Loeloeraai/Voorwoord
←Toewyding | Loeloeraai Voorwoord deur C. J. Langenhoven |
Twee besoekers→ |
Voorwoord
editVer deur die wilde woesteny het die teergevoelige engel gekom. Hy was diep bedroef oor die moorddadigheid en die roofsug en selfsug en roekelose wreedheid wat daar heers. En sy hart was baie seer van medelye. Want in die wilde bosse en tussen die ongediertes het hy ’n man en ’n vrou gekry, verstote, hulpeloos, ellendig.
Eindelik sien hy van ’n hoogte af ’n lushof waar daar vrede was en oorvloed en geluk. En hy haas hom daarheen om te ondersoek of hy nie die arme ongelukkige mensepaar kon gaan haal en daar inbring nie. Hy kom by ’n ondeurdringbare doringomheining. Hy loop daarlanges tot hy ’n ingang kry aan die ooste.
Die poort was oop, maar weerskante staan ’n skildwag, kalm, gevoelloos, onverbiddelik. En tussen hulle, soos ’n kolossale omgekeerde pendule, swaai ’n swaard heen en weer van die een pilaar tot die ander. En met sy swaai flikker hy soos vlammende bliksems.
,,Daarbuite in die wildernis is twee ongelukkiges,” sê die engel aan die poortwaarders. ,,Kan ek hulle gaan haal en hier inbring ?”
,,Hulle wás hier,” was die antwoord. ,,Hulle het nie gedeug nie. ’n Tweede proef is oorbodig. Hulle moet wag tot hulle genoeg wysheid en vernuf geleer het om hierdie swaard opsy te druk. Dan sal ons hulle weer laat ingaan. En dan sal hulle daarbinne deug.”