Die prosa van die twede Afrikaanse beweging/Hoofstuk IV

Hoofstuk III Die prosa van die twede Afrikaanse beweging
Hoofstuk IV
deur Pieter Cornelis Schoonees
Hoofstuk V



I Jakob Platjie | II Huis en Veld | III Staan jou Man | IV Boesman-Stories


HOOFSTUK IV.


G.R. von Wielligh.


"Die Laaste Stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners".


Die stamvader van die Von Wielligh-geslag was offisier in die Oos-Indiese Kompanjie. Gideon Retief is op 1 April 1859 gebore in die Pêrelse distrik. "Van sy sewende jaar af moes hy ploeglei, vee-oppas, op die oesland hopies maak en meer dergelike werkies wat vir 'n plaaskind nie ongewoon is nie."[1] Deur borgstaan het sy vader alles verloor en so moes Gideon self sy studie bekostig. Op sy elfde jaar het hy sy vader vergesel op 'n handelstog na Boesmanland. Toe hy by sy terugkeer op die Pêrelse Gimnasium kom, het hy net soveel Engels as Jakob Platjie geken, maar binne vyf jaar was hy al landmeter. Deur sy beroep het hy groot streke van Suid-Afrika goed leer ken. Op vyf-en-twintig-jarige leeftyd is hy benoem tot Landmeter-Generaal van Transvaal.

In 1903 het hom 'n ongeluk oorkom, wat byna tot volslae blindheid gelei 't. Hy het na Delagoabaai gegaan om die astronomiese instrumente van die Transvaalse regering te haal. By dié geleentheid is op 'n karnaval kalk in sy oë gegooi. Mediese behandeling het sy toestand sover verbeter "dat hy nou in sy regteroog 'n kwart natuurlike gesig teruggekry het. Hy lees met 'n sterk bril en 'n dubbelde vergrootglas—sy neus byna op die papier, en dan sien hy nog maar vyf tot ses letters tegelyk."

"Omdat hy lange tyd op die platteland deurgebring het en 'n ystersterk geheue besit, beskik hy oor 'n skat van tiepiese Afrikaanse uitdrukkinge soos miskien geen ander lewende persoon op die oomblik nie."

Vanaf 1876 het Von Wielligh geskryf in Die Patriot, maar toe die blad 'n onnasionale politiek begin te verdedig, het hy hom daaraan onttrek (1891). Later was hy weer medewerker vir Ons Kleintji, waarin die eerste paar hoofstukke van Jakob Platjie verskyn het. Ook aan die blad Ons Taal het hy bydraes gestuur.

In 1907 het sy eerste Dierestories verskyn, vier dele waarvan tussen 1917 en 1922 uitgegee is. Verder: Jakob Platjie (1918); Eerste Skrywers (1918); Boesmanstories I-IV (1919-1921); Staan jou Man (1920); Robinson Crusoë (1920), Huis en Veld in 1921 gepubliseer, maar reeds in 1916 geskryf; Nimrod Seeling (1921); Ghwennie Barnveld (1922). 'n Groot aantal stories en artiekels het in die tydskrifte verskyn, o.a. Ons Geselstaal in Die Huisgenoot (1921-'22), terwyl nog 'n paar werke in die pers is.

Von Wielligh is feitlik die enigste voorstander van die Eerste Beweging, wat ook aktief opgetree het in die twede. In Eerste Skrywers (1918) skets hy die ontstaan en werk van Die Genootskap van Regte Afrikaners, en verdedig die opvattings van die genootskap teenoor verskillende aanklagte van die Twede Beweging. Hy deel allerlei feite mee wat van groot belang is vir die geskiedskrywer van die Patriotbeweging, polemiseer teen die spelling en organisasie van die Twede Beweging en gee talryke taalkundige beskouings, wat getuig van 'n uitgebreide kennis van die volkstaal, maar wat soms minder juis is deur sy gebrek aan wetenskaplike insig in taalverskynsele. Reeds vanaf 1877 het Von Wielligh "alle egte en suiwere Afrikaanse woorde, uitdrukkings, sinswendinge, ens." opgeteken, maar sy werk het in die Anglo-Boere-oorlog in die hande van die vyand geraak.[2] Sy uitgebreide studie oor Ons Geselstaal in Die Huisgenoot (1921-22) getuig van 'n onverfloude belangstelling in die ontwikkeling en dialektiese verskynsels van die volksspraak. Hy is 'n voorstander van purisme. Woorde soos "energie, soliditeit, affiliasie, alternatief" noem hy taalkriekies, "wat ons mense op die platteland—en ook baie dorpelinge—hoor sing, maar hulle weet nie waar die goedjies presies sit nie."[3] Hy waarsku veral teen die gebruik van Neerlandse uitdrukkings "deur skrywers wat in Hollands en in Holland gestudeer het."[4] Eienaardig is dan ook die poging wat hy doen om Hollandse en vreemde uitdrukkings "nae 's landts gheleghenheyt" te verafrikaans. Woordevloed word "'n waterval van woorde" (Eerste Skr., p. 9); wierookvat, "wierooktessie" (p. 59); 't onderspit delven, "die onderspit byt" (Huis en Veld, p. 31); wittebroodsdagen, "soetebroodsdae" (p. 32); clairvoyance, "heldersienery" (t.a.p., p. 177); propaganda, "voortplantingplanne" (Die Brandwag, Feb. 1918).

Von Wielligh se oordrewe purisme hang saam met sy opvatting van kuns. Eweas die ou Genootskap streef hy daarna om "die grote gros te bereik, wat letterkundig honger en dors ly".[5] "Die ou Genootskap het vir leesstof vir die minder bevoorregtes gesorg, terwyl die nuwe net vir lektuur vir ontwikkelde persone wil sorg". Hulle stelling is "Ons mik hoog".[6] In die voorwoord van Huis en Veld verklaar hy: "Nog vashoudende aan die ywer om ons mense meer en meer te laat lees, het ons vir ons meer deur die populêre Afrikaanse verhaaltrant laat lei, as om ons aan praalgeskrif te bind, want ons volk hou min van geskrifte, volgeprop met dromery, maar verlang wel om verhale met korte bewoordinge in sy (lees hul) ware kleure afgeskilder te sien. So het ons die wenk gevolg van "praat gou want ek woon ver"." Von Wielligh staan dus nog heeltemal op die Ou Patriot-standpunt. Hy vergeet dat daar sedert 1875 groot dinge gebeur 't, dat die Twede Beweging die taalstryd gewin 't, juis omdat die intellektuele gedeelte van die bevolking die voortou geneem 't en nie tevrede was alleen met rympies en grappies nie. Vandag mag nie iedereen meer rympies maak nie "van Generaal Smuts af tot die veewagtertjie in die veld", en hom dan verbeel dat hy ons letterkunde help opbou. Dit neem natuurlik die feit nie weg, dat in die periode vóór 1900 die Patriotskrywers op kulturele gebied nuttige werk gedoen 't, dat hulle die land geskoffel het waarop ons vandag ploeg en saai. Maar vir my is dit nog 'n ope kwessie of die taalstryd nie al vóór die Anglo-Boere-oorlog kon gewin gewees het nie, as die leiers van die Eerste Beweging hoër gemik 't.

Dit is onloënbaar dat daar tans nog 'n groot skare rustelose soekers na skoonheid is, wat spartel om hulself te verhef bo die wanhopig reëlmatig terugkerende besighede van die alledaagse lewe, mense wat bevrediging soek vir dieper behoeftes dan dié van geldsak en liggaam. Hul sit dikwels op afgeleë buiteplase, waar alle middele om die vae drang na iets hoërs en skoners te verwesenlik heeltemal ontbreek en waar 'n oorspronklik warme aandrif langsamerhand jammerlik verkwyn.[7] As Von Wielligh hom geroepe voel om vir die "minder bevoorregtes" te skrywe, dan doen hy seker nuttige werk, maar dit ontslaan hom nie van die plig om "hoog te mik" nie, en daarby tog te sorg, dat hy nie bokant die vuurmaakplek van sy lesers gaan nie. Daal hy af tot hulle peil, wat hy in Huis en Veld en elders maar al te dikwels doen, dan leer hy hul miskien wel hul eie taal lees, maar dan is daar geen sprake van kulturele opheffing nie. En dit is tog sy doel, want hy verklaar sy standpunt as volg: "Die kunstenaar lewer 'n kosbaar monument om sy volk onder die ander volke te laat uitblink; maar die Volksskrywer saai die sade, wat voedsel vir sy eie Volk lewer."[8]

Von Wielligh is geen dienaar van die skoonheid nie. Sy begrip van kuns druk hy so uit: "Kuns is skoon, kuns is verhewe, kuns is edel en bo-aards; maar dit neem 'n kunstenaar om kunsstukke te waardeer. En dis daarom dat die grootste gros net baie van 'n goeie "rympie" dink(,) want dit klink in hulle ore nes die Walse van Strauss en nie nes die Sonatas van Beethoven nie."[9] Die gekursiveerde stelling is vals. Tussen die kunstenaar en leser moet daar natuurlik 'n seker mate van geestelike affiniteit bestaan, voordat daar sprake kan wees van kunsgenot. Maar terwyl die kunstenaar, gedrewe deur 'n aangebore skeppingsdrang die diepste aard van 'n wese of ding peil en dit dan tot skoonheid herskep, hoef die kunsgenieter alleen 'n normale mens te wees met 'n klein bietjie aanvoelings-vermoë. Die kunstenaar dring deur tot die kern, verwyder daarvan al wat bykomstig is en bied ons dit aan in sy suiwerste skoonheidsessensie. Hy doen die werk, ons moet alleen die vreugde, wat hy by sy skeppingsdaad ondervind het, kan navoel en hervoel. Von Wielligh speel dus maar 'n eenvoudige deuntjie op die konsertiena of "ramkie", omdat hy meen dat daar tog so weinig mense is wat iets beters kan geniet.

Vir sy opvatting van die ontstaan van kuns is die volgende sitaat ook van belang: "Daar was baie briewe en gedigte uit alle oorde van die land.... (vir Die Patriot.) Baie minderwaardige stukke werd ook geplaas om skryflus aan te wakker. Diegene wat beter kon doen, het nie stil bly sit nie, en die wat swak was, het bygeleer. Want as iemand iets herhaaldelik aanpak, leer hy vanself om die volgende keer dit beter te doen. En so werd die wieg vir aanstaande skrywers gereed gemaak."[10] Hier staan Von Wielligh dus nog op die agtiende-eeuse standpunt: "Kunst wordt door arbeid verkregen". Sy werk dra nog heeltemal die stempel van die Patriot-periode, en die ideale, wat hy na streef is die van 'n verbygegane geslag. Hy staan met sy gesig agterwaarts gekeerd en is "'n laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners".


Jakob Platjie.
edit

In Jakob Platjie gee hy "egte karaktersketse uit die volkslewe van Hotnots, Korannas en Boesmans".[11] Platjie woon met sy ouers, "twee opregte peperkorreltjie Hotnots" by die Drakensteinberg. As hulle op die end van die maand hul loon ontvang, peil hul kantien toe. Iedries en Sina, Platjie se ouers raak in die tronk en hyself verdwaal op weg plaas toe en loop Koos Fonk, 'n smous raak, wat hom saam neem op 'n handelstog na Boesmanland, ens. Dan word die verhaal 'n aaneenskakeling van los anekdotes; Hotnotsfeeste word beskryf, Koos vier sy verjaarsdag en agtervolg Boesmans, wat sy beeste gesteel 't, terwyl saans om die wagvuurtjie allerlei Hotnotstiepes hul stories aan die nuuskierige Platjie vertel. Koos Fonk trek ook na Griekwaland, waar ons Kleopas Kipie hoor preek en twee kapteins sien oorlogmaak.

Platjie keer na sy ouers terug, trek met hulle na Stellenbosch en kom na hul dood op die sendingstasie Genadendal. Daar maak hy kennis met Dr. Kleiner, wat uit Europa gekom 't vir etnologiese studie en vergesel hom op sy togte as tolk. Platjie raak net hooggeleerd, word kristen, vertel wolf-en-jakkalsstories aan sy kinders en sterf.




In die voorrede verklaar Von Wielligh: "Wat die taal betref, wat ons in die mond van die sprekers geleg het, mag ons in die rede geval worde deur iemand wat sê dat in sommige gevalle die taal te verhewe is vir die onbeskaafde inboorling. Dit mag so wees, maar ons het genoeg aanhalings in hulle gewone spreekwyse gelewer om te toon van watter woorde hulle hul bedien het om hulle gedagtes aan ander bekend te maak. Alleen het ons gevrees om deur aanhoudend van die plattaal gebruik te maak, dat ons die lesers sou hinder." Uit 'n kunsoogpunt bederf hierdie besluit die hele boek, want dit beteken 'n opsetlike vervalsing van die dialoog. Dit was Von Wielligh se plig as kunstenaar om 'n Hotnot soos 'n Hotnot te laat praat en ofskoon sy standpunt verdedigbaar was in die dae van die Eerste Beweging, toe "Patterjots" sinoniem was met plat taal en die getroue weergawe daarvan die taalsaak sou benadeel het, kon daar geen rede bestaan om in 1918 nog so 'n apologie te maak nie.[12] Ek gee 'n paar staaltjies van die kunsmatig vervalste dialoog: Sina praat van konstabels "wat net daarop uit is om hulpelose mense die tronk in te prop" (p. 5); Iedries vertel: "Boems! Daar val 'n kanonskot op see in Tafelbaai—die egó bulder van klofie tot klofie...." (p. 14), "So 'n toestand van sake kon nie lank aanhou nie. Daar moes 'n toenadering plaas vinde" (p. 16); die ou toordokter sê vir Toel: "... maar jy is my regterhand en die voorwerp van my ongeveinsde vrindskap", (p. 62); ou Bleskop, 'n Koranna veewagter, vertel van die waterslang: "die water maak agter hom sulke wit kabbelings en hy klowe die water soos 'n skip" (p. 98); Platjie sê: "die baas het hom in vrindelikheid vanmôre gestewel en gespoor" (p. 132); Samuël praat van kieries wat "begin te kletter" (p. 77).

Gelukkig staan naas sulke papiertaal baie dialoge, wat bewys, dat Von Wielligh die Hotnotsspraak goed beheers en hul mentaliteit deur-en-deur ken. En dis 'n kennis wat berus op 'n intieme aanraking met die inboorlinge. Hy het hul bespied in al hul gewoontes en gebruike. Veral die tekening van die parmantige Tys Bokkies is goed geslaag. Die grootste gedeelte van die Griekwapreek is ook 'n bewys, dat hy hom heeltemal ingeleef het in die psiege van die mense wat hy uitbeeld. Hy slaag daar uitstekend in om die naïewe taal en beeldspraak, die primitiewe gedagtegang weer te gee. Ook van die eienaardige humor van die inboorlinge het hy gelukkige staaltjies gegee. By die beskrywing van sulke toneeltjies is hy op sy beste, en ofskoon daar groot foute in die komposiesie is, bly dit tog altyd nog 'n verdienstelike werk deur die raak tiepering van enkele figure. Die sentrale fout is, dat die mense daar is ter wille van die taal en nie die taal ter wille van die mense nie. Von Wielligh het sy taal hartstogtelik lief. Jare lank is "pittige taal" sy spesialiteit gewees. Reeds in 1881 het hy die burgemeester van Utrecht (Holland) met sy "naieve uitdrukkingen" dronkgeslaan.[13] En nou het hy in Jakob Platjie probeer om sy moeisaam opgegaarde taalskat te verwerk. Mens kry soms die indruk asof sekere anekdotes opsetlik bedenk en ingelas is om 'n treffende uitdrukking of komieke woordverdraaiing te kan gebruik.

Jakob Platjie is 'n etnologiese museum, vol opgestopte Hotnots, Korannas en Boesmans. Hulle is kunstig opgestel te midde van 'n nagebootste omgewing. Daar is 'n klipspelonk met mooi tekeninge, 'n Boesman wat staan uintjies uitgrawe met sy harde kierie, en 'n paar ander wat wild bekruip. Verder lê daar egte Boesmanspyle, ramkies, ens. Die ou wildvelle wat die Hotnotpondokkie bedek, is effens opsygeslaan, sodat ons 'n goeie idee van die konstruksie kan kry. Von Wielligh loop tussen die opgestopte poppe rond, vertel allerlei anekdotes, verklaar hul lewenswyse en die gebruik van die primitiewe gereedskappe. En in sy hande dra hy 'n besonder oulike Hotnotpoppie, wat hy Platjie noem en wat hy soos 'n geoefende buikspreker allerlei vrae laat stel, as die museumbesoekers al bietjie dooierig word van die muwwe lug. "Tata en memme, waar lê tog die danige geboorteland van julle?" (p. 6); "Toel, waar lê jou geboorteland?" (p. 58); "Oom Bles, waar lê daardie land van jou?" (p. 95); "Oom Ruiter, wat moes 'n mens eintlik maak as hy skielik in die veld teen wilde Boesmans dam?" (p. 188), ens. En dan begin Von Wielligh, as museumdirekteur weer te vertel van die ou dae se volk, terwyl Ruiter, Toel, Oom Bles en Tys Bokkies by ons staan met hul stywe gesigte en beweginglose lede. Telkens verseker hy ons, dat alles werklik waar is: "Die verhaal lyk baie romanties, maar is eg Hottentots in al sy besonderhede." (p. 58); "Hier volg nou 'n diskoers wat ons so dikwels onder Hotnots, Korannas en Boesmans hoor vertel." (p. 95.)[14] Soms raak die direkteur so erg boos op sy poppe, dat hy hulle reguit toespreek en dan gelyk sy beeldspraak erg veel op die van 'n Griekwa predikant soos Kleopas Kipie "O skynheilige mensdom, wat sy medemens oordeel. As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet pad gee. En hoeveel sal bly staan, wat as egte sterling silwer verklaar word!" (p. 51.) Maar as Von Wielligh regtig ernstig word, dan draai hy sy rug op die poppe, gooi vir Platjie ook weg en trakteer sy besoekers op 'n lang etnologiese verhandeling. (Hoofstuk X.)[15] As 'n mens ook so oorloop van kennis is dit erg lastig om nog altyd eers iemand 'n sopie te moet injaag voor sy tong loskom! Of om iemand van Europa te laat oorkom soos Dr. Kleiner....

Ons moet dit op prys stel dat Von Wielligh sy ervarings onder die inboorlinge te boek stel. Maar dit is erg jammer, dat hy nie ingesien het, dat hy sy eie kuns vermoor deur kort-kort allerhande didaktiese byvoegsels en onnatuurlike dialoog daarin te wring, in plaas van sy uitgebeelde persone, soos die lewe self is deur hul eie natuurlike geaardheid en as gevolg van die omstandighede van hul bestaan vanself een of ander mening te laat bewys of suggereer. Hy is verplig om soos 'n museumgids by sy eie werk lang toesprake te hou, waarskynlik omdat hy gevoel het, dat die werk self nie sprékend leef nie.

Platjie is, soos reeds aangedui, niks anders as die pomp, wat Von Wielligh gebruik om die water bo die aarde te kry. Ook in sy droom bly hy nuuskierig. "Hy voel hom so kalm as 'n lam en luister met gespanne aandag" (p. 224). As Platjie moeg word vir die pompery, dan kom Koos Fonk help en later Dr. Kleiner. Maar die droom van Platjie is tog nog die wonderlikste ding in die boek! Dis nie sommer vandag se Hotnot, wat só kan droom nie! Platjie hoor 'n koningin sê: "Sien jul daardie berge—ver en naby? Sien jul die klowe met hul trippelende en murmelende kristal strome? Sien jul die vlaktes waarop die heide vir die skoenlapper en die by met nektar versadig? Sien jul die hemelpurper, waarheen wolkies van vlas deur die son met goud geverf word?" (p. 224.) As Von Wielligh dan so veel belang stel in die goudmyn van Ofir—'n onderwerp, wat ook die leier van die Patriotbeweging in 'n roman bewerk het—laat hom dan in 'n wetenskaplike blad sy opienie lug. Maar hy hoef ons nie te kom wysmaak, dat 'n Hotnot, al is hy ook so danig geleerd soos Platjie, só kan droom nie. Dit is 'n psigologiese onjuistheid, so onbeskaamd-astrant, dat dit selfs die onnoselste "minder bevoorregte" moet opval.


Huis en Veld.
edit

Willie Rosveld is vyf jaar op jag gewees, neem sy vader se produktebesigheid oor en trou met Hessie Bendel. Sy vrinde is Frans le Blanc, 'n ongetroude slagter, en Dolf Baumann, 'n rytuigverhuurder en groenteboer. Die famielies gee 'n piekniek, vier nuwejaar en gaan saam strand toe. Dan trek hul na die diamantvelde. Ewert, Dolf se oudste seun, gaan saam met 'n trek na die Dorsland. Frans word intussen voorsien van "'n altyd laggende Amalie" (p. 146), 'n weduwee met 'n groot veeplaas in Transvaal, wat hom trou "omdat sy (hom) van sy jeug af ken ..." en omdat hy "as slagter, so grondig met veeboerdery bekend was" (p. 147). As die goudvelde in Transvaal ontdek word, dan trek Willie en Dolf weer soontoe. Hulle word ryk, kuier rond, besoek Pretoria, waar hul met Oom Paul en Genl. Joubert gesels, maar word op hul ou dag van mekaar geskei.




Huis en Veld is 'n poging om die maatskaplike en ekonomiese toestande omstreeks 1870 te skets. In plaas van memoires te skryf, probeer Von Wielligh om die mense van 'n halwe eeu gelede self op die toneel te voer, wat hom egter jammerlik misluk. Hy piets hul met 'n swepie deur al die vier provinsies rond, sodat hy 'n kans kan kry om van die ou dae te vertel. Dolf het gelukkig 'n seun, wat Dorsland toe kan trek, maar ons voel nie, dat dit Ewert is wat al die ellende deurmaak nie. Dis eenvoudig Von Wielligh, wat 'n opstelletjie skryf. Hy laat Willie trou "nie om 'n liefdesverhaal in te voer nie, maar wel om die gebruik, of gewoonte, van daardie tyd aan te gee" (p. 30). So gaan dit die hele boek deur. Hy vertel, o so veel van die uiterlike omstandighede en van die swerftogte van sy mense. Ons hoor wat die koring gekos 't, waarvan hul brood maak, ons weet hoe hul 'n kers snuit, dat hulle "in daardie tyd net so goed tandpyn gekry (het) as nou" (p. 22)—maar die mense self ontmoet ons nooit. Hulle is nie eers aangeklede poppe in 'n museum van oudhede nie, hulle is bloot name.

Met 'n klein wysiging kan ons Von Wielligh sy eie woorde toeroep: "Die huis moenie 'n preekstoel wees nie en die veld nie 'n voorlesingsaal nie." (p. 88.) Dit is juis wat hy doen. Luister maar na hierdie ouderwetse preek: "Jare is die vasgeklinkte skakels van 'n eindlose ketting, en snoer aan mekaar tot in ewigheid; ons persoonlikheid is maar as druppeltjie daaraan, om spoedig te verdamp en sy plek ken hom nie meer nie ... Dis die laaste dag van die jaar; maar nie die einde van tyd nie—(sou die "minder bevoorregtes" dit miskien nie weet nie? P.C.S.)—tussen die begin en einde van oneindig ewigheid is geen middel nie. (Q.E.D.!) Net soos die grootste hemelliggaam 'n stoffie in die oneindige ruimte is, net so is eeue 'n oogwenk in die ongebroke snoer van tyd," (p. 48-49.)[16] Op p. 32-33 word ons in egte traktaatjiesstyl vertel hoe iemand "diep onder die grond in 'n dronkaardsgraf" geraak het.

Dat daar 'n geestelike verwantskap tussen Von Wielligh en Kleopas Kipie, die Griekwa-predikant bestaan, bewys die volgende: "Net so onsierlik as 'n blomtuin sonder blomme, so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees. Daarom, groot is jou mag, o vrou, sien toe dat jy dit op die regte tyd, en op die regte wyse gebruik. Maar nie om berge te wil versit, of te uithaler te wees in 'n kamer waar rotte komedie speel nie ..." (p. 121).

Die selfde Oom Ignaas, wat beweer dat die huis geen preekstoel moet wees nie, sit ewe getroos twee paginas vol te preek oor huweliksgeluk (p. 87-88), en sy vrou klop hom nog, want sy het byna drie blaaie nodig voor sy uitgepraat is, (84-86). Op p. 79 preek Oom Ignaas weer oor weeskinders en so sou daar nog meer voorbeelde aan te wys wees, wat net danig "met slaapstof gespesery" is.[17]

Die dialoog is meestal onnatuurlik. Soos 'n egte boekeheld sug Willie: "Ag mag ek die onsterflike glimlag nog eens op moeder se lippe sien, of die welgemeende raad van vader aanhoor!" (p. 4.) En watter Boermoeder sou so praat: "Willie, ons is bly dat jy die veld deurreis het, waar alles deur die Natuur self geplant is...." (p. 9). En Frans, die slagter, die man wat sê: "Liefde is eiebelang en selfvermaak" (p. 148), slaan ook 'n snaakse taaltjie uit by die Duiwels-Kantoor: "Waar is die skilder wat die landskap op seildoek kan weergee! Waar is die digter om die grillerige aanblik in woorde te beskrywe!" ens. (p. 157).

Ou Kammies, wat so dapper met die doringstomp spook is goed geteken. As hy praat dan luister ons graag, want sy taal is nie net 'n aftreksel van Von Wielligh s'n nie. "Maar seur,—nou?—nou kraak my ou litte van kanniemeernie en ek kan nie eers meer daardie klip raak spuug nie" (p. 47). Een so 'n sinnetjie laat ons direk voel dat ons met 'n mens te doen het. Hoe raak is ook die toneeltjie waar Kammies met die piekniekwaens aankom: "Wel, hoe het dit gegaan, outa Kammies?" vra Willie. "Nee, goed seurtjie. Net jammer die wiele van die wa het van droogte begin skree," antwoord die ou wynvlieg. "En die swaarste van al was, outa, dat die smeergoed al die tyd op die waentjie lê," las Dolf tussen in. "Dis by my kool die waarheid, seur Dolf! Toe het ek maar soos bobbejaan gemaak—ander pad sit kyk." (p. 41.)

Waarom sleep Von Wielligh kinders in sy verhaal as hy hulle net heeldag toesnou: Moenie dit nie en moenie dat nie! nes 'n kwaai oupa wat hoofpyn het? As die arm goedjies iets wil doen, dan moet hul altyd hoor: "Nee, volstrek nie, die muile sal jul skop" (p. 57), "die slange sal jul byt" (p. 44) en so word hul nog vyf keer iets verbied, (p. 42, 50, 56, 57 voorlaaste paragraaf, en 67.)[18]

Wat hy in Staan jou Man verklaar, is maar al te waar van homself: "... ons wat groot en oud geword het, het magtig baie vergeet wat in die kindersiel woon." (p. 147.) Anders sou hy die twaalfjarige Ester nie so 'n ou-menstaaltjie laat praat nie: "Kom ek om, dan kom ek om.... Sit ons stil tuis, dan is ons tog kinders van die Dood." (p. 177.) En die wonderlike Amerikaner, wat so netjies sug nes 'n middeleeuse rederyker (p. 201) het ook 'n snaakse begrip van 'n kinderverstand as hy vir Ester sê: "Hulle (die eierdoppies) het wel eens die kiem van lewe gedra, maar is nou siellose stof geword en is tans oorblyfsels van verongelukte verwagtings, nes die graffies van kinders wat slegs tydelik aan hulle volk geleen was." (p. 201.)

Eweas in Jakob Platjie hou Von Wielligh ook in Huis en Veld lang verhandelinge oor die toestande van 'n halwe eeu gelede, wat heeltemal los staan van die verhaal. So kry ons in hoofstuk III besonderhede oor poswese, boerdery, kerk, skool, spoorweë en ... swawelhoutjies. Daar is historiese uitweidings en 'n beknopte geskiedenis van die Patriotbeweging; 'n definiesie van 'n lugspieëling (p. 109), wat sou pas in 'n handboekie oor aardrykskunde, 'n boereraad teen koorssiekte en 'n persoonlike appresiasie van die deugde van Engelse sout, kienapille en "grou vomitief", ens. ens. Von Wielligh het ongetwyfeld 'n goeie kennis van die tydperk wat hy beskrywe en sou seker 'n handboekie kan opstel wat vir die historikus en argeoloog nuttig sal wees, as hy maar net leer om te onderskei tussen gewigtige en onbelangrike sake en hul nie heel deftig vertel dat "die graanboer meestal sy gesprek voer oor graan ploeg en afoes; die wynboer belang (stel) in wingerde en wyn, en die veeboer verdiep (is) in sy skape en beeste ..." (p. 57-58). Hy kan gerus aanneem dat iedere normale mens dit oor vyftig jaar ook nog sal weet! Laat hom in elk geval nie weer probeer om sy kennis soos Koos Fonk in 'n roman rond te smous nie, want ook op letterkundige gebied is sulke smokkelpraktyke strafbaar.


Staan jou Man.
edit

In Staan jou Man word die boerelewe op die ooster-grense van die Kaapkolonie in die tyd net voor die Groot Trek geskets. Gert Markeland, weens sy groot lengte bekend as "Groot Fant" woon op die plaas Kliphuiskoppie in die nabyheid van Grahamstad. Een van sy bure is Samuel Firtree, 'n Engelse "setlaar", wat egter heeltemal Afrikaner geword het. Jakob Raster, 'n Hollandse matroos, is Daan Wiks se skoolmeester. Groot Fant gee op sy verjaarsdag 'n groot fees, en later word trekplanne op Org Dapperman se plaas bespreek. Daar word 'n tier geskiet, by welke geleentheid Raster les kry in perdry. Frankie Daai, 'n ou-jonkman maak flikkers by Sytjie, wat skielik ryk geword het deur 'n groot erfenis, maar word deur sy handelsvennoot Soekie Grasman uitgeoorlê. Victor, die seun van Firtree, skiet per ongeluk Org Dapperman dood en verwond sy vrou, waardeur die trekplanne uitgestel word. Allerlei kaskenades van Rennie, Groot Fant se seun en Ester, Dapperman se dogter, word verhaal. Ester red die bewoners van Kliphuiskoppie deur op dapper wyse die aantog van Kaffers aan die bure bekend te maak. Plase en meubels word verkoop en voorbereidings vir die Trek gemaak. Intussen het Daai en Grasman in die tronk geraak en Groot Fant Sytjie gekies om die plek van sy oorlede vrou in te neem. Die verhaal sluit met enige awonture van die trek.




Uit Staan jou Man blyk ten duidelikste dat Von Wielligh se intriegemasjienerie net 'n paar radjies het, wat al lelik uitgeslyt is. In Huis en Veld het hy tweemaal gebruik gemaak van 'n verlore brief (p. 117 en 125), in Staan jou Man doen hy dit nog eens (p. 103) en ook in Jakob Platjie speel 'n brief die rol van verklikker (p. 85). In Staan jou Man bewys Sytjie ook nog Daai en Grasman se onskuld deur 'n brief (p. 237).[120]—Koos Fonk se verjaarsdagfees by Gansmond word beskryf (Hoofstuk XII)[121]; in Huis en Veld is daar Nuwejaarviering (Hoofstuk VII), in Staan jou Man alweer 'n verjaarsdagfees (Hoofstuk VI), en daarby nog 'n poffertjiesparty (Hoofstuk III).—Platjie sien "skrifgeleerde" visioene, nadat hy soutvleis en stormjaers geëet 't (p. 222), Frankie Daai ooreet hom aan buffelkarbonaadjies en word deur 'n lelike nagmerrie gery (Hoofstuk IX).—In Huis en Veld skrik die vrouens hul lendelam vir spinnekoppe (p. 181) en Tant Annie het groot respek vir klipsalmanders (Hoofstuk II).—Die vrindskaplike verhouding tussen die famielies in Huis en Veld vind ons onder gewysigde omstandighede terug in Staan jou Man. Jakoba word skielik ryk (H. en V. p. 114), Sytjie ook (S. jou M. p. 90) en albei kry dadelik vryers. Birdie se twee vryers raak albei in die moeilikheid deur hul slim planne, Sytjie s'n netso. En so sou daar nog meer ooreenkomste aan te wys wees.

Die oorvloed van los anekdotes in al drie boeke is ook opvallend. In Staan jou Man loop so baie kruispaadjies, dat ons glad van die grootpad verdwaal. Die skrywer het dit blykbaar self gevoel, want hy begint Hoofstuk XIV aldus: "Ons verlang nou al so baie na Kliphuiskoppie ... dat ons nou g'n minuut langer sal versuim om daarheen te gaan nie." Die enigste draad, wat die anekdotes verbind, is dat almal bewys, dat die persone hulle man kan staan. Dit word so 'n opeenhoping van dapper dade, dat mens naderhand voel, dat die kindere Enaks weer opgestaan het, terwyl Groot Fant 'n reinkarnasie van Simson is. Dat hy nog die moeite doen om die pilaar van die kliphuis met kruit weg te blaas en dit nie sommer omstoot nie, soos sy prototiep met die tempel van die Filistyne gemaak 't, bly 'n raaisel!

Dit spreek vanself dat by 'n roman, waarin die skrywer probeer om deur 'n semelagtige aaneenstrengeling van awontuurlike voorvalle te bewys, dat die vernaamste persone almal hul man kan staan, van die psigologiese uitbeelding niks tereg kom nie. As hy die smart van die trekkers moet uitbeeld, wanneer hul die Kolonie verlaat, dan roep hy uit: "Ons verberg ons gesig vir die warme trane van afskeid, ons sluit ons ore vir die hartverskeurende snikke, wat sielesmart vertolk.... Vroue en kinders wink mekaar toe met hulle hande of sakdoeke, en die mans waai met hulle hoede—alles tekens van 'n hartgevoel wat woorde magteloos slaan om (dit) te verklank" (p. 240-241).[19]

Dieper dan die trane en die sakdoeke kan hy nie sien nie en daarom wil hy sy oppervlakkigheid agter 'n retoriese poespas wegsteek. Met die een voorbeeld kan ek volstaan en merk alleen nog op, dat daar selfs geen goedgetekende Hotnotsfiguur in Staan jou Man is nie.

Die neiging om lang "moralisatiën ende contemplaciën" oor sy persone te hou, is in Staan jou Man nog baie hinderliker dan elders. "En as ons Frankie Daai so sien lê, dan rys die volgende oorwegings in ons gedagte op:—" (p. 86). Wat die "oorwegings" met die slapende Frankie te doen het, weet Von Wielligh alleen, want dis 'n beskrywing van die winter!! As Frankie egter eers gedroom het, dat Sytjie hom wurg, maak "hierdie afgryslike gesig ... verder 'n beroep op ons nadenking" en dan pas merk ons dat die wintertoneeltjie 'n aanlopie was vir 'n uitgewerkte preek oor die "vraatsugtige Mens", by welke uitroep ons seker aan Frankie se gulsigheid met die buffelkarbonaadjies moet dink! Maar dis glad mis! Die "vraatsugtige mens" handel nes die "kille nagwindjies"! So raak ons "toegespinnerak" in die "stowwerige webbe" (p. 88) van onverstaanbaarheid.

Op p. 186 versoek hy die "waarde leser" om die pen uit sy hand te neem "om die blydskap van tant Annie in skrif ... neer te skrywe"; op p. 147 staan 'n prekie oor kinders in Griekwa-styl; op p. 270 vertel Ester en Rennie "hulle awonture en uitredding, wat ons as volg teruggee". Die verklaring van stormjaers, p. 26, wat hy oor en oor gee in byna al sy boeke, en die beskrywing van 'n kakebeenwa moet hy bewaar vir sy oudheidkundige handboek.


Boesman-Stories.
edit

"The religion of the Bushmen is made as clear from their own recitals as such a subject can be, when it is remembered that the minds of the narrators were like those of little children in all matters not connected with their immediate bodily wants. Their views concerning the sun, moon, and stars seem utterly absurd, but a European child five or six years of age, if not informed, would probably give no better explanation. Their faith too, that is, their unreasoning belief in many things that to an adult European seem ridiculous, is seen to be that of mere infants." So lui die verklaring van Dr. Theal in sy inleiding tot Bushman Folklore by Bleek and Lloyd (p. XXXVIII) en wie die eerste deel van Von Wielligh se Boesman-Stories (1919) gelees het, moet die juistheid daarvan erken. Die stories verplaas ons in 'n spook-wêreld, waar alles met toordery aanmekaar hang, waar die snaakste gedaanteverwisselinge plaasvind en die aller-gekste maneuwers uitgevoer word. In die wonderlike gedoentes is daar weinig logiese gang; daar is geen kliemaks wat steeds die belangstelling gespan hou, geen goeie motivering, geen artistieke, harmoniese eenheid nie. Meestal weet ons nie of ons met mense of diere te doen het nie, want ofskoon die diere gewoonlik enkele kenmerkende eienskappe hou, word die juiste maat in hul vermensliking selde getref, en verrig hul dade, wat al te spesifiek menslik is. So lees ons van 'n uil, wat sy mes laat val (I, p. 117), 'n aasvoël, wat 'n springbok skiet (II, p. 19), 'n leeuwyfie, wat met Boesmankinders saamwoon en hulle met knopkieries wapen (II, p. 109), 'n tier wat hom as 'n reisiger vermom (II p. 140). En van sulke voorbeelde krioel die stories. Dit word ten slotte 'n marteling om die grillige kronkelinge van die Boesman-fantasie te volg. Van skoonheid uit letterkundige oogpunt is daar heel weinig te bespeur in die kinderagtig inmekaargedraaide versinsels, waaraan mens geen osseriem kan vasknoop nie. Vir die etnoloog mag die gegewens, wat Von Wielligh met sulke prysenswaardige ywer byeenversamel het van groot waarde wees, maar vir die letterkunde is alleen enkele verhale uit die eerste twee dele van enige betekenis. Mooi is nommer 41 waar 'n leeu met 'n klein meidjie by die wagvuur speel. En so is daar ander toneeltjies uit die swerwende jaglewe van die Boesman, wat treffend is deur oer-naïewe eenvoud; ook raak skildering van diere (b.v. in nommer 44), maar selde 'n skone geheel.

In die eerste deel word hoofsaaklik die mitologie behandel, deel twee bevat dierstories, terwyl die derde deel eintlik geen reg op die naam Boesman-Stories het nie, want dis 'n geskiedkundige verhandeling oor die "sedes, gewoontes en bekwaamhede" van die Boesman. Heelwat besonderhede, wat reeds in Jakob Platjie en die eerste twee dele voorkom, word hier herhaal, te same met persoonlike herinneringe en allerlei anekdotes, wat die skrywer van ander persone verneem het. In eenvoudige taal vertel Von Wielligh alles wat hy van die Boesmans weet. Gelukkig het hy sy meedelings nie "met 'n vergulde nerfie oor(ge)blaas"[20] nie, want soos uit 'n nader bespreking van sy styl sal blyk, is 't juis dìt, wat hinderlik is in sy romans. Hier loop hy eenvoudig padlangs en vir die ondersoeker van Boesman-gewoontes deel hy heelwat wetenswaardigs mee. In die voorwoord van die derde deel verklaar hy, dat dit "van 'n wetenskaplike aard" is. Populêr-wetenskaplik sou juister wees, want Von Wielligh is met als sy persoonlike ervaring 'n leek sonder etnologiese vorming, wat geen begrip het van die groot verband van sy onderwerp, en wat hom deur sy hartstog vir die Boesman tot allerlei gewaagde en moeilik bewysbare generalisasies laat verlei. So verklaar hy op p. 73, dat die Boesman 'n paar oë het, "om ver en raak te sien soos nog geen ander menseras hom op kan beroem nie", en op p. 68 verseker hy ons, dat daar "op die Europese toneel min ... dansers (is), wat 'n Boesman in 'n riel sal uitstof ..." Op p. 21 verklaar hy: "soiets as mis-skiet ken 'n Boesman glad nie", terwyl hy kort daarop moet erken: "In sterk wind is hy minder gelukkig". Die meedeling oor die slangsteen op p. 52 is seker ook nie van wetenskaplike aard nie, ewemin as die snaakse definiesie van "deursigkunde—dit wil sê, om voorwerpe op 'n tekening op verskillende afstande voor te stel" (p. 67). Vir die vakman sal die volgende bewering ook stellig nie van veel nut wees nie: "Sy voedsel (d.i. die Boesman s'n) bestaan byna uit enige ding—al wat hy nie eet nie, is wat hy nie in hande kan kry nie." (p. 21).

Die vierde deel bevat "gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike aard", wat die skrywer gedeeltelik self opgeteken 't en gedeeltelik aan ander bronne ontleen 't. Daar is 'n paar goeie jagstories en verhale wat ons 'n kyk gee op die awontuurlike lewe van die boere teen die end van die negentiende eeu. Uit letterkundige oogpunt is dit die besgeslaagde bundel, ofskoon ook hier die psigologie soms nie dieper as die boonste nerfie gaan nie, soos blyk uit die volgende: "Dis wonderlik watter indruk so 'n verandering in die lewe van 'n Boesman maak. Hy kom uit die wildernis, alwaar beskawing nog op sy beurt wag. Hy kom in Kaapstad en sien treine, skepe, hoë huise, en hoe baie mense daar besig is. Die groot winkels met alle soorte goed wat hy nie ken nie, is vir hom 'n wonder bo wonder." (p. 132.) Met dit al het Von Wielligh met die versameling van die stories 'n verdienstelike kultuur-historiese bydrae gelewer. Wat hy met onvermoeide speursin uit verborge hoekies en gaatjies gehaal 't sal altyd van belang bly, maar waar dit ons hier te doen is om letterkundige skoonheid, moet gekonstateer word, dat die geaardheid van 'n groot gedeelte van die stof sodanig is, dat dit slegs vir wetenskaplike doeleindes geskik is.

Gewoonlik word die serie Boesman-Stories as boeke vir die jeug beskou. Blykens die voorberig van die vierde deel was dit allermins die bedoeling van die outeur en uit die karakterisering van die inhoud is dit duidelik, dat hy gelyk het. Daar is seker min Afrikaanse ouers, wat sou wens, dat hul kinders so 'n volledige kennis van al die Boesman-bygelofies bevoorbeeld moet hê, as wat Von Wielligh ons aanbied. Niettemin sou daar seker 'n klein bloemlesing uit die vier dele kan saamgestel word, wat sal voldoen aan die vereistes van 'n kinderboek. Maar Von Wielligh is veels te optimisties waar hy sê: "...daar sal gewis 'n tyd aanbreek dat nie alleen kinders nie, maar meer as kinders hulle ore sal hou teen die blaaie van Boesman-Stories om te luister na sprokies en vertellings asof die woorde direk en duidelik afkomstig is van die oorspronklike lippe wat hul vertel het."[21] Dit is in flagrante teëspraak met die volgende: "Met die skrywe van hierdie Boesman-Stories het ons die gedagtes van die Boesmans in ons eie woorde vertolk ..."[22] en gee aanleiding tot 'n ander opmerking. Die eienaardige bekoring van die inboorlingestories sit ongetwyfeld grotendeels in die persoonlikheid van die oorspronklike verteller. Dit het Von Wielligh self gevoel, want in die voorberig van Diere-Stories verklaar hy: "Niemand kan 'n Diere-Storie so smaakvol as 'n Hotnot vertel nie. Dit smaak of hy alles daar voor hom sien en hoor, wat hy verhaal. Haarfyn kan hy die Diere naboots en namaak—so natuurlik, dat ons daarvan soms bang word." Nou is dit juis dié natuurlike element, wat ons in die Boesman-Stories mis, terwyl in Diere-Stories, soos deur Hotnots vertel die juiste toon baie beter getref word. Gelukkig het Von Wielligh besef dat 'n kinderboek nie "deurspek met lesse, met sedepreke" moet wees nie en met uitsondering van sekere minder artistieke stylwendings kan die Diere-Stories as aangename kinderlektuur beskou word, wat egter in hierdie verband nie nader kan bespreek word nie.

Al dadelik blyk egter weer uit die volgende aanhaling, dat Von Wielligh, as leek hoegenaamd geen insig het in die wordingsgeskiedenis van dierverhale nie. In die voorberig van Boesman-Stories I stryk hy met 'n klein vetkersie ewe parmantig in die volle lig van 'n stralende son:

"In Europa en Amerika word tot nog toe vrugtelose pogings aangewend om gewilde en ingrypende (?) "Diere-Stories" te skrywe; hier in Suid-Afrika het die Hotnots en Boesmans dié reeds vir ons eeue gelede uitgewerk. Al wat ons te doen het, is om die ryk oes in te samel." Hy weet dus nie, dat feitlik alle volke hul dieresprokies het nie, dat selfs vandag nog sulke vertellings van mond tot mond gaan oor die gehele aardbodem en dat baie van ons jakkalsstories groot ooreenstemming vertoon met die Europese verhale van die vos.[23]Wat die digter van Reinaerts Historie (II), reeds in die 14de eeu geseg het bly nog altyd waar, ook in literêr-historiese sin: "Van Reinaerde es een groot saet Ghebleven dat nu seere up gaet."

Van Von Wielligh het ook nog verskyn 'n Afrikaanse bewerking van Robinson Crusoë (1920) en 'n Boesman-Robinsonade, Nimrod Seeling (1921). Nimrod is 'n seuntjie van vier jaar, wat in die hande van Hotnots en Boesmans val en by hulle bly tot sy veertiende jaar. Deur 'n aaneenskakeling van awontuurlike gebeurtenisse kry die skrywer nog eens 'n geleentheid om die gewoontes, sedes en bygelowe van verskillende inboorlingstamme te skets, terwyl ook die jag op groot wild beskryf word. Aangesien die verhaal vir die "jonger geslag" bedoel is, word 'n eenvoudige styl gebruik. Maar selfs die spannendste awonture word op dorre betoogtoon verhaal, sonder enige poging tot plastiese uitbeelding. "Die leeu is nou kort agter ons. Toe Saba in haar boom was, steek sy haar hand uit om my op te help. Maar helaas, my lang hare raak verward in 'n droge tak. Saba breek met wilde krag die stuk tak en pluk my op; net toe kom die leeu onder die boom en vang met sy voorpoot naar my voete. Hierop maak Saba haar man as of hy uit sy boom wou afklim. Die leeu sien dit, hol soheentoe en kry 'n skoot met 'n gifpyl, deur die ander Boesman afgeskiet. Hierop gee Saba haar man hom nog 'n skoot, en hy was nie meer nie." (p. 33-34.) Dit is maar een voorbeeld van die dooierige, kroniekagtige vertellings, waarin die verskillende insidente deur 'n uitgerekte string van hierop—daarop—waarop—daarna—verder—voorts en soortgelyke woorde aanmekaar geryg word.[24] Dat ook hier herkouing van ou motiewe aanwesig is, bewys o.a. die Griekwa-preek op p. 76.

Hy tok-tok, hy tok-tok,
Hy tok-tok, hy tok-tok, ens. ens.

[25]

Dit is die enigste ritme, wat daar in Von Wielligh se prosa is. Gevoel vir die klankwaarde van woorde, vir die fyner modulasies, vir die mooi melodie van glydende woordereekse besit hy nie. Ewe geduldig stryk hy sy ramkie en op die eentonige deun "kerf" hy riel na riel uit. Dit is die totaalindruk. In Jakob Platjie word ons af en toe deur 'n mooi klankeffek verras en ook in die Boesman- en Diere-Stories, maar in Huis en Veld dreun die dowwe preektoon dwarsdeur.

Herhaling van dieselfde woorde is 'n vaste kenmerk van sy styl. "As 'n man wild na huis bring, dan word die afgekoude bene 'n entjie van die deur van sy hut op 'n hopie gegooi. So het elke man in die kraaltjie sy eie beenhopie. Die afgeëte bene, so lank geëet word, word in die hol bak van die borsbeen van 'n volstruis geplaas. Is daardie beenskottel vol bene, dan word dit na die beenhopie gedra en daar neergegooi." (Boesman-Stories III p. 34-35.) En so gooi Von Wielligh nog 'n paar paragrawe aldeur bene op die beenhopie, totdat dit 'n berg word! In Huis en Veld (p. 145) kom behalwe ander herhalings voor: herstel—stel—stel, alles in een paragrafie.[26]

"Onder sy aanvoer kom hul altyd vierkant veilig anderkant uit" (t.a.p., p. 67). "Dit het Daan gesê, en hy gaan toe op 'n verraderlike blok sit, wat sy plesier daarin vind om óm te slaan en die een wat daarop wou sit, nog die moeite te gee om dit weer met sukkel in ewewig op die grond te plaas en dan daarop te sit, met meer aandag wat onder as wat voor die sitter plaasvind" (t.a.p., p. 24). Afgesien van die storende herhaling is dit seker besonder lompe styl. En sulke voorbeelde is daar soos bossies![27]

Met nog een tok-tok-deuntjie kan ons volstaan. "Daar was nie lopende water in die kloof nie; alleen was daar 'n gat water onder 'n waterval. Daar was geen ander ingang tot die kloof as van onder af nie. Ons vind die dooie kalf bo in die kloof digteby die waterval en daar het ons die slagyster gestel soos dit behoort te wees, sonder die yster aan iets vas te maak—anders draai die tier sy poot daarin af. Lê die yster los, dan kan hy wel 'n entjie daarmee stap, dog van ontvlug is glad geen sprake nie, daar die yster te swaar' aan sy seer poot hang." (N. Seeling p. 77-78.) "Ma, Pa vra of Ma nie Pa se osse na die wa sal laat ja nie?" is kindergestamel van dieselfde klankwaarde.

Vir kombinasies van verwante gedagtes is Von Wielligh baie lief en dikwels gee hy in aliis verbis idem. "Dit vul ons hart egter met blydskap om met vergenoegdheid 'n terugblik te mag werp ... (Eerste Skrywers p. 7); "Maar gelukkig het 'n verwydering van liefde en vrindskap die lede nie van mekaar kon skei nie. Vrinde as altoos!" (t.a.p., p. 49)—wat onsin is! "Hulle (verstaan: die Engelse) beskik oor wêreldberoemde skrywers en vertalings uit ander tale" (t.a.p., p. 91); "Hy het die Britse gesag verlaat en vaarwel gesê, en met sy Groot Trek het hy in 1836 die Kolonie verlaat ..." (t.a.p., p. 103); "'n lappies dorp van tente of 'n blikkies dorp van sinkhuise" (H. en V., p. 111); "Rusteloosheid egter gun hom geen rus nie"[28] (t.a.p., p. 6); "die renbaan het Freddie se beurs omgedop, sodat die binnekant nou buite sit" (t.a.p., p. 128); "alles natuurlik onder vier oë en in diepe vertroue" (J. P. p. 94); "Die trekboere het in tente, maar liefs by voorkeur in matjieshuise gewoon" (t.a.p., p. 92); "die man se lyf was amper kaal en met min klere bedek" (Boesman-Stories I, p. 148). Dieselfde neiging om tog maar veral niks aan die fantasie van die leser oor te laat nie blyk ook uit tal van nuttelose opmerkings by die Boesman-Stories. Die tietel van No. 58 in deel III lui: "Nog meer oor Bygeloof" terwyl die Opmerking(s) ons nog ewe deftig verseker: "In hierdie Verhaal sal ons nog meer vertel oor die bygelofies van Boesmans"! By No. 53 en elders gaan dit net so!

Ick sie: geen dingh en is soo kleyn,
Of 't gaet u tot het innigh breyn:
Geen dit of dat, geen boere-schuyt,
Of gy en treckt er voordeel uyt.[29]

As Von Wielligh in die sewentiende eeu geleef 't sou hy seker 'n tiental emblematabundels geskryf 't. Wat van Vader Cats geseg is, geld ook van hom: "Niets is hem te gering; geen afstand is hem te groot, geen combinatie te zonderling; zijn blik volgt de vloo, dwaalt van de oester tot het haantje van den toren."[30] "De voorstellingen (in Sinne- en Minnebeelden) zijn meerendeels ontleend aan het dagelijksch leven; een doorgehakte paling welks twee deelen zich zoeken te vereenigen, een brandend hout en een mooi meisje, eene papegaai in een kooi, een spinneweb, een windhaan, een rattenval, een bordurende juffer ... verwelkte rozen, een vlinder, eene fuik, enz."[31]

"Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed." (H. en V., p. 14.) Met 'n mooi plaatjie daarby sou dit 'n goeie sinnebeeld wees. Cats redivivus, maar dan tog in onderbaadjiesak-formaat, want van sy fyn vertellerstalent is daar by Von Wielligh weinig te bespeur. Dit is bekend, dat Cats twistery tussen man en vrou verdedig deur daarop te wys, dat 'n braakmiddel af en toe goed is vir die maag. Dit is wel iets na Von Wielligh se smaak: "Om iemand kwaai woorde toe te voeg, of om hom vomitief in te gee, kan jy iets onaangenamer terug verwag" (H. en V., p. 88). Dieselfde skerp "tegenstelling van verheven en plat" wat by Cats so 'n komiese indruk maak, tref ons ook by Von Wielligh aan. As Cats bevoorbeeld wil duidelik maak, dat die gedrag van iedere vryer noukeurig ondersoek word, dan sê hy:

Een vryer moet het lyf als op de rooster leggen, Om daer, gelyck een worst, te worden omgewent,

Totdat men aen den reuck syn roet (vet) en reuzel kent.[32]

Von Wielligh verklaar met groot erns: "... so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees." (H. en V., p. 121).

"Zeker, Potgieter had gelijk toen hij, met het oog op Huygens, zeide dat voor den waren dichter niets te laag is om het tot zich op te beuren. Indien de dichter het lage dan ook maar opbeurt. Dat doet Cats zelden. Gewoonlijk bukt hij zich of hurkt er bij neer ... Liefst houdt hij zich bij het dagelijksch leven; maar het dagelijksche wordt licht alledaagsch, het alledaagsche staat niet ver van het platte, het platte daalt gaarne af tot het ruwe."[33] So gaan dit ook met Von Wielligh. Dat hy sy boere ens. van die ou dae, beelde ontleen aan hul daelikse bedryf laat gebruik, is goed gesien. As Frans die slagter b.v. in Huis en Veld na aanleiding van 'n opmerking dat gebrekkige en sieklike mense nie behoort te trou nie sê: "Dus hulle is van egtelike Liefde uitgesluit. Hul moet hulle geluk in Vrindskap gaan soek—en is stompoor gesny en op die stoppelland geja." (p. 16), dan tiepeer dit meteens die man se hele persoonlikheid. Willie se grappie: "Ons het die ou jaar net vandag nog aan die puntjie van sy stert, vannag glip hy hand uit en slaan bolmakiesie oor die afgrond van die verlede" (p. 47) pas mooi in die koffiedrink-atmosfeer. Maar wanneer Dolf se vrou in volle geselskap sê: "dan maak Ma eers goed vuur op hulle asplekke" (p. 74), stap sy oor die grense van alle welvoeglikheid. Von Wielligh moet bedenk, dat wat uitstekend pas in Jakob Platjie nie orals kan gebruik word nie. Koos Fonk se mikstuur "maak vrolik en olik en dan moet daar weer van die hond se hare gehaal worde om op die hond se bytplek te sit" (p. 81). Sina is "vir die tronk so bang ... as 'n bobbejaan vir die hits van 'n gloeiende yster" (p. 5)—dit is raak opmerkings, wat ons dadelik as psigologies juis voel. Maar ongelukkig het die Hotnot-Griekwa-Boesman-suurdesem deur al Von Wielligh se werk getrek. Dolf se "beskouing omtrent sake het nie dieper ingedring as 'n speld in 'n aap se duim nie" (H. en V., p. 13); sy gestalte "laat iemand aan 'n bobbejaanpaal dink ... terwyl Frans iemand aan 'n ronde-rib skapie herinner" (p. 13)[34]; Hessie "kielie 'n kort stukkie op die klavier" af (p. 36); Dolf lyk "net verspot ... asof hy te veel galsterige varkspek geëet het" (p. 97) en in Staan jou Man sit "algar ... by hierdie tyd soos paddas danig erg van die gemmerbier opgeblaas" (p. 61); "Die son steek asof hy Fant in 'n groot stuk kaiings wou opsmelt" (p. 18); Soekie Grasman is "so grappig dat hy 'n hele vrag ape van lag sal laat uitskater" (p. 104) en druk Sytjie "om haar beenderige ribbe" (p. 131); "M.A. en B.A.-tietels was vir hulle net soveel wêrd as 'n broeksak vir 'n hond" (p. 149); "ons almal weet dat die troos wat hieraan ontleen is, maar altyd 'n handvol vlieë bly" (p. 244). Met sulke beelde sal Von Wielligh seker die outas en aias in die kombuis laat lag.[35]

Met eienaardige logika probeer hy om die plat taal van die Patriotters goed te praat: "'n Fout werd gevinde met die Eerste Skrywers, dat hul ongekuiste taal gebruik het. Maar dit vind 'n mens by die eerste skrywers van alle volke en die rede is hierin te soek: dat as iemand van 'n vlooi praat, dan is dit onbeskaaf, maar hy mag wel van 'n vlieg praat. Dis niks om van 'n koei te praat nie; maar pas op om van 'n bul te praat. Iemand kan sê: "dis leuenagtig"; maar "dis waaragtig" dan is dit vloek. In die opvoeding word hom geleer wat te sê en nie te sê nie. Dus hy word geleer hoe om in die sitkamer te praat. Alle dinge is geoorloof; maar alle dinge is nie oorbaar nie". (Eerste Skr., p. 38.) Met iemand wat hom van sulke argumente bedien, val daar nie te redeneer nie.[36] Dat "die eerste skrywers van alle volke" hul van ongekuiste taal bedien het, is 'n bewering wat stellig onwaar is in sy algemeenheid; bowendien kan die gebruik daarvan in die negentiende eeu beswaarlik geregverdig word deur 'n vergelyking met toestande van vyf of ses eeue terug.

In sy studie Ons Geselstaal verklaar Von Wielligh: "Dog iemand wat regtig meen om suiwer Afrikaans te bestudeer, moet peil tot die bodem om die Afrikaanse gedagtegang baas te raak. Hiervoor lewer Plat Taal ons 'n uitstekende geleentheid om te leer hoe woorde van suiwer gehalte te vorm. Dit wil sê, as ons meester van die Afrikaanse Plat Taal is, dan besit ons die sleutel om woorde van 'n hoë gehalte te smee; besit ons dan sulke doeltreffende woorde, dan word praalskrif op suiwer grondslae vir ons so duidelik as die son aan die hemel—altyd opklim, opklim tot die hoogste sport."[37]Von Wielligh is hier ongetwyfeld op die regte spoor, al raak hy ook verward in sy beeldspraak. Met plat taal bedoel hy blykbaar die geselstaal van die onderste lae van die samelewing, wat volstrek nie noodwendig plat is nie, terwyl onder praalskrif, taal van letterkundige gehalte moet verstaan word. As Von Wielligh dus bedoel dat die kunstenaars die volkstaal moet beluister, dan gee hy 'n raad wat baie groot skrywers van alle volke gevolg het. Dit is bekend hoe Vondel, Hooft, Brederoo en ander sewentiende-eeuers gedurende die wordingsproses van die Neerlandse taal geput 't uit die sappige volkstaal. Hooft sê in 'n brief van 1630: "Verworpelingen van woorden van straet op te raepen ende doen dienen daar ze deugen, al was 't onder de edelen, daer kan men eer af hebben". Van Vondel vertel G. Brandt: "Om op elke stof en zaak de rechte spreekwysen te vinden, onderzocht hy, by allerley slagh van menschen, wat Duitsche woorden elk ontrent zyn werk, handteering en kunst gebruikte. De landtluiden vraagde hy, hoe sy spraaken ontrent den landtbou, en hoe ze 't geen daar toebehoorde noemden, en uitdrukten. Ontrent den huisbou vraagde hy op gelyke wyse de timmerluiden en metzelaars: ontrent de zeevaart en 't scheepstuig de zeeluiden; ontrent de schilderkunst, en wat daartoe hoorde, de schilders: en zoo voort ontrent alle ander bedryf, wetenschappen en kunsten. Dit strekte tot opbou der taale en om van al wat hem voorquam met woorden die de zaake eigen waaren te spreken."[38] Dit is presies wat Von Wielligh met groot ywer en toewyding gedoen het en die uitkomste van sy jarelange ondersoek is dikwels verrassend. Maar dit is van meer belang vir die taalwetenskap as vir die letterkunde, omdat Von Wielligh geen kunstenaar is nie, wat uit sy versamelde gegewens 'n werk van skoonheid kan skep. Hy is eenvoudig 'n belangstellende leek, wat hom verlustig in die "raak kolskote"[39] van die "spraakmakende gemeente", wat "sy lag nie kan bedwing vir die raaksê-uitdrukkings"[40] van die volksvernuf nie. As hy binne "die grense van sy eie ploegland"[41] bly, en die gesprekke van eenvoudige volkstiepes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi effek, maar sodra hy hom "werp op die vleuels van praalskrif" dan gee dit 'n lelike misoes af. Van sy fyn opmerkingsgawe waar dit dinge uit die alledaagse lewe geld, uit die boerebedryf en jagveld getuig byna iedere pagina van sy werk. Ook die gewoontes van die diere het hy ywerig bespied. Hy het honderdmaal geluister na geselsery oor "pynplekkies en weersgesteldheid"[42], hom "knippeldik" versadig aan die kwinkslae en "pittige" gesegdes van eenvoudige siele, wat jarelank in die veld- en woestyneensaamhede rondgeswerf het. Daarom is daar in sy beeldspraak so dikwels 'n plat-by-die-grondse geestigheid, 'n kombuisagtige bysmakie, daarom verlustig hy hom in bywonergrappies.

Wanneer hy binne "die grense van sy eie ploegland" bly, dan is sy beeldspraak ook baie beter as die van sy "praalskrif". Ter tiepering 'n paar voorbeelde: "Mog daar 'n verskilletjie ontstaan, word dit so gou doodgedruk as die vonkie wat val op 'n pyproker se broek (H. en V., p. 15); "Niemand kry die eer om hom te fop nie; hy lê altyd vir hulle klaar, nes 'n haas wat met sy oop oë slaap, of nes 'n ystervark met sy skerp penne, na die bedrieër toe." (S. j. M., p. 68.) "Vat hom aan sy hakskeen, en jy kry 'n terugskop met die polvy van 'n velskoen, waarin 'n nommer-12-voet sit, om jou maagpyn en winduit op jou hurke te bring; dan pak hy die parmant aan die arms, ... stamp hom nes 'n karringstaf op en af, tot hy hik." (id., p. 12); "Daarom het al die mans in daardie dae nes spinnekoppe gelyk wat tot agter hulle nekke oopgeboener was." (id., p. 6); "Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap tot sy gaan sit, toe korrel hy" (id. p. 229); "Wie sy ou steeks perd, wat gewoonlik agteruitbeur as daar seekoegate agter is, verruil vir 'n ander wat gewoonlik die vaart neem as daar miershope en slote voor is, weet bepaald dat hy deurgaans in die midde van onsekerheid verkeer." (id., p. 239). Rosa "sal haar laaste seep uitleen en dan haarself met 'n baksteen skrop" (Jakob Platjie, p. 166). Abdol maak geld "soos gemaalde koffie uit 'n meul." (id., p. 71.) "Oom, my bokke is regtig mooi—hulle kloue kraak nes blinkleer stewels as hul so rondstap." (id., p. 57.)

Wanneer Von Wielligh nou sulke uitdrukkings gebruik, dan bly hy binne sy eie ervaringssfeer en ofskoon daar geen sprake is van digterlike siening nie, voel ons direk dat alles eg en deurleefd is. Maar te dikwels vergeet hy dat die lekker-gesels-praatjies om die wagvuurtjie in die oop veld sleg pas in die sitkamer en dan verspreek hy hom lelik. So lank as hy nog by die wagvuurtjie bly, kan ons soms met genoege luister na sy jaganekdotes en vertellings van die ou dae, dan hinder sy gekruide styl ons nie, omdat dit so innerlik-eg is, so getuig van intieme omgang met die natuur in sy oer-staat. Maar sodra hy die sitkamer binnestap, begint hy op onnatuurlike toon te preek,—dan rek hy "'n taai-tammeletjie so lank uit as (hy) kan"[43] en jaag die geselskap uitmekaar deur sy "pittige plat taal". Die gedurige botsing tussen sy natuurlike geselsstyl en sy onegte "praalskrif", wat hom verlei tot 'n ridikule vermenging van hoog en laag is juis wat ons kriewelrig maak.

By die bespreking van Huis en Veld is aangetoon, dat hy Kleopas Kipie maklik uitstof, wanneer hy sy sondagse manel aantrek. Dan word hy gewoonlik onverstaanbaar in sy geaffekteerde hoogdrawendheid. "Met hulle (die Trekkers) aangesigte na die noorde gekeerd, dwaal hulle dáár ver in die suide op die agtergrond en sit op die verlede te broei. Die verlede is vir vleis en bloed onnaakbaar; dog ons herinneringe, nes 'n vliegtuig, is in staat om ons uit die deinsige hoogte op ons ou dwaalplekke te laat neerkyk. Hulle sien uit hulle voëlvlug die ouderlike woning, waarin hul die besitters van lewe met sy worstelinge geword het; hulle sien die speelplekke met die waentjies en poppe wat hul verbeeldingskrag gevoed en uitgeswel het, om deur bespieëling die weg van toepassing te volg; ... Daarop keer die herinnering langsaam terug ... tot waar hul daardie aand gesit het. Dan lei Herinnering hul tot onder die uitgebreide vleuels van Hoop, wat hul aan die hand vat ..." (S. j. M., p. 282-283). Dit is seker nie moontlik om meer "vishoekvas in die spinnerakke"[44] van jou verbeelding te raak nie, om nou 'n tiepiese Von Wiellighaanse uitdrukking te gebruik. Eers dwaal die Trekkers, dan sit hul "op die verlede te broei". Hul herinnering word met 'n vliegtuig vergelyk; die vliegtuig kry 'n hand wat deur die gevleuelde Hoop gevat word! Hiermee kan vergelyk word Eerste Skrywers, p. 106: "Die heldemoed van die Afrikaner daar aan die dag gelê, het die sluise van nasionale ontwaking oopgetrek; want die volk werd daarvoor intyds ryp gemaak, sodat die verrassing nie as 'n onweerslag op hulle gekom het nie."

In die voorwoord van Huis en Veld kom nog 'n voorbeeld van verwarde beeldspraak voor: "Hierdie swakke poging, deur ons aan die hand gegryp om 'n druppeltjie in die emmer te laat val—is dit mis, dan is dit mis,—is die uitvloeisel van 'n dryfveer, wat ons aanspoor, nie alleen die skouer teen die wiel te sit nie, maar om ook volhardend ons hele gewig daarop te werp. Ons mog in die voorreg deel om vanaf 1875 as handlanger en baksteen-aangeër met die opbou van ons Afrikaanse taalgebou mee te help ..." Sulke voorbeelde is daar baie in Von Wielligh se werk.

As voorbeeld van die komiese effek veroorsaak deur die teenstelling van sy gewone en kamma-verhewe styl kan die volgende uit die twede paragraaf van Eerste Skrywers (p. 1) dien: "Graag het ons gesien dat 'n bevoegder lid ... sy kop oor die onderdeur van ons hartbeeshuis gesteek het om te antwoord op die herhaalde aanklop." Maar dan word hy meteens deftig: "Broeders en Susters! Blyhartig werp ons vir ons op die vleuels van die gedagte om terug gedra te worde tot daardie dae, toe die sonskyf van ons goeie nasionale taalsaak sy vergulde rand nog net so effentjies bokant die donkere berge van onbewustheid en sluimer uitgesteek het." Dan hoor ons van "'n koue harnas van geheimhouding oor ... brandende gevoele", van "'n Afrikaanse boom, wat daar sy takke vry in ons heldere lug uitbrei ..." en verneem dat in die dae "besigheid so slap soos pannekoekdeeg en handel so plat soos die pannekoek self was"!

Tot welke onsinnigheid Von Wielligh hom deur sy opgeskroefdheid laat verlei, blyk uit die volgende voorbeelde: "Hierdie pragtige stukkie landskap is met die penseel van die verwoestende mensehand op die seildoek van die skone panorama doodgeskilder, sodat dit daar nooit weer sal verskyn nie." (H. en V., p. 71.) Die herhaling op die end is tiepies. "Watter angs dit op die kindersiel afgespieël het val beter vir die gedagte om dit te ontplooi as vir die pen om dit neer te grif" (S. j. M., p. 272); "Hulle monde was meer vloeibaar as die vloeistof wat uit die man se klere tap." (id., p. 243); "Toe eers ontprop hy sy opgebottelde gedagtes en gee hul onsigbare vleuels om oor die gebeurtenisse van die dag, oor die twee jongmeisies en oor homself te laat vlie." (id, p. 84) "Selfs die kristallug, waar die sterretjies uit die onmeetlike verte neerkyk, is tans met 'n swart plafon toegespyker." (id., p. 167.) 'n Voorbeeld van Laag-by-die-grondse humor staan op p. 95 van Staan jou Man. Daar ontmoet ons ook nog juffroue, wat bordjies dra met die opskrif: "alle toegang ten strengste verbode" en wat hul voorstel hoe hul "'n weg sal baan deur 'n Eden van aardse saligheid"!!

Dikwels gee Von Wielligh se neiging om abstrakte begrippe te verpersoonlik, of met iets anders te identifiseer aanleiding tot die allersnaakste kombinasies. "Die wapenhuis van Rennie en Ester was taamlik gevuld met 'n rommel van deug en ondeug; die taak om die gebruik daarvan onder 'n ystervoet vas te trap was aan streng moeders en minder geduldige vaders oorgelaat." (id., p. 148); "Die woorde was maar die vingers wat die harpsnare van aldaagse gebeurtenisse bespeel" (id., p. 158); "Het die uitlegginge ... altyd die blou strikkies van waarheid om hulle nekke gedra?" (id., p. 147); "Hoe verkwikkend dit ook al vir moeder en dogter was om in die arms van liefde te val ... tyd, egter, het die skerp snede van die swaard van skei stomp gevyl en dit minder gevoelig gemaak." (id., p. 144); "Hulle prikkelende nuuskierigheid om die groot dorpe en see te sien, was die goue eiers van hulle verwagting waarin die kuikentjies van verrassing reeds piep." (id., p. 218). Op die jagveld is die Boesman "vis in die water en stuurman aan die roer van sy verstand". (B.-St. III, p. 47). "Waarom moet ons ons woordeskat gaan verryk met woorde wat yskoud is en wat met ons geen meegevoel koester nie?" (Eerste Skr., p. 80).

In Eerste Skrywers (p. 125) haal Von Wielligh met instemming 'n veroordeling van retoriese uitdrukkings aan, maar juis die twee gewraakte beelde is hy besonder lief voor. In die voorwoord al vertrou hy dat hy "in die arms van 'n genadige beoordeling sal val" en so is daar nog baie ander soorte arms in sy werk te vind,[45] terwyl "Dingaan die teuels van tirannie en dood gevoer het net waarheen hy wou" (S. j. M., p. 11). Von Wielligh is trouens die laaste man, wat oor retoriese styl moet klaag, want dit sou geen sware taak wees om 'n paar paginas afgeslyte frases uit sy werk neer te skryf nie. In Huis en Veld vind ons: "steunpilare van die samelewing" (p. 128), "stortvloed van trane" (p. 130); "op die louere gaan rus" (p. 177 en 14); "om 'n luisterend oor te neig aan die sang ... van voëls, wat ... hulle lieflike akkoorde laat weergalm" (p. 43). In Eerste Skrywers: "Toe het die son van ons nasionale ontwaking ... sy ligdolke in die duisternis van ons slapende harte ingepriem ..." (p. 103). In Staan jou Man: "Dit het 'n vaste fondament van seltstandigheid onder hulle voete geskuiwe en die vryheidsvlam in hul harte aangeblaas" (p. 149); "Die nag het met sy sneeuwit kleed gekom ...; verkwikkende slaap ... het sy sagte ferwele hand oor die vermoeide ooglede gestryk; die ongestadige weer het sy septer van gesag aan 'n kalm dag oorhandig" (p. 277). So word soms lang stukke aanmekaar gelas deur die banaalste beelde,[46] waarvan sluier,[47] floers, tyd,[48] weegskaal en spinnerak die vernaamste is.[49] Wat 'n floers is weet Von Wielligh blykbaar nie, want hy skryf: "Om die floers van treurigheid te onderdruk staan die haan ... vlerk klap en kraai ..." (S. j. M., p. 240).[50] En hoe mens se oogmaat jou 'n sluier voor die oë kan hang is ook nie duidelik nie, (id., p. 5).

'n Totale gemis aan digterlike siening openbaar Von Wielligh in sy natuurbeskrywing. Hy het ongetwyfeld veel opgemerk en kan ons vertel van watter bossies skape en bokke die meeste hou. Iemand wat van plan is om in die Karo te gaan boer, sal heelwat praktiese informasie in Huis en Veld vind. Maar 'n kunstenaarsblik op die natuur soos die van Malherbe het Von Wielligh nie. "Bome is hier in oorvloed, ons sien hier die soet doring, kaffer wag-'n-bietjie, kiepersol, naboom, sekelbos, wilde vy, waterbessie, wilde sering, vaarlandswilg en nog honderde ander tesame met soveel soorte bosse." (H. en V., p. 155.) So kry ons telkens 'n dorre opsomming, presies asof dit die jaarverslag van 'n botaniese vereniging is. Op p. 44 gee hy 'n katalogus van die soorte voëls, op p. 45 en 104 van die veldblomme, op p. 106 van die Karo-plante—"sommige egter word nie deur vee gevreet nie"![51] 'n Enkele maal tref ons 'n opmerking, wat van eie siening getuig: "die stoere akkerbome (brei) hulle arms in alle rigtings (uit) om die kleinere gewasse 'n seën toe te wens. Aan die stroom swaai die wilg lustig sy groen snoere en speel met sy swepies in die wind." (H. en V., p. 40.) Maar meestal vergenoeg Von Wielligh hom met 'n verwerking van sy boerekennis, waarin hy af en toe 'n skoolmeesteragtige opmerking vleg om te wys dat hy ook 'n bietjie in botanie gepeuter 't. "Ja, so noem ons mense dit, maar die plantkundiges het dit 'n lang, ja 'n beesagtige lang naam gegee van Mesembrianthemum, wat middagblom beteken." (H. en V, p. 104).[52]

Soos iedere boer stel Von Wielligh ook groot belang in die weer. "Kalm en rustig werp die goue dageraad sy sombere lig oor die vlaktes van Gwaggas. [Contradictio in terminis. P.C.S.]. Weldra verrys die son; maar is van sy oogverblindende ligglorie ontroof—die dig gepakte dampkring het al die sterk uitskietende strale opgesuig. [In Gwaggas was ek nog nie, maar ek twyfel sterk of die lig van die opgaande son daar direk "oogverblindend" word. P.C.S.]. Die son lyk nou so groot as 'n wa se voorwiel (in alledaagse taal). [?? P.C.S.]. Vroeg laat die sonbesies hulle hoor; die mense voorspel 'n warme dag en spoedig verandering in die weer." (Jakob Platjie, p. 115.) Natuurlik kom daar allerlei soorte sluiers te pas by sulke beskrywings. "Kyk, hoe pragtig staan elke bossie onder 'n sluier van allerhande kleure van blomme" (H. en V., p. 103); "die appelkoos is oortrek met 'n rooskleurige sluier" (id., p. 40), terwyl "die ruisende melkstroom nog sleg(s) deur die mistige sluier van die aand sigbaar is." (id., p. 101.)

"Seurtjie, kyk daar steek die dagbreek reeds sy rooi neus agter die bergkam uit ..." (H. en V., p. 38) sê Kammies, en Von Wielligh vind die beeldspraak so treffend, dat hy dit self gebruik: "Die grou dag steek spoedig sy droewige wenkbroue agter die bergrand uit...." (id., p. 3). Hoe banaal en konwensioneel is ook die volgende: "Dit was amper, sononder, net toe die son die weste ligpoorte wou gaan sluit. Alvorens die gulde deure te grendel, werp die son eers 'n blik terug om te sien of die Nagwagter met sy vet gesig nog nie deur die oostelike vensters loer nie. Toe die laaste sonstrale wegsterf en hulle betower en die liggloed van die omliggende bergtoppe onttrek...." (id., p. 156); "Voor die vuurstokers van die son nie ekstra brandstof op die sonnehaard plaas nie om die slapers onder hulle komberse uit te brand...." (id., p. 52.)[53] Dit skyn wel die vernaamste besigheid van die son, want ons verneem dat "die oprysende son 'n ligstraal deur die skeur van (Soekie) se venstergordyne (prop) om hom in die gesig wakker te kielie" (S. j. M., p. 119), en Victor "skrik in 'n vaart wakker, een oggend toe die grou oggendlig die gordyne van sy slaapkamer aantas(!)" (id., p. 109). Ou Kammies sal onder sy kornuite ook seker eer inlê met die volgende: "Die daeraad steek sy grou sakdoek hoog uit aan die oostekant, asof hy daarmee in die lug waai...." (id., p. 43).

Nog 'n banale beeld is dat 'n maand of dag sterf en begrawe word (S. j. M., p. 99, 277); die jaargetydes of dae is die jasse van die veld[54] (id., p. 191), terwyl die berge wit pruike dra (id., p. 100 en H. en V. p. 101).

"Rapen as kinderhoofies" het Potgieter in sy novelle Blaauw Bes, Blaauw Bes! "'n ongelukkige vergelyking" genoem, wat mens "van het kannibalen-maal gruwen doet!" By Von Wielligh gaan "pluimvee, speenvarkies en lammers", wat so skoon gemaak is as "poedelnakende babetjies" in "die hongerige poorte des doods, of liewers gesê, die snakkende monde"! (Jakob Platjie, p. 130-1).

As staaltjies van die onbeholpe uitdrukkingswyse, wat mens so dikwels in Von Wielligh se werk aantref, kan die volgende dien:

In 'Jakob Platjie: "Dan kom hul luidrugtig in geselsery ... huistoe". (p. 3); "By wyle het my vader in sy stadjie by sy famielie deurgebring" (p. 59); "Hul had dun arms en bene met volwasse buikies, wat nie op gereëlde voeding kan beslag lê nie ..." (p. 108); "Hul is by uitnemendheid byejagters, om byneste op te spoor" (p. 112); "Dit was genoeglike dae van wetenskaplike voedsel vir altwee partye" (p. 211).

In Huis en Veld: "Edelmoedig het hulle (die Uitgewers) op die voorgrond getree om hulle medewerking tot die bloei van 'n eie Afrikaanse letterkunde geldelik te ondersteun"[55] ('n Woord vooraf); "Die lug is ... elektries swanger" (p. 154).

In Eerste Skrywers: "Dit was die skone ideale en toewyding" (p. 1). "En dan draai ons 'n sterker soeklig op al hierdie gesigspunte in ons gesigsveld om te getuig, nie wat ons uit ander bronne ontleen het nie, maar waar ons oog- en oorgetuige van was." (p. 3); "Hulle moes onder die wapenrusting van geheimhouding van hulle persoon hulle skuilhou." (p. 6.) "Hiermee word dus 'n maatstaf in die hande van die beoordelaars geplaas, wat wel in toepassing mag geneem worde ..." (p. 7); "Die skrywer het ... al die westelike distrikte van die Kaap weer besoek met opmetings van plase" (p. 28); "dan ontruk ons nie uit[56] nie; maar werp juis gemaakte geskiedenis in[56] die gapende kake van die vergetelheid" (p. 47). "Nog minder het iemand getrag om die skone wêreld, wat medegevoel afdwing met te veel geleerdheid te bederwe" (p. 53); "As 'n skrywer baie met geoefendes (in plat taal) omgegaan het, en hy self daar nie mis in bedeeld is nie ..." (p. 101); "Hierdie bewering klop ons op die skouer, eis verdediging om nie abuislike foute te maak nie" (p. 129).

In Staan jou Man: "'n Lusoord van aardse skepping" (p. 3); "aangematigde skrik" (p. 15); "die liewe brawe koffie" (p. 37); "Sytjie (was) reeds daar, want sy het die aankoms van haar pleegouers eerder ontvang as die huismense gedink het" (p. 102)[57]; "Toe word 'n Hof van Heilige Geloofsgerig aangestel" (p. 150). Wat dit nou eintlik is, sal Von Wielligh wel alleen weet! "Sy voel gelukkig om spoedig van aardse smart verlos te wees en te herenig met haar eggenoot ..." (p. 164).

In Nimrod Seeling: "twee wakker blou oge wat 'n lig van bewussyn laat uitstraal het ..." (p. 59); "Hulle toon toe aan dat dié soort lewe, wat ek verkies, 'n afbrekende eeu is ..." (p. 116).

In Boesman-Stories: "Want 'n weerklank klink altyd mooier as die stem wat dit weerkaats" (I, p. 34); "sy pylkoker val aan stukkies en die pyle daarin verdor sy in kaf" (I, p. 141); "So gevoel die kinders hul veilig onder die beskerming van hulle ouers—al groei hulle op omsingel deur en onder verskeurende ongediertes. Een dag leef hul in oordaad, dae daarna vergaan hul onder die gevreet van ondraaglike honger en dors. Hulle ken net 'n dag van vandag en bekommer hul glad nie oor die dag van môre deur voedsel en deksel daarvoor opsy te sit nie." (III, p. 31); "om dit mooi te bewerk en glad te slyp, het hy die kuns nog nie verstaan nie" (III, p. 5); "Watter ander gevolg moet ons hieroor vel ..." (III, p. 105).

In Diere-Stories: Outa is "uitgedos in vriendelikheid self ..." (I, p. 9); Die dierestories "verskaf ... sielslewe in die hart van die ou bokwagter" (I, p. 12); "Toe lag die Voëls nie meer nie; maar sit mekaar knersend van verontwaardigheid kwaai aan te kyk ..." (I, p. 24).

Oor die algemeen is Von Wielligh se taal suiwer, maar spore van Engelse invloed kom tog voor.

"Wydbegrippig" (broad-minded) (Eerste Skr., p. 59); "Koos vra hul om saam brekfis te neem" (J. P., p. 70); "'n Korte wandeling gaan neem" (H. en V., p. 34); "Toe die klok twaalfuur slaan, rys die vrinde ..." (id., p. 52); "nukomelinge" (id., p. 174); "Moet tog nie moeilikhede halfpad gaan ontmoet nie" (S. j. M., p. 17); "alles het sy natuurlike self gebly" (id., p. 39); "'n dood geheim" (id., p. 136); "die naarste van drome" (id., p. 263); "toe hy so 'n skewe kyk na Kraai gooi" (B.-S. II, p. 4 en 155);[58] "ondergroei" (id., p. 107); "Die Boesman kan baie wreed wees en 'n plesier daarin neem ..." (IV, 121); "Julle neem dit lekker" (D. S. I, p. 43); "Jakhals het uit sy eieself geweet ..." (id., p. 48); Jakhals vra aan Wolf "hoe 'n tyd hy daarvan gehad het" (id., p. 61); Wolf vra "in 'n fluister" (id., p. 66); "En jy meen te vertel die kinders het dit alles opgevreet?" (II., p. 11); Die kat "pir" (id., p. 19). Ook in Robinson Crusoë is daar voorbeelde van letterlike vertaling.

Met die voorsetsels raak Von Wielligh soms verward: "met bliksem ... vergeseld; in vatbare (?) wyse opgestel" (E. Skr., p. 32, 120); Die Boesmans "bedien hul met ribbebene wat hol geslyp is" (B.-S. III, p. 20). "Kamma-geleerdes" (E. Skr., p. 108) is 'n gelukkige neologisme, "pou-trots" (S. j. M., p. 6) egter nie, en nog minder "posing" (id., p. 27). Von Wielligh gebruik ook graag vorme soos: "as komme kan", "ontvalle", "soude", (E. Skr., p. 6, 8, 53). 'n Paar voorbeelde van verkeerde woordskikking kom voor, o.a.: "Oom Willem word tot kommandant gekies, omdat hy dapper is en kan in die grootste gevaar sy hoof koel hou." (J. P. p. 151.)


VOETNOTAS:

  1. Die Brandwag, Des. 1918, waaraan hierdie lewensskets ontleen is; 1850 is egter verkeerd, vgl. Eerste Skrywers, p. 151. In Die Huisgenoot, Nov. 1919 staan 'n uitvoeriger biografie.
  2. Vgl. Eerste Skrywers, p. 57.
  3. Eerste Skrywers p. 35.
  4. t.a.p., p. 85.
  5. t.a.p., p. 159.
  6. t.a.p, p. 124.
  7. Vgl. my artiekel oor Letterkundige Kritiek in Die Huisgenoot van Des. 1920.
  8. Private meedeling van die skrywer.
  9. Eerste Skrywers, p. 113. Kursivering van my.
  10. t.a.p., p. 54. Kursivering van my.
  11. Vgl. Dr. L. v. Niekerk: De Eerste Afrikaanse Taalbeweging1, p. 189.
  12. Vgl. oor "Patterjots" Dr. L. v. Niekerk t.a.p.
  13. Eerste Skrywers, p. 101.
  14. Vir hinderlike tussenkoms van die outeur kan ook nog vergelyk word p. 12, 21.
  15. Vgl. ook nog p. 217 et passim.
  16. Vgl. Staan jou Man, p. 88, 143.
  17. Staan jou Man, p. 55.
  18. Vgl. ook Staan jou Man p. 47.
  19. Vgl. ook die flou praatjie oor Ester se droefheid, p. 169.
  20. Vgl. Voorwoord.
  21. Voorberig 4de deel. Kursivering van my.
  22. Voorberig 1ste deel. Kursivering van my.
  23. Vgl. o.a. Prof. J.W. Muller se inleiding by sy Reinaert-uitgawe.
  24. Vgl. o.a. p. 93, 22-23, 52, ens. Of daar in Ghwennie Barnveld, 'n boek "vir jong meisies" in dié opsig verbetering is, kan ek nie beoordeel nie, omdat dit na die skrywe van hierdie bespreking verskyn het.
  25. Boesman-Stories II, p. 194.
  26. Vgl. nog Eerste Skrywers, p. 27: gedruk—gedruk—drukkery—drukpersie; p. 60: "Ons was met ons deurkruis van ons land ...", ens.
  27. Vgl. o.a. H. en V., p. 143: "Al hierdie gebeurtenisse het baie gevoelig 'n diepe indruk op die Afrikaanse huislike lewe en dinkwyse gemaak en nagelaat." Lomp is ook: "Hy skuif sy raam op en staan die heerlike koffie met tyd te geniet, terwyl sy oë 'n blik werp wat buite in die fris oggendlug plaasvind." (S. j. M., p. 119).
  28. Vgl. Boesman-Stories I, p. 55, "'n woelige Gees sonder rus".
  29. Jacob Cats: Houwelijck I, 235.
  30. J. Prinsen: Handboek tot de Ndlsche Lett. Ges.2, p. 335.
  31. G. Kalff: Ndlsche Dichters der 17de Eeuw, p. 37 (Cats).
  32. Vgl. Kalff, t.a.p., p. 100.
  33. Kalff: t.a.p., p. 98.
  34. Vgl. in Glorie Pan: "Niks op aarde is bestendig nie; alles is van korte duur nes 'n lappie op die seer vinger van 'n bobbejaan." (Die Brandwag, 10 Des. 1913).
  35. Vgl. ook die onsmaaklike opmerking in S. j. M., p. 65: "Ons ou mense het min van snorbaarde gehou, wat so hinderlik met, soen en sop-eet geblyk het"!
  36. Vgl. ook die snaakse betoog om te bewys dat jy, jou, ens., nie plat is nie. Eerste Skr., p. 97.
  37. Die Huisgenoot, Okt. 1921, pag. 247. In Hoofstuk XII van Eerste Skr. behandel hy plat taal en ook in Die Huisgenoot Junie 1921, Hoofstuk XV van Ons Geselstaal. Vgl. die voetnoot van die redaksie oor wat Von Wielligh onder "plat taal" verstaan.
  38. Leven van Vondel, Ndlsche Klassieken, p. 123.
  39. Eerste Skr., p. 100.
  40. Die Huisgenoot, Okt. 1921, p. 247.
  41. Eerste Skr., p. 126.
  42. H. en V., p. 15.
  43. Die Huisgenoot, Mei 1921, p. 25. Ons Gesels taal.
  44. S. j. M., p. 133.
  45. Vgl. o.a. S. j. M., p. 144, 195, 270, 282; H. en V., p. 146; N. S. Voorwoord.
  46. Vgl. b.v. S. j. M., p. 191.
  47. O.a. S. j. M., p. 213, H. en V., p. 123, 67, 86, 101, 130.
  48. O.a. S. J. M., p. 167, 143.
  49. Uit Die Huisgenoot van Febr. 1922 blyk dat Von Wielligh nog lustig op sy "praatmasjien" die ou deuntjies afdraai. Die "spinnerakke" en die "kloue (wat) nes blinkleerstewels kraak" is daar, terwyl die katalogus van die verskillende soorte koppies en rante uitgebrei word deur ... "pramkoppies"! (p. 421).
  50. Vgl. ook Eerste Skrywers, p. 49, waar "'n floers van neerslagtigheid" 'n somber gevoel "verwek".
  51. Vgl. ook nog p. 185.
  52. Vgl. ook p. 104 en p. 109 waar 'n verklaring van 'n "lugverheffing" gegee word.
  53. Dieselfde beeld kom ook voor in S. j. M., pag. 19.
  54. Ook die voëltjies dra "winterjassies", H. en V., p. 43.
  55. "Ondersteunen" is waarskynlik 'n drukfout. Die twede "hulle" slaan op "ondersteuners" in die vorige sin. Vergelyk S. j. M., p. 239: "Rustig verhef hulle die woonhuis ... deur die Trekkers hulle eie hande opgebou".
  56. 56.0 56.1 Kursivering van Von Wielligh.
  57. Vgl. N. Seeling, p. 57: Baie seediere, wat my geheuge ontsnap het ..."!
  58. N. S., p. 50, "afskeidskyk".