Die Wonderpatroontjie/Fatsoenliker verdienste

'n Franse wraakmiddel Die Wonderpatroontjie
Fatsoenliker verdienste.
deur Tonnie
Sy nuwe betrekking


Fatsoenliker verdienste.


Toe ons die aand ons geld tel, was ons nie bietjie in ons skik nie, om uit te vind, dat ons ver oor die 800 frank verdien het (dis sowat £10, want 'n Franse frank is 'n ietsie duurder as 'n Belgiese).

Maar 100 frank moes ons die volgende dag alweer afgee. 'n Afgunstige japsnoet het ons naamlik gaan verkla, dat ons sonder 'n liksens in die strate gesing het. Dít nog nie die ergste nie, maar toe ons 'n liksens wou uitneem, beduie hulle vir ons, dat ons eers 'n maand in Parys woonagtig moes wees, voordat ons 'n liksens kon kry.

Hoe nou gemaak? Na baie beraadslagings besluit ons, dat ons maar vir Danie ordentlike klere sou koop en dat hy dan in 'n hotel sou gaan werk.

Nadat ons sy uitrusting gekoop het en vir my ook 'n paar ou flenters wat darem bietjie minder wegwerplik daar uitsien, het ons net nog genoeg geld gehad om vir my , 'n - ja, wat nou? - te koop. Die ding se regte naam mag 'n mens in 'n fatsoenlike boek nie sê nie en 'n ander Hollandse naam ken ek nie. Die leser moet tog maar kyk op die portret en dan self besluit wat ek is. Die Franse naam is « petit marchand ». Letterlik vertaal beteken dit klein handelaar. Maar klein handelaar is by ons doodgewoon winkelier. Die enigste naam wat ek vir hierdie soort smous ken is « penswinkel ».

Ek sit 'n keel op, dat jy g'n hemel of aarde kon beken nie.

Daarvoor kon ek dan wel 'n liksens kry ! Toe ek vra wat dan eintlik die verskil is, sê die klerk, dat die straatmusikante te veel raas en 'n ergernis is vir die inwoners.

Ek dog so in my enigheid, oudjie, jy het dit nou darem mis, as jy dink, dat ek met hierdie winkel van my minder gaan raas as met daardie ou swygende stuk viool ! Het ek dan nie die vorige aand uitgevind hoe goed dit betaal om te raas nie ? En dit wás ook so. Voor ál die deftigste huise gaan ek staan en ek sit 'n keel op, dat 'n mens geen hemel of aarde kon beken nie. Natuurlik, dan kom die bewoner van die huis uit, koop niks nie, maar betaal my darem ewenwel om weg te gaan en gee dan vir my 'n paar adresse op van mense, wat skoenveters of studse nodig het. So het ek op dieselfde deuntjie van die vorige aand baie gou 'n sakvol geld gehad en nog ál my kamme, skoenveters, blik-horlosies, haarnaalde en ander rommel.

So onhandig soos 'n olifant met 'n tennisraket.

En Danie? Stomme jong, ek moet lag kry. Nie alleen het hy niks verstaan van die Franse kos, wat die gaste bestel nie, maar hy was nog so onhandig met die borde en goed, soos 'n olifant met 'n tennis-rakket. Net die twede of derde draai toe gaan dit soos die leser daar op die prentjie sien. Die gevolg is, dat die hotelman hom dadelik 'n week se salaris uitbetaal en hom in die pad gesteek het.

Om hom te troos stel ek dan toe die aand voor, dat ons vir hom ook maar so'n vervoerbare winkeltjie sou opsit. Maar hiervan wou hy nie hoor nie.

« Nou ja, gee my maar bietjie kans om oor die ding te slaap, dan sal ek vannag vir jou 'n betrekking uitdink. » In die volgende hoofstuk gee ek 'n beskrywing van sy nuwe betrekking.