Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I/Inleiding

Inhoud Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I
Inleiding
deur T. J. Haarhoff
Die kortverhaal in die epos


Inleiding

'n Sekere ironie vergesel hierdie boek. Want, terwyl feitelik al ons letterkundige genres tot ons kom uit die skeppende krag van Griekeland en Rome, - epos, liriek, drama, geskiedskrywing, oratoriese kuns, epigram, filosofiese prosa, didaktiek, satire (wat die bydrae van Rome is), die opstel, die preek - is die kortverhaal as sulks die enigste vorm wat nie deur die antieke wêreld as aparte genre ontwikkel is nie.

Nogtans vind ons die kortverhaal, of kort verhaal, ingesluit in die langer werke - die mens het van oudsher stories vertel, en as ons dit in dié sin opvat, word die veld so geweldig groot, dat ons dit besonder moeilik vind om 'n keuse te maak. Die werk van Herodotus en Livius, byvoorbeeld, wemel van interessante kortverhale, waarvan slegs 'n paar gekies kan word; en baie skrywers is totaal weggelaat. So is byvoorbeeld niks opgeneem van Heliodorus en Longus en die latere Griekse romanskrywers nie: gedeeltelik omdat (7) dat dié kunssoort beter aan die lig kom in Petronius en Apuleius, en gedeeltelik weens die lengte van hul geskrifte.

Die student wat boeke oor die tegniek van die kortverhaal lees, kom allig tot die gevolgtrekking dat dit met die kortverhaal staan soos met die „tribal lays" waarvan Kipling gewag maak:

There are nine and forty ways of
constructing tribal lays,
And every single one of them is right.

Om dié rede is die definisie van die kortverhaal taamlik rekbaar gehou en die net wyd uitgesprei.

Die skrywer is hom bewus van die feit dat 'n aantal van die voorbeelde wat hier opgeneem is, nie kortverhale in die moderne sin is nie, maar kort verhale.

Hulle is ingesluit omdat hulle die kiem van die latere ontwikkeling bevat en terwille van hul menslikheid.

Wat die taal betref moet 'n woordjie gesê word om die aantyging van „on-afrikaansheid" wat so dikwels teen vertalings van die klassieke gemaak word, te voorkom. Ek het dit naamlik nie ongeoorloof geag nie om - veral by die vertaling van Homerus en Herodotus - iets van die styl van die oorspronklike te weerspieël wat toon, ritme en sinswending betref. Ook waar die oorspronklike (8) argaïsmes besig, het ek dit gewaag om uit die ouere vorm van ons taal te put.

Die skrywer koester die hoop, ofskoon dit enigsins 'n floue hoop is, dat die menslikheid van hierdie verhale iets mag bydra tot die verstaan van die ,humanitas' van die antieke wêreld, tot die bestryding van die populêre begrip van ,klassicisme', en tot die vermindering van die bittere vooroordeel wat daar in Suid-Afrika bestaan teen die Griekse en die Romeinse beskawings.

Nota:

1. In die spelling van eiename het ek my gehou aan die reël wat deur die Akademie aangeneem is, nl. dat ons die Nederlandse gebruik volg. Maar selfs só word dit 'n vraag of jy die oorspronklike Griekse vorm by die skrywe van Griekse name moet volg en of jy die latere, en meer algemeen bekende, Latynse vorm moet gebruik. Hier is byna geen skrywer volkome konsekwent nie. Gebruiklikheid moet ons gids wees; en al was die grootste geskiedskrywer van die antieke wêreld 'n Griek, sal hy makliker herken word as Thucydides dan as Thoukydides.
2. Hierdie stukke is nie altyd letterlik vertaal nie. Dikwels is hulle vertolk om aan te pas by die ondervinding van die Afrikaner. (9)