Inhoud Die Klassieke in Suid-Afrika
Hoofstuk I
deur T. J. Haarhoff
Hoofstuk II


Hoofstuk I

Waarom?

As daar 'n gesprek ontstaan oor die onderwys van die Klassieke, vra iemand altyd of dit dan werklik nodig is om nog die ou afgeleefde dinge te leer. Hul wys daarop dat in al die nuwere lande die klassieke moeilik aan die lewe bly: dat ons kinders Latyn swaar en met baie hoofbrekings leer: dat hul min voordeel trek selfs uit 'n Matrikulasie Kursus in Latyn: en dat die nuutste Regulasies dit moontlik maak om Matriek deur te kom sonder Latyn of Duits of Frans. Moet ons as 'n volk ons nie meer toelê op die leer van "praktiese" vakke nie? Is Engels en Afrikaans nie oorgenoeg taalopleiding nie? Sal ons dan nog vir ons uitsit oor "dooie" tale? In hierdie vrae verneem ons 'n stem wat ons alte goed ken – 'n stem wat spreek uit die omstandighede van ons tyd. En ons wil trag om 'n antwoord (noodwendig onvolledig) te gee op sy eerlike en verstaanbare klagte. Maar laat ons al dadelik ontken dat enige taal wat die menslike hart kan laat vinniger klop "dood" is in die sin dat dit alleen maar goed is vir grammatikale ontleding en die pyniging van skoolkinders. (9)


(i) Ons Kulturele Tradiesie.

As 'n mens jouself wil ken, moet jy jou verlede verstaan. As 'n boom vas wil staan moet sy wortels diep afslaan in die vrugbaarheid van moeder-aarde. Dit is nog betreklik kort gelede dat ons, van die huidige geslag, geleer het om ons Afrikaanse oorlewering te studeer en te waardeer. Ons weet nou dat dit, ten minste belangrik is. Maar daardie tradiesie is self onverklaard sonder 'n studie van die verlede wat daar lê in Europa en wat kultureel sy wortels het in Griekeland en Rome. En as iemand sê: Wat het dit te doen met die kind wat ná St. VI gaan boer of 'n ambag gaan leer, dan is die antwoord: "Wat die taal betref, niks; maar selfs die St. VI-kind behoort iets van die geskiedenis van daardie groot tradiesie te weet." Laat ons die hooftrekke van ons antieke oorlewering nagaan. Hoe het dit na ons toe gekom?

Grieke.

Die Grieke was die Voortrekkers van ons Westerse beskawing. Hul het ons leer dink. Hul het rondom die Middellandse See 'n kultuur geskep wat later die Europese wêreld verower het. (10)

Dis nouliks nodig om die wolk van getuie op te roep tot stawing van hierdie bewering. Maar Voltaire het gesê: "Die ware en die grootste onderskeid is die verskil tussen die Europeër en die res van die wêreld. Hierdie onderskeid is die werk van die Grieke." Schopenhauer verklaar: "Ons is aan die Grieke verskuldig... die regte opvatting en natuurlike voorstelling van die menslike gestalte en sy gebare, die uitvinding van die regte verhoudinge in die boukuns, deur hul vir altyd vasgestel, die ontwikkeling van alle egte digvorms, die ontdekking van 'n waarlik skone metriese stelsel, die rangskikking van filosofiese sisteme volgens die fundamentele rigtings van die menslike verstand, die beginsels van matesis, die fondamente van 'n wet-sisteem op rede gegrond, kortom, die normale voorstelling van 'n skoon en edele menslike bestaan. Nee, meer, hul het die belangelooste wetenskap in die wêreld ingebring." Dit is hierdie belangelose ondersoek wat verantwoordlik is vir baie praktiese voordele soos radio, Röntgen-strale en gas-mantels, en wat alleen 'n vrugbare grondslag vir wetenskaplike vooruitgang vorm.

Dink aan die aard van die Oosterse Kulture. Die Chinese beskawing mis vryheid omdat dit so vas aan die Staat gebonde is. Ofskoon China nou begin ontwaak, is daar nog baie waarheid (11) in wat die geograaf Ratzel gesê het:. "Die modernste Chinese werke is vir ons Middeleeus." Die Indiërs, weer, was lank vóor ons beskaafd en verdiep in filosofiese fynhede. Maar hul stelsels is nie van dié aard dat 'n beredeneerde wetenskap op hul kan gebou word nie. Die Egiptenare het dit ver gebring in wetenskap en geleerdheid drie duisend jaar voordat die Grieke iets presteer het. Daar is egter 'n interessante verskil. Die Egiptenaar meet sy land vir praktiese doeleindes, gedwing deur die oorstromings van die Nyl: die Griek meet die deursnit van 'n keël – iets wat van g'n praktiese nut is nie, maar oneindig vrugbaarder vir die menslike gees, uit suiwer liefde vir kennis. Die Babiloniër, met sy vérgevorderde sterrekunde, staan streng onder die toesig van die priesters (wat ook in Egipte die geval was) en werk gewoonlik vir een of ander materiële of godsdienstige doel – die twee is soms nogal nou verwant!

Maar die Grieke het die wetenskap van Priester-dwang bevry. Hul het geleerdheid in die ope lug gebring en met die volk gedeel. Hul het liefde vir kennis en genot in die naspoor van die waarheid tot stand gebring. Hul het die verstand van die mens bevry, en hom laat voortseil oor onbekende seë en met die hoop vir verrassende ontdekkinge sy hart vervul. Hul het geestelike vooruitgang moontlik gemaak, en die mens grotendeels van sy beklemmende (12) vrees ontslaan. Hul was die eerste Protestante: en hul tradiesie het herlewe op baie punte in ons geskiedenis. Vryheid en selfstandigheid van gees is een van die gawes van die Grieke. Met hul kom die vryheid van die enkeling: met hul die vryheid van die staat. Die Griek weier die Oosterse "proskunesis", die kou-tou, die Salaam.

Rome. – Na die Grieke, kom die Romeine en vul die briljante, ofskoon soms onstandvastige gees van hul voorgangers aan. Veelsydig, vol skeppende vuur, bedeeld met 'n warme verbeeldingskrag was die Griek: die Romein bring balans, waardigheid, morele gewig (gravitas), getrouheid aan die gode, staat en famielie (pietas), eenvoud (simplicitas), en manlikheid (virtus). Dit altans is die vroeë en essensiële Romeinse karakter, hoe dit ook deur weelde vervorm is in later tyd. Hul organiseer-vermoë bring 'n stabiliteit in staatsake wat die Grieke gemis het. Hul heg groot belang aan famieliebande; die gesag van die vader is byna onbeperk, altans in teorie; die status van die moeder is in die oog van die wet nul, maar in praktyk oortref dit vér die status van die vrou in Griekeland ná Homeros. Liefde tussen man en vrou leef vir ons meer in Rome as in Athene. Waar die Grieke uitblink in intellektuele sake, is die sterk punt van die Romeine hul karakter. (13) Rome is die groot vryhandelaar in idees. Rome is die tolk van Griekeland, die organiseerder van die Griekse kulturele erfenis. Dit is deur die werke van Cicero dat die kerkvaders in die Middeleeue hul Griekse filosofie leer ken het. Latyn was die taal van wetenskap en kultuur in Europa tot die 17e eeu.

Kerk en Romeinse Ryk. – Die Romeinse Ryk in die Weste het in die 5de eeu na Chr. geval; maar nie voordat hy drie gawes aan sy ruwe veroweraars (gedeeltelik, altans) gegee het nie: organisasie, kultuur en die Christendom. Op politieke gebied het die Germane toegelaat dat die Romeinse Keisers vir sowat 70 jaar ná die val van Rome regeer. Die Grieks-Romeinse stelsel van opvoeding het in die kerk oorgegaan en, deur die kerk, in die skole en universiteite van Europa. Die kerk was die erfgenaam van die Romeinse Ryk, en dit was deur die masjienerie van die Ryk dat die invloed van die Christendom so doeltreffend versprei is. Die kerkvaders (sê Harnack) het 'n eenheid gemaak uit die erfenis van die antieke wêreld. wat in Griekeland ontstaan het, en die erfenis van Judaïsme en die vroeë Christendom; en wie kan die Nuwe Testament reg verstaan as hy dit nie sien teen die agtergrond van die Romeinse Ryk nie? Die organisasie, die wet, die retoriek, die filosofie van die Ryk is almal (14) deur die kerk gebruik en aangepas by haar behoeftes. Feesdae is oorgeneem: selfs Kersfeesdag is oorspronklik die dag van die Mithraïese Son-god en van die Romeinse Saturnalia, – hoe anders ook die betekenis van die dag vir ons is. Platonisme het deur mense soos Philo 'n sterk indruk op die Kerkvaders, veral op Augustinus, agtergelaat. Stoïcisme is oral merkbaar. Teen 'n mag van ongeletterde en enghartige teenstanders, is Augustinus die kampioen vir die ou heidense letterkunde en uiteindelik seëvier die liberale sienswyse. Minstens Plato en Vergilius word in die Christelike skole toegelaat.

Die Christelike Skole. – In die opvoedkunde vind ons dat die Christene geen nuwe stelsel skep nie: hul volg veral Quintilianus na en pas die Romeinse stelsel in hul skole toe. Selfs in die 17de eeu het kinders nog die boek van retoriese oefeninge van Aphthonius van Antiochië gebruik, waarop 'n deel van ons skoolpraktyk nog vandag gebaseer is. So het Rome gewillige gevangenes van haar veroweraars gemaak, net soos Griekeland met haar briljante kultuur in die ou dae 'n gevangene van Rome gemaak het: net soos die Minoërs nog vroeër van die Noordelike Achaiërs gemaak het. En so het daar op die politieke Ryk, 'n geestelike gevolg: Rome bly die ewige stad (soos Augustinus (15) duidelik maak in sy De Civitate Dei) maar daar is 'n verskuiwing van funksie.

Die Middeleeue is afgesny gewees van Grieks, wat selfs in die 4e eeu na Chr. begin uitsterf het. Maar deur Augustinus, Boethius en ander, het die skole met Plato en later langs ander kanale, met Aristoteles in aanraking gekom. In die Kloosters van Italië, van Frankryk, van Duitsland, van Ierland, van Engeland, van Spanje en van ander lande, het monnike ywerig die ou boeke bewaar en oorgeskrywe. En die handskrifte wat hul gebruik het was almal – soos selfs die sogenaamde 'Gotiese' letters van Duitsland – van Italiaanse oorsprong. Die Iere het oral in Italië kloosters, middelpunte van opvoeding, gestig. Norden sê dat die antieke geskrifte wat nog in die tyd van Karel die Grote (8e eeu) bestaan het, byna ongedeerd tot ons oorgelewer is. So vlytig was die sorg van die monnike.

Nasionale en universele betekenis van die Ryk. – Harnack herinner ons dat dit die boeke van die Kerkvaders was wat in byna alle Europese lande, asook in Egipte, in Syrië, in Armenië, die basis van 'n nuwe nasionale kultuur later geword het. Rome het aan haar provinsies vrede gegee en vryheid van die onderlinge stryd wat hul voorheen verskeur het, tyd om die betekenis van opvoeding en kuns en later (16) ook die Christendom te assimileer: genoegsame plaaslike vryheid om hul eie idees en aanleg te ontwikkel: sodat hul uiteindelik hul eie nasionale bydrae kon bring. Maar vóor daardie tyd aangebreek het, word, selfs ná die politieke val van Rome, haar invloed gesien in die idee van 'n universele kerk – die kerk van die Pouse, en in die begrip van 'n universele Ryk – die Ryk van Karel die Grote. Aan Beda (7e eeu N. Chr.) of 'n tydgenoot van hom word toegeskrywe die algemene gedagte "Quamdiu stabit Colyseus, stabit et Roma; quando cadet Colyseus, cadet et Roma; quando cadet Roma, cadet et mundus," of, soos Byron dit uitdruk:

While stands the Coliseum, Rome shall stand,
When falls the Coliseum, Rome shall fall.
And when Rome falls – the world.

Nog Alcuin (8ste eeu N. Chr.) sê: "Roma potens, mundi decus, inclyta mater," Roma die magtige, sieraad van die wêreld, roemryke moeder. Geen wonder dat Hieronymus, toe hy besig was met sy Bybelvertaling in sy sel daar in Bethlehem, die tyding van Rome se val met siddering verneem het nie.

Agteruitgang en herlewing. – Maar mettertyd het die erfenis meer en meer ekklesiasties geword; Romeinse wet is vervang deur die biskoppe (17) se "ius canonicum"; handskrifte is verwaarloos; daar kom 'n verval in die kultuur. En toe kom die toortsvlam van die Renaissance. Deur die stywe kerklike vorms breek die nuwe lewe deur. Teenoor die civitas Dei, die goddelike staat, hom nou die civitas hominum, die menslike staat. Humanisme, soos Cicero dit verstaan het, kom nou tot sy reg. Met die drade van die antieke wêreld, wat herbore word uit die gees en die boeke van vlugtende geleerdes uit Konstantinopel, word 'n nuwe Europese kultuur geweef. In plaas van 'n beskawing wat tot die priesters beperk is, kom daar 'n beskawing waarin die leke deel. 'n Hartstog om kennis te ontdek gaan soos 'n golf oor Europa: dink aan die Grammaticus wat Robert Browning beskrywe. Alles tintel van vernude lewe. Grieks word nou weer in die Weste bekend.

Da stieg der schöne Flüchtling aus dem Osten
der junge Tag im Westen neu empor,
und auf Hesperiëns Gefilden sprossten
verjüngte Blüten Joniëns hervor.*[1]

So het die Grieks-Romeinse tradiese wat in die Oostelike Ryk van die 4de eeu N. Chr. tot 1453 bewaard gebly het, ofskoon met tydperke van groot onvrugbaarheid, weer na die Weste teruggekeer. (18)

Met bewondering het die Renaissance die kunsskatte van die klassieke wêreld aanskou: 'n Apollo, 'n Venus, 'n Laokoön het gekom as 'n gawe uit die hemel. Daar was 'n nuwe vreugde en kennis, in die mens en in die natuur. En te midde van die ywer van soekende geleerdes kom daar, net op die regte tyd, die uitvinding van die drukpers, en die bespreking van kuns en kultuur word oor die hele wêreld versprei. Meer as ooit word Latyn die universele taal van geleerdes en van die vorstelike howe. Die nuwe lewe ontwikkel in nuwe rigtings, maar wortel in die antieke wêreld.

Verband tussen Renaissance en antieke wêreld. – Die Renaissance-kunstenaars neem die antieke kuns as hul basis, soos ons sien b.v. uit die werk van Albrecht Dürer "Unterweysung der Messung" (1525). Leonardo da Vinci, daardie universele genie, baseer sy meganiese toestelle op die van Hero van Alexandrieë (3e eeu voor Chr.) In 1464 het Nicolas Cusanus ('n 100 jaar voor Copernicus) die idee dat die son die middelpunt van die Heelal is (wat die skool van Pythagoras in die 6e eeu V.Chr. geglo het) opnuut uiteengesit. Copernicus self het erken dat sy stelsel "op die antieke ruïenes gebou is." In die medisyne het (19) Vesalius van Brussel (de humani corporis fabrica 1543) baie uit die klassieke geneeskunde geput.

Op grondslag van die ou skrywers het letterkundige kritiek, geskiedenis, taalstudie almal 'n nuwe tydperk tegemoet gegaan. In 1573 het Laurentinus die eerste volledige Duitse grammatika uitgegee. Dit was 'n Hollander, Junius, wat later die eerste ediesie van die Gotiese Bybel-vertaling uitgegee het en die eerste filologiese werk oor Goties geskrywe het. Wat die wet betref, selfs van die 12e eeu af het studente na die beroemde Professore van Romeinse Wet in Italië toegestroom. Die Europese Vorste het aan hulself gedink (soos Mussolini vandag) as die opvolgers van die Caesars, en het dus die studie van Romeinse Reg aangemoedig. Buitendien is die Kerklike Wet, die ius canonicum op Romeinse Wet gegrond. Teenoor die botsende nasionale regsisteme het die Romeinse stelsel die voordeel van 'n konsekwente eenheid vertoon, en het 'n sterk invloed op byna al die lande van Europa uitgeoefen. By ons is die Romeins-Hollandse Wet nog die grondslag van ons stelsel: 'n erfenis wat baie van ons advokate gereed is om weg te smyt: maar iets wat ons moet bewaak en waardeer solank as ons dit nodig ag om ons eie geskiedenis te verstaan. Die Staat maak hom nou vry van die Kerk: (20) die Hervorming is 'n kind van die Renaissance, die hergeboorte van die humanisme. Maar in die staatkunde herleef nog die antieke wêreld: Macchiavelli se Il Principe (1535) dra baie spore van Aristoteles, en in sy Discorsi supra la prima decade di Tiro Livio 1537 het hy Rome se regeerdersbeleid die beste in die wêreld genoem.

In die filosofie kom Plato terug, en Sir Thomas More skrywe sy Utopia (1516) in navolging van Plato se ideale staat. Met Gassendi en Valla kom daar 'n hernude belangstelling in Epicurus, en populêrste van al is die eklekticisme van Cicero en Horatius. Vir die twede keer is die vryheid van die enkeling teruggevind, en dit is nou dat die gevoel van nasionaliteit soos ons dit ken tot stand kom: die volke begin hul indiwidualiteit besef. Griekse idees van onafhanklikheid werk op Europa in. Vir die twede keer steek die fakkel van Griekeland 'n vurige liefde vir kennis aan. Die Renaissance ontdek opnuut hoe skoon die nasporing van die waarheid is. En hierdie gees is die moeder van ons moderne wetenskaplike ywer en ontwikkeling.

Later invloed. – In die 19e eeu was daar 'n nuwe humanistiese beweging wat vermom word in die woord Romantiek. Werklik was (21) dit baie meer "klassiek" as die valse klassicisme van die 18e eeu. Waar die 18de eeu hoofsaaklik Romeinse studies beklemtoon het, was die rigting van die 19e eeu (oor die algemeen) "terug na Griekeland," soos ons kan sien in Herder, Lessing, Winckelmann, Goethe, Keats, Shelley, Wordsworth en die Tagtigers in Nederland met hul voorgangers.

Die tradiesie tweeledig. – Met dit alles moet ons nie vergeet nie dat die herwen van humanisme in die tyd van die Renaissance, slegs een aspek van die oorlewering was. Naas die nuwe ontdekking was daar ook die onafgebroke invloed van Latyn onder die gewone mense sowel as onder die geleerdes, dwars deur die Middeleeue. Ons woord kersie, Eng. Cherry, is die Frans cerise wat van vulgêr Latyn ceresia kom, en dit weer van klassieke Latyn cerasus wat afkomstig is van Grieks Die oorlewering is onafgebroke.


2. Hoe raak die tradiesie ons?


Ongeveer sò is die loop van ons kulturele erfenis.

Die Nuwe Testament. – Slaan I Kor. xiii: 12 na. "Want wij zien nu door eenen spiegel in eene duistere rede......" Waarom duister? Ons spieëls is helder genoeg, as hul skoon is. Die antwoord is dat in die Romeinse wêreld (22) die gewone spieël van metaal vervaardig is, sodat die weerkaatsing maklik "duister" kon wees. Dit is slegs 'n nietige voorbeeld, maar dit toon ons dat ons selfs ons Nuwe Testament nie kan verstaan nie, tensy ons die gewoontes van die Romeinse Ryk ken. Hier is iemand wat die evangelie van Johannes lees. Hoe kan hy histories begryp wat hy lees as hy nie iets weet van die Logos-idee en die Platoniese element in die Nuwe Testament nie? En as hy by Paulus kom, sal hy nie iets van Romeinse Burgerskap moet weet nie? Om nie eens te praat van die Misterie-godsdienste van die Middelsese lande nie.

Toegepaste Wetenskap. – Daar, weer, is iemand wat spog met sy moderniteit. Weet hy dat snelskrif 'n onderwerp in die Romeinse skole was? Dat Hero van Alexandrië (en Vitruvius na hom) die beginsel van die "taxi-cab" uitgewerk en toegepas het, asook die "penny-in-the-slot-machine"? Besef hy dat die Romeinse sement eeue lank in die Pantheon en elders sonder 'n kraak gehou het, terwyl die sement-werk van ons moderne Universiteite maar al te geneig is om te gaap? Het hy gesien hoe die Franse ingenieurs in Noord-Afrika, met al hul moderne vernuf, die spoor van die Romeinse waterleidinge weer opsoek om die geheim van die Romeinse besproeiing te (23) herwen? Onlangs is aangetoon dat in Engeland die eerste glaswerk Romeinse modelle gevolg het. As ons wil trots wees op ons moderniteit laat ons nie ook onkundig wees nie.

Literatuur. – Hier is 'n student van die letterkunde. Hy bestudeer Drama, die Epos, Liriek; hy lees epigramme, retoriek, filosofiese prosa, geskiedkundige prosa, hiemnes, preke: is sy kennis dan nie onvolledig en gebrekkig as hy nie ook weet hoe en onder watter omstandighede die Grieke al hierdie vorme geskep het nie? En behoort hy ook nie te weet hoe die Romeinse satiere en die brief-vorm ontwikkel het nie? Op al hierdie vorme en genres is die stempel van die antieke wêreld afgedruk: ons moet hul oorsprong en ontwikkeling ken om ons letterkundige studies in hul regte perspektief te kan sien. Dit is 'n feit wat vir ons betekenisvol behoort te wees dat wanneer ons na die teater gaan om 'n drama te sien, die plek self en die orkes wat ons hoor musiek maak, en die program wat ons koop, almal Griekse name het, en dat toe die drama herleef het in die 10e eeu die non Roswitha van Gandersheim, Terentius gebruik het as haar model vir Christelike toneelstukke en dat Euripides deur Seneca soseer (al was daar ook 'n ontsaglike misverstand) die teaters van die Renaissance beheers het. (24)

Taalkunde. – Daar is ook 'n ander soort perspektief wat ons moet verwerf – die perspektief van taal. Die bydrae van Latyn en Grieks tot ons woordeskat is nie gering nie; en ons kinders vandag staan dikwels hulpeloos voor woorde van klassieke oorsprong. Hul mis 'n sleutel wat baie deure vir hul sou kan oopsluit en tot baie skatkamers toegang gee. Mediese professore en natuurkundiges kla dat hul techniese terme nie meer vir studente deursigtig is nie. Dit moet ons met bedenking vervul dat 'n student wat 'n graad het en wat onderwys gee (soos 'n skrywer onlangs in Die Huisgenoot getuig het) nie die betekenis van 'n woord soos anthologie weet nie; en daar is sommige wat meen dat Apollo die naam is van 'n koel drankie. En wat gaan ons maak as ons vir gevorderde studente die wette van Grimm en Verner wil verduidelik?

Literêre Kritiek. – Letterkundige kritiek na al die rondspartelings van ons estetiese skrywers en vérgesogte teorieë soos dié van Croce en kunsmatige aanwending van magwoorde en techniese terme, vind dit 'n verligting om tot ou Aristoteles met sy gesonde verstand en skerpsiende oog terug te keer. Hy gee, weliswaar, nie antwoorde wat altyd finaal bevredigend is nie (hy moet aangevul word met Longinus en Horatius) maar hy vra al die fudamentele vrae; en hoe meer jy sy Poetica (25) lees, hoe meer besef jy die diepte van baie van sy gesegdes.

Kuns. – Baie mense, as hul van die kuns van Griekeland praat, dink alleen aan die strengbeteuelde stukke van die 5e eeu; maar die antieke kuns het in sy ontwikkeling baie fases deurgemaak, baie eksperimente probeer; ook destyds het die mense realistiese en sensasie-wekkende rigtings ingeslaan; en dit is van belang vir ons, wat ook nog proewe van allerlei soorte wil neem, om te sien wat die toets van die tyd deurgestaan het en wat nie. Juis in die teenwoordige tyd kom ons musiek en ons skilderkuns terug na die balans en harmonie van die beste tydperk van Griekeland.

Retoriek. – Daar is nog iets. Die mikpunt van die antieke opvoeding was om 'n orator voort te bring – iemand wat al die kennis en moraliteit van sy eeu sou gebruik om die mense met sy redenaarskuns te betower. Maar mettertyd het die retore aan die versoeking toegegee om met woorde te speel en met slimpraaties en briljantheid van frase die mense te verblind. Gedurig by die lees van die Griekse en Latynse skrywers moet ons hierdie element op sy regte waarde skat. En dit is 'n oefening wat baie nuttig is in ons tyd wanneer so baie en so haastig gelees word, en waarin die hooflyne van koerante so 'n mag (26) uitoefen. "'n Opgevoede man," het Lord Morley gesê, " weet wanneer 'n ding bewys is; 'n onopgevoede weet dit nie."

Verstandelike disipliene. – Maar wat, vra iemand, omtrent die verstandelike disipliene wat die lees van die klassieke tale gee, en waarvan ons so baie hoor? Ons glo nie meer dat Matesis en Latyn die enigste vakke is wat die verstand logies kan ontwikkel nie, en die klem wat op hierdie sy van die saak gelê is, moet as oordrewe gereken word. Tog bly dit waar dat Latyn by uitstek 'n logiese taal is en sy bou, veral wat die tye van werkwoorde betref, meer presies is as dié van moderne tale. Selfs so 'n ywerige kampvegter vir moderne opvoeding soos Kerschensteiner erken dat die klassieke tale "sehr viel mehr Gelegenheit zu logischen Übungen geben als die modernen sprachen." Om 'n stuk in Latyn te vertaal moet jy leer om die hoofgedagte los te maak van veelheid van woorde en om dit dan presies en eenvoudig weer te gee. En hierdie oefening, in ons tyd waarin Matriek-eksaminatore steen en been kla oor slordigheid van taal beide in Engels en in Afrikaans, is wel deeglik van waarde vir ons kinders.

Teenswoordige neiging. – Die skrywer het 'n jaar gelede 'n ondersoek ingestel in die posiesie van die derde taal in ons hoër skole. (27) Die syfers is elders aangegee (Die Huisgenoot 6 Junie, 1930) en ons kan nie hier op hul ingaan nie; maar die algemene resultaat wat hul aandui is dat daar 'n sterk neiging bestaan om die derde taal uit te skakel. As dit op 'n uitgebreide skaal sou gebeur (en onder die hersiene Matrikulasie-skema is dit heeltemal moontlik) sal dit beteken dat 'n groot aantal seuns en dogters wat in tale wil specialiseer, na die Universiteit-toe sal kom ontoegerus vir hul studie; en die toestand van Engels en Afrikaans sal, met die teenswoordige onderwysmetode, nog hagliker word; want die studie van 'n derde taal, en veral van die klassieke in die hande van 'n bekwame onderwyser, is 'n hulp om 'n idee van vorm in taal te kweek wat by die meeste van ons kinders totaal ontbreek. Ons moet ook daarop let dat dit nie die Engelse skole is wat van plan is om Latyn en Duits en Frans uit te skakel nie, maar ons eie Afrikaanse skole; en dit is die Afrikaner-kind wat sal ly.

Tradiesie en Vorm in Letterkunde. – Ons sou ook kan wys op die voorbeelde wat die klassieke letterkunde aanbied vir die jong maar veelbelowende Afrikaanse literatuur. Die Romeinse boer het volgens die modelle van Griekeland gebou (dit was ook die raad van Horatius) en die liefdevolle sorg waarmee die ou skrywers van hul voorgangers geleer het, (28) is een van die redes waarom hul werk die toets van die tyd deurgestaan het. By ons, skrywe elkeen maar meestal soos hy wil; haastige opwelling word vir inspirasie aangesien; slordigheid en vormloosheid word as "modern" beskou. Ons het nog heelwat te leer van meesters by wie Europa skoolgegaan het. Laat ons minstens die oppervlakkigheid vermy van met 'n idee te koop te loop en dit oorspronklik te noem terwyl dit al die tyd verkondig staan in Cicero of Vergilius. Onkunde is nooit iets om op trots te wees nie, soos Augustinus die predikante van sy tyd herinner het: hoe modern jy ook al is (en die Gees van die Grieke eis dat jy in voeling met jou tyd sal bly) jy kan nooit van jou verlede en sy invloed ontslae raak nie. Die rivier van Europese kultuur het in baie strome verdeel; en terwyl wat in een of ander van dié strome (die Franse of die Spaanse of die Germaanse) gebeur, nie die rivier as 'n geheel hoef te beïnvloed nie, moet wat hoër op by die bron plaasgevind het, noodwendig al die tak-strome affekteer. Dis ook die moeite werd om te onthou dat die geskiedenis van die Romeinse Ryk belangrik is en vol interessante lesse vir ons Kerkgeskiedenis en vir ons politieke verhoudinge met die Gemenebes van Nasies, dat van 'n taalkundige standpunt die ontwikkeling van (29) die Romaanse tale uit Latyn 'n interessante analogie vir Afrikaans aanbied, en dat die geweldige uitbreiding van Klassieke Archaeologie 'n hulp kan wees vir ons eie Suid-Afrikaanse archaeologiese ontdekkings.

Humanitas. – Maar bo al hierdie afsonderlike voordele is daar een groot saak wat oneindig belangriker is, omdat dit die wortel van opvoeding raak. Want opvoeding is nie net kennis nie (dink aan ons baie gevalle van Geleerde Barbarisme!) maar ook 'n innerlike geestestoestand, 'n houding teenoor die lewe. En die houding wat die hoofbydrae van die antieke wêreld uitmaak, 'n gees wat moeilik is om te formuleer omdat dit ontasbaar is, word beste opgesom in die Ciceroniaanse begrip, wat die Renaissance opnuut ondek het, – Humanitas. Hierdie begrip sluit in wellewendheid en belangstelling in jou medemens, nie alleen omdat hy aan dieselfde famielie of ras of volk behoort nie, maar ook omdat hy saam met jou onderworpe is aan dieselfde menslike lot. Dit sluit in medelye en verbeeldingskrag – iets wat die Klassieke studies bereken is om in ons te ontwikkel omdat hul te doen het met sake wat anders is as ons s'n, en tog aan die wortel van ons kultuur lê. Hoe veel meer harmonies sou ons lewe nie wees nie en hoeveel misverstand sou weggeruim word, as elkeen kon leer om die ander man se standpunt (30) te verstaan! En Humanitas sluit in 'n intellektuele en artistieke belangstelling in die voortbrengsele van die menslike gees, 'n waardering van kuns en wetenskap en lettere sonder goedkope generalisasies oor die kuns of wetenskap van een of ander volk. Omdat Humanitas uiteindelik op liefde gegrond is, vermy dit afguns en nydigheid. Omdat dit dinge as 'n geheel wil sien, vermy dit te enge specialisasie. Niks wat menslik is, ag hy hom vreemd nie. En omdat hy die pathos van die lewe verstaan, het hy ook 'n sin vir humor. Hiermee word nie beweer dat die klassieke die enigste middel is om 'n sodanige geestestoestand teweeg te bring nie; maar histories is hul die hoofbron daarvan vir Europa gewees, en dié bron is nog nie opgedroog nie. Dit word ook nie beweer dat 'n kind op skool die volle betekenis van humanisme kan begryp nie: maar oor en oor het mense verklaar dat die diepste invloed op hul skoollewe die onderwys was van 'n meester wat deurtrek was van daardie gees: en dit is in die hoop dat ons sulke onderwysers sal kan voortbring, dat ons dit die moeite werd ag om die klassieke tradiesie te ondersoek.

Dit is die ideaal waarna ons Westerse Beskawing op sy beste altyd gestreef het; en wat ons vandag in ons opvoeding broodnodig het, is 'n nuwe Humanisme. Die uitbreiding (31) van kennis en die ingewikkeldheid van ons lewe het sodanig toegeneem, dat daar (heel natuurlik) 'n vreeslike vermenigvuldiging van deskundiges gekom het. En die gevaar is dat die deskundige, tensy hy 'n breë algemeen-menslike opvoeding geniet het, alles net in terme van sy besondere rigting sien en sodoende baie kwaad kan stig. Hoe om ons eksperte doeltreffend te maak, en tog instaat om 'n gesonde uitkyk op die lewe te hê, is ons probleem vandag. Nog meer. Die klassieke self (hul word nog "Humanities" in Skotland en "Literae Humaniores" in Oxford genoem) het hul 'humanitas' grotendeels in die hande van onderwysers verloor. Byna al ons taalonderwys ly aan dieselfde gebrek: ons natuurwetenskaplike onderwys begin nou pas leer hoe om "humaan" te word deur die verband tussen die wetenskappe en tussen wetenskap en mens aan te toon. Omdat ons nog so ver staan van die ideaal van humanitas, is dit nou nodig om oor te gaan (veronderstel dat ons aanneem dat hierdie oorlewering die moeite werd is om te bewaar) tot die verdere vrae van Wat ons die kind moet leer en Hoe ons onderwys moet geskied: twee aspekte van dieselfde saak en nie altyd streng van mekaar te skei nie. (32)

  1. Aangehaal in Deutschtum und Antike. Inleiding bls. 7 deur Ed. Stemplinger