Afrikaner-Volkseenheid/Die Onafhanklikheidsdeputasie

Vol Uitgeleefde Eie Nasieskap Afrikaner-Volkseenheid
Die Onafhanklikheidsdeputasie
deur D. F. Malan
Die Selfbeskikkingsreg en Daarna


Die jare 1917, 1918 en 1919 was stellig een van die belangrikste

tydperke wat die geslag van daardie dae ooit beleef het. Dit het
saamgeval met een van die gewigtigste keerpunte in die wêreld-
geskiedenis, en het aangedui 'n sielkundige revolusie in die
politieke opvattings en ideale van die mensheid. En nie minder
nie was dit ook vir nasionaalgesinde Suid-Afrika die begin van
'n nuwe tydperk, van nuwe vergesigte, en van 'n nuwe en
hoopvoller kragsinspanning. Die vrug daarvan was die ont-
waking van 'n nuwe en meer doelbewuste en beplande vryheid-
strewe. Die Eerste Wêreldoorlog was op sy verwoestende pad
al ver gevorder, en die uiteindelike vredeskonferensie was in sig.
Die volkere van die wêreld het vooruitgesien na en gehoop op
'n nuwe en beter begin. Dit het ook uiting gevind in die ver-
klarings van die twee mees gesaghebbende staatsmanne aan die
Geallieerde en oorwinnende kant, te wete President Wilson van
Amerika en die heer Lloyd George, eerste minister van Groot-
Brittanje. Dit het hierop neergekom, dat geweld as 'n faktor in
die gemeenskap van nasies verban moet word en plek moet
maak vir die onbetwiste heerskappy van die reg. Gevolglik
moet gesaghebbend neergelê word dat elke nasie, groot of klein,
swak of sterk, die reg het op sy eie bestaan en sy eie vryheid, dat
geskonde regte herstel moet word, en dat aan elke sodanige volk
die selfbeskikkingsreg as sy algemeen erkende besitting toekom.
Hierdie verklarings, aangeneem as grondslag van die vredes-
konferensie, was 'n uitdaging aan en 'n beroep op Suid-Afrika
met sy geskonde regte, waarvan die hele wêreld bewus was, en

met sy sterk en groeiende besef van eie nasieskap. Die Onaf-
hanklikheidsdeputasie was hierop die Nasionale Party se
antwoord.
Maar nog afgesien hiervan, was daar in en buite Suid-Afrika
bewegings wat beslis 'n dreigende gevaar ingehou het vir ons
bestaande vryhede. Die Botha-Smuts-beginsel van ,,eer en
plig’’ en ons gevolglike deelname aan die oorlog het al wyere
toepassings begin te kry. 'n Sterk beweging het ontstaan van
buite, gesteun deur die ,,Imperial Federation League’’, ten
gunste van die nouere aaneensluiting van die Britse Ryk op alle
gebiede. Op staatkundige terrein was daar alreeds, met genl.
Smuts as lid daarvan, 'n Imperiale Kabinet, wat hy self, blykens
sy Glasgow-toespraak, as 'n permanente instelling gevestig wou
sien. En nog meer as dit: hy wou daaraan ook op militêre en
selfs op ekonomiese gebied magte toeken as die Britse Ryk se
,,hoogste hof van appèl’’, 'n beleid wat nie anders as die grofste
inbreuk moes maak op die selfregerende magte ook van ons eie
land nie. Behalwe die instelling van 'n Imperiale Kabinet, het
die verdere toepassing van die rykseenheidsbeginsel in die
praktyk ook nie op hom laat wag nie. Op voorstel van die
Botha-Smuts-regering het ons Parlement toegestem om jaarliks
'n bydrae van £85,000 te doen tot onderhoud van die Britse
vloot, en dit wel, in teenstelling met dergelike bydraes van
byvoorbeeld Australië en Nieu-Seeland, ook onvoorwaardelik.
En ergste van al, op 'n Imperiale Konferensie het genl. Smuts
en min. Burton toegestem tot 'n beleid waarvolgens Brittanje
die fabrieksland van die Britse Ryk sou wees, en die self-
regerende kolonies hulle sou beperk tot die lewering van die
benodigde grondstowwe. Dit alles tesame sou beteken 'n staat-
kundige, militêre en ekonomiese eenheidstaat waarin daar van
die eie nasieskap en vryheid van die afsonderlike eenhede so
goed as niks sou oorbly nie. Suid-Afrika sou hulpeloos en
magteloos ingetrek wees in die maalstroom van die militaristiese
Europese en wêreldpolitiek.

Teen hierdie agtergrond gesien, sal die vloeibaarheid van die
politieke situasie in Suid-Afrika maklik verstaan word. Dat daar
stemme sou opgaan ten gunste van die verkryging van volle
nasionale vryheid ook vir Suid-Afrika, was alleen natuurlik,
veral met die oog op die onbetwisbare bestaan hier van
geskonde regte, waaromtrent daar geen beter getuie gevind kon
word as die heer Lloyd George self nie, wat indertyd die krag-
tigste verset teen Engeland se geweldpleging in Suid-Afrika
gelei het. Maar toe daar kragtens die Merriman-mosie, wat
deur die Parlement aangeneem is, gepoog is om daardie stemme
die demper op te sit deur dit as sedisie te bestempel, kon die
opwellende Afrikaner-volksgevoel nie meer onderdruk word
nie. Dit moes 'n uiting vind, en dit het.
Die eerste stap is gedoen deur 'n konferensie van die Sentrale
Komitees (hoofbesture) van die Nasionale Party wat byeen-
geroep was deur die Hoofleier, genl. Hertzog, en op 7 Augustus
1918 te Bloemfontein vergader het. Die resolusie, die konsep
waarvan ek in die trein daarheen opgestel het, het as volg gelui:
,,Deze Konferentie van Centrale Komitees van de Nationale
Party te Bloemfontein op 7 Augustus 1.1. gehouden, heeft de
kwestie van de onafhanklikheid van Zuid-Afrika behandeld, en
het volgende besluit genomen:
,,Deze Konferentie van Centraal Komitees van de Unie van
Zuid-Afrika, bewust zynde van de sterke drang onder ons volk
naar onafhanklikheid, en gelet hebbende op de wereldkundig
gemaakte doeleinden van de oorlog, en op de verklaringen
namens de Bondgenoten en de Verenigde Staten van Amerika
gedaan, onderscheidenlik door de heer Lloyd George, Eerste
Minister van Engeland, en de heer Woodrow Wilson, President
van de Verenigde Staten, dat alle geschonden rechten en
vryheden hersteld moeten worden, dat alle nationaliteiten het
recht zullen hebben om over hun eigen lot te beslissen, en dat
geen volk ooit gedwongen mag worden om onder een heer-
schappy te staan waaronder het niet wil leven: en overtuigd

zynde dat deze doeleinden en verklaringen overeenstemmen
met de eeuwige beginselen van recht en gerechtigheid, betuigt
daarmede haar volle en geestdriftige instemming.
,,Met het oog op onze geschiedenis, zowel als ons aangeboren
recht als een zelfstandig en mondig volk, eischen wy verder dat
deze vanzelfsprekende beginselen ook op Zuid-Afrika toegepast
zullen worden, opdat voor dit land beschikbaar gesteld zullen
worden volkomen vryheid en onafhanklikheid, insluitende het
recht om een eigen regeringsvorm te bepalen.
,,En derhalve besluit deze Konferentie dat de genoemde
Centraal Komitees verzocht worden om de nodige maatregelen
te nemen om de toepassing op Zuid-Afrika van de voornoemde
beginselen van recht en vryheid langs konstitutionele weg te
verkrygen.’’
Dit was as gevolg van hierdie besluit dat die Uniale Kongres
op 16 en 17 Januarie 1919 te Bloemfontein vergader het en die
Onafhanklikheidsdeputasie na die Vredeskonferensie te Parys
afgevaardig het.
Dat hierdie besluit van 7 Augustus uit die hart van die volk
gekom het, en wel ook in Kaapland, maar tegelykertyd ook nog
met 'n sekere mate van huiwering aanvaar is, is op treffende,
maar ook enigsins amusante manier bewys geword op 'n
vergadering wat op 31 Augustus 1918 op Malmesbury toege-
spreek is deur adv. Jannie de Waal, L.V., en myself. Ons onder-
werp was ,,Ons Onafhanklikheid’’, en so was dit ook aange-
kondig. Die belangstelling was oorweldigend. By voorbaat het
ons 'n resolusie opgestel wat uitdrukking sou gee aan ons strewe
na volle onafhanklikheid, dit aanvaar, en ondersteuning daar-
aan toesê. 'n Vooraanstaande partylid is toe gevra om dit aan
die end van die vergadering voor te stel. Hy het daarna gekyk,
sy skouers opgetrek en gesê: ,,Nee, liewer nie! Vra asseblief
iemand anders.’’ Die tweede het, hoewel ook huiwerend, inge-
willig. In die loop van die toesprake het die vergadering al
geesdriftiger geword, totdat dit uitbundig was. Vlak voor die

end trek die partylid wat eerste genader was aan die tweede se
baadjie, wat nou met die resolusie in sy hand staan. ,,Gee dit vir
my,’’ sê hy. ,,Ek wil dit voorstel !’’ ,,Ek sal nie !’’ sê die tweede,
met groot beslistheid. ,,Jy het mos geweier ! Bly daarby !’’ En so
het dit gebeur. Die stemming was geesdriftig en unaniem.
Die Uniale Kongres wat in vooruitsig gestel was, het op
16 en 17 Januarie 1919 te Bloemfontein vergader en die
Onafhanklikheidsdeputasie na Parys afgevaardig. Dit het
bestaan uit twee afgevaardigdes uit elke Provinsie: genl.
Hertzog (as leier) en mnr. Havenga uit die Vrystaat, dr. E. G.
Jansen en mnr. Andries Spies uit Natal, sen. A. D. W.
Wolmarans en dr. Hjalmar Reitz uit Transvaal en adv. F. W.
Beyers en ek uit Kaapland. Mnr. Havenga en dr. Reitz het die
plek ingeneem van genl. De Wet en mnr. Piet Grobler, aan
wie paspoort geweier is. Dr. Gey van Pittius het as sekretaris
geageer. Die opdrag aan die deputasie was om aan te dring op
die herstel van die geskonde regte van die twee gewese repu-
blieke, en op die selfbeskikkingsreg van die twee gewese Britse
Kolonies, te wete Kaapland en Natal. Die veronderstelling was
dat langs daardie weg die Unie dan weer opgebou sou word as
'n eenheid, maar dan ook op die grondslag van vryheid en reg,
dit wil sê as 'n volkome onafhanklike staat. Kabelgramme wat
hierdie doel uiteensit, is ook voorlopig gestuur aan die Koning,
aan president Wilson en aan die heer Lloyd George.
Op 4 Maart 1919 het die Deputasie van Kaapstad af vertrek,
en dit het langs 'n groot omweg eers op 1 Mei in Parys aan-
gekom. Geen Engelse skip was bereid om ons te vervoer nie,
onder voorwendsel dat die matrose dreig om te staak as dit sou
gebeur. 'n Nederlandse maatskappy met vragskepe varende
tussen Suid-Afrika en New York, was egter bereid om ons aan
boord te neem. Op die Bawean is ons dan ook met groot
vriendelikheid bejeën, en na 'n seereis van 28 dae het ons in
Amerika aangekom en ná 'n verblyf van agt dae met die
Nederlandse skip die Noordam weer via Engeland na Frankryk

vertrek. Die merkwaardigste en seker ook die onvergeetlikste
op die heenreis na New York was die storm in die nabyheid van
die Golfstroom wat van Donderdagaand tot Sondagmôre
gewoed het en wat selfs by tye die onverskrokke en geharde
kaptein ontstel het. Toe dit daardie Donderdagnag op sy ergste
was, kon niemand van ons aan slaap of selfs aan klere uittrek
dink nie. Toe die golwe so slag op slag oor die onderste dek
spoel en die matroos op die uitkyk in die mas drie uur langer
daar moes bly sit, omdat afkom te gevaarlik vir hom was, het
twee van ons maats in hul kajuit selfs ernstig met mekaar
beraadslaag of, as ons skip sou vergaan, hulle nog in die see sou
probeer spartel, of in stille oorgegewenheid maar liewer saam
met die skip onder die golwe sou verdwyn.
Eerlik gesproke, het niemand van ons eintlik verwag dat die
uitslag van ons sending in daardie mate suksesvol sou wees dat
ons met die onafhanklikheid van Suid-Afrika in ons sak sou
terugkom nie. Ons werklike gevoel, sover dit my betref, kan ek
nie beter beskryf nie as wat ek dit gedoen het in die slot-
paragraaf van my toespraak te Malmesbury op 31 Augustus,
1918. Dit het so gelui:
,,Wy staan by 'n keerpunt in de wereldgeschiedenis. Wy leven
in 'n wereldkrisis, waarin daar opnieuw over het lot der volken
en ook over ons eigen lot beschikt wordt. Is het mogelik dat er
iemand kan zyn die in alle ernst menen kan dat wy niets moeten
doen, omdat het nu niet de tyd is ? Voor wat wy nu niet doen,
evengoed als wat wy doen, zyn wy verantwoording schuldig.
Wy zyn het schuldig aan het voorgeslacht, dat ons voorgegaan
is, en dat voor het ideaal van de vryheid geleefd heeft, en daar-
voor gestorven is. Wy zyn het schuldig ook aan de geslachten
die nog komen zullen. Zy zullen eenmaal terug zien op deze tyd
met zyn nieuwe idealen en met syn gelegenheden, en zy zullen
rekenschap van ons afeisen. Onze verantwoordelikheid mogen
wy en zullen wy van ons niet afschuiven. Wat men daarom
verkrygen wil voor Polen en Elsas-Lotharingen en voor Italia

Irredenta en voor de Tzecho- en de Jugo-Slaven, en wat
president Wilson beschouwt als het aangeboren recht van alle
naties der wereld, klein en groot, zwak en sterk, dat willen wy
verkrygen ook voor Zuid-Afrika, ons eigen en ons enig vader-
land.’’
Die gedagte hierin vervat is dit: As die onafhanklikheids-
deputasie niks meer kan doen as maar net om Suid-Afrika se
reg en aanspraak op volle onafhanklikheid voor die hele wêreld
te registreer nie, dan nog is dit sy plig, en verrig hy 'n onwaar-
deerbare diens aan sy volk. Vir die hele toekoms is ons eie
nasieskap en vryheidsin dan bewys. En wat meer sê, Suid-
Afrika het dan eenmaal sy voet op die pad gesit wat hom uit-
eindelik en onverbiddelik by die stigting van 'n eie, vrye en
onafhanklike Suid-Afrikaanse republiek sal bring. 'n Volk
sonder visie is dood. Die lokkende ideaal op die horison is 'n
volk se lewe en sy toekoms.
Die skriftelike versoek om 'n verhoor deur die Vredes-
konferensie self het onbeantwoord gebly. Mnr. Lloyd George
was egter bereid om ons te ontmoet, maar kon natuurlik alleen
namens homself en die Britse regering, waarvan hy die Eerste
Minister was, spreek. Vir die herskepping van die Unie op die
nuwe grondslag wou hy geen verantwoordelikheid aanvaar nie.
Vir Suid-Afrika was dit in die eerste instansie 'n inwendige
vraagstuk, so het hy verklaar, en bowendien kon die Britse
regering genader word alleen deur die Suid-Afrikaanse regering
as sodanig, en nie deur 'n politieke party nie. Hy was egter
bereid om 'n verklaring omtrent Suid-Afrika se status te doen,
wat toe en vir altyd daarna vir ons van die grootste belang was.
Ons nasionale stryd sou daarna hoofsaaklik op daardie grond-
slag gevoer word. Dit het as sy offisiële en skriftelike antwoord
as volg gelui:
,,Finally I would point to the status which South Africa now
occupies in the world. It is surely no mean one. As one of the
Dominions of the British Commonwealth the South African

people control their own national destiny in the fullest sense. In regard
to the common Imperial concerns, they participate in the
deliberations, which determine Imperial policy, on a basis of
complete equality.’’
In duidelike taal uitgespreek, was dit 'n erkenning deur die
hoogste Britse gesag dat Suid-Afrika in die volste sin van die
woord die selfbeskikkingsreg besit. Ons het nie vergeefs na Parys
gegaan nie!
Ons terugkoms moes noodgedwonge weer langs 'n lang
omweg geskied, en om dieselfde rede as dit met die heenreis
geskied het. Vanaf Amsterdam het ons met Nederlandse skepe
gegaan na Java, waar ons ongeveer drie weke moes vertoef,
en toe op dieselfde wyse terug na Durban, waar ons op 3 Sep-
tember 1919 aangekom het ná 'n afwesigheid van ses maande.
Bykans die helfte van daardie tyd was ons op see. Die verwel-
koming by ons tuiskoms was baie hartlik, maar nie ongemeng
nie. By die eerste ontvangs in Pietermaritzburg het 'n vyandige
skare gepoog om die saal te bestorm, en met ons vertrek daarná
met die trein moes ons veiligheidshalwe by ’n halte verder
opklim. By Kaapstad aangekom, waar die Parlement toe net
in sitting was, kon ons egter al dadelik van die verkreë resultaat
van ons sending 'n kragtige en effektiewe gebruik maak. Aan
genl. Smuts, wat toe Eerste Minister was, het ons pertinent die
vraag gestel of hy met Lloyd George se verklaring, dat ons die
selfbeskikkingsreg in die volste mate besit, akkoord gaan of nie.
Ons wou 'n duidelike en ondubbelsinnige antwoord hê. Dit het
toe ook gekom. Dit was 'n besliste: ,,Nee, ons het dit nie!’’
Daarmee was vir die toekoms die strydperk nou klaar afge-
baken. Geen verwarring van begrippe kon daar nou meer wees
nie. Die fundamentele beginselverskil was nou blootgelê. Ons
het die stryd moedig en hoopvol aanvaar. En dit het, ten spyte
van onverwagte teenslae, voortgeduur totdat Suid-Afrika uit-
eindelik verklaar is tot 'n vrye en onafhanklike staat met volle
selfbeskikkingsreg, en as sodanig ook erken en opgeneem is

onder die vrye volke van die wêreld, en wel nog ook op gelyke
voet met enige ander land.
In verband met ons verblyf in Parys is daar nog iets wat
beslis meldenswaardig is. Die Suid-Afrikaanse afvaardiging,
met die doel om sy land se onafhanklikheid te verkry, was nie
die enigste van daardie aard nie. Daar was ook 'n Ierse en 'n
Egiptiese, albei uit gebiede wat toe nog onder Groot-Brittanje
se heerskappy gestaan het. Heel begryplik het daar tussen die
drie 'n gevoel van simpatie en vriendskap ontstaan. Die leier
van die Egiptiese was Zaghlul Pasja, en van die Ierse Duffy en
O'Kelly. Die laaste was bygestaan deur 'n paar verteen-
woordigers van die Amerikaanse Iere. So het dit dan gekom dat
rondom dieselfde eettafel, as Zaghlul Pasja se gaste, daar een
dag gesit het: hy self en sy luitenant, dr. Afifi van Kaïro;
O'Kelly en Duffy van Ierland, tesame met hul Amerikaanse
ondersteuners; en genl. Hertzog, Hjalmar Reitz en ekself van
Suid-Afrika. Almal, sal ons maar sê, politieke bedelaars vlak
by die tafel van die rykes ! Wat is daarna van hulle geword ?
Dis interessant. Zaghlul Pasja, nadat hy eers deur Engeland
verban was na die Seychelle-eilande, het die eerste Eerste
Minister geword van 'n vrygemaakte Egipte; Duffy het geword
'n lid van die eerste regering van die Ierse Vrystaat; O'Kelly
was eers Speaker van die eerste Ierse parlement, en is nou die
eerste President van die Ierse Republiek; en genl. Hertzog het
geword die eerste Eerste Minister van 'n onafhanklike en as
sodanig erkende Suid-Afrika. Voorwaar, niks staan stil nie !
Die wêreld draai! Wat nou onder is, kom bo, mits alleen jy op
die regte beginsels bou, en vasberade, moedig en gelowig koers
hou !