Afrikaner-Volkseenheid/Die Heropbou

Generaal Hertzog en Ek Verklaar Afrikaner-Volkseenheid
Die Heropbou
deur D. F. Malan
Vreemde Ideologieë


Met die hereniging by die uitbreek van die oorlog was die uitwendige verdeeldheid en stryd op 'n end. Die taak van die heropbou van die herenigde party het egter probleme en moeilikhede opgelewer wat haas onoplosbaar geblyk het te wees. Dis makliker om te breek as om te herstel, en bakstene is hanteerbaarder as mensemateriaal. In verband met die rekonstruksiewerk moes die vier provinsiale kongresse vanselfsprekend die finale seggenskap hê, maar daarom was dit des te meer nodig dat daar goeie en gesaghebbende leiding sal wees, en wel liefs van buite die gewone partymasjinerie, wat in hierdie stadium dan ook nog nie bestaan het nie. Hierdie taak is onderneem deur die Nasionale Party-parlementslede wat toe in sessie was. Hulle het hulle beperk tot die allernoodsaaklikste, te wete die voorlopige bepaling by wyse van advies omtrent die prosedure wat gevolg moes word. So is toe ook in die lewe geroep, onderhewig aan die latere goedkeuring van die kongresse, ,,'n tussentydse Federale Raad”, met die opdrag om 'n Konsep-program van Beginsels op te trek vir die nuwe party. Dit het die kongresse later ook aanvaar, en onder andere genl. Hertzog self ook. 'n Voorbehoud was daar egter aan sy kant, naamlik dat as hy van die voorgelegde Program van Beginsels mag verskil, hy dan as hoofleier die reg sou hê om daarteenoor ook sy eie formulering te stel. Klaarblyklik het dit niks goeds beloof nie, en soos dit later ook geblyk het, was dit fataal. Nie eenheid en samewerking, op wedersydse vertroue berustende, was die grondslag daarvan nie, maar die veronderstelling van ernstige verskille tussen die hoofleier en sy eie Uniale Kongres.
Sonder om in besonderhede te gaan, kan ek hier alleen meld dat blykbaar vir gunstige onderhandelingsdoeleindes daar in Transvaal 'n eie Nasionale Party-organisasie ontstaan het onder die naam van ,,Volksparty”. Sterk was dit stellig nie, maar tensy ons ons moeilikhede wou vermeerder, moes ons daarmee rekening hou. Klaarblyklik was dit 'n openbaring van 'n kwalik verborge separatistiese neiging. Die gevolg was dat ons nolens volens maar moes inwillig om as ons nuwe partynaam die swaar pak op ons rug te laai van ,,Die Herenigde Nasionale Party of Volksparty”. Wat Transvaal nou eigentlik daardeur gewen het, is vir my altans, tot vandag toe nog duister.
Afgesien van die naam moes die nuwe party nou ook 'n hoofleier kies. Dat genl. Hertzog dit moes wees, was vir my altans, vanselfsprekend, maar om enige bespreking daaromtrent te voorkom, wat onder omstandighede onwenslik was, omdat niemand kon weet in hoever die laaste vonke van die verbygegane stryd al uitgedoof was of nie, het ek besluit om self te handel. By geleentheid van die Nasionale party-kongres te Paarl, en op my eie inisiatief, het ek dit self verklaar. My verklaring is staande en met dawerende toejuiging en wel minute lank deur die hele vergadering begroet. By baie was daar trane van aandoening. Genl. Hertzog as Hoofleier sou dus geen alternatief hê nie.