Die prosa van die twede Afrikaanse beweging/Hoofstuk X

Hoofstuk IX Die prosa van die twede Afrikaanse beweging
Hoofstuk X
deur Pieter Cornelis Schoonees
Naamregister



HOOFSTUK X.

Historiese Prosa.

§ 1. Inleiding.

Reeds voor die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners het 'n paar voorstanders van die moedertaal gewerk aan Die Geskiedenis van ons Land, in die Taal van ons Volk.[1] By die verskyning van die boek in 1877 word opgemerk: "Engelse, mar gen Hollanse Geskiedenis van ons land bestaan daar tot nog toe. En dat ons op die Engelse Geskiedenisse nie so mar o'eral kan afgaan nie, sal elke leser wel sien voor hy ons boek uitgelees het." Nog lange jare het dit geduur voordat Theal en Cory dié uitspraak in sy algemeenheid geloënstraf 't, en telkens moet ons historisie nog optree teen 'n uitgebreide laster-kampanje. Preller het op een van die oorsake daarvan gewys in die voorrede by die sewende druk van Piet Retief (1911), waar sprake is van "die gaotiese en primitiewe toestand waarin ons openbare dokumente-versamelinge asnog verkeer.... As die dokumente beskikbaar was ... dan is daar net een geskiedkundige waarheid bestaanbaar; dié naamlik, wat stap vir stap gesteun staan op die oorspronklike stukke."[2]. 'n Stelselmatige geskiedverdraaiing wortelende nie alleen in politieke animositeit nie, maar met voorbedagte rade as politieke wapen gebruik—dit is een van die grootste prikkels wat tot historiese studie aangespoor 't. Die navorsingswerk van ywerige historisie met liefde en groot opoffering gedaan, het 'n felle lig gewerp op ons eeu van onreg. Onder sulke omstandighede is dit verstaanbaar dat naas die besadigd-wetenskaplike weerlegging ook die bitterste verontwaardiging opgelaai het.

Die verhoogde belangstelling in ons vaderlandse geskiedenis is 'n uiting van die groeiende volksbewussyn, want eers wanneer 'n nasie volkome oortuig is van sy eie selfstandigheid ontwaak die begeerte om die helde van die wordingstydperk te eer. Die grootste gedeelte van ons historiese prosa bestaan dan ook uit biografieë. Rondom groot figure soos Piet Retief, President Steyn, Generaal De Wet en ander word die geskiedenis van 'n hele tydperk gegroepeer.

Die historisie wat daartoe bygedra het om die eer van ons nasie te rehabiliteer en aan die volk 'n gevoel van eiewaarde en selfrespek te gee kan reken op die eerbiedige hulde van 'n jonger geslag, wat nog maar gister verlos is van die benoude nagmerrie van hul skooljare. En hul aantal is veel groter dan die wat vir die volgende paragrawe in aanmerking kom. Hier word alleen 'n oorsig gegee van die vernaamste historiese werke in Afrikaans onder die Twede Beweging en 'n ondersoek ingestel na die letterkundige gehalte daarvan, 'n Bespreking van die historiese waarde val buiten die kader van hierdie werk.[3] Dit spreek natuurlik vanself, dat ook die dorste kroniek vir die historikus groot waarde kan hê.

Die herstelling van die Voortrekkerskerk in Pieter-Maritzburg en die inrigting daarvan as museum, die Vroue-monument en tallose ander gedenktekens—dit is maar 'n paar bewyse, dat die Afrikanervolk ontwaak tot 'n besef van die betekenis van sy nasionale verlede. Die oprigting van die Historiese Bond in 1920 met die doel om bronne op te spoor en te versamel, die tiende druk van Preller se Piet Retief in dieselfde jaar is ook tekens in dié rigting, terwyl op die jaarlikse Dingaansvierings die tradiesies van die voorgeslag bestendig word.


'n Nuwe nasie het besit geneem van sy erfporsie en is besig om sy geestelike onafhankelikheid uit te werk! Die Afrikaanse Bestemming is "wyd en breed soos die Afrikaanse veld."[4]

§ 2. Gustav Schoeman Preller.

Preller is 4 Okt. 1875 gebore op die Plaas Klipdrif, distrik Pretoria. Sy oorgrootvader Preller was wat ons ou mense nou nog 'n "blommesoeker" noem, d.i. natuurkundige. Hy het aan die Kaap gewoon, terwyl die grootvader veeboer geword 't in Natal, waar sy Friese beeste die aandag getrek 't. Komdt. Robert Preller (✝ 1916), die vader van die skrywer het na die Vrystaat verhuis en in die oorlog onder Genl. De la Rey gedien. Hy was getroud met 'n dogter van H. Schoeman (✝ 1890), wat met die Voortrek saamgekom 't en in die tyd van President Pretorius generaal en waarnemende president geword 't.

Gustav Preller se eerste herinneringe gaan terug na 'n plaas in die nabyheid van Standerton, Paardekop, wat destyds aan sy vader behoort 't. Op sy vyfde jaar is hy te perd met sy vader saam na die Swasielandse bosveld. In 1886 is hulle verhuis na Rietspruit, ook in die distrik Standerton. Toe kort daarop hy en sy suster egter moes skoolgaan, het sy vader die skaapboerdery opgegee en dorp toe gegaan, omdat losjies vir die kinders nie te kry was nie. In 1891 gaan die famielie na Pretoria, waar Gustav eers 'n rukkie in 'n Boere-winkel gewerk 't, toe op 'n prokureurskantoor en later in staatsdiens getree 't. Voordat hy egter sover was moes hy verskeie jare hard werk onder private onderwysers en ook daarna het hy sy studie voortgeset. Hy was eerste klerk op die hoofkantoor van mynwese toe die twede vryheidsoorlog uitbreek. Dié stryd het hy meegemaak met die derde battery van die staatsartillerie tot vier maande voor die vrede, toe die hele res van sy afdeling oorrompel en gevangegeneem is. Na sy terugkoms uit Indië was al wat hy besit 't skoon weg. Op versoek van Eugène Marais word hy toe redakteur van Land en Volk. Voor die oorlog al het hy dikwels artiekels geskryf vir die koerante en tydskrifte—dikwels in Engels!—o.a. in The Moon en De Pers. Vir De Volkstem het hy gedurende enige jare al die mynnuus gelewer en Land en Volk voortgeset tot Maart 1903, toe hy subredakteur van De Volkstem word, 'n pos wat hy vandag nog beklee. Die meeste opstelle en stories wat tussen 1905-'10 in dié krant verskyn 't as feuilletons is van sy hand. Die bekende artiekels getietel: Knop oor Landsake is ook van hom. Hy is lid van die S.A. Akademie, van die Historische Genootschap in Utrecht en die Maatschappij van Nederlandsche Letterkunde. Van hom het verskyn: Laat 't ons toch Ernst Wezen (1905); Piet Retief (1906); Baanbrekers (1915); Kaptein Hindon (1916); Dagboek van Louis Trigardt (1917); Voortrekkermense I en II (1918 en 1920); Generaal Botha (1920). Saam met Dr. Engelenburg het hy ook geskryf: Onze Krijgsofficieren (1903) en De Familie Kruger (1904). Charley's Aunt het hy vertaal, (Piet s'n Tante), Les Héritiers Rabourdin, (Erfgename van Erasmus) en Jock of the Bushveld van Sir Percy Fitzpatrick. Die voortrekkers-rolprent is onder sy leiding opgestel. In 1919 het hy met C.J. Langenhoven geskryf: Twee Geskiedkundige Opstelle. Op sy aandeel in die taalstryd en sy werk as redakteur van Die Brandwag is alreeds gewys.[5]

Sy vernaamste werksaamheid is op geskiedkundig terrein en sy navorsings oor die Voortrekkersperiode veral verseker hom 'n plaas as baanbreker onder die Afrikaanse historisie. "Uit 'n aantal oorspronklike historiese dokumente, in die koerant (De Volkstem, 13 Des. 1905) openbaar gemaak ... is langsaam gegroei" die kloeke boekdeel Piet Retief, waarvan die oplaag in 1920 al veertienduisend eksemplare bereik 't.[6] "Sedert die tyd (1905) het daar ander werke van Preller oor die Voortrek gevolg. Want hy set sy arbeid onvermoeid voort.... Wie op sy studeerkamer kom, sal kan sien die reeks gekatalogiseerde lewens van Voortrekkers, soveel moontlik met die portret of portrette van die betreffende man of vrou daarby.... Preller leef in, leef vir daardie tyd. Die naspeur en die bekendstel daarvan het langsamerhand sy eintlike lewenstaak geword, sodat ons vandag oor die lengte en breedte van ons land tevergeefs sal soek na die eweknie van Preller as kenner van die Voortrek en sy mense, tot selfs van die kleredrag wat in die tyd gedra is."[7]

'n Hele reeks belangrike dokumente oor die Voortrek het Preller bymekaar gemaak in

Voortrekkermense, I en II, (1918 en 1920).[8]

Daarin kom o.a. voor die herinneringe van Van Gass, J.H. Hatting, L.C. de Klerk, Karl Trichardt, Anna Steenkamp en 'n herdruk van Erasmus Smit se dagboek. Die laaste is oorspronklik uitgegee deur Ds. H.F. Schoon (1896). 'n Groot gedeelte van die gegewens het Preller in sy Piet Retief verwerk. L.C. de Klerk het hy in 1908 "teruggeneem naar die Natalse slagvelde Van die Voortrek, en dáar ter plase opgeskryf wat hy daarvan te vertelle had" (I, p. 211). "Hier had ik een van die Voortrekkers op die eienste grond van die Voortrek; my doel was om, as 't kon, die ander Voortrekkers as mense daar te sien herleef, inplaas van die steriotiepe "itinerant prayer-meeting", waar ander van vertel." (id., p. 212.) Die dokumente stel ons in staat "om die Voortrekkers te leer ken soos hulle hulself gesien het, op die trek, in die laer, op die jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd. Buitendien verskaf 't uitsluitsel oor tal van belangwekkende historiese gebeurtenisse" (id., p. 1). Die krietiese opmerkings van Preller getuig van groot skerpsinnigheid en 'n intieme kennis van die voortrekkerperiode. In die twee dele het hy dokumente van die grootste belang op wetenskaplike wyse uitgegee.

Op dieselfde manier het hy ook (1917) in opdrag van die Akademie uitgegee die

Dagboek van Louis Trigardt (1836-8).

"Vir die kennis van ons volk besit ons uit die tyd van die Voortrek geen ander dokument wat hiermee te vergelyke is—die daaglikse aantekeninge van 'n Afrikaner wat die grote, ja grootse in die historie volbring sonder dit nogtans as bewuste doel voorop te stel, maar tevrede is om 't vanself, as dominante gevolg van sy handeling voor 'n dag te laat tree uit 'n kroniek van die kleine" (p. XI). Preller toon verder aan hoe belangrik die Dagboek is "vir ons kennis van die inboorling bevolking van Transvaal, vir verskeie seer merkwaardige historiese uitkomste, vir (ons) aankomende nasionale letterkunde, vir die volkekundige en ons kennis van Suid-Afrikaanse meteorologiese toestande." (XII vlg.). Die belangrikheid van die Dagboek word seker aanmerklik verhoog deur die voortreflike inleiding en note, asook deur die feit dat die teks op 'n wetenskaplike wyse behandel is. Ontroering tril daar in die woorde waarmee die resultate van Trigardt se trek beskryf word: "Die voorste Voortrek is volbring! Dis slegs 'n Verkenning gewees vir die Afrikaner,—van die Vryheid en die See. 'n Verkenning egter, net soos dié van Piet Retief, wat nie vrugteloos is nie.... Hans van Rensburg se ongelukkige trek had tot eind-bestemming die oseaan; en die 49 manne, vroue en kinders wat daar aan die Limpopo-boorde geval het onder die Soeloe-asgaai, was die eerste dúre offer wat die Boere Nasie gebring het aan 'n ingeskape vryheidsdrang. Trigardt se trek en ál die mensewee, wat uit hierdie Dagboek soos 'n seëning oor die nageslag saggies snik, was aangeleg op éen-selfde hoë nasionale Bestemming...." (cxxvi vlg.)

Piet Retief, (1906).

Dit is Preller se hoofwerk, wat hy met jarelange ywer en groot liefde tot stand gebring het. Alles wat van die groot Voortrekker bekend is word meegedeel. Maar uitsluitend biografie is dit allermins. Ons kry 'n volledige beeld van die moeilikhede op die Kaapse grens, die oorsake van die Trek, die onderlinge verhoudings en geskille tussen die aanvoerders, die internasionale status en grondwettelike instellings van die Trekkers, die moeilikhede van hul togte en hul betrekkinge met die naturelle. Die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot Dingaan se groot verraad word haarfyn uitgepluis en die konklusies van die skrywer se ondersoek op helder wyse uiteengeset en gestaaf. Ook die gebeurtenisse na Retief se moord tot aan die Bloedrivierslag word beskryf en die betekenis van Retief se optrede bepaal.

Dit gaan uiters moeilik om objektief te staan teenoor 'n boek soos Piet Retief, want die tragedie daarin uitgebeeld is op sigself al só roerend in sy dramatiese afwikkeling en só betekenisvol vir die lot van ons nasie, dat selfs 'n uitgedroogde kroniekskrywer sonder 'n vleugie verbeelding nog daarin sou slaag om ons die grootsheid van die worsteling te laat gevoel. Dit het Preller blykbaar ook besef, want hy gee 'n onopgesmukte verhaal, in sober gehoue styl waarin die tragiese gebeurtenisse self tot hul reg kom, sonder dat die aandag afgelei word deur bykomstige woordfraaiigheid. Treffend is dit veral by die hoogtepunt van die verhaal, waar in die beskrywing van die oorrompeling deur die dansende kaffers alleen 'n joernalistieke draaitjie in die styl hinderlik is. In 'n Volkstem-artiekel mag so 'n uitdrukking soos "die welwillende leser" (p. 272, 10de dr.) op sy plek wees—híer seker nie! Nadat die posiesie van die dramatis personae aangegee is, word die dansbeweging mooi beskryf:

"Drieduisend pare voete kom in forse beweging om tyd te hou na 'n wild-eentonige maatsang, wat al naarder en wilder word na gelang Dingaan se improwisasie hul opwinding aanspoor, sodat naderhand die nugtere aarde dril en dreun onder die neergehurkte Boere...." (p. 273). Wanneer Retief protesteer as "die bokspringende rye" teen sy vrinde aanstort in hul lawaaierige dans, vervolg Dingaan sy onheilspellende deuntjie: "Drink, o drink van die bier! Jul brandende kele roep daarom! Drink soveel jul kan; want môre sal jul nie meer drink nie." (p. 274.) Dan klink meteens temidde van die "barbaarse orgie" die fatale sein: "Boelàlánie abatágatie!" Juis deur die sobere eenvoud in die styl, die kalme weergawe van die historiese besonderhede raak die toneel ons tot in die hart, moet dit ook iemand van 'n ander nasie raak. Saggies huiwer die ontroering in die woorde: "Retief ... troue, moedige Retief, regskape, opregte Afrikaner, siel van die aankomende Afrikaner-nasie!—sy marteling moes die onmenslikste gewees het van almal!... Met knopkieries werd hy afgemaak—laat ons hoop vóórdat Dingaan se laaste bevel aan sy afgebeulde liggaam voltrek was!" (p. 277.)

Hoofstuk XXIX is 'n meesterlike samevatting van Retief se optrede en die betekenis daarvan. Hier kom Preller se forse styl meer tot sy reg, omdat hy geen historiese dokumente hoef aan te voer nie. Met breë blik oorsien hy die hele Trek en met simpatieke aanvoeling van die Boere-standpunt en lewensbeskouing deel hy in helder, logiese redenering sy gevolgtrekkinge mee. "Piet Retief het 'n nasie gestig; of, as dit histories te veel gesê is, het hy ten minste met volkome bewustheid die grondslag gelê waarop 'n nasie ontstaan is. Hy was idealis in nasionale sin—dit is te sê, hy het hom met die Voortrekkers, met sy volk, duidelik voor oë gestel die nastrewing van 'n ideaal, wat insluit 'n onafhanklike ontwikkeling en voortbestaan van dié volk as nasionale eenheid op die wêreld." (p. 345.) Retief het "die Afrikaanse Bestemming in woorde ontwerp—wyd en breed soos die Afrikaanse veld...." (p. 351.) "Hy is die eerste gewees wat die gebore Afrikaner se nasionaliteit in woorde gebring het, toe hy van Suid-Afrika as sy "vaderland" gewaag het; terwyl die meeste ander die land sowel as hulself nog maar beskou het as 'n volslae willose aanhangsel van een of ander Europese ryk." (p. 350.) Hy het "deur sy werk, sowel as deur sy dood, die Hollands-Afrikaanse Emigrant laat begryp ... dat hy nie somar 'n op sigself rondswerwende eenling is nie, maar deel uitmaak van 'n groot volksverband, met een belang en een bestemming." (p. 355.)

Solank daar 'n Afrikaner is "jaloers op sy geskiedenis, jaloers op die waaragtige waarheid daarvan" sal Piet Retief gelees word, want Preller het daarmee 'n duursame monument opgerig van die wordingstydperk van ons nasie. Buitendien het Piet Retief deur sy verskyning in 1906 'n besonder plaas in ons letterkundige geskiedenis. Saam met Johannes van Wyk, wat in dieselfde jaar in boekvorm verskyn 't is dit die eerste prosawerk van betekenis onder die Twede Beweging.

Kaptein Hindon, (1916).

Dit is die Oorlogsaventure van 'n Baas-Verkenner, "'n getroue weergawe van die middellike dagboek-aantekeninge van die krygsman self." (Voorwoord). Maar groter waarde het Preller se bewerking: "Die toevallige omstandigheid, dat die outeur die grootste gedeelte van dieselfde gebeurtenisse as Hindon—al was 't ook soms op 'n afstand,—meegemaak 't, (is) vanself bevorderlik gewees aan 'n lewendiger opvatting by die beskrywing dan anders die geval kon gewees 't; en ... 'n gevolgelik dieper ingeleefde voorstelling." Hieraan is dit te danke dat Preller se bewerking van die dagboek nie geword 't 'n eentonige relaas van awonture nie, maar 'n lewendige voorstelling van belangrike episodes uit die twede vryheidsoorlog. Daarby verloor hy nooit die historiese verband uit die oog nie, en word al die alleenstaande oorlogsfeite ingeskakel in die groot geheel. So word dit 'n saamhangende verhaal van die gebeurtenisse tussen 1895 en die vrede van Vereniging. Deur 'n handige gebruik van Engelse bronne, soos die outobiografie van Sir William Butler, geluk dit Preller om tallose belangrike historiese feite te staaf en onverdiende laster aan die kaak te stel. Onder ander word die opstokery van die Kaffers op oortuigende manier bewys.

Die tallose heldefeite van Hindon en sy maats word op aanskoulike wyse beskryf. Dit geld ook veral van die veldtog in Natal, wat met groot uitvoerigheid geteken word. Vermaaklik is Hindon se awontuur by die huis van die Middelburgse volksraadslid (p. 291 vlg., 2de druk). Deur talryke anekdotes, wat 'n helder lig werp op die toestande tydens die stryd en die mentaliteit van albei vegtende partye word die beskrywing van die militêre gebeurtenisse op aangename wyse afgewissel.

Hoe mooi Preller daarin slaag om sy veldslag-indrukke te verklank, blyk o.a. uit die volgende: "Die eienaardige dubbele koe-ka knal van die Engelse lee-metfordgewere, wat mens in die begin duidelik kon onderskei van die dowwe mouser s'n énkele dodelike doef-slaggie, smelt nou saam in éen gelykmatige kraakgeluid, wat soos springmielies in 'n vetpot sing deur die laagte en teruggewerp word van die bergkante af, deurmekaar in 'n sware dreuning, waarin net die kanonne-bas naderhand oorheers. By die skansmuurtjes zip-zip die klein koëltjes teen die klippe, en stukkies fluit vrolik een-kanttoe, of 't skuur met so 'n snaakse sing-sangetje skielik deur die lug oorheen, waarvan mens die dodelike vyandskap eers merk as 't raak is, en 'n man inmekaar sak op die grond, of die fyn blaartjes van die mimosa-boompies hier bokant afspat, op die vilthoede" (p. 58). "Bom na bom breek briesend op hul klipskanse uitmekaar, en bars met brullende giering bôkant hul toegewyde hoofde in nydige moment-blitse oop, om hul inhoud oor die Boere uit te braak, soms vyf, ses tegelyk, wat die kante van die kop omkarn in kokende kraters en 'n onweer van skerwe en rotse opjae." (p. 125).

Baanbrekers, (1915).

Hierdie brosjure, 'n herdruk van Brandwag-artiekels bevat "'n Hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal", waarin die moord van ag-en-twintig persone by Moorddrif in 1854 en die belegering van Makapaansgat deur 'n strafkommando beskryf word. By dié ekspediesie was ook Paul Kruger en besonder interessant is die waagstukke wat van hom meegedeel word. Preller moet weer verskillende verdraaide voorstellings weerleg. "Die dinge is verby, en die laster-kampanje het sy uitwerking gehad. Praktiese, materiële voordeel kan 't nie meer aanbring om 't te weerleg nie. Tog is 't tyd om, terwille van die waarheid alleen, 'n oordeel wat op dié manier gevorm werd teen die Boere-volk, in hersiening te neem, en inplaas van die fantasie-beelde van politieke feuilletoniste, of die sentiments-oorweginge van 'n wekelike altruïsme, die onweerlegbare feite alleen te laat spreek" (p. 33). Met die optekening van so 'n "heroiese insident" het Preller ongetwyfeld nuttige werk gedoen.

Preller en C.J. Langenhoven het saam uitgegee:

Twee Geskiedkundige Opstelle, (1919).

Eersgenoemde se opstel oor Suid-Afrika s'n Boere-Republieke is 'n bondige opsomming van die vernaamste feite uit ons geskiedenis in die tydperk 1486-1910. In enkele pagina's word daarvan 'n handige oorsig gegee en juis die snelle opeenvolging van die gebeurtenisse laat 'n sterk indruk van ons "eeu van onreg" na.

Langenhoven gee 'n Paar Algemene Oorweginge omtrent Geskiedenis-studie. Met aanskoulike beelde toon hy aan "dat die hele wilde natuurlewe 'n onafgebroke stryd is" (p. 114.) Een van die vernaamste stellings in die betoog is "dat die geskiedenis 'n eindelose ketting is van oorsake en gevolge wat nie plotseling begin en nie plotseling afbreek nie." (p. 130.) Na 'n paar opmerkings oor die kudde-instink word die ontwikkeling van ons volksbewussyn geskets en daarop aangedring, dat geskiedenis-studie meer behoort te wees as 'n ondersoek van "die blote geraamte van uitwendige datums en gebeurtenisse" (p. 143). "In ons vurige idealistiese vaart word ons skielik nugter geskok teen 'n feit van die guurste en nakendste realisme" (p. 147)—ons honderd-duisend arm blanke naamlik. "Dit is 'n baie ernstige siekte-verskynsel. Die geskiedkundige moet die diagnose van die kwaal vind en daaruit moet ons die remedie soek" (p. 154.) Preller beweer daarenteen in sy Eksplanasie: "Die diagnose is egter die werk, nie van die Geskiedenis nie, maar van die Staat. Die geskiedenis word eers daaruit opgebou" (p. XII). Preller wil die statistiese metode van ondersoek op die arm-blankevraagstuk toepas.

Generaal Botha, (1920).

In hierdie brosjure het Gustav S. Preller 'n paar artiekels oor Genl. Botha verenig. Dit is "meer brokstukke van die boustof (vir 'n lewensbeskrywing) as dat 't aanspraak wil maak op 'n afgeronde behandeling." (Voorwoord.) Hy deel dan verder mee dat hy op hom geneem 't "die byeenbrenge van die materiaal vir 'n uitvoeriger 'lewe' van Suidafrika s'n grootste staatsman". Die brosjure bevat enkele herinneringe van persone wat Genl. Botha intiem geken 't en 'n herdruk van 'n artiekel uit Neerlandia deur Dr. J.H. Kiewiet de Jonge. Daar is meedelings oor die generaal se famielie en kindsdae, oorlogservarings, sy politiek en huislike lewe. In kleine omvang is heel wat interessants bymekaar gebring.


Vir die kennis van Preller se letterkundige opvattings is van belang een en ander uit sy reeks artiekels: Eerstelinge—'n Persoonlike appresiasie van J.H.H. de Waal s'n Roman, Joh. van Wyk. (De Volkstem, 18 Aug. 1906 vlg.). Joh. van Wyk is volgens die artiekel "op s'n best 'n vernuftig inmekaar gewarde verhaal van 'n paar mense met hul haat, afguns en liefde, wat s'n 'boeiendheid' ontleen aan die manier waarop dit inmekaar geset is, aan die ontknoping en aan 'n gemaklike verhaaltrant. Die mens-tragedie daarin blyf klein ... die romantiek is partykeer voos, die stylmiddele gebrekkig, die psychologie hopeloos vals." Tog kon hy die kulturele waarde van die roman insien: "Dis net die ding wat ons nodig het om te leer lees. Al die ander sal later kom." Maar dit is merkwaardig, dat hy van die staanspoor af sy mening sonder doekies omdraai uit, en sy letterkundige oordeel nie deur bykomstige omstandighede laat benewel nie. Eerstelinge open die literêre kritiek van die Twede Beweging op waardige wyse. Onder ons prosaskrywers is daar seker weinig wat al in 1906 so 'n fors, persoonlike styl had. Wie kon toe al iets so raak sê, soos die volgende: "Die klompie afgejakkerde woorde ... wat 'n sukkellewe bymekaar gesweet het ...; Die hele wereld bekyk hul van die hopie waar húl op staan; ómdat húl die hang anderkant die bult nie kan sien nie, is die aarde pannekoek-plat op syn pilare gegrondves." Ook met sy Inleiding tot Jan Celliers in Die Vlakte (1908) het Preller 'n kloek stuk prosa gelewer wat uitmunt deur fris beeldspraak en kragtige geluid.

Vir sy taalgebruik is die volgende van belang: "Dis glad nie nodig om voor wat hul taal-barbarisme noem ... juis so wild te wees als 'n histeriese jong meisie voor 'n groot miskruier-gogga...." En in sy werk is woorde soos touchant, subiet, marsiale, parafernalië, imminente, violente, skrupules ens. glad nie skaars nie.[9]

Oor dialoogkuns maak hy die volgende juiste aanmerking: "Dialoogkuns ... is in algeval nie die nakende natuurlikheid nie; maar, gepaard aan grondige mensekennis die neerslag van 'n skeppende verbeelding; iedere stenograaf sou 'n mens kon verseker dat jij die grootste onsin van die wereld sou hoor als jij presies moes neerskrijf, woord voor woord, wat daar gesproke word...." Dan leg hy die vinger op 'n tegniese fout, wat vandag nog deur byna àl ons verhaalskrywers gemaak word: "'n Techniese fout wat De Waal nou en dan maak is om telkens self so 'n gemoedelike gesprekkie met sijn lesers te hou, wat totaal nie te pas kom nie." Hy wys ook daarop dat De Waal "Adam Tas als historiese figuur ... geen reg laat wedervaar nie."

Die volgende pleidooi vir fris beeldspraak is vandag nog net so nodig as in 1906: "De Waal sal in sijn latere werke ... 'n groter en 'n warmer liefde (krij) voor sijn woord, voor die afgebeulde, seerrug woord, wat waarlik tog nie meer kan nie. Die sal hij bêre, en alleen gawe, ronde, hele woorde inspan, en mooi agtermekaar, so's 'n span breed-gerugde vaarlandse osse, wat gelijkweg beur om sijn mening te trek en te draag. 'So geseg, so gedaan' ... gaat ons perbeer opvolg, maar als 'n vorm van uitdrukking voor éwig begrawe, en in die uitbeelding van gedagte en gevoel gaan ons altijd soek naar die raakste woorde, en al die verslonste ou plunjes en toiens weggooi.... Gee ons maar 'n kans; ons gaat ons woorde navoel, en wik en weeg iedereen, sodat iedereen naderhand weer inbom, en dreun en gons so's die ko'els van 'n pompom, in plaats van so's 'n uitgewaaide ou stofstorm op ons neer te sak." Word hier nie op tiepies Afrikaanse wyse die denkbeelde van die Tagtigers weergegee nie? Dat Preller dit al aan die begin van die Twede Beweging gesê het, is merkwaardig. En dat die strewe na 'n persoonlike woordkuns by hom erns was, blyk uit al sy prosawerk. Dit sou seker nie moeilik wees om daarin ook pagina's aan te wys, wat nie meer as goeie joernalistiek is nie, bladsye waarin "die afgebeulde, seerrug woord" nog gemoor word, uitdrukkings met die haastigheid van 'n koerantskrywer neergeklits. Maar meestal klink uit sy prosa op 'n eie stem en telkens verras hy ons deur skoonheid van segging en mooiheid van klank.[10] Omdat by ons nog soveel muwwe, onpersoonlike stylkuns is, so 'n oorvloed van "verslonste ou plunjes en toiens", of anders aanstellerige woordpraal, daarom is dit 'n ware verademing om te luister na die harmoniese deining en wieging, wat Preller se periodes vorentoe stoot. Hy is ten minste iemand, wat nie sommer die eerste die beste frases wat in sy gedagte opkom afskryf nie; sy sinne maak nie die indruk van "so gemaak en so gelaat staan" nie; hy hoor nog die taalklanke, deurvoel die nog in hul volle betekenis.

Dat Preller historiese gegewens ook kan omwerk tot 'n aangrypende verhaal, daarvan het hy die bewys gelewer in Moedersmart.[11] Op treffend-realistiese wyse word daarin uitgebeeld die foltering van 'n moeder, wat die sterwensgeroep van een kind moet veronagsaam om 'n ander gesonde uit die hande van die kaffers te red. In sy historiese werk word die moordlustige bedrywe van die kaffers op saaklike wyse meegedeel, maar hier is dit deur plastiese tekening tot 'n roerende tragedie gegroei.

Oor Preller se taalgebruik hoef na die genoemde bespreking van Dr. E.C. Pienaar nie uitgewei te word nie. Op enkele minder mooie uitdrukkings kan hier nog gewys word: "In die tyd het hy en hy alleen in breë en diepe trekke in die kinders van Suidafrika uitgehou die wye omvang van 'n selfstandige Afrikaner-nasie" (P. R. p. 350); "Die werke van dié manne ... wat verminder aan die nasionale onbewustheid ... (id. p. 347); "sodat honderde gesinne ... van gebrek sou moes krepeer" (id. p. 300); "Die Nylstroom ... wat hier breed is en ruig bewas met bos en riet; twee stamme ... van die oorspronklike ras afgespring (Baanbrekers, p. 9, 12); "g'n kopere bendes om begeestering van buite in of uit te blaas nie" (K. Hindon, p. 31); "dan kan jy enige tyd jou weg uitkry" (id. p. 293); "In die verdere loop van dieselfde gesprek sê hy te glo, dat...." (id. p. 317); "Weinig wonder, dat baie van hulle die voorkeur daaraan gegee het...." (Trigardt, LXXIII); "die welsprekende wond in sy hofie" (Moedersmart).

§ 3. J.H. Malan.[12]

Boer en Barbaar, (1913).

By die twede druk in 1918 het Malan sy werk in omvang byna verdubbel. Hy gee "die geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-'40 en verder van die kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het," soos die ondertietel lui. Dit is "volgens sy beskeiden mening, ('n) volledige geskiedenis van die eerste Voortrekkers tydperk" (p. IX).[13]

Malan begint met Slagtersnek, bespreek die oorsake van die Groot Trek breedvoerig, asook die kafferoorloë van dié tydperk. Hoofstuk V bevat 'n kultuur-historiese beskouing, waarin uitvoerige meedelings oor vee- en wynboerdery voorkom en 'n beskrywing van die huislike lewe van die Afrikaner tydens die Trek. Dan volg 'n oorsig van die eerste trekke onder Trigardt en Van Rensburg, en 'n breedvoerige verhandeling oor die verhoudings, oorloë en swerftogte van die talryke kafferstamme, asook die betrekkinge van die emigrante met hulle. Groot aandag word ook gewy aan die optrede van die Engelse en Amerikaanse sendelinge. Vervolgens kry ons 'n breedopgesette geskiedenis van al die ander trekke, die opkoms en ondergang van die Soeloenasie, die eerste Engelse kolonie in Natal, die moord van Retief met die daarop volgende moorde en veldtogte en die vestiging van die Boere-republiek in Natal. As aanhangsel volg nog 'n verhandeling oor die argitektuur in die westelike provinsie.

Sedert 1901 is Malan besig met sy ywerige navorsingswerk en die groot aantal bronne deur hom ondersoek getuig van 'n onvermoeide vlyt en 'n hartstogtelike speursin. Hy het dan ook heelwat interessants en belangriks opgediep uit die voortrekkersperiode. Maar tot die historisie wat die uitkomste van hul ondersoek in skone vorm weet om te werk behoort Malan nie. Sy styl mis artistieke kwaliteit en die gawe om op helder, logiese wyse die gang van 'n groot beweging te teken, ontbreek by hom maar al te dikwels. Die beeldende fantasie, wat al die tallose feite en besonderheidjies moet orden en rangskik, sodat dit tot 'n grootse tafereel vergroei, die besielende asem wat die stof van die ou foliante wegblaas en die vergete helde in lewende lywe voor ons laat staan—die besit Malan slegs in geringe maat. Dit help nou eenmaal nie om net te praat van "die hartroerendste episodes" (p. 286), "onuitwisbare tonele" (p. 299), "hartdoorborende reise" (p. 301), "ontsettende toestande", "verbryselde manne" (p. 302), want dit is tog maar niksseggende woorde, só banaal, dat dit ons alleen hinder. As die toneel dan werklik "onuitwisbaar" is, teken dit dan in al sy kleure en geure, in al sy roerende droefheid, met al sy tragiese nasleep, sodat ook óns daar iets van kan voel. Toon ons die ding self, moenie net daaroor praat nie. Want Malan wil meer gee as 'n gekatalogiseerde feiteversameling of 'n wetenskaplike verhandeling. Hy raak telkens aan die moraliseer en wys op die deugde van die voortrekkers, wat dan met die teenswoordige sedebederf gekontrasteer word. (o.a. p. 317-8). Die geskiedenis is vir hom "die leermeesteres des lewens" (p. 396). As die nageslag "afdwaal van die eienskappe van welvoeglikheid, statige fatsoenlikheid, ysterklip karakter en godsvrug van ons wegbaners", dan raak hy op die pad wat lei "tot ondergang en vernietiging".

Malan probeer ook om deur te dring tot die gevoelslewe van die trekkers. Hy laat vir 'n paar bladsye die kroniekstyl met al sy feite en syfers staan en beskryf "die laaste aand" in die ou Kaapse woning (p. 136 vlg.).[14] Hier sê hy nie: "Niemand kan sig inbeel, welke tonele deur die brein van elkeen ... gevlieg het" (p. 285); hy is nie meer 'n blote toeskouer op 'n distansie van 'n "onuitwisbare toneel" nie, maar die trekker self wat afskeid neem. Omdat hy die geval werklik deurleef het in sy eie gemoed, daarom hoor ons ook die ontroering in sy woorde, al stuit ons taalgevoel telkens op wanklanke en al verdwyn die weemoedige stemming geheel en al deur so 'n potsierlike beeld: 'n Maanstraaltjie is "'n teken van die Ewigheid, sag, op wolle slippers wadend oor die menslike stipjes...."! (p. 140). Daar is nog tallose voorbeelde van viesie-verknoeiing, o.a.: "'n hartebranding, wat onuitspreeklik was" (p. 275); "snoewende woordegloed" (p. 398); "Shaka rol die golwe van kaffers oor die Drakens Berre soos 'n grote bosbrand" (p. 156); ens.; ook onbeholpe uitdrukkings soos: "'n diepheuse buiging" (p. 123); "geen Britse leërmag met hulle destyds verwaande Europees-Waterloo militêre geflikker.... (p. 348); hy "was bestemd, om die finale verwoesting van Dingaan se kolossale mag ... te help vernietig (p. 381); die gevolg was 'n sieklike jammerte ... wat as 'n hitte stroom deur Europa gestroom het...." ens. (p. 49); "hy had egter intussen 'n groot verlies van bloed wat die mensliewende, dappere Afrikaner in 'n floute skok (p. 310). Die onbeholpenheid bereik sy toppunt in onleesbare sinne: "Piet Retief was seker een van die merkwaardigste leiers onder die voortrekkers gewees en besonder bekwaam en—lankmoedig sowel as takvol om oor die grootste swakhede, veral in die begin, onder die emigrante: 'n volslae gebrek aan disipline, sug naar eer en 'n possie bekwaam of onbekwaam, te kom." (p. 186.) "Stuart vertel, dat die weduwee van P. Retief, wat 'n nooi de Wet was, en na eers met Jan Greijling gehuud te wees, na sy dood met P. Retief in 1814 was getroud, en dat hy in 'n huis aan die Mooi Rivier die veldfles van Piet Retief aan die muur het sien hang, synde in die huis van die heer H.S. Lombaard en daarop was die simbole van vrymetselary te sien" (p. 289). Sulke voorbeelde van 'n verwronge, hopeloos verwarde sinsbou staan by klompies op byna iedere bladsy. Skoonheid uit letterkundige oogpunt hoef ons seker nie te soek in 'n boek waar die argitektuur van die sinne so 'n gaotiese warboel is nie—'n ordelose hoop klippe van alle moontlike soorte,—agteloos op mekaar gesmyt, sonder vaste plan, sonder sierlike lyne. Watter fyngevoelige leser sal nie struikel oor sinne soos die volgende nie: "Ek het dadelik enige poorte van die laer laat opemaak, skryf hy op die 23ste Des., 1838 naar Kaapstad en verskyn in die Zuid-Afrikaan...." (p. 349); "Hulle noem die raad deur 'enige persone' te syn gekies." (p. 202); "Op die 28ste Jan., 1837 was ... die Kommando terug, sonder een enkele man, behalwe vier van Moroko se Barolongs gesneuwel, verlore te hê." (p. 186); "toe Paul Kruger hem die hand in sy stoel gesete en waarom sy kinders en kindskinders geskaard was, druk, ..." (p. 147).

Dan is daar nog staaltjies van mislukte hoogdrawendheid soos: "Die Mayflower kwaker pelgrimvaders is nou verander in 'n weelde baaiende, onsindelikheid en bedrog...." ens. (p. 133).

Die taalkundige sal ongetwyfeld 'n paar wavragte onkruid in Malan se akker kan oplaai. Hier kan alleen gewys word op die storende inwersie van onderwerp en gesegde wat dwarsdeur die boek voorkom, om van ander foute in die sinstelling en onafrikaanse wendings nie eers te praat nie. Tot die anglisismes behoort o.a.: "'n warme tyd" (p. 30); "die Londen Sending Genootskap" (p. 35); "China skoteltje" (p. 132); "Wat die opvolging van Shaka betref, het Mbopa vir Mahlangana vals gespeel" (p. 235).

Wat ook al die streng-historiese waarde van Boer en Barbaar mag wees, dít staat in elk geval vas: deur sy gebrekkige styl en taal is die letterkundige waarde daarvan gering. Laat ons hoop dat die boek van Malan, wat met soveel toewyding gewerk 't en daarby gewillig was "to scorn delights, and live laborious days" vir die historikus groter waarde het. Deur die belangstellende leek sal dit meer geraadpleeg as gelees word.

§ 4. Dr. S.P.E. Boshoff.

Stephanus Petrus Erasmus Boshoff is in 1891 gebore op Vaalbank, distrik Senekal. Eers het hy in die Boland skool gegaan en later na die Grey Kollege gekom. Na sy M.A. eksamen in 1912 het hy aan die Uniwersiteit van Amsterdam in die Nuwe Lettere gestudeer. Met die uitbreek van die oorlog het hy na Suid-Afrika teruggekeer en daar deelgeneem aan die rebellie. Sy ondervindinge op kommando en in die tronk het hy beskryf in Vaalrivier, die Broederstroom (1916)[15] en Rebellie-Sketse (1918).

Na die troebele is hy aangestel as professor aan die Potchefstroomse Uniwersiteitskollege. In 1921 het hy sy studie in Amsterdam voltooi en cum laude gepromoveer tot doktor in die Nederlandse Taal en Lettere op 'n dissertasie: Volk en Taal van Suid-Afrika.

Hy sê self "dat hy hom nog nie en miskien nooit sal reken tot die Afrikaanse skrywers nie. Wat hy doen is maar houthakkers- en waterputterswerk vir ons ontluikende letterkunde" (Die Brandwag, Des. 1918). Hy is in die eerste plaas dan ook filoloog, en sy dissertasie is 'n monumentale werk, die vrug van jarelange arbeid. Ook uit bowegenoemde sketse blyk sy voorliefde vir taalkundige waarneming. In samewerking met L.J. du Plessis het hy ook uitgegee twee deeltjies Afrikaanse Volksliedjies, 'n versameling van piekniek- en minne-rympies. Die inleiding getuig van onvermoeide nasporingsywer op die gebied van folklore. Meer as een fyn liedjie, wat in een of ander uithoek van ons land lê en roes, sal deur die bundels algemeen bekend word.

Van Boshoff het verder nog verskyn 'n toneelstuk Jannies, Johnnies en Jantjies en 'n gewysigde bewerking van Ds. S.J. du Toit se Magrieta Prinsloo. Hy is onlangs tot lid van die Leidsche Maatschappij benoem.

Vaalrivier, die Broederstroom en Rebellie-Sketse.

Vaalrivier behandel veral die laaste dae van Generaal C.F. Beyers, terwyl Rebellie-Sketse uit my Dagboek 1914-1915 verskillende gevegte en ook die tronklewe beskryf. Dit is feitlik alles persoonlike ervarings, wat die skrywer meedeel en hy doen dit op 'n aangename verteltoon, in 'n goed versorgde styl. Hy het daar mooi in geslaag om die taamlik eentonige militêre en topografiese meedelings af te wissel met lewendige dialoog, waardeur ons 'n goeie kyk kry op die stemming onder die burgers. Veral die beskrywing van die tronklewe munt uit deur aanskoulikheid en raak humor. Mooi staaltjies van boerekwinkslae word ook gegee en o.a. die knaende rooklus goed uitgebeeld. Daar is burgers wat selfs van die dominee twak kry "want die predikante was prakties en hul roltwak was gewoonlik langer as hul predikasies" (R. S. p. 132). "Na die preek kon 'n mens dan ook gewoonlik 'n gelukkige roker hier en daar onder die skare onderskei aan die blou rookwolkies om hom heen, en aan die streep minder gelukkige broeders, wat agter hom aanstryk om tog maar net die ruik van die rook te kry." (t.a.p., p. 133.) Daar is meer sulke voorbeelde van goeie waarneming, wat getuig van intieme kennis van die boere-mentaliteit. Die rake slag, waarmee sommige persone uitgebeeld word is 'n aanduiding, dat die skrywer ook op die gebied van die roman sukses sou hê.

Die styl word gekenmerk deur 'n besonder voorliefde vir alliterasie, waarvan reeds die eerste sin van Vaalrivier 'n voorbeeld is. In die beeldspraak verras meer as een oorspronklike wending, b.v. "'n eensame en blykbaar verlate woonhuis ... waarby 'n lang en nog eensamer ou bloekomboom half staan en slaap, nes 'n reier op sy een been langs die vlei" (Vaalrivier p. 92). 'n Paar maal word die as relatief gebruik o.a. "Genl. Maritz, die hy in daardie geval...." (R. S. p. 5). Telkens kom vyandige i.p.v. vyandelike voor, b.v. "vyandige perderuiters" (Vaalrivier p. 55). Die anglisisme op p. 36 "die Jingoes (het) my 'n vreeslike lewe gelei" moet seker op rekening van die spreker gestel word. Die bewering, dat kuns "'n lukseartiekel" is (R. S. p. 122) moet blykens die verband nie au sérieux geneem word nie. 'n Voetnoot, soos die eerste op p. 24 (Vaalrivier) kan gerus weggelaat word.


§5. J.A. Smith.

Johannes Anthonie Smith is gebore op Grootfontein, distrik Aberdeen in 1886. In sy jeug het hy Ons Kleijntji gelees en vir Afrikaans geywer. Toe hy byna vyftien jaar was het hy weggeloop na die Boere-kommandos en tot die vrede geveg. Aan die Hoëre Skool in Stellenbosch het hy sy studie voortgeset en daarna gaan boer. Die groot droogte van 1915 het aanleiding gegee tot die keuse van 'n joernalistieke loopbaan. Eers was hy tydelik werksaam by De Nieuwe Tyd, 'n Aberdeense krant en later redakteur van Het Westen. Sedert 1917 is hy redakteur en bestuurder van Onse Courant, Graaff-Reinet. Dit is die eerste krant wat in die Kaapprovinsie oorgeslaan het in Afrikaans. Smith het daarin en ook andersins aktief opgetree in die stryd om Afrikaans as voertaal erken te kry. Die gevolg was die invoering van die Afrikaanse medium in die Hoëre Skool op Graaff-Reinet. Hy versamel tans gegewens oor die mense en toestande in dié distrik vóór die Groot Trek, en werk aan 'n brosjure oor die teregstelling van Komdt. Scheepers. Van hom het verskyn: Brit en Boer, van Slagtersnek tot Jopie Fourie (1917) en Naar Bloedrivier en Paardekraal (1918)[16].

Brit en Boer.

Die skrywer gee 'n kort oorsig van die historiese gebeurtenisse van 1814 tot 1915. "By ons volk is 'n groot behoefte aan 'n kort, duidelik, onpartydig en in Afrikaans geskrywe historieboek...." verklaar hy in sy voorwoord. Deur gebrek aan 'n lewendige, persoonlike styl het dit egter alleen 'n versameling van feite geword. As voorbeeld van die dikwels gebrekkige styl en kanselagtige beeldspraak kan die volgende dien: "Hier werd Afrikaanse lewens ontneem deur die Engelse, vir die eerste maal en werd later nog weer herhaal.... Die diepe wond is nooit geen balsem toegedien, maar steeds meer nuwe wonde in die boesem van die diepgeteisterde volk geslaan." (p. 21.) Vorme, soos die volgende laat mens twyfel of die boek wel in Afrikaans geskryf is: "Op s'n treurigs (p. 22); Retief en de syne (p. 39); Die Regering ... het moe geword ... en dag dit best.... (p. 64). Na veel moeite kreeg men die inwoners so ver.... (p. 66); Goud werd gevonden" (p. 82) ens. Dan krioel dit nog van taalkundige rariteite o.a. kalmtjes (p. 110); Men sal herinner (p. 77); Southey het lang reeds in sy verstand gehad ... (p. 81) ('n Anglisisme); sy bedriegelik invloed (p. 85); vermompte despotisme (p. 96); Mettertyd het die uitlander populasie, die op sigself nie 'n presiese dreigende gevaar was ... (p. 107); die ver-engelsen van die hele aardbol" (p. 108) ens. As die dubbele negatief reg gebruik word is dit 'n uitsondering.

Naar Bloedrivier en Paardekraal.

Op eenvoudige wyse gee die skrywer 'n beknopte oorsig van die gebeurtenisse, wat in verband staan met Bloedrivier en Paardekraal, volgens sy beskouing "'n onuitputtelike bron van sede- en nasionale lesse" (p. 11). Hy wou 'n werk lewer "wat vir die opkomende geslag onmisbaar moet wees in verband met die hedendaagse Dingaanfees." Of die onmisbaarheid van lange duur sal wees val te betwyfel, omdat die styl, ofskoon beter versorg dan in Brit en Boer so weinig artistiek en dikwels onbeholpe is. "Na hierdie aanval is die laers in vier groot laers verdeel en teruggeset en het onder die bevel van Maritz ... gestaan" (p. 41). Daar is meer sulke voorbeelde. Die dubbele negatief ontbreek nog telkens en uitdrukkings soos "skatte-buiters (p. 59), verpeins (p. 82); 'n bewering te maak uit denkbeeldige inisiatiewe" (p. 70) is 'n aanduiding van gebrekkige taalbeheersing.

Nadruk word veral gelê op die verband tussen Bloedrivier en Paardekraal: "As 'n mens Dingaansdag kan of mag vier, dan kan en moet 'n mens die herstelling van die onafhanklikheid in 1880 ook vier. Albei jaartalle het dieselfde betekenis vir die volk." (p. 93.)


§ 6. Dr. J.D. du Toit (Totius).[17]

Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, (1917).

"Een omstandigheid moet by die lees veral nie vergeet word nie. Ds. du Toit was 'n Ismaël: sy hand was teen almal, en almal se hand was teen hom.... By die beskrywing van sy lewenstaak was dus wysheid en tak 'n hoofvereiste, en die skrywer wil hier die opregte versekering gee, dat hy sy uiterste bes gedoen het om by oue gevoelighede verby te skram en om oue wonde nie seer te maak nie. Vandaar dat deurgaans geen kritiek geoefen en geen beoordeling van persone en gebeurtenisse gegee word nie. Die dag daarvoor sal wel later aanbreek. Die skrywer wou volstaan met die blote meedeling van feite (soveel molik in sitaat)...." (Voorwoord). Met dié woorde het Totius sy werk goed gekarakteriseer. Dit is 'n feiteversameling van die grootste belang oor "'n periode van Afrikaanse oplewing", soos die ondertietel lui. Die rangskikking van die feite, die ordening van sy biografiese materiaal het Totius met talent gedaan. Van alle oorde het hy met groot vlyt en nasporingsywer sy boustowwe bymekaar gemaak. Netjies opgepak lê die stene in afsonderlike stapels. Die fondament is ook al gelê en daarop moet die boumeester nou vir ons 'n sierlike skepping van monumentale skoonheid oprig. Dit is 'n taak waarvoor die digterlike seun van 'n groot vader allesins berekend is. Maar hy deel ons mee: "Die dag daarvoor sal wel later aanbreek". Die redene wat Totius voorlopig van 'n interpretasie van sy feite laat afsien het, moet ongetwyfeld gebillik word, as ons onthou, dat sy vader se hand "teen almal was, en almal se hand teen hom". Addison het in 1716 al verklaar: "The truth of it is, as the lives of great men cannot be written with any tolerable degree of elegance or exactness within a short space after their decease; so neither is it fit that the history of a person who has acted among us in a public character, should appear, until envy and friendship are laid asleep, and the prejudice both of his antagonists and adherents be, in some degree, softened and subdued."[18] Maar die opmerking van Samuel Johnson is nie minder juis nie: "If a life be delayed till interest and envy are at an end, we may hope for impartiality, but must expect little intelligence; for the incidents which give excellence to biography are of a volatile and evanescent kind, such as soon escape the memory, and are transmitted by tradition."[19] Dit is juis dié soort insidente wat Totius, blykbaar met opset verwaarloos het. "Die skrywer van hierdie reëls was toe maar vyf jaar oud. Tog styg daar nog verskeie witte wolkies van skerpe herinnering op bo die wegduisterende gesigseinder van kinderverlee. Die skrywer sal daarmee die leser nie te veel lastig wees nie." (p. 243). Doodjammer, want deur die verswyging van sy persoonlike herinneringe ontbreek daar lewenswarmte aan die biografie. Die beeld van sy vader is groot en imposant, maar daar is weinig lewe in. Soos 'n reusagtige silhoeët staan dit teen 'n agtergrond van die bontste verskeidenheid. Maar Ds. Du Toit se pelgrimsreis van die wieg tot aan die graf, sy titaniese worsteling met die lewe, die dramatiese afwikkeling van dié geweldige stryd, die diepe kneusing van 'n groot siel wat van smaad en hoon meer as sy volle deel gehad 't—daarvan val alleen 'n dowwe flikkerlig op die beeld. En die indruk kom Totius self bevestig: "Van Ds. du Toit se inwendige lewe weet ons nie veel nie" (p. 248).[20] "Ons het tot dusver veel gesê van Ds. du Toit se werk en weinig laat deurstraal aangaande sy persoon. So hoort dit, want dis ons in die eerste plaas te doen om die grote werk wat Ds. du Toit verrig het. Maar daarom mag 'n beskrywing van sy persoon nie agterwege bly nie" (p. 378). Die "persoonsbeskrywing" (Hoofstuk XVII) bring ons egter nie veel verder nie. Dit bly aan die buitekant; ons mis daarin die vermoë om deur te dring tot die innerlike psiege. Dit kan ons al weer met die skrywer se eie woorde bewys: "Nou oorgaande tot die beskrywing van Ds. du Toit se meer inwendige lewe, natuurlik soos dit sig naar buite geopbenbaar het (want "wie weet wat in de mens is dan de geest des mensen die in hem is?") sal ons eers bespreek sy emosionele lewe." (p. 381).[21] En hier wou Totius tog meer wees as 'n feiteversamelaar, hier wou hy ons iets van die persoonlikheid van sy vader laat voel. "The biographer must be more than the mere realist who can photograph facts—he must be something of the idealist as well, for he has to create as well as to reproduce: and we value a biography exactly in proportion as its author has succeeded in creating for us the character of a new man or woman to be added to our own personal acquaintance."[22] Nou lyk dit vir my of Totius met die metode wat hy volg, soiets nie kán bereik nie. Hy verklaar: "Nou gaan ons oor tot 'n beskrywing van Ds. du Toit se verstand en wil. Vanself hoef dit nie so uitvoerig te wees nie. Sy ganse lewe en werk deur ons beskrewe lê getuigenis af van die grootte van sy verstand en die krag van sy wil." (p. 396). Dit mag nou wel waar wees, maar so 'n bewering help ons geen druppel om die persoonlikheid van 'n mens te begryp nie. En buitendien, het ons nie die reg om van die biograaf 'n artistieke sintese, 'n psigologiese interpretasie te verwag nie? Ons is nie tevrede met hier 'n raps en daar 'n raps nie, ons wil 'n volledige beeld hê. Die skrywer vervolg: "Ook moet hier die opmerking gemaak word dat dit ons nie te doen is om 'n strenge groepering van die sielsfunksies nie. Ons het 'n skema gemaak wat prakties aanwendbaar is. Bowedien is die siel van 'n mens 'n eenheid, wat sig nie uit mekaar laat kerf nie. Op die feit wys veral die nuwere sielkunde. Vandaar dat ons reeds die verstand en wil laat inwerk het op sommige van die beskrewe emosies of gemoedsaandoeninge." (p. 397.) Almal netjies beredeneerd, maar hier help al die skemas en tabelletjies van die hele wêreld jou totaal niks! Die biograaf staan voor dieselfde probleem as die romanskrywer: Hoe moet ek die mens laat lewe? En as hy dié groot wonder reg kry, dan is dit nie omdat hy 'n knap psigoloog is nie, goed op die hoogte van die allerlaaste emosionele formulae, maar enkel en alleen omdat hy kunstenaar is. Hoe die wonder geskied weet hy miskien self nie, en ons kan dit alleen by benadering uitrafel; maar as ons sy boek gelees het, dan is daar nog 'n man of vrou toegevoeg by die getal van ons intieme vriende. En in die sielkundige skema van Totius mis ek die warme intimiteit; ek ken sy vader na meer as 450 bladsye nog nie so goed as my eie vader of een van my vriende nie. Die "witte wolkies" van sy herinnering, die moes hy nie laat wegwaai het nie!

Beskou ons Totius se biografie nou alleen as feiteversameling, dan is dit inderdaad 'n handige kompilasiewerk, wat onmisbaar is vir die kennis van ons letterkunde en geskiedenis. Hy het die outobiografie, briewe en sitate op bekwame wyse inmekaar gevleg, sodat iedereen na bestudering van die bewysstukke sy eie oordeel kan vorm. Daarmee het hy seker bereik, wat hy Kuyper op die tietelblad laat sê: "Niet vergeten van onze doden is niet genoeg. Er kan zo dikwels veel ook voor onze doden nog gedaan worden. Om hun eer en goede naam te verdedigen tegenover miskenning en laster.... Bitterheden weg te nemen, die als onkruid tussen hen en hun omgeving waren opgeschoten...." Hy het as onpartydige historikus sy vader sy eie saak laat voordra, hom uit sy werke, self tot ons laat spreek; nou moet hy nog as seun sy vader vir ons uitbeeld met al die warmte van 'n liefdevolle kinderhart. Die voorwoord laat ons hoop, dat "die dag daarvoor wel later (sal) aanbreek." Vir ons letterkunde kan dit 'n blye dag word!

Die biografie bevat besonderhede oor Du Toit se jeug, sy werk as predikant van die gemeente Noorder-Pêrel, sy stryd vir die beginsel van Christelik Nasionale Onderwys. Die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, Die Patriot en ander blaaie word uitvoerig bespreek, asook die stryd vir die Afrikaanse taal. Duidelik blyk hoe groot die invloed van Ds. S.J. du Toit sedert 1875 was, en van hoeveel bewegings hy die eintlike vader kan genoem word. Die oprigting van die Afrikaner Bond, die oplewing in die Kaap-Kolonie en die aandeel van Die Patriot in die Transvaalse Vryheidsoorlog is ook breedvoerig uitgewerk. Uit die belangrike sitate kan ons 'n helder beeld van die kulturele lewe van dié tyd saamstel. Ds. Du Toit se werk as Superintendent van Onderwys en polietikus in die Transvaal, sy Bybelvertaling en reise word ook behandel. Dan volg sitate oor sy houding tydens en na die Jameson-inval. Die verklaring van Adv. J.H.H. de Waal, soos aangehaal op bladsy 2 word deur Ds. Du Toit se eie woorde bevestig: "Die houding deur my in Patriot en Getuige ingeneem teenoor die Transvaal-regering van die laaste tyd was egter nie populêr in die Kolonie nie, veral sedert die Jameson-inval. Dit het gemaak dat die blaaie agteruit gegaan het." (p. 313.) Oor Du Toit se stryd teen sektes en kettery word ook meedelings gedaan. Met 'n beskrywing van sy persoon en laaste dae sluit die boek, waarin ook nog enige gedigte van hom afgedruk is.

Van Du Toit se veelsydige bekwaamheid, sy onvermoeide ywer vir godsdiens, taal en nasie is op byna iedere bladsy bewyse te vind. Sy lewensbeskrywing is meteen ook die geskiedenis van die ontwaking van die Afrikaner bewussyn en sy aandeel daarin was ongetwyfeld belangrik.

Of ons die deur moet oopset vir woorde soos die volgende, is twyfelagtig: leaders (o.a. p. 41); waiter (p. 283); debater (p. 350); smoking-cap (p. 379), wasies (p. 380).

§ 7. Ds. W. Postma (1874-1921), (Dr. O'kulis).

Doppers (1918).

Dr. O'kulis verklaar in sy inleiding: "Ik het die egte ou Doppers nog goed geken en hulle opregte nasate leef ik nog mee saam, sodat ik meen in staat te wees om enigsins 'n suiwere portret te skilder van 'n eienaardige groep van ons volk...." Hy het 'n ruim opvatting van die woord Dopper. "Al die Doppers (is) nie in die Dopperkerk nie, en ... nie alle lidmate van die Gereformeerde Kerk van S.A. (is) egte Doppers nie." (p. 8.) "Ons profeteer dan ook beslis ... dat ons volk altyd meer terug sal draai naar die Backveld, al meer Dopper sal worde, naarmate ons nasionale selfbewustheid ontwaak en ontwikkel" (p. 15). Op kernagtige wyse word die hele lewensbeskouing van die Dopper uiteengeset en alles wat daarmee in stryd is afgekeur. Die oorsprong van die Doppers, hul isolement, godsdiens en beskawing word geskets en hul beginsels met warmte verdedig. Ten slotte word daar 'n staanplek gevra vir die Dopper in die Afrikaanse samelewing: "Ons vra geen guns, geen medelyde, geen beloning, geen verering nie. Ons vra net staanplek in die Boer-geledere om saam te werk en saam te stry vir die heilige pand ons saam toevertrou" (p. 116). In die bylae volg die opienies van ander skrywers oor die Doppers.

Die grootste gedeelte van die boek is van godsdienstige aard en kan buiten beskouing bly. Dat ons hier egter te doen het "met 'n faktor, wat geweldig invloed uitgeoefen het op die kultuurlewe van ons volk" (p. 71) is ongetwyfeld waar, en Dr. O'kulis se pleidooi vir die Doppers is 'n belangrike bydrae op kultuur-historiese gebied. Daaruit kan ons die Dopper se standpunt teenoor die wetenskap, die kuns, opvoeding, sport, ens. leer ken. Die skrywer het 'n persoonlike kyk op al die probleme van ons tyd, al is sy behandeling daarvan dan ook dikwels sketsagtig. Kapitalisme en sosialisme kan seker nie met so 'n paar sinnetjies soos die volgende afgemaak word nie: "Geen van bei ken soiets as 'n lewens- of nasionale ideaal nie—hulle klim nooit hoër op as hulleself nie. Daar is niks verhewens of opheffends in hierdie rigtings nie—dit is net:—"Laat ons eet en drink en vrolik wees, want more sterf ons." Ook die definiesie van modernisme is vaag en misleidend, (p. 65.)

Die Boervrou, (1918).

Die Boervrou, "Moeder van haar Volk" is saamgestel op versoek van die Nasionale Helpmekaar- en Kultuur-Vereniging, Reddersburg. Die skrywer verklaar: "Dis my doel om die lewe en dade van die Boervrou in die geskiedenis op te spoor en voor te stel op eenvoudige en heldere wyse." (Voorwoord).[23] Hy wil probeer om self "so min molik te sê en soveel molik getuienis van vreemdelinge (ook vyandige), wat die mense geken het invoer." (p. 20.) In hoofsaak is dit dan ook 'n kompilasiewerk, waarin veral die periode van die Groot Trek en daarna uitvoerig behandel word. Onder ander word die gedenkskrif van Anna Stenecamp afgedruk en 'n paar krante-artiekels oor Maria Koopmans-de Wet. Daar is nog naklanke van die Eselskakebeen: "Ongelukkig dat ons altyd op skool nog moet ly aan die verouderde Engels-Turkse stelsel van afgryslike geestesmoord." (p. 104.) "Dis nodig om die wissels van die spoor van ons Vaderlandse Geskiedenis eers reg te sit vir ons, wat op skool deur Cape History en Jingo-laster so hopeloos verknoei is...." (p. 44.)

"Die godsdienssin van die Boervrou is die sleutel van haar hele geskiedenis; die wat dit nie vooropstel, en gedurig voor oë hou nie, kan haar nie begryp, haar portret nie skilder nie" (p. 66). Godsdienstige beskouings neem dan ook 'n groot plaas in, en telkens word 'n klein prekie ingelas (o.a. p. 160, 179). Die streng-Kalvinistiese lewensbeskouing van die skrywer laat hom dikwels teen allerlei maatskaplike euwels te velde trek, teen "die sonde van kinderbeperking" (p. 157), die vrouestemreg en allerlei vreemde sedes. "Hoe geleerd en ontwikkel ons ook al word, laat ons Boer bly. Praat van beskaaf—wel ik het nergens hoër, fyner beskawing gesien as by ons egte kristen Boer voorouers nie." (p. 109.) Hy is nie teen vooruitgang nie: "Die Boervrou mag die kappie en die manteltjie vaarwel sê en tog haar grootmoeder in alles gelyk bly." (p. 177.) Maar ons moet voortbou op "die hegte breë Boerfondament" en alle "vreemde modelle" vermy. "Daar is geen hoër adel, geen fyner beskawing, geen edeler siel as die van die Boervolk self nie. Al wat ons daarvan afwyk, gaan ons verkeerd, breek ons onsself af, ondermyn ons ons indiwidualiteit. Ons mog dan wat vreemds byspyker, en daar uitlandse vernis oor smeer, maar dit sal nie hou teen die Afrikaanse son nie.... Wat ons het is egte goud, al mag dit nog nie gelouter en bewerk wees nie, wat ons in die vreemde naloop is klatergoud." (p. 206.) Hier ontaard die gevoel van nasionale eiewaarde in chauvinisme, en werk die ou isolasie-drang van die Boer, en sy afkeer van alle vreemde beskawing nog na. Op 'n ander plaas is sprake van "die gesonde lewenswyse en wêreldbeskouing van die Boervrou, so afkerig van die verfynde en demoraliserende uitlandse 'beskawing'...." So voer die groot nadruk wat op die Afrikaanse voortreflikheid gelê word en die waarskuwing vir alles wat vreemd is tot die stelling, dat alles in Afrika goed is en alles daarbuite sleg. Dit was seker nie die bedoeling van die skrywer nie, maar wanneer 'n goeie beginsel te veel op die spits gedryf word, lei dit tot bekrompenheid.

Die neiging vir allerlei moeilik verdedigbare generalisasies, wat ook in Doppers aangetoon is, blyk uit so 'n bewering: "Is die teenwoordige oorlog nie vrug van die onvrouelikheid van die vrou van Berlyn, Parys, Brussels, Londen?" (p. 180.)

Die portret en karakter van die Boervrou het Dr. O'kulis met liefde geteken. Veral in die sewende en agste hoofstuk, waar die skrywer self meer aan die woord is, kom juiste opmerkings en 'n persoonlike uitdrukkingswyse voor. Die nuwere geskiedenis wil hy verbygaan, maar oor die konsentrasiekampe kán hy nie swyg nie. (p. 141.) "Die geskiedenis swyg nie, al vergeet ons ook al graag." (p. 148.) "Dwars deur ons land loop die bloedspoor van die Boervrou" (p. 114). Met eerbiedige hulde volg hy die spoor deur ons geskiedenis. Van die politieke vroueverenigings verwag hy weinig heil. Ook die foute van die Boervrou word beskryf. In Mevrou Marie Koopmans-de Wet "sien ons die Boervrou soos sy ontwikkel op die hoogste sport" (p. 181.) Die bylaes bevat hoofartiekels van die Mediator oor die trekkers en oor vaderlandsliefde, asook 'n stuk uit Preller se Voortrekkermense.

Tot die minder juiste uitdrukkings behoort o.a.: "'n daghelder feit" (Doppers, p. 63); "die ster-rol speler in die bioskoop" (id., p. 66); "Die meisies was ... op reken van die moeder...." (Boervrou, p. 59); "oor algemeen" (id., p. 94); "meedoen met allerhande lewensdrukte" (id., p. 97); "geleerdheid bring in 'n groef" (id., p. 105); "om oor die toekoms te praat en te plan (id., p. 149); "omdat men hiervoor geen oog had" (id., p. 24); "om die verdrukte landgenote te help met tonne van selfgemaakte en geofferde versagting" (id., p. 92). As staaltjies van retoriese beeldspraak kan dien: "Twee feite het hulle diep in die hart deurboor" (id., p. 118); "die hartverskeurende skouspel; die vlym nog dieper voel" (id., p. 148).

§ 8. Thos. Blok.

Thos. Blok is in 1879 gebore. In Holland was hy 'n tydlank onderwyser en sedert 1913 in Bloemfontein, waar hy tans hoof van die Voorbereidende Tegniese Skool is. Hy het hom dadelik na sy vestiging in Suid-Afrika op Afrikaans en geskiedenis toegelê. Hy streef daarna om die resultate van sy argiefondersoek in aantreklike vorm uit te gee en bewerk veral die periode van die Oranje Rivier Soewereiniteit. Van hom het verskyn 'n serie leesboeke Ons Eie Taal, Klein Jannie, Oom Willem, Hendrik Afbeen en Willem Kruger, skool- en kinderlektuur, 'n paar bundels kinderversies en Grensboere (1918).

Grensboere.

Dit is 'n verhaal uit die dae van President Hoffman, "'n inleiding tot die geskiedenis van die (Basoeto)-oorloë." Blok wil "'n duidelike beeld ... gee van die toestande, wat geheers het, en die moeilikhede, waarmee die Boere te stry gehad het op die grens van Basoetoland.... Behalwe die vorm, waar die storie in verskyn, is alles suiwer geskiedenis."[24] Die geskiedenis smoor dan ook die verhaal dood; die argieflug is te sterk. In die begin kry ons nog iets van die mense te sien, maar ons verloor hulle gou tussen al die historiese feite en dokumente. In 'n suiwer historiese vorm sou Blok se werk meer voldoening gee, want die feite wat hy meedeel is belangrik en van sy simpatieke inlewing in die Boerekarakter getuig iedere bladsy van die boekie. Die helder, eenvoudige styl, wat alleen op enkele plekke spore van Hollandse invloed vertoon, maak Grensboere uiters geskik vir die jeug. Hinderlike herhaling kom voor o.a. op p. 21: skaf—skaap; op p. 57: gekies—kiesers—kies.

§ 9. Ds. G.B.A. Gerdener.

G.B.A. Gerdener is in 1881 gebore op Wupperthal, 'n Rynlandse sendingstasie in die Sederberge, Clanwilliam, waar sy vader, 'n Duitse sendeling gearbei het. Sy gehele opvoeding het hy feitlik in Stellenbosch geniet, en daar is hy ook tot predikant opgelei. Sy teologiese studie het hy in 1922 voltooi aan die uniwersiteit in Tübingen, waar hy die graad Dr. Phil. cum laude verwerf het en hom veral op die nuwere geskiedenis en die tydperk van die Hervorming toegelê het. As sekretaris van die Christelike Studente-Vereniging het hy in 1907 en 1910 groot buitenlandse reise gemaak. Gedurende 1912-17 was hy onder die Mohammedane in Kaapstad werksaam en daarna as twede predikant op Stellenbosch. Van hom het verskyn 'n bundel gedigte: Uit Mijn Jonkheid en verskeie godsdienstige werke, alles in Hollands. Sarel Cilliers, Die Vader van Dingaansdag is egter in Afrikaans (1919). Hy was ook redakteur van Het Gereformeerd Maandblad.

Sarel Cilliers.

Piet Retief word die martelaar van die Groot Trek genoem, Andries Pretorius, die krygsman en Sarel Cilliers die profeet (p. 3). "Beter tiepe van die diepe godsvrug en die innige vroomheid, wat in dae van donkerheid en droefheid aan die hart van die Trekkers lig en troos verskaf het is daar nie dan Sarel Cilliers" (p. 4). Sy kinderjare en uittog na die noorde word beskryf, terwyl ook in vlugtige trekke die verloop en betekenis van die beweging van 1836 geteken word. Episodes waarin Cilliers 'n groot aandeel gehad 't, soos die slag by Vegkop en die aflegging van die gelofte word uitvoerig behandel en op helder wyse toegelig. Cilliers se ervarings in Natal en later in die Vrystaat, sy rol in die kerklike lewe is op aanskoulike wyse in die laaste hoofstukke geskets. Deur verskillende anekdotes kry ons 'n helder beeld van sy persoonlikheid. In die slothoofstuk word sy betekenis so saamgevat: "Hy was 'n onverskrokke baanbreker van die beskawing, 'n dapper stryder vir vryheid, 'n edel patriot en 'n vroom Godsman" (p. 90.) Die geskiedenis van die Dingaansfees en die beste manier om dit te vier word bespreek. Dit was dan ook die aanleiding tot die ontstaan van die biografie (p. 4). Die aanhangsels bevat 'n joernaal en verskeie briewe van Cilliers.

"Die meeste mense van die twintigste eeu sal (Cilliers) noem 'n onbuigsame, ouderwetse puritein" (p. 84). Deur sy verwante lewensbeskouing kon Gerdener so 'n figuur met 'n begrypende liefde aanvoel en hy slaag dan ook daarin om veel wat vaag was te verduidelik. As hy ons egter vertel dat hy liewer "die sluier van vergetelheid" (p. 34) oor die onaangenaamheid tussen Cilliers en Smit wil trek, dan twyfel ons aan sy objektiwiteit. Vir 'n geskiedkundige werk kan die omsluieringsmetode nóg noodlottiger wees as vir 'n roman! Deur so 'n sinnetjie bring die lewensbeskrywer homself onder die verdenking dat hy te werk gegaan 't volgens die gesegde: De mortuis nil nisi bene. Onwillekeurig vraag ons: Wat het nog meer onder "die sluier van vergetelheid" geraak? In die aangehaalde geval is dit alleen getuigenis uit 'n ander bron wat Gerdener tot 'n bespreking dwing. Maar die feit dat hy dit met blykbare teësin doen, kan ons die indruk gee, dat hy alleen 'n lofrede op "die vader van Dingaansdag" wou skryf. En selfs die vaagste sinspeling in dié rigting moet die biograaf vermy, as hy geen agterdog wil opwek teen sy onpartydigheid nie.

Ook die volgende verklaring is 'n erkenning deur die skrywer self van wat daar nog ontbreek in sy werk: "Ons sluit hierdie Hoofstuk "Bloed en Trane" met die gevoel dat daar taferele in die geskiedenis is, wat niemand kan beskrywe nie. Neem b.v. Piet Retief, bo-op die Drakensberg met sy aangesig in die rigting van die Indiese Oseaan.... Gebeurtenisse kan 'n mens nog beskrywe, maar sulke manne, so groot, so onsterflik: die Martelaar, die Profeet en die Staatsman van die Grote Trek. Hier moet die digter en die skilder ons te hulp kom!" (p. 47.) Die kunstenaar-biograaf mag egter sy taak nie so maklik op ander skuiwe nie! Dit spreek vanself dat iemand wat uit stowwige oorkondes en fragmentariese oorlewerings 'n beeld van 'n mens moet opbou daarin slegs gedeeltelik kan slaag; die tydgenoot, steunende op intieme kennis en persoonlike omgang is daartoe veel beter in staat. Maar waar die tydgenoot dit nagelaat het is 'n biografie soos die van Sarel Cilliers vir ons van groot belang. Uit die beskikbare gegewens het Gerdener 'n duidelike beeld van die man en sy betekenis saamgestel. By 'n twede druk sal hy seker die onafrikaanse vorme wat daar nog in sy styl voorkom vermy, en ook nie die piëteitlose afkorting Maritzburg vir die ou Voortrekkerstad gebruik nie (o.a. op p. 31).

§ 10. A.J. van der Walt.

Andries Jacobus van der Walt is gebore op Grootfontein, Middelburg, K.P. Van sy tiende tot sy vyftiende jaar het hy skool gegaan op Ratelpoort, waar hy leer hoera skree het, toe die anneksasie van Transvaal (1877) bekend word. Maar nadat hy enige jare skool gehou 't is hy Transvaal toe en daar het hy gou tot 'n ander oortuiging gekom. Kort na die Jameson-inval is sy Hollandse roman Afrikaner wees u zelf geskryf.[25] Gedurende die Twede Vryheidsoorlog moes hy saam met ander die wyk neem na Delagoabaai en vandaar na Holland. In Europa het hy byna twee jaar gebly, baie rondgereis en sy ondersoekings oor Andries Hendrik Potgieter begin, wat nog op 'n uitgewer wag. Na sy terugkoms was hy eers tien jaar lank by 'n versekeringsmaatskappy en toe weer onderwyser in die distrik Potchefstroom, waar hy nog is. Noordwaarts, wat in 1906 al klaar was het hy in Afrikaans omgewerk vir die Burger-leeskring (1919).[26] In 1920 het ook nog verskyn Vastrappers I.

Noordwaarts.

In 1877 het 'n groot aantal huisgesinne die Suid-Afrikaanse Republiek verlaat en noordwaarts getrek. Die skrywer het historiese gegewens oor hierdie Dorsland-Trek versamel en dit as Deel II van Noordwaarts uitgegee. Die verhaal van D.J. Erasmus word afgebreek deur die volgende opmerking van Van der Walt: "En dan volg 'n hele reeks van kostelike informasie ... wat vir 2/3 as boustof verstrek ('t) van Boek II" (p. 217). Boek II is 'n gedeelte van 'n romantiese verhaal, wat aan die Boustowwe voorafgaan. Hier het ons dus te doen met 'n onwetenskaplike vermenging van waarheid en verdigting, wat die boek vir die historikus vrywel waardeloos maak. Selfs op die boustowwe kan ons nie reken nie: "Die skrywer het eers gemeen, by die omwerking en besnoeiing van die handskrif, om die verdwaal-episode maar agterweë te laat....[27] Nog duideliker blyk sy werkwyse uit die volgende: "Ons moes dus by die skrale bedeling van boustof, nadat ons ons so goed moontlik onder ons omstandighede op hoogte van die Land- en Volkkunde van die streke waardeur die twee van Stadens denkelik getrek het, gebring het, toe maar verder die regte van 'n romanskrywer ons aanmatig, om so op dié manier die leemtes enigsins aan te vul." (p. 185.) Teen 'n historiese roman oor die Dorsland-trek bestaan daar natuurlik geen besware nie, maar die onoordeelkundige vermenging van fantasie en waarheid in 'n boek, wat die ondertietel Historiese Sketse draag, moet ten sterkste afgekeur word.

Van der Walt het verskillende episodes uit sy boustowwe tot een verhaal saamgeflans. Hy gee 'n reeks gekleurde historie-prente en laat op bioskoopagtige wyse die vernaamste episodes voor ons verbytrek. In die uiterlike omstandighede van die trekkers het hy hom goed ingeleef. Hul ontberinge en eindelose gesukkel in die dorsland word op skilderagtige wyse geskets. "Die opeenvolging van ellendes" (p. 58), die lyding van mens en dier in woeste oorde, die moeilikhede met die inboorlinge is op duidelike en aanskoulike wyse voorgestel, sodat die geheel 'n treffende rolprent van die volhardingsvermoë van die Afrikanerpioniers word. Maar ons mis die hand van die kunstenaar wat só kan skilder, dat die figure van die doek af na ons toe kom, met ons praat en die roersels van hul innerlikste menssyn openbaar. Want daarvoor deins die skrywer terug. "Ons laat maar liewer die sluier val!" (p. 112);[28] "Maar laat ons maar liewer van Tys van Wyk, die vader en van Roelf, die liefhebbende oom, swyg—swyg van algar se verdriet, wat elkeen op sy eie manier getoon het...." (p. 136); "O, geen pen kan die aakligheid van die reis beskrywe nie!" (p. 139); "Wie sal 'n vroumens se trane deurgrond?" (p. 162). So soek die skrywer altyd maar uitvlugte. Net waar hy 'n kans kry om die dieper menslikheid te teken, getuig hy sélf van sy onmag. Hy bly meestal die belangstellende toeskouer, wat nie die ellende self deurleef nie, maar op 'n goeie distansie aantekeninge maak: "Laat ons, Leser, hulle afkyk in hulle doen...." (p. 65). Die kranksinnige Mieta is "die ware beeld van wanhoop" (p. 51) en 'n paar reëls verder weer "die beeld van verregaande onverskilligheid". Tog het hy daarin geslaag om 'n hele paar lewendige toneeltjies te teken, soos o.a. die dood van Joggie (p. 68 vlg.). Ook die vaste vertroue op die Voorsienigheid onder die bangste gevare, en die stille godsvrug van die trekkers is goed weergegee.

Die gebeurtenisse deur Van der Walt beskryf was vanself al danig romanties. Maar hy is nog nie tevrede nie! Dit word so aangedik, dat mens jou naderhand verbeeld dat jy onder die oud-testamentiese bedeling leef. Daarom verbaas dit ons nie dat die steenbokkie reguit in Tys se knipmes inloop nie! (p. 144). Die meisie wat deur die kaffers ontvoer word, ontbreek ook nie, nog minder die paartjie wat mekaar "kry". "Leser, ons paar het mekaar nou. Sal ons ook nou maar ophou?" (p. 157.) Asseblief tog neef, want ons het dit al só baie gehoor! As jy van die verliefde paartjie nie twee lewendige mense kan maak nie, wat op hul eie manier liefhet en nie mekaar sommer "kry" en "het" nie—bly dan maar liewer stil! Die bruilof ens.—ja kyk—soiets lees ons elke dag in Die Burger en De Volkstem. Ons weet presies hoe dit gebeur en daar in die wildernis is 'n mens ook maar 'n mens! Hou tog maar liewer op!

In plaas van plastiese uitbeelding kry ons moralisasies en godsdienstige oorpeinsings, soos by die beskrywing van Sarie Swarts se lotgevalle. Hoe sterk die moraliserende tendens is blyk duidelik uit

Vastrappers I.

In die voorwoord al staan 'n heftige tirade teen allerlei "onruswekkende verskynsels". Daartoe behoort: "die prysgewing van ons jeug aan die Rugby-Moloch, ... die goddelose Rugby-gedoente" (p. 7); "die gruwelike en gevaarlike sigarette-draak, gemengde baaiery, die Malthusiaanse euwel" ens. Ook in die teks kom sulke uitvalle voor. Van der Walt het seker die volste reg om vir sy lewensbeskouing propaganda te maak, maar in 'n historiese werk kom sulke sedeprekery nie te pas nie.

Die eerste afdeling van Vastrappers bestaan uit sitate van "wat ander mense so ongeveer van Boer geskryf het." Waarom ons dit eers moet lees, is nie duidelik nie. Dan volg: "Die Historie van seker vier Potgietergeslagtes", 'n reeks "oorspronklike famielieverhale", wat "so orgineel moontlik" afgedruk word. Hy hoop dat "veral Jong S.A. se oë meer mag oopgaan om die egte goud van ons skone Verlede te onderskei van baie namaaksels en klatergoud van ons tye." (p. 37.) Die derde afdeling "Baanbrekers en Vastrappers" is 'n soort sedekundige verhandeling om aan te toon, dat daar "'n goue streep van Kalvinisme deur heel ons Vaderlandse Geskiedenis (lê)" (p. 200). Afdeling IV dra 'n uit taalkundige oogpunt onjuiste tietel: "Uit vanmelewe ou Potchefstroom se dae". Dit is 'n herdruk van 'n artiekel uit Het Westen van 1908, met 'n naskrif van 1919 waarin gedeeltes uit ou Potchefstroomse krante afgedruk word. III en IV is albei "onvoltooide sketse". "Omstandighede het ons belet om al die informasie behoorlik te verwerk soos dit eintlik behoort. Dit het gekom deels omdat ons nog nie klaar het met ons histories ondersoek" (p. 211). Met dié woorde veroordeel die skrywer sy eie werk. Die wanordelike allegaartjie wat hy ons aanbied, met sy doolhof van inleidings, aanhangsels, naskrifte, note en bymekaargeskraapte sitate is 'n duidelike bewys dat naas liefde vir die voorgeslag 'n deeglike, wetenskaplike voorbereiding onmisbaar is. As Vastrappers I enige waarde het, dan moet dit gesoek word in die Potgieterverhale, wat die grootste gedeelte van die boek beslaan. Die beoordeling daarvan kan egter aan die historisie oorgelaat word.

In Noordwaarts skryf Van der Walt 'n gemaklik-vloeiende taal, wat egter weinig persoonliks het. Die invloed van die Hollandse skool van vóór '80 blyk nie alleen uit sy "bewerkte" sitate van Ten Kate nie, maar ook uit beeldspraak soos: "'n vlym deur sy siel" (p. 152). Hinderlik is die gebruik van "geword" (p. 60), en die verkeerde sinstelling: "Sy het vooroorgeval, en het haar liggaam 'n skok gekry" (p. 90). In Vastrappers[29] is die styl minder versorgd. Daar kom voor o.a.: "Die Barbaar gevaar" (p. 202); "verhaalde" (p. 232); "Soiets sou wel meer konsekwent, ... en op tot datum (up to date) gewees het, as al die onnasionale dus egoïsme in die hand werkende voetbal-gedoe." (p. 215.)[30].

§ 11. Senator G.G. Munnik.

Kronieke van Noordelike Transvaal, (1920).

In die eerste hoofstukke word die nedersetting van blanke onder Generaal Hendrik Potgieter in Soutpansberg beskryf. Dan volg 'n uiteensetting van die moeilikhede met die talryke kafferstamme en die gebeurtenisse wat gelei 't tot die belegering van Makapaan in sy grotte.[31] Ook die politieke kibbelarye tussen verskillende Transvaalse leiers en die toestande op die goudvelde word geskets. Uit die lewe van die goudsoekers en jagters vertel die skrywer interessante voorvalle. Sy ondervindings as mynkommissaris en landdros lewer die stof vir meer as een vermaaklike anekdote, wat op lewendige toon vertel word. Ons kry ook 'n goeie kyk op die verhouding tussen die regering, die amptenare en die burgers. Die skrywer slaag daar goed in om ons 'n kleurige beeld te gee van die lewe van die baanbrekers in die noorde, die wisselvallighede van hul swerwersbestaan, hul moed en uithou-vermoë. Veel beter as deur 'n lang betoog word die toestande geskets met 'n voorval soos die volgende: "Uit die getuienis blyk ..., dat elkeen van twee vyandige gemeentes die kerk, 'n sinkgebou, eis. Daarop breek die wakkerste gemeente die kerk, die van hout en yster was, af, en karwei dit weg op bokwaens, voordat hulle teenpartyders daar iets van wis" (p. 69). Ook die talryke Kruger-anekdotes word op aangename wyse vertel. Sonder dat dit aanspraak kan maak op groot letterkundige verdienste is die herinneringe van Senator Munnik ongetwyfeld 'n aantreklike boek, waarin die algemeen-menslike kant van 'n so goed as onbekende historiese tydperk mooi belig word. Sulke bydraes kan ook vir die geskiedkundige navorser van groot belang wees en die skrywe van soortgelyke herinneringe verdien navolging. Van Oud-Pres. F.W. Reitz het in verskillende tydskrifte ook sulke memoires gestaan, wat behoorlik bygewerk 'n interessante bundeltjie oor die ou dae kan word.

Volgens 'n meedeling het Munnik sy werk nie oorspronklik in Afrikaans geskrywe nie. Sy taal en styl laat nog heelwat te wense oor. Hy gebruik die as relatief; daar is 'n klompie anglisismes o.a. raar (Eng. rare) (p. 21); "om vir verlore kanse op te maak" (p. 72); "hy was ook gemeng met die affêres...." (p. 82). Die woordskikking is telkens verkeerd b.v.: "Met die vooruitsig (anglisisme) van 'n Hooglander het hy hom 'n massa kruit saamgebring en het dit die Republikeinse Goewernement aangeneem...." (p. 53).

§ 12. Ds. J.D. Kestell.

Ds. Kestell is 15 Des. 1854 gebore op Pieter-Maritzburg. In sy jeug is hy persoonlik met verskeie Voortrekkers in aanraking gewees. Hy vertel: "Sarel Cilliers het ek gesien in die huis van my vader, en later op sy eie plaas, Doringkloof. J.N. Boshoff het ek as kind op Pieter-Maritzburg geken. Marthinus Oosthuijse het ek dikwels ontmoet, en uit sy eie mond die geskiedenis van die Trek gehoor. Daniel Bezuidenhout het my self verhaal wat sy wedervaringe was."[32] Na sy teologiese opleiding op Stellenbosch het hy 'n jaar lank gestudeer aan die Utrechtse uniwersiteit. As predikant het hy gestaan op Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein. Daarna was hy redakteur van De Kerkbode en op die oomblik is hy rektor van die Grey-Uniwersiteits-Kollege.

Sy eerste geskrif was 'n toneelstuk oor Slagtersnek, The Struggle for Freedom. In sy studiejare het hy ook 'n Engelse roman oor dieselfde onderwerp geskryf. "Onse Jan" het dit vir Het Z.A. Tijdschrift vertaal. Uit het Afrikaansche Boerenleven (1897) is 'n bundel dorpsnovelles.[33] De Voortrekkers of Het Dagboek van Izak van der Merwe (1898) is in samewerking met Nico Hofmeyr geskryf, Johanna Cloete in 1899. Gedurende die Twede Vryheidsoorlog het Ds. Kestell Pres. Steyn en Genl. De Wet vergesel op hul togte en die stryd meegemaak tot die bitter einde toe. Na die vrede het verskyn: Met de Boerencommando's of Mijn Ervaringen als Veldprediker en De Vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit (1909), die laaste in samewerking met D.E. van Velden.

Sy skoonvader se biografie het Ds. Kestell in 1911 uitgegee onder die tietel Het Leven van Prof. N.J. Hofmeyr, die van Christiaan de Wet in 1920.[34]

Die Voortrekkers (1920) is 'n omwerking van 'n reeks voorlesings op Kimberley gegee. Ds. Kestell is lid van die S.A. Akademie, die Leidsche Maatschappij en die Historische Genootschap van Utrecht. Op kerklike en nasionale gebied is hy een van die volksleiers. Volgens die redakteur van Die Brandwag is hy "in baie opsigte vir ons die verpersoonliking van die beste wat daar in ons Afrikaanse volk woon."[35] Aan die redakteur het hy ook vertel "hoe dit hom spyt, dat hy in die ou dae nie deelgeneem het aan die stryd vir die regte vir Afrikaans nie." Hy is nou besig om al sy verhale in Afrikaans te vertaal.

Die Voortrekkers.

Dit is "'n kort geskiedverhaal", waarin die oorsake en die vernaamste gebeurtenisse in verband met die Groot Trek tot op 16 Desember 1838 beknop en helder uiteengeset word; 'n handige boekie vir iedereen wat die groot gang van die emigrasiebeweging wil begryp, sonder om daarvan eintlik 'n studie te maak. Van Gardiner en Owen word gesê: "Maar so bitter vyandig teen die Boere was hulle ook nie, dat hulle 'n barbaarse opperhoof kon aanhits tot 'n gruwelike bloedbad." (p. 76). Die bewyse vir die stelling ontbreek egter.

"Ek vertrou dat wat aan my werk iets wat op sigself staan sal gee is, dat ek persoonlik met eminente Voortrekkers in aanraking is gewees." (p. VI.) Gedeeltelik is dit waar, maar daar is tog geen figuur, wat so geteken is nie, dat ons na die lesing van die boekie voel, dat ook ons in persoonlike aanraking met 'n Voortrekker gewees is. Kestell mis die plastiese gawe wat vir so 'n uitbeelding nodig is. Hy verseker ons trouens self, dat dit onmoontlik is. "Onbeskryflik[36] was die aandoening in (Retief se) siel, toe hy staar op die land wat daar aan sy voet lê: Natal, met sy golwende berge en dale" (p. 60). Ook die beskrywing van Retief se eerste blik op Natal toon duidelik, dat Kestell geen woordkunstenaar is nie, wat deur die mag van sy skilderende woord 'n beeld kan laat lewe nie. "In die jonge groen van die vroeë lente was alles gedos.... Oral sien hy die veld met 'n ryke oorvloed bedek met[37] blomme van allerhande vorm en kleur en geur...." (p. 60). Ook die moord van Retief is "onbeskryflik" (p. 76), en in die Bloedrivierslag beleef die Trekkers "onbeskryflike ure" (p. 101). Of anders is die tonele weer "ontsettend, hartverskeurend" (p. 86), retoriese skrikmaak-frases, wat geen ontroering wek nie. In die eerste hoofstuk (§ 6) het ons al gesien, dat Kestell van die Hollandse kuns van na 1880 niks wil weet nie en in sy werk kom dan ook versteende beeldspraak soos die volgende voor: "onuitwisbar(e) littekens in die hart ... gebrand" (p. 8); "'n golf van onuitspreeklike smart" (C. de Wet, p. 64).

Die taal van Die Voortrekkers is erg onafrikaans. Die dubbele ontkenning word selde reg gebruik; die as relatief, hem en vorme soos die volgende is storend: Het is nie swaar ... (p. 15); die droewig pad (p. 103); Hulle het nie beter op die hoogte kon gewees het nie (p. 1);[38] geontbied (p. 71). Onbeholpe is die volgende: Dingaan (het) in sy stad in druk gesprek gesit praat met twee van sy vernaamste kapiteins (p. 78); Toe die dag breek kon dit beter gesien word om sig te verdedig. (p. 82.)

Christiaan de Wet.

In die eerste hoofstukke word 'n oorsig gegee van sy jeug en die moeilike jare wat op sy huwelik gevolg het. Op lewendige wyse word sy aandeel in die Transvaalse Vryheidsoorlog meegedeel. Nadat hy 'n tydlank veldkornet en volksraadslid gewees 't in die Transvaal, keer hy terug Vrystaat toe, waar hy ook gou op politieke gebied optree. "Sy breë kyk op sake" word veral geroem. Dan volg 'n historiese oorsig van die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot die Twede Vryheidsoorlog. De Wet gaan op kommando as gewone burger, maar word gou veggeneraal en na die oorgawe van Cronjé hoofkommandant. Met gebruikmaking van De Wet se oorlogsboek gee Kestell dan 'n oorsig van die vernaamste krygsgebeurtenisse. Die besoek van die Boere-generaals aan Europa word beskryf en ook Mevr. De Wet se ondervindings gedurende die oorlog. Onder die verantwoordelike bestuur word De Wet minister van landbou.

Die gebeurtenisse na 1914 is breedvoerig behandel. Hier gee die skrywer nie alleen 'n relaas van die uiterlike feite nie, maar hy toon duidelik aan wat daar in die siel van die generaal omgegaan 't en hoe sy besluit om te rebelleer geryp 't. Die laaste gedeelte van die biografie is die bes geslaagde, omdat ons daar werklik in aanraking kom met 'n persoonlikheid. De Wet se laaste veldtog, sy verhoor en gevangenislewe word op gevoelvolle wyse beskryf. Met verskeie historiese bylaes sluit die boek.

Op die gebrek aan sielkundige analiese maak die skrywer ons 'n enkele maal self weer opmerksaam: "Geen woorde kan beskryf wat daar op die oomblik deur die siel van C. de Wet gaan nie" (p. 84).[39] Die plastiese skildering is meestal geslaag, ofskoon die gemeenplaatse soms hinderlik word: "Daar kom generaal De Wet aangery van die voorpunt, en hy roep die burgers bymekaar. Hy bly sit op sy perd, en die burgers kom voor hom staan. Hy is woedend kwaad. Hy byt op sy tande. Deur sy tande kom die woorde sissend ... Daarna word hy kalmer, en eindelik haal hy sy hoed af. "Kom ons bid", sê hy. Wat 'n gebed was dit uit die mond van dié man, daar op die perd! Dit roer elkeen tot op die bodem van sy wese. Elkeen voel dat die hare op sy hoof rys...." (p. 68-9). Meer as een lewendige kommando-toneeltjie is treffend deur juiste tekening. Die begin van hoofstuk XIII is daarvan 'n mooi voorbeeld. Ook uit die generaal se jeug het die skrywer heelwat voorvalle opgeteken wat ons 'n goeie insig in sy persoonlikheid gee. De Wet se eie meedelings is op aangename wyse verwerk en munt uit deur aanskoulike voorstelling. Kestell het gesegdes van hom opgeteken, wat 'n kosbare bydrae is tot ons kennis van die groot heldefiguur, terwyl die na-oorlogse periode van sy loopbaan op treffende wyse verduidelik is.

Vergeleke met Die Voortrekkers is die meeste on-Afrikaanse wendings uit die styl verdwyn. Slegs selde stuit mens op 'n sin wat minder goed in mekaargeset is, soos die volgende: "As hierdie manifes nou gelees word, dan tref dit dadelik dat daarin uitdrukkinge voorkom soos dié nie sou verwag word as uit die pen van Beyers te gevloei het nie, maar wat dikwels van die lippe van De Wet geval het" (p. 202).[40]

§ 13. Dr. N.J. van der Merwe.

Hy is gebore in 1888 op Senekal, O.V.S. Aan die Grey-Kollege het hy in 1907 gegradueer met honneurs in moderne tale. Twee jaar lank was hy onderwyser in Fauresmith en daarna het hy teologie studeer aan die Stellenbosse Kweekskool, waar hy in 1911 ook die B.D. eksamen afgelê het. In 1914 was hy reisende sekretaris vir die C.S.V. en daarna predikant op Wepener. Sy teologiese studie het hy voortgeset aan die Vrye Uniwersiteit op Amsterdam, waar hy in 1921 gepromoveer het op 'n dissertasie Die Sosiale Prediking van Jesus Christus. Op die oomblik is hy predikant op Theunissen O.V.S. Hy is in 1916 gehuud met 'n dogter van President Steyn. Sy skoonvader se lewensbeskrywing Marthinus Theunis Steyn het in 1921 verskyn in twee dele.

Marthinus Theunis Steyn.

Die skrywer van 'n politieke biografie staan voor 'n groot moeilikheid wat deur Winston Churchill goed aangedui is in sy voorwoord by die lewe van Lord Randolph Churchill. "The style and ideas of the writer must throughout be subordinated to the necessity of embracing in the text those documentary proofs upon which the story depends. Letters, memoranda, and extracts from speeches, which inevitably and rightly interrupt the sequence of his narrative, must be pieced together upon some consistent and harmonius plan. It is not by the soft touches of a picture, but in hard mosaic or tessellated pavement, that a man's life and fortunes must be presented in all their reality and romance. I have thought it my duty, so far as possible, to assemble once and for all the whole body of historical evidence required for the understanding of Lord Randolph Churchill's career." Op dieselfde manier het Van der Merwe te werk gegaan. Die grootste gedeelte van sy biografie bestaan uit historiese dokumente, waaronder 'n uitgebreide diktaat van Pres. Steyn, briewe, redevoerings en offisiële stukke. Tereg verklaar hy dan ook in sy voorwoord: "Met die volle bewussyn dat daar in die voorliggende werk dikwels eenvoudig boustof gelewer word waar die leser miskien 'n gebou sou verwag, dog met die oortuiging dat dit onder die huidige omstandighede voorbarig sou wees om meer te doen...."[41]

John Morley het voor dieselfde probleem gestaan in sy Life of William Ewart Gladstone: "Where the subject is a man who was four times at the head of the government—no phantom, but dictator—and who held this office of first minister for a longer time than any other statesman in the reign of the Queen, how can we tell the story of his works and days without reference, and ample reference, to the course of events over whose unrolling he presided, and out of which he made history?... Assuredly I am not presumptuous enough to suppose that this difficulty of fixing the precise scale between history and biography has been successfully overcome by me. It may be that Hercules himself would have succeeded little better."[42]

Selfs by 'n gewone lewensbeskrywing het die biograaf al 'n moeilike taak. Hy moet 'n verslag gee van die uiterlike wederwaardighede van die persoon; maar hy moet ook sy intellektuele en geestelike groeiproses teken en die gestadige wisselwerking tussen die twee nooit uit die oog verloor nie. Is die onderwerp van die lewensbeskrywing so 'n buitengewone persoon soos Pres. Steyn, wat gedurende die periode 1896-1916 feitlik aan die hoof van die hele volk gestaan 't, dan word dit nog noodsaaklik om die geskiedenis van die nasie ook te vertel. Op die manier loop die biograaf gevaar om die eenheid van sy werk te verstoor, presies soos die skilder van 'n groot veldslag, wat probeer om àl die soldate van weerskante op sy doek in te druk. Die verstandige biograaf sal soveel moontlik aan die historikus oorlaat en dit het Van der Merwe dan ook meestal gedoen o.a. met die twede Vryheidsoorlog en die vredesonderhandelinge. Sulke gebeurtenisse behoort tot die terrein van die historikus. "To make some roughly effective summary of (such) doings, in the way of epitome or extract, will be all that can fairly come within the province of biography"[43]

Edmund Gosse het verklaar, dat dit 'n groot fout is om, wat genoem word Life and Times van 'n mens te probeer beskryf. "History deals with fragments of the vast roll of events; it must always begin abruptly and close in the middle of affairs; it must always deal, impartially, with a vast number of persons. Biography is a study sharply defined by two definite events, birth and death. It fills its canvas with one figure, and other characters, however great in themselves, must always be subsidiary to the central hero."[44]

Per slot van rekening bly dit 'n moeilikheid wat iedere biograaf op sy eie manier moet oplos. Dit verdien in elk geval die noukeurige oorweging van ons toekomstige lewensbeskrywers. Die lewensbeskrywing van Pres. Steyn sou m.i. aan eenheid gewin het, as daar 'n skeiding gemaak was tussen die historiese en biografiese gegewens. Die diktaat van die president, sy redevoerings en die offisiële dokumente kan gemaklik as historiese aanhangsel gegee word. Omdat dit alles in die teks van die biografie geskuif word, verloor ons telkens die persoonlikheid van die president uit die oog. By die behandeling van die Hertzog-kriesis (II, Hoofstuk XII), en die Rebellie (II, Hoofstuk XIII) is dit veral die geval. Hier word die lewensbeskrywing feitlik 'n offisiële blou-boek, 'n bronnepublikasie. Maar dit is dan ook van dié gebeurtenisse waarvan die skrywer in sy voorwoord sê: "Die rook trek nog uit meer as een brand ... en daarom word hier 'n poging aangewend om so objektief moontlik te wees; om die ipsissima verba van die verskillende persone wat op die toneel verskyn, letterlik weer te gee; en om alle kommentaar wat aan partygevoel kan toegeskrywe word, te vermy." (I, p. 11.) Waar dit sulke delikate kwessies geld, sou dit seker onbillik wees om nou al van die skrywer 'n samevattende oordeel te verwag. Maar as die rook eendag weggetrek 't is dit sy plig as biograaf om ons te laat voel wat daar in die siel van die groot staatsman omgegaan het in die tyd. Dan sal sy boek waarlik 'n lewensbeskrywing word, want ten spyte van die moeilikheid waarop Churchill sinspeel, bly dit tog waar dat 'n versameling briewe, dokumente en redevoerings nog geen biografie uitmaak nie, al word dit ook hoe netjies gerangskik. Die volgende bewering bevat ongetwyfeld veel wat juis is: "A correspondence worth preserving should be preserved apart. What the true biographer has to do with it is to use it. The more he can extract of its purport; the more he can absorb of its spirit; the better will be his book. The more he thrusts it in bodily—how admirable so ever in itself—the more will his book be a thing of shreds and patches. To depict worthily and enduringly any human life really deserving to be depicted, is a task which was never yet achieved without a strain on all the faculty the writer could upgather for the occasion. That fact should suffice, one imagines, to convince a man that letter-copying can go but a little way. Any penman can transcribe letters—or without even inking his fingers—can put them together, scissors-and-paste fashion, much quicker than any printer can put them into type."[45]

Van der Merwe het dikwels die skêr-en-lympot-metode toegepas, soms uit noodsaak, soos in die laaste gedeelte van sy werk, maar gelukkig het hy ons ook nader gebring tot die mens in Pres. Steyn. In die eerste ses hoofstukke slaag hy daar uitstekend in om 'n duidelike beeld te gee van Steyn as kind, boereseun, student, regsgeleerde en staatshoof. Met groot liefde het hy alle beskikbare gegewens so verwerk, dat selfs iemand wat die president nooit geken 't nie, die man vlak voor hom sien staan. Hier spreek die biografie nie alleen tot ons verstand nie, maar ook tot ons hart; hier is die warm tinteling van 'n aanraking tussen mens en mens, die intiem-gesellige sfeer en nie alleen die bloot serimoniële "kennismaking" tussen wildvreemdes nie.

Alleen teen een opmerking het ons 'n bedenking: "Talryke staaltjies word vertel van Steyn se jowiale natuur as student en sy hartlike verkeer met sy Nederlandse vriende. Dit is egter nie nodig om die leser met hierdie studentegrappies langer op te hou nie. Die lewe van elke gesonde en vrolike student, soos Steyn was, is daar vol van" (I, p. 36). Dit kan ons alleen betreur, want Plutarchus merk tereg op in sy Alexander: Οὔτε ταῖς ἐπιφανεστάταις πράξεσι πάντως ἔνεστι δήλωσις ἀρετῆς ἢ κακίας ἀλλὰ πρᾶγμα βραχὺ πολλάκις, καὶ ῥῆμα, καὶ παιδιά τις ἔμφασιν ἤθους ἐποίησεν μᾶλλον ἢ μάχαι μυριόνεκροι, παρατάξεις αἱ μέγισται, καὶ πολιορκία πόλεων. [46] Samuel Johnson het ook 'n juiste opmerking gemaak. Sommige biograwe, sê hy, "rarely afford any other account than might be collected from public papers, but imagine themselves writing a life, when they exhibit a chronological series of actions or preferments; and have so little regard to the manners or behaviour of their heroes, that more knowledge may be gained of a man's real character by a short conversation with one of his servants, than from a formal and studied narrative begun with his pedigree and ended with his funeral."[47] Wanneer die skrywer sy boustof omwerk tot 'n gebou, verdien die gekursiveerde woorde seker nader oorweging.

In die volgende hoofstukke word die onderhandelinge, wat gelei 't tot die nouer vereniging van die twee republieke beskryf. Dan volg die diktaat van President Steyn waarin die staatkundige gebeurtenisse vanaf 1896-1899 uiteengeset word. Vervolgens gee die skrywer 'n gedokumenteerde verslag van die onderhandelinge wat aan die oorlogsverklaring voorafgegaan 't. "Die tak, geduld sowel as staatsmansbeleid en beslistheid van die Vrystaatse President word daardeur duidelik geopenbaar" (I, p. 235). "Hoewel hy ook lank reeds aan vrede gewanhoop het, was hy egter beslis om nie na die wapen te gryp nie voor hy met 'n rein gewete sy volk kon verseker dat elke moontlike middel te baat geneem was om die onheil af te keer" (I, p. 246). Die President se houding blyk duidelik uit sy antwoord aan 'n paar offisiere wat gesê 't: "Laat ons maar veg": "Ek stem nie toe tot oorlog 'n minuut voor dit nie anders kan nie, maar weet dit, as ek die dag sê "Oorlog", dan moet julle nie met my van vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot die bitter einde" (I, p. 273). Manlike woorde van een, wat ook met dade bewys 't, dat hy tot die grootste van die Bittereinders behoort! Hoe graag sou ons meer wil weet van die "sieleworsteling" daar in die eensame veld, op 'n stille sabbatsmore, 8 Oktober 1899—net voor die versending van die ultimatum. (I, p. 275.) Maar dit is een van die dramatiese momente wat die biograaf net vir ons aanstip. Wanneer Steyn, gebroke in die liggaam, maar onverwinlik in die gees afskeid neem van sy getroue by Vereniging, dan sê Van der Merwe ook: "Geen pen kan dit ooit beskryf nie" (II, p. 51). En as die sterke man, gedeeltelik herstel terugkeer na sy geannekseerde vaderland, dan roep die skrywer weer uit: "Wat dié middag deur die hart van die Vrystaters by Kaalspruit-stasie (naby Onzerust) gegaan het, sal geen pen ooit beskrywe nie" (II, p. 148). Maar sulke verklarings help ons nie om die tragiek van Steyn en sy volk se lyding te begryp nie. Hier moet die kunstenaar-biograaf deur die skoonheid van sy beeldende woord, deur die innigheid van sy weergawe ons ontroer, hier kan hy nie volstaan met 'n blote vermelding van feite nie!

In die twede deel word Steyn as "die siel van die vryheidstryd" geteken. "Om sy ware grootheid te leer ken, moes 'n mens hom egter in sy daaglikse handel en wandel onder sy offisiere en burgers sien" (II, p. 34). Hier word Van der Merwe in waarheid weer lewens-beskrywer, want uit die kommando-anekdotes leer ons Steyn as mens veel beter ken as uit sy offisiële depêches. Sou "die half-barbaarse gesegdes van Ruiter" (II, p. 37) wat ons weerhou word, "uit vrees dat die leser wat Ruiter nie geken het nie" dit "wat ru en plat sal vind", sou dit nie die realiteit van die skildering verhoog 't nie? Hier geld Plutarchus en Johnson se opmerkings weer.

In die volgende hoofstuk is die president weer self aan die woord en vertel hy van die "poginge tot vrede". Mev. Steyn se oorlogservarings en haar ontmoeting met die president na die vrede, hulle vertrek na Europa om herstel van gesondheid te soek word dan beskryf. Onder die geneeskundige behandeling van prof. Winkler kom die langsame herwinning van lewenskragte en eindelik keer die volksheld weer tot sy vaderland terug. Die beskrywing van die lewe op Onzerust is goed geslaag, en op treffende wyse word Steyn, as "volksiener en raadsman" geteken. Sy bemoeiings om selfregering en die vereniging van die verskillende state te verkry is die onderwerp van die volgende hoofstukke. Wanneer die politieke verdeeldheid na die totstandkoming van die Unie begint, is Pres. Steyn weer die raadsman van al die leiers. "Die enigste plek waar al die partye so nou en dan in die gesonde lug van vertroue kom asem skep het, was daardie boerplasie op die vlaktes van Kaalspruit. Almal het daar hulle hart kom lug. Niemand het tevergeefs na Onzerust gekom nie. Soos 'n vader innig besorg oor dreigende onenigheid onder sy kinders, het President Steyn alles in sy vermoë gedoen om vrede en eenheid te bewaar" (II, p. 242).

Die onderhandelinge tydens die Hertzogkriesis en die rebellie word in extenso afgedruk. Daar is ook 'n uiteensetting van die president self oor sy houding tydens laasgenoemde gebeurtenis. In die slothoofstuk word die laaste dae van die president, sy begrafnis en die roudienste beskryf.

In sy voorwoord het die skrywer die hoop uitgedruk, dat sy arbeid "iets sal bydra om die inspirasie van president Steyn se lewe vir die Volk te bewaar en lig te werp op 'n seer belangrike deel van ons volksgeskiedenis...." (p. VII). Dié doel sal hy ongetwyfeld bereik, nie alleen omdat sy stof van soveel nasionale belang is nie, maar ook omdat sy lewensbeskrywing uitmunt deur 'n helder, goedversorgde styl.

§ 14. Mevr. Lenie Boshoff-Liebenberg.

Moedersmart en Kinderleed, (1921).

"Dis van die grootste belang dat persoonlike ondervindinge, soos hierdie in verband met die lewe in die Konsentrasiekampe, vir die nageslagte bewaard bly. Dis almal kosbare materiaal vir die toekomstige skrywers wat ernstige werk sal maak van ons geskiedenis en ons volk se geaardheid noukeurig sal bestudeer." Aldus Jan Celliers in sy voorwoord, en daarmee het hy die waarde van die boekie goed aangedui. Die skryfster het agtien maande in die konsentrasiekampe gesit en deel haar ervarings op ongekunstelde wyse, sonder enige literêre pretensies mee. Sy praat so reg uit haar hart oor die dae van bitter swaarkry en ons luister met ontroerde gemoed.... In algemene trekke ken ons die lydensgeskiedenis van die kampe, maar dis juis die persoonlike element van herinneringe soos die van Mevr. Boshoff wat daar 'n inniger lewe aan sal gee vir die nageslag. Daar is ander vroue wat hul ondervindings ook te boek gestel 't, en dis 'n voorbeeld wat navolging verdien, want daar gaat nog meer as een vertelling uit dié tyd van mond tot mond, wat vir ons geskiedenis nie mag verlore gaan nie.

Die twede gedeelte van Moedersmart en Kinderleed bevat "herinneringe uit die laaste oorlog", o.a. 'n verhaal van 'n huisgesin verwoes deur drank", wat oor die algemeen minder geslaag is as die eerste gedeelte.

"Alles hierin meegedeel is die waarheid en niks minder dan die waarheid," verklaar die skryfster. Dit verhoog die waarde van die meedelings, wat dus van historiese belang is en ons ook 'n merkwaardige kyk gee op die lyding van die Boerevrou en die heroïese wyse waarop sy dit gedra 't.

VOETNOTAS

  1. Vgl. Dr. L. v. Niekerk: De Eerste Afr.-Taalbeweging1, p. 18 vlg.
  2. t.a.p., p. VII (10de druk).
  3. Vgl. Hoofstuk I, § 9.
  4. Piet Retief, p. 351.
  5. Vgl. Hoofstuk II en III.
  6. Voorwoord, 7de druk.
  7. Die Brandwag, Des. 1918.
  8. In 1922 het Voortrekkermense III verskyn. Dit bevat dertien geskiedkundige dokumente.
  9. Oor die taal van Preller kan vergelyk word: Dr. E.C. Pienaar, Taal en Poësie2, (p. 146-151).
  10. Vgl. b.v. die aangehaalde voorbeelde uit Kaptein Hindon.
  11. Oorspronklik verskyn in die Jaarboek van Het Westen(1909), later in Die Burger-Nuwejaarsnommer (1922).
  12. In Hoofstuk V, § 17, is 'n lewensskets al gegee.
  13. So staan die saamgestelde woorde deur die hele boek los van mekaar.
  14. Hiermee moet vergelyk word 'n soortgelyke toneel van F. Lion Cachet.
  15. Sitate volgens 2de druk (1917).
  16. Gedeeltelik ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.
  17. Vir 'n lewensskets kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2 ens., p. 256 vlg.
  18. Freeholder, No. 35.
  19. Rambler, No. 60.
  20. So 'n bewering is beslis onjuis, as ons onthou dat die tietels van Ds. S.J. du Toit se boeke sewe paginas in beslag neem! (p. 426-432). Daaruit moet tog 'n volkome beeld van die man se inwendige lewe op te diep wees.
  21. Ek kursiveer.
  22. Rev. Thomas Davidson: Chambers's Encyclopaedia in die artiekel "Biography".
  23. 'n Werk van dieselfde geaardheid het onlangs verskyn: Die Afrikaanse Vrou, "'n Beknopte oorsig van die rol wat die vrou in die Geskiedenis van S.A. gespeel het in die 350 jaar tussen 1568 en 1918" deur Eric Stockenström.
  24. Voorberig.
  25. Vgl. Dr. G. Besselaar: Z.A. in de Letterkunde, p. 80.
  26. Lewensskets ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.
  27. p. 228. Ek kursiveer.
  28. Vgl. ook p. 130.
  29. Die tipografiese uitvoering van die boek laat veel te wense oor.
  30. Ek kursiveer.
  31. Ook deur Preller in Baanbrekers beskryf.
  32. Voorberig, Die Voortrekkers2.
  33. Oor Kestell se Hollandse werk kan vergelyk word Dr. G. Besselaar: Z.A. in de Letterkunde.
  34. In 1922 het die twede uitgebreide druk van Christiaan de Wet verskyn, te laat egter om hier nog bespreek te word. Die sitate is volgens die eerste druk.
  35. Des. 1918
  36. Kursivering van my.
  37. Kursivering van my.
  38. Vgl. hiermee: "Hulle was te ver vooruit, anders het hy 'n grote voorraad ammuniesie kan opgelaai het wat op die trein was." (C. de Wet, p. 82.)
  39. Vgl. ook p. 61, 143.
  40. Vgl. ook op p. 215 die sin wat so begint: "Hierop het Smuts aan hom meegedeel...."
  41. p. VII. Ek kursiveer.
  42. t.a.p. vol. I, p. 1-2.
  43. Vgl. Edwards and Hole: A Handbook to the Literature of General Biography, p. 13-22.
  44. Encyclopaedia Britannica, in die artiekel: Biography.
  45. Edwards and Hole, t.a.p., p. 24-5.
  46. Gesiteer deur James Boswell in sy Life of Samuel Johnson. Hy gee daarby die volgende vertaling van Langhorne: Nor is it always in the most distinguished achievements that men's virtues or vices may be best discerned; but very often an action of small note, a short saying, or a jest, shall distinguish a person's real character more than the greatest sieges, or the most important battles." Uitgawe Napier, I, p. 6.
  47. Rambler, No. 60.