Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk XI

Hoofstuk X Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk XI
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk XII


XI.

Net voor die oestyd trek die Bosmans oor na die nuwe woning oorkant die vlei. Dis 'n wit gebou. Hester wou 'n wit huis soos die skoolhuis gehad het, en die nuwe sinkdak skitter aanloklik in die najaarson. Dis wel nie so ruim soos die ou huis nie, maar baie geriefliker geplan, met 'n gang en badkamer soos Hester dit altyd begeer het. Hulle kon nog nie te veel meubels aanskaf na die vendusie nie, net die allernodigste. Maar nou dat Hester self Juffrou se losiesgeld ontvang en die pluimveeboerdery aan haar behoort, gaan sy stadigaan vir haar stelle vir elke vertrek koop.

Hulle het nader aan die skoolhuis gebou as wat die oorspronklike plan was, sodat hulle toe sommer heen en weer kon stap. Dis só makliker vir Juffrou om toe te sien dat die skoolhuis versorg is.

Dis vir Ludie ook nou 'n groot plesier om alleen van die een huis na die ander te ry met sy fietsie. Wanneer hulle koek of pannekoek bak, is hy altyd by en ry dan hoog in sy skik terug met sy pa se aandeel in 'n papiersakkie.

Partymaal kom hy daar aangery, en as hy vind dat hulle met ander dinge besig is, sê hy ewe oulik: "Ek het gedink julle bak pannekoek". Hy weet ook dat Juffrou dan alles sal neersit om te gaan bak.

Nadat die Bosmans uitgetrek het, het die Jood 'n plaasbestuurder gekry wat in die ou huis gaan woon het. Dié moes dan dadelik begin met die oes.

Ben kon die verantwoordelikheidsgevoel vir daardie boerdery nie net deur wegtrek van hom afskud nie. Dit was asof die sorg van al die jare in hom vasgegroei het, Toe hy sien dat die nuwe bestuurder daar eers om negeuur soggens sukkel-sukkel lande toe beweeg met die volk, hinder dit hom verskriklik. Al traak dit hom verder niks met die Jood se sake nie, die man is 'n slegte voorbeeld in die omgewing, en besig om die plaasvolk te bederf. As dit so gaan sal sy volk môre, oormôre almal wegtrek om daar op die Jood se plaas te gaan leeglê, verduidelik hy aan Hester.

Daarom besluit hy een more om deur te stap en met die man verstandig te gaan praat, eer die ding te ver heen is. Tot sy verbasing is die mense besig om te trek toe hy daar kom. Voor die deur staan' n klein veerwaentjie, en vrou en kind dra goed aan terwyl die man oppak.

"Wat beteken dit?" vra Ben nadat hy gegroet het.

"Dit beteken dat ons trek", antwoord die vrou skerp.

"Nou al trek, en julle is skaars drie weke hier?"

"Nou eers trek moet jy liewer vra, want dat ons dit drie weke in die huis kon uithou, is vir my 'n wonder", antwoord sy en die man bly stil.

Dit lyk nie juis aan hul besittinkies of hulle 'n beter huis gewoond is nie, en Ben vra: "Wat makeer die huis?"

"Vra jy nog?" dreig die vrou. "Waarom het julle miskien hier uitgetrek, om daar oorkant in 'n klein huisie te gaan woon?"

"Omdat dit nie my huis was nie en verkoop moes word."

"Dis darem snaaks dat jy toe die kaal bult koop, en nie die opstal wat jy self bewerk het nie, siende dat dit so spotkoop weggegee is!" smaal die vrou.

Ben voel hy word ergerlik. "Mens, sê my reguit wat bedoel jy!" sê hy skerp.

"Jy maak of jy nie weet nie, ne?" hou sy aan, en Ben is spyt dat hy ooit deurgestap het. Raadop kyk hy na die man om 'n verduidelikin.

"My vrou is met die helm gebore", help die man hom. "En nou kan sy die gespokery in die huis nie uithou nie. Vir my maak dit nie so groot saak nie, want ek sien nie sulke dinge nie, en as ek slaap dan slaap ek."

"Spokery?" vra Ben verbaas. "Mense, julle is van julle verstand af. Hier was nooit so iets in die huis nie, en ons het skaars 'n maand gelede uitgetrek."

"Aag, oom sal my nie bluf nie", sê die man, "Ek is nie een wat sulke dinge sien of hoor nic. maar in dié huis het ek dit self gehoor."

"Wat het jy gehoor?" vra Ben.

Die vrou gee nou antwoord, en vertel hoe hulle snags die agterste twee kamers wat leeg staan, se deure hoor oop en toe gaan, en hoe hulle iemand hoor loop deur die huis - so skuif-skuif, net soos 'n ou mens. "Ek is met die helm gebore", besluit sy. "En as ek in 'n huis kom, voel ek sommer as dit nie daar pluis is nie. Dit was net na sononder toe ons die aand hier kom, en net toe ek die kombuis instap, het my hare gerys, en daar het 'n koue rilling deur my gegaan. As dit nie katte en honde spook in hierdie kombuis nie, dan wil ek my naam nie hê nie, het ek dadelik vir my man gesê. Daar is hy, vra hom."

Ben dink na. Dit herhinner hom dat Hester dieselfde klagtes gehad het kort na hul troue, en soms gillend orent gewip het in die bed. Hy en sy ma het haar uitgelag, en sy het later gewoon geraak daaraan. Toe Juffrou by hulle kom woon het, het sy ook in die begin klagtes gehad, maar haar later ook nie meer daaraan gesteur nie. Een aand het hulle Meneer daarvan vertel. Hy het 'n paar nagte in die huis geslaap, en dit ook gehoor. Hy was seker dat daar 'n natuurlike verklaring voor was, en het die saak ondersoek. Dit het lank geduur, maar uiteindelik het hy hulle oortuig dat die oop-en-toe-ganery van die deure te wyte was aan die manier waarop die huis gebou is. Die posisie van die deure en vensters het trekke veroorsaak. Die huis het geen plafon gehad nie, en wanneer die wind van 'n bepaalde kant waai die nag, kom die trek onder die sink deur, en stoot die deure oop en toe. Die deure was nie goed gehang nie, of dit het na jare miskien vertrek, maar dit het nie goed gepas in die kosyne nie; dit het ook geen slotte gehad nie, en wanneer die trek sterk genoeg was, het die beweging aan die deur soms die werwel laat afgaan. In die nag het die trek onder die dak deur net so geraas soos die geskuifel van voete op die vloere. Toe hulle eers geweet het wat die oorsaak was, het hulle hul nog minder daaraan gesteur, en dit naderhand glad nie meer gehoor nie.

Hy verduidelik dit so aan die mense, maar daarvan wil die vrou niks hoor,nie, en die man sê maar net eike maal: "Oom sal my nie bluf nie".

Verslae staan Ben hulle en beskou. Albei is skaars droog agter die ore, en dit wemel van die kindertjies om hulle.

"Waar gaan julle heen?" vra hy.

"Die Vader weet", antwoord die man.

"Ja-nee, liewer op die grootpad onder die bloue hemel, as in 'n spookhuis, het ek vir hom gesê", voeg die vrou by.

Ben wonder waarvan hulle gaan lewe; toe sien hy 'n paar sakke mielies op die buik van die waentjie raak, en weet dat die man homself betaal het.

"Het jy die Jood laat weet dat jy trap?" vra hy.

"Hy kan na die hoenders gaan! Hoe moet ek op die dorp kom om dit vir hom te sê? Hy het geweet hy stop ons in 'n spookhuis, en nou moet hy maar die vrugte daarvan pluk."

Toe Ben loop, keer die man sy donkies aan.

Dié middag bel Ben die eienaar van die stasie af en vertel hom wat gebeur het. Die Jood weet gelukkig van iemand anders wat dadelik die boerdery kan oorneem.

Dis 'n ongetroude kêrel, en nadat hy twee nagte oorkant geslaap het, trek hy by Meneer in die skoolhuis in, met die verskoning dat dit snags te koud en eensaam in die groot, leë huis is. Nadat die oes af en weggery is, is die kéreltjie vort. Ben het aangehou dat hy hom daar moet vestig, maar omdat hy verloof is, en sy aanstaande bangerig is, wil hy haar nie in so 'n ou huis laat woon nie. Hy het intussen 'n beter plek gekry en daarom gaan hy maar.

Ben het gereken hoe minder daar van die saak gesê word, hoe beter, en toe liewer geen verduidelikings gegee nie. Hulle was algar jammer, want die man sou 'n goeie buurman gewees het.

Hoe die storie op die dorp versprei is, weet niemand nie, maar die gedagte is dat die Jood miskien iets aan 'n vriend gesê het oor sy moeilikheid met die plaasbestuurders. Nietemin is daar gou baie praatjies oor die spook van Groenvlei, en 'n paar maal kom avontuursugtige jongmanne in die ou huis slaap om die spook te sien. Die plaasmense het natuurlik nie daarvan geweet nie en self snaakse gedagtes gekry as hulle af en toe saans, en in die nag, 'n lig in die huis sien brand. Die spooksoekers het gewoonlik na donker gekom sodat die plaasmense hulle nie moes sien en vir hulle dalk poetse bak nie.

Selfs die Bosmans en Juffrou glo naderhand aan die spokery, maar hulle praat nie daarvan nie, nie eens met Meneer nie, want die gedagte dat ou tant Bet selfs na haar dood geen rus kan vind nie, is vir hulle te aaklig.

Die Jood se plaasvolk het ook soms die lig in die huis gesien, en ook op die werf, soos die avonturiers miskien met flitse rondgeloop het. Hulle het toe vertel dat die lig van die kerkhof af huis toe gaan en terug. Die laaste Kaffer het weggetrek van die plaas af, en die Jood kon daarna geen werksvolk, of bestuurder vind nie.

Op 'n dag kom die eienaar uit na Ben en beskuldig hom daarvan dat hy geweet het van die spokery en dat hy hom ingesleep het.

"Sou ek dan nog byna 'n jaar in die huis gewoon het as dit die geval was?" vra Ben hom.

"As 'n mens die spook ken, is jy nie vir hom bang nie", meen die ander.

"Dis waar", antwoord Ben. "Ons het twintig jaar tevore al kennis gemaak met die spook." Daarop laat roep hy Meneer sodat hy 'n verklaring kan geen van die deure se aap en toe gaan, en die lopery. Van die lig, wat selfs vir Ben ontstel, weet Meneer en die dorp mense gelukkig niks nie.

Die Jood wil toe die grond aan Ben verhuur, maar dié het te min osse en gereedskap om so te saai dat hy die huur met 'n betaalbare wins daaruit kon haal.

Daarop kam hulle ooreen dat die Jood hom drie span osse met die nodige gereedskap sou gee om om 'n deel mee te werk, en verder gebruik hy die plaas as weiveld vir vee wat hy van tyd tot tyd opkoop vir spekulasie.

Vir die Bosmans was dit 'n baie voordelige reëling. Meestal was daar 'n paar melkkoeie by die beeste wat daar geloop het, en die melk kon Hester gebruik vir botter. Ben het meer werksvolk op sy eie grond gekry, en met die ekstra spanne osse en plaasgereedskap, kon hy ses tot agt spanne osse laat loop sodra dit reën. Ondanks die deel wat hy aan die Jood moes afgee, maak hy daarna groter oeste as ooit tevore.

Gou is hy in staat om naby die huis te laat boor en vir Hester die water aan te lê na die kombuis en badkamer, soos haar hart soveel jare wou hê. Juffrou kon haar eie blomtuintjie voor die deur maak. net soos sy dit van haar kinderjare af begeer het, en daarin haar vrye tyd met veel plesier deurbring.

"Al die goeie dinge kom stadig maar seker", sê Juffrou dikwels vir Hester. Dan antwoord laasgenoemde: "En die kwaaie gaan vinnig verby".

Die timmerasie van die ou huis laat die Jood afbreek en wegry, en van toe af kon die spoke snags na hartelus baljaar in die murasie. Na sononder vermy wit en swart die ou werf. Die vrugteboord groei toe onder vuilgoed en gras en sterf uit. Alles raak gou verwaarloos en vergaan. Net die dik mure met die hol venstergate bly oor vir die winde om snags in te huil - en die kerkhof, wat die kinders in stand hou, waar die man en vrou wat die plaas aangelê het, begrawe lê met 'n groot klip tussen hulle.