Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk IV

Hoofstuk III Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk IV
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk V


IV.

Vir Esme was die eerste paar weke in daardie huis 'n uiters onaangename ondervinding wat sy in die omstandighede verplig was om deur te maak. Alles en algar stoot haar af. - Ben met sy ruheid, al behandel hy háár nogal beleef; Hester met haar goedheid, slordigheid en slaafsheid; Juffrou met haar vroomheid, skerp neusie, en oë wat alles sien, wat jou net hoef aan te kyk om te weet wat in jou omgaan. Die eenvoud van die omgewing beskou sy as bekrompenheid en vrekkerigheid. Sy voel oortuig dat hulle beter kán lewe as hulle net wil. Was dit nie dat sy so 'n optimis en ingenome met haarself was nie, sou sy diep ongelukkig gewees het in daardie huis. Sy het haar wysgemaak dat sy nie lank daar sou bly nie, net totdat sy mondig sou word en haar erfporsie ontvang. Intussen sou sy daar niks by wen om haar aan te stel of snaaks te hou met die mense nie want sy is nou ongelukkig van hulle afhanklik.

Maar die lewe was ellendig vervelend. Die een dag soos die ander: nêrens om heen te gaan nie; niks om te lees nie; niks om te doen nie en niemand om mee te gesels nie. Hester en Juffrou se gepratery heeldag oor dit en dat in die huis, die skoolkinders of bure wat sy nie ken nie, verveel haar nog meer as wanneer hulle stilbly. Soggens slaap sy so laat as moontlik om die dag om te kry, en verder probeer sy doen wat skynbaar van haar verwag word. Maar lank sou sy dit nie so uithou nie.

Een oggend na die tweede week van haar verblyf het sy vroeg wakker geskrik van Ben se gevloek op die volk, net voor haar kamervenster. Dit was aaklig om op so 'n manier gewek te word. Sy het mans al so hoor vloek wanneer hulle dronk was, maar om so iets vroeg in die oggend te hoor, was afskuwelik. Sy kon nie weer aan die slaap raak nie en het die maande gelê en aftel wanneer sy mondig sou wees en kon teruggaan stad toe. Daar sou sy gou trou en saam met haar man die aangename lewe voortsit wat sy saam met haar vader geken het. Dat alles so sou regkom, het sy nie betwyfel nie, maar sy het begin opsien teen die lang maande van wag en wag daarvoor. Dié gedagtes was die oorsaak dat sy nie meer rustig in die bed kon bly nie; sy moes uit, al was dit nog so vroeg, al was daar niks vir haar om te doen nie en sy net in die pad van ander.

Sy sou opstaan en kyk hoe hulle in die huis rondspook en spartel, want in daardie huis was dit net altyd werk.... werk.... werk! En as die roetinewerk klaar was dan het hulle weer vir ontspanning gewerk!

Met 'n wrewelige gevoel het sy haar opgelig en lank op die bed se rand bly sit met gedagtes wat verlangend gegaan het na die verlede. Sy het smagtend gedink aan die luukse-badkamers van die hotelle waar hul soms tuis was, aan die kleure, lig en spieëls. In haar loom verbeelding het sy water uit 'n kraan hoor loop en die heerlike stoom uit die bad sien opdamp .... en dan mcteens het sy aan die ontnugtering gedink toe sy 'n bad op Groenvlei wou neem. Hester het 'n groot blik vol water op die stoof warm gemaak en steun-steun het sy en Juffrou dit kamer toe gedra en vir haar in 'n klein sinkbadjie gegooi. Dit was die meeste water wat sy kon kry en met so 'n gesukkel dat sy nie die moed gehad het om weer van 'n bad te praat nie. Die wasbeker op die wastafel word darem elke môre gevul vir haar gebruik gedurende die dag en daarmee spons sy haar maar soggens af.

Die oggend was die wasbeker leeg. Hester was seker te besig, of dit was miskien nog te vroeg. So het Esme haar kamerjapon aangetrek, vasgestrik, die beker gevat en water in die kombuis gaan haal. Net toe sy die middeldeur oopgestoot het, het sy daarop afgekom. Sy het Juffrou die kamer regs sien binne gaan met 'n skinkbord kos. Dit het haar nuuskierigheid plotseling geprikkel. Daardie kamer het altyd toe gestaan en sy het gedink dat dit sommer 'n pakkamer was. Sonder om na te dink het sy Juffrou vinnig gevolg om te sien....

Nie verniet het die huis vir haar so spookagtig en die inwoners so geheimsinnig voorgekom nie! Totaal verskrik het sy in die deur vasgesteek. Die lug in die kamer was bedompig en walglik. In die flou lig wat deur die klein venstertjie gekom het, het sy 'n aaklige gedaante op die bed gesien, 'n wese soos 'n geraamte met 'n bleek vel daaroor gespan. Juffrou het vir Esme in die deur raakgesien en gerusstellend geglimlag. Sy het daar bly staan en kyk hoe Juffrou die gedaante voer. Toe Juffrou eindelik die mond met 'n bont doekie afvee, het sy omgedraai en die beker vol water gegooi.

"Dis Ben se moeder, jou vader se moeder, .... jou ouma", het Juffrou daarop ewe kalm kom verduidelik, haar net so verbysterd daar in die kombuis laat staan en kamer toe gegaan.

Later, toe Juffrou skool toe is, het Esme vir Hester uitgevra. en die het haar vertel dat die ou vrou so geword het van skok toe sy oorlede Diederik se doodstyding ontvang het.

Soos sy altyd nog alle onaangenaamhede van haar afgeskud het, het Esme haar daarna daarop toegelê om die bestaan van die ou vrou in die huis te vergeet. Sy het nie weer van haar gepraat of in die rigting van daardie kamer gekyk nie.

Sy het meestal in haar kamer en die voorhuis gebly, waar een wat niks te doen het nie hoort, volgens Hester. Hoe sy haar dae omkry, wonder die ander twee vroue dikwels. Hester het haar naaldwerk gegee om te doen, maar sy het dit net verbrou. Sy het haar Ben se sokkies gegee om te stop en die gate is in plooie toegewerk. Sy maak nie eens haar eie kouse behoorlik heel nie. Maar hulle kon haar dit nie kwalik neem nie want sy het nie 'n eie moeder gehad wat haar geleer het nie.

'n Vraag wat Hester soms aan Juffrou stel, maar net aan haar alleen, is wáárom die kruis op háár skouers gelê word, of haar las nie reeds swaar genoeg was met die ou vrou in die huis nie! Dan troos Juffrou haar met die gesegde: "God gee krag na kruis!"

Feitlik is Esme 'n swaarder kruis as die ou vrou, Die koel hoogheid in die dametjie se oë, haar veelseggende stilbly en glimlaggie soms, is moeiliker te verdra as die ou vrou se tong was. Die taal van die ou vrou kon Hester begryp, al was die woorde hard en skerp, maar Esme is iets onverklaarbaars, apart. Die volmaaktheid van haar liggaam en haar gesig so fyn besneê, met 'n vel so teer en sag soos 'n roosblad, onderskei haar as vanselfsprekend van 'n kleurlose, benerige wesentjie soos Juffrou en een so lomp soos Hester.

Dis asof sy met haar skoonheid die ander voortdurend bewus maak van hul fisiese gebreke en hulle laat voel dat sy 'n meerdere, 'n uitverkorene is wat gedien moet word, en dis dit wat haar vir die vroumense so 'n las maak in die huis.

Dis vir elkeen duidelik dat Esme nie in die eenvoudige plaaswoning van Groenvlei tuishoort nie. Maar wat kan sy anders doen? Wat kan hulle anders met haar doen? Ben, as die enigste bloedverwant, kon nie anders as om sy sterwende broer, wat hom geen kwaad gedoen het, te belowe dat hy nie sy kind aan die genade van 'n roekelose stad sou oorlaat nie, Ben sal by daardie belofte moet bly, dit besef hulle. Maar die lewe lyk dikwels skreiend onregverdig wanneer so 'n las die swaarste druk op dié wat die minste daarvoor verantwoordelik is, want in hierdie geval is dit nie Ben nie, maar Hester en Juffrou wat voel wat die uitlewing van die belofte beteken, Selfs Meneer, wat altyd met die vrou mense saamstem oor sulke sake, en vir Hester 'n stukrag teenoor haar man se onverdraagsaamheid is, selfs hy kan nie insien waarom Esme nie as 'n gewone huismens behandel kan word nie. Hester word vervelig omdat sy vir die dametjie koffie en ontbyt in die bed gee, en dan daaroor kla. Laat haar sonder kos bly as sy nie betyds is vir ontbyt nie, dan sal sy leer om haar aan te pas. Dis eenvoudig dwaas van Hester om Esme se klere te stryk, wanneer sy meer van haar eie en huis het as wat sy kan behartig. Laat die dametjie self haar klere stryk; al verknoei sy dit ook hoe baie, watter saak maak dit: algaande sal sy leer. Dis die soort steun en simpatie wat Hester toe van Meneer ontvang. Mans kan dié dinge nie verstaan nie.

Maar gou kom die dag dat die probleem ook vir Ben en Meneer raak. Esme se poeier het opgeraak. en soos sy gewoon was om te doen met haar pa, vra sy vir Ben toe hy sou dorp toe gaan, om vir haar so en so 'n patente poeier van die en daardie kleur te koop.

"Het jy geld daarvoor?" vra Ben reguit soos hy ook aan Hester sou vra as sy so 'n onnodige ding wou hé.

Hester en Juffrou is by, en hulle kyk mekaar afwagtend aan.

Esme lag skouerophalend, en antwoord verwytend: "Geld, oom Ben? My arme beurs weet nie meer wat 'n trippens is vandat my pa nie meer daar is nie."

Ben het nog nooit vir Hester 'n dosie poeier of enige luukse-artikeltjie gekoop nie, nie eens as 'n geskenkie nie, en die versoek is vir hom die ergste vorm van vermetelheid en astrantheid.Die insinuasie in haar woorde begryp hy gelukkig nie, maar die vroumense verstaan wel wat sy daarmee wil te kenne gee.

Nietemin bedwing Ben hom, en net maar op die eerste graad van ongeduld vra hy: "Nou waarmee moet ek dit dan koop?"

"Waarmee gaan oom Ben die ander dinge koop wat ek sal nodig kry? Enige mens het tog behoeftes. My pa het alles gekoop wat ek gevra het, en sonder 'n woord die rekening betaal wanneer ek iets sonder sy wete moes koop."

Sulke verregaande onverantwoordelikheid dryf die spaarsame Ben dadelik tot die uiterste toorn, hoewel hy, volgens die ander, hom in die omstandighede wonderlik in bedwang hou.

"Geen wonder dat jou pa bankrot dood is nie", sê hy bot, en draai hom om om 'n kool te kry om sy pyp aan te steek. Toe dink hy dat hy haar liewer moet verduidelik wat haar posisie gaan wees nou dat die saak ter sprake is, dan sal sy hom nie weer lastig val nie. "In ons huis word daar nooit iets op 'n rekening gekoop nie, daarom het ons geen skuld nie....", begin hy.

Maar Esme val hom met 'n gloed in die gesig in die rede. - Dis die eerste maal dat 'n versoek van haar geweier word, en dit op so 'n toon! Haar oë blink van trane en haar lippe bewe. "Daarmee het ek niks te doen nie, oom, maar ek moet die poeier hê", pleit sy.

Ben kyk op en in daardie oë, en die harde woorde, wat hy wou sé, verstom op sy lippe. Was Hester en Juffrou nie teenwoordig nie, en was dit nie dat hy nog nie vir sy eie vrou so iets gekoop het nie, sou hy nie kon weier nie. Nou weet hy waaragtig nie wat om te doen nie. Soos hy later aan Meneer beken het, was dit kompleet asof sy hele lyf vol rooi miere en sy hande vas was; ja, net so lastig. Vol ergernis kyk hy rond na 'n uitvlug en toe sien by die sak meel onder die rak.

"Daar onder die rak in die sak is genoeg meel om jou wit te smeer as jy dan gedurig soos 'n lyk wil vertoon", brom hy kortaf, en vlug uit.

Juffrou en Hester giggel. Hulle lag nie vir Esme nie, maar vir Ben. Dit was soet om hom in so 'n toestand van verleentheid te sien. Hy wat altyd sê: laat die dametjie dit en dat self doen!

Esme dink hulle lag om haar nederlaag, en soos 'n verwoede klein heks slaan sy die middeldeur toe en verdwyn.

Hulle het gemeen dat sy in haar kamer sou gaan sit. Maar 'n mens kan nie in jou kamer stilsit as jy desperaat is nie, en 'n dame wat nooit sonder poeier verskyn nie, is tot die uiterste bekommerd wanneer haar voorraad skaars nog 'n dag sal hou. Sy het die aand tevore gehoor dat mnr. Luderitz saam met Ben sou inry dorp toe, en as Ben nie die poeier wil koop nie, sal Meneer haar moét help. Sy gaan hom dadelik vra, of dit snaaks lyk of nie.

Met die doel neem sy die motor en ry na die skoolhuis, wat 'n myl daarvandaan net agter die bult is. Dis al laat want Hester wou juis die middagkoffie maak toe sy Ben genader het.

Meneer is besig om brood te knie. Hy het vergeet om te knie toe die skool uitgekom het, maar vir 'n man maak dit nie saak hoe laat in die dag sekere werke gedoen word nie. Sy jong, ou Klaas, doen al die kokery en huiswerk vir hom, behalwe brood knie.

Dit gebeur soms wanneer hy moet brood knie, sokkies stop of 'n dergelike werkie doen, dat hy die tekort en behoefte aan 'n vrou voel. Maar meestal is die gevoel oppervlakkig. Dié dag is dit egter 'n diepgevoelde behoefte. Dat dit is om wat die vorige nag gebeur het, dink hy nie aan nie. Hy het die aand bedaard en tevrede by die kaggelvuur in die eetkamer gesit en lees. Teen twaalfuur het ou Klaas onverwags die vertrek binnegekom met 'n stralende gesig.

"Wat wil jy hierdie tyd van die nag hê, ou Klaas? Ek dag jy slaap lankal!" het hy hom verbaas aangespreek.

"Ek soek net 'n bietjie koffie en suiker", was die antwoord.

"Koffie en suiker, dié tyd van die nag? Wat makeer jou?"

"Nee, my baas, dis nie ek nie, dis ou Hanna", verontskuldig hy hom toe onrustig. "Sy het kind gekry. Nou soek sy koffie."

Meteens het Meneer 'n vlugtige beeld gekry van wat daar pas in die Kaffer se stroois gebeur het. 'n Beeld wat al die gewaarwordings inhou wat die vreugde op die jong se gesig verklaar het. Hoewel die beeld en die inlewing vaag was, en hy dit nie eens in sy gedagte duidelik kan of wou stel nie, het dit hom oneindig armer as die jong laat voel, soos 'n doellose uitwerpsel van sy medemens.

Hy het die ou gegee wat hy gevra het, en in die deur gaan staan en kyk hoe die vader van vele lewens trots en gelukkig in die helder maanlig wegstap na sy stroois om sy waardering aan sy wederhelf te betoon.

Dit lyk soms vir 'n mens asof die maanlig witter is, en die nag stiller as ooit. So was dit met Meneer toe hy daar gestaan het. Hy het gewonder oor die helderheid van die lig en die stilte, en nie besef dat dit die bleekheid is van sy eie lewe wat sy sielsoog weerkaats sien in die groot stilte wat oor hom gekom het nie.

Toe hulle die oggend tee gedrink het, het hy aan Juffrou vertel wat die nag gebeur het, en sy het geantwoord: "Ja, dis omtrent al wat die ou nasie ons in voorgaan".

"Dis ook al wat van 'n mens verwag word", het hy spontaan geantwoord. en effens gebloos. Die uitlating het hy egter dadelik berou want toe het Juffrou 'n stortvloed woorde en filosofiese ingewings gekry oor die mens as "hoër wese" met 'n "hoër" roeping as die biologiese.

Onbegrepe en eensaam het hy die middag huis toe gegaan. Toe moes hy brood knie, en begryplik is die taak vir hom te veel.

Die suurdeeg en water is net in die meel toe Esme se motor by die hek inkom. Dit ontstel hom egter nie. Hy gaan nie sy bakkery afstel net om háár ontwil nie.

Hy stuur Klaas om die deur te gaan oopmaak.

"Is die baas hier?"' vra sy.

"Ja, die baas is hier", antwoord hy.

"Gaan sê die baas ek is hier", beveel sy,

"Die baas weet die nonna is hier", deel die ou ewe beleef mee, en verstaan nie waarom die nonna daaroor kwaad word nie.

"Maar ek wil die baas sien; ek wil met hom praat", sê sy kwaai.

By die skoolhuis word selde gaste ontvang. Wanneer Juffrou of iemand daar kom, stap hulle met 'n ligte kloppie aan die deur binne en soek totdat hulle die baas kry. Ou Klaas kan dus nie verstaan waarom sy in die deur bly staan nadat hy nogal gekom en dit oopgemaak het nie, en hy kyk haar net verwonderd aan.

"Gaan roep die baas", gebied sy toe.

Hy gaan raad vra by die baas, en kom sê haar toe dat sy hom moet volg na die kombuis.

Meneer se hande is nog in die deeg. Ewe handig knie hy totdat die deeg 'n elastiese bal word. Skielik hou hy van die knieëry, is dit asof hy oorloop van energie wat juis in daardie stuk deeg moet gaan.

Totaal verras om 'n man so iets te sien doen, vra Esme: "Wat maak u nou?"

"Ek knie brood", antwoord hy, en begin die brode rol en in die pan sit.

"Dis snaaks! Waarom koop u nie liewer die brood klaar nie?" meen sy.

"Omdat ek nie twintig myl ver kan ry net om 'n brood te koop nie", antwoord hy bot, en haar moed sak. Sy was oortuig dat hy, soos allc mans, soos was in haar hande sou wees.

"Natuurlik", sê sy inskiklik met 'n glimlaggie. "Maar hier is tog seker baie vroue wat vir u sal wil bak?"

"Hier is nie één vrou wat sulke lekker brood kan bak soos ek nie", vertel hy trots; en vir die ,eerste maal gun hy sy oë die voorreg om haar aan te kyk.

Nadat hy sy hande gewas en teewater op die stoof gesit het, nooi hy haar vorentoe.

"U het regtig 'n lekker huisie", sê sy.

"Ja, ek woon al vyftien jaar hier."

"Vyftien jaar op één plekl Word u nie moeg nie?" gesels sy.

"Dis natuurliker om moeg te word van rondtrek as van stilsit, nie waar nie?" antwoord hy koel.

"Heeltemal waar", bevestig sy. "Maar as u nie nou ophou nie is ek netnou so plat soos 'n pannekoek."

Hy verstaan, en glimlag. Om die onstandvastigheid van sy gemoed te verberg, het hy probeer om hom so bot te hou soos moontlik, maar hy het haar nie mislei nie.

"Jy moet my maar verskoon", sê hy. "Soos jy sien is ek al vyftien jaar alleen, en 'n man verleer om met dames te gesels."

"Gesels u dan nooit met Juffrou nie?" vra sy trotserend, en haar toon insinueer dat Juffrou nie juis aantreklike geselskap is nie.

"Ons gesels nie, ons praat sommer. Ek sê dit en dan sê sy weer dat, en dan bly ons weer stil so lank as wat ons lus voel, jy verstaan?"

Sy knik haar kop nadenkend en sê dan: "Kan ons nie ook sommer net praat nie?"

"Ons kan probeer", antwoord hy. "Maar dan moet ek my pyp rook en stadsdametjies hou nie van 'n pyp nie."

Sy glimlag.

Hy haal sy pyp uit en begin stop terwyl Esme wegstap na die boekrak en die titels van die boeke lees.

Terwyl Meneer rook, voel hy sterk hoe hy al jare op

Groenvlei is, en steeds 'n vreemdeling vir elkeen bly. Byna daagliks is hy saam met Juffrou en die Bosmans, en tog weet hulle nooit wat in hom omgaan nie. Hy het so baie beskouings en gedagtes wat geen indruk op hulle sal maak nie. Daarom luister hy liewer net altyd na wat hulle te sê het - veral Juffrou. Sy moet nog net vlerkies kry dan is sy 'n engeltjie. Sodra hy oor die lewe wil filosofeer, wil sy alles met geloof verklaar. Daar is so baie dinge waaroor hy gewoonlik in sy eensaamheid nadink, en wat hy met niemand kan bespreek nie. Hy het 'n gevoel dat hy by Esme die bevredigende reaksie sal vind. Wanneer hy iets in die volle geselskap sê wat onbegrepe by die ander verbygaan, kan hy voel dat sy verstaan. Hy het ook opgemerk hoe Esme luister wanneer hy iets te sê het, en dit laat hom diep tevrede voel. Dat sy nou sy geselskap uit vrye wil opgesoek het, is 'n groot voorreg vir hom, en hy wil die geleentheid ten beste gebruik.

Maar nou dat hy die kans het om te praat, kan hy aan niks anders dink as aan háár nie. - Die volmaaktheid van haar wese, die bekoring van haar stem, haar oë, haar glimlag....

En terwyl hy so haar teenwoordigheid sit en geniet, groei die eensaamheidsgevoel in hom aan.

"Was jy al ooit baie eensaam, Esme?" vra hy op 'n toon wat sy nog nie van hom gehoor het nie, en sy kyk hom aan met die oulike gesiggie van 'n kind wat verwonderd is.

Hoe verskriklik sentimenteel word die ou nou, dink sy onrustig, Sy het gestaan en wonder hoe en wanneer sy die poeier moet vra.

Die toon van sy stem lok egter dieselfde weemoedigheid by haar uit. "Nie terwyl pappie gelewe het nie", antwoord sy. "Toe was daar altyd iets nuuts - maats, vriende en plesier. Maar dit lyk my asof julle mense hier op die plase van eensaamheid hou?" voeg sy effens verwytend by en gaan langs hom op die bank sit om te praat.

Toe kom 'n paar gedagtes oor die lewe wat hy aan haar meedeel. Sy luister aandagtig en stem in alles volkome met hom saam, hoewel sy daar weinig van begryp. Vir haar is die lewe maar soos dit is, en sy gee nie om nie, solank sy maar net kan kry wat sy wil hê.

"Elke mens het behoeftes wat 'n ander nie kan begryp nie", sê hy naderhand, en hy dink aan die gevoelens wat hom al die hele dag so verwaarloos en veronreg soos 'n onterfde weeskind laat voel het.

"Dis die waarste woord wat jy kan sê", beaam sy belangstellend en voeg by: "Dis juis daarom dat ek hierheen gekom het."

Hy kyk haar aan met verligting en blydskap. "Net soos ek gedink het", sê hy. Hy kan verstaan dat sy baie behoeftes moet hê wat veral op Groenvlei onbegrepe sou wees. Hy dink aan die gebrek aan vriende, en die plesier en vermaak van die stad. Ook dink hy aan haar verlies van ouers, aan haar afhanklikheid van mense wat vir haar vreemd is in alle opsigte behalwe die bloed.

Sy bloos en hy kan sien dat dit vir haar moeilik is om te begin.

"Praat gerus met my", moedig hy haar aan. "Wat jy vir my sê, bly in hierdie huis. 'n Mens moet jou tog partymaal uitpraat teen iemand."

"Ek wonder of u nie snaaks van my sal dink nie", probeer sy 'n begin maak.

"Dis nou van my - ek kry nooit snaakse gedagtes van ander mense nie, want elke mens het sy eie geaardheid en probleme. Sê maar gerus wat jy wil aan my."

"Wel, dit lyk nie vir my asof ek dit 'n jaar hier gaan uithou nie", sug sy.

"So? Waarom nie?"

Haar wange bloos, terwyl haar oë blink en haar onderlip bewe. "Omdat.... omdat my beursie leeg en my poeier gedaan is, en oom Ben so.... barbaars is."

Eers wou Meneer lag, maar toe sy Ben noem word hy ergerlik. "Barbaars? Het hy teen jou ook al uitgevaar?" Ben se ruheid teenoor sy vrou en Juffrou het hom al afgestoot, maar as hy teenoor Esme begin.... "Wat het hy gesê?" voeg hy by.

Nou dat sy simpatie kry, en sterker as wat sy verwag het, word sy eers regtig boos op Ben. "Verbeel jou", sê sy, "toe ek hom ewe fatsoenlik en onderdanig vra om vir my poeier te koop, wys hy my die meelsak onder die rak en.... en sê dat ek my daarmee kan besmeer as ek dan die hele dag soos 'n lyk wil rondloop."

Meteens skater Meneer onbedwingbaar. Hy lag soos hy lank laas gelag het, en die spanning breek wat hom al 'n tyd lank so omgekrap laat voel het.

Verslae en boos kyk sy stip op die vloer en sê bitter verwytend: "So? Het jy my vertroue dáárvoor uitgelok. Jy is kamma nie een wat snaaks dink van ander nie!"

"Dis nie vir jou wat ek lag nie, dis vir Ben", verontskuldig hy hom. "Die Ben kan altyd sulke snaakse dinge sê. Maar jou moeilikheid is glad nie so ernstig as wat ek gevrees het nie. Ek sien maklik kans om dit op te los en jou jare hier te behou." Toe bied hy aan om in al haar materiële behoeftes te voorsien daar sy 'n weeskind is, en hy sou begin met die dosie poeier.

Meteens, spontaan en onverwags, beloon sy sy goedheid soos sy gewoon was om haar vader vir sulke dade te vergoed. Sy voel ook so verlig dat dit kompleet is asof haar vader terug gekom het om haar te help.

Meneer raak bewus van twee sagte arms om sy nek en sagte lippies op sy mond, en sy arms gly op, en om haar, Hy wil die salige gevoel so lank moontlik behou en hy druk haar vas en vaster.

Elkeen weet dat niemand in so 'n oomblik redeneer nie. Esme se oë gaan toe en dis asof sy in die arms van die gaafste jongman geval het, so vurig is sy soene en teer sy liefkosing.

Die slag van breekgoed wat val op die vloer wek hulle wreed uit die ekstase. Verbysterd kyk ou Klaas hulle vanaf die middeldeur aan. Hy het die tee gemaak en ingebring soos die baas hom gesê het, maar toe hy hom in daardie toestand vind, skrik hy so dat alles uit sy hande val.

Verleë begin hy die stukke optel.

"Toe maar, laat staan dit, ou Klaas, en gaan haal vir ons ander tee", sê Meneer, nou heeltemaal ontnugter en ergerlik. Esme skuil weg van hom af en soek na die poeierkwas in haar handsak.

Meneer neem sy pyp op en steek dit weer aan.

"Dit kon nie anders nie". dink hy. "As die weer dae lank gedreig het en daar dan swart wolke teen die wind opwerk, kan 'n mens met sekerheid reën verwag. En so 'n gunstige wind waai verbrands nie elke dag nie."

Esme wil toe sommer ry, bang dat tant Hester-hulle sleg van haar sal dink as sy so laat wegbly.

Hulle drink net die tee klaar en toe gaan sy. Maar net 'n paar honderd tree anderkant die hek gaan die motor staan.

Hy gaan kyk wat die fout is, en hulle vind uit dat daar geen brandstof in is nie. Ben het die motor in Johannesburg laat vol gooi, en dit was die laaste druppel petrol wat daarin gekom het. - Dis die tweede behoefte waarvoor hy gereeld voorsiening sal moet maak om haar op Groenvlei te hou. Hulle besluit dat die motor maar daar moet bly staan totdat hy die volgende dag van die dorp af petrol kon bring. Dis te laat vir haar om die bult alleen oor te stap en hy is verplig om haar huis toe te vergesel.

Waar Hester staan en melk afroom, verduidelik hy dat Esme hom net kom vra het om vir haar poeier van die dorp af te bring, en sy glimlag ongelowig. Dis gelukkig al effens skemer en hulle kan die gloed nie sien wat hy in sy gesig voel nie. Ook teenoor Juffrou is sy vrymoedigheid van toe af gestrem. Dis asof hulle hom nie meer beskou as een van hulle nie. Iets het ingesluip tussen hom en daardie twee vroue met wie hy altyd so rustig saam verkeer het.