Die Afrikaanse gedagte/Ons Letterkunde in Voëlvlug

Guido Gezelle en Karel van de Woestijne Die Afrikaanse gedagte
Ons Letterkunde in Voëlvlug
deur C. M. van den Heever
Stijn Streuvels



Ons Letterkunde in Voëlvlug

Wat beteken vyf-en-twintig jaar in die lewe van 'n volk? Vir ou kultuurlande, met hul agtergrond van eeue, is dit seker nie veel nie, maar vir 'n jong land, waar dit gis en groei, is dit baie. 'n Mens meet die betekenis van 'n persoon, van 'n volk se lewe nie aan die aantal jare wat agter die rug lê nie, maar aan die bewoënheid, die gevuldheid, die innerlike spanning van die tyd wat deurgemaak is.

Daar is kleiner volke wat rustig voortvegeteer sodat ons net van hul bestaan weet as ons 'n boek oor Aardrykskunde oopslaan en daar is ander, wat deur hul gesonde leefkrag 'n betekenis in die buitewereld gekry het wat ver buite die omvang van hul getalsterkte gaan. So 'n volk - dit is nie chauvinistiese oordrywing om dit te sê nie - is ons eie, die Afrikaanse volk. „Ook agter ons lê vuur en bloed,” het die digter Leipoldt gebied na die ontsettende oordeel wat ons volk gedurende die Driejarige Oorlog moes deurmaak. En inderdaad juis deur die spanning van daardie oorlog, juis deur die „vuur en bloed” het die naam van die Afrikaner ver buite ons grense bekend geword, sodat Nederland, ons stamland, vandag nog trots is dat so 'n loot uit die ou stam gespruit het.

1910! Dit is ons wegspring-plek, en inderdaad 'n jaar van groot betekenis. Wie vandag terugkyk na daardie baken op die veraf gesigseinder en dan peins oor ons volksontwikkeling, die stryd en opdraand-paaie, kan moeilik in 'n kort bestek meedeel al die komplekse gevoelens wat in hom wakker word. In die letterkunde egter - en daarby wil ek my bepaal - kry ons 'n weerspieëling van die groei, die innerlike vooruitgang wat hom in die nasie voltrek het, en daardie lyn wil ek probeer volg. Die lang brakplekke, die vasval-gate, die innerlike verskeurdheid (43) wat ons volkskragte so gesloop het, sal ons hier oorslaan, waar ons hoofsaaklik wil lei op die ontwikkeling wat hom op letterkundige gebied binne ons nasionale lewe gedurende die afgelope vyf-en-twintig jaar voltrek het.

In 1910 dan, met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika, is ons reeds 'n skoffie verwyder van die oorlogatmosfeer wat ons hele letterkunde deurdring het toe ons kunstenaars hul eerste indrukke neergeskrywe het ná dié volksramp. Maar die indruk wat die oorlog op die jong volk se gemoed gemaak het, is nog glad nie vergeet nie. Leipoldt se Oom Gert Vertel, Totius se By die Monument, Celliers se Vlaktebundel het in een atmosfeer ontstaan, so seer is die digter kind van sy tyd, en so kragtig het die volksgevoel van verdriet en lyding die digters se werk deurstroom. Daardie gees word suiwer weergegee deur die juweel van 'n gedig 'n Winternag van Eugène Marais, seker een van die mooisie skeppinge in ons taal. In deurleefde vorm is daarin uitgedruk die verlatenheid, die hopelose weemoed wat die hele Afrikaanse volk ná die oorlog aangegryp het. En daardie grondtoon deurhuiwer ons digkuns, nie alleen tot by 1910 nie, maar nog 'n hele ruk daarna. Gaandeweg raak dit meer op die agtergrond, toe 'n nuwe, groeiende lewe sigbaar word, maar dit bly in die volk se onderbewussyn sluimer en vorm die agtergrond van veel wat later geskrywe word.

In ons digkuns moet die name van Celliers, Totius en Leipoldt genoem word as die vernaamste vertolkers van daardie volksverdriet. Van die „gewete” van die volk, soos die Hollandse kritikus Verwey dit uitgedruk het. Celliers met forse, kragtige ritme, waarin ons dié sterk vryheidsdrang van die Afrikaner hoor, is die digter met die ingebore liefde vir ons velde se oneindigheid, vir alles wat behoort aan hom wat hierdie grond liefhet; die digter ook van die tere, huislike liefde en die mymeraar oor die geheimsinnige in die lewensverskynsels self. Naas hom Totius die simboliese siener, die weemoedige volksprofeet, wat al die gebeurtenisse wat ons volkslewe beroer het, na hul dieper betekenis vat en dit dan vertolk in sy fyn, gesluierde simboliek, waarin hy die geskiedenis vir ons deursigtig maak en die hoofmomente daarvan onvergetelik oproep. Totius het die gees van die Afrikanerdom soos weinig ander digters vertolk, en die mooiste van sy werk, juis uit hierdie periode van volkswanhoop, is die geloof aan herrysenis, van die toekoms van sy nasie. Naas sy elegies-sagte werk het ons dié van Leipoldt: skrynend. hewig, opstandig. Hier nie die aandoening wat getemper word deur (44) die weemoedige mymering nie, maar wat in alle felheid bly voortbrand in die geheue van die lesers. So lewe ons dan nog in dieselfde toon,'n goeie vyf of ses jaar ná die totstandkoming van die Unie, as gevolg van oorlogsgedigte wat die leed en lyding self opgevang het, soos die seeskulpie waaroor Totius sy aandoenlike gediggie geskrywe het. In 1913 word die Vrouemonument op Bloemfontein onthul en na aanleiding daarvan kry ons Totius se meesterlike gedig Rachel, waarin miskien die suiwerste konsepsie voorkom wat ons in die Afrikaanse digkuns besit.

En in 1914 is die Rebellie daar en klink Jan Celliers se stem al weer waarskuwend - die kleinste volksgebeurtenis wat die gemoedere in beweging bring, vind verklanking in die poësie en dit voer die hele volk dadelik terug na die Konsentrasiekampe en die volksoffer - „opdat wij niet vergeten”, of „Vergeet nie,” soos D.F. Malherbe sy historiese roman noem, wat in 1913 verskyn. Hierdie verdienstelike werk, van bou ouderwets, maar nuut wat stylopenbaring betref, rig ook ons oog op die verlede - die kunstenaar sowel as die volk kan dit maar nie vergeet nie. Die prosawerk is in sy verdienstelikheid feitlik 'n uitsondering, want waar ons in die poësie die deurleefde ervaring kry van die volksgevoel, staan die prosa nog agter, omdat die objektiewe kyk op die stof nog ontbreek, die menskeppende vermoë swak is, so ook die verteltoon. Wel was die Afrikaner, weens sy rykdom aan uiterlike ervaring, altyd 'n baasverteller, maar 'n kunsverhaal is nog iets anders as die rustig-gesellige mededeling van 'n anekdote. Om 'n anekdote tot kuns te stileer, daarvoor is idee nodig, daardie siel en beweegkrag in die kuns. En in die Afrikaanse prosa is dit merkwaardig om te sien watter skraalheid van idee daar vir ruim twaalf jaar ná 1910 op te merke val. Het ons kunstenaars toe dan geen oë gehad om hul omgewing, die karakters wat daagliks om hulle beweeg, die kante van volksprobleme waar te neem nie? Nee, die waarneming hang ten nouste same met 'n volk se ontwikkeling - en dit sal alleen 'n politikus wees wat wil beweer dat ons volk as geheel destyds 'n hoë trap van ontwikkeling bereik het. 'n Volk dra 'n kunstenaar, stel hom feitlik in staat om te skrywe soos hy moet skrywe - dit is die groot agtergrond waarin sy indiwiduele bevoegdheid wortel. Daarom sal dit die onverganklike verdienste van Langenhoven bly dat hy opgemerk het dat ons ons langsaam moet haas, dat haar volksopvoeding te doen was, dat die skrywer vir hulle verkleinerende dinge moet toeroep omdat hulle nog nie (45) sy hoogte bereik het nie. So sien hy Ons Weg deur die Wêreld! Daarom sy uitkristallisering van volkswysheid in sy gedigte, verhale, spreuke, raaisels, artikels en lesings.

Maar omstreeks 1920 begin die toon van ons letterkunde te verander. 'n Nuwe geslag het opgekom, die leed van die oorlog is nie vergete nie, maar omdat alle lewe 'n drang voorwaarts is, 'n begeerte is om nuwe eenhede te skep, daarom vind ons nou 'n ander „atmosfeer” - daardie atmosfeer wat verskillende skrywers saambind en hul werk deurdring met een totaalstemming. Ook die toon van die ouer digters se werk verander, so kragtig werk die vormende gees van nuwe tydperke in die lewe, en Celliers, Leipoldt en Malherbe laat al meer 'n persoonlike klank hoor wat hul digterlike motiewe betref. 'n Klein Renaissance begin in die Afrikaanse Letterkunde - die uittog van die persoonlike, indiwiduele gevoel uit die bindende eenheid van massa-ervaring. Hiermee gaan natuurlik vorm-wysiging in die kuns gepaard. In die liriek verskyn die sonnet-vorm, wat by uitstek die indiwiduele emosie verklank; dis veral die „ek” wat in verskillende strofe-vorms tot uiting kom.

Ook wat die prosa betref, is daar vernuwing. Die romantiese helde en skurke wat so vrolik gebokspring het deur menige verhaal sedert hulle met Johannes van Wyk 'n paspoort na ons letterkunde gekry het, moes bedremmeld hul hand voor die oë begin hou vir die stygende lig van die werklikheid en uiteindelik is hulle selfs uit die eksamenkamers verjaag en het 'n onromantiese dood gesterwe in die stof van uitgewers se rakke.

Voordat ons wys op die prosavernuwing, die verhoogde drang na die werklikheid en gesuiwerde gevoel vir „vorm,” moet ons die aandag vestig op die vlaag van verjonging wat nuwe digters omstreeks hierdie jare gebring het. Toon van den Heever se bundeltjie Gedigte (1919) was 'n verrassing, want hier het die indiwiduele gevoel in merkwaardig subtiele fynafgewerkte verse 'n uitdrukking gevind, so 'n skoonheidsuitdrukking dat hulle vandag nog hul waarde behou het. En so is die poësie van J. van Bruggen, Wassenaar, Fagan 'n uitdrukking van die nuwe gees: 'n tasting na 'n nuwe wêreldorde, 'n verskerpte besef van die „eie ek” se plek in die bonte wêreld, 'n gretige genieting van die weelde van natuur- en sinnelike skoonheid, en in die verte hoor ons reeds die twyfel (46) aan die vaste godsdiens van die vadere. Het Jan Celliers reeds huiwerig 'n vraag gestel („God het die vraer lief”) en merk ons duidelik uit Leipoldt se eerste gedigte die kilheid wanneer hy peins oor 'n lewe ná die dood, nou stroom dié vrae en begeertes sterker deur. Moderne begrippe begin hul weg baan in die kuns, en daarmee groot, invretende vraagstukke. Maar hier is nog net die begin van die nuwe ideologie. Dit sal van nou af aan toeneem, toeneem met die verskerping van die kritiese vermoë wat al sterker begin word. Op alle Afrikaanse digters van betekenis het hul verblyf in Europa, hul kennismaking met Europese denkwaardes 'n groot invloed gehad. Van nou af aan begin die Europese letterkundige tradisie sterker deurwerk, geleerdes gaan aan daardie bronne drink en die kritiese vermoë - al is dit dan maar net by 'n aantal besinners - word fyner. Ook dit beteken veel in die lewe van 'n jong volk, want gesonde, opbouende kritiek is veral nodig, waar so getas word na nuwe rigting, en jeugdige oorskatting van eie betekenis maklik kan plaasvind. Tegelykertyd moet daar op gewys word dat die breë volksmassas maar traag gevolg het, omdat hulle nie altyd die regte voorligting gehad het nie en omdat volksontwikkeling en volksopvoeding 'n langsame proses is. Die skool, die pers, kultuurliggame moet stadig hul invloed soos suurdeeg deur die hele bou van die volk laat werk om innerlike geestesversnelling te weeg te bring. Selfs vandag het die Afrikaanse boek nog nie na die massa deurgedring nie.

Een genie bring soms lewe in die hele volk, hy verhoog die belangstelling en bevorder die vooruitgang. So 'n verskyning was Jochem van Bruggen. Sy eerste werk Teleurgestel (1916) het nog die nagloed gevang van die romantiese verhaal, en later selfs, toe hy die boek weer oorgewerk het, aan Liebenberg, die skurk, 'n beter getuigskrif gegee, maar ons merk reeds die fyn waarnemingslewe en die gebalanseerdheid van waardes waaruit die vergéwende glimlag van ware humor gebore word, iets wat vroeër maar min in ons letterkunde aangetref is. Met Op Veld en Rande (1918) is dit duidelik dat die waarnemingsvermoë toegeneem het, en nou eers het almal in Suid-Afrika besef dat hulle soos slaapwandelaars deur die lewe gegaan het en dat die skone werklikheid van hul siel en omgewing al die tyd soos onder 'n newel gelê het. In Ampie, die Natuurkind (1924) verskyn die kragtige uitbeelding van die werklikheid en tegelykertyd 'n probleem-onthulling, nie op didaktiewe wyse, iets wat by ons volk byna ingekanker is nie, maar op voorbeeldig objektiewe wyse sodat die karakters oprys (47) in ons verbeelding, lewe en beweeg soos mensewesens wat ons ken - hoe ver is ons nie nou verwyderd van die „skurk” en „held” wat nog maar steeds by sommige outeurs, ondanks die verskyning van Ampie, net in meer verbloemde pakke bly voortdans aan die toutjies van die skrywer se vernuf! Van Bruggen het 'n belangrike letterkundige tradisie in Afrikaans begin, hy het die blote „verhaal” verdiep en versuiwer met sielkundige werklikheid en beelding, oor die menslike lotgevalle die sagte vergéwende lig van die humor laat speel. Dat hy hom net met die een-spoor-verhaal besig hou, dat die tekening van die agtergrond, die breë reliëf-onthulling in sy werk swak is, doen niks af aan sy groot betekenis as wegbereider van die verinnerlikte verhaal in Afrikaans nie, van sy fyn mens-skeppende vermoë nie.

Skerper het D. F. Malherbe die natuuragtergrond in sy romans belig, en Die Meulenaar (1925) sowel as Hans-die-Skipper (1929) wys vir ons hoeveel hierdie skrywer sedert 1913, toe Vergeet Nie verskyn het, vooruitgegaan het wat betref die siselering van sy prosa, die geduldige uitbeiteling van sy konsepsies uit 'n stof wat hom vooraf leen vir ideaal-digterlike siening. Om te besef hoe die ekspressiewaarde van Afrikaans intussen verhewig en verskerp is, hoe die vlotweg-skrywery oorgegaan het in 'n ritmiese uitdrukkingsdrang, merk ons dadelik as ons 'n volsin soos die volgende uit Hans-die-Skipper vergelyk met die deursnee-prosa van 1910 en selfs baie jare later: „Meester was in een van sy droomstemminge en het op die stoep sit kyk na die breë, vyftien voet hoë branders wat na die rotskant toe digterby sierlik inbuig met geweldige swaarte van blou-groen lyf, maar dieper in die baaiboesem net effens hul koppe skud dat die haarlokke sneeuwit bewe in die middagson hoog bo skommelende waterdieptes, om met rasende snelheid voort te skuiwe, breed en hoog, en eindelik ver teen die sandbodem neer te slaan en die duinlyn te soom met 'n skuimveld van bruisende prag.”

Die begeerte het nou ontstaan om van die gemeenplasige oor te gaan na die indiwiduele in seggingskrag en beelding, maar dit beteken nie dat die hele Afrikaanse prosa opeens versnel en verhewig is wat die ritmiese ekspressiewaarde betref nie; veel verskyn nog waarin die retoriek - die duidelikste toonbeeld van gebrek aan innerlike belewing - hoogty vier, en wat wel die jammerste is, is die feit dat soveel lesers nie kan siwn dat hulle net met die skyn en nie met die wese te doen het nie! (48)

Maar daar kom ook verwyding in die motiewe, en wat wel meer bemoedigend is, is dat die motiewe al meer gedrenk word met gedagte - dat die deurstralingskrag van die idee sigbaar word, wat die logge, onpersoonlike stof besiel tot indiwiduele lewe en gestalte en dinamiek daaraan gee. Vroeër is gesellige jagverhale om die wagvure gedaan, maar in die werk van Sangiro en die Hobsons kry ons nou die simpatieke betragting van die dierelewe. Wie die diere so kan uitbeeld, kyk anders na hom as die jagter, kyk na hom met meer menslikheid, ons sou wil sê met verhoogde innerlike spanning en aandag. By Sangiro het ons die soepele, buigsame volsin, langademig, mens sou sê met 'n drang na die ruimte daarin; by die Hobsons is dit alles ingehoue en gespierd, 'n kernagtige Afrikaans wat so suiwer die elementêre kragte van ons diere en aarde vertolk! En spreek dit nie boekdele vir die atmosfeer, die subtiele draagkrag van Afrikaans nie, dat twee Engelssprekende broers dié taal moes gebruik om uitdrukking te gee aan hul liefde en gevoel vir die diere, ja vir die wêreld waarin Afrikaans gebore is nie?

Maar nie alleen het die Afrikaanse Letterkunde hom besiggehou met motiewe wat die plaas- en veldlewe betref nie, ook die dorps- en stadslewe bied 'n ryke terrein aan vir wie sterk kan waarneem en probleme kan aanvoel en dit in sy roman suiwer kan uitkristalliseer. Want juis in ons stede het ons die vorming van 'n nuwe tipe Afrikaner, by wie die herinnering aan die rustige plaaslewe al sterker op die agtergrond wyk. Maar hierdie stedelike lewe is nog glad nie oortuigend uitgebeeld nie, al het 'n hele aantal skrywers, maar meestal skryfsters, dit probeer aanpak. Dit sal later 'n wysiging bring in die Afrikaans prosa-ritme, want sonderlik genoeg: wie probeer om die stadslewe te beskrywe, voel dadelik dat die taal, wat so lenig en vloeibaar die plaaslewe en veldatmosfeer uitdruk, hier met ander kragte gespan moet word om die trilling, die nerveuse gejaagdheid van die stadsatmosfeer te vang - so is daar nog eindelose velde van verwyding en kragsontginning vir ons taal, iets waarmee ons deeglike joernalistiek gesonde aanvoor-werk doen.

Die kortverhaal het in die laaste jare veral sterk op die voorgrond gekom, al word die gekonsentreerde en gebalanseerde vorm en bou daarvan deur baie skrywers glad nie gevat nie. Maar ook die gebruik van hierdie genre bewys hoe ver ons van 1910 af verwyder is, hoe verstrakking in die kuns, die moderne „saaklikheid” ook by ons al meer 'n behoefte word. En ons sal al meer in daardie rigting groei, hoe sterker ons (49) die hoofmomente in die lewe leer aanvoel en dit leer weergee in 'n taal wat glassuiwer daardie innerlike gespanne lewe suggereer. Jochem van Bruggen, Leon Maré, C. Louis Leipoldt, Abr. H. Jonker, Willem Kamp, Eugéne Marais, P. de V. Pienaar het vir ons reeds baie verdienstelike werk in hierdie rigting gegee en baie kante van ons Afrikaanse samelewing belig, maar ons roman veral moet in die toekoms nog veel kragtiger ontwikkel, daar moet baie meer ruimte en vergesigte in kom - en baie minder retoriek en knikkery vir voorskryfkommissies - om op internasionale peil te staan en 'n volledige beeld van ons hele komplekse beskawing te gee.

Verbeel ek my dit, of is dit werklik so dat die toon van ons letterkunde omstreeks 1930 weer verander het soos dit omstreeks 1920 gewysig is? In niks anders merk ek so duidelik die spore en die bevrugtende, heilsame inwerking van die moderne Nederlandse Letterkunde nie as op ons jongste Afrikaanse digkuns. Ek noem maar net die name van vyf van ons jongste digters: I. D. du Plessis. Ignatius Mocke, die broers Louw en Uys Krige. In hul werk klink daar glad 'n ander toon as in dié van ons ouer digters. Hier is die indiwiduele, die „moderne ervaring" veel meer op die voorgrond en verneem ons min van die nasionale motief. Maar „nuwighede” in die kuns is soms stokoud; nuut is alleen wat waarlik oorspronklik is wat gedagte en vormlewing betref. Daarom is 'n digter soos T. J. Haarhoff vir ons so belangrik op hierdie tydstip van ons ontwikkeling. Hy het ons visie, ons geestesbesit verruim en ons laat besef hoe diep die wortels van alle kultuur lê en hoe oud en tog ewig-jonk alle menslike ervaring is.

Het ek ons drama en toneel vergeet? Seker nie, maar in vergelyking met die res van ons letterkunde is dit nog maar 'n tengerige plant, al wys Leipoldt, Grosskopf, Fagan, Erlanck en Schumann se werk vir ons hoe aangrypend menslike probleme en menslike vreugde en leed in die goeie drama uitgedruk kan word. Maar die drama, by uitstek dié kunssoort waarin ons spanning en innerlike konsentrasie in die bou verwag, is gewoonlik 'n laat vrug in die kuns. Dit veronderstel rypheid van gedagtes, sorgvuldige bouvermoë en 'n verskerpte aanvoeling van probleme en konflikte.

Voorwaar, vyf-en-twintig jaar is nie veel in die lewe van 'n volk nie, maar hoeveel het die afgelope vyf-en-twintig jaar nie vir ons beteken nie! In voëlvlug het ons oor ons letterveld heengekyk en die opgaande lyne van ons kuns- en volks-ontwikkeling gesien. Die tyd is verby om kafpraatjies oor ons (50) taal te weerlê, om gedurig die taal se bestaansreg te verdedig. Persberigte vertel vir ons hoe Afrikaans, wat die weeskind in sy eie ouerlike huis was, vandag erken word in Engeland, Europa en Amerika. Die periode vir diepgaande skeppingswerk het nou aangebreek, die tyd om na alle kante toe uit te bou en suiwer en fyn die grense van ons moeilik gewonne geesteservaring vas te stel. En as ons kyk na wat in vyf-en-twintig jaar gepresteer is, dan vul dit ons nie alleen met regmatige trots nie, maar met 'n onweerstaanbare drang om vooruit te gaan na die nooit-bereikbare kimme van die Volmaakte in die kuns.(51)