Afrikaner-Volkseenheid/Die Kroon

Die Statebond Afrikaner-Volkseenheid
Die Kroon
deur D. F. Malan
Parlementêre Optrede


Die republikeinse doelstelling, wat die praktiese uitvoering bedoel te wees van ons selfbeskikkingsreg, is onverenigbaar met die behoud van die Kroon. Die twee verteenwoordig verskillende stelsels en verskillende ideologieë. Die betrekking van Staatshoof is by die een gegrond op 'n kwalifikasie van geboorte, wat ongeag die meriete deur die volk aanvaar moet word. By die ander is dit gegrond op verdienste en op die vrye volkskeuse. Wat begryplikerwyse ook daarby moet tel, is die vraag of die staatshoof 'n lid is van die volk waaroor hy veronderstel word om te regeer, en as sodanig één is en in lewende kontak met hulle kan wees. As hy egter, soos hier by ons die geval is, in 'n verafgeleë land woon, en bowendien tot 'n ander volk behoort, en behalwe dit as die ras en taal van die grootste gedeelte van sy onderdane vir hom vreemd is, kan dit by die oorweging van so 'n land se toekoms nie buite rekening gelaat word nie. En dan wys die vinger wat die volkskoers aandui, maar in één rigting. Dis na die republiek. By die bespreking op die Statebondskonferensie in 1949, toe Indië se versoek onder oorweging was, het ek dit nog sterker gestel. In Statebondslande, so het ek gesê, soos byvoorbeeld Australië en Nieu-Seeland, waar die bevolking in sy samestelling uniform is, daar is die Kroon 'n saambindende krag, maar waar daar verskeidenheid van bevolkingselemente bestaan, daar is die Kroon eer ’’n twisappel en ’n oorsaak van verdeeldheid.

As 'n soewerein onafhanklike volk, in besit van die selfbeskikkingsreg in die volste sin van die woord, moet ons vanselfsprekend ook die volle beheer hê oor die Kroon in sover as dit meer besonderlik ons aangaan. Hier is dit dat die vraag ontstaan het, of die Kroon deelbaar is of nie, met ander woorde of dit die besit is van al die lede van die Statebond gesamentlik en daarom onderhewig is aan verandering of afskaffing alleen met almal se toestemming, en of anders dit binne die reg en die mag val van iedere individuele ledestaat. Dis ook hier dat die fundamentele verskil ontstaan het tussen Smuts en Hertzog en hul onderskeie partye solank as dié nog bestaan het, en selfs ook nog daarna. Die eersgenoemde was ’n vurige voorstander van die Rykseenheidsidee, en wel selfs tot so ’n hoogte dat volgens hom geen individuele Statebondslid die reg het van afskeiding (dit wil sê om vir homself te beskik oor die Kroon) of van neutraliteit (dit wil sê om buite te bly in geval van oorlog waarin enige ander Statebondslid betrokke mag word). Oor almal sou daar met ander woorde nog altyd ’n opperheerskappy bestaan, so nie van één bepaalde land nie, dan tog in ieder geval van 'n gemeenskap van lande. Hertzog aan die anderkant het die soewereiniteit van elke individuele ledestaat voorgestaan, en Smuts se ,,superstaat’’-idee verwerp. Volgens hom was die Kroon deelbaar. By implikasie het die verskil in ons geval geloop oor die vryheid van Suid-Afrika en in wyer kring oor die selfbeskikkingsreg wat veronderstel was om opgeslote te lê in die Statuut van Westminster se beskrywing van die Statebond as ,,’n vrye unie van vrye nasies’’.

Ook in hierdie geval van ’n verskil tussen die twee Suid-Afrikaanse staatsmanne was die Statebond ons van diens. Hy het die inisiatief geneem in wetgewing wat vir ons van die uiterste belang is, omdat dit, sover as dit ons eie land betref, die Kroon onder ons eie en uitsluitende beheer gebring het. Die aanleiding daartoe was die verbreding van die grondslag van die Statebond self in 1949, toe ook republieke toegelaat was tot sy lidmaatskap. Waar in die Statuut van Westminster die Koning aangedui was as ,,the symbol of the free association of the Members of the British Commonwealth of Nations’’, daar moes volkome helderheid nou verkry word omtrent die posisie in die lig van die nuwe omstandighede. Dit is gevind, nie deur enige verandering in die Statuut nie, maar deur verdere verduidelikings en deur daaropvolgende wetgewing deur ons eie Parlement.

Op die Statebondskonferensie van 1949, waarop ek die eer gehad het om Suid-Afrika te verteenwoordig, is die posisie van die Koning opnuut aangedui as ,,Hoof van die Statebond’’. By die bespreking daarvan het ek daarop gewys dat sonder meer dit aanleiding kon gee tot heelwat misverstand. As bewys het ek aangevoer dat in Suid-Afrika daar alreeds ’n stryd ontstaan het oor die vraag of daar in een of ander vorm ’n superstaat bestaan met gesag oor die individuele lede van die Statebond, elkeen waarvan 'n soewerein onafhanklike staat is, en dat by gebrek aan verdere verduideliking die voorgestelde benaming die superstaat-idee alleen kan versterk. Die vergadering het eenparig met my saamgestem, as gevolg waarvan toe besluit is om die volgende te notuleer:

,,In antwoord op 'n vraag deur dr. Malan geopper, het die vergadering ooreengekom dat te boek gestel sal word dat die aanwysing van die Koning as Hoof van die Statebond geen verandering in die konstitusionele betrekkinge wat tussen die lede van die Statebond bestaan, inhou nie, en veral nie beteken dat die Koning enige konstitusionele funksie uitoefen uit hoofde van daardie hoofskap nie.’’ Hiermee was die soewereiniteit van elke individuele ledestaat dus beveilig.

By die volgende Statebondskonferensie in 1953 het ’n verdere en uiters belangrike ontwikkeling gevolg. Die vergadering het wetgewing aan die hand gegee wat, as dit deur die betrokke parlemente gepasseer sou word, die beheer van elke individuele ledestaat oor die Kroon, sover as dit homself betref, bokant alle twyfel sou verhef. In ons eie Parlement is dit beliggaam in die ,,Wet op die Koninklike Naam en Titels’’. Daarin word die Koning aangedui as ,,Koning van Suid-Afrika’’. Dit het die ou kwessie tussen genl. Hertzog en genl. Smuts of die Kroon deelbaar is of nie, beëindig. Die Kroon is nou nie slegs deelbaar nie, maar werklik ook gedeel. As sodanig, en as ’n deel van ons eie konstitusie, is dit nou uitsluitend onder ons eie beheer, net soos onder dergelike omstandighede dit sou wees onder dié van enige ander soewerein onafhanklike land. Wetgewing in verband daarmee, insluitende ook die afskaffing daarvan, indien gewens, berus dus by ons eie parlement en by geen ander nie.