Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk VIII

Hoofstuk VII Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk VIII
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk IX


VIII.

Dit het vir die mense van Groenvlei gelyk asof die wolke wat die onvergeetlike winter opgekom het, met minder gevolg verby getrek het, as wat hulle verwag het. In plaas dat die intieme vriendekring toe gebreek is, het dit net wyer geword met meer en aangename belangstellings.

Soos die jare verbygaan, word klein Ludie al ouliker. In hulle oë is hy 'n wonderkind, volmaak na liggaam en gees. Hoewel daar duidelike trekke van Meneer in hom is, is hy net so mooi soos sy ma. Daarby is hy 'n klein vabond wat al die grootmense na sy pype laat dans. Selfs ou tante Bet se oë vonkel van pret wanneer die outjie sy strekies uithaal.

Ou tant Bet het wonderlik reggekom. Nadat Meneer haar onder hande geneem het, het sy haar bogtery laat staan en by enigeen geëet. Die buitelug en die afleiding op die stoep het ook baie daartoe bygedra. Langsamerhand het daar beweging teruggekom in die liggaam, maar haar rug het verlam gebly sodat sy nie weer kon loop nie, en ook haar spraak het nie weer herstel nie.

Wanneer Juffrou en Meneer alleen daaroor praat by die skool, was dit vir Juffrou baie duidelik dat die Here haar so straf vir 'n ongestrafte misdaad, omdat Hy 'n regverdige God is. 'n Swaarder straf kon die wêreld haar nie oplê nie, want sy wou altyd oral wees om te sien wat daar gedoen word, en oor alles wou sy haar sê sê. Die Here het dit noodsaaklik gevind om haar in so 'n toestand te dompel sodat sy moes stil sit en nadink oor haar sondes. Miskien het sy al tot inkeer gekom. Juffrou praat dikwels met haar oor die dinge van die Here. Wanneer hulle alleen is, lees sy uit die Bybel en bid vir haar.

Meneer sit stil, en rook maar wanneer Juffrou so gesels. Gewoonlik sit hy op die rand van die tafel, en sy op die skryftafel van een van die kinders. As dit haar genot verskaf om so te praat, dink hy, waarom sal hy haar feëtuintjie omskop met woorde van verstand? Soms kan hy darem nie help om te sê dat hy al van gevalle van beroerte gehoor het waar die slagoffers goeie, gelowige mense was nie, en dat die toestand psigies en fisiologies heeltemal verklaar kon word nie.

"Natuurlik!" antwoord Juffrou dan verontwaardig. "Alle bekende siektes kan fisiologies verklaar word, maar dis nietemin middels waardeur God kenlik met die mens spreek."

Sy wys hom dan op die sprekende geval van oom Bart Minnaar in hulle eie omgewing. Toe sy dogter Mien met 'n geskeide man wou trou, wou hy nie daarvan hoor nie. Vyf jaar lank het hulle gesukkel om sy toestemming te kry maar tevergeefs. Mien het hom daarop gewys dat Teuns na die egskeiding tot inkeer gekom het, diepe berou gehad het van sy sondes en oortuig is dat hy vergifnis van God ontvang het. Maar oom Bart kon dit nie regkry om te vergewe selfs waar die Here vergewe het nie. Dit het duidelik geword dat sy hardnekkigheid nie te wyte was aan afkeur van die sonde nie maar aan sy trots. Dit was nie 'n saak tussen hom en die Here nie; hy het die veragting van die wêreld gevrees. Mien is sonder sy toestemming getroud en hy het geweier om die skoonseun in die huis te ontvang. Dit het die arme dogter diep ongelukkig gemaak, en sy het gedurig om versoening gebid. Toe kry die ou kêrel kanker in die mond. Teuns weet van 'n goeie kankerdokter in die Vrystaat en hy bied aan om hom daarheen te neem en alle koste aan die behandeling verbonde, te betaal. Mien het saamgegaan en hom vir die paar weke bygestaan in sy lyding. Wat tussen die mure plaasgevind het, weet niemand nie, maar oom Bart het gesond terug gekom en Teuns het sy geliefkoosde skoonseun geword.

Wanneer Juffrou oom Bart Minnaar se geval aangehaal het, het Meneer geswyg. Hy kon dit wel met natuurlike en sielkundige verklarings weerlê maar hy het jammer gevoel om so 'n geloof te blus met sy nugtere denke. Haar geloof is die bron waaruit sy die krag put om haar skraal lewetjie so blymoedig en vrugbaar uit te lewe. Dit sien hy raak, en daarom huiwer hy om dit al te ru aan te raak.

Na tant Bet se gedeeltelike herstel het Ben sy posisie in verband met haar testament aan haar verduidelik. Hy het daarop gewys dat alles hom toekom, maar dat hy gewillig was om die paar honderd morge wat aan die skoolgrond grens aan Esme af te staan, uit vriendskap vir Meneer, vir 'n klein boerderytjie. Dis goeie vleigrond, die beste deel van die plaas en hy reken dit billik genoeg. Hy het egter nie met hulle daaroor gepraat nie; hy wou dit as 'n verrassing aan hulle besorg, want hy is oortuig dat hulle niks verwag nie. Maar tant Bet wou van geen testament hoor nie. Hardnekkig het sy net haar kop geskud en hom stil gemaak met afwysende handgebare.

Ben het gereken na tyd kom raad. Sodra sy tekens van agteruitgang begin toon, kon hy 'n testament laat opstel deur 'n prokureur en haar forseer om dit te teken,

In haar vertroulike omgang met die ou vrou het Juffrou van tant Bet se gebare afgelei dat sy vrees dat hulle net die testament wou hê om haar uit die pad te kry.

"Sy oordeel ons natuurlik volgens haarself", was Hester se kommentaar daarop.

Die toestand kon miskien jare so voortgeduur het, het Esme nie eendag iets gesê wat Ben se bloed laat kook het nie.

Hulle het gepraat van die wisselvalligheid van boerdery en toe sê Esme: "Ja, pappa het seker nooit kon droom dat ek met 'n boer sou trou nie."

"Maar jy is tog nie met 'n boer getroud nie?" weerspreek Ben haar.

"Wel, nie direk nie", antwoord sy. "Maar as Meneer aftree, sal hy tog 'n boerdery moet begin, want waarvan sal ons anders lewe? Ek het juis al gewonder of ouma nie nou al die plaas kan verdeel nie, sodat ons ons deel kan kry om ook iets uit te maak siende dat daar geen testament is nie."

Daar het 'n plotselinge stilswye in die kring gekom,

Ben wag dat Meneer iets moet sê, maar net sy ore verkleur, en hy suig hard aan sy pyp.

Gelukkig kom Ludie ingehardloop en neem hulle aandag in beslag.

"Daar het jy dit!" sê Hester net toe hulle vort is.

"Vervlaks!" sê Ben, heeltemal dronkgeslaan. "Sy en Meneer het saamgepraat oor die ding. Mens kon dit voel, want waarom het hy stil gebly?"

"Van háár kon 'n mens dit verwag, maar van hom...." voeg Hester by.

"Hy was maar net bang om in haar teenwoordigheid iets te sê. Ek sal so iets nooit van hom glo nie want daar is nie 'n inhalige haar op sy kop nie."

"As jy my vra, is daar min hare op sy kop, en 'n mens kan nooit sê watse hare die paar donsies is nie", praat Ben teë, en voeg by: "Hy het ons eenmaal verbaas met iets wat jy nooit van hom sou verwag het nie, en hy kan dit 'n tweede maal ook doen."

"As hy dit doen, sal dit net uit lojaliteit teenoor Esme wees", verdedig Juffrou verder. "Dis enige man se plig om by sy vrou te staan ondanks sy vriende, en 'n mens kan maklik glo dat sy háár pond vleis sal eis."

"Ja, die Swarts-bloed is volop in haar are", beaam Hester.

Die ou vrou was 'n Swarts gewees.

"Dis alles goed en wel", sê Ben. "Maar wat weet sy van die testament? Dis net ons en Meneer wat daarvan weet."

"Sy het seker begin wonder oor die testament, en toe soos Delila met Simson gemaak", reken Juffrou.

Hoe dit ook al was, Esme het slapende honde wakker gemaak. Ben het gesweer dat sy ma 'n testament sou moes maak voor die week om was, en hy het toe min lus gevoel om 'n paar honderd morge aan hulle af te gee.

Daarby gebeur daar iets wat hom die besluit onmiddellik laat uitvoer.

Hy is die more by die kraal besig om te melk, en Hester maak koffie in die kombuis.

Die koffieblik word in die koskas gebêre, waar ook al die ander kruideniersware bewaar word. Toe die ou vrou nog aan bewind was, was daardie kas altyd gesluit, asook die meel- en broodblikke. Die sleutels het sy bedags in haar roksak gedra en snags onder haar kopkussing gebêre. Vandat Hester haar gang kon gaan, word daar niks meer gesluit nie. Waarom sal sy sluit? Sy het geen bediende nie, en dis net hulle paar grootmense in die huis. Die bos sleutels het sy iewers gebêre maar sy onthou self nie waar nie. Daardie more toe sy wou koffie maak, is die kas gesluit! Dit kon maar net één betekenis hé, en verskrik hardloop sy kraal toe om vir Ben te gaan vertel.

Hulle is albei só verheug dat hulle nie weet wat om te doen nie. Om die ou vrou rond te dra waar sy wou wees was nie 'n maklike taak nie; dit het Ben vir jare gebind sodat hy haar ronddraery altyd in aanmerking moes neem in die reëling van sy werk. Wie weet hoe lank dit al is dat sy kan loop? Die skelm ou vabond! "Maar so 'n skelmstuk is 'n teken dat haar verstand nie meer reg is nie, want wat kan sy anders daarmee voor hê?" sê Hester.

"Ja - nee, dit word hoog tyd dat die testament gemaak moet word", besluit Ben. "As haar verstand eers so is dat sy geen rede meer verstaan nie, sal dit hopeloos wees, en so 'n testament sal ook nie geldig wees nie." Hy het 'n plan wat hy lankal bedink het, en terwyl sy miskien nog in staat is om redelik te dink, en bang te word vir die gereg, moet hy dit uitvoer. Dit sal verskriklik naar wees om dit te doen, maar dit moet.

Dieselfde dag ry hy dorp toe. Hy ry te perd tot op die stasie, en daarvandaan met die trein, want met 'n perdekar kan hy nie dieselfde aand terug wees nie. Dit sou ook nie inval met sy planne nie, want dié is goed agtermekaar. Hy gaan 'n prokureur raadpleeg. Dié moet dan 'n testament opstel soos hy, Ben, dit wil hê, en dan sommer dadelik saam met hom per motor uitkom om sy ma dit te laat teken. Die prokureur en Juffrou kan getuies wees; en weier sy ma dan nog, sal die poppe dans.

So gesê, so gedaan.

Die hele dag is Hester dwalend. Dis asof sy voel dat daar 'n verskriklike ding gaan gebeur. Sy het Juffrou vertel en die is net so ontsteld - miskien meer as Hester omdat sy nie so volkome oortuig voel dat die reg aan Ben se kant is nie. Dis nie 'n mooi ding wat Ben wil doen nie, en aan die ander kant is dit haar trouste vriende, en sy sal verplig wees om te teken as getuie. Soos gewoonlik wanneer sy nie haar weg oop kan sien nie, neem sy haar toevlug tot gebed. Sy is kort-kort die middag op haar knieë in die kamer. Sy bid om lig in die verskriklike duisternis en verwarring wat daar in die harte van haar vriende gekom het. Sy bid dat die Here reg moet laat geskied, sonder inagneming van hul menslike begeertes. Vurig lik bid sy vir ou tant Bet, dat die Here haar tog vergifnis moet skenk en tot inkeer moet bring eer dit te laat is; dat Hy haar moet lei om reg te doen teenoor haar kinders. Sy bid vir Ben, dat die Here sy hart moet versag teenoor sy moeder, hom eerbiedig en onderdanig moet maak sodat hy nie die vloek van die Vyfde Gebod op hom sal haal nie. Laaste bid sy vir Meneer. Maar dis asof sy toe geen woorde meer het nie. "Bewaar sy hart teen inhaligheid en geldgierigheid", bid sy net. "En as U anders beskik het as wat ons mense verwag, of verstaan, maak dit dan stil in hul harte", besluit sy. "Gee berusting in U wil en bo alles U vrede in elke hart."

Eindelik kon sy Ben kalm afwag met die versekering aan Hester dat wat sou gebeur alleen die uitvoering sal wees van Gods plan met elkeen.

"Ek wens ek kan dit ook sê", erken Hester eerlik.

Dit lyk asof die groot dinge juis altyd in die skemer moet gebeur op Groenvlei, want dis net na sononder toe Ben en die prokureur daar aangery kom.

Hester room melk af en Juffrou sit langs die tafel en breiwerk doen. Die ou vrou sit in die hoek waar sy vroeër altyd gesit het. Die kinders het hoegenaamd geen kommentaar gemaak op haar vermeende rondlopery nie. Hester het net soos vroeër vir haar die sleutels gaan vra, wat onder haar kopkussing was, en die kas oopgesluit. Later sou dit tyd genoeg wees om aan te bied om haar te leer loop en haar so geleidelik aan te help. Daardie dag was sy en Juffrou te bekommerd oor die ding wat Ben wou doen.

Ben en die prokureur kom binne en groet.

"Verskoon die kombuis", sê Ben. "Dis ma se geliefkoosde sitplek en ons sal die besigheid maar hier moet afihandel."

Hester hou op om die roomafskeier te draai want dit maak te 'n groot lawaai. Juffrou brei dat die naalde klap.

"Maak solank vir ons koffie", sê Ben vir Hester en hy bied die prokureur 'n stoel langs die tafel aan.

"Kan ons die lamp kry, asseblief Juffrou" vra hy toe, en Juffrou gaan die lamp haal en aansteek.

Daar is 'n snaakse, bewerige maar besliste klank in Ben se stem.

Tant Bet se oë gaan vreesbevange van hom na die prokureur en terug asof hulle nou haar doodvonnis kom uitspreek.

Die prokureur sit met sy vingers op die tafel en trommel.

Daar is 'n onsekerheid en spanning in sy houding, asof hy voel dat daar 'n moeilike taak voorlê.

"Dis 'n prokureur die, ma", begin Ben. Hy bly staan. "Soos ek ma al dikwels gesê het is dit nodig dat ma 'n testament maak. Soos ma weet het oorlede pa se testament vir ma in volle besit gelaat van alles, tot ma se dood. As ma nou sonder testament sterf...."

Sy gee hom nie verder kans om te praat nie, en maak hom stll met handgebare en aaklige kee1geluide.

Hy wag tot sy bedaar het.

"As ma sonder testament sterf", vervat hy, en praat nou hard om bo haar geluide hoorbaar te wees, "dan moet Groenvlei en alles daarop verkoop word en die gelde moet gelykop tussen my en Esme verdeel word. Dis nie reg nie, Ma.... Ek sê dis nie reg nie!" skreeu hy uit, want sy gee hom geen kans om te praat nie.

Hy wag, en stap op en neer. Die prokureur sit met geboë hoof by die tafel.

Toe die ou vrou bedaar, vervat hy. "Ek sê dis nie reg nie, want die plaas is nou dubbel soveel werd as toe ek dit gekry het. Ons het dit so beskryf dat ek die plaas en alles behou en Esme net honderd morge vlei, en vierhonderd buitgrond kry. Dis billik genoeg want nóg sy nóg haar pa het 'n strooi gebreek om 'n enkele morg grond te verdien. Die prokureur kan dit voorlees, en hy en Juffrou kan getuie wees as ma dit teken."

Dit lyk nou of hy haar beweeg het, want sy bly stil sit. Maar haar oë gluur van wantroue.

Ben laat die prokureur die testament voorlees.

Daar kom 'n artikel in voor dat die persoon by haar volle verstand was toe die testament gemaak is, en dit laat Juffrou baie ongemaklik voel. "Wys my Here, openbaar aan my wat ek moet doen", bid sy angsvol in stilte.

Toe die prokureur dit klaar gelees het, trek Ben sy ma se stoel nader aan die tafel, en plaas 'n vulpen in haar hand om te teken.

Sy vat die dokument met 'n snaakse glimlaggie, en voordat een kon keer is dit middeldeur geskeur.

Gou gryp Ben dit by haar. Sy oë vlam van woede en sy stem bewe.

"Nou gaan ma altwee stukke teken van elke bladsy, en dis dan nog net so goed", gryns hy.

Hy wag 'n oomblik om die uitwerking van sy toon op haar te sien. en vervat: "Dis nou waaragtig ma se laaste kans. As ma dit nie dadelik teken nie maak ek 'n verklaring hier voor die prokureur van wat daar met my oorlede vader in hierdie selfde kombuis gebeur het. Ma dink dis net oorlede Diederik wat weet daarvan. nè? Maar ek het daar in die middeldeur gestaan, en julle het my nie gesien nie. As ma nie dadelik teken nie sal ek aan elkeen vertel, die Here hoor my....!"

Met 'n luide gil spring die ou vrou op, waarskynlik om na haar kamer toe te hardloop, en sy slaan morsdood neer op die vloer.

Ben gee 'n roep na boontoe en gryp haar in sy arms.... "Bring water! Bring brandewyn, Hester!" skree hy. Juffrou staan op en voel haar pols en hart.

"Dis verby", sê sy verlig, en daar is die glans van blydskap op haar gesig.

Ben steur hom nie daaraan nie. Hy weyf die polse en voorkop en roep rasend "Ma, ma!.... Hoor hier.... hoor hier!.... Luister na my."

"Gaan lê haar liewer in die kamer op die bed neer, Ben", beveel Juffrou streng, en haar toon bring hom so tot bedaring dat hy luister,

Sy neem die brandewyn wat Hester ingegooi het en laat haar dit self uitdrink.

Die prokureur wil ry, maar sy sê hom om eers te wag vir koffie, en sy skink vir hulle algar koffie in.

Ben se hand bewe so dat hy die koppie nie kan vashou nie, en sy hou dit vas sodat hy kan drink.

Toe vra sy die prokureur om dadelik 'n dokter en lykbesorger uit te stuur van die dorp af. Die kis moet van middelmatige kwaliteit wees, want ou tant Bet was nie spandabel nie. "En ry asseblief by die skoolhuis aan, en sê aan mnr. Luderitz ek vra hom dadelik oor te kom", voeg sy by toe hy groet.

Bengaan saam met hom uit, en Hester begin onkeerhaar huil. "Toe maar, ou hartjie. Die Meester het dit so gewil", troos Juffrou.

"Nee, nee!" skree Hester histeries. "Sê liewer dis die duiwel, want Ben het haar vermoor. Dis net so goed asof hy dit gedoen het met 'n mes. O, dis verskriklik. Die vloek van die Here rus op die Bosmans. Sy het dit geweet.... Sy het dit gevoel dat haar kinders wraak sou neem, daarom dat sy so bang was. Kain!.... Kain! Ek sien dit nou! Met dié brandmerk moes sy altyd vlug, en nou is dit Ben! Ag, Here, wees ons tog genadig", kerm sy.

Juffrou laat haar uitpraat want dis beter.

Later sit Hester net en snik by die tafel.

Ben bly buite. Juffrou voel bekommerd dat hy dalk iets aaklig sal doen uit wanhoop. Maar wat kan sy doen? Dis al donker buite en die volk is al weg strooise toe. As Meneer net gou wil kom!

Sy room toe maar die melk verder af, en was die afskeier.

Dan maak sy vuur. Dit sal nie help om ete te maak nie want niemand sal eet nie.

Later kom Meneer. Die prokureur het hom vertel. Hy en Juffrou kyk mekaar lank aan en hy sug.

"Ek het dit verwag nadat ons nou die dag hier was", sê hy.

"Ons weet jy het daar niks mee te doen nie", antwoord sy. Meneer sien die vuskeurde testament op die vloer lê, en vou dit sorgvuldig op.

"Dis nog nie geteken nie", sê Juffrou.

Toe stop Meneer dit in die vuur.

"Ben is dadelik uit, en hy het nog nie weer terug gekom nie", deel Juffrou bekommerd verder mee.

Meneer gaan uit om hom te soek.

Juffrou en Hester wag en wag....

By wyle is Hester stil, en dan huil sy weer geweldig. Dis nnderhand elfuur, en hulle wag nog.

Juffrou hou die vuur aan die gang en laat 'n ketel water kook.

Toe kom Meneer in met Ben aan die arm, Hester kyk op en gil toe sy hom sien. Sy hare is spierwit, en sy gesig veslae en vervalle.

Juffrou staan op om koffie te maak. Sy draai haar rug opsetlik, want die trane stroom oor Ihaar wange,

Hulle gaan voor die stoof sit en koffie drink, en Meneer begin met Ben praat. So mooi praat hy dat Juffrou voor algar huil.

"Jy het meer van haar verdra as wat vlees en bloed kan verdra. Jy en Hester was altyd geduldig en goed vir haar. Daarvan kan Juffrou en ek getuig. Dat die einde só sou kom het elkeen wat haar geken het verwag. Glo my, ou vriend, sy is van angs vir die dood, dood; van niks anders nie. Dis die ironie van die noodlot. Kwel jou geen oomblik dat jy daar iets mee te doen het nie. Dit sou vroeër of later tog só gebeur het. Daardie angs het haar gedurig agtervolg, en dis nou maar goed dat sy daarvan verlos is. Haar vonnis was lank.... lewenslank. Ons kan nie besef wat haar lyding was nie. Nou is dit gelukkig op 'n end...."

Ben kyk hom smartvol aan met oë wat vra dat hy liewer moet stilbly.

"Die vloek van God rus op hierdie huis", sug hy naderhand. "Wat.... wat het ek gedoen.... gesondig, dat dit my moes oorkom? Wys my.... wys my.... o Here, wys my! Wou ek meer hê as wat my toekom? Ek sal alles.... alles nou afgee, as ek net kan rus kry vir my siel."

Hulle sit daar totdat dit lig word; dan gaan Meneer huis toe met die belofte dat hy later weer sou kom.

Dis net mooi lig toe hy by sy huis aankom. Hy klop aan die venster om Esme wakker te maak om die deur te kan oopsluit.

Nadat hy lank en geduldig gewag het, gaan die deur eindelik oop, en sy staan daar in 'n lang verkreukelde synagrok. Haar gesig is nog blink van die vetterige preparaat wat sy saans daaraan smeer, en haar hare staan lelik deurmekaar na die slaap. Meneer het al raakgesien dat haar gelaatskleur maar net so valerig is soos Juffrou en Hester s'n wanneer sy nie rooisel en poeier aangesmeer bet nie; en haar ooghare lyk ook maar gewoon soos ander mense s'n wanneer sy dit nie met olie en 'n instrumentjie bewerk het nie. Sy doen dit deesdae net wanneer sy dorp toe gaan.

So verwytend en bitter kyk sy hom aan dat hy huiwer om iets te sê of in te stap. Hy is ook nog diep onder die indruk van die verskriklike gebeurtenis van die nag - nie so seer tant Bet se dood nie, as die gevolge daarvan vir Ben, want sy hart bloei vir die arme man.

"Is dit noó eers tyd om terug te kom?" vra sy skerp.... Sou jy dan nie net vir 'n heen-en-weertjie gaan nie?"

Haar uitdrukking en toon verbaas hom meer as haar woorde. Dit krenk hom diep, net soos wanneer 'n ouer besef dat sy kind een of ander karakterswakheid besit.

"Maar, Esme, die mense het my nodig gehad. Ek kon hulle tog nie alleen laat in so 'n nag nie", verduidelik hy.

"En het ék jou nie nodig gehad nie? Vir my kon jy die hele liewe nag alleen laat in die verskriklikste spanning. Dis niks nie, nè! Wat kon jy so danig daar doen? Dit was alles al verby toe jy hier weg is", begin sy sommer blindweg raas. Sy wou die aand saam, maar dan moes hulle die kind ook meeneem, en Meneer het gevoel dat sy en die kind daar net in die pad sou wees.

Meneer weet dat hy nie met haar kan redeneer oor die saak nie, want sy kan tog nie verstaan nie; daarom bly hy liewer stil. Sy plan was om dadelik by haar te gaan inkruip in die bed, en in die skemering van die kamer alles gevoelvol aan haar te vertel. Nou sien hy nie meer kans daarvoor nie. Nou wil hy liewer alleen wees, weg van haar om rus vir sy gedagtes te vind. Sonder om haar te antwoord draai hy hom weg na die deur van sy studeerkamer langs hom op die stoep. Maar dis gesluit.

"Waar is die sleutel?" vra hy kort-af.

"Wat wil jy nóu daarmee doen?" vra sy woedend, omdat dit lyk asof hy haar aanval ignoreer.

"Ek wil liewer alleen wees, Esme", pleit hy met pynvolle krampe in sy keel.

Haar oë word vlammend van woede. Omdat sy opgewonde was oor die dood van haar ouma, het die duiwel haar dinge wysgemaak gedurende die nag terwyl sy nie kon slaap nie. en nou laat sy dit sonder beheer uit.

"Alleen wees? Jou gaan opsluit sonder om my iets te vertel? Is dit jou plan? Maar ek kon dit verwag het. As 'n mens jou inmeng met die laaste wense van 'n dooie dan durf jy ne ander in die oë kyk nie, veral nie die wat jy daardeur te kort gedoen het nie!" raas sy voort.

Die testamentkwessie was die oorsaak van die eerste misverstand in hul huwelikslewe. Toe Esme gevind het dat 'n onderwyser nie so volop van geld was soos 'n spekulant nie, het sy natuurlik begin bekommerd raak oor die toekoms, en selfstandige planne bedink. Sy wou nie haar lewe lank op die plaas bly nie. Wat sy eendag aan Ben gesê het omtrent hul boerdery was sommer oëverblindery. Sy het gewonder oor die erfenis waarvan haar pa gepraat het, en uiteindelik tot die vaste oortuiging gekom dat hy die erfenis van sy ouers bedoel het. Omdat Meneer so dik bevriend is met Ben-hulle, was sy lank huiwerig om met hom daaroor te praat. Eendag toe hy in 'n baie toegewende stemming was, het sy ewe ongeërg gesê dat Ben besonder gelukkig was om so 'n groot plaas alleen te kon erf.

"Dis nog nie op sy naam nie", het Meneer daarop geantwoord, sonder enige vermoede van haar motiewe, en bygevoeg: "Maar hy verdien dit soos min kinders hul erfenis verdien".

"Ek wonder waarom Ouma dan vir vader onterf het?" het sy verder gegaan. En toe het Meneer ter goedertrou iets gesê waarvan hy altyd berou sou hê. "So ver ek weet het sy hom nie onterf nie. Sy het geen testament nie. Dis juis Ben se moeilikheid. Die ou vrou is bang dat hulle haar uit die west sal ruim sodra sy 'n testament het, en sy weier daarom om een te maak. Sterf sy daarsonder moet Ben en jou oorlede pa gelykop erf", het hy verduidelik. Die uitwerking wat dit op haar gehad het, het hom met walging gevul. Verheug het sy aan sy baadjie se voorpante gegryp en gesê: "Maar, skattie, dit beteken mos dat ek dan die helfte van alles sal kry! Dat Ben-hulle teer op deel van my goed en.... "

Hy het haar nie verder laat praat nie, aan haar verduidelik waarom alles vir Ben toekom, en gesê dat hy nooit 'n stuiwer van ou tant Bet se boedel sal aanraak nie .

Van toe af het Esme elke maal venynig geskimp op die testament en sy partydigheid vir sy vriende ten koste van sy vrou se belange. en toe sy op daardie more weer van die testament aanhaal, nog eer die ou vrou in die kis is, skryn dit in hom. Maar dis nie 'n dag vir twis nie.

"Waar is die sleutel. Esme?" vra hy weereens met 'n beslistheid wat haar toorn net aanblaas.

"Laat vaar die sleutel en praat met my", skree sy bars. "Wat van die testament? Het sy een gemaak? Ek sweer jy en Ben het die heel nag gesit en saamknoei om my te onterf. Die gedagte dat ek ook iets sal besit is vir jou te veel. Jy wil hê ek moet my lewe lank by jou aanhou bedel soos die eerste dag, nè? Maar dit sal nie gebeur nie. Ek sê jou ek sal my deel eis! Ek sal self hof toe gaan vir my reg as jy te dwaas is...."

Dis kompleet asof hy ou tant Bet in die ou dae hoor raas. Daar is 'n opvallende ooreenkoms in die stem. Hy kyk haar aan, en toe sien hy vir die eerste maal dat sy 'n loutere Swarts is. Ja, die beeld wat hy bewonder het, is die ewebeeld van die ou vrou wat hom altyd so gewalg het. Dis Swartsbloed wat daar praat; dis die Swarts-gees van die ou vrou wat nie saam met haar wou sterf nie, wat nou in die beeldskone dametjie gevaar het. Verskriklik!.... Bloederfenis, natuurlik.... pynlik opvallend.... geen wonder dat bygelowiges aan die in- en uitvaardery van duiwels en bose geeste glo nie. So staan hy en dink, en hy gee haar geen antwoord nie.

"Praat! Praat! In hemelsnaam, maak oop jou mond en sê iets!" skreeu sy vlak in sy gesig.

Was sy 'n hond sou hy haar net geskop het, was sy 'n man sou hy haar teen die grond neergeslaan en oor haar liggaam gestap het. Maar dis sy vrou!

Hy moet iets doen. Sê kan hy niks.

Hy raap haar op van die grond, dra haar kamer toe, en stop haar in die bed.

Soos 'n broeis hoenderhen wat 'n mens darem nie op die nes kan hou nie, vlie sy weer daaruit, bestorm hom, en slaan met haar vuiste tamboer op sy skouers. Hy staan stil. Miskien sal die handeling haar tot besinning bring.

Maar nie eens die verskyning van ou Klaas met die koffie kan haar bedaar nie. Byna het hy weer uit verbasing die koppies laat val, soos 'n vorige keer. Hy staan toe net en wag.

"Die miesies sal nou-nou klaar wees", sê Meneer kalm. Die woorde bring Esme tot besinning. Sy val op die bed neer, en gee haar oor aan trane.

Meneer trek die komberse saggies oor haar, en vat sy koffie.

"Au, my baas!" sê ou Klaas simpatiek.

"Die ounooi is dood. Dis daarom dat die miesies so maak", verduidelik Meneer aan die bediende.

"Die ounooi hy het gedood, en die miesies hy maak so?" wonder ou Klaas, en voeg wyslik by. "Ja, die vrou hy maak so. Ou Hanna ook hy slaan vir my. Hy slaan vir my met die stok, baas. Maar darem die vrou is goed."

Meneer sug.

Toe ou Klaas uit is, gaan sit hy by Esme op die bed, en praat mooi met haar. Hy vertel haar dat die ou vrou sonder testament dood is; dat Ben hom volkome skik na omstandighede; dat sy haar volle helfte van alles gaan kry, en daarmee kan doen net wat sy wil, en dat daar hoegenaamd niks is om oor te huil nie.

Verbysterd kom sy orent, en vra met 'n afskuwelike glimlag: "Waarom het jy my dit nie eerder gesê nie?"

"Jy het ply nie die kans gegee nie", antwoord hy droog, sonder verwyt.

"Ek was ook in so 'n spanning, die hele nag. Want wat kon die prokureur anders daar gaan doen het as om 'n testament te maak? En toe kom jy nie gou terug nie, en...."

"Ek moes na Ben soek", verduidelik hy verder, "Hy was so ontstel dat hy by die deur uit is, en omdat 'n mens nie kon weet wat hy uit wanhoop kon doen nie, moes ek hom eers vind om hom moed in te praat."

"En het jy hom toe gekry?"

"Ja. Ná ure. In daardie ure buite alleen in die donker nag het hy 'n stokou man geword. Jy sal hom nie ken nie. Hy is spierwit grys."

"Haai!" roep sy verbaas uit. "En dit net omdat hy nie die volle erfenis kon kry nie? Dat 'n mens tog só inhalig kan wees!"

Meneer sou liewer niks wou sê nie. Hy moés haar vertel want sy sou dit tog sien, en dalk in Ben se teenwoordigheid taktlose aanmerkings maak. Ter wille van Ben moet hy antwoord, en hy sê net: "Nee, dis nie om die erfenis nie."

"Nou waarom dan?" wil sy weet.

"Nie een mens kan die smart begryp wat in 'n ander se hart omgaan nie", verklaar hy ernstig. "Jy moet onthou, Ben was maar tien jaar toe sy pa dood is. Van toe af was dit net hy en sy ma. Nooit was hulle van mekaar af nie. Selfs na sy huwelik het sy ma steeds eerste gekom. En nou haar skielike dood."

"Dis darem snaaks dat sy so skielik dood is, en dit terwyl Ben se prokureur daar is", begin sy weer smalend praat.

"Dis besonder gelukkig dat daar onpartydige getuienis by was toe dit gebeur het. Nou kan kwaai tonge en skurwe gewetes geen kans kry om verkeerde dinge van Ben-hulle te sê of dink nie", praat hy haar stil. Nooit sal sy weet van die testament wat Ben wou laat teken nie.

Om haar afleiding te besorg sê hy haar om reg te maak, sodat hulle saam weer kan oorry. Dit pas haar as familielid om by die sterfhuis te wees, en hy sal moet gaan om die nodige reëlings vir die begrafnis met hulle te bespreek, en te help waar hy kan.

"Maar hoe kan ek nou gaan? Kyk hoe lyk my oë", maak sy beswaar.

"Toe maar, rooigehuilde oë pas besonder goed by so 'n geleentheid. Daar sal seker netnou baie mense wees, want hulle pak gewoonlik saam by 'n sterfgeval."

Hy neem 'n stortbad om hom reg te ruk, en toe hy klaar geklee is word Ludie wakker.

Terwyl Esme nog besig is trek hy die kind aan, en gesels met hom van Juffrou, want die outjie is baie lief vir haar. Hy is sommer bly toe hy hoor hulle gaan na haar toe.

Eindelik is Esme klaar en toe lyk sy weer baie na die fyn poppie op wie hy met hulle eerste ontmoeting verlief geraak het. Sy is heeltemal in swart geklee. Selfs haar winkbroue en ooghare lyk donkerder en daar is geheimsinnige skaduwees om haar oë. So diep in die rou en aangedaan lyk sy dat Meneer ondanks alles byna oortuig raak van haar droefheid en spyt oor die dood van haar ouma.

Sy neem klein Ludie aan die handjie en vertel hom baie indrukwekkend van sy groot-ouma se dood, en hoe hulle haar in 'n diep gat gaan toegooi.

"Gaan hulle haar diep.... diep ingooi", vra die kind.

"Baie diep", bevestig sy.

Vrolik begin hy sy handjies klap en roep uit: "Ek is bly.... Ek is bly!"

"Haai, my skat! Hoe kan jy bly wees? Dis nie mooi nie", vermaan sy ma hom, terwyl sy pa geamuseerd toekyk.

Hy word daarna verleë en gaan na sy pa toe.

"Mag ek jou 'n versoekie doen, Esme?" sê Meneer toe hulle by die motor kom.

Sy kyk hom vraend, onrustig aan.

"Kyk, daar bestaan nie die minste twyfel dat jy die volle helfte van die boedel sal kry nie; daarvan kan jy verseker wees. As Ben met jou daaroor praat, hou jou dan tog asseblief onverskillig, en laat hom voel dat jy dankbaar is teenoor hom vir wat hy al die jare vir die gesamentlike boedel opgeoffer het:'

Haar oë begin weer vlammend word. "Net asof hy my sal bedank vir die voordeel wat hy al die jare uit my goed getrek het. En dan wou hy nie eens vir my 'n dosie poeier koop nie. Dit sal ek nooit vergeet nie. Maar jy het dit natuurlik vergeet."

"Daardie dosie poeier sal ek nooit vergeet nie", antwoord hy grynsend.

Iets in sy stem irriteer haar, en laat haar onrustig voel. "Wat bedoel jy daarmee?" daag sy hom uit, en dit lyk of die rusie opnuut gaan begin.

Plotseling dink hy aan Juffrou soos 'n reisiger in 'n woestyn aan 'n oase dink. As sy by was sou sy Esme gou die regte toedrag van sake laat begryp het. Sy het 'n wonderlike slag met enige mens.

"Kom ons ry", sê hy haastig.

Hulle ry sonder om 'n woord verder te praat.

Die dokter en lykbesorger het pas aangekom, toe hulle daar kom. Die motors staan voor die deur. Verder lyk dit doodstil.

Hester is soos gewoonlik besig in die kombuis. "Waar is Juffrou?" is Meneer se eerste woorde, "Sy is saam met die mense by die lyk."

"En Ben?"

"Hy ook."

"Hou vir Ludie hier", se Meneer aan Esme, en hy gaan na hulle toe.

Esme staan en kyk hoe Hester koek aanmaak. Sy en Juffrou het besluit om koek te bak vir die begrafnis. Dit kom die ou vrou toe om 'n ordentlike begrafnis te kry, al was sy ook 'n vreeslike mens. 'n Mens mag nie wraak neem op die dooie nie, het hulle geredeneer, en toe sommer begin,

"Wat maak jy nou?" vra Esme, "Ek bak koek", antwoord Hester.

"Dis snaaks om koek te bak.as daar een dood is", sê Esme. "Dit lyk net asof 'n mens vreeslik bly is,"

"Dis snaakser om nie koek te bak nie", antwoord Hester, "want dan lyk dit asof 'n mens vreeslik ondankbaar is". Esme dink aan haar man se waarskuwing, en sy trek haar die skoen dadelik aan. "Ondankbaar? Wat bedoel jy daarby?" vra sy veelseggend.

Dieselfde oomblik kom Juffrou uit die kamer. Meneer het haar gestuur. "Esme het jou nodig, Juffrou - asseblief", het hy gesê, Sy het die kommer in sy stem gehoor en verstaan, want hoewel sy nooit daarvan praat nie weet sy baie goed wat in daardie mens omgaan. Omdat sy nooit van iemand praat nie, praat elkeen vol vertroue uit teen haar.

Hester sien haar met verligting kom, en antwoord nie. Eers speel Juffrou met Ludie, en dan sê sy Esme sommer aan om te help koekbak. "Dis die laaste diens wat ons vir jou ouma kan doen", sê sy.

"Maar hoe kán ek, in my goeie klere?" maak Esme beswaar.

Juffrou steur haar nie daaraan nie. Sy sit vir Esme 'n voorskoot aan, en gee haar die botter en suiker om deur te klop. "Jy sal jou verveel as jy nie help nie", sê sy, "en ons het nie tyd om voor by jou te gaan sit en gesels nie".

Stadigaan groei Esme se belangstelling in die koekbakkery totdat sy met net soveel ywer werk as die ander. Juffrou gesels oor koekreseppies, en suksesse en mislukkings wat hulle al gehad het. Sy herinner Esme aan háar eerste poging om 'n koek te bak, en hulle glimlag saam daaroor.

Toe Meneer en Ben later inkom nadat hulle die vreemdes afgesien het buite, is hulle verras om Esme so te sien werk.

Ludie verlustig hom aan die koekies, en deel uit aan die mans. Meneer neem hom op sy arm, en hy en Ben gaan voor sit om die reëlings vir die begrafnis te tref.

Die briefies word uitgestuur na alle omliggende plase. Ouderling Van der Merwe sal die diens kom hou.

Sondagmiddag word ou tant Bet plegtig begrawe. Toe iemand vra waarom die graf dan in die ander kant van kerkhof is, en nie langs haar man s'n, soos dit gebruiklik is nie, sê Meneer dat daar 'n groot rots is en die gat nie daar gegrawe kon word nie. Dis snaaks, want daardie wêreld is nie rotsagtig nie.