Afrikaner-Volkseenheid/Ons Eie Volkslied

Die Vlagstryd Afrikaner-Volkseenheid
Ons Eie Volkslied
deur D. F. Malan
Tielman Roos


Om ons as volk tot gesamentlike liefde en geesdriftige diens saam te bind was daar naas ons eie vlag ook nog ’n eie Suid-Afrikaanse Volkslied nodig. Met ’n ander volk kon ons dit nie deel nie, net so min as dit met ons eie vlag kon geskied, tensy ons ’n aanhangsel van daardie ander volk wou wees; en twee eie volksliedere kon ons ook nie hê nie, een vir die een deel en die ander vir die ander deel van ons Suid-Afrikaanse volk. In plaas van ons volkseenheid te bevorder, sou dit alleen dien om ons tweeheid te aksentueer. ,,God save the King’’, veral ook weens sy geskiedkundige assosiasies vir ’n groot deel van ons bevolking, was daarvoor nog allermins geskik. Ons moes daarom ’n nuwe, en daarby ’n eie en eg Suid-Afrikaanse volkslied hê. Gelukkig het Suid-Afrika ’n Langenhoven te voorskyn gebring, en kon die Suid-Afrikaanse volk in hul gemeenskaplike vaderlandsliefde hul eenheid vind bokant en ten spyte van hul tweeheid. Dit kon so gebeur: Daar is ’n stem, dit het ons ontdek, wat hul daartoe kan aanspoor. Dis geen stem van hierdie of daardie persoon of groep, en komende uit hierdie of daardie bepaalde oord nie. Dis die ,,Stem van Suid-Afrika’’. Ek twyfel of in die volkslied van enige ander volk daar enigiets gevind kan word wat in diepte van gevoel en tegelyk in waardigheid hierdie slotvers in Langenhoven se ,,Stem van Suid-Afrika’’ kan ewenaar. Luister:

Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe aan ons vaad're air ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.

Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer –
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

Op 26 Julie 1938 het ek die volgende voorstel by die Volksraad ingedien:

,,Dat geen oplossing van die Volkslied-vraagstuk bevredigend sal wees nie, anders as op die grondslag van één enkel, eg Suid-Afrikaanse en offisieel erkende volkslied. Die Raad versoek derhalwe die Regering om onmiddellik alle stappe te doen om praktiese uitvoering te gee aan hierdie beleid, en keur af enige beleid of optrede aan die kant van ministers, wat hiermee in stryd is, as synde ’n verkleinering van Suid-Afrika se onafhanklike status, en ’n aantasting van Suid-Afrika se nasionale eer.’’

As amendement hierop het Marwick voorgestel dat ,,God save the King’’ tot Suid-Afrika se offisiële volkslied verklaar word. Met ’n verdere amendement hierop het hy dit later ook nog verder aangevul met die woorde ,,vir altyd’’ wat ’n aantal ondersteunende vergaderings aan sy kant ook nog vir hom verder versterk het deur sy ,,vir altyd’’ te verander in ,,vir ewig’’. Die reaksie van die Regering, wat beliggaam was in ’n verdere amendement wat toe ook aangeneem is, was ’n ontduiking en het gekom van genl. Hertzog self as Eerste Minister en het as volg gelui:

,,Die Unie besit tans geen amptelike volkslied nie, en totdat die volk tot ’n ooreenkoms daaromtrent gekom het, moet ,God save the King’ en ,Die Stem’ albei tesame gespeel word.’’

Daarmee word dan ook die volgende verklaring van die Eerste Minister (genl. Hertzog) bevestig:

,,Wat betref die juridiese en staatsregtelike aspekte van die saak het die Kabinet die posisie soos uiteengesit deur die Eerste Minister tydens die jongste sitting van die Parlement bekragtig. Hieruit blyk dit dat die Unie tans geen amptelike volkslied besit nie. Tot tyd en wyl die volk van Suid-Afrika ooreengekom het omtrent die erkenning van ’n gepaste volkslied het die Regering besluit om die prosedure neer te lê, dat by alle formele geleenthede onder die toesig van die Regering waar òf ,God save the King' òf ,Die Stem van Suid-Afrika' gespeel word, albei gespeel sal word. In die praktyk sal sulke geleenthede beperk word tot geleenthede waar die speel van beide toepaslik is, in ag nemende hul karakter soos deur die Eerste Minister in sy reeds aangehaalde verklaring omskryf.’’

Ten gunste van hierdie amendement het 71 gestem en daarteen 32, hierdie laaste insluitende onder andere ook myself.

Hiermee is Die Stem dan ook amptelik aan die Britse Volkslied vasgekoppel. Genl. Hertzog se vertolking van die posisie wat so geskep is, is dat die één alleen eintlik ons eie volkslied is, te wete Die Stem en dat die ander ’n gebed is. Wel, waarom daar op daardie wyse alleen vir die Koning gebid moet word, en nie ook vir Suid-Afrika, ons eie land nie, is tot vandag toe vir my nog nie duidelik nie ! En waarom daar vir die Koning van Suid-Afrika juis in die woorde van Engeland se nasionale volkslied gebid moet word, is vir my nog meer onbegryplik!

Hierdie vaskoppeling was nie die gevolg van oortuiging aan genl. Hertzog se kant nie. Dis van hom afgedwing deur ’n smelterkollega van hom in die Kabinet, te wete Stuttaford, en op hierdie wyse: As protes daarteen dat by ’n sekere geleentheid ,,God save the King’’ nie gespeel is nie, het Stuttaford as minister bedank. Daarmee het hy dan ook sy doel bereik. Die vaskoppeling het plaasgevind, en hy het sy bedanking teruggetrek.

Die onsmaaklikste in verband met hierdie volksliedvraagstuk het egter nog gevolg. Dit was die eeufeesjaar en die hoeksteenlegging van die grootse en indrukwekkende Voortrekkermonument by Pretoria moes plaasvind. Die Goewerneur-generaal sou ook uitgenooi word om dit by te woon en genl. Hertzog as Eerste Minister sou die hoeksteen lê. ’n Ernstige probleem het toe dadelik ontstaan. Moet met die aankoms van die Goewerneur-generaal ,,God save the King’’ soos gewoonlik gespeel word, of moes dit as ongepas by hierdie besondere geleentheid agterwed gelaat word ? Hierdie laaste alternatief was vir die Afrikaanssprekendes oor die algemeen vanselfsprekend sonder dat rasseoorweging op enige wyse daarby betrokke was. Die speel van die Britse volkslied sou, dit was duidelik, heftige proteste en moontlik selfs wanordelikhede by die feestelikhede uitlok. Die Generaal het dit egter anders opgevat, en in ondubbelsinnige taal dit ook laat blyk. Die versoek van die Eeufees-kommissie, wat vir die reëlings verantwoordelik was, dat onder omstandighede hy maar van die speel van die Britse volkslied moes afsien, het ongelukkig geen effek gehad nie. Selfs ’n deputasie van Engelssprekendes, waaronder die Engelssprekende Volksraadslede, het grootmoediglik by hom kom aandring om onder bestaande omstandighede en by hierdie geleentheid, ,,God Save the King’’ maar te laat vaar. Hy kon egter nie beweeg word nie. Inteendeel, hy het nou geweier om die hoeksteen te lê, en was by daardie belangrike en geskiedkundige funksie dan ook nie teenwoordig nie, en dit ten spyte van die allesins bevredigende uitweg wat uit die moeilikheid gevind was, naamlik dat die hoeksteenlegging nie langer beskou sou word as ‘n staatsfunksie waarop die Goewerneur-generaal in sy amptelike hoedanigheid sou verskyn nie. Persoonlik het ek buitekant al hierdie onenigheid gestaan omdat ek nòg lid van die Monumentkommissie nòg Transvaler was en ek ook geen geneentheid gevoel het om my daarmee in te meng nie. Toe die Generaal daarom self op sterke aandrang ook van sy vriende, besluit om tog maar die hoeksteenlegging waar te neem, maar dan alleen op voorwaarde dat ek persoonlik hom daartoe moes versoek, het ek geweier, miskien ten onregte, dit wil ek erken, maar dit was vir die implikasies daarvan wat ek teruggedeins het. Immers die indruk kon daardeur geskep word dat die party waarvan ek die leier was, of selfs dat ek self agter die verset teen genl. Hertzog se eerste optrede gesit het, terwyl van groeps- of seksiebelange daar in werklikheid geen sprake was nie. En behalwe dit was die vraagstuk van die speel van ,,God save the King’’ tot almal se bevrediging reeds só opgelos, ook met die Generaal se eie medewerking, dat dit waarlik nie nog nodig was om langs die gevraagde weg genl. Hertzog by enige seksie te probeer rehabiliteer nie. Sy heraanvaarding van die taak, wat hy aanvanklik op hom geneem het, was daarom vir almal sonder uitsondering vanselfsprekend. My beswaar is ongelukkig in nie-goedgesinde kringe misverstaan en verkeerd voorgestel as persoonlike vyandskap teen genl. Hertzog, en het selfs aanleiding gegee tot ‘n beweging in sekere kringe om, as teenset, my te verhinder om by die groot Dingaansfeesviering by Bloedrivier op te tree, waar ek op uitnodiging die hoofspreker sou wees. Dit het egter net die teenoorgestelde uitwerking gehad, en het die belangstelling en geesdrif by daardie geleentheid alleen maar net verhoog. En gelukkig het die kunsmatige en tydelike onaangenaamheid ook spoedig oorgewaai. Na al hierdie onnodige geharrewar is die hoeksteen uiteindelik gelê deur ‘n vroulike afstammeling van die Voortrekkers.

Hierdie en ander dergelike moeilikhede, onaangenaam soos dit somtyds was, was gelukkig nie diepgaande van aard nie maar moet gereken word as onafskeidbaar van die natuurlike groei van ’n wordende volk.