Die Afrikaanse gedagte/Voorwoord

Inhoud Die Afrikaanse gedagte
Voorwoord
deur C. M. van den Heever
Die Afrikaner se Beskawings- en Kultuurvorm



Voorwoord.

Daar was seker nog nooit 'n tyd in die wêreldgeskiedenis dat die mens so ontnugterd gevra het na die sin van die lewe, van kultuur, van die bestaan van eie volk en taal, soos vandag nie. Van die grondigste kenners van die Wes-Europese beskawingslewe twyfel aan die toekoms daarvan. Hulle lees in die ontwrigting van sedelike waardes van ná die Wêreldoorlog die duidelike tekens van dekadensie, van die ontbinding van 'n magtige maatskaplike orde en die ontreddering van 'n ekonomiese stelsel, wat met sy ingewikkelde organisasie en onberekenbare veranderinge selfs die skerpsinnigstes met wanhoop vervul. Sal die groot beskawing, wat sy wortels oor die hele wêreld uitgeslaan het, homself kan hernieu en 'n vrugbare aanpassing by ons verwikkelde lewe ondergaan? Niemand skyn te weet nie. As van die oorspronklikste geeste van ons tyd in verbystering swyg, dan maan dit ons tot beskeidenheid. Die vraag wat elke Afrikaner behoort besig te hou is: ons is deel van die Westerse Beskawing, en alhoewel ons hier aan die Suidpunt van Afrika verwyder is, word in ons tyd van internasionale verkeer elke trilling van die lewe buite ons om ook in ons land voelbaar. Ons het 'n sware roeping in Suid-Afrika: die handhawing van die blanke beskawing. Maar hoe kan ons 'n beskawing handhaaf wat reeds dekadent is? Dit is die taak van besinners in Suid-Afrika om te speur na weë waarlangs die Wes-Europese Beskawing hier in ons jong land, met sy wye vergesigte en moreel-gesonde bevolking, langs vrugbare, verjongende rigtings gelei kan word. Dit is hulle taak om te sien hoe die hele Afrikaanse staats-, kultuur- en maatskaplike organisasie, wat wortel in 'n groot verlede, uitgewerk kan word, sodat dit net in diens staan van die Afrikaanse Gedagte, wat ons hele gemeenskapslewe in sy breedste vertakkinge moet omsluit en (7) dra. Ek het 'n beskeie poging aangewend om ons groeiende kultuurlewe, die opkoms van ons taal en letterkunde, as soveel uitinge te sien van die Afrikaanse Gedagte, wat die groot stu-krag deur ons geskiedenis was, 'n eenheidsvormende mag wat oral deurgewerk het in ons volksbestaan, uit die aande en lug tot ons kom en uiteindelik van almal wat in Suid-Afrika woon, watter taal hulle ookal praat, wortelvaste Afrikaners sal maak wat tot eenheid volgroei is deur eenheid van oortuiging. Dit kon moeilik verhelp word dat in die opstelle hier en daar herhalinge voorkom. Die leser sal merk dat ek kuns en kultuur, maatskaplike aanpassing en politieke strewe as onderdele sien van die omsluitende begrip: die Afrikaanse Gedagte. Skrywers soos Streuwels, Gezelle, Van de Woestijne kan in die geheel gesien word, nie alleen om die algemeen-menslike waarde van hul kunsdade nie, maar ook omdat die Afrikaanse Gedagte 'n groot deel van die Dietse Gedagte insluit. My poging was om ons Afrikaanse prestasies altyd te sien teen die ruimer agtergrond van Europese gebeure omdat ek genoeg geloof het in die lewenskragtigheid van ons opkomende kultuur, wat ondanks die onsekerheid van die jeug, 'n waardevolle bydrae kan lewer op 'n arbeidsveld waar soveel ouer bloedverwante probeer om 'n verjeugdiging te ondergaan.

Dit sal vir elkeen wat 'n gesonde nasionale gevoel het, in die laaste tyd baie duidelik geword het dat ons volkslewe nie alleen ondermyn word deur ekonomiese euwels nie, maar veral deur 'n politieke onverdraagsaamheid wat die wortels van 'n waardevolle maatskaplike en kulturele oplewing stadigaan wegvreet. Wanneer die sterk, opbruisende volkskragte, wat vandag in waardelose kanale vervloei, kan ingespan word in die diens van die Afrikaanse Gedagte, wat as sy ondervertakkings tel 'n suiwer nasionale gevoel, 'n kragtige letterkunde, 'n gesonde maatskaplike lewe en 'n waardige toewyding aan die hoogste nasiediens, dan sal die kleinlikheid verdwyn, politiek sal tot sy behoorlike terrein teruggedring word, die leë gespeel met sentiment sal vervlugtig, en ons volk sal sy eenheid vind in die diepte van besonkenheid en aan die wye oewers van ware kultuur. Op die oomblik het ons 'n onrustige stryd om suiwer vorm te gee aan 'n kragtige gees. As dit gebeur het dan twyfel ek nie daaraan dat ons 'n letterkundige openbaring sal kry soos niemand verwag het nie. En dan sal die Afrikaanse Gedagte sy volledige gestalte gevind het in die werklikheid! (8)