Oom Gert vertel en ander gedigte/Die Verkleurmannetjie

In ou Booi se Pondok Oom Gert vertel en ander gedigte
Die Verkleurmannetjie
deur C. Louis Leipoldt
'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie


Die Verkleurmannetjie.

edit

Daar op die vyboom sit die vabond,
       So sedig as 'n predikant;
Maar glo tog nie, dat hy so vroom is:
       Nee, regtig nie, hy is astrant!

As jy hom aanraak, dan verkleur hy,
       Geel, rooi, grys, bruin, en blou en groen;
En al sy vel blink soos die skulpies
       Se binnekant met perlemoen.

So teemrig sit hy op sy takkie
       Die muggies met sy tong te vang.
En met sy ronde oë maak hy
       Die spinnekoppe algar bang.

Hy draai sy nek soos 'n toktokkie,
       Of soos 'n papie uit die klei,
En kyk so sedig na die vliegies,
       As hy die goed nie beet kan kry.

Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!
       Jy gaan jou lewe deur so mooi;
jy steur jou nie, aan wat die mense
       So praat of skinder en flikflooi.

Jy steun op niemand nie, kleurklasie,
       Net op jou takkie en jou tong:
Verkleur maar môre net soos gister;
       En as jy oud word, bly nog jong!