Oom Gert vertel en ander gedigte/'n Praatjie oor die Trougees

Die Apie Oom Gert vertel en ander gedigte
'n Praatjie oor die Trougees
deur C. Louis Leipoldt
Slampamperliedjies


'n Praatjie oor die Trougees.

Akeldissie, waarom trou jy nie?
       Mame wil nie hê nie!

Lokasieliedjie.

Ag, akeldissie, as jy eenmaal weet,
       Wat 'n getroude mens het uit te staan,
       Hoe hy moet spartel, hoe hy rond moet slaan,
Om deur te kom, moet worstel, dan sal jy
Nie so voorbarig praat nie, glo vir my!

Ag, akeldissie, man, die wêreld weet—
       Die wêreld, wat 'n mens so gadeslaan!—
       Wat man en vrou tesame uit moet staan;
En jy weet niks daarvan; ja, glo vir my,
Dis beter, nie te trou, en tuis te bly.

Jy gaan so teen jou ma tekeer; jy sweet
       Van stoutheid en astrantheid; jy wil gaan
       Met vroumense op reis nou na die maan;
Jy wil gaan trou, wil kinders hê en vry:
Maar dink, oormôre, wil jy sieto skei!

Ag, akeldissie, jong, jou mame weet
       Meer van vroumense af, as jy verstaan;
       Sy wil jou nie sien spartel en vergaan,
Net om 'n meisie, waar jy na gaan vry:
'n Vroumens is astrant, ja glo vir my!

Bly liewers tuis, ou kêrel. As jy meet
       Die jonkmanskap teenoor die huweliksbaan,
       Dan sien jy tog, hoe sleg die maat moet gaan
Vir man en vrou; hoor dus na my en bly
Maar tjoepstil tuis, en laat jou ma jou lei.

Wat wil jy met die meisies? As jy eet,
       Is daar genoeg vir een: wat nou gedaan,
       As jy 'n vrou het, kinders ook? Vergaan
Van honger? Nee, ou jong, jy moet maar bly
Stil by jou mame, vrolik aan haar sy.

Ag, akeldissie, het 'n vrou jou beet?
       Kêrel, ek voel vir jou, ek stort 'n traan!
       Hoe kon jy ooit so iets, ou man, begaan?
Jou hart is mos jou eie: laat dit bly;
Vry na jou mame, as jy tog moet vry!

Akeldissie aan My:



Ag ja, Tweebene, ek sit in die klem,
Vas in die ou slagyster van 'n vrou!
Haar mondjie, man, dit is so rooi as bloed;
Haar hare, man, dit is so swart as roet;
Haar stemmetjie as wind, wat oor die baai
Die soetste deuntjie fluister, as dit waai;
Haar ogies net soos sterretjies so mooi;
Haar wangetjies as kersies net so rooi;
Haar tandjies, as my eie, net so wit
As seesand of 'n appelkoos se pit:
Sy is die mooiste meisie op die veld;
Sy het ook, soos ek hoor, 'n bietjie geld:
Nou het jy alles, man; ek moet gaan trou,
Al hou jy my ook agter met 'n rem!

Jy praat, Tweebene, net asof jy dwars
Deur heel die formulier gekruip het. Jy—
Wat weet jyself van meisies, van 'n vrou?
Jy is mos nie 'n vent, van wie hul hou;
Jyself het mos 'n meisie nooit gesoen—
Ek het dit duisend male al gedoen!
Jy weet niks van die pret. Verbeel jou maar,
Jy het in een minuut so opgegaar
Die ganse pret van heel die wêreld: dan
Weet jy nog niks, of amper niks, daarvan!
Laat staan maar, man, al jou bangmakery:
Jy praat my tog nie om, selfs as jy bars!

My hele twis met mame is maar dit:
Ek wil gaan trou en mame wil nie ja sê.
My meisie is kordaat; ons is geskik
Een vir die ander; nie te arm; en ek
Het ook 'n bietjie oulappe gespaar
Om bruilofsfees te vier op Nuwejaar.
Die kinders is nog in die verte, man:
'n Mens hoef nie so vroeg hom in te span!
En honger ly? Nou ja, dit kan ek ly,
As sy maar by my is en aan my sy!
En as my kinders later vir my pa sê,
Sal op die klippers tog nog vliegies sit.

Akeldissie se Mame aan ons al twee:



Wat praat julle die liewe lange dag,
       Wat wil jy hier vir Dissie wysmaak, jy
       Tweebene? Affronteer jy nog vir my,
En staan vrygeestig ginnegaap en lag?

Ek is sy ma! Ek wil nie, dat hy trou:
       Hy is nog nie agter die ore droog;
       En ek is nog sy mame en sy voog!
Wat moet hy weet van kinders en 'n vrou?

Tweebene, dink jy nou, dat dit betaam
       Om met 'n kind soos Dissie oor die saak
       Te sanik? Is dit iets, wat jou moet raak?
Vervlaks, Tweebene! Man, jy moet jou skaam!

Ek bring my kinders op in sedigheid:
       Hul het van sulke sake nie te weet!
       En Dissie moet maar al jou praat vergeet,
Want as hy groter word, is daar nog tyd.

Nou moet hy maar die nonsens uit sy kop
       Glad uitveeg. Hoor jy, Dissie, wat ek sê?
       Ek wil geen koppigheid en nukkies hê:
Ek weet, die vroumense die sal jou fop.

Jy is so onnosel, Dissie! Elke meid
       Kan jou net vir 'n appel en 'n ei
       Laat bokspring na die maan, en dis vir my
'n Teken weer van jou wysneusigheid.

As jou oorlede pa nog hier was, dan
       Sal hy jou goed die kop gewas het. Nou
       Dink jy, dat jy kan kinders kry en trou—
Ja waarlik, soos 'n opgegroeide man!

En jy, Tweebene, styf hom in sy nuk:
       Jy praat met hom oor dinge, wat 'n kind
       Glad nie verstaan nie. Dissie is nog blind,
En moet gehoorsaam wees, en moet maar buk.

Ek sê vir jou, daar kom niks van! Hy trou?
       Hy, half onnosel nog, hy kinders kry?
       Hy bruilof vier om later weer te skei?
Vir my 'n skoondogter, vir hom 'n vrou?

Nee, glo vir my, jy het dit mis! Ek sweer,
       Daar kom niks van nie! Dissie, jy bly hier;
       Jou meisie kan met iemand anders vier
Haar bruilof; jy het nog te veel te leer.

'n Jaar later.



Ek was weer op die veld, en die son het so mooi
Goud, silwer en goud, oor die klippe gestrooi;
Die wind het weer lekker die bossies geswaai,
En fluks oor die geil afrikaners gewaai;
Die lug was so helder, so soet en so blou;
Die hele veldwêreld was weer uit die rou;
En orals was blommetjies, orals was groen;
Die gras en die grond het die son weer gesoen;
Daar onder, daar waar die oliewenboom staan,
Het vinke hul neste gebou; en die graan
Was hoog in die koringveld, groen as die see;
En ver in die vlakte was skape en vee:
En ek was gekom om te vra, of miskien
Ek Dissie of Dissie se mame kon sien.

Ek het by die klippe gestaan, en geskreeu
In vlot akeldissietaal toe vir die twee;
En daar het 'n klein akeldissie gekom
Gekruip uit sy skeur. En ek vra toe vir hom:
"Waar 's Dissie? Ek glo mos, dis Dissie se huis.
Is hy, of miskien mevrou Dissie nou tuis?"
Die kleintjie, die kyk my onnosel oorheen,
En slaan met sy stertjie so fluks teen sy been,
En sê toe verleë: "Ouseur, ek sal vra,
As ouseur 'n oomblikkie wag, vir my ma."
Daarmee gaan hy weer soos die blits in sy skeur,
En een-twee-drie later toe kruip hy daardeur,
En agter hom kom Akeldissie se vrou:
Die vent het—ja regtig, dis waar!—mos getrou,
En daar was vyf kinders! Ek moes toe ook praat,
Met klein mevrou Dissie gesels, ja tot laat,
Tot Dissie toe self—hy was uit op die jag—
Terug het gekom; dit was diep in die nag.
En toe het ou Dissie my alles vertel;
En die hele geskiednis voor oë gestel.
"Die ergste van alles,"—so sê hy vir my—
"Die ergste van alles, waaronder ek ly,
Is dat ons so oud worde, ek en my vrou:
Ons oudste seun wil al—verbeel jou—ook trou!"