Die Romeinse Boer/Georgica I

Vergilius Die Romeinse Boer
Georgica, Boek I: Oor die Land
deur T.J. Haarhoff
Boek II Oor Bome


Georgica. Boek I.

Oor die Land.

edit
1 - 42. Inleiding. My onderwerp is die landbou - koring, wingerd, vee, bye. Ek roep aan die hemelliggame wat die seisoene aantoon, die gode van koring en wyn. Neptunus wat eerste die perd te voorskyn gebring het, Aristaeus wat die vee voed, Pan wat oor (79) skape waak, Triptolemus wat die ploeg uitgevind het, Silvanus wat ons geleer het om bome te plant, en al die gode en godinne wat die velde bemin. Maar veral roep ek die goddelike Caesar (Keiser Augustus) aan: mag hy met guns op my stoutmoedige onderneming neersien, watter vorm sy godheid ook al aanneem.

Wat dit is wat die lande bly maak; onder watter ster l) jy die grond moet ploeg, Maecénas, en die wingerdstok langs die olm laat oprank: die sorg van vee en die aanhou van beeste; hoeveel ondervinding nodig is vir die spaarsame bye; - hiervan sal ek begin sing.

O, helderskynende ligte van die Heelal, wat die voortglydende jaar deur die hemel lei, Liber en goedgunstige Ceres,[1] indien deur u gawe die aarde Chaoniese akkers[2] geruil het vir die ryk koringaar, en bekers van Achelous-water[3] gemeng het met die pasontdekte druifsap; en julle, Fauni,[4] magte wat die boere help, kom saam aangedans, o Fauni en Druadenimfe, - jul gawe besing ek. En, o Neptunus, vir wie eerste die aarde, op slag van u drietand, die runnikende perd voortgebring het; en Aristaeus, woudsman, vir wie driehonderd sneeuwitte stiere op die bosse van Ceos[5] wei; en Pan self, wagter van die kudde, verlaat u oerwoud (80) woud en die weiland van Lucaeus,[6] as u Maenalus U dierbaar is, en wees goedgunstig naby, o Pan, god van Tegea; en Minerva, ontdekker van die olyfboom, jongeling wat ons die ploeg leer maak het en Silvanus wat die jong sipresboom dra, opgepluk, wortel en al [7] - gode en godinne almal, wat die land bewaar in jul sorg, wat die fris, ongesaaide graan laat groei, en wat op gesaaides 'n milde reën laat val.

En, bo almal, u, o Caesar,[8] van wie ons nog nie weet watter godegeselskap u sal bevat nie, en of u die stede sal wil besoek en vir ons land sorg, en of die magtige aarde u sal ontvang as die kweker van graan en regeerder van die jaargetye, en u hoof kroon met die mirte van u moeder.[9] u, van wie ons nog nie weet of u kom as god van die onafgemete see, sodat u godheid alleen aanbid word deur matrose, en of verste Thule[10] in u diens sal wees, en Tethus[11] u as man (81) vir haar dogter sal koop met die bruidskat van al haar golwe nie. Miskien ook kom u, 'n nuwe ster in die langsame somermaande, waar u plek oop is tussen Erigone[12] en die navolgende Kloue (brandende Scorpius self trek nou sy arms in voor u, en het vir u meer as die beskore deel van die hemel laat bly). Maar watter soort godheid u ook gaan wees (die Doderyk, tog seker, hoop nie om u as koning te hê nie, - so 'n vreeslike koningskap sou u wens nie wees nie! hoeveel ook Griekeland sy Elusium-velde[13] bewonder, hoeseer ook Proserpina nie wil volg die moeder wat haar terugsoek nie) gee my 'n voorspoedige reis, sien goedgunstig op my stoutmoedige onderneming neer, saam met my, bejammer die boere wat nie die pad ken nie, tree voort en gewen u oor reeds nou aan die klank van gebed.

43-70.... Ploeg aan die begin van die lente; om baie oeste te kry moet jy viermaal ploeg. Maar eers moet jy die weer bestudeer en die grond. Verskillende lande is vir verskillende saad geskik. As die grond diep is, ploeg diep en stel dit bloot aan die son, sodat onkruid verniel word: as dit ligte grond is, ploeg maar vlak so teen September (d.i. die Italiaanse september), anders kan die grond nie sy vog behou nie.

In die vroeë lente, wanneer op die wit berge die ysige vog afloop, en die brosse kluit in die weste-wind ontdooi, selfs dan wil ek hê dat die bul moet begin (82) steun voor die ploeg wat diep ingedruk word, selfs dan moet die ploegskaar begin blink soos hy geskuur word in die voor. Daardie land beantwoord eindelik die gebede van die gretige boer, wat tweemaal die somerson gevoel het, tweemaal die winterkoue: sy graanskure bars van yslike oeste.

En voordat jou ploeg die onbekende land opbreek, sorg dat jy vooraf leer ken die winde en die afwisselende gewoonte van die weer, en die behoorlike ontginning en karakter van die plek, en wat elke streek voortbring en wat dit weier, om voort te bring. Hier groei koring, daar druiwe voorspoediger; elders weer bome, en onbevole word grassies groen. Sien jy nie hoe Timolus geure van saffraan, Indië ivoor, die verwyfde Sabaei hul wierook stuur, maar die naakte Cha- lubes yster, Pontus die sterk castorea,[14] Epirus[15] merries wat die hoogste pryse op die renbaan wegdra nie?- Van oudsher het die natuur aan sulke wette besondere plekke onderhewig gemaak, 'n ewige verbond, van die tyd af toe Deucalion eerste sy klippies op die leë aarde gestrooi het, waaruit mense gebore is - 'n harde geslag. Kom dan, laat die sterk stiere onmiddellik van die begin van die lente af die ryk aarde omploeg, en laat die somer met sy volle hitte die kluite wat daar lê, bak tot stof; maar as die land nie vrugbaar is nie, sal dit genoeg wees om dit met vlak voortjies (83) effens te ploeg net na die opkoms van Arcturus[16] - sodat in die eerste geval onkruid nie die weelderige koring hinder nie, en, in die twede geval, die karige vog nie die onvrugbare grond verlaat nie.

71-83. Land moet om die beurt gebruik word: jy kan òf die land laat braak lê, òf die saad afwissel met groente. Sekere dinge soos vlas put die grond te veel uit. Maar selfs hul kan jy plant as jy goed mis gee.

Ook moet jy om die beurt die gemaaide grond laat braak lê en die land onbewerk laat hard oorkors. Of anders moet jy in 'n ander seisoen geel graan daàr saai waar voorheen jy die boontjie gepluk het - die boontjie wat hom verheug in sy ratelende doppe, of die vrug van die tenger wieke, of die bros stingels en ritselende struikgewas van die bitter wolfboontjie. Want 'n oes van vlas put die land uit, hawer put dit uit, dit word uitgeput deur papawers, besprinkel met die slaap van Lethe.[17] Maar tog, om die beurt gedoen, is die werk lig: net jy moet nie te kieskeurig wees om die droë grond met ryk mis te deurweek of om vuil as oor die uitgeputte land te sprinkel nie. Só ook, deur verandering van voortbrings, rus die land, en intussen lê die aarde nie ongeploeg en ondankbaar nie.

84-99. Om die gemaaide veld af te brand, maak die land meer vrugbaar. Dis ook goed om te êë en oorkruis te ploeg en die kluite op te breek. (84)

Dikwels ook is dit voordelig om onvrugbare lande af te brand, en om die ligte stingels in die krakende vlamme te verteer òf dit is dat die aarde daardeur 'n geheime sterkte en voedsel ontvang, of dat al die kwaad uitgebak word en die nuttelose vog uitsweet in die vuur; of dat daardie hitte meer weë en verborge asemgate oopmaak sodat daarlangs die sap in die jong grassies kan styg; en of dit liewer die aarde hard maak en sy gapende are verbind, sodat fyn reën en die te felle mag van die skroeiende son of die deurtastende koue van die Noorde nie skade doen nie. Groot dienste, voorwaar, bewys hy die lande, wat hul lewenlose kluite met 'n pik[18] opbreek en 'n eg van biesiesgoed oor hul trek, en van hoë Olumpos[19] sien goudharige Ceres nie seënloos op hom neer nie; en hy ook doen goed, wat sy ploeg omdraai en oorkruis ploeg die riffies op die reeds geploegde land, en wat gedurig die aarde bewerk en die landerye onderdanig maak.

100-159. Nat somers en droë winters is die beste. Dikwels na die saad te saai, maak die boer die grond gelyk. Soms, as dit droog is, moet hy water lei, soms weer die water aan die land aflei. Hy moet ook waak teens voëls, onkruid en skaduwee. Met opset het Juppiter die boer se werk moeilik gemaak, om so die vindingrykheid van die mens te bevorder: so het die kunste gegroei; so het die boerdery ontwikkel.

Boere, bid vir nat somers en helder winters. In die winterstof groei die graan die weligste; daardeur word die land bly. Nooit spog Miesië met sulke ontginning (85) nie, nooit bewonder Gargarus so sy oeste nie.[20] Waarom sal ek vertel van hom wat, na die saai van die saad, 'n handgeveg met die land aanknoop en die riwwe van onvrugbare grond gelyk maak, en dan die rivier in volgsame stroompies oor die land lei? En as die verskroeide grond al koorsig is met sterwende gras, kyk, daar lok hy die water van die winkbrou van 'n heuwelpaadjie af. En die water, al vallende oor die gladde klippe, wek 'n hees geluid en stort koel oor die brandende land. Waarom sou ek hom noem, wat, sodat die halm nie beswyk onder die sware aar nie, sy vee die weligheid van de koringvelde laat afvreet, terwyl die halmpies jonk is, sodra die koring gelyk staan met die vore, en wat die vergaderde vog van die vlei aflei met opsuiende sand? Veral wanneer, in die onsekere maande, die rivier vol word en oorvloei en alles oral met modder toedek, sodat hol dammetjies stoom van warme nattigheid.

En tog, na al die werk van mens en os in die omploeg van die aarde, doen die gulsige gans en die kraanvoëls van die Strumon[21] aansienlike kwaad, en die slaaiplant[22] met sy bitter wortels hinder, of die skaduwee beskadig. Die Vader self het gewil dat die weg van die boer nie gemaklik moes wees nie, en was die eerste om die mens die velde te laat ploeg deur kuns, en met besorgdheid die menslike verstand te verskerp; nòg het hy gedoë dat sy Ryk in diepe verstarring sou sluimer. Voor die tyd van Juppiter het g'n boer die (86) lande onderdanig gemaak nie; selfs was dit ongeoorloof om die veld af te merk of met 'n grensklip te verdeel; vir die algemene voorraad het mense vergader, en ongevra en ongeholpe het die aarde alles voortgebring in guller maat as nou. Dit was Juppiter wat aan die swart slang sy gif gegee het, aan wolwe hul prooisug, aan die see sy storme; wat die heuning van die blare afgeskud het,[23] vuur weggesteek het en die stroompies wat oral vol wyn geloop het, bedwing't; dat so, oefening en ondervinding gaandeweg die verskillende kunste kon uithamer, die koringhalm in die voor kon soek, en die vonkie, begrawe in die are van die vuursteen, uitslaan. Toe het die riviere eers die uitgebolde elsestam gevoel,[24] toe het die matroos naam en getal aan die sterre gegee - Pleiades en Huades en die helder Beer van Lucaon.[25] Toe het hul uitgevind hoe om wilde diere met valle te vang en met lym te verskalk, en die uitgestrekte bosland met jaghonde te omsingel. En selfs nou slaan een die wye rivier met sy net en soek die dieptes, en 'n ander uit die see trek drup-drup sy lyne. Toe het gekom stywe yster en die saag se skrilskreënde blad (want in die ou dae het hul die splitsbare hout met 'n wig gekloof) en toe die verskillende kunste. Werk, onvermoeide werk, en armoede wat druk in tyd van nood, het alles oorwen. Ceres het die eerste vir mense leer ploeg met die yster, toe akkers en arbutusbessies in die heilige woud reeds begin ontbreek en Dodona nie meer voedsel verskaf het nie. Weldra ook het die werk in die koringveld vermeerder: (87)

nare roes moet die halm vreet en die luie distel sy speke uitsteek op die land. Die oeste vergaan, 'n growwe bos van onkruid groei op, lappae en triboli, en te midde van die nette lande speel die onvrugbare lolium[26] en die nuttelose wilde hawer baas. Nee, tensy jy die onkruid aanpak met gedurige gepik, en met geraas die voëls afskrik; tensy jy met jou snoeimes die skaduwee van die digbegroeide land bedwing, en met jou gebede reën afbid, helaas! te vergeefs sal jy jou buurman se groot koringhoop beloer, en jou honger troos met die geskudde eik in die bos.

160-203. Die "wapens" van die boereploeg, eg, wa, pik, jabesem. Beskrywings van die ploeg. Die dorsvloer. 'n Outydse geloof: as die amandelboom met welige bloeisels bedek is, kom daar groot hitte en 'n groot oes. Saad moet elke jaar uitgesoek word om agteruitgang te voorkom.

Ons moet ook vertel van die wapens gebruik deur die stewige boer, waarsonder daar nie saai of groei van graan kan wees nie. Eers die ploegskaar en die sware sterkte van die geboë ploeg, en die stadig-rollende waens van die Moeder van Eleusis,[27] sleë en êë en die pik met sy vermoeiende gewig; ook die nederige latjieswerk van Celeus, vleg-werk-hordes van arbutushout, en die mistiese wan van Iacchus.[28] Dit alles moet jy lank te vore voorsien en in voorraad hou, as die welverdiende (88) heerlikheid van die goddelike land jou wag.[29] Nog jonk word die olm in die woud kragtig gebuig en getem om te groei in die vorm van n ploegstert, en neem dit aan die vorm van die geboë ploeg. Aan die ent word vasgemaak die agtvoet-paal, twee rysterbanke, en die skaarblok[30] met sy dubbel rug. Vooraf word die ligte lemmetjieboom afgekap om die juk te vorm, en die hoë beuk vir die ploegroer wat die onderste van die ploeg van agter moet draai, en, gehang oor die vuurherd, word die eikehout deursoek deur die rook.

Baie leringe van die outydse mense kan ek jou meedeel, tensy jy terugdeins, en dit jou verveel om van nederige sorge te hoor. Voor alles moet die dorsvloer met 'n swaar roller gelyk gemaak word, en met die hand bewerk en gesement met taai potklei, sodat gras nie daarop groei nie, en die stof nie baas word en dit laat kraak, en dit dan 'n speelgrond word vir verskillende peste nie. Dikwels maak 'n klein muisie sy huis onder die aarde en bou sy skuur, of 'n blinde-mol grawe sy slaapkamer, of 'n padda word in 'n holte ontdek, en al die wemelende skepsels wat die aarde voortbring; en die koringwurmpie plunder 'n groot hoop koring, die mier wat vrees vir 'n nooddruftige ouderdom. Ook moet jy oplet, as die amandelboom in die bos 'n ryke kleed van bloeisels aantrek en sy welriekende takke afbuig: as daar oorvloed van vrug is, sal die koring net so oorvloedig wees, en groot sal wees die dorswerk wat tesame met groot hitte sal kom. Maar as skaduwee, weens die weelderigheid van die blare, (89) oorvloedig is, tevergeefs sal die kafryke halme gedors word op die vloer.

Met eie oë het ek al gesien dat baie saaiers hul saad dokter, en vooraf week in soda en in swart olyfdroesem, sodat die vrug groter kan wees en die dop bedrieglik, en sodat hul maklik gekook kan word, hoe klein die vuur ook. Ek het gesien dat saad wat reeds lank uitgesoek is en met groot moeite ondersoek, nogtans agteruitgaan, tensy menslike energie elke jaar die grootste met die hand uitkies. So, by beslissing van die Noodlot, word alles gou-gou slegter en glip agtertoe, net soos iemand wat met moeite sy boot stroom-op forseer - verslap hy miskien sy spiere, al dadelik met voortstortender stroom voer die rivier hom blindelings af.

204-255. Die boer moet die sterre gadeslaan net soveel as die matroos: die sterre vertel vir hom wanneer hy verskillende saad moet saai. Daar is vyf hemelgordels (zonae). Die Noordpool en die Suidpool. Die twee halfronde.

Nog meer, ons moet net so versigtig die ster Arcturus en die dae waarop die Haedi[31] skyn en die helder Slang, gadeslaan as hulle wat, op hul huiswaartse reis oor die winderige see, hul geluk soek op die Swart See en die engtes van oestertélende Abudos. Wanneer Libra die ure van dag en nag gelyk maak en die wêreld gelyk verdeel tussen lig en skaduwee,[32] dan, o boere, (90) span die stiere in, saai gars op jul lande, dwars deur tot die eerste reën van hopelose winter toe. Ook is dit tyd om die vlas en die papawer van Ceres[33] te plant, en reeds lank moes jul oor die ploeë gebuk het, terwyl jul kon, met 'n droë aarde, terwyl die wolke hang. In die lente word die boontjies gesaai, dan ontvang die krummelende vore jou ook, gras van Medië; en die jaarlikse sorg van die manna[34] nader, wanneer die spierwit stier met vergulde horings[35]die jaar open, in die Hondster padgee en ondergaan. Maar as jy die grond bewerk vir 'n oes van tarwegraan en taai spelt en die koringaar alleen begeer, sorg dat eers die Atlantides[36] hul môre-ondergang bereik en die Kretensiese ster van die brandende Kroon[37] wegsink, voordat jy aan die vore die verskuldigde saad toevertrou en haas om die hoop van die jaar aan die onwillige aarde[38] te oorhandig. Baie mense begin voor die ondergang van Maia; maar as 'n oes van leë halme bespot hul verwagting.

Maar as jy wieke wil saai, en die algemene boontjie, en (91) nie die sorg van die Egiptiese lensie verag nie, g'n onsekere teken sal die ondergaande Arcturus jou stuur nie. Begin, en gaan aan met saai tot die middel van die winter toe. Dit is om dié rede dat die goue son sy sirkel afgemeet in vaste dele, deur die twaalf sterre van die wêreld lei.[39] Vyf gordels loop daar om die hemel; waarvan een altyd bloos in die hitte van die bakkende son, verdroog deur sy vuur; daarom, aan die regter- en linkerkant, loop die buitekantste twee, bleek, styf van ys en (92) donker reënbuie; tussen hierdie twee en die middelste gordel is daar twee, aan vermoeide sterwelinge as 'n gawe van God gegee, en deur albei is 'n pad gesny, waar die skuinse prosessie van die twaalf sterre kan draai. Die wêreld, wat steil opstyg in die rigting van Skuthia en die Rhiphaeïese berge, sink afdraand na Libua en die suide toe. Die noordpool is altyd oor ons omhoog; maar die suidpool word aanskou onder ons voete deur swart Stux en die diepbegrawe spoke heen. Hier, met golwende swaai, seil die geweldige slang, om en deur die twee Bere in die vorm van 'n rivier - die Bere wat bevrees is om hul te doop onder die vloer van die oseaan. Daar (so sê hul) is daar òf die doodse stilte van middernag, en die donkerheid word digter onder die ewige mantel van die nag, òf Aurora kom van ons af terug en bring die daglig weer daar; en as die eerste dagbreek op ons met sy asemlose perde blaas, steek blosende Hesperus daar die aand se ligte op. Hieruit kan ons vooraf leer ken die weer van die afwisselende hemel, hieruit die datum van maai en die tyd van saai, en wanneer dit pas om deur die verraderlike marmergladde see met roeiers te roei, om gewapende vlote van stapel te laat loop, of, op die regte tyd, die pynboom in die bos af te kap.

257-256. As die weer reënagtig is, kan jy op jou gemak doen dinge waaroor anders gehaas moet word, soos die skerp maak van ploegskare, die maak van trogge, die merk van skape. Selfs op heilige dae word sekere dinge toegelaat: waterlei, heinings maak, voëls vang, doringsbossies brand, dip van skape, mark-toe gaan. Party dae van die maand is gelukkig, ander nie.

Nie tevergeefs slaan ons die opkom en afsterwe van die sterre gade, en die vier seisoene wat die jaar gelyk verdeel nie.

Wanneer ook die winterreëns die boer tuis hou, kan hy betyds doen baie dinge waar hy anders in mooi weer oor moet haas. Die ploeër maak die harde punt van (93) die stomp skaar skerp; hy hol trogge uit die boomstam; of hy brandmerk sy skape of nommer die koringhope. Ander maak pale skerp, en die gevurkte boomstutte, en berei wilgertakkies om die wingerdstok mee vas te maak. Nou moet die mandjie lig gevleg word van braamstruike,[40] nou moet jy die koring oor die vuur rooster en op die meulsteen maal.[41] Ja, selfs op die heilige dae is dit reg en geoorloof om sekere dinge te doen: daar is g'n godsdienstige beswaar teen water lei, of jou oes met 'n heining te beskerm, of valle vir voëls te stel of doringbossies aan brand te steek of die blêrende kudde in die heilsame rivier te dip nie. En dikwels laai die drywer die stadige eseltjie se sye met olie of goedkoop appels, en as hy terugkom van die mark af, bring hy 'n geriffelde meulsteen of 'n massa swart pik.

Die maan self beskik dat verskillende dae in verskillende volgorde gelukkig sal wees vir werk. Vermy die vyfde dag: dis die geboortedag van bleek Orcus en die Eumenides;[42] toe het Aarde die vervloekte Coeus en Iapetus voortgebring en wrede Tuphoëus en die broers wat 'n verbond gemaak het om die hemel neer te pluk. Driekeer het hul probeer om Ossa op Pelion te plant, ja, en om loofryke Olumpos op Ossa te rol; driekeer het die Vader met sy donder hul (94) opgehoopte berge uiteengeslaan. Die sewentiende dag is gelukkig beide om die wynstok te plant en om osse te tem en om 'n nuwe weefsel op te sit.[43] Die neënde is gelukkig vir slawe wat wil wegloop, maar sleg vir die dief.

287-311. Alles het sy tyd: sommige dinge word beste in die nag gedoen. Op 'n wintersaand sit die boer soms en timmer, terwyl sy vrou al singende weef of moskonfyt kook. Dors, ploeg en saai as die weer warm is: winter is die rustyd van die boer - ofskoon jy selfs dan nie slaphandig hoef te wees nie.

Daar is baie werkies wat selfs beter in die koue nag gedoen word, of wanneer met sonsopgang die Daeraad ons aarde met dou besprinkel. By nag word die ligte stoppels[44] beter afgemaai, en beter die droë veld: by nag ontbreek die aanklewende nattigheid nie.[45] En een ken ek wat opsit by die laat lig van die wintervuur, en sy fakkels punte gee met skerp staal; intussen, haar langdurige arbeid met 'n lied verligtende, loop sy huisvrou met klinkende kam[46] die weefsel-drade deur, (95) of op die vuur kook sy die soet mossap en skuim met blare die kokende koper-pot af.[47]

Maar die blosende koring word in die hitte van die somerdag afgemaai, in die hitte van die somerdag word die geroosterde koring gedors. Lê af jou opperkleed as jy ploeg of saai. - Winter is 'n tyd van ledigheid vir die boer: in die winterkoue geniet die boere gewoonlik wat hul gewen het, en vrolik berei hul partytjies onder mekaar voor. Gesellige winter nooi hul uit, en los hul kwelling op - soos swaargelaaide skepe wat nou die hawe bereik het, en vrolik op die agterstéwe het die matrose kranse geplaas. Maar dan is ook die tyd om akkers te pluk en die bessies van die lourier, van die olyf, en die bloedrooi mirtebessies; dan is die tyd om valle te stel vir die kraanvoëls, en nette vir die hert, om die langoor-hase te jag, die hinde neer te vel met geswaai van Baleariese vlaswerk-slinger,[48] dan, wanneer die sneeu diep lê en riviere hul ysblokke stoot.

311-350. In die Herfs en in die Lente moet die boer ook waaksaam wees. Selfs as die koring ryp is, kom daar soms 'n geweldige storm. Daarom moet jy die sterre gadeslaan en, bo alles, die gode vereer.

Waarom sou ek vertel van die storme en sterre van die najaar, en waaroor, wanneer nou die dag korter is en die somer sagter, die boere moet waak? Of wanneer die lentelug in reën neerval, as reeds die geaarde oes sidder op die land, en wanneer die groen halm swel met melkagtige graan? Dikwels het ek gesien, wanneer die boer sy maaier die goue land inbring en reeds die (96) brosgehalmde gras begin sny, hoe al die winde saambots en oorlogvoer, sodat hul opskeur, self van die wortels af, en omhoog hef, breë stukke geaarde koring, só, met swart rukwind, voer die storm die ligte halm en vlieënde strooi weg. Dikwels ook kom daar in die lug 'n onmeetbare kolom water, en die wolke, uit die see vergader, pak met swart reënstorme 'n afsiglike onweer saam. Die hoë hemel stort neer, en met magtige reën spoel hy weg die blye graan en die arbeid van die osse; slote loop vol; hol riviere groei briesend aan; die see-engtes kook hygende. Die Vader self, in die middernag van reënwolke, swaai sy donder met flikkerende regterhand. En by die slag beef die breë aarde; skielik is die wilde diere weggevlug, en onder al die volke buk menslike harte laag van vrees; maar Hy met brandende wapen vel neer Athos of Rhodope of die hoë Acroceraunia. Die suidewind huil dubbel hard, dubbel hard val die reën. Onder die magtige wind is dit nou die woud, nou die strand, wat hul lot bekla.[49]

In vrees vir so 'n storm, moet jy die hemel met sy maande en seisoene gadeslaan, en oplet waarheen die koue ster van Saturnus wyk en in watter sirkels die (97) vurige Mercurius dwaal. Voor alles, aanbid die gode, bring jaarlikse gawe aan magtige Ceres, en maak offerande op die welige gras by die uitgang van die winter en as die lente helder skyn. Dan is die lammers vet, en dan saggeurig die wyn, dan is slaap soet en dik op die berge lê die skaduwees. Sien toe dat al die plaasmense vir Ceres aanbid; vir haar moet jy heuning meng met melk en met ryp wyn, en driemaal moet die slagoffer wat geluk aanbring, om die jong graan stap, en die hele bende van jou maats moet dit juigend geselskap hou, en vir Ceres aanroep en haar huiswaarts nooi. En niemand moet sy sekel onder die ryp are insteek, voordat hy, ter ere van Ceres, sy hoof bekroon met 'n kronkelende eikekrans, deel neem aan die landelike dans en haar hiemne sing nie.[50]

351-392. Juppiter het ons tekens gegee waardeur ons die weer kan voorspel; dié moet die boer studeer.

En sodat ons hierdie dinge deur sekere tekens kan leer ken, tye van warmte en reën en die winde wat koue weer bring, het die Vader self beskik watter waarskuwing die maandelikse maand sou gee, op watter teken die suidewind sou gaan lê, en watter sein, as hul dit herhaaldelik sien, die boere sou waarsku om die vee nader aan die stal te hou. Al dadelik, as die wind opkom, begin die see-engtes onrustig te swel, en op die berge word gehoor 'n droë gekraak; of daar is 'n verwarde ego oral langs die strand, en die geruis van die woud neem toe. Reeds dan onthou die golf hom met moeite, van die gekromde skip, wanneer die seevoëls snel terugvlieg van die middel van die see af en skreeuend die strand nader, en wanneer die seehoender op droë land speel, en die reier haar geliefde vlei verlaat en bo die hoë wolk gaan vlieg. Dikwels ook, as wind aan die kom is, sal jy vallende sterre deur die lug sien gly en deur die donkerheid van die nag lang vlam-paaie wit sien flikker in hul spoor; dikwels sal jy ligte kaf en vallende blare sien rondvlieg (98) of drywende veertjies saamspeel op die oppervlakte van die water. Maar wanneer daar weerlig is in die streek van die barse noorde, en dit donder in die huis van die ooste- en die westewind, dan word al die lande oorstroom, die slote loop vol en elke matroos op die see trek sy reën-nat seile in.

Nooit oorval die reën ons sonder waarskuwing nie; want òf, terwyl hy saampak in die dieptes van die valleie, vlug die kraanvoëls vir hom omhoog, of die verskalf kyk op na die hemel en snuif die lug in met wyd-oop neusgate, of die skrille swawel vlieg vinnig om die dam, en in die modder herhaal die paddas hul aloue klaaglied. Heel dikwels ook bring die mier langs haar noue, betreë paadjie die eiers uit haar binnekamers, en die ontsaglike reënboog drink die vog op, en die kraaileër verlaat hul weiland in 'n lang kolom en kletter met hul vlerke, en voëls wat rondom die Asiatiese velde van die Caüstros[51] in die varswater-poele soek vir kos - dié kan jy sien wedywerend 'n mag van water op hul rugge spat, nou met hul koppe in die golwe vasloop, nou na die branders hardloop, en, in hul lus om te baai, vol ydel verlange. En dan aanhoudend roep die kraai om reën met volle stem, en alleen by haarself stap sy stadig op die droë strand. En selfs by nag, vir die meisies wat sit en spin, is die storm nie onvoorspelbaar nie, wanneer hul in die brandende lamp die olie sien flikker en 'n sponsagtige gewas om die pit sien groei.

393-460. Die tekens van mooi weer. Het diere 'n bo natuurlike insig in die toekoms? Die son en die maan gee die sekerste tekens.

Nie minder sal jy na reën mooi dae en wolklose lugte kan voorspel en herken deur vaste tekens nie. (99)

Want dan is die lig van die sterre nie dof om te aanskou nie, nòg kom die maan met die geleende lig van haar broer se strale op,[52] nòg dryf dun wolwolkies deur die lug. Die alcuon-voëls, gelief deur Thetis,[53] sprei nie op die strand hul vlerke na die flou son uit nie, en vuil varke vergeet om hul beddegoed los te vroetel. Maar die wolke soek weer die lae grond op en lê op die vlakte; en die naguil van die daktoppe met haar oog op die ondergang van die son, skree aanhoudend haar vergeefse lied. Nisus verskyn hoog-op in die helder lug en Sculla betaal die gelag vir daardie purper haarlok.[54] Waar ook sy in haar vlug die ligte lug met haar vlerke klief, kyk, vyandig, wreed, met groot gesnor deur die lug vlug Nisus; waar Nisus weer omhoog styg, klief sy haastig in haar vlug die ligte lug met haar vlerke.

'n Ander teken van mooi weer is dat die kraaie drie- of vierkeer met half-toe keel hul duidelike geskree (100) herhaal, en dikwels in hul hoë huisies, verheug meer as gewoonlik met een of ander misterieuse genot, gesels hul saam in die blare. Hul is bly, noudat die reën oor is, om hul jong kroos en dierbare nessies weer op te soek:[55] nie, na my mening, omdat hul instink goddelik is nie, of omdat hul deur die Noodlot 'n dieper insig as die mens in die lewe gekry het nie; maar as die weer en die ronddrywende hemelvog 'n verandering teweegbring, en die lug, nat van die suidewinde, die atmosfeer wat net nou dun was, dik maak, en wat dik was, oplos, dan verander die fases van hul gees, en hul harte voel ander gewaarwordinge as toe die wind die wolke voor hom gedryf het. Dit is die oorsprong van daardie voëlkoor in die velde; daarom is die vee bly; daarom juig die kraai. Maar as jy die haastige son en die fases van die maan wat in orde volg, sal gadeslaan, nooit sal die oggenduur jou teleurstel nie, nooit sal jy bedrieg word deur die verraderlikheid van 'n helder nag nie. Wanneer die maan die eerste haar terugkerende vuur vergader, as sy met dowwe horing swart lug omvat, baie groot dan is die reën wat berei word vir die boere en vir die see.[56] Maar as 'n maagdelike blos haar gesig verkleur, sal daar wind wees: van wind bloos goue Phoebe steeds. As sy egter by haar vierde opgang (want dit is die sekerste waarborg) deur die lug reis met helder horings, dan sal beide daardie dag en die wat gebore (101) word daarna, tot die end van die maand, vry wees van reën en wind, en matrose sal hul geloftes betaal op die strand aan Glaucus en aan Panopea en aan Melicertes, seun van Ino.[57]

Die son ook, beide wanneer hy opkom en wanneer hy hom in die golwe begrawe, sal tekens gee: baie seker is die tekens wat met die son gepaard gaan, die wat hy in die oggend bring, en die wat hy gee by die opgaan van die sterre. As hy by die daeraad met kolle gesprinkel is, begrawe in 'n mis, en dit lyk of die middel van sy sfeer verder weg is, wees verdag op reënbuie; want die suidewind dreig van die see af - 'n ramp vir bome en gesaaides en vee. Of as teen dagbreek, tussen dik wolke, strale uitgesprei uitbars, of as Aurora bleek oprys uit Tithonus[58] se bed van saffraan, met moeite, dan, helaas! sal die wingerdblad die ryp druiwetros verdedig: so dik op die dak dans ratelend die wilde hael. Dit ook, as hy nou wegsink, na sy hemelreis volbring is, sal goed wees om te onthou; want dikwels sien ons verskillende kleure afwissel op sy gesig: groen beteken reën, vlamkleurig, oostewind. Maar as kolle begin meng met vurige rooi, dan sal jy alles gelyk sien oorkook met storm en wind. Op so 'n nag laat niemand my raai om oor die see te seil of van die land af my skeepskabel los te maak nie. Maar as sy sfeer helder sal wees, wanneer hy die dag terugbring en wanneer hy die dag wat hy gebring het, begrawe, vergeefs sal jou vrees vir reënbuie wees, en die bosse sal jy in 'n onbewolkte noordewind sien waai.

461-497. Die son gee tekens nie alleen van die weer nie, maar van naderende gebeurtenisse op politieke (102) gebied. Toe Caesar vermoor was, het hy sy hoof weggesteek, uit medelye met Rome. Maar, inderdaad by daardie geleentheid het die aarde en diere ook tekens gegee. Allerhande wondertekens het burgeroorlog voorspel. In die toekoms sal die boer nog geraamtes en verroeste wapens opgrawe.

Eindelik, wat dit is wat die late aand bring, waarvandaan die wind die mooiweer-wolke ja, wat die reënagtige suidewind oorweeg - hiervan sal die son jou tekens gee. Dat die son vals voorspel, wie sal durf beweer? Dit is hy wat dikwels ook waarsku dat verborge opstand dreig, en dat verraad en bedekte oorlog begin swel. Hy ook het Rome bejammer na die moord van Caesar,[59] toe hy sy glinsterende hoof bedek het in 'n dowwe rooi roeskleur, en toe 'n goddelose wêreld gevrees het vir 'n ewige nag. Maar destyds het ook die Aarde en die vlaktes van die see tekens gegee, ook onheilspellende honde, en voëls van ongunstige voorteken. Hoe dikwels het ons Aetna sien oorkook in 'n vloed oor die velde, haar fornuise oopgebars, en vuurbolle uitrol en gesmelte steen! Duitsland het die geratel van wapens (103) oor sy hele uitspansel gehoor,[60] met ongewone bewing het die Alpe gesidder. 'n Stem ook is oral deur die stille woude verneem, 'n magtige stem, en gedaantes, bleek op wyse wonderbaar, is gesien onder die donkerheid van die nag; beeste het gepraat (vreeslike teken!), riviere staan stil, die aarde splits oop, in die tempels ween die treurige ivoor, en brons sweet. Eridanus,[61] koning van riviere, spoel woude weg met mal warrelende draaikolk, en oor al die velde voer hy die vee tesame met hul stal. En terselfdertyd was daar geen gebrek aan dreiende draadmerkies op die onheilspellende ingewande, of aan die vloei van bloed in putte nie, en deur die nag het hooggeboude stede weerklink van die gehuil van wolwe. Op g'n ander tyd het daar meer donderslae geval uit 'n helder lug nie, nooit só dikwels het huiweringwekkende komete gebrand nie.

Daarom was dit dat tweekeer Philippi die Romeinse leërs in botsing gesien het;[62] en nie onverdiend het die gode dit geag, om tweekeer met ons bloed (104) Emathia en die breë Haemus-velde te laat ryk word nie. Ja, en die tyd sal ook kom wanneer in daardie streke die boer, terwyl hy met gekromde ploeg die aarde moeilik ophef, spere sal vind, weggevreet deur verterende roes, of met sy swaar pik teen leë helms sal slaan, en die groot[63] geraamtes wat hy opgrawe, met bewondering sal aanskou.

498-515. Gebed aan die gode en helde van Rome om Augustus te spaar, sodat vrede kan terugkom en die ploeg weer in ere herstel kan word.

Gode van ons Vaderland, en Romulus en Moeder Vesta, wat Etruskiese Tiber en die Romeinse Palatium[64] bewaar, verhinder hierdie jongeling in elk geval nie van heil te bring aan 'n verwoeste wêreld nie. Genoeg het ons, reeds lank, met ons bloed versoening gedoen vir die meineed van Troje, stad van Laomedon[65] (105)

Reeds lank misgun die hemelse paleis u vir ons, o Caesar, en kla dat u omgee vir die triomfe van blote mense; gesien dat hier reg vir onreg staan, en onreg vir reg; dat hier oorloë die wêreld bedek, hier misdade so menigvuldig is, hier g'n waardiger eer aan die ploeg gegee word nie (die lande ruig van onkruid, die boer opgekommandeer) en hier die gekromde snoeimes omgesmee word in 'n onbuigsame swaard. Hier beraam die Parters, daar die Duitsers hul oorlogsplanne; naburige stede verbreek hul onderlinge verbond en dra wapens; oor die hele wêreld woed die oorlogsgod; net soos renwaens wat uitstroom van hul stalle, - steeds sneller ja hul om die baan - en vergeefs span die leisels styf; die drywer word weggevoer deur die perde, sy span gehoorsaam, die teuels nie meer nie. (106)

Voetnotas

edit
  1. Onder watter ster - d.i. in watter seisoen van die jaar. Die sterre is die boer se kalender. Liber - Bacchus-Dionusos, god van wyn. Ceres godin van koring.
  2. Die eerste mense (volgens antieke geloof) het van akkers geleef, en die eikebosse van Chaonia (N.W. Griekeland) was hul eerste woonplek.
  3. Achelous, N.W. Griekeland, beweer die oudste van alle riviere te wees. Die Romeine het altyd hul wyn met water gemeng.
  4. Fauni - mietiese bewoners van die woud, half mens, half bok. Druades, boom-nimfe.
  5. Ceos eiland oorkant Attica, Middellandse See.
  6. Lucaeus en Maenalus gebergtes in Arcadia, waar Pan gewoon het.
  7. d.i. om dit te verplant. Van Silvanus het ons die plant en oorplant van bome geleer (so sê die legende).
  8. Caesar, d.i. die Keiser Augustus. Dit het nou gewoonte geword om die Keiser as 'n god te vereer: so groot, het die mense gevoel, was die seën van vrede op aarde. Die vergoddeliking van mense het meermaal in die antieke wêreld voorgekom, en in moderne tye het Indiërs offerandes van sigare en brandewyn op die grafte van Britse offisiere geplaas.
  9. Venus, die legendariese moeder van die geslag van Augustus, die gens Iulia, aan wie die mirte heilig was.
  10. Ultima Thule staan vir die verste en mees uitheemse land. Sal die ryk van Augustus die ganse wêreld beslaan? vra Vergilius.
  11. Tethus, vrou van Okeanos, moeder van die seenimfe.
  12. Erigone (Virgo) en Scorpius is sterre
  13. Elusium dié deel van Hades (Doderyk) waar die gelukkiges woon. Proserpina, deur die god Plato ondertoe afgevoer, het in soverre haar moeder Ceres nie wou volg nie, dat sy ses maande van die jaar by Pluto gewoon het en ses in die bó-wêreld by Ceres. Hoe aantreklik ook die Grieke die onderwêreld beskrywe, sê die digter, Augustus sou nie daar wou regeer nie. Die Romeine het hom te nodig.
  14. Castorea- niks te doen met kasterolie nie. 'n Sterk-ruikende vloeistof van die bewer verkry, eens vir medisyne gebruik.
  15. Epirus. N.W. Griekeland. Elke land bring voort die ding wat, volgens die wette van die natuur die beste daar groei. Timolus-gebergte Middel-Klein-Asië. Sabaei inwoners van S. Arabië, Chalubes, voorgestel as 'n ras op die S. kus van die Swart See; die eerste smeders van yster.
  16. Arcturus die helderste ster in die konstellasie van die Groot Beer.
  17. Lêthê - rivier van vergetelheid in die Doderyk (Hades). Die sinspeling is natuurlik op die opium wat van papawers gemaak word. Wieke (vicia) is 'n soort peulvrug wat vir voer gegroei is onder die Romeine. By ons word dit ook soms vir voer gebruik en groei wild.
  18. Rastrum - Hollands houweel met twee of meer tande om grond om te pik of kluite stukkend te slaan.
  19. In die vroegste tye is die Olumpus-berg (in N.O. Griekeland) beskou as die woonplek van die gode; later word Olumpos die uitspansel, die hemel waarheen die gode in later legendes verplaas is.
  20. d.w.s. as wanneer hul nat somers en droë winters kry. Miesië, vrugbare gedeelte van Klein-Asië; Gargarus, berg in N.W. Klein-Asië, waarskynlik beroemd vir sy vrugbare lande.
  21. Strumon-rivier N.O. Griekeland in Thrakê.
  22. Intubum -'n slaaisoort, met 'n harde kop en effens 'n bitter smaak. (Sergeaunt, Trees, Shrubs and Plants of Virgil).
  23. Daar was 'n geloof dat in die Goue Eeu mense heuning van die blare af kon vergader en dat dit uit die lug geval het in die vorm van dou. Vgl. Georg IV. I.
  24. d.i. die eerste bote.
  25. Callisto, dogter van Lucaon, deur Juno in 'n beer verander en deur Juppiter as 'n ster in die hemel geplaas.
  26. lappae, triboli, lolium - soorte onkruid.
  27. Eleusis, naby Atene, waarheen 'n mistiese optog elke jaar gegaan het ter ere van Demeter, die Aardemoeder
  28. Wan (L. vannus) deur ons 'n koringskop genoem, waarmee die koring afgeskei word van die kaf. Sy vannus is misties omdat dit in die heilige optog gedra word. Celeus, vader van Triptolemus, wat die ploeg uitgevind het.
  29. d.i. jy sal alleen die heerlikheid van die land tenvolle verdien, as jy dit vereer deur vir al die nodige gereedskap voorsiening te maak.
  30. Die skaarblok hou die antieke ploegskaar in posiesie. Die rysterbanke (ore het die Romeine hul genoem) het gedien om die grond van die skaar af te stoot.
  31. Arcturus (Beer-wagter), Haedi (die bokkies), en die Slang (Anguis) is sterre waarop matrose besonderlik moes let.
  32. Die Romeine het hul dag - die tyd tussen sonsopgang en sonsondergang - in 12 gelyke 'ure" verdeel. Gevolglik was die "uur" van die dag en die uur van die nag ongelyk; in die somer is die dag-uur langer as die nag-uur, en omgekeerd. Maar as die son in Libra (die weegskaal) is met die winternag se wending dan is die ure van dag en nag van gelyke lengte.
  33. Van Ceres, omdat Ceres voorgestel word met 'n bossie papawers, waarvan sy die saadjies geëet het om haar droefheid oor die verlies van haar dogter Proserpina te vergeet. Miskien ook omdat papawers dikwels tussen die koring gegroei het.
  34. Manna - L. milium- soort "manna," met baie klein saadjies. Eng. millet. Die gras van Medië is lusern.
  35. Die son is in Taurus - die Stier - in April, die lente of openingsmaand van die natuurlike jaar (aperio = ek open). Vergilius dink aan die wit stiere met vergulde horings wat geoffer is by 'n Romeinse triomf.
  36. Atlantides - dogters van Atlas, die Pleiades.
  37. Die kroon van Ariadne, dogter van Minos, koning van Kreta, is deur Dionusos onder die sterre geplaas.
  38. onwillig, omdat dit nog nie tyd is nie.
  39. Vergilius se enigsins verwarde uiteensetting kom hierop neer. Die aarde staan stil in die middel van 'n hemelsfeer, wat op sy as ronddraai, en waarin die sterte vasgesit is. Die N.pool is bo ons, maar die S.pool is onsigbaar onder ons, gesien (maar hy sê nie hoe nie) deur die wêreld van die dooies. Die hemelsfeer is verdeel in 5 gordels, gelyk aan die 5 gordels wat om die aarde loop. Die gematigde gordels is die beskaafde deel van die wêreld.
    Gedurende die jaar lyk dit asof die son se pad deur twaalf verskillende sterre loop. Hierdie sterre is Sodiaktekens, tekens van die Diereriem, meestal met dierename genoem - Taurus, stier; Aries, ram; Pisces, visse, ens. (Grieks : zodion 'n diertjie).
    Die twee Bere - Ursa Maior en Ursa Minor - gaan in die Noordelike halfrond nooit onder nie; daarom word hul voorgestel as "bang om hul onder die vloer van die oseaan te doop."
    Skuthia en die Riphaeïese berge staan eenvoudig vir "die Noorde." Libua is Afrika.
    Aurora, godin van die daeraad. Baie beroemd is die verse wat beskrywe hoe dag in die noordelike halfrond nag in die suidelike beteken:
    Nosque ubi primus equis Oriens adflavit anhelis
    Illic sera rubens accendit lumina Vesper.
    Die 'asemperde' trek die wa van die son.
  40. Dit lyk byna belaglik; maar Plinius vertel ons dat dit 'n gewoonte was om die dorings te verwyder en braamtakkies vir die vleg van mandjies te gebruik.
  41. Hul het die koring eers effens gerooster om dit makliker te kan maal. Vgl. Die Ou Testament, Josua V. 11 en onder vs. 298.
  42. Orcus - koning van die Doderyk: die Dood self. Eumenides - die woedende Furieë wat die skuldiges vervolg. Die volgende reëls staan op die reuse wat teen die gode wou veg - die bekende Gigantomachia.
  43. licia telae addere, lett. : strikkies vasmaak aan die alternatiewe drade van die weefsel wat oorlangs, van bo tot onder, loop (die skering). Hierdie strikkies word dan aan 'n stok vas gemaak, sodat as jy die stok lig, die drade wat dwars loop (die inslag) ingevoeg kan word. Om sulke weefsels van sulke strikkies te voorsien was altyd die eerste stap as jy 'n stuk weefwerk begin.
  44. Die Romeine het die halme by die afmaai half laat staan, om hulle later te verbrand by die bemesting van die grond of verder af te maai vir hooi.
  45. Die idee is dat die sekel meer vat het op die nat halm, en dat jou hande minder seer kry as die stoppels sag is van die nattigheid.
  46. Die kam (pecten) stoot die drade dig op mekaar.
  47. 'n Pragtige huislike prentjie. Net so vandag (behalwe vir die blare) kook ons boervrou in die suide moskonfyt.
  48. Die inwoners van die Baleariese ielande (S.O. van Spanje) was beroemd vir hul behendigheid met die slinger.
  49. 'n Vertaling kan onmoontlik die fynheid en die verhewenheid van die oorspronklike verse weergee. - Die riviere wat skielik volloop en die plaaswerk vernietig, sal vir die Afrikaanse boer nie vreemd klink nie. Athos, Rhodope, Acroceraunia - tiepe van hoë berge. Waar hul is, kom nie hier op aan nie. Vergilius, soos Milton, het die betowerende klank van eiename geken.
  50. Een van die dele van Augustus se politiek was om die landelike godsdiens van die Romein te herstel, en om sodoende die lewe en karakter van die ou tyd weer werklik te maak en die landkwessie op te los. Die dans is oorspronklik 'n godsdienstige funksie: dit sê met gebare dinge waarvoor die mens nie woorde kan kry nie.
  51. Caüstrus, rivier in Klein-Asië. Sommige van hierdie weertekens (b.v. die paddasang) is ook in ons boeretradiesie.
  52. Son en Maan, Phoebus en Phoebe, is tweelinge. Die maan, sê Vergilius, is so helder, dat dit lyk asof sy met haar eie lig skyn.
  53. Alcuone (of Halcuone), toe haar man in 'n skipbreuk omgekom het, het haarself in die see gewerp; waarop hul albei in seevoëls verander is. En die legende vertel dat gedurende die broeityd van hierdie voëls die see altyd kalm is. (vgl. Eng. "halcyon days"). Thetis, seegodin, het 'n moederliefde teenoor haar onderdane.
  54. Nisus, koning van Megara in Griekeland; sy stad is beleër deur Minos, op wie sy dogter Sculla verlief was. Sculla sny toe haar vader se purper lok, waarvan sy lewe afhanklik was, af. Daarop neem Minos die stad, maar, geskok deur die dogter se daad, laat hy haar agterbly by sy vertrek. Terwyl sy agter sy skip aanswem, word sy verander in 'n seevoël; waarop Minos, nou in 'n see-arend verander, haar aanval en agtervolg.
  55. Die reën het hul in die veld oorval; nou kom hul weer huis-toe. 'n Bekoorlike beskrywing. Soos altyd, beskryf Vergilius die diere net so simpatiek en met net soveel meegevoel asof hul mense was.
  56. As die nuwe maan baie helder is, sien 'n mens die res van die sfeer in die vorm van 'n dun sirkel: mistigheid in die lug laat dan die horings dof lyk, soos hier deur Vergilius beskrywe. Dit, sê die digter, is 'n teken van reën.
  57. Matrose het destyds dikwels 'n gelofte gemaak om aan 'n seegod iets te betaal, as hul veilig aan land kom.
  58. Tithonus, man van Aurora, die daeraad.
  59. d.i. Julius Caesar, nie, soos onder, Augustus nie. Julius Caesar het die regering van die provinsies opnuut georganiseer, en baie gedoen om die misbruike wat onder die Republikeinse goewerneurs gebloei het, uit die weg te ruim. Daarvoor was die inwoners van die provinsies hom baie dankbaar. Oral in die noorde van Italië, in Gallia Cisalpina, wat nog as 'n provinsie getel het, en waar Vergilius gebore is, het hul vir Caesar met toejuiging en alle tekens van eer ontvang. Ons kan die gevoel dus verstaan waarmee Caesar se dood hier beskrywe word, en die egtheid van die gebed wat Vergilius vir sy opvolger, Caesar Augustus, uit. Vir die wondertekens by die geleentheid van Caesar se moord vel. Shakespeare se Julius Caesar I.3.26.
  60. Deur Heyne verklaar as die Aurora Borealis ("Northern Lights") wat in die noordelike dele van Europa in die winter verskyn. Dit word vergesel deur 'n krakende geluid, waarvan die laaste verklaring is dat dit veroorsaak word deur die botsing van gevrore deeltjies nitrogeen.
  61. Eridanus, mietiese naam van die rivier Po, N.O. Italië.
  62. Twee plekke word eintlik hier bedoel: Philippi 42 v. Kr. waar Octavianus vir Brutus en Cassius oorwen het, en Pharsalia (Pharsalus) waar ses jaar tevore Julius Caesar vir Pompeius verslaan het. Albei plekke was in die Romeinse Provinsie van Masedonië (ook Emathia genoem). Albei gevegte was deel van 'n burgeroorlog. Die Haemus-gebergte is in Thrake. Dit is ver van Philippi af, en Vergilius se aardrykskunde is enigsins vaag. Kaarte was destyds maar skaars.
  63. Die idee is dat die mense in die Goue Eeu ("die goeie ou tyd") nie alleen geestelik reiner was nie, maar ook liggaamlik groter en sterker. Gedurig word die mens slegter en kleiner, sodat die boer van die toekoms verbaas sal staan oor die reusegeraamtes van Philippi!
  64. Palatium - die Mons Palatinus, die oorspronklike deel van die stad, een van die heuwels van Rome waarop Augustus se paleis was. (Palatium gee ons die woord paleis). Die Tiber word Etruskies genoem omdat die Etruskers, wat magtig was toe Rome nog maar onbeduidend gesukkel het, aan die noordelike oewer gewoon het.
  65. Apollo en Neptunus het vir Laomedon die mure van Troje help bou, maar op die end het hy geweier om hul die beloofde beloning te gee. Daarom het die gode nog altyd 'n wrok teen die Trojane en hul (mietiese) afstammelinge, die Romeine, gekoester. Vol patos is die gebed vir vrede wat Vergilius hier uit die diepte van sy hart bid. Dit was nie die eerste keer en ook nie die laaste nie, dat die bestuur van die wêreld gelyk het op 'n renwa waarvan die perde op hol gegaan het.