Loeloeraai/Aanhangsel
← Die Twee Susters | Loeloeraai Aanhangsel deur C. J. Langenhoven |
Aanhangsel
editLOELOERAAI
Inleiding
editTwee ander boeke waarin denkbeeldige reise na die Maan beskryf word, word aan die student aanbeveel - net maar om te lees, nie vir inspannende studie nie. Die een is van die beroemde Franse wetenskaplike romanskrywer van ’n vorige generasie, Jules Verne. In sy Reis na die Maan word die reisigers in ’n kanonkoeël daarheen geskiet. Daar is baie
wetenskaplike onjuisthede in die boek, maar dis gewoonlik maar by kleine besonderhede, en die verhaal is boeiend interessant. Goeie Hollandse en Engelse vertalings uit die Frans
is verkrygbaar; as dit moontlik is, moet die leerling liewer ’n Hollandse kry. In Loeloeraai is daar omtrent niks wat aan Jules Verne se boek ontleen is nie.
’n Meer moderne en hoër-staande boek is die Engelse van H. G. Wells, The First Men in the Moon. Wells se plan om sy reisigers oor die weg te kry, is die uitvindsel van ’n soort
metaalsaamstelling waardeur die swaartekrag afgesny word.
(Tussen hakies, so ’n uitvindsel is logies onmoontlik, want hy sou kon aangewend word om krag te skep uit niks.) Laat ons die bedoeling van Wells met sy denkbeeldige uitvindsel deur ’n voorbeeld duidelik maak. Lig gaan deur ’n vensterruit maar nie deur ’n blikplaat nie. Die een is vir hom deurskynend, die ander ondeurskynend. Maar vir die sogenoemde – verkeerde sogenoemde – ,,swaartekrag’’, waardeur ’n losgelate klip na die aarde terugval en waardeur die hemelligame in hulle bane gehou word, is niks ondeurdringbaar nie. Hy werk eners dwarsdeur die grootste massas soos deur die leë ruimte. Neem nou klip K wat ’n pond weeg, op ’n afstand van die Aarde, A:
Die klip, wat in die rigting van die pyltjie wil trek, sal ’n veerskaal tot op die merk van ’n pond aftrek. Skuif nou tussen die klip en die Aarde ’n groot rotsmassa M in wat duisende ton weeg. M sluit nie die aantrekking van die Aarde af soos hy ’n lig sou afsluit nie: die klip weeg nog altyd ’n pond. Ja, hy weeg nou so ’n effentjiese ietsie meer, want die ,,aantrekking’’ van M het by díe van A bygekom. Nou ja, Wells se idee was om M van so ’n soort stof te maak dat hy ondeurskynend is vir die aantrekking van A, sodat K sy gewig verloor.
Hierdie idee van Wells is, hoewel maar by implikasie en nie uitdruklik nie, in verband met die sfeer van Loeloeraai gevolg. Daarom sweef die reisigers los in die sfeer, want daar is niks om hulle na die een of ander van die sye van die sfeer aan te trek nie.
Daar is nog een ooreenkoms tussen Wells se boek en Loeloeraai, en dit is naamlik die holligheid van die Maan. Die veronderstelling is onwaarskynlik maar hy doen nie die
moontlikheid geweld aan nie, want die Maan is baie ligter as wat hy behoort te wees as hy ’n vaste rotsblok is – sy soortelike gewig is baie minder as die van die Aarde.
Behalwe in die twee genoemde opsigte is Loeloeraai niks aan Wells se boek verskuldig nie, en die plan en doel is glad anders. Wells se maanbevolking is uit die insekte ontwikkel (soos ons dan uit die ape!) en sy doel is om die beskawing van ’n organies-gespesialiseerde gemeenskap te beskryf. Loeloeraai se doel is om ’n tipe te beskryf van ’n hoër menslike beskawing op ons susterplaneet Venus.
Sterrekundige verhoudings
editIn ons verhaal het ons met drie hemelliggame te doen: die Aarde, die Maan, en Venus. Laat ons probeer om ’n algemene begrip te kry van hulle bewegings teenoor mekaar. Vir ons doel op die oomblik hoef ons uitleg maar baie eenvoudig en elementêr te wees.
Sovér as die heelal, na buitentoe beskou, vir ons aardse menslike waarneming toeganklik is, bestaan hy vernaamlik uit miljoene vlammende bolle wat lig en warmte deur die ruimte versprei. Hoewel hulle die laaste een in ewigdurende beweging is, wat deur die verfynde metodes van die sterrekundiges waarneembaar is, is hulle afstande so ontsaglik dat hulle vir ons gewone opmerking dieselfde patrone behou van jaar tot jaar en van generasie tot generasie: die sterrehemel lyk vir ons maar soos hy vir die eerste Farao’s gelyk het. Daarom noem ons hulle ,,Vaste’’ sterre. Een van hulle – een van daardie
vaste sterre – is so naby ons dat ons hom as ’n ronde skyf kan sien in plaas van as ’n blote ligpuntjie; en by wyse van onderskeiding, omdat hy deur sy nabyheid so groot en so belangrik is, noem ons hom die Son. (So naby is hy dat as ons hy dat as ons met ’n vliegtuig daarheen kon reis teen honderd myl in die uur, dit ons maar ’n bietjie meer as honderd jaar sou neem om daar aan te land.)
Om hierdie ster van ons, wat ons die Son noem, draai daar agt klein donker liggaampies. Net soos ons hier op die aarde ’n vlam of ’n gloeiende kool kan sien omdat hy self lig gee, so kan ons die Son en die ander Sterre sien. Maar ons kan ’n koue klip nie sien nie tensy daar van elders aflig op val, sonlig of kerslig of watter lig dan ook. En so sien ons hierdie agt liggaampies wat om die Son draai alleen maar omdat die Son op hulle skyn. Waarskynlik draai daar om die ander sterre wat daar vér is ook sulke liggaampies, maar hulle is dan oneindig te ver om waar te neem. Maar op die oomblik het ons met hulle niks te doen nie. Ons bepaal ons by die Son met sy trossie korreltjies.
Aan hierdie agt donker liggaampies het ons gesamelik die naam van ,planete’ gegee en aan elkeen van hulle sy besonderse eienaam. Van binne af (dit wil sê van die naaste aan die Son tot die vêrste) noem ons hulle Mercurius, Venus, die Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Hulle loop in wyer en wyer, byna ronde, kringe om die Son en elkeen behou sy kring.
Maar ons wil ons bepaal tot die twee waar ons op die oomblik mee te doen het – die twee op die tweede en derde kring van binne af. (Die kringe is natuurlik denkbeeldig, net soos
’n boog wat ’n mens op die papier sou trek om die baan van ’n koeël voor te stel.) Nou ja, dan stel ons op hierdie figuurtjie die bane van die Aarde en Venus voor. (Duidelikheidshalwe is ons figuurtjies nie volgens skaal getrek nie.)
Die Aarde draai om homself rond in die rigting van die kortgekrulde pyltjie, en hy loop om die Son in die rigting van die meer reguit pyl. (Omtrent soos 'n lemoen wat jy gooi en
met die gooi ’n draai aan gee.) Venus loop om haar kring in dieselfde rigting (of sy ook om haarself draai is glo nie heeltemal vasgestel nie. Soos dit lyk, is sy met ewigdurende wolkemassas bedek sodat daar nie duidelike vaste merke sigbaar is waardeur ’n mens kan oordeel soos in die geval van Mars en Jupiter en Saturnus nie).
Wanneer Venus in die posisie 1 is, dan is sy tussen ons en die Son en dan wys sy haar donker agterkant vir ons sodat ons haar glad nie kan sien nie, net soos ons die Nuwe Maan nie kan sien nie. Op ons figuurtjie het ons die Aarde voorgestel asof hy stilstaan, terwyl Venus aanhou. Natuurlik hulle hou albei aan, maar Venus gaan ons elke maal verby omdat sy haar kring in 225 dae omloop terwyl ons 365 dae daarvoor neem.
Wanneer Venus teenoor ons na die posisie 2 toe gaan, begin sy ’n ligte sekeltjie te wys, net soos die maan ’n paar dae na Nuwe Maan. Dan, met ons draai in ons eie rondte, soos die pyltjie wys, kry ons haar die eerste in die gesig en daarná eers die Son. Daar is sy dus ons Môrester. Daarvandaan word die sekeltjie ál dikker en dikker maar ook ál kleiner, want Venus gaan verder en verder van ons af weg, in die rigting van 3. Wanneer sy by die posisie 3 kom, wys sy haar volle ligte gesig na ons kant toe, maar dit help ons niks want die blinke Son is dan tussenin. Sy sit vir ons naby die Son aan die hemel,
net in die dag.
Maar daarvandaan kom sy anderkant-om terug en sy word weer ’n sekel of kressent wat ál dunner en dunner word. Maar sy kom ál nader en sy word ál blinker. En dan, met ons omdraai om ons eie ,,as’’ kry ons die Son die eerste in die gesig, Venus kom agterná, en ná sononder sien ons haar agter die son aan trek – sy is ons Aandster. Dan terug na die posisie 1 en dieselfde ondergang van veranderings word weer deurgeloop.
Die jonge leser sal nou maklik verstaan dat Venus nooit in die nag regoor ons kop kan wees nie. Want as ons regop kyk in die nag, kyk ons weg van die Son af na die buitekant van ons sirkel uit, in die buitenste duisternis in. Ons kan die verdere planete, van Mars tot Neptunus, daar sien, alle tye van die nag as hulle in daardie posisie op hulle kringe is, want hulle kringe is buitekant ons s’n. En so kan Venus ons Aarde, omdat ons omloopkring buitekant hare is, alle tye van die nag sien (as ons in daardie posisie teenoor mekaar staan). En wanneer sy in die posisie 1 is, tussen ons en die Son, juis op die
naaste, dan wys ons vir haar die heel nag deur ons volle gesig, net soos die Volle Maan vir ons skyn. Die Aarde moet heerlik skoon vertoon van Venus gesien. Venus is al vir ons, ten spyte van die nadelige verhouding, die skitterendste liggaam aan die hemeltrans, behalwe die Son en die Maan. En dit verklaar die bedoeling van die versie waarmee Loeloeraai sluit.
Die Maansveranderinge
editDie Volle Maan kom op met sonsondergang. Hy skyn die heel nag deur en die volgende oggend gaan hy onder met die Son se opkom. Daardie aand kom hy later op, en ál aande later en later – gemiddeld omtrent ’n driekwartier later elke slag – en sy ligte deel word kleiner en kleiner tot daar net ’n dun sekeltjie wys, en teen ’n veertien dae van Volle Maan af raak hy heeltemal weg, tot hy gelyk met sonop opkom; dan oor ’n dag of twee sien ons hom as ’n dun sekeltjie kort na sononder en so gaan hy later en later onder tot hy weer met sonop ondergaan en met sononder opkom en dis weer Volle Maan. Die groeiende Maan kom dus in die dag op, die afnemende Maan in die nag. Wat moet dan die bewegings van die Maan wees om hierdie vertonings te veroorsaak ?
Die uitleg is byna dieselfde as in die geval van Venus, buiten dat die Maan nie, soos Venus en soos die Aarde, in sy eie kring om die Son loop nie. Onderwyl die Aarde sy jaarkring omloop, en om homself draai om ons dag en nag te gee, loop die Maan om die Aarde. (Soos jy om ’n rondawel sou loop en jou hond al om en om jou sou hardloop - en dan moet jy álvoortgaande in die rondte wals.) Dus kom die Maan agtereenvolgens tussen ons en die Aarde en hy wys sy donker kant en hy is onsigbaar, en dan ’n ligte skyfie wat groter en groter word tot ons tussen hom en die Son is, en hy wys sy volle ligte kant en dis Volle Maan, en dan neem hy langsamerhand weer af. Aan die rigting waarin ons draai is dit duidelik waarom die afnemende Maan in die nag opkom en die groeiende Maan in die dag. Met behulp van die figuurtjie sal die jonge leser maklik die verhoudings vir homself kan uitwerk. Die leerling sal sien dat wanneer dit vir ons Volle Maan is, is dit vir die Maan ,,Nuwe Aarde’’ of donker Aarde, en omgekeerd.
Loeloeraai en sy geselskap het gereken om in tien dae die Maan te bereik en met Volle Maan daar aan te kom. Dus moes hulle kort ná Nuwemaan hiervandaan vertrek en in die teenoorgestelde rigting peil om by die Maan aan te land wanneer hy in die Volle Maan-posisie sou wees. As die student vir homself ’n tekeninkie wil maak kan hy sien dat die Aarde en die Maan vir die reisigers so moes vertoon het op pad soos in die boek beskryf word.
Toe hulle daar kom, het hulle deur die Maan gegaan tot by die denkbeeldige (en totaal onwaarskynlike) binnemaanse see.
(Die idee van hierdie see is miskien onbewustelik deur die skrywer ontleen aan Jules Verne se beskrywing van die reis in die ingewande van die Aarde in.) Die figuur wat hier volg, stel ’n seksie van die Maan voor om die deurreis te wys. Die Maan wys altyd dieselfde gesigkant na die Aarde toe. Toe Loeloeraai en sy geselskap daar weg is, by die opening uit, moes hulle natuurlik òm die Maan gaan, terug na die Aarde. Toe was dit al weer by Nuwemaan; die Aarde was van daardie rigting af ,,vol’’ en op die volle Aarde het hulle afgevlieg op die terugreis.
Persone
editDie skrywer bring kastig homself en sy vrou en dogter in as deelnemers aan die gebeurtenisse wat hy beskryf. Dit is natuurlik bloot om kleur en geloofbaarheid aan die verhaal te gee. Wanneer ’n mens ’n onmoontlike, ongelooflike storie het om te vertel, is die aangewese weg om met gewone dinge te begin en soveel alledaagse dingetjies, toneeltjies en voorvalletjies in te vleg as moontlik. Skrywers soos Poe en Verne en
Swift was meesters by die aanwending van hierdie plan.
Die karakterbeskrywing van die skrywer en sy huisgesin is natuurlik bloot denkbeeldig. Sy werklike, maar deur die dood verlore, hond Jakhals kom op ander plekke in sy geskrifte voor. Die olifant Herrie is oorgehou uit Sonde met die Bure. Hy is netso onwerkelik as ou Stoffel Gieljam (uit Doppers en Filistyne) en ou Watwo.
Voorwoord
editDie Voorwoord lê die motief van die boek bloot. Adam en Eva het die Paradys verloor omdat hulle nie gedeug het daar nie. Volgens die leer van die skrywer kan ons die paradys alleen herwin deur onsselwe en ons omgewing so te verédel, met kennis en deugsaamheid, dat ons van ons hele wêreld ’n Paradys maak. Sien wat Loeloeraai hieroor sê in hoofstuk VIII.
Loeloeraai se Boodskap
editOm ’n redenasie wat deur baie stappe heen na sy gevolgtrekking loop makliker te vat en beter te onthou, is dit altyd ’n goeie plan om daarvan ’n kort opsomming te maak sodat ons ’n algemene oorsig oor die geheel kry. Laat ons probeer om so ’n opsomming te maak van die argument van Loeloeraai in hoofstuk VIII. Die doel van die hoofstuk word in sy opskrif aangedui: ,,Twee Verowerings Nodig.’’ Watter twee verowerings dan ? Waarom is hulle nodig ? En wat sal hulle uitwerking wees ? Neem die stappe van die redenasie:
1. Daar word ’n beroep op Loeloeraai gedoen om die meerdere kennis en wetenskap van Venus aan die Aarde mee te deel. Aan hierdie beroep sou hy graag voldoen, want daar is
baie leed op die Aarde wat te wyte is aan onkunde. Om kennis mee te deel sou hom niks kos nie, en ook is hy dankbaarheid verskuldig vir die liefde wat hy hier ontvang het. Waarom weier hy dan ?
2. Alleen deur gehoorsaamheid aan die natuur word ons baas oor hom. Die natuur laat water afdraand loop. As ons ongehoorsaam is en ons wil die water opdraand uitlei om ons
lande te besproei, sal ons niks uitvoer nie. As ons van die afvloeiende water gebruik maak om ’n meulerad te draai, maak ons van ons baas ons kneg. Ons is rebelle, ons span ons koning in.
3. Die dooie stof het geen wil nie. Lewende wesens, soos diere en mense, het ’n wil. Hulle kan hulle dus verset teen die heerskappy van die natuur: die klip rol maar krans af, die dier klou vas of hy gee pad.
4. Maar as die lewe kan kies om ongehoorsaam te wees, waarom buk hy dan onder die sware juk van die natuur ? Alle lewe op aarde is een voortdurende stryd en lyding.
5. Om ons in sy slawerny te hou, stel die natuur nie van buite opsigters oor ons aan met swepe nie. Hy het ons van binne met tugmeesters voorsien. Hy laat ons swoeg om ons honger te versadig; hy laat ons dinge doen wat ons nie sou doen nie omdat hy in ons ’n vrees geplant het vir seerkry; hy dwing ons tot offerande uit liefde. Dus die lewe, met sy siel wat kan kies, is ook maar gehoorsaam net soos die dooie stof wat nie kan kies nie.
6. Hoe het die mens dan sovér gekom om ’n rebel te word teen die gesag van die natuur ? Hy het geleer wat die reëls van die speletjie is wat met hom gespeel word: hy het die ,,natuurwette’’ ontdek. Die natuurwetenskap gee heerskappy oor die natuur. Maar dit het die menslike geslag baie duisende jare geneem om vordering te maak met sy wetenskap. En ons is nog vandag maar by die begin van ons kennis.
7. Daardie kennis is nie vir ons present gegee nie. Al wat ons van die natuur weet, moes ons van geslag tot geslag met pynlike inspanning self ontdek.
8. Soveel kennis as wat ons behaal het, het op verre ná nie altyd tot ons geluk gelei nie. Deur aanwending van wetenskaplike kennis voorsien ons fabrieke in die behoeftes van die mensheid, maar wat is die toestand van die arbeiders wat daar werk ? In die oorlog gebruik ons die wetenskap om ons ewemens te verniel. As Loeloeraai dan aan ons verder kennis sou meedeel, kennis wat ons nie self verkry het nie, sou ons nie daar misbruik van maak nie ?
9. Om ons hoogste geluk te bereik het ons twee oorwinnings nodig. Ons moenie net die oorwinning oor die natuur behaal nie; ons moet die oorwinning oor onsselwe ook behaal. Ons moet ons diere-aard oorwin, nie alleen met mensevernuf en mensekennis nie, maar met mensediens en menseliefde soos Jesus ons geleer het. Ons karakter moet saam met ons wetenskap ontwikkel. En daarby kan die kennis van Loeloeraai ons nie help nie. Ons moet maar self die sware opdraand verder uitsukkel om op die hoogte te kom.