is zo banaal: wij hebben ze gesproken in vadershuis, met de moeder die ons opgekweekt heeft, door die taal heeft zij ons gegeven wat zij geven kon. De taal is met onze gedachten zelf geboren, en dat is uit ons wezen niet meer te wisschen. Onze polders en onze bosschen, al onze avonden en morgens met al hun weiden en wolken, zij hebben de kleur der Vlaamsche woorden, die woorden ademen dezelfde ontastbare lucht om zich uit, elk woord dat we uitspreken verbindt ons inniger met de aarde die ons gemaakt heeft. Wie kan de liefde voor de taal verklaren? Er zijn in de taal zooveel, zooveel onuitlegbare dingen, verre herinneringen en samestemmingen, die alle hun grond in ons diepst eigen zelf hebben. Het eenvoudigste als het grootste kunnen wij slechts in onze taal juist, organisch uitdrukken.”

Hierdie sitaat bewys hoe diep die liefde vir ons taal wortel, d.w.s. vir diegene van ons wat die innerlike waarde van die spraakvorm aanvoel. In en deur dié taal moet ons dus ons kultuur en letterkunde uitbou. Wie sy eie taal nie waardeer nie, weet nie wat 'n nasionale kultuur is nie.

Om dan van dié kultuuraspek oor te gaan na die letterkunde, kan ons net sê dat elkeen wat die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde ken, weet hoe innig dit verbonde was met die amptelike erkenning van Afrikaans. Die kultuurontwikkeling is gestrem deur die gebrek aan uitingsmiddel. Die werklike letterkunde moet ontwikkeling volgens die vorme wat die kultuur daarvoor aandui. Veral in die taal kom dit tot volgroeiing. Ons moet werk van binne na buite. Immers daar is die bekende verklaring dat 'n letterkunde eers nasionaal moet wees om internasionaal te kan word. Deur die besondere moet die lig van die algemene straal.

Die Afrikaanse letterkunde dateer maar van gister.

Ons liriek het aanvanklik die mooiste bloei vertoon. Hierdie openbaring van innerlike gevoelens het saamgehang met ons hele nasionale oplewing. Gedurende die Eerste Taalbeweging raak die ware kuns nog verstik in die propagandabedoeling en (120) wat die digkuns betref, bring die ywerige verdedigers van volk, in Afrikaans dit nie verder as 'n kinderlike gestamel nie. Die diepere draagkrag van kunsskoonheid is nog afwesig. Kuns ontstaan eers daar waar die lewe die kunstenaar diep ontroer en hy sy ontroering uitdruk in skone vorm. Eers die Engels-Boere-Oorlog sou die Afrikaner se siel verdiep, want dit is die liriek wat na die oorlog ontstaan wat 'n dieper en teerder klankwaarde het, dit stroom aan op die deining van volksmart, dit stamel van vernietigde verwagtinge en word sku deurhuiwer van wanhoopsgevoelens. Eugène Marais se „Die Winternag“ gee vir ons 'n stemmingsbeeld van die na-die-oorlogse volkswee, wat hom uitspreek deur die digters. Ons het gesê dat die skeppende genieë aan die volk se kultuur gestalte gee en ook dat die volk die genieë instaat stel om grootse dinge te skep. Ná die oorlog kry ons dit baie duidelik by die Afrikaanse volk. In die werk van Celliers, Leipoldt, Totius en Malherbe het ons die innige rou oor die vernietiging van volkseenvoud, wat in botsing gekom het met die vreemde, 'n treurnis om die volk wat in 'n neweltoekoms rondtas. Die gedigte van Leipoldt en Celliers is nog vol van die onmiddellike leed. Leipoldt sê in die voorwoord van Oom Gert Vertel en ander Gedigte: „Die meeste van die gediggies is gemaak toe ek nog half flou was met die skok van die oorlog, en toe die donder van die Engelse kanonne nog in my ore was.” Die loutering wat die herinnering bring, is nog nie aanwesig nie en eers later, veral by Totius, kry ons die aandagvolle deurskouing van die verlede en klink sy stem hoopvol op dat die graankorrel moet sterwe om te lewe, dat die ware vreugde gebore word uit ons swaarste verdriet. Maar opmerklik is dit seker dat as hierdie golf van oorlogsaandoening verbygaan, dat die liriek self begin kwyn. Die vernaamste oorlogsdigters sing ook nie meer oor die oorlog nie, al spook 'n beeld daarvan nou en dan nog deur die herinnering - hulle keer tot hulself in en verklank hul persoonlike emosies. Die stroom hier vloei ook al dunner, om uiteindelik heeltemal te verdwyn. 'n Jonger geslag digters bring 'n klein opflikkering maar nie sterk genoeg om 'n kragtige lewe op hierdie gebied in die toekoms te verseker nie. Dan is dit of die skeppingskrag van ons liriese digters al skraler word en of daar geen innerlike groeikrag is nie. Waarom dit so is, is moeilik om uit te maak. Het ons volk net belangstelling gehad in dinge wat betrekking het op die suiwer nasionale? Het die volksgees intussen vervlak en merk ons hierdie vervlakking in die deursigtige taal van die poësie? Om dit presies te beantwoord, is moeilik. Tog wil ons diegene wat kritiek op die Afrikaanse letterkunde van (121) vandag uitoefen, net daarop wys dat ons kritiek, gedra soos dit is deur die neiging tot verinnerliking by ons volk in die laaste jare veel skerper toets as vroeër, en dinge wat 'n aantal jare gelede geprys is net omdat dit in Afrikaans geskrywe is of omdat die inhoud daarvan „nasionaal” was word ondersoek na die essensiële betekenis. Die oorlogsmotief is dood in ons liriek en pogings wat nog aangewend word om dit in te span, eindig gewoonlik in hooggespanne chauvinisme. Die weg wat vir die Afrikaanse digter ooplê, is die weg na verinnerliking. Hulle kan nie stilstaan by die meer uiterlike dinge nie, hulle moet die wêreld om hulle opneem en herskep in nuwe kultuurgestaltes. Hulle moet fyner en inniger hul gevoelens leer beantwoord, die taal wat gedurende die laaste jare soveel gewin het aan vormteerheid, so gebruik dat hul skoonste drome daarin opgeroep word. Die weg is dieselfde as dié van die moderne Nederlandse liriek nl. na die fyngeboetseerde uitdrukking, die verfynde selfekspressie. Die kunstenaar moet, net soos die volk waaruit hy kom, gedurig sy eie sielelewe verdiep. Daarom is dit nodig dat hy na verwyding van blik soek. Die fyne kritikus Poelhekke heg dan ook baie waarde in sy beskouing oor die liriek aan die verdieping van die digters se geesteslewe deur te drink aan alle kultuurbronne. Wil die vlam hoog opslaan, dan moet daar tenminste brandhout wees. Elke eerlike persoonlike ervaring, sê Poelhekke, wat deur die gevoelswerking poëtiese gestalte verkry het, is liries, en kan hoe eenvoudig die ervaring ookal is, belangrike kuns laat ontstaan. Soos daar gradasie is in die kultuurwaarde van die indiwidu, so is daar gradasie in die inhoudswaarde van sy kunsuiting. Vir die primitiewe mens is sy primitiewe kuns net soveel erns as die diepdeurleefde gedig vir die kultuurmens. Maar dit is tog duidelik dat die kuns van die primitiewe mens in absolute waarde agterstaan by dié van die kultuurmens. „Gelijk er dus stijging kan zijn in waarde van de voortbrengselen der lagen ontwikkelden tot die met een dieper beschaving, gelijk er opklimming is in elke beschavingsgroep van het lagere tot het hogere, zo kan er ook stijging zijn bij het individu. Die stijging brengt mee stijging der betekenis van zijn produktie. Verdieping en versterking der persoonlikheid, verrijking van zijn geestelik bezit, zal bij waarachtige artistieke impulsie verdieping en versterking zijner lyriek meebrengen, ” verklaar Poelhekke. Is die woorde van prof. Nölting waar „dat alle dieper en waaragtige kultuur daarin bestaan dat die volke geleer het om oor eie grens te kyk,” dan is dit net so waar in verband met die kunstenaar. Laat ons ontvanklik wees vir invloede van buite, maar laat ons alleen daardie dinge inent om die eie boom kragtiger te laat groei. (122)

As ons jonger digters nuwe bane wil open, kanale ontsluit wat ons kan verryk, dan is dit langs die weg van verinnerliking - verinnerliking wat kultuur is. Die goue les lui alleen: laat ons volk hom ingrawe in die diepte, laat die digters, as gevoeligste organe van hulle tyd, hulle verdiep, kyk na die mooie en skone elders en opklim deur vergelyking tot 'n hoër peil. „You can have noble art only from noble persons,” het Ruskin gesê.

Ons wil nog net iets sê in verband met die Afrikaanse prosa, drama en toneel. Wat laasgenoemde betref, kan ons baie kort wees, want dit bewys vir ons baie duidelik dat die bou-vermoë, wat so 'n vername iets is by die dramaskrywer, nog ontbreek. Ons dramas is in die meeste gevalle nog onbeholpe in die tegniek en wat ware dramatiese botsing betref, hewige lewenskonsentrasie in klein bestek: dié is heeltemal afwesig. Gelukkig maar dat daar in die laaste jare kragtiger bouvermoë te bespreur is op die gebied van die Afrikaanse roman. Dit belowe ook iets vir die drama, want dit wys dat die kunstenaars leer om hulle stof te deurdring, om deur kragtige seleksievermoë die essensiële in strakke bou weer te gee. Laat ons ook hier onthou dat die geestelike bou, wat so 'n groot iets in die kunswerk is nóu saamhang met die kultuurgraad wat volk en kunstenaar bereik het.

Waar ons in die Afrikaanse liriek die verskynsel het dat dit 'n neerwaartse beweging toon, daar is dit oor die algemeen anders met ons prosa, wat langsamerhand in innerlike krag groei.

In die Eerste Afrikaanse prosastukkies het ons die eenvoudige betoog of die verhaal sonder meer. Dit sou egter lank duur voor die Afrikaanse prosa stewiger, klankryker, van 'n kragtiger ritmiese deining sou word. Dit sou groei saam met ons waardering vir innerlike vormskoonheid, wat weer net 'n ander naam vir kultuur is.

Die eerste Afrikaanse romans en verhale van na die oorlog ontspring, net soos die liriek, uit die oorlogsmotief, met dié onderskeid egter dat hulle veel swakker is - gladnie wat innerlike gehalte betref met die liriek kan vergelyk word nie. Die liriek het ontstaan uit spontane ontroering, die woorde het die draers geword van die kunstenaar se emosie. Maar met die romans - waar ons na bou soek - was dit meestal anders. Werke soos Vergeet nie en Teleurgestel, hoe verdienstelik hulle as baanbrekerswerk mag wees, het nog ernstige gebreke, en ons meen dat hierdie gebreke in meer as een opsig by die volk self te soek is: die volk wat nog nie 'n innerlike eenheid vorm (123) nie, wie se kultuur nog nie sy duidelike grense gevind het nie. Tenslotte tog word 'n kunstenaar gedra deur sy volk, die volk moet hom feitlik instaat stel om in sy werk die voldraendheid te bring wat ons van elke ware kunswerk verwag. In die roman moet ons die suiwer eenheidslyn hê wat resultaat is van 'n verdiepte, rustige lewensbetragting. In die taal, die woordeskat, die aanwending daarvan kan ons sien watter graad van styleenheid 'n bevolking bereik - styleenheid wat resultaat is van gevormdheid.

Die Romantici het gepraat van die genie van die volk, sy natuurlike skeppingsvermoë. Hierdie genie van die volk moet gedurig fluister aan die oor van die kunstenaar. Daarom moet hy die taal van die volk beluister, die draagwydte daarvan ken om uitdrukking te gee aan elke nuansering van gevoel en gedagte. Hy moet gedurig die ongevormde klei uit die volk neem, en met eenheidsbedoeling boetseer tot betekenisware kuns. In die kuns, veral in die prosa, bestaan daar gedurig die gevaar dat die werklikheid vertroebel sal word terwille van die vae en romantiese. In ons eerste romans weeg hierdie fout baie swaar (ons dink aan Johannes van Wyk, Die Tweede Grieta, Langs Kronkelende Weë ens.), waarin die werklikheid heeltemal opgeoffer word aan die begeerte om die grillige, die romanties-sensasionele op die voorgrond te bring. Innerlike ontwikkeling, die verdieping in die rigting van die waarheid, beteken dat ons beweeg in die rigting van die werklikheid, nie alleen die werklikheid wat ons met oë aanskou nie, maar ook die geestelike werklikheid. Die aanvaarding van die werklikheid, die loslating van die verknoeide verromantiseerde werklikheid is al 'n groot stap in die lewe van elke kunstenaar. Maar dit is ook 'n groot stap in die lewe van elke volk. 'n Volk wat teer op soetlike, sensasie-literatuur, wat sy tyd vergaap aan slegte bioskoopprente, waar bo-menslike helde en duiwelagtige boewe vir 'n rukkie die lewenswerklikheid verknoei, is nog sku vir die daglig van die realiteit, ja vir die lig van ware kultuur. Ons prosaskrywers het egter langsamerhand verlos geraak van die intrige, die lus om die werklikheid heeltemal diensbaar te maak aan die louter verhaal. In hierdie opsig beteken dit 'n groot vooruitgang wat die vorming van 'n lewensbeeld betref, gegrond op die werklikheidservaring. Willem Kloos het hierdie punt baie mooi toegelig in verband met die prosavernuwing van na 1880, die gewysigde werkmetode van die romanskrywers. Voor hierdie tyd, voor die opkoms van die naturalisme het die skrywers baie graag hul eie „ek” op die voorgrond gestel en die res van die wêreld daaraan onderhewig gemaak. (124)

Dit het aan die skrywer selfvertroue gegee en hom die omringende werklikheid gewoonlik laat betrag met 'n ironiese of humoristiese glimlag. Maar met die Beweging van 1880, toe die Franse naturaliste 'n groot invloed uitgeoefen het op die nuwe prosaskrywers, vind ons 'n teenoorgestelde toestand van sake. Die „ek” verdwyn nou heeltemal in die omgewing, die werklikheid wat uitgebeeld word. Die siening word van subjektief nou objektief. Die „ek” wat skep, verloor hom heeltemal in die geskapene, om in nuwe gestalte daarin op te staan. Maar hierdie verdieping in die objektiewe werklikheid beteken in hierdie geval ook 'n verdieping van die besef van lewensverganklikheid en lewenswaardeloosheid, omdat die skrywer hom nietig voel naas die werklikheid wat tot 'n monster uitgegroei het. Kloos se omskrywing van die nuwe aanskouing van die werklikheid is van toepassing ook op ons ware skrywers: „De hedendaagsche realistische artist ziet de dingen aan met klaren kalmen blik. Hij stelt er zich mee in contact, dwars door alle conventie en vooropgezette ideeën heen, laat haar op zich inwerken , vrij en onbelemmerd. Soms geschiedt die inwerking zoo heftig, met zulk een storm van passie op de naakte, onbevangen ziel des schrijvers, dat hij, op zijne wijze, lyrisch wordt, als Zola. Maar dan is het een lyrisme, dat niet van den schrijver, met zijn behoorlijk-gereglementeerde en maatschappelijk opgevoede ziel op de werkelijkheid, maar van de jagende, stormende werklijkheid op den schrijver overgaat. Hij dringt zichzelf niet op aan de realiteit, hij ondergaat haar, maar met zijn volle, verhoogd bewustzijn...” Maar die ontwikkeling van 'n sin vir die werklikheid, van die drang om die lewe eenvoudig en waar uit te beeld, begin ook die verdieping in ons prosa. Met „sin vir die werklikheid” wil ons aandui dat die kunstenaar die lewe onbevange in hom opneem en dit vorm gee soos sy temperament dit bepaal. Vroeër het die lewe nie kans gekry om onbevange in te werk nie, want dit is gedurig gekleur en gewysig om aan die een of ander doel te beantwoord. 'n „Sin vir die werklikheid” beteken ook nog gladnie dat die kunstenaar die lewe fotografies moet „betrap” nie. Sommige van die naturaliste het juis hier die verkeerde weg opgegaan en vandusie-agtige opsommings van die werklikheid gegee. Elke ware kunstenaar se aanskouing van 'n sekere stof berus op seleksie. Hy kies daaruit wat harmoniseer met sy temperament en gee ons 'n nuwe werklikheidsgedaante. Dit het egter lank geduur by ons prosaskrywers voor kuns verbind is aan temperament, want van kunsprosa is nie gepraat nie, wel van vlot, joernalistiekagtige uitdrukkingskrag. Van Bruggen (125) se Ampie beteken vir ons letterkunde die oorwinning van eerbied vir die werklikheid. Selfs hierdie skrywer het van sy Teleurgestel, waar daar nog sprake was van 'n „held” en 'n „skurk,” daardie tipiese tweelingspaar van die ou „romantiese” skrywer, uitgegroei bokant die onsalige verdeling van karakters in „goed en sleg” en ons ,na kleiner proefnemings, deurleefde werklikheid gegee. Saam met hierdie weergawe van die werklikheid, of dit nou die omgewing is wat uitgebeeld word of die karakter, hang ten nouste same die waardering van die taal as ekspressiemiddel. As ons ervarings nie eg is nie, is dit onmoontlik om dit in deurvoelde taal weer te gee. Vir die kunstenaar hang waarheid van belewing ten nouste same met waarheid van taaluitdrukking. Omdat die belewing nie eg was nie, het daar in ons prosa 'n massa retoriese, ondeurvoelde beelde en uitdrukkingswyses opgehoop, wat soms nog hier en daar ons beste prosa ontsier. Dit is resultate van 'n gebrek om suiwer en waar die lewe in die innerlike vorm van die taal weer te gee. Ek kan uit die beste Afrikaanse prosawerke hierdie foute aanwys en ek het daarby stilgestaan omdat dit so nou verbonde is met die werklikheidsbesef, ja met ons verinnerliking van die lewenservaring, wat ten slotte kultuur is. Vir ons is en bly kennis van Nederlands van ontsaglike betekenis. Die Afrikaanse skrywers wat die suiwerste Afrikaans skrywe, is ook goeie kenners van Nederlands. Ons prosa het in die laaste jare, in teenstelling met ons poësie besonder mooi tekens van verfyning getoon, al wag ons nog in ons roman op die groot geestelike bou, ja, die werklikheid wat tot simbool uitgegroei het. Sangiro, Malherbe, Die Hobson-broers se uitbeelding toon dat hulle aanleun op die spraakwerklikheid, maar nie daar wil bly staan nie. Hulle wil dit deur hulle ritme en vormbesef veredel en deurskynend suiwer maak, waarlik sierlike draer van 'n kultuur wat aarselend soek na verdieping. Ons prosaskrywers sal moet loskom van die retoriek, loskom van 'n tranerige patos, wat by onontwikkeldes 'n heerlike gereg is, maar by iemand van smaak nouliks 'n glimlag van medelye sal ontlok. Hulle sal moet oppas om nie die buitewêreld te imponeer met 'n verbluffende kultuuruitstalling, 'n omslagtige inpersing van alle moontlike en onmoontlike kennis van kuns in hul romans nie. Sulke dinge maak ons tenslotte net senuweeagtig, want dit wys dat dergelike skrywers nie deur die innerlike van hul werk ware kultuurfynheid laat skyn nie, maar dit van buite af aanplak om aan onnosel veroordelaars te bewys dat ons meer weet as wat hulle dink. Nee, ware kultuur berus op rustige selfvertroue, dit is gewortel in die wete dat 'n volk (126) sy eie beskouing verower het. Iemand wat werklik beskaafd is, praat nie oor sy beskawing nie. Dit spreek uit elke klein daadjie van hom. Laat ons kultuur dan van binneuit deur werk in ons hele lewenswyse.

Daar kan die kritiek vir ons goeie diens bewys. Dit kritiek het egter oor die algemeen tot dusver foute vertoon wat ons miskien kan herlei tot foute in ons kultuuropvatting. Werke is bespreek, die onkruid uitgesoek en uitgestal, daar was te veel 'n waardering van „mooi” en afkeuring van „lelik” sonder diepgaande indringing in die wese van die skrywer en sy werk. Wat ons in ons kritiek sowel as in ons hele kunsvoortbrenging so seer as 'n te kort gevoel het was die gebrek aan eenheids- gevoel. Ons herinner weer aan Nietsche se definisie van kultuur nl. dat dit is styleenheid in alle uitdrukkingsvorme.

Ons het in die kritiek nog te veel die onewewigtigheid gehad, net soos van 'n persoon wat op moeisame wyse soek na rigting, na 'n gevormde lewensbeskouing, wat hom sal help om die lewe, sy verskillende vraagstukke as eenheid te sien en aan te pak. Ons het te veel afsonderlike verskynsels geneem en beskou, sonder om dit te sien teen die dieper agtergrond van wesenlike kultuurskoonheid, dié bron waaruit verskillende verskynsels oprys net as openbaringsvorme van dieselfde eenheid. Ook hier moet ons afsteek na die diepte, want wie rigting wil aandui, moet self gevorm wees, moet ernstig nagedink het.

Die Afrikaanse kultuur en letterkunde is nog baie jonk. Langsaam skemer die lyne van wordende dinge op. Wat is ons toekoms? Ons kan aan die toekoms nie dink sonder om dit as 't ware deur die verlede te sien nie. „'n Man wat groot praat oor die toekoms, is 'n dwaas; maar 'n man wat sy verlede vergeet is 'n kranksinnige,” is tereg beweer. Die stroom van ons kultuurlewe soek na sy werklike bodem. Ons leer langsamerhand grawe in die diepte. Tog sal ons nog baie harde lesse moet leer voordat ons langs die enge pad van ware kultuur kan wandel. Ons Afrikaanse kunstenaars het tot dusver probeer uitdrukking gee aan wat lewe in ons groeiende volksbewussyn. Hulle het o.a. 'n eie letterkunde geskep, waarin daar 'n aantal hoogtepunte te bespeur is. Maar in die massa self skuil nog groot foute. Hoe is dit tog dat 'n Afrikaanse uitgewer altyd, as hy 'n Afrikaanse werk wil uitgee, eers die vraag moet stel of dit miskien vir die een of ander eksamen voorgeskrywe sal word? Moet die Afrikaanse boek dan op die publiek afgedwing word, en as dit so is, is dit nie 'n mosie van wantroue in ons self nie? Waarom is dit dat soveel Afrikaners (127) wat genoeg geld het, nog hulle wonings behang met goedkoop almanakagtige prentjies en nooit dink aan soiets as die werk van 'n Afrikaanse skilder nie? Waarom het die meeste nie die flouste besef van wat goeie en slegte musiek is nie? Waarom stel biblioteke ons in kennis dat Afrikaanse boeke nie gelees word nie? Waarom ontvang sommige Afrikaanse werke uitstekende kritiek, maar is hulle dood totdat 'n eksamenkommissie hulle sogenaamd red deur hulle voor te skrywe? Is dit nie soms die geval dat ons meer praat oor kultuur as wat ons daaraan doen nie? Dra die volk sy kunstenaars, eerbiedig ons die mooie wat daar in sy tradisie, sy verlede skuil, of praat ons net daaroor sonder dat dit wesenlik deel vorm van sy innerlike self? Ons moet soek na verfyning van die indiwidue. Vermeylen druk dit baie mooi uit in verband met die Vlaamse Beweging: „De Vlaamsche Beweging mag niet slechts een taalbeweging zijn, maar een maatschappelijk streven in den breedsten zin van 't woord.” Die volk skep onbewus kultuur, en as die volk, met sy afsonderlike indiwidue, 'n lewe van vervlakking lei, dan kan ons nie verwag dat 'n dergelike volk deur sy skeppende persoonlikhede kragtig en oorspronklik sal spreek nie. Vermeylen wys ook op die groot gevaar wat skuil in 'n soort holle retoriek wanneer daar oor „kultuur” gepraat word. As mens al die mak perde bery van „my volkie,” „mooiste taal in die wêreld,” „dierbare vaderland,” dan oes jy op 'n vergadering van onnadenkendes heelwat handegeklap in. Maar dit is alles uiterlik. Soms is dit net huigelagtigheid. Laat ons met werklike liefde besiel wees vir ons eie taal en kultuur, laat dit ons hele lewenswyse deurstraal en nie net lippetaal op vergaderings wees nie. Laat elke Afrikaner besef dat hy bou aan 'n eie stuk lewe hier en laat hom loskom uit die vasgeroeste riwwe van minderwaardigheid. Laat die beweging in die breedte en diepte ontwikkel. Sal die Afrikaanse kultuur, taal en letterkunde staande bly? Ja, mits dit genoeg leefkrag van binne-uit vertoon.

Ons hoef nie te vrees dat 'n mengeltaal van Engels en Afrikaans in Suid-Afrika sal ontstaan nie, want Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes is te taalbewus daarvoor. Daar is geesteskragte aan die werk wat Afrikaans sal beskerm teen die te skerpe inwerking van Engels. As daar 'n mengeltaal moes ontstaan het, dan moes dit in die vorige eeu gebeur het toe die Afrikaanse taal nog nie sterk gesteun is deur 'n ontwikkelde groep mense nie. Die Afrikaanse taal sal bly staan naas Engels. Dat daar vandag aan Europese Universiteite lesings oor die Afrikaanse taal en letterkunde gegee word, wys op die (128) belangstelling wat dit in die buiteland gewek het. Daar is onlangs 'n leerstoel vir Afrikaans aan die Universiteit van Amsterdam ingestel. Al die wysheid wat gelug is oor Afrikaans deur mense wat van taalontwikkeling soveel weet as 'n hoender van sterrekunde, het gelukkig verdwyn in die dryfsand van die vergetelheid. Maar daar lê nog baie voor. Ons volk se kritiese sin moet skerper word. Ons kan nie gedurig tevrede wees met minder goeie kunsprodukte nie, ons toneelkuns moet styg in waarde, ons smaak moet verfynd raak. Dit word darem so gaandeweg tyd dat mense nie meer op tragiese momente in 'n toneelstuk, waar dit goed voorgestel word, sit en skud-lag nie. En daar bestaan nie meer rede dat toneelspelers ons rede gee om te lag nie.

Daar bestaan geen rede meer vir sprekers wat dit so graag het oor „kultuur” en ons „geliefde skrywers” nie om 'n kraan van leë retoriek oor 'n gehoor oop te draai, terwyl hulle self geen Afrikaanse boeke in hulle boekrak het nie of miskien 'n paar werkies besit uit die jaar nul. Sulke mense is inderdaad 'n gevaar vir ware kultuur.

Dit word so gaandeweg tyd dat dit as onopgevoed geld as jy niks van jou eie letterkunde en kuns weet nie, net soos dit as onopgevoed geld om jou taal te deurspek met allerhande vreemde woordjies, onder die mening dat dit meer „deftig” is.

Laat die Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes naas mekaar bou, laat elkeen sy eie taal suiwer hou, laat elkeen sy eie waarde besef.

Die ontwikkeldes onder die Afrikaanssprekendes moet 'n geestelike front vorm wat die minderbevoorregtes moet lei. Wanneer sal die dag aanbreek dat elke Afrikaner trots is om sy taal suiwer te praat en te lees en met krag help om die toekoms daarvan te verseker? Ons verwelkom in die Suid-Afrikaanse kunsprodukte alles - of dit van 'n Engelssprekende of Afrikaanssprekende kom - wat waarlik wortel in eie bodem, wat die uitdrukking is van 'n gees wat lewe in die atmosfeer van Suid-Afrika. Ons wil hier 'n kultuur opbou, jonk en fris, wat iets afsonderliks besit, iets wat kan bydra tot die groot mensheidskultuur. Ja, ons glo uit ons hart aan die toekoms van ons kultuur en letterkunde. Maar om dit te bereik is nodig verdieping en versuiwering van gees, 'n harmoniese lewe by indiwidu en volk, 'n lewe wat sy krag put uit eie bronne.

So 'n lewe moet uit wees bokant die kleinlike, die vreesagtige; in hom moet 'n groter skeppende krag werk. „In so 'n handeling,” sê die Duitse wysgeer Fichte, „handel die mens (129) self nie meer nie, maar God in sy oorspronklike innerlike Wese en Bestaan is dit wat in hom handel en deur die mens sy werke verrig.” (130)

VOETNOTA:
  1. Das Problem einer Nationalen Kultur, Leipzig, 1925, bl. 8.