Die Romeinse Boer/Georgica IV
← Boek III Oor Vee | Die Romeinse Boer Georgica, Boek IV: Oor Bye deur T.J. Haarhoff |
Naskrif→ |
Georgica. Boek IV.
Oor Bye.
edit- 1-7. Inleiding.
Nou sal ek voortgaan om te sing van die heuning wat drup uit die lug, 'n hemelse gawe.[1] Sien goedgunstig ook op hierdie deel van my werk, Maecenas. In orde sal ek vir u besing 'n toneel van dinge onaansienlik, maar bewonderenswaardig, groothartige leiers en die hele volk se gewoontes en bedrywighede, hul rasse en hul gevegte. Nietig is my onderwerp; maar nie nietig die glorie nie, as net ongunstige gode toelaat, en Apollo luister na my gebed.[2]
- 8-50. Plek en omgewing van die byneste.
Eerstelik moet 'n plek gekies word waar die bye hul ter woon kan vestig, waar die winde nie kan kom nie (want wind verhinder hul om hul kos huis-toe te bring, waar skape en stotende bokkies nie op die blomme rondtrap nie, en waar die verskalf, wat dwaal in die veld, nie die dou afskud en die opskietende gras verkneus nie. Laat daar ook g'n groen akkedis met sy growwe rug by die ryk woning kom nie, of byvreters en ander voëls, en Procne wat met bloedige hande haar (158) bors gemerk het nie 3).[3] Want oral verniel hul alles en dra die bye self, al vlieënd, in hul bekke weg, kossies vir hul jammerlose kroos. Maar laat daar wees helder fonteine, en poele wat groen groei met mos en 'n dun stroompie wat wegvlug deur die gras; laat 'n palmboom of 'n groot wilde olyf die ingang van die nes oorskadu, sodat wanneer die konings[4] die eerste swerms uitlei in die lentetyd wat hul bemin, en wanneer die jong bye rondspeel, uitgelaat uit die heuningkoek, 'n naburige oewer hul kan uitnooi om hul aan die hitte te onttrek, en 'n boom hul ontmoet en skuiling gee met loofryke gasvryheid. In die middel van die water, staande of vloeiende, moet jy groot klippe en wilgertakke oorkruis neergooi, sodat hul op menige brug kan neervlieg en hul vlerke uitsprei na die somerson, as moontlik die Oostewind, terwyl hul vertoef, hul met reën besprinkel het, of blindelings in die oseaan gedoop het. Hier rondom laat groen casia en wilde tym, wat ver sy geur versprei, en 'n mag van sterk-ruikende thumbra [5] bloei, en laat viooltjie-akkers van die vloeiende fontein drink. En dan, laat die neste, of jy hul van saamgehegte, holle kurk maak, of weef van buigsame biesiesgoed, noue ingange besit; want winter (159) maak die heuning styf deur sy koue, en die hitte, weer, los dit vloeibaar op. Albei uiterstes moet gelyk deur die bye gevrees word; en nie sonder rede nie plak hul die dun skrefies in hul huis wedywerend met was toe, en met propolis van blomme vul hul die kante in, en presies vir hierdie doel versamel en bêre hul die gom, taaier as voëllym of pik van Friegiese Ida.[6] Dikwels ook, as die verhaal waar is, in 'n uitgegrawe skuilplek,[7] hou hul hul huis onder die aarde warm, en word gevind diep in uitgeholde puimsteen en in die grot van 'n uitgevrete boom. Nogtans moet jy ook warm om hul trekkerige gladde klei smeer, en hier en daar takkies daarop strooi. en laat g'n taksisboom te na aan die nes staan nie; brand g'n krappe[8] rooi in die vuur nie; vertrou hul nie aan 'n diep moeras toe, of waar die ruik van modder sterk is nie, of waar die hol rotse, getref deur die geluid, weerklink en die ego van die stem terugspring 9).[9]
- 51-87. Wat die bye in die lente doen. Hoe om hul aan te lok. 'n Geveg tussen twee "konings".
Vir die res, wanneer die goue son winter verdryf en onder die aarde geja het, wanneer hy die hemel ontsluit het met somerlig, al dadelik reis hul heen oor bos en woud, en oes die helderkleurige blomme, en ligtelik drink hul van die rivier se oppervlakte; dan, verbly deur (160) 'n misterieuse genot, sorg hul vir hul kroos en hul nes, dan smee hul kunstig die vars was, en vorm die taai heuning; dan, as jy opkyk en 'n swerm, pas uitgelaat uit die nes, deur die helder somerlug na die hemelsterre sien sweef, en verbaas staan oor die donker wolk, aangesleep in die wind, dan moet jy oplet: altyd soek hul vars water en 'n loofryke tuisplek. Hierop moet jy die voorgeskrewe geure sprinkel - gestampte byblaar en die laaggroeiende loof van die heuningwortel, en rondom moet jy 'n rinkelende geraas maak, !n die simbale van die Groot Moeder saamslaan 10).[10] Vanself sal hul gaan sit op die welriekende plek en vanself, soos hul gewoonte is, in die diepte van hul nes wegskuil. Maar as hul uitkom om te veg,[11] - want dikwels bevang tweedrag met magtige hartstogte die twee konings, - al dadelik van veraf kan jy die moed van die volk herken, en hul harte wat vinnig klop vir oorlog, want daardie hees geskal van die oorlogstrompet verwyt die talmendes, en 'n geluid word gehoor wat die gebroke note van die klaroen naboots. Dan, opgewonde, trek hul op met flikkerende vlerke, en maak hul angels in hul bekke skerp, en staan klaar met hul spiere, en in digte drom woel hul rondom hul koning en by die koninklike tent self, en daag die vyand met groot geroep uit. As hul dan 'n helder lentedag en 'n (161) oop veld aantref, storm hul uit die poorte los: Daar bots hul saam; hoog in die lug hoor jy 'n geluid; deurmekaar tol hul in 'n groot balvormige swerm, en val blindelings na onder; nie dikker val hael van die lug nie, nie so groot is die massa akkers wat reën van die geskudde eik nie. Die konings self vlieg deur die middel van die geledere, meet pragtige vlerke, en magtig is die hartstogte wat in hul enge hartjies woed, steeds beslis om nie in te gee nie, totdat die wrede oorwinnaar hierdie klomp of daardie verplig het om om te draai en te vlug. Hierdie hartstogtelike storme en hierdie magtige stryd, kan bedwing en tot bedaring gebring word deur die uitstrooi van 'n handvol stof.
- 88-115. Na die geveg moet die slegste van die twee "konings" doodgemaak word. Sodra die bye hul werk begin nalaat, moet die vlerke van die "konings" uitgepluk word, want sonder 'n leier veg hul nie. Hul moet uitgelok word om te werk deur die aanplant van 'n tuin met hul geliefkoosde blomme en bome.
Maar wanneer jy albei leiers van die geledere teruggeroep het, maak dié een dood wat die slegste lyk, sodat hy nie die oorsaak van verspilling en vernieling word nie laat die beste ongehinder in sy hof regeer. Een sal vurig skitter met growwe spikkels van goud (want daar is twee soorte), en hierdie is die beste, opvallend en skoon van aansien en blink met gloeiende skubbe. Die ander, slordig deur luiheid, sleep gemeen sy breë maag. En net soos die konings tweërlei van aansien is, so is hul volk van vorm. Want sommige is lelik en slordig, net soos die reisiger, wanneer hy van die diep stofpad voortkom en uit sy droë mond die aarde uitspuug, met dors bevang; - ander weer blink, en skitter met glans, en is vurig met goud, en hul liggame is gelyk gemerk met spikkels. Dit is die beste geslag; van hulle, in die regte tyd van die jaar, sal jy soet heuning uitdruk, en minder soet as helder, om die wrede smaak van die wyn te versag. (162)
Maar as die swerms onseker rondvlieg en in die lug speel, en die heuningkoek verag en hul nes koud laat, moet jy hul ligvaardige harte van ydel gespeel afhou. En dit is maklik: sien toe dat jy die vlerke van die konings uitpluk. Terwyl hul aarsel, sal g'n by dit waag om hul hoë weg in te slaan nie, of om die standerd in die kamp af te pluk nie.[12] Laat 'n tuin, welriekend met bloeisels van saffraan, hul uitnooi, en die wagter teen diewe en voëls, Priapus van die Hellespontus, met sy wilgersekel, hul beskerm en bewaar.[13] Hy self, aan wie sulke werk toevertrou is, moet van die hoë heuwels afbring tym en pynbome[14] en hul oral om die bynes plant. Self moet hy sy hand met harde werk deurslyt, self die vrugbare steggies in die grond steek en nat lei met vriendelike stroompies.
- 116-148. Was my ruimte nie so beperk nie, sou ek ook van tuinmaak gesing het, want goed onthou ek nog die ou tuinier van Tarentum. Maar ek moet hierdie werk aan ander oorlaat.
En waarlik, was dit nie dat, reeds naby die end van my taak, ek my seile uitrek en haas om landwaarts my boot te stuur nie, sou ek ook miskien kon sing van die sorg en ontginning wat skoonheid aan die ryk tuine skink, van die roosakkers van Paestum[15] wat tweemaal bloei, hoe die slaai hom verheug in die (163) strome wat hy drink, en die oewers groen met petersielie; en hoe die komkommer, geslinger deur die gras, in die vorm van 'n magie groei; ook sou ek nie verswyg die laatbloeiende narsissus en die stingel van die buigsame acanthus, die bleek klimop, en mirtebossies wat die strand bemin nie.
Want ek onthou dat ek, onder die torings van die burg van Oebalia,[16] waar donker Galaesus sy goue koringvelde besproei, 'n ou man van Korukos gesien het, baas van 'n paar morge verlate land, 'n land, daardie, nòg vrugbaar gemaak deur die ploeg, nòg goed vir vee, nòg geskik vir die wingerdstok. Maar hy het onder die bossies en om die wit lelies en verbenae en die klein-paad-papawer hier en daar groente geplant, en as hy laat saans tuiskom, het hy sy tafel met 'n ongekoopte fees belaai, en in sy gees aan weelderige konings gelyk gewees. Die eerste was hy om die roos in die lente, in die najaar die appel, te pluk. En terwyl nog die ryp van bitter winter die rotse splits, en met ys die loop van die riviere in toom hou, toe reeds pluk hy die saggeblaarde huakinthos, somer vir haar traagheid berispende, en die winterwinde vir hul oponthoud. Daarom was hy ook die eerste vir wie die bye volop uitgebroei het, vir wie daar oorvloeiende swerme was, die eerste om die skuimende heuning te versamel van die uitgedrukte koeke. Lemmetjiebome het hy gehad, en die gomryke pynboom: en soveel as die vrugte was, waarmee die vrugbare boom hom aangeklee het, toe die bloeisels jonk (164) was, soveel het dit ryp in die najaar gedra. Hy ook het volwasse olme in rye uitgeplant, die harde peerboom en die doringboom met pruime reeds daarop geënt, en die plautaanboom wat alreeds aan drinkers sy skaduwee verskaf. Maar wat my betref, uitgesluit deur gebrek aan ruimte, gaan ek hierdie onderwerp verby, en laat dit oor aan ander om ná my te behandel.
- 149-218. Wonderlike instinkte van die bye: 'n beloning vir hul dienste aan die suigling Juppiter.
Kom nou, ek sal verklaar watter natuur Juppiter self aan die bye gegee het, en vir watter beloning hul die harmoniese geluid van die Curetes gevolg het, en die Koning van die Hemel diep in die Kretensiese grot gevoed het.[17] Hul alleen het gemeenskaplike kinders, en huise wat hul deel in hul stad; alleen[18] bring hul hul lewe onder magtige wette deur en ken 'n vaderland en 'n vaste woonplek. En, gedagtig aan die winter wat sal kom, werk hul in die somer, en bêre hul winste vir gemeenskaplike gebruik. Want sommige sorg vir die kos, en werk in die veld volgens verbond; sommige, agter die barrikades van hul huise, lê die eerste fondamente van die koeke, traan van narsissus en taaie basgom, en dan hang hul die aanklewende wasmure op; sommige lei die volwasse kroos, hoop van die volk, uit; ander pak die rein, rein heuning, en rek die selle (165) met vloeibare nektar. Daar is die wat by lot aangestel word om wag te hou by die hekke, en beurtelings waak hul teen reën en bewolkte lug, of ontvang die vragte van die wat inkom, of in opgestelde gelid, weer hul af van die kraal die waterdraers, 'n lui geslag - warm gloei die werk, en die welriekende heuning is geurig met tym. Soos wanneer die Cuclopes[19] hul donder haastig maak met smedige massas metaal: sommige met die stiervel-blaasbalk pomp die lug in en uit; ander doop die brons al sissende in die water; Etna kreun onder die gewig van die aambeelde; en hul, onder mekaar, lig ritmies hul arms met magtige geweld op, en draai gedurig die yster in die vasbytende knyptang; so ook, as dit geoorloof is om klein dinge met grotes te vergelyk, dryf 'n ingebore liefde vir besit die Cecropiese bye aan,[20] elkeen in sy eie plig. Die oues moet die huis oppas, en die koeke versterk, en die ryk-geskakeerde kamers vorm. Maar die jonger bye kom moeg terug as die nag laat is, hul bene vol met tym; en oral wei hul op die arbutusboom, die liggroen wilgerboom, casia en die blosende saffraanblom, die ryk lemmetjieboom en die donkerrooi huakinthos 19a).[21] Almal geniet dieselfde rus van hul (166) werk: almal het dieselfde werktyd. In die oggend, storm hul die poorte uit; nêrens is daar een wat talm nie; en wanneer die aand hul weer waarsku om eindelik van hul wei in die veld te wyk, dan soek hul hul huis op, dan verfris hul hul liggame: jy hoor 'n gemurmel soos, hul om die kante van die ingang brom. Daarna, as hul nou in hul selle gaan rus het, word stilte diep in die nag verleng, en die slaap wat hul verdien het, bevang die lede van elk. As reën dreig, gaan hul nie ver van hul tuisplek nie, en hul vertrou nie die lug as die oostewind aankom nie, maar, veilig onder hul stad, haal hul water in die buurte, en probeer kort toggies maak; en dikwels lig hul klippies op,[22] soos dobberende bootjies ballas inneem wanneer die golwe onstuimig is, en hiermee behou hul hul ewewig deur die liggaamlose wolke.
En dat juis, hierdie gewoonte deur die bye goedgekeur word, sal jou verbasing wek, dat hul nie saamlê en hul liggame in weelderige liefde verslap nie; maar self van die blare en van die soet grassies tel hul hul kinders in hul mond op, self verskaf hul 'n koning en klein burgertjies, en vorm opnuut hul sale en hul koninkryk van was.[23] Dikwels ook op hul swerftogte kneus hul hul (167) vlerke op harde klippe, en offer vrywillig hul lewe onder hul las op: so groot is hul liefde vir blomme, en die heerlikheid om heuning te vervaardig. Daarom, ofskoon hul al gou die dood te wagte is, (meer as sewe somers lewe hul nie), as tog is die ras steeds onsterflik; staande deur baie jare bly die Fortuin van die huis, en hul voorgangers word getel tot in die derde en die vierde geslag.
Buitendien, nòg Egipte nòg magtige Liedië, nòg die nasies van die Parters of Mediese Hudaspes, het so 'n ontsag vir hul koning nie. Solank as hul koning veilig is, is almal eensgesind; verloor hul hom, dan breek hul trou, en self plunder hulle die selle wat hul gebou het, en maak die vlegwerk van die heuningkoek los. Hy waak oor hul werk; vir hom bewonder hul, en staan almal rondom in gonsende gedrang en wemel, dig opeengedring; en dikwels lig hul hom op hul skouers en stel hul liggame in oorlogstyd vir hom bloot, en soek deur wonde 'n glorieryke dood.
- 219-227. Deel die bye in daardie goddelike gees (soos sommige dink) wat deur die hele skepping loop, waaruit elke lewe spruit by sy geboorte, en waarna dit teruggaan na die dood?
Deur hierdie tekens beïnvloed, en hierdie voorbeelde, het sekere mense beweer dat die bye 'n deel van die goddelike gees besit, en die hemelse eter ingedrink het; want God, sê hul, deurtrek alle lande, en die ruimtes van die see en die hoë hemel; van Hom het vee en kuddes en mense en wilde diere in hul soorte, elkeen by sy geboorte, die subtiele lewenslig aangeneem; ja, en na Hom toe keer alles later terug, en word opgelos en weer in Hom opgeneem; en vir die dood is daar g'n (168) plek nie; maar lewendig vlieg hul na die sterreleër en styg op na die hoogte van die hemel.[24]
- 228-284. Hoe om die heuning uit te haal en die selle skoon te hou. Wat om te doen as die bye siek word.
As jy ooit hul eerwaardige huis en die heuning wat hul in hul skatkamer gebêre het, wil ontsluit, besprinkel jouself eers en spoel jou mond met 'n teug water uit, en strek in jou hand die rook, wat hul vervolg, uit. Tweemaal vergader die byboere die volop produk, twee seisoene is daar vir die oes; so gou, naamlik, as Taügete, die Pleias-ster, haar lieflike gesig aan die aarde gewys het, en met haar voet die veragte stroom van Oceanus weggeskop het, of wanneer, vlugtende voor die ster van die reënagtige Vis, sy treurig van die hemel-af in die wintergolwe wegsink. Onbegrens is hul woede, en as hul aangerand word, laat hul gif invloei waar hul steek, en vas op die aar laat hul hul angels begrawe agter, en lê hul lewe neer in die wond wat hul toebring.
Maar as jy die bitter winter vrees, en sag wil werk met hul toekoms, en jammer voel vir hul verslae gees en hul gebroke fortuin, tog wie sou aarsel om met tym hul nes uit te rook en die leë wasselle weg te sny. Want dikwels onbemerk vreet die akkedis aan die koek, en die selle is verdring deur daglig-vermydende torre en waterdraers, wat werkloos aansit by 'n ander se maaltyd. Of die bitter perdeby knoop die geveg aan met ongelyke[25] wapens, of daar kom motte, 'n vreeslike (169) geslag, of die spinnekop, deur Minerva gehaat,[26] sprei haar los weefsel in die deur. Hoe meer hul verlies, des te yweriger sal hul inspanning wees om die verwoesting van hul gevalle ras te vergoed, des te meer sal hul die galerye vul en hul skure bou met gom; van blomme. Maar as hul liggame kwyn van swaar siekte, (want vir hul ook bring die lewe ongelukke net soos vir ons) al dadelik deur g'n onsekere tekens nie sal jy dit kan herken, want meteens is die siekes se kleur anders; 'n slordige maerheid misvorm hul aansien; dan dra hul die lyke van die wat ontroof is van die lewenslig, uit, en lei die treurige begrafnis uit; of anders, kyk, hang hul met voete saamgevleg oor die deur, of vertoef almal binne die geslote huis, geesteloos deur honger, versteen en ingekrimp deur koue. Dan word 'n dieper geluid gehoor en 'n langdurige gebrom, net soos die koue oostewind soms sug in die bos, soos die opgesweepte see sis met terugvloeiende golwe, soos verterende vuur bries in die toegemaakte fornuis. Dan sal ek jou raai om welriekende galbanum te brand, en heuning te laat indrup deur rietpypies, en om selfs vir hul aan te spoor en die afgematte diertjies uit te nooi na hul bekende kos. Dit sal goed wees om ook die sap, van gekneuste galappels in te meng, of droë rose, of moskonfyt, dik gemaak op 'n groot vuur, of druiwe gedroog van die wingerdstok van Psithia, 25) en Ateense tym en centaurea met sy sterk ruik. Daar is ook die blom in die weiland, wat die boere amellus noem, 'n plant maklik om te kry; want van 'n enkele stingel rys daar 'n groot bos[27] (170) takkies; die middel is goudkleurig, maar in die blomblare, wat volop rondom uitgestrooi is, skyn daar purper onder die vioolkleur deur. Dikwels word die altare van die gode met snoere daarvan versier; bitter smaak dit in die mond; in die afgeweide valleie en langs die kronkelende strome van Mella[28] word dit deur herders gepluk. Kook die wortels hiervan in geurige wyn, en sit mandjiesvol daarvan by die deure vir kos.
- 291-386. Ingeval jy die hele swerm verloor, is daardie uitvindsel van Aristaeus - hoe hy 'n nuwe swerm uit 'n dooie kalf gekry het. Hier is die verhaal.
Maar as iemand skielik sy hele swerm kwytraak, en niks oor het waarvan hy die geslag van 'n nuwe ras kan hernuwe nie, is dit tyd om ook die merkwaardige uitvindsel van die Arkadiese byboer[29] te verklaar, en hoe, dikwels reeds, deur die doodmaak van kalwers, die verrottende bloed bye te voorskyn gebring het. Ek sal verder teruggaan, en die hele verhaal voorstel, en dit nagaan van die eerste begin af.
Want waar die geseënde ras van Masedoniese Canopus woon, by die staande water van die oorvloeiende Nyl, en in geskilderde bote rondom hul eie lande vaar, en waar die grens van boogdraende Persië op hul neerdruk, en waar die rivier wat afvloei ver van die donker Indiërs, uitsprei in sewe aparte monde, en groen Egipte vrugbaar maak met swart sand, die hele land bou op, hierdie kuns 'n gewisse uitkoms.[30] (171)
Eerstelik word 'n klein plekkie uitgekies,[31] beperk juis vir hierdie doel; dit kamp hul eng in met mure en 'n nou pannedak, en vier vensters voeg hul daaraan toe, vier vensters wat na die winde kyk, met skuinse ligte. Dan word 'n kalf gesoek wat reeds sy horings krom op sy tweejaaroud voorkop; sy twee neusgate en die asem van sy mond word toegestop, spartel hy soos hy wil, en nadat hy doodgeslaan is, word sy vleis losgestamp deur die ongebroke vel. Só laat hul hom in die toegemaakte kamertjie, en plaas stukke van takke en tym en varsgeplukte casia onder sy sye. Dit word gedoen as die eerste lentewinde die water aanroer, maar voordat die weilande met nuwe kleure bloos, voordat die praatsieke swawel haar nessie aan die balke ophang. Intussen swel die vog, warm gemaak in die sagte beendere, en gediertes wonderlik gevorm kan gesien word, sonder wete eers, maar netnou begin hul te wemel, (172) met wirrende vlerke sowel as voete, en meer en meer drink hul die dunne lug in, totdat hul uitbars, soos reën wat stroom van somerwolke, of soos pyle van die tillende boogstring uit, wanneer die ligte Parters die geveg pas aangeknoop het.
Watter god, o Muse, watter een, het vir ons hierdie kuns uitgedink? Waarvandaan het hierdie vreemder ondervinding van die mens sy stappe gerig?
Die herder Aristaeus in sy vlug van Peneïese Tempe[32] af, nadat hy sy bye (so sê die verhaal) verloor het deur siekte en honger, staan treurig by die heilige[33] fontein aan die rivier se bron, en met klagtes menigvuldig roep hy só sy moeder aan: "Moeder, Curene, moeder, wat die dieptes van hierdie stroom bewoon, waarom het u my gebaar, as afstammeling van die glorieryke stam van die gode (as werklik my vader Apollo van Thumbra[34] is, soos u sê), as ek net deur die noodlot gehaat moet wees? Of waarheen het u liefde vir my gewyk? Waarom het u my gebied om vir 'n plek onder die gode te hoop? Kyk, selfs ook hierdie glorie van my menslike lewe, wat met soveel moeite die kunstige sorg van oeste en vee vir my uitgewerk het, dit, na al my proefneminge, gee ek op - en u is my moeder. Nee, kom, en met u eie hand ontwortel my vrugbare boorde, bring verwoestende vuur in my stalle, verniel my oeste, verbrand my gesaaides, en swaai die sterk byl teen my wingerd, as u so moeg geword het vir my lof."
Maar van haar vertrek onder in die rivieraf het die moeder sy stem gehoor. Rondom haar was die nimfe (173) besig om vliese van Miletus uit te pluis (vliese geverf met ryk seegroen verfstowwe) Drumo en Xantho, Ligea en Phullodoce, hul glansryke hare uitgesprei oor hul wit nekke; en Cudippe en goudharige Lucorias, die een 'n jonkvrou, die ander vir die eerste keer moeder, Clio en haar suster Beroë, albei dogters van Oceanus, albei met goud versier, en omgord met gespikkelde velle; en Ephure en Opis en Asiatiese Deïopea, en die snelle Arethusa, haar pyle eindelik opsy gesit. En onder hul was Clumene besig om te vertel van die vrugtelose sorg van Vulcanus, en die bedrieëry van Mars en die soete diefstal, en die menigvuldige liefdes van die gode van Chaos af. En terwyl hul, bekoor deur hierdie lied, die sagte wol van hul spoele afrol, tref die leed van Aristaeus 'n twede keer sy moeder se ore, en in hul kristallyne stoele swyg almal verstom; maar Arethusa, voor al haar susters, steek haar goue hoof uit, en kyk oor die oppervlakte van die water, en van ver roep sy: "O suster Curene, nie vergeefs is jy deur so diep 'n klaaglied verskrik nie: kyk, Aristaeus self, jou grootste sorg, staan treurig wenende by die water van eerwaardige Peneus, en noem jou wreed by naam." Haar antwoord die moeder, getref in haar hart deur 'n vreemde vrees: "Lei hom, lei hom na my toe: dis reg dat hy die drempels van die gode betree." Tegelyk beveel sy die diep rivier om wyd uitmekaar te gaan, om 'n pad vir die jongeling te maak. En, bergvormig geboog, staan die water om hom heen, en ontvang hom in sy geweldige skoot en laat hom afdaal in die rivier.
En nou, in bewondering vir die huis van sy moeder en die waterkoninkryk, die poele afgesluit in die spelonke, en die ruisende bosse, baan hy voort, en verbouereerd deur die magtige waterbeweging, sien hy al die riviere onder die breë aarde voortgly, elk in sy besondere plek, die Phasis en die Lucos en die bron waaruit die diep Enipeus die eerste losbreek, en waarvandaan Vader Tiber kom, en die Anio en die Hupanis, klipperig kletterende, (174) en Musiese Caïcus, en Eridanus, sy twee horings op sy stiergesig verguld, geweldigste van al die riviere wat deur die ryk akkers na die glansende see afvloei.[35] Nadat hy die kamer met sy hangende sandsteen-dak binnegetree het, en, Curene die ydel oorsaak van haar seun se trane verneem, skink haar susters in behoorlike orde helder water op sy hande en bring handdoeke glad om aan te raak. Sommige belaai die tafels vir die fees, en plaas die volle bekers in orde neer, en die altare vlam hoog met Panchaeïese wierook.[36] En die moeder - "Neem bekers van Ludiese wyn," sê sy, "en laat ons 'n drankoffer aan Oceanus uitgiet." Tegelyk bid sy self tot Oceanus, Vader van die Heelal, en tot haar suster-nimfe wat 'n honderd woude, 'n honderd riviere beskerm. Driekeer giet sy helder nektar op die brandende vuurherd, driekeer spring die vlam met nuwe glans na die hoogte van die dak. Met hierdie voorteken versterk sy sy moed en begin toe aldus:
- 387-452. Curene gee Aristaeus die raad om vir Proteus, 'die ou man van die see op te soek. As hy hom kan vang en vashou, sal hy hoor hoe om sy bye terug te kry. Aristaeus volg haar raad.
Daar woon in die Carpathiese See van Neptunus 'n profeet, groenkleurige Proteus, wat die osean oorreis, getrek deur visse en sy tweevoetige perde-span. Hy besoek nou weer die hawens van Masedonië en sy geboorteplek, Pallene; hom aanbid ons, die Nimfe en ook bejaarde Nereus self; want hy het 'n profetiese blik (175) op alle dinge wat bestaan, wat bestaan het, en wat nog sal gebeur in die toekoms: so het Neptunus beskik, wie se magtige kuddes van lelike seeleeus hy laat wei onder die water. Vir hom, my seun, moet jy eers aan bande lê, sodat hy vir jou die hele oorsaak van die siekte mag verklaar, en jou poging laat slaag. Want, sonder geweld, sal hy g'n raad gee nie, en deur smeekgebed sal jy hom nie beweeg nie. Met harde geweld en bande moet jy hom vang en bind: dit eindelik sal sy listigheid breek en verydel. Self sal ek jou, as die son sy middaghitte aangesteek het, as die grassies dors kry en die skaduwee reeds meer welkom is vir die vee, by die ou man se skuilplek inlei, waar hy hom onttrek, moeg van die golwe, sodat jy hom sonder moeite kan aanval waar hy lê en slaap. Maar wanneer jy hom gevang het, en geboei hou in jou hande, dan sal verskillende vorme en verskynsels van wilde diere jou bedrieg; want skielik sal hy 'n stekerige swyn word of 'n dodelike tier, 'n skubbige slang en 'n geelnekkige leeuwyfie; of hy sal soos vlamme kraak en so sy bande ontglip, of wegsmelt en verdwyn in dun water. Maar hoe meer hy hom in alle vorme verander, soveel te meer, my seun, hou styf die bande wat hom bind, totdat hy weer sy gedaante verwissel en die vorm aanneem waarin jy hom gesien het, toe hy sy oë toegemaak het by die begin van sy slaap."
So spreek sy, sprinkel die vloeiende geur van ambrosia uit, waarmee sy haar seun se hele liggaam salf. En uit sy lokke, nou ordelik, asem daar 'n soete ruik, en in sy lede kom daar 'n buigsame krag. In die uitgeholde bergkant is daar 'n groot grot, waarheen menige golf deur die wind gedryf word, en opbreek en in die diepe engtes opvloei, vanoudsher 'n aller veiligste ankerplek vir matrose wat die storm gevang het: daarin skuil Proteus agter die versperring van 'n magtige rots. Hier steek die nimf haar seun weg, afgekeer (176) gekeer van die lig, en self staan sy op 'n afstand, in mistigheid gehul.
Nou brand Sirius[37] in die lug, en skroei die dorstige Indiër met felle strale en die vurige son het die helfte van sy omloop verteer; droog is die gras, en die strale verwarm en bak tot modder die hol riviere met hul uitgedroogde monde; toe kom Proteus uit die branders en soek sy bekende spelonk op; rondom sprinkel die druppende ras van die magtige see oral die sout water soos hul rondjakker. Hier en daar op die strand strek die seeleeus hul in slaap uit; en Proteus is soos 'n herder soms op die berge, wat, as aand die kalwers van die weiveld huistoe bring, en die geblêr van die lam die wolf se honger verskerp, op 'n rots in hul midde gaan sit en hul getal nagaan. En nou dat hy sy kans kry, laat Aristaeus skaars die ou man toe om sy vermoeide lede in rus neer te lê, of hy storm op hom toe met luide geroep, en boei hom vas soos hy daar lê. Hy, aan sy kant, sy kuns nie ongedagtig nie, verander homself in dinge veelvuldig en wonderlik, vuur, en 'n verskriklike wilde dier, en 'n vloeiende rivier. Maar toe nie een van sy liste hom 'n uitweg baan nie, laat hy, oorwonne, en sy ere gedaante terug, en praat eindelik met menslike stem : "Wie nou, allerbrutaalste jongeling, het jou gesê om my tuisplek te nader? Of wat wil jy van my hê?" En Aristaeus antwoord : "Jy weet, Proteus, jy weet self: jy kan my glad nie bedrieg nie, en hou nou op om dit te wens. Volgens die bevel van die gode het ons gekom om hier 'n orakel te vra vir my uitgeputte toestand." Sover praat hy. Daarop, eindelik, onder magtige geweld, rol die profeet sy oë wat brand met 'n groenagtige lig, en sy tande vreeslik knarsende, onsluit hy sy lippe om die noodlot aldus te verklaar. (177)
- 453-527. Proteus vertel die verhaal van Orpheus en Eurudice. Omdat hy oorsaak was van Eurudice se dood, het Aristaeus sy bye verloor.
"Waarlik, dit is goddelike toorn wat jou vervolg. Groot is die sonde waarvoor jy boet. Ongelukkige Orpheus stuur hierdie straf op jou ('n straf veel minder as jy verdien) - maar die Noodlot versper die weg - en vreeslik woed hy vir die gade wat hy verloor het. Sy, in haar blindelingse vlug langs die rivier om jou te vermy, sien nie (o, jonkvrou tot die dood gedoem!) die geweldige waterslang wat in die lang gras voor haar voete die wal bewaak nie. Maar die bende van haar maats, die boomnimfe, vervul die bergtoppe met hul geroep; die pieke van Rhodope ween, en hoë Pangaeus en die oorlogliewende land van Thrake, en die Getae en Hebrus en Attiese Oruthuia.[38] Hy self troos sy verterende liefde met die holle lier, en u, soete gade, besing hy, u, op die eensame strand alleen, u wanneer die dag aanbreek, en u wanneer die dag daar wegsink. Ja, die ingang van die Hel, die diep poorte van Dis,[39] en die woud, donker met swart vrees, het hy betree, die magte van die onderwêreld het hy genader, en die vreeslike koning, en die harte wat nie weet hoe om te versag voor menslike gebede nie. En, getref deur sy lied, kom daar uit die dieptes van Erebus spookgestaltes en geeste van die wat reeds beroof is van hul lewenslig, soveel soos die duisende voëls wat skuiling soek in die blare, as die aand of die winterreën hul van die berge afdryf, - moeders en mans en liggame van groothartige (178) helde, jongetjies en ongetroude meisies, en jongelinge voor die oë van hul ouers op die brandhoop geplaas. Beperk word hul rondom deur die swart modder en die lelike riete van Cocutos, en die onlieflike poel met sy stadige water hou hul gevange, en Stux wat negemaal tussenvloei, kamp hul af. Ja, selfs die huis van Hades en die binnekantste Hel van die Dood staan verbaas, en die Furieë, met groen slange in hul hare gevleg; en Cerberus het sy drie bekke gapend oopgehou, en die wind het gaan lê en Ixion[40] se wiel het stilgestaan.
En nou op sy huiswaartse reis het hy alle gevare ontsnap, en Eurudice, teruggewen, kom na die lug van die wêreld daar bo, agter in sy stappe volgend (want dit was die voorwaarde deur Proserpina vasgestel), toe 'n skielike waansin die onversigtige minnaar bevang, vergeeflik, voorwaar, wis die Magte van die Hel maar hoe om te vergewe; hy staan stil, en, ongedagtig, helaas! verbreek hy sy voorneme en, reeds onder die daglig self, kyk hy terug na sy Eurudice. Daar is al sy moeite verspil, geskend die verdrag met die meedoënlose tiran, en driemaal weerklink die donder oor die poele van Avernus. En - "Watter wilde waansin, o Orpheus, roep sy, "is nou jou ondergang, en myne, ongelukkige? Kyk, 'n twede keer roep die wrede noodlot my terug, en slaap verseël my swemmende oë. En nou, vaarwel! omring deur magtige nag, word ek weggevoer, en strek na jou kragtelose hande, jou bruid, helaas! nie meer nie!
So spreek sy, en skielik, soos rook wat in dun lug wegsmelt, verdwyn sy uit sy gesig, en daarna sien sy hom nie weer nie, terwyl hy vrugteloos die skaduwees (179) aangryp, begerig om menige woord te sê. En nie weer het die skipper[41] van Hades hom toegelaat om die versperrende poel oor te vaar nie. Wat kon hy doen, waarheen gaan, nou tweekeer van sy gade ontroof? Met watter trane die Magte van die Hel beweeg, watter gode met sy stem? Sy, intussen, seil reeds dood en koud in die Stugiese boot.
Vir sewe hele agtereenvolgende maande (so vertel hul) het hy sy lot bekla, onder 'n lugwaartsreikende rots by die golf van die eensame Strumon, en hierdie verhaal ontvou onder die yskoue sterre; en tiere streel hy met sy lied, en eikebome volg agter hom. 40)40) Vgl. Shakespeare: "Orpheus with his lute made trees
And the mountain-tops that freeze,
Follow him where he did sing."</ref> Net soos die nagtegaal treurend onder die populierskaduwee, kla oor die kroos wat sy verloor het, wat die wrede ploeër gesien het, en, nog sonder veertjies, uit die nes getrek het; maar sy beween hul die hele nag lank, en op 'n tak sit sy haar hartroerende lied en hernuwe, en alles rondom word vervul met haar treurige klagte.
G'n liefde, g'n huwelik het sy gees beweeg nie; alleen het hy gedwaal oor die Huperboreïese[42] ysvelde en die sneeubedekte Tanaïs[43] en die streke wat nooit beroof word van hul noordelike ryp nie: die verlies van sy Eurudice beween hy, en die vrugtelose gawe van Dis. Gekrenk deur so 'n toewyding, het die moeders van die Cicones 43),[44] onder die offerandes van die gode, en die wilde nagfees van Bacchus, die jongeling (180) uitmekaar geskeur en wyd oor die velde gestrooi. Selfs dan, toe Oeagriese[45] Hebrus die hoof, afgeskeur van die marmerwit nek, in die middel van sy stroom afrol, het die blote stem en die koue tong met vlugtende asem uitgeroep: "Eurudice, a, ongelukkige Eurudice!" en "Eurudice" het die oewers oor die hele stroom weergalm."[46]
- 528-558. Proteus verdwyn, en Curene bemoedig haar seun om offerhande te offer aan die Nimfe, Orpheus en Eurudice, en om die liggame in 'n bos te laat bly. Op die neënde dag gaan Aristaeus kyk (soos sy moeder beveel het) en daar vind hy nuwe swerme bye in die dooie liggame!
- "His gory visage down the stream was sent
- Down the swift Hebrus to the Lesbian shore."
So Proteus, en hy begeef hom met 'n sprong in die diepte van die see, en waar hy spring, karring hy die water in skuim op van onder die draaikolk. Maar nie so Curene nie; want onaangespreek voeg sy die verskrikte jongeling toe: "My seun, jou treurige sorg kan jy opsy lê. Dit is die hele oorsaak van die siekte; om hierdie rede het die Nimfe met wie sy in die hoë bosse die dans getree het, 'n jammerlike vernieling op die bye gestuur. Soek jy nederig hul vergewing en reik gawe aan hul uit, en aanbid die goedgunstige nimfe van die vallei; want hul sal gehoor gee aan jou gebede en afkeer van hul toorn. Maar eers sal ek jou behoorlik vertel die manier van jou gebed. Kies uit vier uitstaande stiere, voortreflik gevorm, wat jy nou in die weilande van groen Lucaeos het, en net soveel verskalwers, wat nog nie die juk gedra het nie. Vir hul rig vier altare by (181) die hoë tempels van die godinne op, en laat die offerbloed van hul kele uitvloei, en laat die liggame self van die osse alleen lê in die loofryke bos. Daarna, wanneer die neënde daeraad met haar lig verskyn, moet jy Lethaeïese papawers as offerande aan Orpheus stuur, en Eurudice, nou voldaan, moet jy met die offer van 'n verskalf vereer."
Sonder uitstel, gee hy dadelik gevolg aan sy moeder se bevele. Hy gaan na die tempels toe, rig die altare wat sy gebied het, op; vier uitstaande stiere, voortreflik gevorm, lei hy op daarnatoe, en net soveel verskalwers wat nog nie die juk gedra het nie. Daarna, wanneer die neënde daeraad met haar lig verskyn, stuur hy die offerande na Orpheus, en soek die woud weer op.[47] En hier aanskou hul 'n wonderteken, skielik, en vreemd om te vertel: gonsende bye wat die maag en verrottende vleis van die osse vervul, en wemel uit die oopgebreekte sye, 'n onmeetlike, slepende wolk, wat nou in die top van 'n boom saamvloei en trosvormig van die buigsame takke afhang.
- 559-566. Nawoord.
Só het ek gesing omtrent die sorg van velde en van vee, terwyl magtige Caesar in oorlog by die diep Euphrates donder, en oorwinnend onder die gewillige volkere wette gee en die pad na Olumpos probeer.[48] In daardie tyd het ek, Vergilius, in soet Parthenope[49] gewoon, verheug deur die werksaamhede van (182) onbekroonde[50] Vrede; ek wat eens gespeel het met herdersliedere, en, met die stoutmoedigheid van die jeug, van jou gesing het, Titurus, onder die skuiling van 'n wydgetakte beuk.[51] (183)
Voetnotas
edit- ↑ Die ou geloof, reeds meermale aangehaal. Die oorsprong van die geloof was die 'heuningdou,' 'n soet, taai stof wat soms op die blare van bome gevind word. Vergelyk met hierdie boek Maeterlinck se bekoorlike Lewe van die By (daar is 'n Engelse vertaling).
- ↑ d.i. dat die gedig 'n sukses mag wees. Apollo, met sy lier, is natuurlik die beskermgod van digters.
- ↑ Procne, dogter van Pandon, koning van Attika. Om haar man Tereus se ontrou te straf het sy hul seun doodgemaak en vir die vader laat eet. Toe Tereus haar agtervolg, is sy verander in 'n swawel, en haar suster, Philomela, in 'n nagtegaal. (Dit, altans, is die vorm van die storie wat Vergilius hier volg). "Met bloedige hande haar bors gemerk" is 'n mitologiese verklaring van die feit dat die gewone Europese swawel 'n rooi vlek op die bors het.
- ↑ Soos reeds gesê, het die Oudheid skynbaar nie die geslag van die koningin-by besef nie.
- ↑ 'n Aromatiese bossie, ook by die kookkuns gebruik, en vir die geurig maak van asyn.
- ↑ Die berg, meermale genoem, in Friegië, N.W. Klein-Asië.
- ↑ By ons word hul soms gevind in die holte van 'n erd- of ystervark; in Palestiena woon hul dikwels in rotse.
- ↑ Gebrande krappe is gebruik as medisyne en as mis.
- ↑ Dit is nog onseker of bye kan hoor of nie. Maar dit word beweer onder ons boere dat as die koningin 'n sekere geluid maak, die ander bye aangevlieg kom.
- ↑ Cubele, gedien in Klein-Asië, en daarvandaan na Rome oorgebring; meermale deur Vergilius in die Georgica aangehaal. Die saamslaan van simbale was een van die kenmerke van haar diens. Op ons boereplase is daar nog 'n geloof dat jy 'n vlieënde swerm tot rus kan bring deur op blikke te slaan.
- ↑ 'n Pragtige beskrywing. Let op die humor en ook die patos van die toneel. Die bye word beskou as mense: en die end van alles is (na al die gewoel en geveg en geraas) - 'n handvol stof. Pulvis et umbra sumus, sê Horatius, Stof is ons, en 'n skaduwee.
- ↑ d.w.s. om uit te gaan vir die geveg : die standerds (vaandels) word saam met die leër in die slag gedra.
- ↑ Priapus, god van vrugbaarheid, en veral rondom die Hellespontus (modern, Dardanelle) vereer. Houtbeelde van hom is gereeld in tuine, as beskerming vir plante en bome, opgesit.
- ↑ Die Oxford-teks lees tinus, 'n onbekende struik, maar pinus skyn beter te wees.
- ↑ Stad in S. Italië.
- ↑ Korukos, stad in Kiliewië (S. Klein-Asië) beroemd vir sy tuine. Toe Pompeius die seerowers van Kiliekië verower het (67 v. Kr.), het hy sommige van hul as setlaars in S. Italië gevestig. Die tradiesie sê dat die ou man wat Vergilius hier beskrywe, een van hul was.
Oebalia, mitologiese naam vir Tarentum, S. Italië, waarlangs die rivier Galaesus vloei. - ↑ Die legende vertel dat Kronos (Saturnus) sy kinders opgeëet het, omdat hy wis dat een van hul vir hom eendag van die troon sou stoot. Maar Juppiter is deur sy moeder weggesteek in 'n grot op die berg Dikte in Kreta, waar die Curetes (priesters van Cybele, die Groot Moeder) sy gehuil geheim gehou het, deur hul simbale saam te slaan: intussen het die bye, aangetrek deur die geluid, hom met heuning gevoed.
- ↑ Vergilius vergeet dat b.v. wespe en miere ook 'n gemeenskaplike lewe lei.
- ↑ Vgl. Georg. I. 471.
- ↑ Cecrops 'n ou koning van Atene. Cecropies dus = Ateens. Die heuning van die heuwel Humettos, naby Atene, was beroemd.
- ↑ Wat presies die antieke huakinthos was, is onseker. Dit was nie dieselfde as die Europese hiasint (Eng. hyacinth) nie, maar eerder (as ons op die beskrywing van Ovidius kan peil trek) soos die tierlelie (tiger lily):- rooiagtig, en met merkies op die blomblare, wat in die verbeelding van die Oudheid 'n rouklag bevat het vir die jongeling Huakintho per ongeluk deur Apollo om die lewe gebring.
- ↑ Dit is pure verbeelding.
- ↑ Die bynes het drie soorte inwoners: (l) Die Koningin, (2) die werkers, eintlik onontwikkelde koninginne, (3) die nie-werkende mannetjies, 'waterbye,' soos ons hul noem. Die koningin alleen lê eiers, - 2000 tot 3000 per dag - en word deur een van die waterdraers bevrug (Vgl. die wonderlike beskrywing in Maeterlinck se Lewe van die By - "The Nuptial Flight" - soos dit in die Engelse vertaling genoem word). Die werkers trou nooit. En dit kom nie selde voor dat die koningin sonder bevrugting eiers lê nie (parthenogenesis). Dat hul dus eiers van die blare optel, is nie juis nie, maar 'n verskoonbare fout in 'n onwetenskaplike tyd.
- ↑ Eter, d.i. Aether, soos baie filosowe gemeen het, was die subtiele, vurige element, wat ligter is as lug, en die Heelal omring. Hulle het dit beskou as die bron van alle lewe, en die skepper van verstand.
- ↑ d.i. veel te sterk vir die bye.
- ↑ Arachne, 'n Liediese meisie, het vir Minerva kwaad gemaak, en is deur haar in 'n spinnekop verander, miskien ook deur Minerva gehaat omdat 'n spinnerak verwaarlosing van die huis aandui, en Minerva die godin van huislike kunste is.
- ↑ Vgl. Georg. II 93.
- ↑ Rivier in Gallia Transpadana - noord van die rivier Po en suid van die Alpe.
- ↑ Aristaeus. Sien die storie wat volg.
- ↑ 'n Beskrywing van Egipte met sy grenslyne. Canopus (Masedonies genoem omdat dit naby Alexandrië was, deur Alexander, die Masedoniër, gestig) is 'n stad in die weste; die Ooste word enigsins vaag deur Persië aangedui; in die Suide is die Nyl wat afvloei van die donker Indiërs d.i. die Etiopiërs. Van die sewe monde van die Nyl bestaan daar vandag net twee. Die land word "geseën" genoem weens die vrugbaarheid van die grond. Deur Persië voor te stel as "swaar drukkend" op Egipte sinspeel Vergilius op die verowering van Egipte deur die volke van die Ooste in die verlede.
- ↑ Wat volg is natuurlik wetenskaplik onjuis. Miskien het Vergilius aan brommers gedink. Vgl. die verhaal van Simson (Rigt. XIV) waar ons egter miskien moet aanneem dat die leeu reeds 'n geraamte was. (Royds, Beasts, Birds and Bees of Virgil). Want dit is bekend dat (soos Varro gesê het) bye, in teenstelling met vlieë en brommers, nie op verrottende vleis aas nie. Tog bestaan daar 'n tradiesie onder ons dat as jy 'n swerm bye êrens wil laat intrek, jy 'n dooie rot of 'n dergelike dier in die nabyheid moet ophang.
- ↑ Peneus 'n rivier, en Tempe 'n beroemde vallei in Thessalia.
- ↑ Alle riviere en fonteine was heilig, omdat hul deur gode bewoon is.
- ↑ Distrik N.W. Klein-Asië, waar daar 'n bekende tempel van Apollo was.
- ↑ Phasis en Lucos - riviere in Colchis, N.O. Klein Asië; Enipeus, in Thessalia; Anio, naby Rome. Riviere word dikwels as stiere voorgestel, miskien weens hul briesende gebulk, of die monde wat soos horings uitsprei. Stiere se horings is dikwels verguld by offerandes. Vgl. Georg. I 482.
- ↑ Vir Panchaïa vgl. Georg. II. 139.
- ↑ Sirius, Canicula, die hondster, wat in die warmste tyd van die somer opkom.
- ↑ Pangaeus, berg in Masedonië. Rhodope, berg in Thrake, waarvan die Hebrus die grootste rivier is en die Getae 'n volk. Oruthuia, dogter van Erechtheus, koning van Attiua, weggedra deur Boreas, die noordewind, na Thrake.
- ↑ Dis, Pluto, God van die Onderwêreld, waarin Cocutos en Stux riviere is.
- ↑ Ixion: sy straf in Hades was om vasgemaak te wees aan 'n wiel wat altyd ronddraai. Maar selfs die wiel staan stil uit bewondering vir Orpheus se musiek.
- ↑ Charon, "that grim ferryman that poets write of," wat die geeste oor die Doodsrivier laat oorvaar.
- ↑ Vgl. Georg. III. 196.
- ↑ Nou die rivier Don, S. Rusland.
- ↑ 'n Ras van Thrake.
- ↑ "Oeagrus was die vader van Orpheus, sodat Oeagriese hier gelyk staan aan "vaderlike!" (Conington).
- ↑ Vgl. Milton, Lycidas.
- ↑ Die herhaling van die woorde dui aan dat Aristaeus die gebed letterlik nagekom het, met die juistheid waarop die Romeine by hul formuliere gestaan het.
- ↑ d.i. dade doen wat hom sal plaas onder die Olimpiese gode. Caesar is natuurlik Keiser Augustus.
- ↑ Ou naam vir Napels.
- ↑ In vergelyking met die glorieryke kroon wat op Augustus se politieke en militêre werk rus, lyk dit vir Vergilius asof sy eie letterkundige werk, in tyd van vrede gedoen, nouliks 'n kroon kan verdien. Tog is dit hy wat vir ons vandag die meeste waarde besit.
- ↑ Die digter sinspeel op sy Eclogae.