Afrikaner-Volkseenheid/Eerste Politieke Kontakte

Hereniging Afrikaner-Volkseenheid
Eerste Politieke Kontakte
deur D. F. Malan
Oorlog en Rebellie


Volkseenheid is 'n politieke begrip, en as daar in verband daar-

mee meningsverskille bestaan, moet die oplossing noodwendig
langs politieke weg gevind word. Die herenigingsbeweging,
waaraan ek my van die begin af verbind het, moes my daarom
onvermydelik van 'n rustiger arbeidsveld oorplaas na die sen-
trum van 'n heftige en dikwels ook onaangename politieke
warrelwind. My verdere optrede sal derhalwe beter verstaan
word in die lig van my vroeëre ondervindings en kontakte op
daardie gebied, wat ongetwyfeld op my latere koers en besluite
invloed uitgeoefen het. Ek meld dit hier.
Reeds vroeg in my beroepslewe was ek geroepe om deel te
neem aan protesbewegings teen sekere besluite van die Botha-
Smuts-regering wat by hom 'n koers aangedui het wat, ten
minste vir die Afrikaanssprekende deel van ons bevolking, nood-
lottig sou gewees het, en stellig ook verstorend sou ingewerk het
op die goeie verhouding tussen die twee blanke taalgroepe. Die
eerste was sy houding ten opsigte van 'n voorgenome feesviering
van die Stellenbosse en Kaapstadse universiteitstudente om hul
blydskap en dankbaarheid te kenne te gee oor die lank begeerde
aanvaarding van die beginsel van gelyke taalregte in die Unie-
grondwet. Dit was ongeveer 1911, dit wil sê kort ná Unie. Die
belangstelling was groot en gevolglik moes spesiale spoorweg-
reëlings getref word vir vervoer na Kaapstad, waar die fees-
viering sou plaasvind. Dergelike reëlings was hoegenaamd geen
uitsondering nie, en dit is sonder beswaar toegestaan in alle
gevalle waar die getal passasiers dit sou regverdig, maar dit is

in hierdie spesiale geval botweg geweier, en dit nogal op bevel
van die Botha-kabinet self. En die rede wat daarvoor gegee was,
was op sy mins gesê, nie alleen skokkend nie, maar ook 'n hoogs
betekenisvolle en ernstige voorteken. Oor die uiteindelike
offisiële erkenning van die gelykheidsbeginsel mog daar met
ander woorde nie feesgevier word nie ,,omdat", so is geant-
woord, ,,dit die Engelse sou seermaak". Wat kon dit anders
voorspel as dat onder die Botha-Smuts-bewind artikel 137 van
die Grondwet in die praktyk 'n dooie letter sou wees, dat die
Afrikaanssprekendes in die toekoms vir hul gelyke regte nog
maar net so sou moes veg soos in die verlede, en dat die dag van
rassevrede en vriendskap op regverdigheid gegrond, verder af
verskuif sou word na die verre en onsekere toekoms.
Hierby kon die saak nie gelaat word nie. Die verontwaar-
diging het opgevlam en op 'n merkwaardige en historiese
Studente-Taalkonferensie te Stellenbosch, waaraan ook ek
gevra was om deel te neem, en waarop onder andere pres. Reitz
en prof. Moorrees die vernaamste sprekers was, het Jong
Suid-Afrika sy protes laat hoor, en tegelyk met vaste wil sy eie
koers bepaal. Ek was toe op Montagu gevestig. Ek kan hierby
voeg dat die vergadering geensins aanvallend was nie, omdat
dit hom op die politieke terrein sou gebring het. Hy was egter
beslis positief en opbouend, en het sterk die belangrikheid
beklemtoon van getrouheid aan eie taal met alles waarvoor dit
staan.
By hierdie, vir my waardevolle, ondervinding moet ek ook 'n
tweede voeg. Die Botha-Smuts-regering het geag - en tereg
ook - dat die tyd gekom het om in Suid-Afrika 'n ,,doserende"
Universiteit te stig in plaas van slegs 'n ,,eksaminerende".
Sonder om die saak eers grondig te ondersoek en alle belange
in ag te neem, veral ook uit die oogpunt van die bestaande
inrigtings vir hoër onderwys, het die Regering eenvoudig
besluit dat dit te Groote Schuur opgerig sou word. Wat die
deurslag gegee het, was 'n groot bemaking aan daardie plek

met sy Rhodes-tradisie deur die here Werner en Beit. Hoe dit
die naby geleë en ver ontwikkelde inrigting vir hoër onderwys
te Stellenbosch sou affekteer, was heeltemal duidelik, en daar-
mee ook wat dit vir Afrikaanssprekende deel van die
bevolking sou beteken. As die regeringsplan sou deurgaan, sou
Stellenbosch as sentrum vir hoër onderwys moet verdwyn. En
Stellenbosch was in daardie tyd die enigste van belang in die
heel Suid-Afrika wat die gees en tradisies van die Afrikaans-
sprekendes verteenwoordig het. Dáár was dit waar voorheen
studente naas mekaar op dieselfde banke gesit het, nie uit
Kaapland alleen nie, maar in aansienlike getalle ook uit die
toe nog bestaande republieke van Transvaal en die Vrystaat,
en ook uit Natal. Profeties was dit, soos toe dikwels opgemerk
was, van 'n toekomstige Verenigde Suid-Afrika. Dáár is saam
opgelei die toekomstige leiers op kerklike, opvoedkundige, en
staatkundige gebied, onder andere ook genl. Hertzog en
genl. Smuts.
Hierdie Afrikaanse inrigting vir hoër onderwys met sy
vormende invloed was nou in gevaar, en begryplikerwys was
daar ’n landswye ontsteltenis. 'n Sterk waaksaamheidskomitee
is in die lewe geroep waarin ook ek die eer gehad het om te

dien, en wat my dan ook in direkte aanraking met die regeerders
gebring het. Tesame met die Kweekskoolprofessore Marais en
Moorrees en die bekende ekonoom J. G. van der Horst, het ons
druk probeer uitoefen, eers op die Minister van Onderwys,
F.S. Malan, en later per deputasie ook op die hele Kabinet,
met genl. Botha self in die stoel. Daarby het ons ook 'n manifes
voorgelê, wat ook gepubliseer is, waarin ons onder andere 'n
beroep op die volk in vooruitsig gestel het, en wat blykbaar
groot invloed uitgeoefen het. Onmiddellik was daar egter geen
merkbare resultaat nie. Maar gelukkig vir Stellenbosch en vir
daardie deel van die volk waarmee hy so nou verbonde was, het
die politieke krisis met genl. Hertzog gevolg, wat die hele land
in ernstige beroering gebring het. Dit op sigself het aan die

Regering genoeg bekommernis besorg, en versigtigheidshalwe
het hy die plan met Groote Schuur laat vaar. Stellenbosch was
gered; die volksbelange wat hy meer besonderlik verteen-
woordig het, was beveilig; en wat myself, tesame met baie
duisende ander landgenote betref, ons het opnuut besef hoe
waaksaam ons moet wees solank as die behartiging van die
gelyktaligheidsbeginsel, tesame met die algemene Suid-
Afrikaanse volksbelange, nog in die hande van die Botha-
Smuts-bewind sou bly.
Die bevestiging van hierdie vrees, op ondervinding gegrond,
het dan ook nie lank uitgebly nie. En ook hier was dit my lot
om die loop van sake van naby te aanskou. Dit was aan die
vooraand van Dingaansdag, 1912. Op uitnodiging moes ek as
spreker optree by De Wildt, dieselfde plek waar genl. Hertzog
kort tevore sy historiese toespraak met die slagspreuk van ,,Suid-
Afrika Eerste" gehou het. Te Pretoria moes ek op 'n ander
trein oorstap. Dit was Vrydagnamiddag, 14 Desember 1912,
op politieke gebied 'n dag so geskiedkundig en beslissend as
daar haas geen ander nog ooit in ons land beleef is nie. Toe ek
in die uurtjie tussenin die kans waarneem om ds. H. S. Bosman,
die hoofleraar van Pretoria se Ned. Geref. gemeente, 'n hand-
druk te gaan gee, gryp hy heel opgewonde my aan die arm, lei
my na sy studeerkamer, en vertel my dat hy net van genl. Botha
gekom het, wat hom laat roep het om hom mee te deel dat hy as
Eerste Minister bedank het met die doel om sy Kabinet te
hervorm, maar dan sonder genl. Hertzog. Waarskynlik dus
was ek die tweede persoon buitekant die heel binneste kring
wat van die Hertzog-krisis verneem het. Met die publikasie
daarvan die volgende Saterdagmôre was die hele Suid-Afrika
in rep en roer, en De Wildt, waar ek moes optree, nie die
minste van al nie. Veral was dit die geval toe dit bekend word
dat die rede vir genl. Hertzog se uitsetting juis sy De Wildt-
toespraak was met sy verklaring van ,,Suid-Afrika Eerste".
Dáárteen was dit dat die Natalse kabinetslid Leuchars protes

aangeteken het, en gedreig het om te bedank. Genl. Botha
moet toe kies. Hy behou toe Leuchars en sit Hertzog uit. Soos
later geblyk het, was dit Suid-Afrika se lotsbeslissing.
Op Maandag, 17 Desember, op pad huis toe, was ek weer in
Pretoria. En daar, heel onverwags, ondervind ek toe weer, wat
ek nie anders kan beskrywe nie as 'n eerstehandse, intieme en
onvergetelike aanraking met die nuwe en onheilspellende
politieke situasie. Ek het selfs sonder om persoonlik daaraan
deel te neem, 'n interessante onderhoud met genl. Botha self
op sy eie versoek bygewoon. Dit het só gekom. Ds. A. J. Louw
van Heidelberg, Transvaal, gedurende my kinderjare predikant
op my geboorteplek, Riebeek-Wes in Kaapland, en later
predikant op Vryheid in Natal, waar genl. Botha 'n gemeentelid
van hom was, het daardie môre spesiaal van Heidelberg oor-
gekom. Oor die politieke krisis was hy diep ontsteld, en wou
daaromtrent meer eerstehandse kennis verkry, maar hy wou
terselfdertyd ook met my kontak maak in verband met die
Stellenbosse Universiteitswaaksaamheidskomitee, waarvan ons
albei lid was. Saam besluit ons toe om die Sekretaris van Unie-
onderwys, mnr. George Hofmeyr, op sy kantoor op Kerkplein
te gaan spreek. In dieselfde ou Raadsaalgebou was ook die
kantoor van genl. Botha. En ná ons by die ingang mekaar
toevallig teengekom het, nooi hy ons vriendelik daarheen. Daar
aangekom, het hy ons dan ook dadelik van die krisis begin te
vertel, en van die ,,onmoontlike’’ Hertzog, van wie hy ge-
dwonge was om ontslae te raak. Van my kant as 'n vrywel
onervare buitestaander het daar geen reaksie gekom nie, hoewel
ek met die oog op vorige ondervindings heelwat kon gesê het.
Van ds. Louw het egter hierdie aanmerking gekom: ,,Maar
Generaal, is die werklike oorsaak van al die moeilikheid nie u
,oordrewe konsiliasie-politiek' nie?’’ Dit het die indruk wat
genl. Botha se betoog op ons gemaak het, goed opgesom.
Merkwaardig was egter nog wat daarop gevolg het, naamlik
genl. Botha se antwoord, te wete dat hy by sy beleid soos hy
dit neergelê en uitgevoer het, sou bly staan, tot die bittere
einde toe.
Interessant was toe ook as 'n aanduiding van die Generaal se
heersende mentaliteit op daardie tyd die volgende: Die telefoon
op sy tafel lui. Uit sy antwoorde daarop blyk dit toe mev. Botha
te wees, wat van sy plaas in Standerton af wou weet wanneer
hy huis toe sou kom. ,,Hierdie sakie wat my nou besig hou, sal
môre of oormôre afgehandel wees,’’ was sy antwoord, ,,dan kom
ek huis toe om te rus.’’ So gou sou die ,,sakie’’ egter nie verby
en vergeet wees nie. Die lot van ’n volk was in die weegskaal,
en daarvan sou afhang Suid-Afrika se geskiedenis in die
toekoms.