Die Afrikaanse gedagte/Nasievorming

Waardering van 'n gedig Die Afrikaanse gedagte
Nasievorming
deur C. M. van den Heever
Letterkunde se waarde in ons tyd


Nasievorming.


Om 'n beeld te gee van 'n ontwikkelende, groeiende volk se innerlike is geen maklike taak nie. Ons moet hier let op baie fyne, subtiele skakeringe in die binneste geestesorganisasie, ons moet kyk hoe die skaduwee langsaam vervloei en lig, hoe daar veranderinge kom, so onmerkbaar dat mens ná jare eers kan sien dat die oue weggesak het, dat daar hier en daar nog iets van sy wesenstrekke oor is, maar dat 'n nuwe orde begin heers - en dat van die ouer dinge gepraat word as „tradisie.”

Elke volk het sy eie kenmerkende eienskappe, maar nie almal tree altyd ewe duidelik op die voorgrond nie. As iemand geen persoonlikheid besit nie, dan is hy deel van die groot onpersoonlike massa, en nadat ons hom ontmoet het, vervaag die ondiepe spore wat hy op ons gees gemaak het heeltemal. Maar die man wat die lewe geïndiwidualiseer het, wat 'n eie lewensoortuiging, 'n vaste vorm vir sy ervaring in die oewerlose grootheid van die lewe gevind het, is 'n persoonlikheid, ons voel daar is iets kenmerkends in sy hele optrede. Hy maak indruk op ons, want die ideë wat hy verteenwoordig, kom helder en afgelyn na ons. Hy besit 'n eie oordeel, 'n houding teenoor situasies. Hy is lewensbewus. Net so tree 'n volk ook uit die chaos van die omringende lewe en soek na 'n gestalte in die vorm van 'n eie kultuur, van 'n vorm-omlyning van al dié dinge wat to sy kern behoort. As ons dink aan die tydperk van die Renaissance, toe uit die vormloosheid van die Middeleeue, uit die onbewuste dieptes van die volksiel die moderne staat, die moderne nasionaliteit en volksbewussyn ontwikkel het, dan gee dit ons enigsins 'n idee watter moeitevolle proses die innerlike ontwikkelingsgang van die nasies was, en hoe hulle almal, soos die ontwakende, brose vlinder uit die lelike papie, tot nuwe skoonheid en nuwe lewe gegroei het. Uit die vormloosheid na die vorm; uit die onpersoonlike na die persoonlike, die indiwiduele; uit die onbewuste van die (84) massa na die begrip van die denker - dit is die weg van alle kultuur. Die slaapsware siel gaan drink aan die bronne van wetenskap, van kuns, ja van kennis - en langsamerhand ontwaak hy tot die besef dat die groot stralende dag in onbeweeglike heerlikheid oor hom staan. Dit is 'n lang en 'n moeilike weg - daardie weg na die hoogvlaktes van die innerlike - maar wie daaruit terugkom, bring skone verhale van die beloofde land wat hy gesien het en in sy stem is daar die diepe, oortuigende klank van die wetende.

Ook ons volk het lankal terug in die geskiedenis begin op 'n moeilike weg - die weg van selfverwesenliking, en daar staan baie bakens geplant van lyding, van mislukking, van dwaling in dorre woestyne, maar ook die ligtende tekens van groei - want groei is een van die grootste kragte in die lewe. Wie die woord hoor, voel die krag van opstuwende lewe in hom. Ek het in die eerste opstel gewys op die belangrikheid van die Afrikaanse Gedagte. Dit het lankal terug ontstaan en het stadigaan ontwikkel. In die Agtiende Eeu tree dit nog nie kragtig op die voorgrond nie, maar dit werk as 'n onbewuste vormende mag wat eenheid van denkrigting aandui. Aan die begin van die Neentiende Eeu volg die groot skok. Die Kaap kom in die besit van Engeland en nou volg daar 'n botsing tussen twee tradisies. Engels is die draer van die een tradisie, maar ongelukkig word die innerlike dryfkrag en magnetisme van die ander tradisie belemmer deur die uitdrukkingsmiddel; 'n stywe Koster-Hollands word gebruik as skryftaal terwyl Afrikaans, wat gebore is saam met die Afrikaanse Gedagte, nie erken word nie. Dit het verlammend gewerk, die innerlike vormkrag van die Diets-Afrikaanse beskawing is verswak, en verengelsing het op groot skaal begin. Veral die stedelike Afrikaner is hier getref. Byna in dieselfde tyd dat daar begin lewe kom onder vooraanstaande Afrikaners om Afrikaans tot skryftaal te verhef, die Afrikaanse Gedagte dus kragtiger begin ophef veral in die vorm van verset, begin daar 'n nuwe probleem te ontstaan, wat in die toekoms die geesteskragte van die Afrikaanse volk sou sloop en die hele morele organisasie, die sorgvuldig-opgeboude godsdienstig-gekleurde beskawing sou aantas - die Armblanke-vraagstuk. Daarmee begin die geleidelike wegkalwering van die Afrikaanse selfstandigheidsgevoel, terwyl die Afrikaanse Gedagte noodwendig moes afneem in dinamiese krag. Met die Engelse Oorlog kom daar egter 'n kragtige ontwaking en die volk ryp deur dié sware ervaring tot meer bewustheid van sy eie kultuur en beskawing, sy hele geskiedenis begin 'n dieper sin vir hom kry, (85) en al is hy aanvanklik neergeslaan deur die verlies van sy vryheid, daar lewe 'n nuwe selfstandigheid op met Afrikaans as die steeds kragtiger wordende draer. In 1910 volg die Unie van Suid-Afrika en die vryheidsidee, wat die Afrikaner gedurig besig gehou het, word langs konstitusionele weg bevorder.

Maar laat ons nou eers kyk na die karaktereienskappe van die Afrikaner, want dié sal ons die meeste interesseer waar ons die innerlike wordingsgeskiedenis van ons volk self wil volg. Op die land veral het daar 'n waardige tipe boer ontwikkel, nie altyd vol uiterlike beskawingsverfyning nie, maar met 'n hoogheid van lewensopvatting, met 'n strengheid van moraal wat hom ingegee is deur sy Calvinistiese lewensbeskouing. Hierdie waardige ou ooms en tantes het bepaald 'n lewensstyl gehad, en al het hulle nie baie gedrink van die kultuurbronne van die groot wêreld daarbuite nie, uit hul Bybel en die eensaamheid het hulle 'n stoerheid, 'n vastheid van lewenswandel ontwikkel waarin sterk en edel karakters gevorm is. Dit is my vaste oortuiging dat daar die begin was van 'n gesonde, sterk Afrikaanse kultuur, wat rustig van binne-uit kon ontwikkel het tot iets moois. Maar toe begin daar die langsame wegvreting van hierdie waardige tradisie. Professor Haarhoff het vir ons al dikwels daarop gewys hoe ons landelike boer ooreenkom met die stoere ras van Romeinse boere, wat die grondslag gevorm het van 'n magtige opbloeiende kultuur. Maar deur die ontdekking van goud in Suid-Afrika, deur die groot ekonomiese verskuiwing wat daar gekom het toe die landelike bevolking na die stede begin drywe het en hulle nie daar kon aanpas nie, word die waardige karakter van die gesonde boer-tipe stadigaan ondermyn. Wie op die plaas 'n waardige grondbesitter was, 'n belangrike rol in die sosiale lewe gespeel het, raak as gevolg van verskillende faktore - wat so meesterlik ontleed is in die verslag van die Armblanke-kommissie - uit hulle grond en in die stad moet dieselfde persoon op die onderste sport begin. Die beskeidenste werkies moet hy doen - hy vee strate of lê rioolpype aan, omdat hy nie geskoold is en dus nie kan kompeteer met die man wat in die roetine van die stadslewe grootgeword het nie. Daar moet dus 'n nuwe tipe Afrikaner ontwikkel, een wat hom sal aanpas by die nuwe omstandighede en kyk of hy nie 'n eie vormgewing kan ontwikkel vir die geesteslewe van die Afrikaner in die stede nie. Maar wat se soort beskawing het in die stede ontwikkel? Meestal net die holle geratel van die hoog gemeganiseerde Westerse beskawing. En die meeste (86) Afrikaners het net dié holle geratel nageaap in 'n flou kruiwa-Engels. En die gevolg? Oor die algemeen het uit die laer stande in die stede geen sterk kultuur-bewuste Afrikaner ontwikkel nie. Eers in die laaste jare kom in hierdie opsig verandering en begin die Afrikaner in die stad rigting kry, maar daar moet nog veel gearbei word voordat die Afrikaanse Gedagte hier 'n eie gestalte sal aanneem. Want is veel wat in die laaste tyd in die stede ontwikkel tipies-Afrikaans, is dit gegroei uit die verlede en het dit heilsame aanpassing gevind? Of is dit net „vertaalde” Engelse beskawing? Dit is of die Afrikaner die herinnering aan sy vroeëre lewe vergeet het. Met die glansende vernis van 'n half-begrepe stedelike lewensopvatting pronk hy baie vrolik rond, en met 'n glimlag van hooghartigheid praat hy van die „plaasmense”. Baie van ons het nog nooit die sin van kultuur gevat nie, en die moderne masjien-dolle beskawing is vir ons die hoogste wat daar is. Want is dit nie sotheid om te sê dat 'n mooi kultuur kon ontwikkel het uit die waardige plaaslewe van vroeër nie en dat dit na die stede kon gesprei het nie? Baie mense vind so 'n argument so laf dat hulle nie eers daaroor wil redeneer nie. En tog: hoeveel ernstige denkers kom nie vandag tot die gevolgtrekking nie dat die Westerse beskawing soos 'n gevaarlike masjien sonder remme na sy einde snel. Die lewe het sy hoë sin verloor, die plesier-dolle mens het 'n angs vir die eensaamheid en vir die stilte waarin ernstige gedagtes gebore word, hy is 'n senuwee-orrel op loop na wie weet waar! Alle sedelike waardes is omvergewerp, boewe word verheerlik as romantiese avonturiers, walgelike seksboeke is aan die orde van die dag, die lande moet bewapen om oorlog te voorkom! - die hele fyn organisasie van die beskawingslewe het hande uitgeruk. Die masjien, wat deur die koninklike gees van die mens uitgedink is, het sy baas geword, dit het duisende op die strate gewerp as werkloses, dit het alle „natuur” verdryf. Hooggillend verkondig die fluite van die fabrieke vir ons wie die afgod van ons tyd is. En nou moet mense nie vir ons kom vertel dat dit die hoë „beskawing” is nie en dat die Afrikaanse volk nooit daarsonder tot iets sou ontwikkel het nie. Wel is dit 'n siekte wat in ons eeu van internasionalisme blykbaar almal aantas, maar die gevolge was in Suid-Afrika, wat tog so ver van Wes-Europa verwyder is, so ingrypend demoraliserend dat dit vir ons van besondere betekenis is.

Ek het verwys na die waardige plaastipe, met sy rustige, innerlike vertroue, sy eie opvatting van die lewe. Daardie tipe is vinnig aan die verdwyn - dié geharde pioniers wat so (87) vreemd ontuis begin voel het in die moderne Suid-Afrika en in die stede wêreldsku raak of selfs versleg onder 'n kragtige verwordingswerking. En die Afrikaner van vandag? Dit beteken nie veel om 'n pessimistiese beeld te gee van toestande van vandag nie. Elkeen ken die goue karaktereienskappe wat 'n groot deel van ons volk behou het, en elkeen weet hoe die Afrikaner hom op meer as een gebied in ons tyd vrugbaar aangepas het en 'n gesonde gees van hom laat uitgaan. En dit is juis om die behoud van dié goeie eienskappe, van die grondstowwe wat nodig is om 'n kerngesonde samelewing op te bou, dat ons moet pleit. Dit is duidelik dat baie dinge, wat vroeër mooi en tiperend was, op die plaas, vandag - en dit veral in die stede - ontaard en nog net 'n triestige indruk van uitgediendheid maak. Daar kom ook langsamerhand 'n noodlottige skeiding tussen stad en platteland, en dit veral om ekonomiese redes. Hoor ons nie vandag al baie die gemompel in die stede dat die platteland teer op die belastinggeld van die land en dat hulle daar self niks toe bydra nie? Vir baie stedelinge het die plaasbewoner 'n lui stoepsitter geword wat net agiteer om regeringshulp, plase en motors koop wat hy nie kan betaal nie, en op 'n dom-astrante manier verwag dat die Regering al sy skulde moet „afskrywe.” Baie stedelinge beskou die boer as 'n willige prooi van gewetenlose politici wat sy sentiment uitbuit, hom die verskriklikste leuen-stories vertel wat hy nooit met feite kan kontroleer nie, hom demoraliseer met partypolitiek en die hoë lewenssin, wat hy van waardige voorouers geërwe het, totaal ondermyn. En van die kant van baie plattelanders is daar vyandigheid op te merk teenoor die stedeling. Hy sit my 'n „vet” salaris, terwyl hulle dag-vir-dag moet swoeg in die gloeiende son en hul produkte aan dié meneertjies vir 'n appel en 'n ei moet weggee. So kan ons bly opsom. Maar ons vra: waar moet hierdie onverdraagsame houding heen? Dit gaan 'n skeiding veroorsaak tussen stad en platteland wat vir ons kultuur as geheel alleen noodlottig kan wees. Ons volk moet nog verdraagsaamheid leer, eerbied vir mekaar se mening. Naas die dreigende skeuring van die belange van die plattelander en stedeling, kry jy in sekere kringe ook 'n ongesonde provinsialisme - al wat nie met eie kring, groep, samelewing iets te doen het nie, is minderwaardig. Dit is natuurlik duidelik dat so 'n verregaande kleingeestigheid alleen by werklik minderwaardige geeste kan posvat, maar dikwels het hierdie soort mense magsposisies en deur hulle provinsialisme word die eenheid van die Afrikaanse Gedagte verswak en verbreek. Om 'n gesonde volk op te bou, om die groot (88) waardes waarom dit in die verlede gegaan het, te laat win, daarvoor is gesonde verdraagsaamheid nodig, want dit alleen kan waardigheid bevorder, en waardigheid is die onmisbare grondslag vir die opbouing van 'n suiwer kultuurlewe.

Maar dit is of die meeste van ons mense ons dronk gedrink het aan die politieke wyn. Vir te veel het 'n mosie van „vertroue” of „wantroue” die hoogste geword in ons openbare aspirasies. Ander staar hulle so blind op enige party-politiek dat hulle nie eers 'n kultuur-berig of beskouing or ons letterkunde wil lees in 'n blad wat nie met hul „politiek” ooreenstem nie! En dikwels gaan die „politiek” hoegenaamd nie om die „hoë beginsels” wat met 'n priesteraangesig van toewyding verkondig word nie. Hoe dikwels is dit nie net 'n boel gepopulariseerde skinderpraatjies nie: dié leier het dit gedoen en daardie een dat, en die ongeneeslike lus tot verkleinering, wat soos 'n sieklike gewas in baie van ons groei, lewe dan hoog op.

Is dit nie beskamend watter onverdraagsame, verkleinerende, politieke briewe in ons koerante verskyn nie? Arme, oningeligte mense wat dit miskien goed bedoel, maar slapeloos word om die ontstellende politieke nagmerries wat hulle ry, klim rustig op die rietperd van eie aanmatiging wat hy „nasieliefde” noem en kaffer vooraanstaande Afrikaners, wat van hom verskil van mening, uit op 'n toon asof hy al die wysheid in pag het.

Tereg is daar onlangs op gewys dat dinge soos hierdie ons sin vir goeie maniere, vir eerbied - die mooiste eienskappe wat die beste tipe Afrikaner tot dusver gehad het - stilaan wegvreet. En die treurigste van alles is dat jy 'n tipe kry wat in alle erns hierdie soort onbeskoftheid wil verdedig.

Soms hoor jy die sonderlinge bewering „ons is nou eenmaal plat boere” en daarom sê ons „miesies” en miss, daarom kan ons nou maar so „plat” as moontlik tekere gaan! Daardie mening moet uitgeroei word met wortel en tak. Almal wat dit wel meen met ons kultuur in Suid-Afrika, moet soos een man die ongesonde verpolitieking van ons volk beveg, ons moet die duiwel van onverdraagsaamheid uit ons samelewing verdrywe en hand en tand almal bekamp wat aas op ons volk se sentiment vir eie belange, wat die hoogste tradisies inskakel in hul klein seksionele strewe en die „taal” en „kultuur” gebruik net wanneer dit hulle pas - sonder dat hulle 'n Afrikaanse boek ooit behoorlik gelees het of daaraan gedenk het dat dit hulle goed sou doen om privaat klasse in Afrikaans te (89) gaan neem en te leer om dit behoorlik te praat en te skrywe - laat staan nog om kastig as „voorvegter” daarvan te dien!

Nee, ons het 'n nuwe periode in ons volksontwikkeling ingetree, 'n periode waarin oordeel ons moet lei, ons moet strewe na 'n groot kultuureenheid, waarin elke Afrikaner nodig is om dryfkrag, magnetiese, aantrekkingswaarde aan die Afrikaanse Gedagte te gee. Laat ons mekaar ontmoet op die gemeenskaplike terrein van die kultuur, leer om mekaar se mening te waardeer en om met argumente mekaar te bestry as dit moet en nie met magtelose verkleinering nie. Dit sal ontsaglik veel beteken vir die innerlike prestige van ons volk wanneer ons die politieke baldadigheid versober tot kultuur-erns en probeer om langs die weg van 'n eenheid van geestelike strewe weer die drade van ons verlede bymekaar te vat met die doel om die organiese ontwikkeling uit dié verlede nie te verloor nie. So 'n ernstige stryd wag vir ons, daar is nog so veel te verwesenlik dat ons nie ons kragte vrugteloos kan versplinter in kleinigheid nie, maar ons moet besef dat die grootse, die bindende ons moet trek en besiel. Kultuur strewe na innerlike eenheid, na die konsentrerende van die gedagte, en daarom is ons rigting die weg van die Afrikaanse Gedagte, wat 'n mag in die verlede was, 'n mag wat nog besiel in die hede en ons vervul met geloof vir die toekoms - geloof wat die enigste waarborg is vir ware vryheid! (90)