Oom Gert vertel en ander gedigte/Woltemade se Spook

Die ou Blikkie Oom Gert vertel en ander gedigte
Woltemade se Spook
deur C. Louis Leipoldt
Lenteliedjie


Woltemade se Spook.

"Hier agter troon die Duiwelskop;
        Ou Tafelberg is vlak daarnaas—
'n Egte tafelklip, waarop
        Die seedons afdaal as 'n waas,
Nog witter as renosterrook,
Nog dunner as die jongste spook.

Die onderdeur staan ope nou,
        Al is die naglug nog so koud,
Al is die water nog so rou,
        Al glans die weerlig bont as goud:
Die seelug is mos nie 'n dief—
Ek hou van hom, ek het hom lief!

My kers is amper uitgebrand:
        Dit kwyn nog net 'n vlammetjie;
Ek het 'n snuiter by die hand—
        Die ouderwetse ding, hierdie;
Maar ek wil maar die kers laat staan:
Dit kan nog meeding met die maan—

Die maan, wat deur die wolke loop
        Soos 'n fisant deur ruigtegras—
Nou vol, dan halfpad oorgedoop
        Deur wolke, dan weer in die kas;
Nou skemer oor die strand, dan swart,
Stikdonker skadu, koud en hard.

Geen ster skyn deur die vensters hier;
        Geen mot vlieg om my kersievlam;
Geen gogga gons of maak getier;
        Ja, selfs die wind se stem is lam:
Die hele nag het dit gedreun,
Die hele aandlang deur gekreun.

Dof slaan die see daar oor die sand,
        Eentonig oor die klippers weg;
Die seegras strooi die hele strand,
        Waar skuim nog met die skulpe veg—
Grys as 'n blinde man se oog,
En troebel as 'n emmer loog.

Hier binne gooi my kers se skyn
        Groot skadu-spoke teen die muur,
Wat flikker, fladder en verkwyn
        Soos spinnekoppe in 'n skuur;
En hoog daar bo, daar by die dak,
Waai vlaggies van vuil spinnerak.

Nou luister maar: daar hoor jy raas,
        Sag as 'n muis, wat bruidskoek kna,
Of vir sy maters in 'n kaas
        Trakteer, op wat hul weg kan dra.
'n Dof geritsel by die deur—
Iets koddigs nou kan jy bespeur:

'n Voetstap op die stoep; 'n ding,
        Wat sagter as 'n blootvoet kind,
Dwars rondloop as 'n vreemdeling,
        So vinnig amper as die wind—
Wat skielik in die duister blink,
En dowwer oor die drumpel klink;

Iets, wat jy nie met oë kyk;
        Iets, wat jy nie met vingers vat;
Wat deur die hele kamer reik,
        Wat kruip so deur die sleutelgat—
Miskien 'n bietjie mis of rook,
Of Wolraad Woltemaad se spook!

Jy sien hom nie; jy voel maar glo
        Die yskoud lug, waarin hy gly!
Die spinnekoppe spartel so,
        Asof hul bewerasie kry;
Die kat krimp weg, sy rug is krom;
Die hond die huil; die wind is stom!

En elke nag teen middernag,
        Dan ry die yskoud spook op land,
En kuier op die strand, en wag
        Sy lewe, wat die see as pand
Moet hou, totdat die eerste slag
Geslaan word op die laaste dag.

En as hy oor die drumpel waai
        En inkrimp in jou huis, dan kreun
Die ou skarniere, en dan swaai
        Die onderdeur; 'n dof gedreun
Klink in jou ore, want dis ook
Die koms van Woltemaad se spook!

Jy moenie daarvoor bang wees nie:
        'n Spook het mos geen been of murg:
Wat kan hy kwaad doen, of vir wie
        Kan hy so goedsmoeds dood verwurg?
Nee, glo nie, hy sal rusie stook!
Hy is mos Woltemaad se spook!

Hy kom net om die strand te sien,
        Waar eenmaal hy 'n heldestreek
Begaan het om die Plig te dien.
        Verbeel jou, hy is dood en bleek:
Hy kan jou nie moveer, en jy
Moet trots wees op sy koms en bly.

Net goeie mense sien sy spook!
        As jy miskien op sterwe lê,
Gewaar jy hom as gryswit rook,
        Waaruit 'n stem klink sag, en sê:
(Al dink jy ook, dis maar die wind)
"Kom saam met my; kom huis toe, vrind!"

Al is jy goed of goddeloos,
        Sit net maar stil alleen en wag;
Alleen, met twak en tonteldoos,
        Gewaar jy hom op middernag—
Nie met jou oog, nie met jou hand:
Net met jou siel en jou verstand.

Gevoel—alleen aan dit gewoon,
        Kan jy vir Woltemade sien:
Het jy dan ook gevoel nie, loon
        Dit jou niks, want jy word miskien
So vaak en teemrig, dat jy gaap,
En netnou sluimer vas aan slaap.

Dan droom jy, Woltemade kom
        Net soos Klaas Vakie deur die dak
Of skoorsteen—want 'n spook is dom
        En gee nie om die spinnerak—
En as jy slaap, dan bo jou kop
Lê hy sy koue hande op

Dan skrik jy wakker en kyk rond:
        Die kersie gluur nog om die pit,
Die skadu flikker oor die grond,
        Die sterre en die maan skyn wit,
Jy hoor nie eers 'n kreun of sug,
Jy voel net maar die yskoud lug;

Maar in jou kamer, by jou bed,
        Daar het sy spook gestaan, en hy
Het op jou in jou slaap gelet;
        Oor jou sy hande uitgesprei:
"Ek het my plig gedoen, gegee
My lewe aan ons Moedersee.

"Ek het my plig gedoen; en jy,
        Jy, wat so sedig droom en gaap—
Wat het ons land van jou gekry?
        Het jy gewerk of net geslaap?
Jou lewe, was dit werk of rook,
'n Droom—soos Woltemaad se spook?"