Afrikaner-Volkseenheid/Die Kerk Tree Op
←Oorlog en Rebellie | Afrikaner-Volkseenheid Die Kerk Tree Op deur D. F. Malan |
'n Gewigtige Besluit→ |
uitnodiging van die predikante-broederkring aldaar hul week-
likse byeenkoms by te woon. Begryplikerwys was almal se
gedagtes by die verwarde toestande in Kerk en Staat, en veral
ook by die skokkende gebeurtenis in Pretoria se Sentrale
Gevangenis die vorige Sondagmôre. Die gedagte, vroeër deur
Vader Kestell in Bloemfontein uitgespreek, het hier nou 'n
onweerstaanbare drang geword, en het ook vaste vorm gekry.
Die Kerk in sy volle omvang in al vier provinsies moes ingryp,
moes sy standpunt duidelik stel, en leiding gee !
Daartoe moes in die eerste instansie die verteenwoordigende
Raad van die Kerke, waarvan onder andere ek ook lid was, vir
'n spesiale sitting opgeroep word te Bloemfontein. Maar dit
sou ook nog nie genoeg wees nie. Tesame met die Raad van die
Kerke moes ook nog opgeroep word 'n algemene predikante-
konferensie waartoe alle predikante van die Ned. Geref. Kerke
uitgenodig moes word. Die stap is veral as dringend beskou,
omdat daar gegronde rede was om aan te neem dat Jopie
Fourie nie die enigste sou wees wat vir sy protesterende daad sy
lewe sou moes opoffer nie. Soos later geblyk het, was die name
vryelik genoem ook van Jack Pienaar (later Administrateur), en
van generaals Manie Maritz, Kemp en Wessel Wessels. Die
vergadering het gevolglik dit aan my opgedra om die nodige
tien lede te probeer kry wat die oproep vir 'n spesiale vergade-
ring van die Raad van die Kerke moes onderteken, en om ook
alle predikante tot die voorgestelde predikantekonferensie uit te
nodig. Voorlopig reeds is die datum bepaal. My werk om die
tien ondertekenaars te kry, was suksesvol en spoedig voltooi,
en uiterlik was alles dus in die haak. Alleen die innerlike het
nou nog ontbreek. Dit was die program vir die vergadering, en
daaraan het nog niemand gedink nie. En weinig het ek kon
vermoed dat hierdie swaarste taak van almal nou ook nog op
my skouer geplaas sou word.
Dr. Andrew Murray, afgetrede predikant van Wellington,
maar met ’n steeds lewendige belangstelling in die heersende
toestande, en ook blykbaar tevrede met die plan om onder
leiding van die Raad van die Kerke 'n algemene predikante-
konferensie te Bloemfontein byeen te roep, het 'n vrugbare
gedagte uitgespreek. Dit was dat in so 'n tyd en in sulke om-
omstandighede dit dringend nodig was om aan die hand van
definitiewe konsep-voorstelle die gedagtes te lei en die bespre-
kings te beheers. By die kleiner kring wat in die eerste instansie
alreeds die verantwoordelikheid op hulle moes neem, het dit
dadelik byval gevind. En so het dit gekom dat, ten spyte van
besware aan my kant, daardie gewigtige taak ook aan my
opgedra is. En daar was geen tyd oor om te verloor nie. Stilte,
ernstige bepeinsing en vertroue op die leiding van die Opper-
wese, in Wie se hand die lotgevalle van ons volk gerus het, was
nou nodig. Daarvoor het ek die sandduine aan die bo-ent van
Die Strand gekies en ure daar deurgebring. Die konsep-
resolusies het ek daar opgestel. Só is dit daarna aanvaar in die
eerste instansie deur die Raad van die Kerke en die predikante-
konferensie te Bloemfontein. Só is dit daarna ook bekragtig
deur die verskillende sinodes van die Ned. Geref. Kerk in die
onderskeie provinsies, en ongevraag so ook deur die sinodes van
die ander twee Afrikaanse Susterkerke.
Die vergadering in Bloemfontein was in alle opsigte merk-
waardig en geskiedkundig. Die opkoms van predikante was so
groot dat dit die kerkgebou gevul het. Dit is gehou onder en ten
spyte van die krygswet en soos dit tydens die besprekings ook
sou blyk, allermins met die goeie wil en seën van die Regering.
Ander vergaderings van dieselfde aard en strekking was verbied,
maar klaarblyklik het die owerheid dit nie gewaag om openlik
die Kerk te dwarsboom nie, te meer daar hy tevore self
geprobeer het om vir sy eie doeleindes die Kerk in te span. Die
verloop van die verrigtings was dan ook as volg: Eers het die
Raad van die Kerke, onder die voorsitterskap van die Modera-
tor van die Kaapse Kerk, ds. Pienaar van Uitenhage, vergader,
die sittingsure vasgestel en die konsep-resolusies vir aanbeveling
aanvaar. Die eerste (môre-)sitting sou 'n ope sitting wees, maar
daarna sou die verrigtings met geslote deure plaasvind. Die ope
sitting sou uitsluitend van godsdienstige aard wees. En onmid-
dellik daarna sou die Raad van die Kerke in sy offisiële
kapasiteit voor die kansel vergader om die verdere verrigtings
te reël. So het dit dan ook gebeur. Maar pas het die Raad sy
plek daar ingeneem, toe twee persone nader kom en vra om 'n
versoek te rig. Die voorsitter, bekend as 'n boesemvriend van
genl. Botha, vra toe op sy gewone besliste wyse: ,,Wie is julle?’’
Die een antwoord toe dat hy 'n afgesant was van die Eerste
Minister. Die ander sê dat hy gestuur was deur genl. Smuts.
,,En wat wil julle hê ?’’ laat die voorsitter toe daarop volg,
blykbaar met klimmende vasberadenheid. ,,Die Generaals wil
dat ons die vergaderings moet kom bywoon,’’ antwoord hulle
toe. ,,Die môrevergadering het ons bygewoon, maar ons wil
ook by dié wees wat nog sal volg. Die Regering wil graag
eerstehandse informasie hê, en nie afhanklik wees slegs van
wat hy in die koerante sal lees nie.’’ Hierop vat die voorsitter
vlam. ,,Kyk,’’ sê hy, ,,sê aan jul base dat die Kerk vry is, en
nie staan onder enige regering of ander wêreldlike mag nie. Die
ope vergadering het julle, en kon julle soos enige ander bywoon.
Maar die res word met geslote deure gehou, en julle sal beslis
nie daarin toegelaat word nie. En nou sê ek aan julle: Maak dat
julle wegkom !" So het dit ook gebeur.
Uit hierdie dramatiese episode het dit duidelik geblyk dat
die Regering die kongres wou intimideer. Toe die vergadering
daarna met geslote deure hervat, was daar slegs één afgevaar-
digde wat koue voete gekry het. Met die verklaring dat ons in
gevaarlike omstandighede verkeer en versigtig moet wees, wou
hy hom daarom liewer onttrek. Onder uitbundige gelag het hy
dit toe ook gedoen.
Oorgaande tot sy werksaamhede, het die vergadering
allereers 'n besluit aangeneem om die Regering dringend te
versoek om geen verdere gevange rebelle dood te skiet nie.
Dit, tesame met die geweldige indruk wat die teregstelling van
Jopie Fourie op die volk gemaak het, het ongetwyfeld lewens
gered. Daarna is oorgegaan tot die aanhoor van inligtings wat
’n aantal van die afgevaardigdes kon gee omtrent die posisie in
hul eie gemeentes, wat inderdaad ook 'n uiters ernstige toestand
aan die lig gebring het. Uiteindelik het, op voorstel van die
Raad van die Kerke, die vergadering die konsep-resolusies
bespreek, dit eenparig aangeneem, en so die houding van ons
Kerk ten opsigte van die ernstige beroeringe op kerklike en
staatkundige gebied geformuleer.
Die betekenis van die resolusies sal die beste verstaan word
as dit vergelyk word met die voorafgaande manifes uitgevaardig
deur elf vooraanstaande predikante in die Westelike Provinsie,
later ook nog gesteun deur ses ander, in hierdie laaste geval
meer besonderlik die oog op die optrede van genl. Maritz.
Daarin word op uitdruklike wyse kant gekies teen die soge-
naamde rebelle. Dat die Regering self die inisiatief hierin
geneem het, kon nie betwyfel word nie. Onder andere word hul
handelwyse, en veral hul beweerde poging ,,om Suid-Afrika
onafhanklik te maak van die Britse Ryk’’, beskrywe as ,,'n
uiters gevaarlike en roekelose onderneming”, as ,,'n trouelose
verbreking van die Traktaat van Vereeniging”, en as ,,'n
bepaalde sonde teen God”. Dit geld dan ook vir ,,die agitasie
wat in die lewe geroep is teen die besluit van die hoogste
wetgewende vergadering in verband met die ekspedisie na die
Duitse gebied’’. Dat dit die begin van 'n skeuring in die Kerk
sou beteken, soos dit ook werklik die geval was, kan goed begryp
word. En skeuring op kerklike gebied sou stellig die skeuring op
politieke en maatskaplike gebied vererger en hopeloos maak,
omdat daarmee die saambindende en helende krag van die
Kerk in ons volkslewe sou verdwyn het.
Die Raad van die Kerke en die predikantekonferensie het
nie kant gekies nie. Die Kerk was ook nie geroepe om, veral in
politieke geskille, as regter op te tree nie. Inteendeel, hy het die
Kerk op 'n voetstuk geplaas bokant alle partyskappe, en suiwer
op die vaste grondslag van Bybelse en Gereformeerde beginsels.
Hy het sy spesiale roeping besef en bely ten opsigte van ons
Afrikaanssprekende volk, waaraan hy onder die Godsbestuur en
tradisioneel so innig verbonde was. En hy het daarom in hierdie
tyd van verwarring en van gevaar sy boodskap getrou afge-
lewer, aan die owerheid én aan die volk. 'n Onderdeel van 'n
politieke volksbeweging mog en wou hy nie word nie. En ewe
min mag en wou hy die Kerk verlaag tot 'n speelbal in die
hande van die Regering, soos dit ongelukkig aanvanklik reeds
gebeur het.
In die resolusies word daarom in die eerste plaas gewaarsku
teen oorhaastige handeling aan die kant van kerklike owerhede.
Tugmaatreëls, indien ooit toegepas, veral waar dit, soos hier,
op die bodem van politieke verskille berus, moes wag totdat
die beroeringe verby sal wees en politieke opgewondenheid die
gesonde oordeel nie meer sal benewel nie. In die tweede plaas
is die volk daaraan herinner dat die owerheid deur God ver-
orden is, en dat die handhawing van wet en orde daarom 'n
dure plig van die volk is, tensy verset in alle opregtheid, en
,,om des gewetens wil’’, en dan ook alleen om ,,gewigtige en
gegronde redene’’ geskied. En in die derde plaas word die
owerheid daarop gewys dat die gebruik van geweld alleen geen
oplossing of tevredenheid kan teweegbring nie. As gehoorsaam-
heid die plig van die volk is, dan is dit eweseer die plig van die
owerheid om gewetensvol sy eie dade te ondersoek, om die
oorsake van werklike of vermeende griewe na te gaan, en om
dit in die gees van regverdigheid en tegemoetkoming te bejeën.
Met die aanname van hierdie besluite het die Kerk sy geeste-
like: sowel as sy uitwendige onafhanklikheid gehandhaaf, met
Bybelse en Gereformeerde beginsels geen kompromis getref nie,
en sy grootste bydrae gelewer tot die behoud van sy eie, sowel
as van sy volk se eenheid. En wat ewe belangrik was, is nog dit,
dat hy sorgvuldig vermy het om die een kerklike poging binne
sy eie geledere teen die ander af te speel. Die ondertekenaars
van die ongelukkige manifes het met ander woorde net soos
enig ander, en net so hartlik, beide op die predikante-konferen-
sie self en daarna in die sinodes, aan die bereikte oplossing
meegewerk. Behalwe in 'n paar gevalle buitekant hul kring,
was daar volkome eenparigheid.
Die krisis was nou verby. My aandeel in verband daarmee
was belangrik, maar ek neem vir myself daar geen krediet voor
nie. Dit was die gevolg van 'n reeks van gebeurtenisse, die aan-
deel waaraan ek nie gesoek het nie, en wat aan my opgedring
was deur omstandighede waaroor ek geen beheer gehad het
nie. Indien daar enige verdienstelikheid aan my toegereken kan
word, dan mag ek dit daarom alleen aanvaar met diepe oot-
moed. Maar in ieder geval was dit ook die aanleiding tot
daardie aandrang wat tot die gewigtige verandering in my
lewensrigting gelei het, en my betreding van 'n politieke loop-
baan veroorsaak het.