Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Bylae 6

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996)
Bylae 6: Funksionele Gebiede van Konkurrente Nasionale en Provinsiale Wetgewende Bevoegdheid
291457Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika — Bylae 6: Funksionele Gebiede van Konkurrente Nasionale en Provinsiale Wetgewende Bevoegdheid1996

[Bylae 6 gewysig by a. 3 van die Eerste Wysigingswet op die Grondwet van 1997, by a. 5(a) van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998 en by a. 20 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

1. Woordomskrywing
In hierdie Bylae, tensy uit die samehang anders blyk, beteken–

“nuwe Grondwet” die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996;

“oubedeling-wetgewing” wetgewing verorden voordat die vorige Grondwet in werking getree het;

“tuisland” ʼn deel van die Republiek waarmee, voordat die vorige Grondwet in werking getree het, in Suid-Afrikaanse wetgewing gehandel is as ʼn onafhanklike of selfregerende gebied;

“vorige Grondwet” die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet 200 van 1993).

2. Voortbestaan van bestaande regsvoorskrifte
1. Alle regsvoorskrifte wat van krag was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, bly van krag behoudens–
a. enige wysiging of herroeping; en
b. bestaanbaarheid met die nuwe Grondwet.
2. Oubedeling-wetgewing wat ingevolge subitem (1) van krag bly–
a. het nie ʼn wyer toepassing, hetsy gebiedsgewys of andersins, as wat dit gehad het voordat die vorige Grondwet in werking getree het nie, tensy dit daarna gewysig is om ʼn wyer toepassing te hê; en
b. word, behoudens die nuwe Grondwet, steeds geadministreer deur die gesag wat dit geadministreer het toe die nuwe Grondwet in werking getree het.

3. Uitleg van bestaande wetgewing
1. Tensy dit onbestaanbaar met die konteks of duidelik onvanpas is, word ʼn verwysing in enige wetgewing wat bestaan het toe die nuwe Grondwet in werking getree het–
a. na die Republiek van Suid-Afrika of ʼn tuisland (behalwe wanneer dit na ʼn grondgebied verwys), uitgelê as ʼn verwysing na die Republiek van Suid-Afrika kragtens die nuwe Grondwet;
b. na die Parlement, die Nasionale Vergadering of die Senaat, uitgelê as ʼn verwysing na die Parlement, die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van Provinsies kragtens die nuwe Grondwet;
c. na die President, ʼn Uitvoerende Adjunkpresident, ʼn Minister, ʼn Adjunkminister of die Kabinet, behoudens item 9 van hierdie Bylae uitgelê as ʼn verwysing na die President, die Adjunkpresident, ʼn Minister, ʼn Adjunkminister of die Kabinet kragtens die nuwe Grondwet;
d. na die President van die Senaat, uitgelê as ʼn verwysing na die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies;
e. na ʼn provinsiale wetgewer, Premier, Uitvoerende Raad of lid van ʼn Uitvoerende Raad van ʼn provinsie, behoudens item 12 van hierdie Bylae uitgelê as ʼn verwysing na ʼn provinsiale wetgewer, Premier, Uitvoerende Raad of lid van ʼn Uitvoerende Raad kragtens die nuwe Grondwet; of
f. na ʼn amptelike taal of tale, uitgelê as ʼn verwysing na enige van die amptelike tale kragtens die nuwe Grondwet.
2. Tensy dit onbestaanbaar met die konteks of duidelik onvanpas is, word ʼn verwysing in enige oorblywende oubedeling-wetgewing–
a. na ʼn Parlement, ʼn Huis van ʼn Parlement of ʼn wetgewende vergadering of liggaam van die Republiek of van ʼn tuisland, uitgelê as ʼn verwysing na–
i. die Parlement kragtens die nuwe Grondwet, indien die administrasie van daardie wetgewing ingevolge die vorige Grondwet of hierdie Bylae aan die nasionale uitvoerende gesag toegewys of opgedra is; of
ii. die provinsiale wetgewer van ʼn provinsie, indien die administrasie van daardie wetgewing ingevolge die vorige Grondwet of hierdie Bylae aan ʼn provinsiale uitvoerende gesag toegewys of opgedra is; of
2. na ʼn Staatspresident, Hoofminister, Administrateur of ander hoof-uitvoerende beampte, Kabinet, Ministersraad of uitvoerende raad van die Republiek of van ʼn tuisland, uitgelê as ʼn verwysing na–
i. die President kragtens die nuwe Grondwet, indien die administrasie van daardie wetgewing ingevolge die vorige Grondwet of hierdie Bylae aan die nasionale uitvoerende gesag toegewys of opgedra is; of
ii. die Premier van ʼn provinsie kragtens die nuwe Grondwet, indien die administrasie van daardie wetgewing ingevolge die vorige Grondwet of hierdie Bylae aan ʼn provinsiale uitvoerende gesag toegewys of opgedra is.

4. Nasionale Vergadering
1. Enigiemand wat ʼn lid of ampsdraer van die Nasionale Vergadering was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, word ʼn lid of ampsdraer van die Nasionale Vergadering kragtens die nuwe Grondwet, en beklee die amp as lid of ampsdraer ingevolge die nuwe Grondwet.
2. Die Nasionale Vergadering soos ingevolge subitem (1) saamgestel, word beskou as verkies te wees kragtens die nuwe Grondwet vir ʼn termyn wat op 30 April 1999 verstryk.
3. Vir die duur van die Nasionale Vergadering se termyn wat behoudens artikel 49(4) van die nuwe Grondwet op 30 April 1999 verstryk, bestaan die Vergadering uit 400 lede.
4. Die reëls en orders van die Nasionale Vergadering wat van krag was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, bly van krag behoudens enige wysiging of herroeping.

5. Onafgehandelde werk voor Parlement
1. Daar word met enige onafgehandelde werk voor die Nasionale Vergadering wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, ingevolge die nuwe Grondwet voortgegaan.
2. Enige onafgehandelde werk voor die Senaat wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, moet na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word, en die Raad moet ingevolge die nuwe Grondwet met daardie werk voortgaan.

6. Verkiesing van Nasionale Vergadering
1. Geen verkiesing van die Nasionale Vergadering mag voor 30 April 1999 gehou word nie tensy die Vergadering ontbind word ingevolge artikel 50(2) na ʼn voorstel van wantroue in die President ingevolge artikel 102(2) van die nuwe Grondwet.
2. Artikel 50(1) van die nuwe Grondwet word opgeskort tot 30 April 1999.
3. Ondanks die herroeping van die vorige Grondwet, is Bylae 2 by daardie Grondwet, soos gewysig deur Aanhangsel A by hierdie Bylae, van toepassing–
a. op die eerste verkiesing van die Nasionale Vergadering kragtens die nuwe Grondwet;
b, op die verlies van lidmaatskap van die Vergadering in ander omstandighede as dié waarvoor in artikel 47(3) van die nuwe Grondwet voorsiening gemaak word; en
c. op die vul van vakatures in die Vergadering, en die aanvulling, hersiening en aanwending van partylyste vir die vul van vakatures, tot die tweede verkiesing van die Vergadering kragtens die nuwe Grondwet.
4. Artikel 47(4) van die nuwe Grondwet word opgeskort tot die tweede verkiesing van die Nasionale Vergadering kragtens die nuwe Grondwet.

7. Nasionale Raad van Provinsies
1. Vir die tydperk wat eindig onmiddellik voor die eerste sitting van ʼn provinsiale wetgewer gehou na sy eerste verkiesing kragtens die nuwe Grondwet–
a. moet die verhouding van partyverteenwoordiging in die provinsie se afvaardiging na die Nasionale Raad van Provinsies dieselfde wees as die verhouding waarin die provinsie se tien senatore ingevolge artikel 48 van die vorige Grondwet benoem is; en
b. is die toekenning van vaste afgevaardigdes en spesiale afgevaardigdes aan die partye wat in die provinsiale wetgewer verteenwoordig is, soos volg:

Provinsie
Vaste Afgevaardigdes
Spesiale Afgevaardigdes
1. Oos-Kaap
ANC 5, NP 1
ANC 4
2. Vrystaat
ANC 4, FF 1, NP 1
ANC 4
3. Gauteng
ANC 3, DP 1, FF 1, NP 1
ANC 3, NP 1
4. KwaZulu-Natal
ANC 1, DP 1, IFP 3, NP 1
ANC 2, IFP 2
5. Mpumalanga
ANC 4, FF 1, NP 1
ANC 4
6. Noord-Kaap
ANC 3, FF 1, NP 2
ANC 2, NP 2
7. Limpopo
ANC 6
ANC 4
8. Noordwes
ANC 4, FF 1, NP 1
ANC 4
9. Wes-Kaap
ANC 2, DP 1, NP 3
ANC 1, NP 3


2. ‘n Party wat in ʼn provinsiale wetgewer verteenwoordig is–
a. moet sy vaste afgevaardigdes benoem uit die persone wat senatore was toe die nuwe Grondwet in werking getree het en wat beskikbaar is om as vaste afgevaardigdes te dien; en
b. kan ander persone as vaste afgevaardigdes benoem slegs indien daar geen of ʼn onvoldoende getal van sy voormalige senatore beskikbaar is.
3. ‘n Provinsiale wetgewer moet sy vaste afgevaardigdes ooreenkomstig die benoemings van die partye aanstel.
Subitems (2) en (3) is van toepassing slegs op die eerste aanstelling van vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies.
4. Artikel 62(1) van die nuwe Grondwet is nie van toepassing op die benoeming en aanstelling van voormalige senatore as vaste afgevaardigdes ingevolge hierdie item nie.
5. Die reëls en orders van die Senaat wat van krag was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, moet ten opsigte van die werk van die Nasionale Raad toegepas word in die mate waarin dit toegepas kan word, behoudens enige wysiging of herroeping.

8. Voormalige senatore
1. ‘n Voormalige senator wat nie as ʼn vaste afgevaardigde na die Nasionale Raad van Provinsies aangestel word nie, is geregtig om ʼn ten volle stemgeregtigde lid te word van die wetgewer van die provinsie waaruit daardie persoon ingevolge artikel 48 van die vorige Grondwet as ʼn senator benoem is.
2. Indien ʼn voormalige senator kies om nie ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer te word nie, word daar beskou dat daardie persoon as senator bedank het op die dag voordat die nuwe Grondwet in werking getree het.
3. Die salaris, toelaes en voordele van ʼn voormalige senator wat as ʼn vaste afgevaardigde of as ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer aangestel is, mag nie slegs vanweë daardie aanstelling verminder word nie.

9. Nasionale uitvoerende gesag
1. Enigiemand wat kragtens die vorige Grondwet die President, ʼn Uitvoerende Adjunkpresident, ʼn Minister of ʼn Adjunkminister was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, bly aan in en beklee daardie amp ingevolge die nuwe Grondwet, maar behoudens subitem (2).
2. Tot 30 April 1999 word artikels 84, 89, 90, 91, 93 en 96 van die nuwe Grondwet geag te lui soos in Aanhangsel B by hierdie Bylae uiteengesit.
3. Subitem (2) belet nie ʼn Minister wat ʼn senator was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, om aan te bly nie as ʼn Minister genoem in artikel 91(1)(a) van die nuwe Grondwet, soos dié artikel in Aanhangsel B lui.

10. Provinsiale wetgewers
1. Enigiemand wat ʼn lid of ampsdraer van ʼn provinsie se wetgewer was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, word ʼn lid of ampsdraer van die wetgewer vir daardie provinsie kragtens die nuwe Grondwet, en beklee die amp van lid of ampsdraer ingevolge die nuwe Grondwet en ʼn provinsiale grondwet wat verorden mag word.
2. ʼn Provinsiale wetgewer soos ingevolge subitem (1) saamgestel, word beskou as kragtens die nuwe Grondwet verkies te wees vir ʼn termyn wat op 30 April 1999 verstryk.
3. Vir die duur van sy termyn wat op 30 April 1999 verstryk, en behoudens artikel 108(4), bestaan ʼn provinsiale wetgewer uit die getal lede kragtens die vorige Grondwet vir daardie wetgewer bepaal sowel as die getal voormalige senatore wat ingevolge item 8 van hierdie Bylae lede van die wetgewer geword het.
4. Die reëls en orders van ʼn provinsiale wetgewer wat van krag was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, bly van krag behoudens enige wysiging of herroeping.

11. Verkiesing van provinsiale wetgewers
1. Ondanks die herroeping van die vorige Grondwet, is Bylae 2 by daardie Grondwet, soos gewysig deur Aanhangsel A by hierdie Bylae, van toepassing–
a. op die eerste verkiesing van ʼn provinsiale wetgewer kragtens die nuwe Grondwet;
b. op die verlies van lidmaatskap van ʼn wetgewer in ander omstandighede as dié waarvoor in artikel 106(3) van die nuwe Grondwet voorsiening gemaak word; en
c. op die vul van vakatures in ʼn wetgewer, en die aanvulling, hersiening en aanwending van partylyste vir die vul van vakatures, tot die tweede verkiesing van die wetgewer kragtens die nuwe Grondwet.
2. Artikel 106(4) van die nuwe Grondwet word ten opsigte van ʼn provinsiale wetgewer opgeskort tot die tweede verkiesing van die wetgewer kragtens die nuwe Grondwet.

12. Provinsiale uitvoerende gesagte
1. Enigiemand wat die Premier of ʼn lid van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie was toe die nuwe Grondwet in werking getree het, bly aan in en beklee daardie amp ingevolge die nuwe Grondwet en ʼn provinsiale grondwet wat verorden mag word, maar behoudens subitem (2).
2. Totdat die Premier wat na die eerste verkiesing van ʼn provinsie se wetgewer kragtens die nuwe Grondwet verkies word, die amp aanvaar, of die provinsie sy grondwet verorden, wat ook al eerste plaasvind, word artikels 132 en 136 van die nuwe Grondwet geag te lui soos in Aanhangsel C by hierdie Bylae uiteengesit.

13. Provinsiale grondwette
‘n Provinsiale grondwet wat aangeneem is voordat die nuwe Grondwet in werking getree het, moet aan artikel 143 van die nuwe Grondwet voldoen.

14. Opdra van wetgewing aan provinsies
1. Wetgewing met betrekking tot ʼn aangeleentheid binne ʼn funksionele gebied in Bylae 4 of 5 by die nuwe Grondwet vermeld en wat, toe die nuwe Grondwet in werking getree het, deur ʼn gesag binne die nasionale uitvoerende gesag geadministreer is, kan deur die President by proklamasie opgedra word aan ʼn gesag binne ʼn provinsiale uitvoerende gesag wat deur die Uitvoerende Raad van die provinsie aangewys word.
2. In die mate waarin dit vir die doeltreffende uitvoering van ʼn opdrag van wetgewing kragtens subitem (1) nodig is, kan die President by proklamasie–
a. die wetgewing wysig of aanpas om die uitleg of toepassing daarvan te reël;
b. waar die opdrag nie op ʼn stuk wetgewing as geheel van toepassing is nie, dié bepalings daarvan waarop die opdrag van toepassing is of in die mate waarin die opdrag daarop van toepassing is, met of sonder enige wysigings of aanpassings in paragraaf (a) bedoel, herroep en herverorden; of
c. enige ander aangeleentheid reël wat as gevolg van die opdrag nodig is, met inbegrip van die oorplasing of afstaan van personeel, of die oordrag van bates, laste, regte en verpligtinge na of van die nasionale of ʼn provinsiale uitvoerende gesag of ʼn staatsdepartement, administrasie, veiligheidsdiens of ander instelling.
3. a. ʼn Afskrif van elke proklamasie wat ingevolge subitem (1) of (2) uitgereik is, moet binne tien dae na die publisering van die proklamasie aan die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê word.
b. Indien sowel die Nasionale Vergadering as die Nasionale Raad die proklamasie of ʼn bepaling daarvan by besluit afkeur, verval die proklamasie of bepaling, maar dit raak nie–
i. die geldigheid van enigiets wat ingevolge die proklamasie of bepaling gedoen is voordat dit verval het nie; of
ii. ʼn reg of voorreg verkry of ʼn verpligting of aanspreeklikheid opgeloop voordat dit verval het nie.
4. Wanneer wetgewing kragtens subitem (1) opgedra word, word ʼn verwysing in die wetgewing na ʼn gesag wat dit administreer, uitgelê as ʼn verwysing na die gesag aan wie dit opgedra is.
5. ʼn Opdrag van wetgewing kragtens artikel 235(8) van die vorige Grondwet, met inbegrip van ʼn wysiging, aanpassing of herroeping en herverordening van enige wetgewing en enige ander stappe wat kragtens daardie artikel gedoen is, word beskou as kragtens hierdie item gedoen te wees.

15. Bestaande wetgewing buite die Parlement se wetgewende bevoegdheid
1. ‘n Gesag binne die nasionale uitvoerende gesag wat, wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, enige wetgewing administreer wat buite die Parlement se wetgewende bevoegdheid val, bly bevoeg om daardie wetgewing te administreer totdat dit ingevolge item 14 van hierdie Bylae aan ʼn gesag binne ʼn provinsiale uitvoerende gesag opgedra word.
2. Subitem (1) verval twee jaar nadat die nuwe Grondwet in werking getree het.

16. Howe
Elke hof, met inbegrip van howe van tradisionele leiers, wat bestaan het toe die nuwe Grondwet in werking getree het, gaan voort om te funksioneer en om jurisdiksie uit te oefen ingevolge die wetgewing wat daarop van toepassing is, en enigiemand wat die amp van regterlike beampte beklee, gaan voort om die amp te beklee ingevolge die wetgewing wat op daardie amp van toepassing is, behoudens–
a. enige wysiging of herroeping van daardie wetgewing; en
b. bestaanbaarheid met die nuwe Grondwet.
2. a. Die Konstitusionele Hof wat deur die vorige Grondwet ingestel is, word die Konstitusionele Hof kragtens die nuwe Grondwet.
b. ……

[Par. (b) geskrap by a. 20(a) van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

3. a. Die Appèlafdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika word die Hoogste Hof van Appèl kragtens die nuwe Grondwet.
b. ……

[Par. (b) geskrap by a. 20(a) van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

3. a. ‘n Provinsiale of plaaslike afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika of ʼn hooggeregshof van ʼn tuisland of ʼn algemene afdeling van so ʼn hof, word ʼn Hoë Hof kragtens die nuwe Grondwet sonder verandering van sy regsgebied, behoudens enige rasionalisering in subitem (6) beoog.
b. Enigiemand wat die amp van Regter-president, Adjunk-regter-president of regter van ʼn hof in paragraaf (a) genoem, beklee of geag word dit te beklee wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, word die Regter-president, die Adjunk-regter-president of ʼn regter van so ʼn hof kragtens die nuwe Grondwet, behoudens enige rasionalisering in subitem (6) beoog.
5. Tensy dit onbestaanbaar met die konteks of duidelik onvanpas is, word ʼn verwysing in enige wetgewing of proses na–
a. die Konstitusionele Hof kragtens die vorige Grondwet, uitgelê as ʼn verwysing na die Konstitusionele Hof kragtens die nuwe Grondwet;
b. die Appèlafdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, uitgelê as ʼn verwysing na die Hoogste Hof van Appèl; en
c. ʼn provinsiale of plaaslike afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika of ʼn hooggeregshof van ʼn tuisland of algemene afdeling van so ʼn hof, uitgelê as ʼn verwysing na ʼn Hoë Hof.
6. a. Sodra dit doenlik is nadat die nuwe Grondwet in werking getree het, moet alle howe, ook hulle struktuur, samestelling, funksionering en jurisdiksie, en alle tersaaklike wetgewing, gerasionaliseer word met die oog daarop om ʼn regstelsel in te stel wat aan die voorskrifte van die nuwe Grondwet voldoen.
b. Die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is, handelende na oorleg met die Regterlike Dienskommissie, moet die rasionalisering beoog in paragraaf (a), bestuur.
7. a. Enige persoon wat, wanneer die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001 in werking tree, die amp beklee van–
i. die President van die Konstitusionele Hof, word die Hoofregter soos beoog in artikel 167(1) van die nuwe Grondwet;
ii. die Adjunkpresident van die Konstitusionele Hof, word die Adjunkhoofregter soos beoog in artikel 167(1) van die nuwe Grondwet;
iii. die Hoofregter, word die President van die Hoogste Hof van Appèl soos beoog in artikel 168(1) van die nuwe Grondwet; en
iv. die Adjunkhoofregter, word die Adjunkpresident van die Hoogste Hof van Appèl soos beoog in artikel 168(1) van die nuwe Grondwet.
b. Alle reëls, regulasies of voorskrifte deur die President van die Konstitusionele Hof of die Hoofregter uitgevaardig wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001 van krag was, bly van krag totdat dit herroep of gewysig word.
c. Tensy dit onbestaanbaar met die konteks of duidelik onvanpas is, word ʼn verwysing in enige wet of prosesstuk na die Hoofregter of die President van die Konstitusionele Hof uitgelê as ʼn verwysing na die Hoofregter soos in artikel 167(1) van die nuwe Grondwet beoog.

[Subitem (7) bygevoeg by a. 20(b) van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

17. Sake hangende voor howe
Alle verrigtinge wat voor ʼn hof hangende is wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, moet afgehandel word asof die nuwe Grondwet nie verorden is nie, tensy die belang van geregtigheid anders vereis.

18. Vervolgingsgesag
1. Artikel 108 van die vorige Grondwet bly van krag totdat die Parlementswet beoog in artikel 179 van die nuwe Grondwet in werking tree. Hierdie subitem raak nie die aanstelling van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings ingevolge artikel 179 nie.
2. ‘n Prokureur-generaal wat die amp beklee wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, bly funksioneer ingevolge die wetgewing wat op daardie amp van toepassing is, behoudens subitem (1).

19. Ede en plegtige verklarings
‘n Persoon wat ingevolge hierdie Bylae in ʼn amp aanbly en wat kragtens die vorige Grondwet ʼn ampseed of ʼn plegtige verklaring afgelê het, is nie verplig om die ampseed of plegtige verklaring kragtens die nuwe Grondwet te herhaal nie.

20. Ander grondwetlike instellings
1. In hierdie item beteken “grondwetlike instelling”–
a. die Openbare Beskermer;
b. die Menseregtekommissie;

[Par. (b) gewysig by a. 4 van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

c. die Kommissie op Geslagsgelykheid;
d. die Ouditeur-generaal;
e. die Suid-Afrikaanse Reserwebank;
f. die Finansiële en Fiskale Kommissie;
g. die Regterlike Dienskommissie; of
h. die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad.
2. ‘n Grondwetlike instelling wat ingevolge die vorige Grondwet ingestel is, gaan voort om te funksioneer ingevolge die wetgewing wat daarop van toepassing is, en enigiemand wat die amp van kommissielid, lid van die raad van die Reserwebank of die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, Openbare Beskermer of Ouditeur-generaal beklee wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, gaan voort om die amp te beklee ingevolge die wetgewing wat op daardie amp van toepassing is, behoudens–
a. enige wysiging of herroeping van daardie wetgewing; en
b. bestaanbaarheid met die nuwe Grondwet.
3. Artikels 199(1), 200(1), (3) en (5) tot (11) en 201 tot 206 van die vorige Grondwet bly van krag totdat dit herroep word deur ʼn Parlementswet wat ingevolge artikel 75 van die nuwe Grondwet aangeneem word.
4. Die lede van die Regterlike Dienskommissie genoem in artikel 105(1)(h) van die vorige Grondwet hou op om lede van die Kommissie te wees wanneer die lede genoem in artikel 178(1)(i) van die nuwe Grondwet aangestel word.
5. a. Die Volkstaatraad ingestel ingevolge die vorige Grondwet gaan voort om te funksioneer ingevolge die wetgewing wat daarop van toepassing is, en enigiemand wat die amp van lid van die Raad beklee wanneer die nuwe Grondwet in werking tree, gaan voort om die amp te beklee ingevolge die wetgewing wat op daardie amp van toepassing is, behoudens–
i. enige wysiging of herroeping van daardie wetgewing; en
ii. bestaanbaarheid met die nuwe Grondwet.
b. Artikels 184A en 184B(1)(a), (b) en (d) van die vorige Grondwet bly van krag totdat dit herroep word deur ʼn Parlementswet wat ingevolge artikel 75 van die nuwe Grondwet aangeneem word.

21. Verordening van wetgewing deur nuwe Grondwet vereis
1. Waar die nuwe Grondwet die verordening van nasionale of provinsiale wetgewing vereis, moet daardie wetgewing binne ʼn redelike tydperk vanaf die datum waarop die nuwe Grondwet in werking getree het deur die tersaaklike gesag verorden word.
2. Artikel 198(b) van die nuwe Grondwet mag nie toegepas word voordat die wetgewing beoog in daardie artikel verorden is nie.
3. Artikel 199(3)(a) van die nuwe Grondwet mag nie toegepas word voor die verstryking van drie maande nadat die wetgewing beoog in daardie artikel verorden is nie.
4. Nasionale wetgewing beoog in artikel 217(3) van die nuwe Grondwet moet verorden word binne drie jaar vanaf die datum waarop die nuwe Grondwet in werking getree het, maar die afwesigheid van hierdie wetgewing gedurende hierdie tydperk belet nie die inwerkingstelling van die beleid in artikel 217(2) bedoel nie.
5. Totdat die Parlementswet genoem in artikel 65(2) van die nuwe Grondwet verorden word, kan elke provinsiale wetgewer sy eie prosedure bepaal waarvolgens magtiging aan sy afvaardiging verleen word om namens hom stemme in die Nasionale Raad van Provinsies uit te bring.
6. Totdat die wetgewing beoog in artikel 229(1)(b) van die nuwe Grondwet verorden word, bly ʼn munisipaliteit bevoeg om enige belasting, heffing of reg op te lê wat hy gemagtig was om op te lê toe die Grondwet in werking getree het.

22. Nasionale eenheid en versoening
1. Ondanks die ander bepalings van die nuwe Grondwet en ondanks die herroeping van die vorige Grondwet, word al die bepalings met betrekking tot amnestie wat in die vorige Grondwet onder die opskrif “Nasionale Eenheid en Versoening” vervat is, geag deel van die nuwe Grondwet uit te maak vir die doeleindes van die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening, 1995 (Wet 34 van 1995), soos gewysig, asook vir die doeleindes van die geldigheid daarvan.
2. Vir die doeleindes van subitem (1) word die datum “6 Desember 1993” waar dit in die bepalings van die vorige Grondwet onder die opskrif van “Nasionale Eenheid en Versoening” verskyn, geag “11 Mei 1994” te lui.

[Subitem (2) bygevoeg by a. 3 van die Eerste Wysigingswet op die Grondwet van 1997.]

23. Handves van Regte
1. Nasionale wetgewing beoog in artikels 9(4), 32(2) en 33(3) van die nuwe Grondwet moet binne drie jaar vanaf die datum waarop die nuwe Grondwet in werking getree het, verorden word.
2. Totdat die wetgewing beoog in artikels 32(2) en 33(3) van die nuwe Grondwet verorden word–
a. word artikel 32(1) geag soos volg te lui:

“(1) Elke persoon het die reg op toegang tot alle inligting wat deur die staat of enige van sy organe in enige regeringsfeer gehou word vir sover daardie inligting benodig word vir die uitoefening of beskerming van enige van hul regte.”; en

b. word artikel 33(1) en (2) geag soos volg te lui:

“Elke persoon het die reg–
(a) op regsgeldige administratiewe optrede waar enige van hul regte of belange geraak of bedreig word;
(b) op prosedureel billike administratiewe optrede waar enige van hul regte of regmatige verwagtings geraak of bedreig word;
(c) om skriftelik voorsien te word van redes vir administratiewe optrede wat enige van hul regte of belange raak, tensy die redes vir daardie optrede openbaar gemaak is; en
(d) op administratiewe optrede wat regverdigbaar is met betrekking tot die redes wat daarvoor gegee word, waar enige van hul regte geraak of bedreig word.”.

3. Artikels 32(2) en 33(3) van die nuwe Grondwet verval indien die wetgewing wat in daardie artikels onderskeidelik beoog word, nie binne drie jaar vanaf die datum waarop die nuwe Grondwet in werking getree het, verorden word nie.

24. Staatsadministrasie en veiligheidsdienste
1. Artikels 82(4)(b), 215, 218(1), 219(1), 224 tot 228, 236(1), (2), (3), (6), (7)(b) en (8), 237(1) en (2)(a) en 239(4) en (5) van die vorige Grondwet bly van krag asof die vorige Grondwet nie herroep is nie, behoudens–
a. die wysigings aan daardie artikels soos in Aanhangsel D uiteengesit;
b. enige verdere wysiging of enige herroeping van daardie artikels deur ʼn Parlementswet wat ingevolge artikel 75 van die nuwe Grondwet aangeneem is; en
c. bestaanbaarheid met die nuwe Grondwet.
2. Die Staatsdienskommissie en die provinsiale dienskommissies bedoel in Hoofstuk 13 van die vorige Grondwet gaan voort om te funksioneer ingevolge daardie Hoofstuk en die wetgewing wat daarop van toepassing is asof daardie Hoofstuk nie herroep is nie, totdat die Kommissie en die provinsiale dienskommissies by Parlementswet ingevolge artikel 75 van die nuwe Grondwet aangeneem, afgeskaf word.
3. Die herroeping van die vorige Grondwet raak nie enige proklamasie wat kragtens artikel 237(3) van die vorige Grondwet uitgereik is nie, en so ʼn proklamasie bly van krag, behoudens –
a. enige wysiging of herroeping; en
b. bestaanbaarheid met die nuwe Grondwet.

25. Bykomende onbevoegdheid vir wetgewers
1. Enigiemand wat, toe die nuwe Grondwet in werking getree het, besig was om ʼn vonnis van meer as 12 maande gevangenisstraf sonder die keuse van ʼn boete in die Republiek uit te dien, is onbevoeg om ʼn lid van die Nasionale Vergadering of ʼn provinsiale wetgewer te word.
2. Die onbevoegdheid van ʼn persoon ingevolge subitem (1)–
a. verval indien die skuldigbevinding op appèl tersyde gestel word, of die vonnis op appèl verminder word tot ʼn vonnis wat daardie persoon nie onbevoeg maak nie; en
b. eindig vyf jaar nadat die vonnis voltooi is.

26. Plaaslike regering
1. Ondanks die bepalings van artikels 151, 155, 156 en 157 van die nuwe Grondwet–
a. bly die bepalings van die Oorgangswet op Plaaslike Regering, 1993 (Wet 209 van 1993), soos dit van tyd tot tyd gewysig kan word deur nasionale wetgewing wat met die nuwe Grondwet bestaanbaar is, van krag ten opsigte van ʼn Munisipale Raad totdat ʼn Munisipale Raad wat daardie Raad vervang, verkose verklaar is as gevolg van die eerste algemene verkiesing van Munisipale Rade na die inwerkingtrede van die nuwe Grondwet; en

[Par. (a) vervang by a. 5(a) van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1999.]

b. is ʼn tradisionele leier van ʼn gemeenskap wat ʼn stelsel van inheemse reg naleef en woon op grond binne die gebied van ʼn plaaslike oorgangsraad, landelike oorgangsraad of verteenwoordigende oorgangsraad in die Oorgangswet op Plaaslike Regering, 1993, genoem en wat geïdentifiseer is soos in artikel 182 van die vorige Grondwet uiteengesit, ampshalwe daarop geregtig om ʼn lid van daardie raad te wees totdat ʼn Munisipale Raad wat daardie Raad vervang, verkose verklaar is as gevolg van die eerste algemene verkiesing van Munisipale Rade na die inwerkingtrede van die nuwe Grondwet.

[Par. (b) vervang by a. 5(a) van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

2. Artikel 245(4) van die vorige Grondwet bly van krag totdat die toepassing van daardie artikel verval. Artikel 16(5) en (6) van die Oorgangswet op Plaaslike Regering, 1993, mag nie voor 30 April 2000 herroep word nie.

[Subitem (2) gewysig by a. 5(b) van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

27. Veilige bewaring van Parlementswette en Provinsiale Wette
Artikels 82 en 124 van die nuwe Grondwet raak nie die veilige bewaring van Parlementswette of provinsiale Wette wat aangeneem is voordat die nuwe Grondwet in werking getree het nie.

28. Registrasie van onroerende eiendom van die staat
1. By die voorlegging van ʼn sertifikaat deur ʼn bevoegde gesag dat onroerende eiendom van die staat ingevolge artikel 239 van die vorige Grondwet in ʼn bepaalde regering setel, moet ʼn registrateur van aktes die aantekeninge of endossemente in of op enige betrokke register, transportakte of ander dokument aanbring ten einde daardie onroerende eiendom in die naam van daardie regering te registreer.
2. Geen belasting, gelde of ander vordering is ten opsigte van ʼn registrasie ingevolge subitem (1) betaalbaar nie.