Oom Gert vertel en ander gedigte/Op 'n Leiklip

Japie Oom Gert vertel en ander gedigte
Op 'n Leiklip
deur C. Louis Leipoldt
Op my ou Karoo


Op 'n Leiklip.


Hier onder die leiklip, daar rus (as hy rus:
Want wie weet, of waarlik die dood ons kan sus?)
My arme ou Vonk—en tog, arm is hy nie:
Hy het, wat hy wil: wie dit teenspreek, die lie.
Vir my was hy meer as 'n halfduisend pond,
As kind of as kneg—ja, al was hy 'n hond:
Ek het mos geen kneg nie, en ook nie 'n kind,
En Vonk was vir jare my beste ou vrind.
Hy het altyd gehelp, hy was altyd ook klaar,
Vir die grootste plesier, in die naarste gevaar.
Oordag het hy met my die veld rondgeloop,
En miskien nog 'n hasie geja op die koop.
In die aand het hy stil by die vuurherd gelê,
En ek het hom my hope en wense gesê:
Ons het same gepraat—ja, tot laat in die nag,
Tot die môrester daar was en amper die dag.
Was dit goed vir ou Vonk, dan verlaat hy sy plek
En kom staan by my stoel om my hande te lek:
Daarby het hy altyd gemeen: "Ek verstaan,
Baas, al wat jy sê, en ek laat dit begaan."

Hier onder die leiklip, daar slaap (as hy slaap:
Is die dood maar 'n droom, wat 'n dier op kan raap?)
My liewe ou Vonk—want ek het hom nog lief!
My hart het hy gou weggesteel, as 'n dief;
Maar hy het my syne gegee—en ek vra,
Of 'n mens, soos die dier, so 'n ruil het gewa!
Ons harte is vol van gemors en verdriet,
En as steun in die lewe is hul maar 'n riet;
Maar die hart van ou Vonk was die hart van 'n kind—
En jy het hom vir my gegee, my ou vrind!
Ons het same die wêreld, hoe groot dit ook is,
Deurkruis; ons het same geniet en gemis;
En jy was vir my meer as kind of as kneg.
En nou is die wêreld weer leeg, wat jy 's weg—
Ek weet nie waarheen nie! Miskien is dit waar:
Soos rook in die lug gaan 'n mens uitmekaar,
En nog baie gouer 'n hond na die dood.
Jy het my die hand gegee, jy met jou poot;
Jy het my gesoen; ons het same gepraat:
En ek glo aan jou spook, Vonk, my liewe ou maat!

Hier onder die leiklip lê jy in jou graf:
Dis al, wat ek weet—want ons gissing is kaf.
Jy 's dood: dit staan vas, want ekself het jou hier
Begrawe, en sonder gebed, want 'n dier
Het tog nie 'n siel nie—so sê outa Kees:
Hy weet, want hy het mos diaken gewees,
En op eie houtjie die bidstond gelei
Daar bo in die sendingkerk. Ja, maar vir my,
(Al is dit nou sonde, waarvoor ek moet vrees!)
Het jy baie meer van 'n siel as ou Kees;
Jou oë was altyd so diep as die lug,
So hel as die hemel, so sag as 'n sug:
En agter die oë, daar lê tog verstand;
En agter verstand staan 'n siel by die hand—
'n Siel, wat nie somaar in niks nie verdwyn,
Of somaarso stiltjies in wolke verkwyn.

Jy 's dood—wat ons dood noem, wie weet wat dit is?
'n Slaap of 'n droom? Ag, 'n mens kan maar gis:
En dit is die moeite nie werd nie, want jy
Is altyd, ja altyd, my ou maat vir my.