Loeloeraai/Afgesonderde lewe

Die afgronde in Loeloeraai
Afgesonderde lewe
deur C. J. Langenhoven
Vaarwel


Afgesonderde lewe

edit

,,Pappa, Pappa,” sê Engela en sy skud my, ,,kyk, daar begin groenigheid aan die kranse te wys!”

En werklik hier en daar sien ons mos op die gesig van die rotse. Ons sak nog maar al die tyd stadig. Die groen word al weelderiger en toe sien ons hier en daar watertjies drup en een plek by ’n draai om steek ’n takkie van ’n klimop uit.

,,Hsjt!” sê Loeloeraai, ,,luister daar.”

Dof van buite af hoor ons ’n gedreun nes van die see in die verte.

,,Wat beteken dit ?” vra ou Stoffel.

,,Dit moet ’n waterval wees, Oom.”

,,Ja, reg so,” sê Loeloeraai. ,,Maar dit beteken vir ons meer as net dit. Dat ons die geluid kan hoor beteken dat daar lug is. Ons is ’n honderd myl onder die oppervlakte van die maan. Die lug wat buite so dun is dat hy onbespeurbaar is, lê hier al baie lae op mekaar. Ons sal kan uitklim, Engela.”

,,As die bars maar so vriendelik wil wees om peilregaf aan te hou,” sê ek, ,,sodat die son tot onder kan skyn.”

,,Ons kan lig genoeg maak as dit nodig word,” sê Loeloeraai. ,,En hier word dit ook nodig.”

Meteens swaai die kloof skuinsweg. Loeloeraai slaan die elektriese lig aan. Agter ons was weldra die skynsel van bo af weg; voor ons in die diepte stikdonker nag. Die plantegroei had opgehou. Want hier kon nooit sonlig kom nie. Maar oral, soos die lig weerskante teen die kranse skyn, sien ons watertjies tap, tap, tap en een plek ’n hele straaltjie wat soos diamante voor ons venster blink en dan verbytrek boontoe met ons afdaal.

,,Hoe ver gaan jy, Loeloeraai ?” vra ou Stoffel.

,,Tot ons ergens uitkom – al was dit ook anderkant uit. Ons kan mos altyd dieselfde pad teruggaan. Ek sou sê ons kon ’n bietjie uitklim om weer vastigheid onder ons voete te voel, maar die kranse bly gelyk-af. Aha, hier loop ons bars toe.”

Onder ons loop die kante nouer en nouer tot daar geen plek is vir die sfeer om verder te gaan nie.

,,En nou ?”

,,Omdraai. Wat help dit om hier te vertoef?”

Op, op, op. En toe gril ons. Die kranse loop weer toe bokant ons. Met die styg moet ons ’n verkeerde sybarsie gevat het wat nie uitloop tot bo nie.

Weer af en weer op, dan hierdie hoek om, dan daardie – maar elke slag moet ons onder omdraai en dan moet ons weer bo omdraai.

Die volgende oggend kom ,,Die Burger” uit met die volgende berig: ,,Neelsie telefoneer dat die reisgeselskap in die doolgange van die maan verdwaal geraak het. Die sfeer trek al ure lank op en af en heen en weer, en miskien, wie weet, kry hulle nog ’n ope pad terug. Maar ons vrees daar is meer kans dat hulle verder en verder in die binnemaanse labirinte verdoold raak. In alle geval, hulle bly in kommunikasie met ons en alle berigte wat aankom sal onmiddellik deur spesiale uitgawes aan ons lesers meegedeel word.”

En redding was daar nergens nie. Ons was van alle hulp van ons medemense afgesny deur tweehonderd-en-veertig-duisend myl van ’n onbrugbare afgrond.

,,Ons het tyd om te soek, vriende,” sê Loeloeraai. ,,Op die allerergste het ons kos en water en lig genoeg tot daar redding kan opdaag. Net, as ons daarna moet wag, is ek baie jammer dat ek julle hierheen gebring het. Dit sal vervelig wees.”

,,Waar kan die hulp vandaan kom, Loeloeraai ?”

,,Van Venus af. Ons is mos altyd in verbinding met hulle. Maar dit sal op die beste, teen waar Venus nou op sy baan loop, ’n vier en ’n halfjaar duur voor die ondersoektog op die maan kan aanland. Maar ons is nou lank aan die gang. Laat ons ’n stukkie eet en dan slaap.”

,,Vriende,” sê Loeloeraai, ,,ontwaak, ontwaak. Julle het byna vier-en-twintig uur aaneen geslaap.”

,,O, Loeloeraai!” sê Engela, ,,jy het ons uit die donker doolhof in ’n hemel ingebring.”

Die sfeer het op die sand tot rus gekom aan die oewer van ’n meer waarin ’n entjie van ons af ’n kabbelende bekie tussen varings en blomme deur afrol om hom te ontlas. Statige bome groei in die rond; tussen hulle rys suile van stalagtiete wat in die hoogte verlore raak. Festoene van blomme is om hulle gevleg. Oor die toneel lê ’n sagte lig versprei; en van alle kante kom die geruis van vallende waters.

,,Dis veilig om uit te klim,” sê Loeloeraai. ,,Sien julle die voëls oor die meer rondvlieg ? Daar moet genoeg lug wees.”

En hy draai die skyf oop; hy spring uit en hy help ons een vir een uit.

,,Geluk, vriende,” sê hy. ,,Julle is die eerste mense om die bodem van die maan te betree.”

,,Die maan ?” vra Engela. ,,Het ons deurgegaan onderkant uit ? En hoe het jy die pad gekry ?”

,,Nee, Engela; ons is nog altyd binne in die maan in ’n ontsaglike grot. Ek het gesoek so lank as julle geslaap het.”

,,Ai, maar ’n mens beweeg jou hier maklik,” sê Engela. En sy spring, en sy spring ’n twintig voet in die lug op en dertig voet ver.

,,Ja, natuurlik,” sê Loeloeraai. ,,Op die oppervlakte van die maan is die swaartekrag maar ’n sesde van wat hy op die aarde is; in die middel is hy natuurlik nul – en ons is halfpad tot daar. Ons is ’n vyfhonderd myl diep.”

,,En waar kom die lig vandaan ?” vra ou Stoffel.

,,Dit moet gloeiende radium wees,” sê ek, ,,of een of ander elektriese verskynsel. Wat sê jy, Loeloeraai ?”

,,Verskoon my tog, my vriend Neelsie. Jy weet dat ek nie wetenskap gesels nie buiten die dinge wat jy net so goed weet as ek. Tussen hakies – is jy ’n plantkundige en dierkundige ? Hier is snaakse lewensvorms wat jy kan beskryf. Dit sal die aardse geleerdes baie interesseer.”

,,Nee, Loeloeraai. Op skool het hulle my woorde geleer in plaas van feite. Waarom het ons tog nie gesorg om ’n natuurkundige saam te bring nie ?”

,,Omdat daar nie vir nog ’n passasier plek was nie, Pappa. En omdat ons vir ’n vakansie gekom het en nie om ons hier met geleerdheid te laat belol nie. Kom ons loop rondom die meer. Net waar ’n mens kyk, net waar jy ’n hoekie omkom of ’n nuwe klofie inkyk, sien jy weer ’n ander skoonheid. Is dit nie ’n toorland nie ? Ons kon gerus maar hier gebly het...”

,,Ons kon, ja,” sê ou Stoffel skelmpies, ,,as ek Soetlief nie op die aarde agtergelaat het nie.”

,,Nee, Engela,” sê Loeloeraai, ,,ons moenie te ver van die sfeer af gaan nie. Daar kan gevaar wees.”

,,Watter gevaar dan, Loeloeraai ? Roofdiere ?”

,,Roofdiere sou nie groot saak maak nie, Engela. Maar vir al wat ons weet kan daar mense wees, of ’n ander vorm van redelike wesens. En as hulle miskien vyandig teen ons optree, sou ek hulle nie graag leed aandoen nie. Ons is oortreders hier – ons het nie reg om te kom verniel of om die bewoners kwalik te neem as hulle nie met ons teenwoordigheid gediend is nie.”

,,Hier sal nie mense wees nie,” sê ou Stoffel.

,,Wag, Lenie,” sê ou Stoffel; ,,gee tog vir my die vurk aan en bly jy doodstil sit. Ek sal die vleis omdraai. Hierdie maanse brandhout maak darem gawe kole. Enige dag net so goed soos Karoo-pruim.”

Ons sit almal tussen die varings aan die voet van ’n pilaar op die wal van ’n borrelende waterstroom wat met sy pêrels wedywer teen die diamante wat van die klip in duisende ligstippels glinster. ’n Hier ewig onbekende wasem van soutribbetjie meng met die geur van die blomme. Eén kant op die vuur staan ons keteltjie. Heeltemal ’n huislike toneeltjie. Solank as die kos aan die gaar word was, het ek aarde toe gesels.

Ek sit die telefoon neer met ’n sug.

,,Wat wil ,Die Burger’ nou weer hê ?” vra ou Stoffel.

,,Oom, hulle sê hulle is toegegooi van telegramme uit die ganse geleerde wêreld. Dieretuine, museums, wetenskaplike genootskappe, universiteite ...”

,,Kranksinnige gestigte,” vul Engela aan . . .

,,Stil Engela, almiskie ... almal wil hê ons moet noukeurige en volledige aantekenings en beskrywings maak van die dierelewe en plantelewe en die geologiese formasies en ek weet nie wat nog alles sien. Sien Oom nou kans om daardie groen voël te beskryf wat daar op Vroutjie se skouer kom sit het, of die goudglansende skoenlapper met vlerke van twee voet lank wat daar op die wawiel-blom gaan sit ? Hoe lank het dit al die geleerde mense op aarde se verenigde inspanning gekos voordat hulle tot rangskikking van plante en diere gevorder het ? Moet ons wat ongeleerd is in ’n paar weke al hierdie lewensvorme klassifiseer ? En sonder klassifikasie, hoe maak ’n mens ’n beskrywing ?”

,,Neelsie,” sê oom Stoffel, ,,my grote ontsag wat ek vir jou geleerdheid gehad het begin te verminder. ’n Takhaar soos ek – nou ja, hy’s ’n takhaar. Jy verwag niks van hom nie buiten gesonde verstand. Maar jy is nou die eerste geleerde man om hier op die maan aan te land – en soos dit vir my lyk die laaste. En jy kan nie eens die rente op jou verpligting aansuiwer – om nie van die kapitaal te praat nie. Wat sal jou kollegas sê as jy op die aarde terugkom sonder rekenskap ?”

,,Oom Stoffel, hulle sal ons almal uitmekaar skeur. Maar dit help nou eenmaal niks. Ons is nes ’n klomp doofstom mense op ’n konsert, wat gevra word om die musiek te beskrywe.

,,Oom Stoffel, jy het die opmerking gemaak dat daar nie mense hier kan wees nie omdat ons nie bouwerke of paaie hier sien nie. As hier ook redelike wesens was – of is – dan sou hulle geen wonings nodig hê lyk dit nie. Hier in die grot kan daar geen wind of reën kom nie . . .”

Engela val my in die rede. ,,Pappa, en waar kom die waterstrome dan vandaan ?”

,,Engela, ek dog dan jy wil nie ons verblyf hier bederwe met natuurwetenskap nie ? En ek dink jy het gelyk. Maar om te vervat – het jy opgelet, oom Stoffel, dat ons nog al die tyd nie een lopende of kruipende dier hier gesien het nie ? Al wat ons aangetref het, vlieg. En vlie is ook die hoogste vorm van beweging. Maar op groter liggame soos die aarde . . .”

,,Wat van Venus, Loeloeraai ?” vra Engela . . .

,,Ag, Engela, tog!” sê Vroutjie.

,,Op groter liggame,” gaan ek voort, ,,kan die vermoë om te vlie nie hoog ontwikkel nie. Deur die hewige swaartekrag wat oorwin moet word, kan alleen klein diertjies vlieg – nie volstruise byvoorbeeld nie. En dan geskied dit teen so ’n hoë prys van fisiologiese energie dat ontwikkeling in ander rigtings gestrem word. Maar hier op die maan het Engela ons gewys dat sy al byna kan vlie sonder vlerke.”

,,Ja, Pappa, en kyk hoe ver ek gister nie geswem het nie – seker ’n vier myl en ek het niks moeg geword nie.”

,,Sy het in die Kaap ’n paar swemlesse geneem, Loeloeraai,” sê Vroutjie met ’n glimlag.

,,En toe drie tree op haar rug kon vorder,” sê ek.

,,Meisiemense behoort glad nie toegelaat te word om te swem nie,” sê ou Stoffel. ,,As hulle swem, swem hulle nooit alleen nie.”

,,En as ons met julle saamswem, swem julle ook nie alleen nie,” sê sy.

,,Juistement,” antwoord ou Stoffel. ,,Dis my klagte. Maar ons was besig om te gesels toe ons in die rede geval is.”

,,Wat daar te sê is, Stoffel,” kom Loeloeraai tussenin, ,,kan nie veel werd wees nie. Ons mense van Venus het verleer om te raai. Maar om nou darem ons verbeelding hier te laat werk waar ons inligting kortkom – Kerneels wou opgemerk het dat mense hier op die maan, of in die maan, maar klein vlerkies sou nodig hê. En as hulle dit had, sou hulle nie paaie trap op die grond nie. Regtigwaar, Lenie, maar die ribbetjies ruik darem heerlik. Ná al die generasies van sintetiese voedsel op Venus – ja, Engela, daardie vleistablette wat ek vir julle voorsit, is skone bedrog – kom my roofdierlike oer-instinkte nog maar boontoe.”

,,Swart koffie, mense,” sê ek. ,,Dis togkos die. Moenie suiker of melk bygooi nie, Vroutjie.”

En toe eet ons maar. Daar was nie so iets as gesels by so ’n maaltyd nie. Toe ons klaar was en die gereedskap gewas en weer weggepak, vervat Loeloeraai die gesprek.

,,Ek voel skaam,” sê hy. ,,Hier op die onbeduidende ou maantjie verteenwoordig ons nou die hoëre moederwêrelde. Ons kom hier as meerderes. En wat het ons gedoen ? Heiligskennis gepleeg. Ons is niks beter nie as vandale, slange in die paradys.”

,,Wat het ons dan verkeerd gedoen, Loeloeraai ?”

,,Ons het hier gekom nes die wilde kannibale wat Robinson Crusoe se eiland besoek het.” (Loeloeraai het verbasend baie gelees in die tydjie wat hy daarvoor had.) ,,Dit lyk my baie hier is vandag in die geskiedenis van die maan die eerste vleis wat van ’n lewende, besielde organisme kom, verslind.”

,,Waarvan leef al hierdie diere, reken jy, Loeloeraai ?”

,,Van die groenigheid. Van blare en vrugte en die suiker van die blomme. Daar is geen roofdier en geen prooi hier nie.”

,,Waaruit lei jy dit dan af, Loeloeraai ?”

,,Het jy opgemerk, Kerneels, dat geen lewende ding ons hier ontvlug nie ? Die voëls en die insekte kom op ons skouers en op ons knieë sit. Kyk hoe geniet daar die dingetjie wat ek maar ’n papegaai sal noem, Engela se liefkosing. Ons het nog nie ’n lewende ding hier aangetref wat van vrees weet nie. En op die aarde ? Julle sal dit honderdmaal beter opgemerk het as ek. Wanneer jy ’n dier op sy gelukkigste sien – die bokkie wat ’n nuwe weelderige weiplek aangetref het, die duifie wat vir sy maat so soet en liefies koekroekoe: almal van hulle is altyd aan’t rondkyk of daar nie ’n vyand nader nie. Die aarde word geregeer onder ’n wrede skrikbewind. En die grootste roofdier van almal is die hoogste van almal – die mens.”

,,Loeloeraai,” sê Vroutjie, ,,jy laat ons baie klein voel.”

,,Nee, Lenie.” En hy sit sy hand op hare soos ’n ou man met ’n kind sou doen. ,,Daar is ’n onverbiddelike prys vir al wat verwerf word; daar is tolgeld op die pad na elke bestemming; daar is ’n opdraand na elke hoogte. Kerneels en Stoffel het hier geredeneer of daar menslike of vernuftige wesens hier kan wees. Hoe kan dit wees ? Die paradys moes sy boom van die dood hê en sy boom van die lewe. Die prys van ontwikkeling is oneindige pyn en lyding.”

,,Dis vreeslik, Loeloeraai,” sê ek. ,,Dan is daar maar twee weë ? Geluk sonder vooruitgang of adel ten koste van ellende ? ’n Paradys vir diere, ’n Golgota vir geeste ?”

,,Daar is twee paradyse, Kerneels. Daar is nog die één voor: die één wat jou eie is, wat jy waardeer omdat jy hom verdien het.”

,,Maar selfs hier, Loeloeraai – hoe kan hierdie lewenstaat bestendig wees sonder stryd en dood ? Nie alleen moet hierdie plantetende diere so vermenigvuldig, as hulle nie roofvyande het, dat hulle die plantelewe totaal sal verdelg nie, maar hulle wedywer teen mekaar sal hulle tot onderlinge vyande maak.”

,,Miskien het hulle tot die punt ontwikkel waar alleen die onsterflikes oorgebly het en die voortplanting opgehou het. In alle geval het ons hier die uiteindelike langslewendes van ’n sterwende wêreld. Die lewe het gekrimp soos die lewensgeleenthede gekrimp het. Water en lug en warmte en lewe is teruggetrek tot in die ingewande van ’n liggaam wat van buite dood is. En nog gedurig word die oorblyfsel van lewenshulpbronne minder en minder. Die atome van water en lug raak nog gestadig weg deurdat die swaartekrag nie genoeg is om hulle te hou nie. Ons het hier gekom op die laaste stadium voor die uiteindelike ondergang.”

,,En al die lewe gedoem tot vernietiging! Is dit dan maar onvermydelik ? Is daar geen uitweg nie ? Loop elke paadjie dan maar dood ? Is daar geen redding nie ?”

,,Geen redding nie, Kerneels ? Nie vir die slawe van die paradys nie! Maar daar is onbeperkte moontlikhede van heerskappy. Ons begin nog maar ons mensetroon te bestyg – en hier sit ons, bewoners van ander planete – op die maan. Jupiter is jonk – nog nie bewoonbaar nie. Maar hy is aan’t koud word soos die aarde en Venus koud geword het . . . Vergeef my, Lenie en Engela. Ek moenie my gaste se piekniek met wysbegeerte bederwe nie.”

,,Nee, nee, Loeloeraai. Gaan tog voort,” sê Vroutjie.

,Jy maak altyd met ons nes ons klein babetjies is,” sê Engela.

,,Nou ja,” sê Loeloeraai. ,,Ek is dankbaar dat julle verlief geneem het. Maar dis tyd om te slaap. As ons wakker word, sal ons deur die grot vaar met ons sfeer om te ondersoek. Ons is mos darem nie van plan om ons lewe hier te verslyt nie.”

,,Hoe so ?”

,,Ons weet nog net so min van ’n uitweg as toe ons daar in die barste verdwaal was. En weet julle ons is al agt dae in die maan. Ons wou maar net bly tot nuwe maan om na ’n volle blinke aarde terug te snel.”

En waar ons daar was, het ons op ’n bed van blomme aan die slaap geraak, gesus deur die gegons van vlinders, die gesang van voëls, en die geruis van die waters.