Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 7

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996)
Hoofstuk 7: Plaaslike Regering
291416Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika — Hoofstuk 7: Plaaslike Regering1996

151. Status van munisipaliteite
1. Die plaaslike regeringsfeer bestaan uit munisipaliteite, wat vir die hele grondgebied van die Republiek ingestel moet word.
2. Die uitvoerende en wetgewende gesag van ʼn munisipaliteit berus by sy Munisipale Raad.
3. ʼn Munisipaliteit het die reg om op eie inisiatief die plaaslike regeringsaangeleenthede van sy gemeenskap te bestuur, behoudens nasionale en provinsiale wetgewing, soos in die Grondwet bepaal.
4. Die nasionale of ʼn provinsiale regering mag nie ʼn munisipaliteit se vermoë of reg om sy bevoegdhede uit te oefen of sy funksies te verrig, kompromitteer of belemmer nie.

152. Oogmerke van plaaslike regering
1. Die oogmerke van plaaslike regering is–
a. om demokratiese en verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voorsien;
b. om te verseker dat dienste op volhoubare wyse aan gemeenskappe verskaf word;
c. om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder;
d. om ʼn veilige en gesonde omgewing te bevorder; en
e. om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig.
2. ʼn Munisipaliteit moet daarna streef om binne sy finansiële en administratiewe vermoë die oogmerke in subartikel (1) uiteengesit, te verwesenlik.

153. Ontwikkelingspligte van munisipaliteite
1. ʼn Munisipaliteit moet–
a. sy administrasie en sy begrotings- en beplanningsprosesse so struktureer en bestuur dat voorrang verleen word aan die basiese behoeftes van die gemeenskap, en dat die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap bevorder word; en
b. aan nasionale en provinsiale ontwikkelingsprogramme deelneem.

154. Munisipaliteite in regering van samewerking
1. Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls munisipaliteite se vermoë om hul eie sake te bestuur, hul bevoegdhede uit te oefen en hul funksies te verrig, steun en versterk.
2. Nasionale of provinsiale konsepwetgewing wat die status, instellings, bevoegdhede of funksies van plaaslike regering raak, moet voordat dit by die Parlement of ʼn provinsiale wetgewer ingedien word, vir openbare kommentaar gepubliseer word op ʼn wyse wat georganiseerde plaaslike regering, munisipaliteite en ander belanghebbende persone ʼn geleentheid bied om vertoë met betrekking tot die konsepwetgewing te rig.

155. Instelling van munisipaliteite
1. Daar is die volgende kategorieë munisipaliteite:
a. Kategorie A: ʼn Munisipaliteit wat eksklusiewe munisipale uitvoerende en wetgewende gesag in sy gebied het.
b. Kategorie B: ʼn Munisipaliteit wat munisipale uitvoerende en wetgewende gesag in sy gebied deel met ʼn kategorie C-munisipaliteit binne wie se gebied hy val.
c. Kategorie C: ʼn Munisipaliteit wat munisipale uitvoerende en wetgewende gesag het in ʼn gebied wat meer as een munisipaliteit insluit.
2. Nasionale wetgewing moet die verskillende soorte munisipaliteite bepaal wat binne elke kategorie ingestel kan word.
3. Nasionale wetgewing moet–
a. die maatstawwe voorskryf vir die bepaling van wanneer ʼn gebied ʼn enkele kategorie A-munisipaliteit moet hê of wanneer dit munisipaliteite van sowel kategorie B as kategorie C moet hê;
b. maatstawwe en prosedures voorskryf vir die bepaling van munisipale grense deur ʼn onafhanklike gesag; en
c. behoudens artikel 229, voorsiening maak vir ʼn gepaste verdeling van bevoegdhede en funksies tussen munisipaliteite wanneer ʼn gebied munisipaliteite van sowel kategorie B as kategorie C het. ʼn Verdelingvan bevoegdhede en funksies tussen ʼn kategorie B-munisipaliteit en ʼn kategorie C-munisipaliteit kan verskil van die verdeling van bevoegdhede en funksies tussen ʼn ander kategorie B-munisipaliteit en daardie kategorie C-munisipaliteit.
4. Die wetgewing in subartikel (3) genoem, moet die behoefte om munisipale dienste op billike en volhoubare wyse te verskaf, in aanmerking neem.
5. Provinsiale wetgewing moet die verskillende soorte munisipaliteite wat in die provinsie ingestel moet word, bepaal.
6. Elke provinsiale regering moet munisipaliteite in sy provinsie instel op ʼn wyse wat bestaanbaar is met die wetgewing wat ingevolge subartikels (2) en (3) verorden is, en moet deur wetgewende of ander maatreëls–
a. voorsiening maak vir die monitering en ondersteuning van plaaslike regering in die provinsie; en
b. die ontwikkeling van plaaslike regeringsvermoë bevorder ten einde munisipaliteite in staat te stel om hul funksies te verrig en hul eie sake te bestuur.
(6A) …..

[Sub-a. (6A) ingevoeg by a. 1 van die Derde Wysigingswet op die Grondwet van 1998 en geskrap by a. 2 van die Twaalfde Wysigingswet op die Grondwet van 2005.]

7. Die nasionale regering, behoudens artikel 44, en die provinsiale regerings het die wetgewende en uitvoerende gesag om toe te sien dat munisipaliteite hul funksies ten opsigte van aangeleenthede in Bylaes 4 en 5 vermeld doeltreffend verrig, deur die uitoefening van munisipaliteite se uitvoerende gesag genoem in artikel 156(1) te reguleer.

156. Bevoegdhede en funksies van munisipaliteite
1. ʼn Munisipaliteit het uitvoerende gesag ten opsigte van, en het die reg op die administrasie van–
a. die plaaslike regeringsaangeleenthede wat in Deel B van Bylae 4 en Deel B van Bylae 5 vermeld word; en
b. enige ander aangeleentheid wat deur nasionale of provinsiale wetgewing aan hom opgedra word.
2. ʼn Munisipaliteit kan verordeninge uitvaardig en administreer vir die doeltreffende administrasie van die aangeleenthede wat hy die reg het om te administreer.
3. Behoudens artikel 151(4) is ʼn munisipale verordening wat met nasionale of provinsiale wetgewing strydig is, ongeldig. Indien daar ʼn teenstrydigheid is tussen ʼn munisipale verordening en nasionale of provinsiale wetgewing wat nie van krag is nie vanweë ʼn teenstrydigheid in artikel 149 genoem, word die munisipale verordening as geldig beskou solank daardie wetgewing nie van krag is nie.
4. Die nasionale regering en provinsiale regerings moet by wyse van ʼn ooreenkoms en behoudens enige voorwaardes aan ʼn munisipaliteit die administrasie opdra van ʼn aangeleentheid wat in Deel A van Bylae 4 of Deel A van Bylae 5 vermeld word en wat noodsaaklikerwys op plaaslike regering betrekking het, indien–
a. daardie aangeleentheid die doeltreffendste plaaslik geadministreer sou kon word; en
b. die munisipaliteit die vermoë het om dit te administreer.
5. ʼn Munisipaliteit het die reg om enige bevoegdheid uit te oefen met betrekking tot ʼn aangeleentheid wat redelikerwys nodig is vir, of verband hou met, die doeltreffende verrigting van sy funksies.

157. Samestelling en verkiesing van Munisipale Rade
1. ʼn Munisipale Raad bestaan uit–
a. lede wat ooreenkomstig subartikels (2) en (3) verkies is; of
b. indien nasionale wetgewing daarvoor voorsiening maak–
i. lede wat deur ander Munisipale Rade aangestel is om daardie ander Rade te verteenwoordig; of
ii. sowel lede wat ooreenkomstig paragraaf (a) verkies is as lede wat ooreenkomstig subparagraaf (i) van hierdie paragraaf aangestel is.

[Sub-a. (1) vervang by a. 1(a) van die Agtste Wysigingswet op die Grondwet van 2002 en gewysig by a. 3 van die Vyftiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

2. Die verkiesing van lede tot ʼn Munisipale Raad soos in subartikel (1)(a) beoog, moet ooreenkomstig nasionale wetgewing geskied, wat ʼn stelsel moet voorskryf –
a. van proporsionele verteenwoordiging wat op die betrokke munisipaliteit se segment van die nasionale gemeenskaplike kieserslys gebaseer is en wat voorsiening maak vir die verkiesing van lede uit lyste van partykandidate wat in ʼn party se rangorde van voorkeur opgestel is; of
b. van proporsionele verteenwoordiging soos in paragraaf (a) beskryf wat gekombineer is met ʼn stelsel van wyksverteenwoordiging wat op die betrokke munisipaliteit se segment van die nasionale gemeenskaplike kieserslys gebaseer is.
3. ʼn Kiesstelsel ingevolge subartikel (2) moet in die algemeen proporsionele verteenwoordiging meebring.

[Sub-a. (3) vervang by a. 1(b) van die Agtste Wysigingswet op die Grondwet van 2002.]

4. a. Indien die kiesstelsel wyksverteenwoordiging insluit, moet die afbakening van wyke gedoen word deur ʼn onafhanklike gesag wat aangestel word ingevolge, en wat funksioneer ooreenkomstig, die prosedures en maatstawwe wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.
b. …..

[Par. (b) geskrap by a. 3 van die Twaalfde Wysigingswet op die Grondwet van 2005.]

[Sub-a. (4) vervang by a. 2 van die Derde Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

5. ʼn Persoon kan in ʼn munisipaliteit stem slegs indien daardie persoon op daardie munisipaliteit se segment van die nasionale gemeenskaplike kieserslys geregistreer is.
6. Die nasionale wetgewing in subartikel (1)(b) genoem, moet ʼn stelsel voorskryf wat dit moontlik maak dat partye en belange wat weerspieël word in die Munisipale Raad wat die aanstelling doen, billik verteenwoordig word in die Munisipale Raad waarin die aanstelling gedoen word.

158. Lidmaatskap van Munisipale Rade
1. Elke burger wat bevoeg is om vir ʼn Munisipale Raad te stem, is bevoeg om ʼn lid van daardie Raad te wees, uitgesonderd–
a. iemand wat aangestel is deur, of in die diens is van, die betrokke munisipaliteit en vergoeding vir daardie aanstelling of diens ontvang, en wat nie ingevolge nasionale wetgewing van hierdie onbevoegdheid vrygestel is nie;
b. iemand wat aangestel is deur, of in die diens is van, die staat in ʼn ander sfeer en vergoeding vir daardie aanstelling of diens ontvang, en wat ingevolge nasionale wetgewing onbevoeg is vir lidmaatskap van ʼn Munisipale Raad;
c. iemand wat onbevoeg is om vir die Nasionale Vergadering te stem of ingevolge artikel 47(1)(c), (d) of (e) onbevoeg is om ʼn lid van die Vergadering te wees;
d. ʼn lid van die Nasionale Vergadering, ʼn afgevaardigde na die Nasionale Raad van Provinsies of ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer; maar hierdie onbevoegdheid geld nie vir ʼn lid van ʼn Munisipale Raad wat plaaslike regering in die Nasionale Raad verteenwoordig nie; of
e. ʼn lid van ʼn ander Munisipale Raad; maar hierdie onbevoegdheid geld nie vir ʼn lid van ʼn Munisipale Raad wat daardie Raad in ʼn ander Munisipale Raad van ʼn ander kategorie verteenwoordig nie.
2. Iemand wat ingevolge subartikel (1)(a), (b), (d) of (e) onbevoeg is om ʼn lid van ʼn Munisipale Raad te wees, kan ʼn kandidaat vir die Raad wees behoudens enige beperkings of voorwaardes deur nasionale wetgewing voorgeskryf.
3. Vakatures in ʼn Munisipale Raad moet ooreenkomstig nasionale wetgewing gevul word.

[Sub-a. (3) bygevoeg by a. 4 van die Vyftiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

159. Termyne van Munisipale Rade
1. Die termyn van ʼn Munisipale Raad is hoogstens vyf jaar, soos deur nasionale wetgewing bepaal.
2. Indien ʼn Munisipale Raad ingevolge nasionale wetgewing ontbind word, of wanneer sy termyn verstryk, moet ʼn verkiesing gehou word binne 90 dae vanaf die datum waarop die Raad ontbind is of sy termyn verstryk het.
3. ʼn Munisipale Raad, uitgesonderd ʼn Raad wat ontbind is na ʼn ingryping ingevolge artikel 139, bly bevoeg om te funksioneer vanaf sy ontbinding of die verstryking van sy termyn totdat die nuut verkose Raad verkose verklaar is.

[A. 159 vervang by a. 1 van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

160. Interne prosedures
1. ʼn Munisipale Raad–
a. neem besluite oor die uitoefening van al die bevoegdhede en die verrigting van al die funksies van die munisipaliteit;
b. moet sy voorsitter verkies;
c. kan ʼn uitvoerende komitee en ander komitees verkies, behoudens nasionale wetgewing; en
d. kan personeel in diens neem wat vir die doeltreffende verrigting van sy funksies nodig is.
2. Die volgende funksies mag nie deur ʼn Munisipale Raad gedelegeer word nie:
a. Die aanname van verordeninge;
b. die goedkeuring van begrotings;
c. die oplegging van eiendomsbelasting en ander belastings, heffings en regte; en
d. die verkryging van lenings.
3. a. ʼn Meerderheid van die lede van ʼn Munisipale Raad moet teenwoordig wees voordat daar oor enige aangeleentheid gestem kan word.
b. Alle vrae oor aangeleenthede in subartikel (2) vermeld, word beslis by wyse van ʼn besluit deur ʼn Munisipale Raad met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van sy lede geneem.
c. Alle ander vrae voor ʼn Munisipale Raad word beslis deur ʼn meerderheid van die stemme wat uitgebring word.
4. Geen verordening mag deur ʼn Munisipale Raad aangeneem word nie tensy–
a. daar aan al die lede van die Raad redelike kennis gegee is; en
b. die voorgestelde verordening vir openbare kommentaar gepubliseer is.
5. Nasionale wetgewing kan voorsiening maak vir maatstawwe om–
a. die grootte van ʼn Munisipale Raad te bepaal;
b. te bepaal of Munisipale Rade ʼn uitvoerende komitee of enige ander komitee kan verkies; of
c. die grootte van die uitvoerende komitee of enige ander komitee van ʼn Munisipale Raad te bepaal.
6. ʼn Munisipale Raad kan verordeninge uitvaardig wat reëls en orders voorskryf vir–
a. sy interne reëlings;
b. sy werksaamhede en verrigtinge; en
c. die instelling, samestelling, prosedures, bevoegdhede en funksies van sy komitees.
7. ʼn Munisipale Raad moet sy funksies op ʼn oop wyse verrig, en kan sy sittings of dié van sy komitees sluit slegs wanneer dit, met inagneming van die aard van die werksaamhede wat verrig word, redelik is om dit te doen.
8. Lede van ʼn Munisipale Raad is daarop geregtig om aan die Raad se verrigtinge en dié van sy komitees deel te neem op ʼn wyse wat–
a. dit moontlik maak dat partye en belange wat in die Raad weerspieël word, billik verteenwoordig word;
b. met die demokrasie bestaanbaar is; en
c. deur nasionale wetgewing gereël kan word.

161. Voorreg
Provinsiale wetgewing kan binne die raamwerk van nasionale wetgewing voorsiening maak vir voorregte en immuniteite van Munisipale Rade en hul lede.

162. Publikasie van munisipale verordeninge
1. ʼn Munisipale verordening kan toegepas word slegs nadat dit in die offisiële koerant van die betrokke provinsie gepubliseer is.
2. ʼn Provinsiale offisiële koerant moet ʼn munisipale verordening op versoek van die munisipaliteit publiseer.
Munisipale verordeninge moet vir die publiek toeganklik wees.

163. Georganiseerde plaaslike regering
1. ʼn Parlementswet verorden ooreenkomstig die prosedure deur artikel 76 voorgeskryf, moet–
a. voorsiening maak vir die erkenning van nasionale en provinsiale organisasies wat munisipaliteite verteenwoordig; en
b. die prosedures bepaal waarvolgens plaaslike regering–
i. met die nasionale of ʼn provinsiale regering oorleg kan pleeg;
ii. verteenwoordigers kan aanwys om aan die Nasionale Raad van Provinsies deel te neem; en
iii. kan deelneem aan die proses voorgeskryf deur die nasionale wetgewing in artikel 221(1)(c) beoog.

[Par. (b) vervang by a. 4 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

164. Ander aangeleenthede
Enige aangeleentheid rakende plaaslike regering waarmee nie in die Grondwet gehandel word nie, kan deur nasionale wetgewing, of deur provinsiale wetgewing binne die raamwerk van nasionale wetgewing, voorgeskryf word.