Die Romeinse Boer/Inleiding

Voorwoord Die Romeinse Boer
Voorwoord.
deur T.J. Haarhoff
Die Legendes


Inleiding.

Ons hoor baie in ons tyd hoe nuut ons is. Daar is die Nuwe Psigologie, die Nuwe Vrou, die Nuwe Teologie, die Nuwe Ekonomie; daar is "New Thought," wat tog so pateties oud is, en nie die beste van die oue nie. Maar onder dit alles bly die grondslag van die menslike natuur dieselfde. Die vorm, die oppervlakte, het verander; maar die essensiële behoeftes van siel en liggaam, die fundamentele emosies - nog altyd is hul dieselfde as in die tyd van Homeros en Vergilius, en toe was hul dieselfde as in die dag van Babilonië se glorie en Egipte en Assierië.

Tog lyk dit soms asof die afwyking tussen een eeu en 'n ander, hierdie volk en daardie, ontsaglik groot is. Daar is so baie dinge op die oppervlakte wat verander, dat selfs die grondslag skyn anders te wees. Verskillende nasies rig hul verskillende skole op, en van daardie skole gaan idees uit wat die menslike gees soms vreemd vervorm.

Maar in die skool van die natuur is die Meesteres eenvoudiger en haar stille gesag meer geweldig. Sy leer deur die misterieuse magte van son en wind en reën, en haar kinders moet nederig wees en oplettend, anders gaan dit swaar met hul. Hul karakter is rustiger en meer egaal, want hul is vry van die sielverstorende prikkels van die wemelende stad. Onder hulle is die menslike ondervinding meer 'n eenheid.

Selfs hul werktuie het meer dieselfde gebly as in enige ander deel van die samelewing. "Die versieringe en die instrumente van die beskawing," sê de Selincourt, "verander met elke geslag. Ons lees die geskiedenis en let op die lande en die periodes, met hul onderskeidende (11) kenmerke van kleding, argitektuur, middels van vervoer, huisraad of wat ook al. Oorlogswapens, kunsinstrumente, industriële masjinerie ontwikkel snel: elke soort kenmerk sy tydperk en het sy begin en sy end. Maar die ploeg, alleen van menslike uitvindsels, ploeë alleen van menslike werksoorte, het, as 't ware, in 'n agterwater van die tyd gebly, 'n deel, weliswaar, van die stroom, maar weg van sy woelende haas. Die ploeg het g'n datum, g'n tydperk nie. Die manier van die voor omploeg, die vorm selfs van die gekromde skaar en van die eenvoudige toestel as 'n geheel het onveranderd gebly van die tyd van Hesiodos, van Vergilius, of van Theokritos af, - daardie digters van die Oudheid wat so pragtig helder die nederige arbeid van die lande beskrywe. In Italië (en in Suid-Afrika, kan ons byvoeg) trek selfs die osse met slepende voet nog die ploeg soos vanouds: selfs hulle het nie hul plek opgegee, soos in die meeste Europese lande nie.

Die gees van die tyd het sag gewerk met hierdie oorspronklike arbeid van die mens: die merke van die verbygaande, modes van kom en gaan en wat 'n gevoel van veiligheid en besit gee alleen aan dié wat nie verder as die teenswoordige kan sien nie, het vir die ploeg gespaar gebly. Die ploeg is die sigbare teken van ons oeroue erfenis: die bewussyn van ons nae verwantskap aan die lang lyn van vorige geslagte, uitgedruk in 'n bekende voorwerp. Die ploeg is nie van die tyd nie, maar liewer van die ewigheid. Dit wys van die hand alle attribute wat dit aan 'n ras of 'n tydperk kan vasknoop: dit staan deur sy eie kalme en vaste onveranderlikheid as 'n simbool van die eenheid van die hele mensdom. Vir ons van die teenswoordige geslag was vooruitgang met verandering verwar, energie met rusteloosheid, bring die gesig van die ploeg 'n verkwikkende versekering van 'n uiteindelike stabiliteit in die menslike lot. (12)

Dit is daarom dat dit so 'n besondere, so 'n eg mensliker plesier is om die ploeg te sien heen en weer trek langs die helling van 'n heuwel. Ons kan ons voorstel hoe die jonge Vergilius dit gevoel het op sy vader se plaas in Gallia Cisalpina, hoe sy gemoed die indruk ontvang het van stadige en statige ritme, by die aansien van die ploeër wat die bruin akkers omploeg, van die oggend wellig tot die aand toe, totdat die blou suidelike lig donker word en die sterre uitkom - die Pleiades en Boötes wat láát ondergaan, en die Beer, wat mense ook die Wa noem, wat altyd in een plek draai en wag hou oor Orion en alleen g'n aandeel het in die baaie van die Oseaan nie."

So kyk die Afrikaanse Boer deur die eeue heen en sien in die Romeinse tyd baie van sy eie ondervinding en omstandighede, en in die Romeinse boer 'n gestalte gelyk aan homself. (13)