Afrikaner-Volkseenheid/Tielman Roos

Ons Eie Volkslied Afrikaner-Volkseenheid
Tielman Roos
deur D. F. Malan
Samesmelting


Die beëindiging van die Vlagstryd het vir die Nasionale Party-regering ongelukkig nie ook die volkome terugkeer beteken van sy gemoedsrus nie. Tielman was blykbaar nie op sy gemak nie. Soos van tyd tot tyd tevore alreeds geblyk het, was hy minder ingenome met die Arbeidersparty, ten minste met die seksie wat meer besonderlik die leierskap van Creswell en Boydell gevolg het, terwyl hy hom op opvallende wyse vereenselwig het met die linkse groep (die Councilliete) onder hulle. Onder die Nasionaliste het hy hom meer bepaald beperk tot sy kring. Daarby was sy gesondheid nie te goed nie en het hy dit nodig geag om vir die herstel van sy kragte na ‘n bekende bad in Duitsland te gaan. Toe hy daar was, stuur hy sy bedanking as lid van die Kabinet na genl. Hertzog. Met sy terugkoms is hy toe as appèlregter aangestel.
Spoedig het dit geblyk dat Tielman weer na verandering hunker. Vir ‘n onrustige gees soos syne, was die regbank met sy strenge eis van kalme en onpartydige oorweging ’n pynbank. Gerugte het in omloop gekom dat hy weer na die politiek wou terugkeer. Piet Grobler, wat nou die Nasionale Party-leier in Transvaal was, het dit aangemoedig, en dit selfs aan genl. Hertzog gemeld. Die Generaal was beslis daarteen, en het in verband daarmee selfs krasse taal gebruik. Daarby is die saak toe gelaat.
Tydens die afwesigheid van genl. Hertzog en mnr. Havenga, wat die Statebondskonferensie in Londen gaan bywoon het, moes ek as waarnemende Eerste Minister ageer. Tot my verbasing kry ek toe ettelike besoeke op my kantoor van die appèlregter, wat beslis iets buitengewoons was, selfs toe ons nog kollegas was. Dat daar meer as blote vriendskap agter gesit het, het ek vermoed, en ek het daarom ‘n afwagtende houding aangeneem, en die rigting van die gesprekke goed dopgehou. Die konklusie waartoe ek gekom het, het later geblyk korrek te wees. Tielman wou tot die politiek terugkeer, maar nie as ‘n ondersteuner van genl. Hertzog nie, maar as ‘n teenstander, en hy was nou besig met allerlei voorspieëlings om my te pols in hoever hy op my steun sou kon reken. Dis onnodig om te sê dat ek hom geen aanmoediging gegee het nie, maar my konklusie het ek konfidensieel meegedeel aan my kollegas in die Kabinet.
Intussen het Engeland onder die druk van ekonomiese moeilikhede die goudstandaard verlaat en sy geldwese gedevalueer. Suid-Afrika wou die voorbeeld nie volg nie, met die gevolg dat die uitvoerder-produsente, veral die goudmyne en die boerebevolking, swaar daardeur getref is. Genl. Smuts as Opposisie-leier het nou sy kans gesien en ‘n kampanje op tou gesit ten gunste van die afstapping van goud. Al wat nou nog nodig was om dit te verwerklik, was ‘n opsienbarende gebeurtenis wat ‘n paniek sou veroorsaak met ‘n gevolgelike toeloop op die banke, wat hul deure dan sou moes sluit. Deur onderlinge verstandhouding, en gelei deur die mynmagnate, was daardie gebeurtenis die aankondiging dat Roos as appèlregter bedank het, en tot die politiek terugkeer om die land sogenaamd van ekonomiese ondergang te red. Die verwagte resultaat het gevolg. Suid-Afrika is van die goudstandaard afgeforseer. Die goudkonings en spekulante, wat tot die binneste kringe behoort het, het reusewinste ingeoes. Genl. Smuts het getriomfeer en was oneindig veel dank aan Roos verskuldig, en al wat genl. Hertzog nog kon doen, was om die volk ernstig te waarsku teen ,,die georganiseerde geldmag en Afrikanerverraad’’. Betekenisvol van wat werklik agter die skerms plaasgevind het, was die groot ontvangs wat Roos by sy aankoms in Kaapstad te beurt geval het, en dat dit gelei en ondersteun is deur sir Abe Bailey, die mees vooraanstaande goudmyngmagnaat en spekulant.
Roos kon nou op die vriendskap reken van die geldmag en, vir die teenwoordige altans, ook van genl. Smuts en sy party. Maar aan politieke aansluiting by hulle kon hy natuurlik nie dink nie, want dit sou vir hom al sy invloed laat kwytraak het wat hy nog by sy ou geesverwante oorgehad het. Sy enigste uitweg was dus om sy eie politieke party te stig, wat dan ook gebeur het onder die naam van die Sentrale Party. Soos die naam alreeds self aangedui het, was die vooruitsig om self ’n groot, sterk party te word, in kompetisie met die ander ou gevestigde organisasies, hopeloos. ‘n Sentrale posisie, waar die arms na alle kante toe tegelyk uitgesteek kon word, was daarom die mees gewenste, en vir propagandadoeleindes was die mees effektiewe partykreet Roos se ou liefhebbery ,,die reoriëntasie van partye". Ons kon dus verwag dat die ou politieke kaartespel nou weer in alle erns sou begin. Dit was ook so !

As party het Roos se Sentrale Party maar swak gevaar. Met die 1933-eleksie is daar maar twee ,,Roosiete’’, gekies, te wete Hjalmar Reitz (Jeppe) en Bouwer (Boksburg). Volkseenheid is altyd ‘n populêre kreet, en op daardie punt het hy genoeg sukses gehad dat hy die twee teenoormekaar staande partyleiers, generaals Smuts en Hertzog, vreesbevange gemaak het. So vol selfvertroue was Roos dat hy al ’n koalisie-kabinet in vooruitsig gestel het waarin hy die Eerste Minister sou wees, en die twee Generaals as sy luitenante onder hom sou dien. Dit het egter die twee nader na mekaar toe, en uiteindelik ook in mekaar se arms gedrywe; maar dit was met uitsluiting van Roos, wat deur geen van beide vertrou is nie. Maar intussen was genl. Hertzog nog eers so bitterlik gekant teen die voorgestelde koalisie dat hy Louw Steytler, die Nasionale Party-volksraadslid vir Albert, weens sy simpatie met Roos uit die partykoukus verban en by sy kiesers laat verkla het. In hierdie stadium het genl. Smuts, wat die mees geslepe van die twee leiers was, die saak uit Roos se hande geruk en self in die Parlement die stigting van ‘n ,,national government’’ voorgestel, wat eers heftig deur genl. Hertzog verwerp is, maar binne ‘n paar dae weer ewe skielik en geesdriftig aanvaar is. Roos se ,,reoriëntasie’’ het toe gekom maar sonder hom. Wat myself betref, was dit die begin van ‘n stryd vir vaste beginsels en eerlikheid in die politieke lewe wat bitter onaangenaam was omdat dit tere bande, in die loop van baie jare van hartelike samewerking gesmee, pynlik verbreek het. Maar dit was onvermydelik. Ek het die Smuts-Hertzog-koalisie teengestaan, net soos ek die beginsellose maneuvreerdery van Roos verwerp het.
Met die loop van sake was Roos natuurlik bitter teleurgestel. Hy was uitoorlê. Maar aangesien ons albei teen die Smuts-Hertzog-kombinasie was, het hy gemeen dat hy met my hulp sy saak moontlik nog kon regkry. Voelhorings is na my kant toe uitgesteek. Uit die Vrystaat is konfidensieel aan my meegedeel dat daar deur die Roosiete ‘n nuwe plan uitgedink is, naamlik om die Roos-opposisie en die oorgeblewe Nasionale Party onder my leiding met mekaar saam te snoer, en die hoofleierskap daarvan dan aan my aan te bied. Dit sou dan ’n onoorwinlike kombinasie wees. Ek was vir geen enkel oomblik geneig om aan so ‘n politieke kaartespel deel te neem nie. Toe Hjalmar Reitz my daarom namens Roos skriftelik met hierdie aanloklike aanbod nader, het ek hom dan ook dadelik as volg geantwoord:

Kaapstad
7 Jan. 1933

Waarde Hjalmar,
Tot my spyt moet ek jou meedeel dat ek nie bereid is om Roos te ontmoet nie.
Ek het in gelukkige dae, wat verby is, jou persoonlike vriendskap baie op prys gestel, en niks sou vir my meer welkom gewees het as om dit te vernuwe en sterker te maak nie. Wat my daarom die diepste grief, is dat jy blykbaar my die vernedering aandoen om te dink dat ek ’n prys het.
My diep teleurgestelde gemoed dring my om ook nog dit daarby te voeg: Verraad soos die geskiedenis hom altyd laat ken, dra nooit anders as ‘n tweelingvrug nie. Die eerste en onmiddellike is soet. Die tweede en uiteindelike is bitter. Dié wat die eerste wil eet, moet en sal onverbiddelik ook die tweede in sy verhemelte moet smaak.

Die uwe,
D. F. Malan

Ek vermoed dat Hjalmar die volle inhoud van hierdie brief nie aan Roos meegedeel het nie. In ieder geval het ek daarna ‘n persoonlike besoek van Roos, vergesel van een van sy parlementêre luitenante, in my private woning in Seepunt gekry, en wel met ‘n bepaalde doel. In die eerste plaas het hy my meegedeel, wat ek alreeds geweet het, dat hy met sy Sentrale Party hulle aangesluit het by die Smuts-Hertzog-koalisie, die Smelterparty. Sy versoek was nou dat ek met die Nasionale Party dieselfde moes doen. Binne die Smuts-Hertzog-kombinasie sou ons dan, volgens hom, die sterkste groep wees. Daarvan gebruikmakende moes ons dan eers ontslae raak van Smuts, en daarna ook van Hertzog, en gevolglik dan saam die land regeer.
Op hierdie versoek het ek dadelik en beslis maar één antwoord gehad. Dit was: ,,Ek is nie bereid om aan enigiemand my vriendskap met my één hand aan te bied terwyl ek in my ander hand agter my rug ’n dolk vashou waarmee ek van plan is om onmiddellik daarna hom ‘n doodsteek te gee nie. My vriend is my vriend. Hy is nie vir my vriend en vyand tegelykertyd nie .’’
Die Roos-party het in die begin van Maart 1935 by die Verenigde Party aangesluit. Nog vóór die einde van dieselfde maand is Roos oorlede, en daarmee het sy Sentrale Party ook verdwyn. As politikus was Roos stellig Suid-Afrika se kleurrykste en bedrywigste figuur. Beginselvas en koersvas was hy egter nie. Net die teenoorgestelde ! Ten spyte van al sy bedrywigheid het hy niks opgebou nie. Onder sy inspirasie en leiding is daar geen positiewe stap vooruit gedoen in enige rigting waaraan die geskiedenis sy naam met reg kan verbind nie.