Die Ossewa

deur Jan F. E. Celliers


Die Ossewa
edit

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe-
hul dra dit getroos en tevree.

En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna-
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.

Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe-
en ver is die tog van die dag.

Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdrans is ver en is swaar:
dit knars in die krakende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.

So, stom to die stond van hul sterwe,
blyf ieder 'n held van die daad.....
Hul bene, na swoee en swerwe,
lê vèr oor die velde verlaat......