Afrikaner-Volkseenheid/Generaal Hertzog en Ek Verklaar

Die Oorlog Breek Uit en Hereniging is Daar Afrikaner-Volkseenheid
Generaal Hertzog en Ek Verklaar
deur D. F. Malan
Die Heropbou


In verband met die skielike politieke omwenteling van 3 September het genl. Hertzog, soos te verwagte was, ook 'n persverklaring uitgereik. Dit was kenmerkend. Hy verwelkom in die algemeen die herstel van ons samewerking, insluitende die Engelssprekendes vir sover hulle werklik Afrikaners is van gevoel en aspirasies. Hy vervolg dan: ,,Ná die ondervinding van die afgelope ses jaar van samewerking binne die Verenigde Party, sal dit volstrek noodsaaklik wees dat wanneer die nuwe Afrikanerparty, onder watter benaming ook, weer aan die bewind kom, so spoedig moontlik alle maatreëls getref sal word om te belet dat die Afrikanerdom weer eens deur vyandelike geeste en invloede, wat onder die dekmantel van ,nasionaal’ in sy midde skuil, uitgebuit sal word ten prooi van vyandelike belange en oorheersing. Hierdie toegeeflikheid aan Britse sentiment deur Nasionaal Suid-Afrika is nie alleen nie in 'n gees van erkentlikheid ontvang nie; dis ook as soveel regte, waarop die Britse Jingo-elemente 'n regmatige aanspraak sou hê, en is telkemale, waar die geleentheid hom voorgedoen het, misbruik met die oog op inkorting en vernietiging van ons Nasionale vryheidsregte.
,,Hierdie misbruik van die Afrikanerdom se tegemoetkoming aan Britse sentiment het by die onlangse gebeurtenisse, en veral in verband met ons insleep in die Europese oorlog, sy toppunt bereik toe die Britse Jingo hier te lande die domme onbeskoftheid getoon het om sy aanmatigende aanspraak op Suid-Afrika en die Afrikanerdom tot deelname te grond op 'n beweerde plig teenoor Groot-Brittanje en die Empire, waarvan ons Eer sou afhang. Ná wat nou gebeur het, twyfel ek nie meer nie, dat hierdie soort domme vermetelheid wat meer as enigiets anders verantwoordelik is vir die bepleiting van 'n totale uittrede uit die Britse Gemenebes, alleen dan stopgesit sal word wanneer, onverskillig ook wat Britse sentiment mag vra of dreig, elke konstitusionele vryheidsreg van die Unie sonder uitsondering só uitgeoefen word dat selfs die vermetelheid van die mees onvatbare Britse Jingo sal begryp dat die Unie 'n vry en onafhanklike land is, en dat die Afrikanerseun en -dogter, aan wie in die eerste plaas die reg toekom om te sê hoe hierdie land geregeer sa1 word, wanneer hy daardie reg uitoefen, aan geen ander land as alleen aan die unie enige plig verskuldig is nie.
,,Daar word beweer dat so iets tot die verstand van die Britse Jingo alleen dan sal deurdring wanneer die Unie sig totaal losmaak van en afskei uit die Britse Gemenebes. Of dit so is, weet ek nie. Maar die Britse Jingo kan dit van my neem: dat óf Suid-Afrika as 'n onafhanklike, vrye land geregeer sal word, óf sy lidmaatskap van die Britse Gemenebes sal nie van lange duur meer wees nie.”
Die Generaal verklaar dan verder dat hy gemeen het om binnekort uit die openbare lewe te tree om ,,in stille rustigheid” sy verdere lewensjare deur te bring. Op aandrang egter van die Volksraadslede wat teen deelname aan die oorlog gestem het ,,insluitende dr. Malan en sy volgelinge”, het hy hom bereid verklaar om nog verder voort te gaan. Hierop laat hy dan dit volg: ,,Aan dr. Malan wens ek hier dadelik uiting te gee aan my hoë waardering van die wyse waarop, en die gees waarin hy onmiddellik, vanaf die oomblik waarop die twee verdeelde seksies van die Afrikaanssprekendes hulle weer tot volkseenheid herstel gevoel het, my verseker het van die heelhartige ondersteuning, sowel van hom as van sy party. Ek ag daardie versekering baie hoog om die edelmoedigheid, sowel as om die opregtheid, waarmee dit my gegee is. Aan die egtheid van die herstel van die bande van volkseenheid en samewerking tussen die betrokke twee dele van die Nasionaal-gesinde Afrikanerdom kan daar ook verder geen twyfel meer wees nie. Ek wil die Afrikanervolk tans vra om met meer vertroue as ooit tevore in sy geskiedenis die toekoms tegemoet te sien en om hom in kalme rustigheid, maar tewens ook in die vaste oortuiging van sy oorwinning in te span tot volbrenging van ons groot taak. Waar daardie dienste by die vervulling van die taak tans deur my aanvaar, nie meer toereikend mag wees om te voldoen aan die gestelde eise nie, sal jonger en doeltreffender kragte die plek van die ontbrekende moet aanvul, en indien vereis, selfs geheel moet vervang. Daar bestaan ewewel geen rede om te vermoed dat so 'n algehele vervanging van kragte of dienste nodig sal wees voordat die finale oorwinning deur die Afrikanerdom behaal is nie.”