Die Romeinse Boer/Die Legendes

Inleiding Die Romeinse Boer
I. Die Legendes.
deur T.J. Haarhoff
Cato


I. Die Legendes.

§1.

edit

In die later eeue van die Republiek en aan die begin van die Keiserryk was dit die gewoonte van die Romeinse geskiedskrywers om die karakter van die vroeë Romeinse boer op te hemel en te idealiseer. Hul het gevoel - en tereg - dat die outydse boer op ekonomiese, of politieke, en op morele gebied 'n steunpilaar was vir die Staat. Hul het onthou hoe, tydens die Puniese oorloë, ten spyte van die foute, van Romeinse generaals en die strategiese slimheid van Hannibal, dit ten slotte die stoere stewigheid van die boer was, wat die vaderland laat seëvier het. Hul het met huiwering aanskou hoe die aantrekkingskrag van die Groot Stad aan die een kant en die slawe-arbeid op grote skaal van die kapitalis aan die ander kant die boer mettertyd van die land af verdryf het. Hulle het besef dat die Arme-Blanke-Kwessie wat só te Rome in die lewe geroep is onder die toejuiging van menigtes, by die Sirkus-spele en die uitdeling van goedkoop koring, die burgerlike deug maar al te seker ten gronde sou bring. Daarom, het hul die mense die legendes van die ou Romeinse boersoldaat soveel moontlik voor oë gehou.

Uit die vroeë jare van die Republiek is daar veral drie name wat ons in hierdie verband tref - Lucius Quinctius Cincinnatus, Manius Curius Dentatus en Gaius Fabricius Luscinus. Die besonderhede van die stories, aan hierdie name verbonde is denkbeeldig; maar dit beteken nie dat daar geen historiese waarheid in hul steek nie. Inteendeel, hul is van die grootste historiese belang, want hul stel tiepes voor. Hul stel voor (15) die soort burger wat Rome in daardie tyd besit het. Cincinnatus was miskien nie 'n werklike man nie; maar ons weet seker dat daar baie sulke boere van daardie tyd in die vyfde eeu voor Kristus in die omtrek van Rome gewoon het. Fabricius weer en Dentatus was algemene tiepes - hoewel deur die skrywer enigsins geïdealiseer - van die derde eeu voor Kristus.

Hier is Livius se beskrywing van Cincinnatus, te boek gestel sowat vyfhonderd jaar ná die gebeurtenisse waaroor hy handel. Rome worstel vir sy bestaan teen die Sabyne. Die kamp van die Romeine is omsingel, en vyf ruiters het uitgeglip om die nuus na Rome te bring. Dadelik word besluit, aangesien die saak so buitengewoon ernstig is, om die bekwaamste van al die burgers aan te stel as "Dictator," met volmag om te doen soos hy goeddink. Cincinnatus word benoem.

"Dit is die moeite werd," sê Livius, "vir al diegene wat alle menslike hoedanighede verag in vergelyking met rykdom, en wat dink dat daar g'n plek is vir eer of deug behalwe in weelderige welvaart nie, om te hoor wat gebeur het. Lucius Quinctius Cincinnatus, die enigste hoop van die Ryk van die Romeinse volk, was besig om 'n land van vier iugera[1] aan die oorkant van die Tiber, nou die weilande van Quinctius genoem, te ontgin. Daar het die staatsverteenwoordigers vir hom gekry. Of dit nou was terwyl hy oor sy graaf buk onder die grawe van 'n sloot, of terwyl hy besig was om te ploeg, dit in elk geval is seker, dat hy toe met plaaswerk besig was. Na hul mekaar gegroet het, vra hul hom om in sy toga geklee,[2] die bevele van die Senaat (16) aan te hoor - en mag dit goed uitkom vir homself en vir die Staat! Verbaas vra hy: 'Is iets verkeerd?' en beveel sy vrou Racilia om gou sy toga uit die hut te bring. Hy klee hom aan, vee tegelykertyd die stof en die sweet af, en kom uit. Die afgesante begroet hom as Diktator en wens hom geluk. Hul roep hom na die stad en lê vir hom uit die paniek waarin die leër verkeer. 'n Staatsboot lê klaar vir hom en toe hy oorgevaar het, kom sy drie seuns hom tegemoet, daarna sy ander verwante en vriende, en toe die grootste gedeelte van die Senatore. Omring deur so 'n gedrang, terwyl die liktore[3] voorstap, word hy na sy huis begelei... en gedurende daardie nag het hule net wag gehou in die stad."[4]

Cincinnatus en sy burger-soldate het die vyand verslaan; en onder algemene toejuiging en geroep van Io triumphe! volgens 'n dekreet van die Senaat het hul die oorwinning gevier deur 'n triomf-optog na die tempel van Juppiter op die Kapitolynse Heuwel, waar twee spierwit stiere met vergulde horings as dankoffer geslag word. Op die sestiende dag na sy aanstelling het Cincinnatus sy diktatorskap neergelê (ofskoon hy dit vir ses maande gekry het, sê Livius) en teruggegaan na sy plaas. En so, nadat hy die hoof van die staat was, met onbeperkte mag, het hy weer 'n eenvoudige boer geword. En die diens wat hy aan sy land bewys het, is beloon met die eer en aansien van sy mede-burgers, maar nie met geld en goed nie. So edel-demokraties was die aristokraat van daardie tyd.

Manius Curius Dentatus is ook tiepies. Cicero (17) skryf[5] van die genietinge van die plaaslewe en sê dat Curius sy laaste jare op die land deurgebring het, nadat hy 'n triomftog gevier het vir sy oorwinninge oor die Samniete, die Sabyne en Purrhos. "En as ek sy landelike huisie aanskou (want dit is nie ver van my af nie), kan ek nie genoeg die man se beskeidenheid bewonder nie, en die sedelike opvoeding van sy tyd. Toe die Samniete hom 'n groot gewig van goud bring, terwyl hy by sy vuurherd sit, het hy dit van die hand gewys. Want, sê hy, nie om goud te besit, is in sy opienie voortreflik nie, maar om oor diegene wat dit besit, bevel te voer. 'n Gees so edel kon nie anders as sy ouderdom aangenaam maak nie." Cicero beskou die boereplaas as die ideale rusplek vir die ouderdom. "In my opienie," sê hy, "kan byna g'n ander lewenswyse gelukkiger wees nie, nie alleen weens sy pligte nie (want vir alle mense is die ontginning van die land gesond), maar ook terwille van die genot waarvan ek gewag gemaak het, en die uitbundige oorvloed van alles wat betrekking het op die onderhoud van die lewe en ook op die godsdiens..." (Die Romeinse boer het landelike gode gedien - "deos agrestes," sê Vergilius - Ceres, die Koringgodin, Bacchus wat die druif laat groei en in wyn laat verander, Pomona, wat die vrugte beskerm, Pales, wat oor die kudde waak, en baie ander.)

Dan is daar Fabricius, nog 'n stoere burger-soldaat, wat die strenge deugde van die vroeë Republiek voorstel. In die 3e eeu vóór Kristus het hy meer as eenmaal die burgers opgekommandeer (net soos ons vaders in die Transvaal en in die Vrystaat gedoen het) en roemryke oorwinninge vir die destyds kleine en onbeduidende boerestaat behaal.

Ploutarchos, 'n Griekse skrywer in die twede helfte van die eerste eeu na Kristus, vertel hoe die awontuurlike koning Purrhos, wat met sy krygs-olifante die Romeine (18) die skrik op die lyf geja het, sy gesant Kineas gestuur het na die Romeine toe, met presente vir hul vrouens en kinders. "Maar niemand het die gifte aangeneem nie," en die blinde grysaard Appius Claudius het die Senaat teen die welsprekendheid van Kineas bewaar. Op Fabricius veral het Purrhos gemik, want hy was "van groot aansien onder die Romeine," en "'n goeie krygsman, ofskoon baie arm." "Ek hoef jou nie te vertel nie," sê Fabicius aan die koning, "dat ek baie arm is, en dat ek slegs 'n geringe erfie besit en 'n klein huisie, en dat ek my geld maak nòg van rente op geld, nòg van slawe."[6] Purrhos het probeer om hom goud te gee: dit was g'n skande nie, sê hy, maar 'n teken van vriendskap en gasvryheid. "Toe Fabicius dit van die hand wys, het Purrhos vir die oomblik niks verder gesê nie, maar op die volgende dag, met die doel om hom die skrik op die lyf te ja (want hy het toe nog nie 'n olifant gesien nie), beveel hy dat sy bediendes die grootste van sy diere agter hom moes plaas, terwyl hy met Fabricius gesels, en 'n seil voortrek. Hul maak so. Op 'n gegewe teken word die seil opsy getrek; die olifant verhef skielik sy slurk en hou dit oor Fabricius se hoof; en hy laat 'n geskree hoor, skrikwekkend en bars. Maar hy draai so stadig half om en sê met 'n glimlag aan Purrhos: "Nòg die goud gister, nòg die dier vandag, het indruk op my gemaak."

Meer en meer het koning Purrhos die trotse ou boer-soldaat leer bewonder. Een dag, toe hy hom wou ompraat om as hoof-generaal met die Grieke saam te trek en armoede vir weelde te verruil, antwoord Fabricius bedaard: "Vir u, o koning, sal dit ook nie betaal nie. Want selfs u vereerders en bewonderaars, as hul ondervinding van my opdoen, sal wens dat ek, liewer as (19) u, hul koning moet wees!" "So 'n soort man," sê Ploutarchos, "was Fabricius."

Ook die vyande van Purrhos het dit nie reg gekry om vir Fabricius om te koop nie. "Hierna, toe Fabricius generaal geword het, kom daar 'n man na die kamp toe met 'n brief deur die koning se geneesheer geskrywe. Daarin beloof hy dat hy Purrhos met gif om die lewe sal bring, as die Romeine belowe om hom dankbaarheid te betoon, aangesien hy die oorlog sonder riesiko tot 'n einde sal bring. Fabricius vererg hom oor die vent se gemeenheid. Hy kry die toestemming van sy medebevelhebber en stuur 'n brief aan Purrhos waarin hy hom waarsku om met spoed hom teen die komplot te verdedig." "Van Gaius Fabricius en Quintus Aemilius (so lui die brief, konsuls van die Romeine, groete aan Purrhos. Dit lyk of u 'n gelukkige keuse maak nòg van u vriende, nòg van u vyande. U sal besef, nadat u die brief wat ons stuur, gelees het, dat u oorlog voer met goeie en opregte mense en u vertroue stel in slegtes en onopregtes. Ons maak dit u bekend, nie om u guns te verwerf nie, maar met die doel dat, as u sou vergewe word, ons goeie naam nie daaronder sou ly en dit sou vóórkom, asof ons deur lis die oorlog beëindig, aangesien ons dit deur manhaftigheid nie kan doen nie."[7]

Eindelik het Purrhos die aftog moes blaas. Goud en krygsolifante was minder as boeredeug.

So doem hierdie beelde van die ou Romeine voor ons op uit die mistigheid van die legende-wêreld. Maar nie daarom (soos reeds gesê) sal ons weier om te glo dat hul, of mense soos hul, bestaan het nie. Die besonderhede van hierdie stories mag getooi wees deur die verbeelding van 'n idealiserende nageslag (doen ons nie soms dieselfde met die Voortrekkers nie?) maar essensieel is die karaktertrekke, hier uitgeteken, eg en (20) werklik en gestaaf deur menige voorval in die later geskiedenis van Rome. So, in hul eenvoud en sedelike sterkte, het die burger-soldate hul land behou en stewige fondamente gelê vir die magtige Rome, die Ewige Stad en sy Ryk, wat vir nog 'n duisend jaar in die Weste en vir 'n verdere duisend jaar in die Ooste soseer die toon sou aangee op stoflike en geestelike gebied. Deurtrek van sy invloed is ons kultuur op maatskaplike, opvoedkundige en godsdienstige gebied. En as ons onsself goed wil verstaan (en dit, sê die opskrif op die Delfiese tempel, is die hoogste kennis), dan moet ons ook iets verstaan van die saamgevlegte en verreikende drade van daardie erfenis.

§2.

edit

Onder die half-historiese legendes van die vroeë€ tydperk is daar een wat die spore van later invloed dra.

Livius vertel hoe Lucius Manlius in die vierde eeu vóór Kristus gedagvaar is, omdat hy die burgers met sulke ruwe geweld behandel het gedurende die opkommandering. Die volk het sy strengheid gehaat "en meer as alles het hul gehaat sy wrede geaardheid en sy bynaam Imperiosus (heerssugtig) wat aanstootlik vir 'n vrye staat was, en wat hy aangeneem het om te spog met die wreedheid wat hy gebruik het, net soveel teenoor sy naaste vriende en bloedverwante as teenoor vreemdelinge. Onder ander klagtes het die tribuun[8] aangehaal dat hy sy seun, 'n jong man wat nie aan enige wangedrag skuldig gevind is nie, verban het van (21) sy stad, sy huis en sy huisgode, afgesluit van die Forum,[9] die daglig[10] en die geselskap van sy vriende, en hom bepaal het by slaafse werk in 'n soort slawe inrigting of tronk: daar moes 'n jongeling van die hoogste stand, die seun van 'n diktator, deur sy daaglikse lyding leer dat sy vader in werklikheid die naam imperiosus verdien. Ja, maar wat was sy sonde? Hy was 'n bietjie stadig met sy tong - onklaar van spraak! ...... Lucius Manlius maak net sy seun slegter deur slegte behandeling en, vererger die stadigheid van sy natuur; en enige vonkie van natuurlike talent wat in hom is, blus hy uit deur hom op die land te laat woon en deur hom 'n onbeskaafde lewe te laat lei onder die vee."

Almal was opgesweep deur hierdie beskuldiginge - behalwe die jonge Manlius. So sterk was die famielie-gevoel by hom, dat hy 'n plan beraam het wat 'in ooreenstemming was met sy growwe en landelike gees, en wat, ofskoon dit nie 'n voorbeeld was van burgerlike gedrag nie, tog lof verdien vir die piëteitsgevoel wat sterk dit aantoon." Sonder die medewete van iemand, steek hy 'n mes in sy gord en gaan vroeg in die oggend na die huis van die tribuun wat die klagte teen sy vader ingebring het. Hy word binnegelaat en groet die tribuun, wat natuurlik dink dat hy nog verder getuienis van mishandeling kom bring. Skielik trek hy sy mes en dreig om hom dood te steek, tensy hy die vervolging van sy vader staak. Die verskrikte tribuun gee gehoor; (22) en die volk, ofskoon hul graag die kans wou waarneem om die heerssugtige Manlius te veroordeel, het so die gedrag van die seun bewonder dat hul nie alleen die vervolging van die vader laat staan het nie, maar ook so gou moontlik die jongeling tot die rang van militêre tribuun of kolonel verhoog het. Later het hierdie Titus Manlius sy vader se strengheid wel deeglik nageboots deur sy eie seun ter dood te veroordeel vir 'n oortreding van 'n militêre bevel.

Hierdie verhaal lê nadruk of die feit dat die stigters van die Romeinse Staat "hardheid verduur" het, en dat aan hul taaie uithou-krag en strenge disipliene die glorie van die latere, Rome te danke is. Dit was 'n algemene idee onder die latere Romeine. Maar wat eienaardig is, is die voorstelling van die lewe op die land as slaafs en vernederend. Van die vroegste tye af was die Romeinse boer die aristokraat van die staat, en ons besit baie skilderinge van die landelike lewe as nie alleen respektabel nie, maar ook as die beste en die wenslikste soort bestaan. Toe, met die ontwikkeling van die stadslewe en sy aantreklikhede, het daar 'n sekere minagting vir die landelike lewe ontstaan. Dit was tog so lekker om koring goedkoop of soms verniet te kry, en die sirkusspele was erg aanloklik : panem et circenses, het Juvenalis spottend gesê, net brood en spele verlang die gepeupel. Maar heel gou het die Staatsmanne besef dat, as die land verwaarloos word, Rome ook agteruit sal gaan. Die ingewikkelde landkwessie het die staat in groot moeilik-hede gedompel, en net soos by ons was daar 'n stroming van armeblankes stadwaarts. Die kapitaliste het tienduisende slawe ingevoer om die plase op 'n groot skaal te bewerk. (Rome het nou die lande om die Middellandse see begin verower en slawe was goedkoop.) Teen hierdie kapitalistiese slawe-arbeid op grote skaal (die noem van slawe-inrigtinge in die verhaal is ook 'n spoor van 'n later tyd) was die stadige boer (23) met sy paar huis-slawe nie bestand nie : sy mededinger het die mark in besit geneem. Moedeloos verkoop hy toe maar sy plaas en trek na die stad, waar 'n mens tog nie so hard behoef te werk nie, en waar die genietinge soveel meer is. Netnou, as die kapitalis genoeg geld gemak het, saai hy nie meer koring nie: hy gebruik maar die vorige koringvelde as weiland. So het dit gekom (en daar was ander oorsake ook) dat Italië nie meer genoeg koring vir eie vertering voortgebring het nie. En die staatsmanne wou toe met geweld die mense terugja na die plase toe - iets wat byna nog nooit in die geskiedenis van die mensdom geluk het nie. Die kreet was: "Terug na die land!" En Cicero en al die digters aan die hof van Keiser Augustus, soos Vergilius en Horatius, het stelselmatig die lof van die, landelike lewe besing. So is die boer weer in eer herstel - altans wat die letterkunde betref.

Maar die soliede eenheid en eenvoud van die vroeë tyd was vergoed weg. Oorlog en die moeilikhede van die kommandeer-sisteem wat die boer vir maande en soms jare van sy plaas af wegneem, het, net soos in ons land, spore van verwoesting nagelaat. "Arbeid adel" was die prinsiep waarop die outydse boer te werk gegaan het; maar met die vermenigvuldiging van slawe en die steun op goedkope slawe-arbeid het baie die houding ingeneem, wat soms by ons ook voorkom, en seker soorte werk as "kafferwerk" (opus servile) verag. Langs diè weg het die kleinboer direk in die maal- stroom van arme-blankedom afgedryf. En nog altyd lok die groot stad met nuwe en steeds nuwer aantreklikhede, opgespoor uit alle dele van die wemelende aarde...... Eenmaal in die stad, kom die boer in aanraking met allerlei vreemde fortuinsoekers - handelaars van Sierië, waarsêers en astroloë uit Arabië, priesters uit Egipte, blou-ogige Duitsers en Galliërs, pikswart Etiopiërs, Jode, Kappadosiërs en Grieke - almal vloei soos 'n rivier die stad binne (sê Juvenalis), almal maak (24) hul hof aan Rome, "die gulle betaalster van deug en ondeug." Intellektueel is die stoere Romein nie bestand teen hierdie skerpsinnige uitlanders nie: hul vindingrykheid is dikwels sy ondergang......nogtans wil hy nie terug na die land nie. Oorlog verniel nie alleen die plaas nie, maar lus vir die plaas.

Rome.......Johannesburg: die rol wat die groot stad speel teenoor die boerebevolking is dikwels die eeue deur herhaal. (25)

Voetnotas

edit
  1. 1) Iugera, omtrent ⅝ Eng. acre. Kyk op bl.
  2. Hy het sy opperkleed (toga) opsy gesit om met groter gemak sy werk te kan doen, en was besig om in sy tunica te ploeg (of spit). Die toga, soos die manel by ons, is hoofsaaklik vir formele en deftige okkasies gehou.
  3. Liktore - formele beamptes wat die hoogste staatsamptenare begelei. Hul verteenwoordig die outoriteit van die Staat, en dra as simbool 'n bondel latte (fasces) met 'n byl daarin.
  4. Liv. iii. 27 et seq.
  5. De Senectute, 55.
  6. Fragment van Dionusios van Halikarnassus. - aangehaal, Heitland: Agricola.
  7. Plout. Purrhos 20, 21.
  8. Tribuun. Tribunus Plebis, een van die staatsbeamptes wat oorspronklik aangestel is om die kampvegters van die volk te wees teenoor die ander "magistrate" of amptenare, soos die konsuls en die praetors, wat soms geneig was om die ryke en invloedryke te begunstig.
  9. Forum, oorspronklik die markplek in Rome. Daar, in later tyd, was die geregshowe en die sentrum van die politieke lewe van die stad. Baie beroemde toesprake van Romeinse Redenaars het daar weerklink.
  10. Daglig, d.i. die maatskaplike omgang wat die lig van vriendskap, as 't ware, aan die brand hou, en wat jou gees verlig deur jou op hoogte van sake te hou. Lux word dikwels in hierdie sin deur die Romeine gebruik.