Afrikaner-Volkseenheid/Parlementêre Optrede

Die Kroon Afrikaner-Volkseenheid
Parlementêre Optrede
deur D. F. Malan
Die Vlagstryd


Die Parlement is die land se wetgewende liggaam, maar dis ook die plek waar, by wyse van mosies, sake van staatkundige beleid deur die Regering of deur individuele lede aangekondig en vir die beoordeling van die volksverteenwoordigers aangebied word. Die besluit is, voorlopig altans, maar 'n mening, maar geen ander liggaam spreek daaroor met soveel gesag nie.

Só het dit gekom dat die Nasionale Party se toekomsbeleid, as sodanig insluitende sy republikeinse doelstelling, twee maal spesiaal aan die oordeel van daardie hoogste liggaam onderwerp is. Dis belangrik om die verloop van sake in verband daarmee hier weer te gee, beide vanweë die historiese betekenis daarvan en ook, en veral, omdat die Nasionale Party-beleid daar so volledig en gesaghebbend geformuleer en te boek gestel is.

Die eerste was in 1942, en was klaarblyklik ook bedoel om die gedagtes van republikeinsgesindes in die regte rigting te lei, en te waarsku teen die wesenlike gevaar in daardie tyd teen die navolging van on-Afrikaanse en vreemde modelle.
My mosie het as volg gelui:

,,Dat met die oog op die ernstige krisis, waarin ook ons land weens sy deelname aan die oorlog betrokke geraak het, die Raad verklaar:
,,a) dat ons hoogste volksbelange alleen gedien kan word deur die omskepping van Suid-Afrika in 'n republiek, afgeskei van die Britse Kroon en Ryk en onafhanklik van enig ander buitelandse mag;
,,b) dat sodanige republiek nie geskoei mag wees op vreemde model nie, maar opgebou moet word ooreenkomstig ons eie volksaard en tradisies op die beginsels van volksregering, soos dit beliggaam was in die twee gewese Suid-Afrikaanse Republieke, met wegbreking egter van alles wat vals en volkskadelik is in die hierbestaande Britse liberalistiese demokrasie, en met die nodige aanpassing aan moderne omstandighede,
,,c) dat dit Christelik-nasionaal moet wees in wese en karakter en gegrond moet wees op die getroue inagneming van die gelyke taal- en kultuurregte van albei seksies van die blanke bevolking,
,,d) dat dit veilig gemaak moet word vir die blanke ras en sy beskawing ooreenkomstig die voogdyskap-beginsel, en
,,e) dat dit doeltreffend beskerm moet word teen die kapitalistiese en parasitiese uitbuiting van sy bevolking, sowel as teen die ondermynende invloede van vyandiggesinde en onnasionale elemente.’’

By die stemming is die voorstel verwerp met 90 stemme teen 47.
Die tweede keer toe die Nasionale Party se toekomsbeleid in die Parlement onder bespreking gekom het, was op 7 Julie 1953 en wel by geleentheid van my terugkeer van die toe pas afgelope Statebondskonferensie, waarop onder andere ook tot die veranderde posisie van die Kroon besluit was. Die aanleiding was ’n mosie deur die leier van die Opposisie (adv. Strauss) waarin hy ty tevredenheid te kenne gee met die Konferensieverrigtings, maar tegelykertyd die oortuiging uitspreek dat die beste belange van die Unie alleen gedien kan word deur die voortsetting van sy posisie onder die Kroon. Dit was klaarblyklik 'n anti-republikeinse mosie en 'n uitdaging aan die regeringsparty. Hierop het ek die volgende amendement voorgestel, wat tot op daardie tyd en daarna ook nog, die volledigste uiteensetting was van ons toekomsbeleid. Ek kwoteer dit daarom in sy geheel:

,,1a) Dat die Raad sy goedkeuring heg aan die noue raadpleging en samewerking deur die Regering in sake van gemeenskaplike belang met die ander lede van die Statebond by geleentheid van die onlangs gehoue Eersteministerskonferensie in Londen, veral met die oog op die heersende ontwrigte en onstandvastige wêreldtoestand;
,,b) Hy spreek dit verder uit as sy oortuiging dat sodanige samewerking ook in die toekoms moontlik en wenslik mag blyk te wees, ongeag of Suid-Afrika ’n republiek is of nie, en ongeag of hy lid is van die Statebond of nie,
,,c) Hy keur verder goed en beveel hiermee ook opnuut as grondslag van die Statebond aan die volle erkenning van die soewereine onafhanklikheid van sy ledestate, die vryheid van hul assosiasie met mekaar, sowel as hul gelykheid ten opsigte van hul nasionale en internasionale status, en die beginsel van geen inmenging in die huishoudelike sake van die onderskeie ledestate en
,,d) Gevolglik herbevestig die Raad die soewereine reg van die Unie van Suid-Afrika om onder die Opperheerskappy en leiding van die Almagtige God sy eie lotgevalle, sowel as sy eie konstitusionele struktuur, self te bepaal onderhewig slegs aan die ware belange van sy bevolking, soos dit langs konstitusionele weg van tyd tot tyd vasgestel mag word. Hy verwerp daarom enige poging om hierdie selfbeskikkingsreg aan bande te lê.

,,2. Die Raad neem verder kennis van die republikeinse beleid van die Regering en die versekerings daarin vervat, nl.
,,a) Dat so 'n konstitusionele verandering na die republikeinse staatsvorm, hoewel dit 'n magtige bydrae tot ware nasionale eenheid aanbied, en die beste aanpas by die tradisies, omstandighede en aspirasies van die Suid-Afrikaanse volk, slegs tot stand gebring kan word op die breë grondslag van die volkswil en met behoorlike inagneming van die gelyke regte in elke opsig van die twee seksies van die blanke bevolking, en ingevolge 'n spesiale en besliste opdrag daartoe van die stemgeregtigde blanke bevolking, en nie bloot as gevolg van 'n parlementêre meerderheid wat by ’n gewone verkiesing verkry mag word nie. Dit moet 'n spesiale opdrag wees van die volk op hierdie punt alleen. En verder,
,,b) dat in die lig van die Londense Verklaring van 1949 die uitroep van ’n republiek en die uittrede uit die Statebond twee afsonderlike vrae geword het wat nie op dieselfde tyd beantwoord hoef te word nie, en dat oor die laaste van hierdie twee daar op enige tydstip geoordeel en beslis moet word met die oog op die dan heersende omstandighede en op Suid-Afrika se belange en posisie in die internasionale wêreld.’’

By die stemming aan die einde van die debat is my amendement aangeneem met 86 stemme ten gunste daarvan en 56 daarteen. Dit beteken dat die Volksraad, soos dit toe saamgestel was, ons republikeinse doelstelling goedgekeur het en wel met 'n meerderheid van 30 stemme.

As die twee bogemelde mosies met mekaar vergelyk word, sal dit blyk hoe ver ons gedurende die tussenliggende elf jaar konstitusioneel gevorder het. Dit geld nie alleen die stemming in die Volksraad nie, maar ook die aard van die Britse Konneksie. In die eerste is daar nog sprake van die ,,Britse Kroon en Ryk’’, inhoudende die implikasie van eenheid van beheer.

Sedert daardie tyd is deur bemiddeling van die Statebond ooreengekom dat die benaming ,,Britse Ryk’’ alleen van toepassing sal wees op Engeland en sy Kolonies. Die Statebondslede is daarbuite. Hulle is wel nog onder die Kroon, maar tegelykertyd buitekant die Ryk. Ons hoef dus nie meer afskeiding aan die Britse Ryk na te strewe nie. Ons is afgeskei. Ons het nou alleen maar te doen met die Kroon, en dit wel slegs sover as dit 'n deel uitmaak van ons eie Konstitusie, wat self weer onder die beheer staan van ons eie Parlement, wat op sy beurt ook weer onderhewig is slegs aan die soewereine volkswil.

Die pad na die republiek is oop. Wat nou verder sal gebeur, sal afhang van die onderlinge goeie gesindheid van die vernaamste volksgroepe teenoor mekaar, maar veral ook van die wysheid en takt van die politieke leiers van die volk.