Die Klassieke in Suid-Afrika/Hoofstuk II

Hoofstuk I Die Klassieke in Suid-Afrika
Hoofstuk II
deur T. J. Haarhoff
Hoofstuk III


Hoofstuk II

Wat?

(i)

As ons instem dat die klassieke 'n plek op ons skole behoort te hê, moet ons ook besluit wat die aard en omvang van ons klassieke onderwys gaan wees. Ons omstandighede. Dit is duidelik dat ons nie te werk kan gaan soos 'n Gymnasium in Holland of in Duitsland of soos 'n "Public School" in Engeland nie, waar die mense sowat twintig periodes per week vir Grieks en Latyn opsysit. Aan die ander kant behoor die meerderheid, altans, van ons skole nie soos die Realschulen te wees waar hoegenaamd geen klassieke gedoceer word nie. Want waar die skole in Europa volop en naby mekaar is, sodat 'n kind kan uitsoek of hy na 'n klassieke of 'n moderne skool wil gaan, is die afstande by ons groot en die bevolking so klein, dat so 'n keuse dikwels onmoontlik sou wees. En dit lyk of dit nog lank sal duur voordat ons sentrale skole kan stig wat 'n liberale keuse van onderwerpe kan aanbied. Ons sal aanneem dat die kind met standerd (33) VI of VII sy Latyn begin; want die ondervinding het ons geleer dat 'n kind minstens vier jaar nodig het om die Matrikulasie-kursus deeglik te behartig: almal weet hoe haastig Latyn wat haastig geleer is, die leerling verlaat. En die plan om Latyn op die Universiteit te begin werp sulke treurige vrugte af op die plekke waar dit probeer is, dat ons liewer nie die jammerlike skouspel wil gadeslaan nie. Tog meen sommige dat Latyn (sowel as alle "derde" tale) op die Universiteit kan begin word. Hul wys daarop dat Grieks nou meestal uit die skole verdwyn het, en 'n Universiteitskursus geword het. Maar hier moet ons nie vergeet nie dat die meeste studente wat Grieks op die Universiteit begin, reeds Latyn op skool gehad het: d.w.s. ondervinding van 'n taal van dieselfde aard as Latyn, en glad anders as Engels of Afrikaans. Ons vind dat studente wat Grieks op die Universiteit begin sonder Latyn op skool te geleer het, hul taak nie onselde nie gelyk vind aan dié van Sisyphus. Baie van wat volg is van toepassing ook op Grieks; maar omdat Grieks vinnig aan sterwe is as 'n skoolvak, word Latyn alleen genoem.

Wat beginnerskursusse in Latyn betref, moet ons een van twee dinge doen: óf ons moet vier jaar se normale werk in een jaar instop, sonder kans vir iets wat estheties of histories of humaan kan genoem word, d.w.s. (34) sonder die enigste dinge wat 'n kursus in Latyn regverdig, óf ons moet ons B.A.-standaard in Latyn verlaag, wat beslis onwenslik is, en wat op die erkenning van ons grade elders, sal reageer. Om te sê dat die student wat nie Latyn op skool gehad het nie, langer moet neem, beteken dat hy die onderwerp eenvoudig sal laat staan, nie alleen omdat dit hom meer moeite gaan kos as ander onderwerpe nie, maar omdat verlenging van studietyd ekonomiese faktore inbring. Dit is ons ondervinding dat wetstudente wat in Latyn moet deurkom om aan die Regulasies te voldoen, en wat nie tevore Latyn geleer het nie, dikwels hul wetskursus opgee, liewer as om in so 'n korte tyd met Latyn te worstel. En daar is byna nie meer 'n Universiteit in ons land wat 'n klassieke taal as hulpvak vereis vir specialiste in moderne tale nie. Ons neem dus 'n minimum van vier jaar voor Matrikulasie vir Latyn aan. Maar voor ons oorgaan om die inhoud van die kursus te bespreek, moet ons 'n oomblikkie stilstaan by diegene wat nie van plan is om Latyn of Grieks te leer nie. Behoort ons hul heeltemal onkundig van ons kulturele tradiesie te laat?

Kultuur-kursus in die Klassieke. – Meeste mense sal die wenslikheid van historiese kennis van die klassieke tradiesie toegee al betwis hul die noodsaaklikheid van die tale aan te (35) leer. Onlangs is 'n poging gemaak op die Randse Universiteit om twee kursusse in te voer: 'n oorsig van die geskiedenis van die Natuur-Wetenskappe en die Wiskunde vir studente in die Fakulteit van Lettere, en 'n oorsig van die weë waarlangs ons akademiese tradiesie tot ons gekom het, vir die studente in die Fakulteit van Wetenskap. Dit is 'n poging om die verband en die groei van ons kultuur aan te dui. Iets van dié aard kan ook vir die klassieke gedoen word. In die eerste plaas kan ons die lees van boeke oor die klassieke wêreld aanmoedig. Daar het 'n menigte uitstekende werke van dié aard in die laaste tyd verskyn. Daar is by voorbeeld die romans en verhale van Naomi Mitcheson: "When the Bough Breaks," "The Conquered," "Cloudcuckoo Land," "Black Sparta," of die romans van Gertrude Atherton "The immortal marriage " en "Vengeful Gods," of E. F. Benson se "Alcibiades." Daar is Household se uitstekende boek (tenspyte van onnoukeurighede) "Hellas the Forerunner." Lytton se "Last Days of Pompeii," en Kingsley se "Hypatia " is nog die moeite werd om te lees. Die bekende "Quo Vadis?" Vosmaer se "Amazone" wat met Goethe se "Italienische Reise," vergelyk kan word, Felix Dahn se boek vir meer gevorderdes "Ein Kampf um Rom," Gilbert Murray (36) se "Euripides and his Age," sy "Rise of the Greek Epic" en "The Classical Tradition in Poetry," asook Zimmern se pragtige boek "The Greek Commonwealth", de Coulanges se "La cité antique" (verouderd maar werd om te lees), Boissier se "Cicéron et ses amis" (albei in Engels vertaald), Wilamowitz se "Aristoteles und Athen " – hier is boeke wat humanisme uitasem en 'n liberale opvoeding verskaf. Meer van sulke werke kon in ons lyste van Matrikulasie-voorgeskrewe werke verskyn. En hul vorm maar 'n geringe deel van wat in hierdie verband kan genoem word.

Maar ons behoort ook 'n gereëlde kursus in klassieke kultuur te verskaf. Nie elkeen kan dit doen nie. Net soos jy 'n meester in die natuurwetenskappe nodig het om 'n oorsig van die natuurwetenskappe te doceer, so moet jy iemand met deeglike kennis en 'n wye blik hê om 'n kultuur-kursus in te rig: anders verval dit in vaagheid en oppervlakkigheid. Tog is daar baie hulpboeke wat die werk kan vermaklik.

Hier is 'n voorbeeld van so 'n kursus. Ons besef natuurlik van die staanspoor af dat 'n volle letterkundige waardering deur middel van vertalings onmoontlik is (Horatius en Pindarus in vertaling lyk armsalig naak en verplunderd) en ons mik alleen op 'n historiese (37) oorsig van kuns- en letterkundige en wetenskaplike ontwikkeling. In die eerste plaas is dit nodig 'n idee te kry van die toestande waarin die Grieke en die Romeine geleef het, want gedurig is daar toespelinge in die letterkunde op die gebruike van die daelikse lewe. Verreweg die beste en goedkoopste boek hiervoor is "A Guide to Greek and Roman Life. British Museum." 3e ediesie (2/6) wat gebaseer is op die eintlike ontdekkinge en waarby ligbeelde, verkrybaar van "The Society for the Promotion of Hellenic Studies," gebruik kan word. Meer uitgebreide leesstof kan verskaf word deur die boeke van Tucker (Ancient Athens) en Warde-Fowler (Social Life at Rome in the Age of Cicero – 'n pragtige boek) Robinson (The Days of Alkibiades) en ander.

Daarby kom 'n oorsig van die ou geskiedenis en hier is een van die allerbeste boekies "The Story of Greece and Rome" deur J. C. en H. G. Robertson (Dent) : kort, duidlik, modern en vol goeie illustrasies. Dit is baie belangrik vir die student om 'n soort van raamwerk te hê om wat hy verder leer daarin te pas.

Dan kom 'n oorsig van die letterkunde van Griekeland en Rome tesame met ophelderende uittreksels. Ons wil hê dat die student eers die stukke uit die letterkunde sal lees en (38) dan sien hoever sy eie indruk ooreenstem met die idees van die criticus. Natuurlik egter is die hoofdoel hier weer geskiedkundig. Uitstekende boeke is verkrybaar: Pym: Readings in the Literature of Ancient Greece of Livingstone: The Pageant of Greece (ook in verkorte vorm), waarby ons gebruik Norwood: The Writers of Greece – 'n briljante skets. Vir Latyn is daar: Pym: Readings in the Literature of Ancient Rome, of Bailey: The Mind of Rome (heelwat groter) en Duff: The Writers of Rome. (Daar is ook nou verkrybaar in Benn's Sixpenny Series, Conway se skets Great Writers of Rome met 'n interessante kommentaar op Vergilius en Livius.) In Nederlands is dergelike boeke te verkry (b.v. Hillen: De Grieksche Cultuur) ofskoon nie in so 'n handige vorm nie.

Die swaartepunt van die kursus is egter die meer uitgebreide studie van vier onderwerpe: Die geskiedenis van die Griekse Filosofie, Die Griekse Drama, Homerus, Vergilius en die tyd van Augustus. Natuurlik moet ons selfs hier nie te veel verwag nie, maar ons vind in praktyk dat ons die beste studente kan beweeg om die hele Vergilus te lees (Rhoades se vertaling in "The World's Classics"), Homerus (in "The King's Treasuries" of in die vertaling van Butcher en Lang en Lang, Leaf en Myers) 'n half dosyn Griekse Dramas, 'n skets van (39) die geskiedenis van Griekse Filosofie en aanvullende werke soos T. R. Glover se uitstekende boek oor Vergilius en 'n paar boeke oor Homerus.

Eindelik kry hul 'n serie lesings oor die invloed van die klassieke op ons tyd. Hier is die welbekende Oxford boeke soos The Legacy of Greece (Livingstone), The Legacy of Rome (Bailey) en ook The Legacy of the Ancient World (de Burgh) van groot nut. Ons behandel ook die Poetica van Aristoteles en die invloed van Seneca op die 16e en 17e eeu, en trag om 'n begrip te kry van die betekenis en ontwikkeling van die Griekse wetenskap (matesis, biologie, medisyne) en die toegepaste wetenskap van Rome (boukuns, landmeet, en allerlei praktiese en techniese bedrywigheid).

Dat die tyd aan so 'n kursus bestee die moeite werd is, word betuig deur meer as een student wat nooit tevore van die klassieke gehoor het nie; maar diegene wat filologiese of esthetiese belange het, moet natuurlik die tale self bestudeer.

(ii) Alfabet en Uitspraak.

Voordat ons aan die begin van die eerste jaar op die kwessie van uitspraak ingaan, is dit goed om daarop te wys dat die letters wat ons gebruik Latynse letters is, en dat ons (40) alfabet teruggaan tot die Griekse stede in Suid-Italië€ en vandaar waarskynlik na die Phoeniciërs en verder terug na Egipte of (soos sommige meen) na Creta.

Elke volk in groter of in kleiner mate nasionaliseer sy uitspraak van die klassieke tale. Die Public Schools in Engeland spreek Latyn ongeveer soos Engels uit, maar hul is heeltemal bewus daarvan dat die Romeine nooit so gepraat het nie. Dit word vertel dat toe 'n leerling die Griekse woord graus (ou vrou) volgens die moderne stelsel uitgespreek het sodat dit rym met Eng house, die meester verwytend gesê het: "Don't make game of the old woman!" (Die "Secondary Schools" in Engeland gebruik byna almal die hervormde uitspraak. Sien: The reformed pronunciation of Greek and Latin. Conway E Arnold. – Cambridge). In Duitsland word Grieks en Latyn ook grotendeels verduits: dit het my weke geneem om vir Zeus in sy Duitse klank te herken. In Holland het 'n man onlangs 'n uitvoerige boek uitgegee waarin hy beweer dat die tradiesie van die gymnasia in Holland is om Latyn uit te spreek presies asof dit Hollands is. Ergste van al is die moderne Italianers en Grieke, wat boonop nog dikwels in die waan verkeer dat die ou wêreld gepraat het soos hul vandag praat. Maar "Caesar" volgens Italiaanse uitspraak sou vir Caeser laat lag het, en (41) Euripides sou seer seker nie sy naam in die mond van 'n moderne Griek herken het nie.

Na die oorlog het daar 'n beweging ontstaan in die lande van Europa om terug te gaan na hul "nasionale" uitspraak van die antieke tale. So was daar 'n berig dat die Headmasters' Association in Engeland 'n besluit van dié aard geneem het. Dit is jammer. Want heelwat vordering is gemaak in die verlede nie alleen in die nasporing van klanke nie, maar ook in die erkenning van 'n hervormde sisteem.

Laat ons aan die kant van vooruitgang staan! Die vorsing is nog nie volledig nie, kan miskien nooit volledig wees nie. Maar as Aristophanes vir ons sê dat die skaap "Bê, Bê" blêr, dan is dit taamlik seker dat die lang e in Grieks ooreenstem met die Afrikaanse €ê (Psammetichos sou gesê het dat dit bewys dat Afrikaans van al die tale die naaste aan Grieks is!) en nie met die e in 'been' nie. So ook met die dieregeluide in Plautus en Terentius. As die Grieke 'Caesar' met 'n K skrywe, kan ons seker wees dat dit nooit 'n s-klank gehad het nie: en so, tot op sekere hoogte kan ons ook gevolgtrekkings omtrent vokale en tweeklanke maak. Buitendien help fonetiese en filologiese wette vir ons.

Oor die algemeen lyk dit raadsaam om die skema deur die Britse "Classical Association" (42) aan te neem. Dit word in ons Engelse skole, waar die ou "Public School" uitspraak feitelik nie meer bestaan nie, en in al ons Universiteite gebruik. Dit staan baie nader aan die Afrikaanse as aan die Engelse klanke.

Vokaal-lengte. – Nou is daar 'n baie belangrike punt. Ons moet duidelik maak wat met die kwantiteit of lengte van 'n vokaal bedoel word. (Later moet ons net so versigtig wys wat bedoel word met die lengte van 'n lettergreep). Dit is eenvoudig die tyd wat jy neem om 'n vokaal uit te spreek, en het niks te doen met die kwessie van hoe hard of hoe sag, hoe hoog of hoe laag jy dit uitspreek nie. Hierdie begrip is van groot belang nie alleen vir poësie nie maar ook vir prosa. Waar ons Afrikaanse lettergrepe geneig is om in mekaar in te vloei, is die lettergreep in Latyn of Grieks (behalwe op die end) oneindig duideliker en skerper omlyn: hul is soos marmer-blokke vergeleke met blokke van was. En daardie duidelikheid maak dit moontlik vir hul om al hul versmate op lengte van lettergreep te baseer.

Dit kan nie met te veel nadruk gesê word nie dat onderwysers die kinders 'n ontsaglike skade aandoen as hul nie van die staanspoor af klem lê op die belangrikheid van lengte nie. As hul van die begin af die oor gebruik om aan die regte lengtes gewoon te word, is dit 'n (43) enorme wins vir die kind as hy poësie begin lees of ritmiese prosa wil skryf of die esthetiese genot van sy Vergilius smaak. Ons wat jul kinders op die Universiteite ontvang, ons kom soos 'n Griekse koor na jul toe, Onderwysers, en smeek met stemme wat tril van ontroering dat jul tog vir die redding van die kind se Latyn, vir sy genot en jul eie, die moeite sal doen (ons weet dit vereis moeite) om 'n gewete vir lengte van vokaal en lettergreep te ontwikkel. Werklik, werklik dis die moeite werd. Doen jul dit nie, dan sal die geeste van fyn-besnaarde digters by jul kom spook en verwarring in jul lewe bring, totdat jul die harmonie van hul verse herstel! (Neem 'n Afrikaanse gedig wat jul liefhet en spreek die lang klinkers kort uit en sien hoe jul daarvan hou; en bedenk dat die Afrikaanse gedig nie eens soos die Latynse, op kwantiteit gebaseer is nie.)

Uitspraak-stelsel. – Hier is dan die skema: 'n kompromis, maar onder ons omstandighede die handigste kompromis.

a (lank) (stagnum) soos die a in vader.
a (kort) soos die a in man.
e (lank) mensa iets soos ons y in my maar met die lippe nader aan mekaar. Dit het 'n klank wat naby ons ie-klank kom. Daarom vind ons ook naves naas navis in die acc. plu. (44)
e (kort) (fretum) soos in wen.
i (lank) (fido) soos in fier.
i (kort) (plico) soos in bid.
o (lank) (Roma) 'n suiwer geronde klank, soos 'n Italianer Roma uitspreek: ongeveer die o in wors uitgerek.
o (kort) (nota) soos in rot maar met die lippe meer oop soos in Eng. rot.
u (lank) (tuto) soos in ons so: maar 'n lang, suiwer klank (die so van die Westelike Provinsie nie van die Noordelike Transvaal nie.)
u (kort) (cutis) soos in hoed.

Lang klinkers is gewoonlik nou, met die lippe na aan mekaar uitgespreek, en kort klinkers gewoonlik wyd.

ae (hastae) omtrent soos in haai, maar korter.
au (aurum) soos in Duits Frau, Eng. hour.
oe (proelium) ongeveer soos in nôi, Eng. boy.
ei (Pompeius) soos y in vry.
eu (heu!) omtrent soos in spreeu .
ui (huic) soos Frans lui.
c altyd hard soos in kat.

[In eiename volg ons nog dikwels die gebruiklike s-klank, Caesar, Thucydides, wat ontwikkel het toe Latyn in die Romaanse tale oorgegaan het. Die ts-klank wat baie op die Kontinent gehoor word as 'n t of 'n c tussen vokale voorkom (Cicero uitgesp. Sitsero, natio (45) uitgesp. natsio) is ook van latere oorsprong].

g altyd hard soos in Eng. get.
s sonder trilling van die stembande: rosa soos die s in Afr. rose nie soos in Eng. rose nie. So ook x: exsul, soos eksamen.
bs word soos ps uitgespreek voor s en t, obtineo soos optineo, urbs soos urps.
i (iam, eius) soos j in jou.
v iets tussen Eng. v en w.
r sterk getril; meer as die Skotte dit doen, en baie soos die Italianers. (Dit het oefening nodig om die regte trilling te gee).

Soos in Italië vandag word twee op mekaar volgende medeklinkers skerp van mekaar geskei in die uitspraak: vac-ca, libel-lus.

In woorde van Grieks oorgeneem vind ons:

y (adytum) ongeveer soos die u in burger, of, as dit lank is, soos ü in Du. grün.
ph (Philippi) eintlik twee aparte klanke soos in Eng. strap-hanger: maar later algemeen as =f uitgespreek, soos in moderne Grieks.
th (theatrum) ook oorspronklik twee klanke soos in Zoeloe T-hema; maar in Engeland en Amerika en by ons soos in Eng. thin uitgespreek: die uitspraak ook van die moderne Griek.
ch (Achaea) oorsp. soos kh in Eng. ink-horn; maar algemeen later soos Afr. g; Agaje.
h: Soos in Afrikaans was daar 'n neiging in (46) Latyn om minder noukeurig met die uitspraak van h te wees. Die geleerdes wou dit vir die volk behou, maar nie altyd met sukses nie. Die beste is om dit uit te spreek waar dit geskryf word. Dit wissel soms in dieselfde woord af: erus of herus (=Afr. heer, wat in meneer sy h kwyt raak) ave! of have!

Aksent. – Na oefening met aparte woorde, kom ons by sinne. Dit bring ons by die moeilike kwessie van aksent.

Wat die juiste aard van die Latynse aksent was, veral die ictus of vers-aksent, is iets waaroor geleerdes vir meer as twee-honderd jaar geskrywe het. Selfs die laaste groot boek daaroor, dié van Eduard Fränkel, kan nie as finaal beskou word nie. Maar ons kan aanneem dat dit hoofsaaklik 'n expiratoriese klem was, waarmee bedoel word die krag waarmee die asem uit die longe uitgeblaas word by die uitspraak van 'n lettergreep. So b.v. noem ons die Afr. aksent op die eerste lettergreep van watte expiratories; terwyl die aksent op wat? ('n verwonderde vraag) hoofsaaklik musikaal is, en toon aandui. Op die rol wat toon gespeel het in Latyn hoef ons nie hier in te gaan nie.

Die reël vir die prosa-aksent van 'n woord vind ons in Quintilianus. Dit is eenvoudig: maar daar is min onderwysers wat hul klasse daarop attent maak. Tog is dit baie belangrik (47)

1. Woorde van twee lettergrepe het die aksent op die eerste lettergreep: péstis.
2. Woorde van drie of meer lettergrepe dra die aksent op die voorlaaste lettergreep as dit lank is; anders op die derde laaste: humánus (met a lank) ; hóminis (met eerste i kort) .

Dit is nodig om die kinders baie noukeurig die onderskeid tussen aksent en lengte te laat verstaan. Keer op keer blyk dit dat hul die twee verwar. Geduldige oefening is nodig voordat hul Latyn kan hardop lees en albei elemente in ag neem. Hoeveel mense spreek regina (met e en i lank) reg uit? Nege uit tien sê regina (met die e kort) ; en dit is die verwaarlosing van dergelike puntjies wat Sprachgefühl vir Latyn onmoontlik maak en alle ware begrip van die aard van die taal verhinder. Meer as iets anders, is dit 'n gebrekkige fondament wat ons klassieke aan ly.

Dit is nie moontlik om hier oor versmaat uit te wei nie, maar daar is 'n paar punte wat so dikwels misverstaan word, dat hul verdien om genoem te word.

Lettergreep-lengte. – Die onderskeid tussen die lengte van 'n klinker en die lengte van 'n lettergreep word nog dikwels misverstaan. Dit behoort baie duidelik gemaak te word dat 'n lang lettergreep nie noodsaaklik 'n lang vokaal bevat nie. By voorbeeld in es-te is die eerste e (48) kort, maar die lettergreep is lank omdat dit "geslote" is deur 'n medeklinker. Elkeen kan verstaan dat die twee letters e en s tesame meer tyd neem om uit te spreek as 'n kort e alleen. Die ou manier van die Grammatikas om te sê dat die e "lank is deur sy posiesie" d.i. omdat dit voor twee medeklinkers staan, is foutief: die e bly kort, maar die lettergreep is lank. Aan die ander kant is die voorsetsel e lank en bly lank al sou dit in 'n samestelling net voor een medeklinker staan.

Dit kan nie met genoeg nadruk aan die klas gesê word nie (veral ook omdat teksboeke op dié punt misleidend is) dat in alle antieke versmate die lettergreep die eenheid is waarmee ons werk, en nie die vokaal nie.

Verdeling in lettergrepe. – Dit is 'n belangrike oefening wat te veel verwaarloos word om die kinders te leer hoe om Latynse woorde in lettergrepe te verdeel. Die Afrikaanse gebruik is hier van toepassing, nl. verdeel tussen twee medeklinkers of 'n dubbele medeklinker en vóór 'n enkele medeklinker – ag-ger, a-ger, sac-sum (=saxum); maar daar is 'n aantal uitsonderings wat noukeurig aangegee is in Postgate se Prosodia Latina (Oxford, 4/6). Uit hierdie nuttige werkie kan die onderwyser ook die meer wetenskaplike en logiese voorstelling van Latynse versmaat-teorie te wete kom. In die meeste skole, as die kind vra (49) waarom patris verskyn met sy eerste lettergreep somtyds kort en dan weer lank, sê die onderwyser, met verwysing na sy teksboek, dat dit "poëtiese vryheid" is. Maar daar is 'n rede wat dié vryheid moontlik maak: l en r, soos ons in moderne tale ook kan sien, waar hul na sekere medeklinkers in die middel van 'n woord te staan kom, kan óf saam met diè medeklinker uitgespreek word óf apart: pa-tris of pat-ris. In die eerste geval, as die klinker in die voorafgaande lettergreep kort is, sal die hele lettergreep kort wees: omdat die a in pater kort is, is die lettergreep pa- ook kort. Maar as jy dit pat-ris uitspreek, sluit jy die lettergreep en maak dit lank.

Bepaling van lettergreep-lengte. – Die twee groot fundamentele reëls is

(1) 'n lettergreep wat geslote is (d.i. wat op 'n medeklinker uitgaan) is altyd lank (dit kom op dieselfde neer as die ou en minder wetenskaplike reël dat 'n klinker gevolg deur twee medeklinkers gewoonlik 'n lang lettergreep gee).
(2) as 'n lettergreep oop is (d.i. op 'n vokaal uitgaan) neem dit die kwantiteit van sy vokaal aan.

Dit is dus belangrik om te weet wanneer die vokaal van 'n oop lettergreep kort, en wanneer dit lank is.

Gedurige oefening en 'n poging om die (50) ritme van vers en prosa van die begin af aan te volg, kan alleen vir ons op hoogte van sake bring. Intussen sal dit baie help as ons onthou (1) 'n vokaal wat voor 'n vokaal of 'n h staan is kort – vi-a (met i kort), tra-ho, met a kort (ons moet daarop wys dat h nooit 'n medeklinker is nie). Die groot klas uitersonderings op dié reël, Griekse naamwoorde met 'n tweeklank of 'n lang vokaal, moet dadelik voor die aandag van die klas gebring word. Tro-es, (o lank), Aene-as (twede e lank) , Phoebe-us (twede e lank-adj.) ens. (2) 'n tweeklank, ook 'n oorspronklike tweeklank soos in Musa, of 'n lang vokaal maak die lettergreep waarin hul staan lank: proe-lium, pilum (met i lank).

Origens moet ons eenvoudig gewoond raak aan die lengte van lettergrepe. Hoeveel mense spreek nog die eerste dele van no-vus, of bonus, of o-dium, of ro-sa met'n lang o uit, ofskoon die o in hierdie woorde altyd kort is! En hoe dikwels moet ons hoor van die deus ex machína ten spyte van die lang aksentdraende a!

Woord-orde en woord-uitgang. – Lettergreep-lengte en aksent vorm dus een van die fondamente waarop ons moet bou. So gou as die kind begin lees moet ons ook 'n ander fundamentele idee voor sy aandag bring en dit (51) met voorbeelde toelig, nl. dat Latyn 'n taal is waarin woord-orde die nadruk van die skrywer uitbring en waarin woord-uitgang die betekenis aandui. Die manier waarop Afrikaans hier anders is, moet duidelik gemaak word: Afrikaans wat so baie van sy woorduitgange laat val het en wat dus, nog meer as ander moderne tale, van woord-orde vir sy betekenis afhanklik is. As ons sê "Caesar wond Marcus" is dit heelwat anders as wanneer ons sê "Marcus wond Caesar": de verskil in betekenis word aangedui deur die veranderde woordorde; maar tussen die twee sinne 'Marcum vulnerat Caesar' en 'Caesar vulnernat Marcum,' is daar alleen 'n verskil 'n nadruk: 'Dit is Marcus wat Caesar gewond het' 'Caesar het vir Marcus gewond.'

(iii)

Omvang van Leeswerk. – Wat gaan ons in die vier skooljare lees? So gou as ons dié vraag stel, voel ons dat by die beantwoording daarvan die Wat- en die Hoe-kwessie inmekaar loop; ons sal dus die bespreking daarvan oorhou vir die volgende hoofstuk. Intussen sal dit ons beskouing van die wat-vraag verduidelik as ons hier een opmerking maak.

Die jongste komitee van die Matrikulasie-Raad oor dié saak het vasgestel dat die (52) Matriek-kandidaat gevra sal word om te lees soveel as hy kan uit Caesar se De Bello Gallico en Ovidius se Metamorphoses, en om algemene vrae oor die inhoud van dié boeke te beantwoord. Dit is die strewe van die Raad om onderwysers aan te moedig om dié boeke as hul grammatikale laboratorium te gebruik en om eksaminatore aan te moedig om hul vrae oor spraakkuns nie uit die hoekies van Allen of Kennedy te put nie, maar uit die werke wat deur die kinders gelees word. Dit is ons ondervinding dat baie onderwysers stukkies en brokkies met hul klas lees, sonder sin of verband, eenvoudig soos 'n kruiswoord-raaisel, en die nadelige invloed hiervan is geweldig. Op dié punt kom ons later terug. Hier is dus iets warop ons kan mik; en die vraag is, wat moet ons in die vierjarige kursus lees sodat die leerling in sy vierde jaar Caesar en Ovidius intelligent sal kan behartig? (53)