Loeloeraai/’n Smeekstem om hulp

’n Hoë bod Loeloeraai
’n Smeekstem om hulp
deur C. J. Langenhoven
Twee verowerings nodig


’n Smeekstem om hulp

edit

Engela was gereed om sommer die volgende oggend te vertrek, maan toe. Loeloeraai se sfeer, wat intussen as ’n onbemerkte satelliet op ’n afstandjie van die aarde in veiligheid gesweef het, kon hy deur middel van een of ander draadlose verbinding in ’n halfuur terugroep om ons op te laai. Maar ou Stoffel moes natuurlik eers huis toe om vir Soetlief te gaan groet, en ook sy dogter Grietjie op Stellenbosch. Dit was mos nou darem, hoe jy dit ook neem, ’n taamlike reisie wat ons van plan was om te onderneem. En ek moes voorsiening maak vir die weeklikse behoeftes van my lesers. Vroutjie het my nog aan iets anders ook herinner.

,,Ja, Vroutjie,” sê ek, ,,jy lol heeldag oor my skuld hoewel jy jou al soveel jare daaroor moeg gemaak het dat ’n mens sou dink jy moes teen hierdie tyd uitgevind het dat dit niks help nie. So is nou maar my ongelukkige geaardheid; so het jy my kom kry; so het jy my leer ken; so het jy my geneem; so moet jy my maar hou.”

,,Kerneels, ja. Dis ’n goeie ekskuus om ’n mens se foute op die Skepper se rekening te plaas deur hulle aan jou geaardheid toe te skryf. Ek wonder hoe dit met die samelewing sou afloop as daardie verskoning in ons kriminele regsbedeling as geldig sou aangeneem word.”

,,Die maatskappy handel ook maar volgens sy geaardheid, Vroutjie. Hy straf. Maar laat ek ook tog maar my foutjie hê. Ek kon baie ander gehad het wat erger was. Maar wat ek wou sê toe ek jou in die rede geval het: ek sien goed kans om vir ’n drie vier weke pad te gee maan toe en my krediteure hier onversorg na te laat, buiten die een wat saamgaan. Ek reken hulle moet dankbaar wees dat ek in díe tydjie tog nie sal kan verder skuld maak om teen hulle eise te wedywer nie. Maar my lesers wil ek nie in die steek laat nie. Nie net dat ek uit my joppie kan uitgeskop word as daar ongereeldheid by my diens kom nie; ek sou in my hart jammer voel vir die arme publiek as hulle hulle Maandagse koerant moet oopmaak en in plaas van my naam sien hulle daar iemand anders s’n.”

Toe kom Loeloeraai uit sy kamer. ,,Ek vrees ek is maar ongesellig gewees hierdie laaste paar dae,” sê hy. ,,Ek moet van die orige tydjie gebruik maak om darem bietjie op hoogte te kom wat die trap van kennis en beskawing van die aardse bevolking betref.”

,,Dit sal nie help om jou te vra wat jou indruk tot sovér is nie, Loeloeraai ?”

Loeloeraai glimlag. ,,Kerneels, julle natuurwetenskap het vordering gemaak as ’n mens in aanmerking neem waar julle ’n vyfhonderd – ja, ’n honderd jaar gelede gestaan het. In al die departemente daarvan het ek nou byna die Encyclopaedia Britannica deurgewerk.”

,,En ander vakke?” vra ek. ,,Die wysbegeerte, by voorbeeld ? En het jy na ons geskiedenis gekyk ?”

,,Vergeef my die uitdrukking, my vriend. Julle bespiegelende wysbegeerte is ’n kranksinnige doolhof; julle ekonomiese teorieë sielloos; julle regstelsels barbaars. Maar julle geskiedenis is wonderlik. Ek had vir my doel maar nodig om twee elementêre boeke te lees – Wells se Outline of History en Van Loon se Story of Mankind. Wanneer sal julle tog al hierdie dinge in Afrikaans hê ?”

,,Loeloeraai, ons is nog maar ’n tien twaalf jaar ernstig met ons eie taal aan die gang. Toe jy ingekom het, was ek en Vroutjie net aan’t gesels oor my eie diensie in daardie rigting. Jy was vriendelik genoeg om week vir week my bydragies te lees wat in ,,Die Burger” verskyn. Hoe maak ek om hulle aan die gang te hou solank as ons weg is ?”

,,Jy sal tyd hê om op pad te skryf,” sê Loeloeraai.

,,Om te skryf, ja. Maar hoe kry ek my manuskripte hier ? Ons gaan nou maar, soos jy sê, die nietige ou afstandjie wat vir ons van die maan skei. Maar tog – ons het nog geen posverkeer daarheen nie.”

,,Daar is geen stuk moeilikheid nie,” sê Loeloeraai. ,,Ek is nog gedurig in verbinding met Venus, wat ’n hele entjie verder is. Ek sal jou ’n draadlose telefooninstrumentjie gee om aan jou koerantmense te stuur. Dan dikteer jy maar week vir week jou artikels. En hulle sal sommer kan teruggesels ook, as jy nuuskierig is om van tyd tot tyd te verneem hoe die mense hier op die aarde sonder jou teenwoordigheid klaarkom.”

,,Loeloeraai,” sê ek, ,,dit sal gaan. Al moet my lesers dan in die tussentyd verlief neem dat my spelling verknoei word. Ek sal hulle van ons reis vertel. Die redaksie kan die reisverhaal onder ’n groot hoof laat verskyn – so iets omtrent ,Bekvelders na die Maan, van ons spesiale verteenwoordiger’.”

,,Nou ja, Ouman,” sê Vroutjie, ,,dan gaan jy nou dadelik sit en skryf en jy vertel die hele geskiedenis van die besoek van Loeloeraai van die begin af. ’n Mens vang nie ’n storie in die middel aan nie. En dan hiervandaan vorentoe hou jy hom maar net week vir week by der hand.”

En so het ek gemaak, en wat ek geskryf het, is die stukkies wat nou tot hier toe een vir een verskyn het.

Die tweede Vrydag in November het ons vertrek, die aand om nege-uur. Daar was niks om klaar te maak nie. ,,Wat het ons nodig ?” het Loeloeraai gevra. ,,Water en lug en warmte en lig en kos. Ek het van alles ’n oorvloed, in vorms wat julle natuurlik nie mee bekend is nie. Maar as julle nou darem nou en dan mag verlang na die dinge waar julle aan gewend is ...”

,,Na die vleispotte van Egipte,” val Engela, wat net by die voordeur ingekom het, in die rede . . .

,,Dankie, Engela . . . dan kan Lenie van haar lekker wors en biltong en soutribbetjies, en sê nou ’n klompie varsgeslagte pluimvee saamneem. Die gewig maak nie saak nie, solank as die kos en klerasie maar nie te veel ruimte in beslag neem nie, Engela. Ons sal met ons vyf in die sfeer wees, jy weet.”

Maar ons sou nie sommer so stilletjies wegsluip nie. Die Woensdag voor ons vertrek kom ,Die Burger’ aan met die volgende hoofartikel van die redaksie:


’N VERSOEK AAN LOELOERAAI


Ons betuig ons innige simpatie met ons geagte medewerker, Sagmoedige Neelsie. Vir ’n man van sy alombekende skromerige beskeidenheid moet die publieke aandag wat hy op die oomblik trek niks minder wees nie as pynlik. Maar juis die omvang en diepte van daardie aandag is ’n maatstaf van belange wat gewigtiger is as die private gevoelens van welke individu ook. Die oë van die beskaafde wêreld is op Oudtshoorn gevestig. Want Vrydag sal daar ’n gebeurtenis plaasvind wat letterlik sonder voorganger is in die ganse lange geskiedenis van die mensheid.

Ons bewoon ’n onbeduidende planeetjie wat met ’n geselskap van maters, die meerderheid waarvan reusagtig groter as hy is, om ’n onbeduidende ster in die rondte draai: ’n ster ’n miljoen maal groter as die balletjie waar ons op is. En deur ’n grenslose heelal gesaai is daar ’n tallose heirskaar van sulke sterre waaronder daar weer reuse is waarby ons s’n tot onbeduidende nietigheid verdwyn. Van watter huisgesinne van bewoonbare planete kan hulle nie die hoofde wees nie! En dan lyk ons stryd en strewe, ons luste en laste, ons ou plannetjies en oogmerkies vir ons so gewigtig. Waarom ? Omdat ons nog altyd, onder hierdie ontsaglike skare van hemelliggame, allenig was, vasgeboei aan ons ou stippeltjie in die ruimte, afgesluit van alle verkeer, van alle kennis, ja van alle moontlikheid van verbeelding van verbinding, met ons heelalgenote.

Nou, vir die eerste maal, het mense-oë die gedaante aanskou van ’n bewoner van ’n ander aarde. En aanstaande Vrydag, vir die eerste maal, sal vier van ons medemense hierdie aarde lewend verlaat om, al is dit vir ’n nietige afstandjie op die groot meetskaal wat ons nou in die oog het, maar tog om vir die eerste maal deur die boeie los te breek wat al wat stof is, besield of onbesield, deur die eeue heen hier onverbiddelik vasgeketting gehou het. Aan almal van ons is daardie reisgeselskappie so goed as persoonlik bekend: Neelsie, en sy Vroutjie, en Engela, en ons ou vriend, al verskil ons in die politiek, ons misleide maar agbare ou vriend, oom Stoffel Gieljam.

En tog kom aan die menslike vernuf nie toe die eer dat dit sý wetenskap is wat hom hierdie oorwinning laat behaal het oor die bande van sy omgewing nie. Wanneer ons peins oor die moontlikhede van ander wêreldbewoners dan kom voor ons gees die onvermydelike moontlikhede van ander trappe van aard en ontwikkeling. Ons dink aan die sport van wilde barbarisme vanwaar ons gestyg het . . . aan die sporte van die verre toekoms waar ons onbekende bestemming wie weet ons nageslag tot ’n bowemenslike hoogte sal voer waarteen vergelyk ons vandag min meer is as redelose diere. En al die hemelliggame is nie ewe oud nie; hoeveel verskil tussen skepsel en skepsel is daar nie reeds hier op ons aarde nie . . . daar sal minderes wees, gelykes, meerderes . . . ja, ons hoef nie daaroor te raai nie. Die een wat gekom het om met ons kennis te maak . . . waar staan ons teenoor Loeloeraai ?


,,In a boundless universe
Is boundless better, boundless worse.”

Ons lesers het kennis geneem van die paar woorde, hoewel hulle meer verberg as wat hulle openbaar, waarmee Loeloeraai aan die verteenwoordiger van die regering, ’n suggestie gegee het van die wetenskaplike hoogte waartoe sy volk gevorder is. Ons kennis moet vir hom lyk soos die dwaasheid van babetjies, ons wysheid soos die dwaasheid van sagsinniges. Dis alleen deur sy vriendelike beleefdheid dat ons nie sy skatting oor ons verneem het nie.

Maar selfs dan – die weinige wat ons behaal het – wat kos dit ons nie! Honderde, duisende jare van wanhopige worsteling, van folterende inspanning – die patetiese rondtasting van dolende blindes – in die gevoellose, roekelose leerskool van ’n strawwe rasondervinding; neerlaag op neerlaag, teleurstelling op teleurstelling. En nog vandag sukkel ons, hygend, struikelend, teen die swaar opdraend pad wat ons maar skaars begin het om te klim – mank en vermink van die martelaarswonde wat ons ontvang het.

Sy hoogte van kennis kan Loeloeraai ons nie meedeel nie. Sou óns ook aan ’n harige Ainu of ’n Andaman-eilander die teorie van Einstein kan uitlê ? Maar tog, hoeveel verder kan hy ons nie help nie ?

Loeloeraai – ons weet jy kom oor weinige weke weer hier aan om ons broers en susters by hulle tuiste terug te besorg. Maar dan gaan jy heen en jy sal nie weer terugkom nie. Het ook die bewoners van Venus ’n hart van liefde en medelye ? Jy het hier op ’n slagveld uitgekom; ’n slagveld van dooies en verminktes; self-verniel, ja, maar daarom te meer bejammerenswaardig. En onder hulle – want die aardse mensheid is darem nie so sleg nie, Loeloeraai – sien jy Samaritane wat wil troos en verpleeg. Maar hulle is onhandig; hulle geneesmiddels is ondoeltreffend; oor die slagveld lê ’n diepe duisternis.

Loeloeraai – ons behoort tog aan dieselfde familie. Jy kom nie daar gunter van die vreemde sterre af nie; jy is ’n deelgenoot met ons van dieselfde hoekie van die heelal, dieselfde ou sonnestelseltjie. Julle is nader as ons; julle het meer lig ontvang. Sal jy nie vir ons ’n straaltjie gun nie ? Dit sal niks van julle verblindende heerlikheid aftrek nie.”

,,Neelsie,” sê Loeloeraai – dit was die eerste maal wat hy my so genoem het – ,,Neelsie,” sê hy nadat hy hierdie artikel gelees het, ,,ek sal ’n boodskap laat vir die lesers van jou koerant.”

,,Dikteer, Loeloeraai – ek sal skryf.”