Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 10

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  (1996) 
Hoofstuk 10: Openbare Administrasie

195. Basiese waardes en beginsels wat openbare administrasie beheers
1. Openbare administrasie word beheers deur die demokratiese waardes en beginsels wat in die Grondwet verskans is, met inbegrip van die volgende beginsels:
a. ‘n Hoë standaard van beroepsetiek moet bevorder en gehandhaaf word.
b. Die doelmatige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne moet bevorder word.
c. Openbare administrasie moet ontwikkelingsgerig wees.
d. Dienste moet onpartydig, regverdig, op billike grondslag en sonder vooroordeel gelewer word.
e. Aandag moet aan mense se behoeftes gegee word, en die publiek moet aangemoedig word om aan beleidsvorming deel te neem.
f. Openbare administrasie moet verantwoordingspligtig wees.
g. Deursigtigheid moet bevorder word deur die publiek van tydige, toeganklike en korrekte inligting te voorsien.
h. Goeie praktyke van mensehulpbronbestuur en loopbaanontwikkeling moet ontwikkel word om mensepotensiaal tot die maksimum te ontsluit.
i. Openbare administrasie moet in die breë verteenwoordigend wees van die Suid-Afrikaanse bevolking, met indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke wat gebaseer is op vermoë, objektiwiteit, billikheid en die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig.
2. Bogenoemde beginsels is van toepassing op–
a. administrasie in elke regeringsfeer;
b. staatsorgane; en
c. openbare ondernemings.
3. Nasionale wetgewing moet die bevordering verseker van die waardes en beginsels wat in subartikel (1) vermeld word.
4. Die aanstelling in die openbare administrasie van ʼn aantal persone op grond van beleidsoorwegings word nie uitgesluit nie, maar nasionale wetgewing moet die aanstellings in die staatsdiens reguleer.
5. Wetgewing wat die openbare administrasie reguleer kan ʼn onderskeid maak tussen verskillende sektore, administrasies of instellings.
6. Die aard en funksies van verskillende sektore, administrasies of instellings van die openbare administrasie is tersaaklike faktore wat in aanmerking geneem moet word in wetgewing wat die openbare administrasie reël.

196. Staatsdienskommissie
1. Daar is ʼn enkele Staatsdienskommissie vir die Republiek.
2. Die Kommissie is onafhanklik en moet onpartydig wees, en moet sonder vrees, begunstiging of vooroordeel sy bevoegdhede uitoefen en sy funksies verrig in die belang van die handhawing van ʼn doeltreffende en bevoegde openbare administrasie en ʼn hoë standaard van beroepsetiek in die staatsdiens. Die Kommissie moet deur nasionale wetgewing gereguleer word.
3. Ander staatsorgane moet deur middel van wetgewende en ander maatreëls die Kommissie bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van die Kommissie te verseker. Geen persoon of staatsorgaan mag op die funksionering van die Kommissie inbreuk maak nie.
4. Die bevoegdhede en funksies van die Kommissie is om–
a. die waardes en beginsels wat in artikel 195 uiteengesit word, regdeur die staatsdiens te bevorder;
b. die organisasie en administrasie, en die personeelpraktyke, van die staatsdiens te ondersoek, te monitor en te evalueer;
c. maatreëls voor te stel om effektiewe en doelmatige werkverrigting in die staatsdiens te verseker;
d. lasgewings uit te reik wat daarop gemik is om te verseker dat personeelprosedures met betrekking tot werwing, oorplasing, bevordering en ontslag voldoen aan die waardes en beginsels in artikel 195 uiteengesit;
e. verslag te doen ten opsigte van sy bedrywighede en die verrigting van sy funksies, met inbegrip van enige bevinding wat hy mag maak, lasgewings wat hy mag uitreik en advies wat hy mag gee, en om ʼn evaluering te verskaf van die mate waarin daar voldoen word aan die waardes en beginsels in artikel 195 uiteengesit;
f. hetsy uit eie beweging hetsy na ontvangs van enige klagte–
i. die toepassing van personeel- en openbare administrasie-praktyke te ondersoek en te evalueer, en aan die toepaslike uitvoerende gesag en wetgewer verslag te doen;
ii. ondersoek in te stel na griewe van werknemers in die staatsdiens oor amptelike handelinge of versuime, en gepaste regstellings aan te beveel;
iii. die nakoming van toepaslike prosedures in die staatsdiens te monitor en te ondersoek; en
iv. nasionale en provinsiale staatsorgane van advies te dien oor personeelpraktyke in die staatsdiens, met inbegrip van dié met betrekking tot die werwing, aanstelling, oorplasing, uitdienstreding en ander aspekte van die loopbane van werknemers in die staatsdiens; en
g. die bykomende bevoegdhede uit te oefen of funksies te verrig wat deur ʼn Parlementswet voorgeskryf word.

[Par. (g) bygevoeg by a. 3 van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

5. Die Kommissie is teenoor die Nasionale Vergadering verantwoordingspligtig.
6. Die Kommissie moet minstens een keer per jaar ingevolge subartikel (4)(e) verslag doen–
a. aan die Nasionale Vergadering; en
b. ten opsigte van sy bedrywighede in ʼn provinsie, aan die wetgewer van daardie provinsie.
7. Die Kommissie het die volgende 14 kommissarisse wat deur die President aangestel word:
a. Vyf kommissarisse ooreenkomstig subartikel (8)(a) deur die Nasionale Vergadering goedgekeur; en
b. een kommissaris vir elke provinsie ooreenkomstig subartikel (8)(b) deur die Premier van die provinsie benoem.
8. a. ‘n Kommissaris wat ingevolge subartikel (7)(a) aangestel word, moet–
i. aanbeveel word deur ʼn komitee van die Nasionale Vergadering wat proporsioneel saamgestel is uit lede van alle partye wat in die Vergadering verteenwoordig is; en
ii. deur die Vergadering goedgekeur word by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van die lede van die Vergadering.
9. ‘n Kommissaris wat deur die Premier van ʼn provinsie benoem word, moet–
a, aanbeveel word deur ʼn komitee van die provinsiale wetgewer wat proporsioneel saamgestel is uit lede van alle partye wat in die wetgewer verteenwoordig is; en
b. deur die wetgewer goedgekeur word by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van die lede van die wetgewer.
9. Die prosedure vir die aanstelling van kommissarisse word deur ʼn Parlementswet gereguleer.
10. ‘n Kommissaris word aangestel vir ʼn termyn van vyf jaar, wat vir slegs een addisionele termyn hernu kan word, en moet ʼn vrou of ʼn man wees wat–
a. ‘n Suid-Afrikaanse burger is; en
b. ‘n geskikte en gepaste persoon is met kennis of ervaring van administrasie, bestuur of die verskaffing van openbare dienste.
11. ‘n Kommissaris kan van die amp onthef word slegs op grond van–
a. wangedrag, onvermoë of onbevoegdheid;
b. ‘n bevinding te dien effekte deur ʼn komitee van die Nasionale Vergadering of, in die geval van ʼn kommissaris wat deur die Premier van ʼn provinsie benoem is, deur ʼn komitee van die wetgewer van daardie provinsie; en
c. ‘n besluit van die Vergadering of die betrokke provinsiale wetgewer wat aangeneem is met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van sy lede en waarin gevra word dat die kommissaris van die amp onthef word.
12. Die President moet die betrokke kommissaris van die amp onthef by–
a. aanname deur die Vergadering van ʼn besluit waarin gevra word dat daardie kommissaris van die amp onthef word; of
b. skriftelike verwittiging deur die Premier dat die provinsiale wetgewer ʼn besluit aangeneem het waarin gevra word dat daardie kommissaris van die amp onthef word.
13. Kommissarisse in subartikel (7)(b) bedoel, kan die bevoegdhede en funksies van die Kommissie in hul provinsies uitoefen en verrig soos deur nasionale wetgewing voorgeskryf.

197. Staatsdiens
1. Binne die openbare administrasie is daar ʼn staatsdiens vir die Republiek wat ingevolge nasionale wetgewing moet funksioneer en gestruktureer moet word en wat die wettige beleide van die regering aan die bewind getrou moet uitvoer.
2. Die bedinge en voorwaardes van indiensneming in die staatsdiens moet deur nasionale wetgewing gereël word. Werknemers is geregtig op ʼn billike pensioen soos deur nasionale wetgewing gereël.
3. Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat die persoon ʼn bepaalde politieke party of saak steun nie.
4. Provinsiale regerings is verantwoordelik vir die werwing, aanstelling, bevordering, oorplasing en ontslag van lede van die staatsdiens in hul administrasies binne ʼn raamwerk van eenvormige norme en standaarde wat op die staatsdiens van toepassing is.