Die Afrikaanse gedagte/Guido Gezelle en Karel van de Woestijne
← Die Afrikaner se Beskawings- en Kultuurvorm | Die Afrikaanse gedagte Guido Gezelle en Karel van de Woestijne deur C. M. van den Heever |
Ons Letterkunde in Voëlvlug→ |
Guido Gezelle en Karel van de Woestijne.
Dit is inderdaad leersaam om die digtersarbeid van twee fyn geeste soos Gezelle en Van de Woestijne met mekaar te vergelyk. Vlaandere het in die afgelope honderd jaar - 'n tydperk van kragtige oplewing van hierdie stamverwante land se letterkunde asook van sy nasionale gevoel - 'n hele aantal belangwekkende skrywers opgelewer, onder wie die innig-godsdienstige Gezelle en die hiper-indiwidualistiese Van de Woestijne 'n baie vername plek inneem as vertolkers van bepaalde aspekte van die Vlaamse volk se geesteslewe. Hierdie volk, wat soveel ooreenkoms het met ons eie volk, verskil tog ook baie van die Afrikaner, veral wat godsdiensopvatting betref. Waar Vlaandere Rooms-Katoliek is, daar is die Afrikaner Calvinisties. En juis omdat die Vlaamse volk Rooms-Katoliek is en sedert die Tagtigjarige Oorlog al verder van die stamverwante Nederland ontwikkel het, al was psigologiese verskille in die volksaard voor die tyd al duidelik, verklaar dit heelwat karakterseienskappe wat ons by die vernaamste Vlaamse digters kry. Waar die Hollander teruggetrokke van aard is, uiters versigtig in sy opvatting en 'n stroewe feesvierder, daar is die Vlaming joviaal en hartlik, 'n genieter van die aardse volheid, alhoewel Timmermans vir Pallieter, wat sommige wil aansien as die versinnebeelding van die goed-ronde, uitbundig-genietende Vlaming, 'n bietjie te veel as 'n mens sonder probleme voorgestel het! Die Vlaminge het iets behou van die Middeleeuse gees van „geheelheid,” toe die Renaissance nog nie die mens se geluk met die ontwakende drang na kritiek en ontleding ondermyn het nie. Hulle het die kosmiese verband met die aarde behou waaruit die sterkste kunswerke ontstaan; hul verstandelike en kritiese ontwikkeling kan nie vergelyk word met hul Noord-Nederlandse stamverwante se ingrawende ontledingslus en deeglike wetenskaplike (30) sin nie, maar hulle staan onbevangener teenoor die lewe en die bontkleurige natuurrykdom, en spontaan verwoord die beste van hulle hul sintuiglike indrukke, hul liefde vir die vlesige vorme van die lewe, die sappigheid van die voortbrengende natuur en geniet hulle met kinderlik-ope lewenslustigheid van die skoonheid van „Vlaanderland.” 'n Karakteristiek soos hierdie het die tekortkominge en beperktheid van alle veralgemenings. Dat daar wel deeglik Vlaminge is wat hul sintuiglike en sinnelewe kan verenig in die krag van geestelike en sintetiese bespieëling, weet elkeen wat maar net dink aan sterk besinnende geeste soos Vermeylen en Van de Voorde. Maar dit geld as 'n komplement dat hierdie volk, vir wie ek soveel liefde en simpatie besit, in ons eeu van rokende fabrieke, van gemeganiseerde emosies en gedagtes, van krassende radio's en vleiende jazz, van oorverfynde spesialiteite en ontwrigte lewenseenheid nog so die sin van die samehang van alle dinge kan vind dat hulle kan luister na die stem van die aarde, die geheime taal van die lug en wolke, van die primitiewe drang van die bloed self, en dat hul letterkunde in ons tyd van waardeverwording tot ons kom met die sagte, deurdringende klank van die lewe self in al sy wye en skone gebare. Lees die werke van Streuvels, Teirlinck, Buysse, Timmermans, en die golwende landskap van Vlaandere groei voor u oë op en u sien die arbeidende boere met hul kommer en sorge, maar ook met hul kinderlike harte. Lees die gedigte van Gezelle, die priester-digter, en volg die opgaande lyn van sy digterlike ontwikkeling, 'n lyn wat styg van die donker aarde na die verre kimme van die Lig, en lees daarna die werk van die verwikkelde, indiwidualistiese Van de Woestijne, waarin die titaniese stryd tussen vlees en gees afgebeeld is in fyn-gesiseleerde woordkuns - lees hulle en u besef hoe twee digters wat aan dieselfde volk behoort, tot 'n mate met mekaar verwant is, maar tog ook weer verskil, 'n verskil wat so diep loop soos die indiwiduele digterstemperament self. 'n Karakteristiek van albei se liriek is, soos ek reeds aangedui het, nie alleen van waarde wanneer ons die volkswese self wil leer ken nie, maar dit is tiperend van die afwisseling van sangstof en vormgewing wat ons in die Vlaamse liriek vind.
Ek is nie hier besig met die uiterlike besonderhede van Guido Gezelle se lewe nie. Al wat van belang is, is die innerlike ontwikkelingsgang van sy poësie, en die gewone lewensfeite (31) kry hier betekenis net in sover die gebeurtenisse van die groeiende digtersgees verhelder word. Gezelle is in 1830 gebore en is in 1899 oorlede; dit wil sê sy lewe beslaan 'n belangrike tydperk in die wordingsgang van die moderne gees. 1830 is ook die skeidingsjaar tussen Noord en Suid, dit is die jaar toe die koninkryk België in die lewe geroep is en 'n ernstige stryd vir die erkenning van Vlaamse regte op taal- en kulturele gebied begin het.
In Nederland het die peil van die letterkunde tussen 1830 en 1880 ernstig gedaal, die innerlike groei van die volk het blykbaar tot stilstand gekom en die liriese uitinge van die meeste digters - as hulle nog die naam werd is - was meestal laag by die grond, gemeenplasig, vas-metries. Met een woord: die lewewekkende gees van ware ritme, wat die uiting is van 'n ontroerde gees, was afwesig. Dit is ook die tydperk van die Romantiek, wat weliswaar gedurende hierdie periode, veral wat die liriese openbaring betref, baie vlak gevloei het in Nederland. As ons vir Guido Gezelle, die seun van 'n eenvoudige tuinier, in hierdie raamwerk van die tyd plaas en sy liriese werk naas dié van die meeste van sy onbesielde tydgenote lê, dan is dit inderdaad verbasend om te sien hoe die fyne gees van die digter hom so gou bevry van die retoriese omhulsels waarin die Nederlandse taal magteloos gelê het en hoe hy sy eie belewing in 'n sorgvuldig-geskakeerde Wes-Vlaamse taalvorm, wat wel die nouste voeling gehou het met algemeen beskaafde Nederlands, laat vervloei het, en die wonder van sy eeu verrig het, nl. om die selfgesiene en self-gevoelde lewe volledig sigbaar te maak in die suggestie van die taal. Wie die werk van sy Vlaamse tydgenote lees, besef dat Gezelle opeens 'n wonder vir die kultuurlewe van sy volk gedoen het, want hy het die eenvoudige, sappige volkstaal verskerp en veredel in sy kunssegging. Hy het sy indiwiduele skeppingsvermoë laat wegsink in die onbewuste dieptes van die volkslewe self en vorm ontwikkel, wat veel sê vir 'n letterkunde waarin gemeenplasige gedagtes net uitgespalk is oor die geraamte van 'n geoliede tegniek!
Wie Gezelle se vers- en taaltegniek wil verstaan, moet onthou dat hy, as kind van die volk, as beskeie priester wat die vriend was van armes en kinders, gedurig sy krag gesoek het binne die besondere geesteservaring van sy volk. Hy het die innerlike stem van die volkslewe beluister soos dit tot gestalte kom in die fyne, karakteristieke gebare van die volks- taal, en juis die karakteristieke gebare het die ritmies-sintuiglike wese van die digter geboei. En hy het gedoen wat alle (32) groot volksdigters doen: hy het sy emosielewe, hoe seer die ook al verfyn was, altyd laat vloei deur sy eie, geliefde Vlaamse volk se geloofstradisie en lewenservaring, en sy eie elasties-ontwikkelde taal deurdrenk met lewenskragtigheid van die volkstaal.
In daardie opsig was Gezelle 'n tipies Vlaamse digter, maar die groot betekenis van sy werk is, soos August Vermeylen duidelik aangetoon het, dat dit poësie is wat die geur van die aarde behou, selfs waar die seldsaamste blomme voortgebring word. Dis buitengewoon vernuftig en tog onkreukelbaar fris. Dit is die mees verfynde literatuur, wat nooit ophou om literatuur te wees nie.
As u die poësie van Gezelle lees, sien u gedurig die hoë gestalte van fyngevoelige, mensskuwe priese rondwandel in die natuur, u sien hom waar hy aandagtig luister na die fluistertaal van die verontagsaamde riete; u sien hom met 'n glimlag staan by die vlieg met sy „welgezinde snaartrompet,” by die „krinklende, winklende waterding”; u sien hom die opgaande en ondergaande son bewonder, die uitbrekende volheid van die lente verheerlik en treur oor die gevelde bome wie se leed hy liggaamlik aanvoel. Saam met die jaargetye lewe hy en ken die natuur in al sy buie en gedaantes, en sy siel word die gladde spieël waarop die natuurwondere afgebeeld lê:
So suiwer is ook die afbeeldingsvermoë van sy siel. Maar let wel: hier het ons die opregte bewonderaar en skeppende terug-beelder van die natuur, 'n wonder in 'n tyd toe die natuur verstol gelê het in gemeenplasige beeldspraak; in daardie suiwer spieël lê nie alleen die beelde van die blomme langs die kant nie, maar dieper: die diepte van die hemel!
En dit verbind vir ons al dadelik die diepste bronne van Gezelle se kuns: sy liefde vir en aanvoelingsvermoë van die natuur en sy geloof wat glans deur die natuurbewondering, en alles, die kleinste natuurwonder, verewig in die lig van die (33) Idee, wat in en deur alle natuurverskynsels werk. En so kom daar 'n simboliese diepte in Gezelle se verse waardeur ons leer om die natuurwonder in 'n geestelike betekenis te sien, om die wesensgrond van alle dinge te soek in die nietigste verskynsel, dit te sien sub specie aeternitatis, soos Spinoza dit uitgedruk het. Of in die kristal-helder taal van Gezelle self :
As ons oppervlakkig in Gezelle se werk lees, sou ons maklik tot die gevolgtrekking kan kom dat hy 'n probleemlose natuur was, wie se lewe veral beïnvloed is deur die natuurstemming en die lastigheid van tradisie-vaste mense wat sy sensitiewe, weerlose persoon gedurig gekwel het. Die saak is egter nie so eenvoudig nie. Gezelle was 'n digter met heel weinig „komplekse,” sy digtersaard was nie verwikkeld, sodat hy onnodig probleme moeilik gemaak het nie. Hy het 'n skerpe, deurdringende intellek gehad, met 'n fyn waarde-oordeel en ,wie van sy opstelle in Rond den Heerd lees, weet dat die digter glashelder sy moeilikste gedagtes kon uitdruk. Inderdaad was hy een van dié gelukkige nature by wie gedagte en taaluitdrukking innige vriende is. Sy hele innerlike lewe was lig en vloeibaar. Alles het in reguit rigtings gegaan. Daar was geen moerasse van „verdronge komplekse” nie. Dat Gezelle geworstel het, weet elkeen wat sy lewe sorgvuldig bestudeer het, maar sy worsteling is nie fisolofies uitgewerk in „gedagtekuns,” soos baie oppervlakkige jonger „kritici” graag wou gehad het nie. In ons eeu van woorde kan baie mense glad nie meer ernstige wysheid begryp as dit eenvoudig en reguit gesê word nie!
Gezelle se groot worsteling lê ongetwyfeld in die periode wat ons gewoonlik sy swygenstyd noem. Sy teleurstelling as leraar, as priester en as mens het hom, na 'n kort tydjie van vrede en geluk onder sy geliefde leerlinge op Roeselare, teruggewerp op die eensaamheid van sy eie siel. Sy digterstem het geswyg, en allerlei teorieë is gegee oor die feit dat hy twintig jaar gewag het voordat sy koninklike woord die jongeres sou verheug. Urbain van de Voorde, die grondige Vlaamse kritikus en digter, het selfs sy toevlug na 'n psigo-analistiese (34) beskouing geneem, en alhoewel hy nie duidelik sy mening - 'n mening wat reeds vroeër onseker deur Carel Scharten uitgespreek is - sê nie, kan ons uit die volgende verstaan dat hy die beskouing toegedaan is dat Gezelle vir 'n paar van sy beste leerlinge meer as louter vriendskap sou gevoel het: „welks laatste wezen Gezelle zelf wellicht niet bevroedde, maar tog vaag als voor hem zondig besefte, waarom de wilskrachtige priester het dan ook negeerde met het gevolg echter dat het den dichter verstommen deed.” Andere kan van hierdie teorie dink wat hulle wil; vir my lyk dit onaanneemlik en onoortuigend. Dat Gezelle sowat twintig jaar sou swyg, omdat elke ware digterlike uiting van hom dalk tekens kan dra van 'n ervaring wat vir 'n priester as sondig bestempel moet word, sal niemand glo van 'n kunstenaar soos Gezelle nie. Wel het hy geswyg as gevolg van teleurstelling en omdat hy, die mens-skuwe en vereensaamde, nooit die openbaarheid ingestorm het met elke nuwe gediggie wat hy klaar het nie. Ook was hy geen verliteratuurde artiest nie. Sy kuns was vir hom nie meer werd as sy werk as priester onder die misdeeldes nie, en as hy hulle kon gelukkig maak met 'n vlotgerymde dodebriefie, waarom fyn geboetseerde liriek gee, wat die hoë here van Roeselare en die Kerk vroeër nooit verstaan het nie? Waarom die sielelewe weergee van 'n „Grote Gaai” (G.G.), waarvoor hy uitgekryt is, en dit nogal, om die taal vir die verfranste owerheid self te gebruik, in „stratevlaemsch”? Maar die digter wat aanvanklik, soos in die stemmings-innige O 't Ruischen van Het Ranke Riet, so weemoedig geluister het na die natuurstem, met 'n byna willose oorgawe, het sy natuurdrif in sy swygenstyd al meer gesublimeer en vergeestelik, en as hy dan weer begin dig, klink die wonderlik eteriese, mistieke klank in sy werk wat bewys dat hy, hoe seer hy ook kind van die aarde was en die skoonheid daarvan geniet het, nou opgegaan het in die lig (daardie woord wat vir hom al meer 'n besieling was) en die dinge nou in hul verdiepte, vergeestelikte glans sien. Tegelykertyd het hierdie innerlike rypwording ook sy taalvorm geesteliker, deursigter gemaak en aan sy versklank 'n innig-mistieke toon gegee wat hom verwant maak aan groot Middeleeuse mistici soos Ruusbroec, een van sy geliefde skrywers. So lê Gezelle se digtersontwikkeling van Kerkhofblommen (1858) en Dichtoefeningen (1859) oor Gedichten, Gezangen en Gebeden (wat deur sy leerlinge uitgegee is in 1862) tot by Tijdkrans (1893), en Rijmsnoer (1897), die voldrae werk van sy ouderdom, in die gees van die leser as 'n duidelik opgaande lyn, nie 'n sinledige geworstel en onvrugbare terugglyding nie, (35) maar 'n uitgroeiing van beloftes, 'n verdieping van die geestelike sin van sy lewe, 'n deurligting van die aardse met 'n hemelse lig, 'n opstyging uit die loodsware magte van sinlikheid en sintuiglikheid in die ruime sfere van spiritualiteit. Van die huiwerend-onsekere „O, 'k sta my zo Geren” na die godsdienstig-kosmiese en bevrydende van Ego Flos! Wat ons hier tref is die geheelheid van Gezelle se digterlike ontwikkeling, wat wel toon hoe seer sy gees, selfs in sy tyd van opkomende modernisme, die „holisme” van die middeleeuse lewe kon voel, dié lewe wat vir sy gees skoon en goed was. En so verrys Gezelle dan in sy liriek vir ons as 'n mens met 'n eenheid in sy lewensbedoeling, wat weliswaar dikwels bemoeilik is, met 'n eenheid in sy persoons- en digtersontwikkeling wat ons onwillekeurig laat dink dat hy 'n laat Middeleeuer was met die natuurwaardering van die moderne mens. Maar hy is nie alleen groot as spontaan-suiwere liriese digter nie; ook as Vlaming, as skone verteenwoordigende digter van die ontluikende kragte van sy volk, is hy groot, as kultuur-persoonlikheid wat die benede-kultuurlike volkskragte geadel het tot kuns. Saam met sy histories kulturele waarde moet sy estetiese betekenis as digter beskou word. Inderdaad, 'n suiwerfris blom wat ontspruit het uit ongekweekte aarde!
Om van 'n digter soos Gezelle oor te gaan na een soos Van de Woestijne, beteken om 'n rustige tuin te verlaat waar die son goud-warm gloei agter die blomme en takke en verhelderend val deur die hoë beskilderde rame van die Kerk en om daarvandaan te gaan na 'n koel-vogtige herfsveld, waar die swak strale van die ondergaande son bewe oor die sorgvuldig-versorgde kasplante en die wandelaar diep wegsak in die sagte, donker aarde. Soos alle vergelykings het ook hierdie sy beperkinge, maar dit dui min of meer aan watter onderskeid daar is tussen die wêrelde, die arbeidsatmosfeer van die twee groot digters.
Karel van de Woestijne is gebore in 1878 en is oorlede in 1929. Sy lewe val dus in 'n tydperk toe die belangstelling vir die Vlaamse kultuur en kuns sterk toegeneem het, veral onder die jongeres, wat hulle omstreeks 1893 groepeer om die Tydskrif, Van Nu en Straks, wat van veel lewenswekkende betekenis was vir Van de Woestijne se ontplooiende talent. Gezelle se eerste arbeids-periode - d.w.s. op Roeselare - het veral groot invloed gehad op sy leerlinge, wat sy (36) besielende boodskap verder sou dra, maar vir die meeste lesers van sy tyd was sy musiek te fyn om behoorlik te waardeer. Die skelle gedreun van die blaasorkes van retoriek het die sagte altstem van 'n eensame viool oordreun! Karel van de Woestijne se ontwikkeling begin in 'n periode toe die Beweging van Tagtig se versuiwerende inwerking op die woordkuns ook deur die jongeres in die Suide bewonder word. Hy lewe dus in die tydperk van fel-ontwakende indiwidualisme. En dit is van die grootste betekenis vir sy kuns en persoonsontwikkeling. Hy is deur en deur modern en die fin-de-siècle-gevoel wat met die verdwyning van die negentiende eeu so baie jong geeste sterk aangegryp het, is ook in sy werk aanwesig. 'n Vreemde wêreldbeeld het ontstaan wat veral die eenheid in gevoel, verbeelding en persoon, wat ons so tref by die „laat Middeleeuer” Gezelle, versplinter het. Karel van de Woestijne, wat self 'n besonder indringende kritikus was - 'n genre waarmee Gezelle hom nie besiggehou het nie - het hierdie verskynsel as volg getipeer: „Het eigenlijke conflict waartoe al de andere dingen dienen teruggebracht, bestond uit de tragische onverenigbaarheid van maatschappij en individu: het besef dat de maatschappij niet meer aan haar doel beantwoord en een onmiddellijke vernieuwing onvermijdelik schijnt.” Hieruit is allerhande gevoelhoudinge by kunstenaars gebore, waarvan die onaangenaamste wel is 'n taedium vitae, 'n lewensmatheid, en 'n demoralisasie wat Van de Woestijne self met afkeur beskryf as 'n „satanische kunst,” „'t vergoddelijken van het abnormale.” Veral Baudelaire, wat deur baie snobistiese wêreldveragters wat hom nagevolg het, nie altyd reg verstaan is nie, was vir 'n groot gedeelte die oorsaak hiervan. Ook hierdie atmosfeer sal ons dikwels in Van de Woestijne se werk aantref. Met atmosfeer het ons veel van sy liriek se karakter aangedui. Want hierdie „bleeke” digter met sy fyn, aristokratiese hande, koorssieke oë en sinnelike mond, is die digter wat soos weinig ander digters, atmosfeer kon aanvoel. Hy sê self: „Ik heb altijd, en doe het nog, atmospherisch gevoeld: ik bedoel dat vooral stemmingen, meer dan daden of feiten, in mijn binnenst naleven blijven.” Daarmee is Van de Woestijne se liriek gekenskets. Wat hom dan ook veral trek in die atmosfeer van die jaargetye, is die weemoedige herfs, en ons kan inderdaad van Van de Woestijne se „herfstige” gevoel praat. So sal hierdie digter, wie se ontwikkelingsgang in ons moderne tyd van ontwrigting val, fyn en diep die gees stemming deurlewe van immer wysigende skakeringe van die tyd, maar veral sal hy besig bly met sy hiper-verfynde indiwidualisme, sy ingrawing in die donker (37) dieptes van sy komplekse emosie-lewe, en sy worsteling om ewewig, sy strewe om 'n houvas in die lewe te kry, sy drang na „Lig,” wat Gezelle langs 'n ander weg sou bereik. Daar is wenige digters in wie se werk ons so 'n ontsettende worsteling waarneem tussen vlees en gees as in dié van hierdie moderne Vlaming. Hy is die tipiese produk van 'n uitgebloeide Westerse beskawing, met al die vormvolmaking in sy kuns, maar ook met die ontbinding van die eenheidsvormende magte van die gees, die gees wat die sinnelikheid moet ophef en volkome moet sublimeer. Dit is ten slotte die prys wat die moderne beskawingsmens vir 'n analitiese en kritiese ontwikkeling betaal het wat met die kragtige oplewing van die Renaissance begin het en stap vir stap die ontwikkelende mensheid - veral 'n ontwikkeling van intellek, maar nie so seer 'n skoling van die primitiewe emosie nie - gevoer het tot waar hy vandag is: 'n prooi van sy oorspanne senuwees, besete met 'n sieklike drang om te delf in die geheimenisse van 'n ragfyn-georganiseerde innerlike, só indiwidualisties-voelend dat hy uit die eenheid van die massa geval het, en pateties, met 'n immer-besige radio, 'n stroopsoete klankfilm, probeer om die eenheid en grond van die dinge, van die lewe, van die mensheid weer te vind. Natuurlik te vergeefs. Want verweg lê die kalm glans van die Middeleeue, toe daar weinig „kultuur” was, maar meer „Godgebondenheid,” soos die Middeleeuers dit genoem het. En in Vlaandere het nog iets oorgebly van daardie dieper eenheidsgevoel, so ook in Suid-Afrika op plekke waar die gedreun van die masjien nog nie gehoor word nie en eenvoudige harte nog die troos voel wat die fyn-skerp ontledende kultuurproduk so seer verlang, maar net verder sien wyk voor die innerlike vretende vuur wat hy self gemaak het. Daardie dekadensie, sinneverfyning, hiper-indiwidualisering van ons moderne beskawing het Van de Woestijne in hom gedra en gevoel en sy hele komplekse sielelewe - seker 'n vlugbare ontledingsveld vir die psigo-ontleder! - uitgebeeld in verse, so nerveus-fyn en gevoelig-diep ingeëts in die organisme van die taal dat hy tot die allermerkwaardigste digters van ons tyd gereken moet word. Van sy eerste verse tot sy laaste toe is die tragiese stryd te lees, die soektog na die „gelaat” van God, maar telkens weer die terugsinking na die wellus van die donker aarde, met sy rypende vrugte wat gloei in die tuin van sinsgenot. Ja, dit is 'n eeue-oue probleem : die stryd tussen die opwaartsstrewende gees en die donker hartstogte wat nyg na die aarde. Maar die tweespalt, die pyniging, die nederlae en grandiose voorgevoelens van komende heerlikheid - al waarsku die verstand onrustig dat teleurstelling (38) stelling moet kom - dit lê in Van de Woestijne se verse suiwer en diep afgebeeld, met 'n vormkrag ontwikkel wat sonderling genoeg, veral in die latere verse, suiwer klassiek mag heet. En let veral op die bevreemdende titels van sy bundels wat onafgebroke die worsteling weerspieël van 'n eerlike, indringende gees met die lig-ontvlambaarheid van sy sinlike lewe: Het Vader-Huis (1903), De Boomgaard der Vogelen en der Vruchten (1905), De Gulden Schaduw (1910), De Modderen Man (1920), God aan Zee (1926), Het Bergmeer (1928). Bevreemdend nie waar nie? Vergelyk dit met Gezelle se bundels, wat die name en inhoud betref, en u besef dat ons hier inderdaad voor die ou probleem van natuur en kultuur in die digkuns staan, wat reeds so belangwekkend deur Lessing gestel is, maar so ook misbruik is deur mense wat graag probleme ontwyk. Van de Woestijne se sielelewe is so verwikkeld dat dit nie maklik gaan om helder en duidelik 'n ontleding daarvan te gee nie. Daar is veel oor geskryf en die Van de Woestijne-Genootskap, wat 'n paar jaar gelede in die lewe geroep is, doen baie om reg te laat wedervaar aan die ware betekenis van hierdie digter se werk. Naas Urbain van de Voorde se indringende opstel oor die liriek van die skrywer, moet dr. Math. Rutten se onlangs verskene De Lyriek van Karel van de Woestijne (onder die beskerming van genoemde Genootskap uitgegee) genoem word as een van die mooiste, simpatiekste en helderste studies wat oor die digter verskyn het. Van de Woestijne se sensualistiese worsteling is veral vasgelê in die bundels Het Vader-Huis, De Boom-Gaard, De Gulden Schaduw, Het Menschelijk Brood en De Modderen Man. Veral laasgenoemde bevat die skrynendste sinlike verse, waarin die digter vir ons sy selfveragting en selfpyniging uitdruk, maar ons tog steeds geboei bly deur die onafgebroke stryd tussen die magte van die aarde en die lokking van die Lig. Maar gaandeweg win die geestelike stuwingskrag, en bundels soos God aan Zee en Het Bergmeer getuig daarvan. Maar 'n uitstyging in die ewige regione van mistieke lig, soos Gezelle dit in Ego Flos geken het, is dit nie, wel flitse van die goue sielerus, wat die vermoeide digter langer laaf as die geval vroeër was, en opmerklik is dit seker dat in bundels soos Het Berg-meer, waarin die lewenservaring meer spiritualisties word, daar neig die liriek, nie soos by Gazelle, na klare, deursigtige verruimende mistieke beelde nie, maar na serebraliteit. Van de Woestijne was te veel kind van die heerlike aarde dan dat hy hom volledig daarvan kon losmaak; sy gees was eenmaal so dat dit nooit volkome ewewigtigheid kon vind in 'n rustig skouende lewe nie, en dit (39) lyk my juis om met Van de Voorde te konkludeer: „De twee polen van zijn wezen zijn tot het einde toe ontzaglik geladen, maar hun hoogspanning heeft zich nooit bevrijdt in de electrische vonk van het mystisch inzicht.” Die digter wat gevoel het dat daar tussen hom en God 'n versluierende „iets” is, wat so diep kon sak in die moerasse van sinlikheid, van lewensmoegheid en eindelose weemoed en kon kla:
dieselfde digter wat die berustende, pragtige Zegen deze avond God.... kon skryf, kon ook verruim word tot besef van die deurbrekende heerlikheid van die Lig deur die grouheid van sensuele verrukking:
In Van de Woestijne se poësie lê 'n heel persoonlike sielelewe afgespieël, en hierdie groot-eerlike digter, wat Kloos se Scheldsonnetten kon begryp en beweer het dat 'n ware digter eerlik moet wees tot op die grens van skaamteloosheid toe, het sy intiemste gedagtes en gevoelens, sy sondigste verlange en mees ekstatiese sielevreugdes gegee vir almal wat dit onbevooroordeeld en simpatiek-menslik wil begryp. Uit 'n sorgvuldig-gekweekte tuin het hierdie kultuurblom gegroei, bleek en fyn, nie altyd met die ontluikende kelk na die son gerig nie - omdat dit veral 'n herfsson is wat die koele vogtigheid van die aarde nie kon oorwin nie...
Albert Verwey het 'n hele aantal jare gelede 'n opspraakwekkende artikel geskryf waarin hy aantoon dat Totius 'n digter van 'n heengegane periode in ons volkslewe is, eintlik 'n „romantiese” digter, terwyl Leipoldt 'n digter van die toekoms heet. Oppervlakkig lyk sulke definitiewe uitsprake wel heel belangrik, maar wie hulle ontleed, vind meestal geen (40) rede vir die stelligheid nie, want die „verlede” en die „toekoms” in poësie, die „oue” en die „nuwe” kan so maklik gebruik word! Gezelle mag met sy lewensbeskouing wortel in die „ouderwetse” Vlaandere, maar sy poësie is gespanne met innerlike lewe en skoonheid - en daarom gaan dit ten slotte in die letterkunde. En gelukkig is die moderne literatuurwetenskap so ver gevorder om 'n digter se werk sorgvuldig te karakteriseer, sy hele wêreldbeeld te teken en die vormlewe wat dit in die kuns gewek het, te omlyn, om sy werk nie met die subjektiewe houding van 'n pedante skoolmeester te nader nie, maar met die liefdevol-begrypende inlewing van gesonde menslikheid. En wie die werk van Gezelle en Van de Woestijne so benader, sal sy studie sien groei tot 'n ware genot vir die gees. Want aan die een kant staan die skugter-fyne Gezelle, met die beminlike laggie om die mond, en die oë omrimpel met klein plooitjies - die liefdevolle grysaard wat in sy oë die son dra van gevonde lewensrus en deursigtige skoonheid; en aan die ander kant die swaarmoedig-sinnelike moderne mens Van de Woestijne met sy swaar, sensuele lippe, sy koorsig-hunkerende oë, waarin 'n donker ontledingslus brand om deur te dring tot die grond van die self en die angste van die „doorhunkerd lijf.”
Seker 'n groot teenstelling, en tog by albei - al soek hulle dit langs verskillende weë - die drang na Lig! Dr. Math. Rutten vat dit so saam: „Wanneer men den levensinhoud bij Karel van de Woestijne vergelijkt met dien bij Guido Gezelle, valt onmiddellijk op hoe, terwijl bij Guido Gezelle het innerlijke beleven uit een zuivere, gezonde en rechtstreekse verhouding tot de buitenwereld ontstaat, bij Van de Woestijne tussen het beleven en de buitenwereld het geheimzinnige en donker kluwen van zijn physiologisch-psyschische geaardheid van overwegende invloed is. Beide zijn dichters bij de genade Gods; doch, terwijl Gezelle's ontvanklijkheid als een kristalheldere spiegel is, dien men de natuur zou voorhouden, is desensibiliteit van Karel van de Woestijne vooral een vreemd doorlaaid en donker vuur.” En hierdie verskil in geestesaard en lewensbeskouing vind uiting by Gezelle in elasties-spelende ritmes, in 'n volle melodiese toon wat hom saggies aanvlei teen huppelende rymvorme, aanstu op oorspronklike enjambementvorme en die bekoorlikheid het van 'n afgeronde liedvorm waarin die juweelstene van eie woordskeppinge flonker:
(41)
En Van de Woestijne? Langsaam, met 'n verwikkelde sinsbou, ontplooi die lewe van sinne en gees in statig-donkere verse, waarin daar 'n diep sonoriteit gehoor woord, die beelde en woorde soms wild rank oor die innerlike bedoeling heen en die totaalstemming deurgaans een is van „atmosferiese” weemoed :
By altwee 'n tiperende indiwidualisme, maar by Gezelle merk ons duidelik hoe sy digterlike krag wortel in die onbewuste kragte van die volk, hoe hy 'n gesonde kultuurblom is wat langs die lyn van volksaardige geestesewolusie voortgebring moes word, terwyl Van de Woestijne wel Vlaming is, maar meer die verskerpte sinne en geesteslewe van die moderne Westerling, die fin-de-siècle-mentaliteit verteenwoordig, en gepaard daarmee 'n ego-sentriese hewigheid, sieklik-verfynde sinne besit waaruit vloei lewensmoegheid en ongeneeslike lewensweemoed wat verinnig in verwikkelde versvorme tot skrynende lewensellende en doodsverlange. 'n Belangwekkender teenstelling tussen twee digters wat behoort tot een volk, sal ons moeilik vind! (42)