Afrikaner-Volkseenheid/Vol Uitgeleefde Eie Nasieskap

Vroeëre Mislukte Pogings Afrikaner-Volkseenheid
Vol Uitgeleefde Eie Nasieskap
deur D. F. Malan
Die Onafhanklikheidsdeputasie


,,Vol uitgeleefde eie nasieskap". Dit is die woord wat ek doel-

bewus gebruik het om aan te dui die onmisbare grondslag
waarop alleen 'n hegte en blywende volkseenheid opgebou kan
word. Maar dit veronderstel tewens ook 'n positiewe program
wat in die proses van opbouing getrou uitgevoer moet word. En
noodwendig sluit dit ook die volgende in: Ten eerste, vryheid.
Dit betref die verhouding na buite. Sonder vryheid, of ten
minste die wil om vry te wees, kan geen volk bestaan nie.
Gewilligheid om onder die heerskappy van 'n ander volk te
buig, was vir volkseenheid nog altyd fataal. Die stryd om
vryheid, met of sonder die wapen, was aan die ander kant
nog altyd die glanspunt in die geskiedenis van enige volk, en
die volksheld hy wat hom met of sonder sukses daarvoor opge-
offer het. Vryheidsdrang is 'n volk se ruggegraat, en dis die
ruggegraat wat die eenheid en die krag van die liggaam waar-
borg en wat sy voorwaartse beweging moontlik maak.
Vir vol uitgeleefde eie nasieskap is ten tweede nodig die
staatkundige erkenning daarvan. Dit geld ons konstitusie en
vereis wetgewing soos byvoorbeeld die skepping van 'n eie
Suid-Afrikaanse burgerskap, dit wil sê 'n internasionale status
gelykstaande aan dié van die burgers van enige ander vrye
land. En ten derde geld dit ook die uiterlike simbole van ons
eie onafhanklike volksbestaan, en meer besonderlik 'n eie
nasionale vlag en 'n eie volkslied. Eie nasieskap moet immers
net soos enige ander lewende wese sy lewe in die eerste instansie
openbaar van binne, maar daarby moet hy dit dan ook tot

uiting laat kom na buite. Anders is hy dood. 'n Volk sonder
'n eie vlag en eie volkslied kan net sowel ook wees 'n volk
sonder 'n eie land, sonder 'n eie naam, sonder 'n eie karakter,
en as sodanig ook sonder 'n eie reg van bestaan, want hy is
dan blykbaar skaam om in die openbaar onder die ander
volke van die wêreld gesien of gehoor te word.
En vierdens spreek dit vanself dat sowel die regering as die
verskillende bevolkingselemente wedersyds 'n simpatieke hou-
ding moet aanneem ten opsigte van die getroue inagneming van
die deur die grondwet gewaarborgde gelyke regte. Volkseen-
heid moet met ander woorde bestaan bokant en ten spyte van
anders geregverdigde politieke verskille.
Sedert sy stigting was hierdie pad nog altyd die pad van die
Nasionale Party. Daarop het hy ten spyte van heftige teenstand
en selfs gevoelige teenslae só gevorder dat hy vandag die land
kan regeer. En op daardie pad alleen sal ten spyte van onder-
geskikte verskille die so vurig begeerde volkseenheid in sy nog
meer volmaakte vorm verkry word.
Die herenigingsbeweging, soos uit dit alles blyk, is wel
eksklusief, maar alleen in sover as dit gegrond is op beginsels.
Elke koersvaste party moet so wees. Maar dit is tegelyk ook
inklusief. In die eerste instansie wou dit bymekaarbring wat
eenmaal bymekaar was - Botha, Smuts, Hertzog en hul volge-
linge, maar dan ook alle blankes, afgesien van ras of taal, wat sy
beginsels aanvaar. Dit is nie en was ook nooit 'n rasseparty nie.
Sy grondslag was altyd breed Suid-Afrikaans. Die teenoor-
gestelde bewerings van die kant van politieke teenstanders is en
was altyd laster.
Die vooraanstaande plek wat die Afrikaanssprekendes in die
strewe van die herenigingsbewegings ingeneem het, was van-
selfsprekend en onvermydelik. As die opbou van 'n eie Suid-
Afrikaanse nasieskap aanvaar word as die kern en doelwit van
ons geskiedkundige ontwikkeling, dan was die eenheid en
bygevolg ook die hereniging van die Afrikaanssprekende deel

van ons bevolking vanselfsprekend 'n eerste konsiderasie. Op
daardie pad was hy immers die verste gevorder en het hy 'n
boodskap gehad vir die hele volk, en die hele toekoms. Vir
geslagte alreeds afgesny van wat vroeër hul eie vaderland was,
het hulle 'n eie Suid-Afrikaanse nasieskap in die lewe geroep.
Hollanders, Franse en Duitsers was hulle nie, en kon hulle ook
nie meer wees nie. Afrikaners was hulle nou, en niks anders
nie. Dat hulle vir die instandhouding en ontwikkeling van hul
eie Kerk, hul taal en hul eie identiteit aangewese was op hul eie
kragte, het hul gevoel van wat eie is, versterk. En wat ewe
belangrik is, daartoe het in oorvloedige mate bygedra 'n lange
geskiedenis van miskenning, vyandskap, verdrukking en oorlog.
Dit het heel natuurlik by hulle opgewek die wil om hulself te
wees. Dit het nasionale selfrespek aan hulle gegee. En dit het
die Afrikanervolk as sodanig gered en hom in staat gestel om
op die pad na 'n eie Suid-Afrikaanse nasieskap die leidende rol
te speel. Hy het geskiedenis en 'n ryke ook, te voorskyn gebring.
In vergelyking daarmee en as gevolg van sy blywende konneksie
met Engeland, kon die Engelssprekende seksie wel in sommige
opsigte baie presteer, maar was sy bydrae tot die skepping en
ontwikkeling van 'n eie Suid-Afrikaanse geskiedenis tot hiertoe
betreklik gering.